Dan Roodt: Die donker kant

Deel op

In die sewentigerjare het ons na sogenaamde langspeelplate van viniel geluister. ‘n Gewilde album in 1973 was “The dark side of the moon” deur Pink Floyd. By garagepartytjies het ons op die musiek gedans, veral die liedjie “Time”.

Binne die album was daar twee plakkate van piramides. Maar die titel het verwys na die agterkant van die maan wat ‘n mens nooit sien nie, slegs een kant van die maan altyd na die aarde gekeer is. Hoewel sonlig wel op die agterkant val, en dit dus nie streng gesproke “donker” is, is dit tot en met 1968 toe die ruimtevaarders van Apollo 8 rondom die maan gewentel het, nooit deur die menslike oog gesien nie. Wel het die Sowjet-verkenningstuig, Luna 3, in 1959 ‘n foto daarvan geneem.

Soos wat Pink Floyd die term “donker kant” gebruik het, beteken dit dus “ongesiens” of “verduister”.

Dikwels voel dit vir my asof ek nog altyd in die donker kant lewe of probeer lewe. Die lig van die media en die geskiedenis val myns insiens altyd op die onbelangrike of oninteressante mense en dinge, terwyl die werklike gang van die tyd ongesiens en ongehoord verby snel.

Die verhaal van Afrikaners in Suid-Afrika word ook verduister en verdoesel. Joernaliste en historici stel glad nie in ons belang nie, behalwe as voorwerpe van spot, hoon of beskuldiging, terwyl die prestasies en verruklike letterkunde, kuns en musiek wat ons hier voortgebring het grotendeels begrawe of ten minste geringgeskat word.

Alles is in donkerte gehul. Die letterlike duister wat Eskom en die verval op hierdie vasteland verteenwoordig, is dalk ‘n gepaste metafoor vir die skaduwees en eklipse wat oor alles gewerp word.

As dit nie vir een of ander propagandadoel aangewend kan word nie, sal niemand daaroor skryf of berig nie.

In die tagtigerjare in Frankryk het ek die heerskappy van sosialisme en politieke korrektheid beleef. Frankryk was soos ‘n ligter weergawe van die Sowjetunie en oral in die media is bloot linkse menings weergegee. Alle skrywers en denkers was links, of so het dit voorgekom.

Sedertdien het ek tot my stomme verbasing ontdek dat ek destyds eintlik baie min van Frankryk te siene gekry het, want daar was ‘n hele verborge kant wat insgelyks in duisternis gehul was.

Byvoorbeeld was daar ‘n soort konserwatiewe literêre beweging in die vyftiger- en sestigerjare met die naam “Die Hoessare”. Hulle was gekant teen die eksistensialisme van Jean-Paul Sartre en Simone de Beauvoir wat later eintlik in marxisme en kommunisme ontaard het. Niemand buite Frankryk het nog ooit van hulle gehoor nie en geen Engelse joernalis of skrywer het al ooit sover ek weet oor hulle kommentaar gelewer nie.

Daar was ook die fassinerende “nuwe regse beweging” van filosowe en denkers wat fassinerende insigte oor die Westerse kultuur en geskiedenis gepubliseer het; totdat die internet opgedaag het, het feitlik niemand van hulle geweet nie.

In die Afrikaanse media en aan die universiteite is ons getrakteer op dieselfde tipe linkse clichés aangaande Frankryk, met André P. Brink wat as ‘n soort Koning van die Literêre Broederbonders gepredik het wat die volk behoort te lees en te dink. Hoewel hy Frans magtig was, is sy hele blik op Frankryk deur liberale Engelse en Amerikaners bepaal en het sy kommentare by toeristiese gemeenplase gebly, asook natuurlik die preweling van enkele bekende Franse skrywers en denkers se name wat in die Engelse lande bekendheid verwerf het omdat hulle links en anti-Westers (eintlik ook anti-blank) was. Die verborge Frankryk het heeltemal by hom verbygegaan.

In vele opsigte gaan die lot van die Weste in Frankryk bepaal word. Amerika is eenvoudig te veel met Israel, Saoedi-Arabië en die Midde-Ooste verbind om hom te veel oor die toekoms van die Weste te bekommer. In elk geval is dit reeds ‘n multikulturele land baie soortgelyk aan Suid-Afrika waar blanke kiesers dalk binnekort in die minderheid gaan verkeer.

Duitsland is ‘n vreemde land vol fanatici wat liewer wil toesien dat die land ondergaan weens Islamitiese immigrasie as wat daar redelike debat gevoer word. Sensuur is aan die orde van die dag en die kleinerige konserwatiewe party, die AfD, word deur die staat en selfs die geheime diens aan bande gelê. Dus is daar ooreenkomste tussen die eertydse Duitse Demokratiese Republiek (DDR) en die huidige Bondsrepubliek van Duitsland (BRD).

Hoewel daar deesdae opkomende regse bewegings is, bly Swede en die res van Skandinawië sterk onder die invloed van die liberale en multikulturele Amerika met sy feminisme, anti-rassisme en vyandigheid jeens die klassieke Europese kultuur en geskiedenis.

Nederland en Skandinawië het heelwat in gemeen, dus kan feitlik presies dieselfde van ons stamland gesê word. Hoe beter die Nederlanders Engels praat, hoe sterker raak die invloed van die Amerikaanse liberale met hul aandrang op die globale mengkultuur. Die Nederlander, Frans Timmermans, bepleit reeds dat Europa “multikultureel soos Amerika” moet word.

Dis baie belangrik dat Afrikaners via Afrikaanse vertalings, onderhoude en berigte, beter ingelig moet raak oor alles wat daar in Frankryk geskryf en gedink word.

In Junie gaan ek in Brussel deelneem aan ‘n gesprek oor die toekoms van die Weste rondom die idee van die “Groot Vervanging” van Westerlinge of blankes in ons tyd. Die term “Groot Vervanging” (le grand remplacement) is deur ‘n Franse skrywer, Renaud Camus, gemunt. Die Vlaminge praat daarvan as “omvolking” en hier by ons kan ons dit seker “transformasie” noem. Ek hoop dat dit tot meer onderlinge gesprek kan lei sodat die “donker kant van die maan” uiteindelik belig kan word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.