Adam Catzavelos ontvang opgeskorte vonnis van 2 jaar tronkstraf vir ‘K-woord’

Deel op

Vir sy selfoonvideo op ‘n Griekse strand waarin hy die woord “kaffer” ‘n enkele keer gebruik, is Adam Catzavelos vandag in die Randburgse Landdroshof vir die tweede keer gestraf toe hy weens crimen injuria ‘n vonnis van twee jaar tronkstraf of R50 000 boete, opgeskort vir vyf jaar, ontvang het. Dit is Catzavelos se tweede strafoplegging, aangesien hy reeds deur die Gelykheidshof tot ‘n boete van R150 000 en “gemeenskapsdiens” in Soweto gevonnis is. Hy staar steeds ‘n derde klag in Griekeland in die gesig.

Sowel Catzavelos as sy naaste familielede wat die hofsitting bygewoon het, het na afloop van die vonnisoplegging merkbaar verlig voorgekom. Die moontlikheid het bestaan dat Catzavelos soos Vicki Momberg tot tronkstraf sonder opskorting gevonnis mag word.

Op die trappe van die Randburgse Landdroshof het hy gesê dat hy “baie dankbaar is” en die vroulike swart landdros as “baie billik en redelik” beskryf (sien onderstaande video).

Volgens Catzavelos het die video sy “hele lewe omgekeer”. Sowel hy as sy vrou het hul werke verloor. Hy mag nie sy kinders by die skool gaan haal nie, omdat die skool vrees dat van die ander ouers hom mag aanrand en dat sy teenwoordigheid die goeie orde van die skool sou bedreig.

As deel van die straf wat die Gelykheidshof reeds voorheen aan hom uitgedeel het, moet hy elke maand R5000 aan ‘n nie-regeringsorganisasie in Soweto betaal, asook na bejaardes in dié swart woonbuurt omsien.

Ook vandag, is ‘n blanke vrou van Kemptonpark, Marie Basson, gevangenisstraf van ses maande opgelê omdat sy ‘n swart vrou ‘n “kafferteef” in die parkeerarea van ‘n supermark genoem het. ‘n Woordestryd het tussen haar en die swart vrou ontstaan omdat dié na bewering haar kind in die ry by die kasregister gestamp het.

Volgens die swart vrou se getuienis het Marie Basson haar ook ‘n “vetgatmeid wat gimnasium toe behoort te gaan” genoem.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.