ANC ignoreer Pompeo se kritiek op grondonteiening

Deel op

Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, het die voorgestelde grondwetlike verandering van die Suid-Afrikaanse regering gestriem waarmee dit moontlik gemaak word om grond en ander eiendom sonder vergoeding te konfiskeer.

Pompeo se opmerkings oor Suid-Afrika se verklaarde grondbeleid van onteiening sonder vergoeding (EWC), het ‘n dawerende stilte van die land se regerende ANC tot gevolg gehad. Die enigste reaksie was ‘n onregstreekse antwoord, rondom die behoefte aan sogenaamde “grondhervorming” wat deur die ANC-leier en die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, bevestig is.

Andersins was daar geen amptelike reaksie op Pompeo se kommentaar wat gelewer is ná ‘n beleidstoespraak in Addis Abeba, Ethiopië, op 19 Februarie nie. Pompeo het in gesprek met verslaggewers gesê dat onteiening sonder vergoeding “rampspoedig” vir die Suid-Afrikaanse ekonomie sou wees.

Die beleidsvoorstel is ‘n voorbeeld van sentrale beplanning wat in ander Afrika-state soos Zimbabwe, Tanzanië en Ethiopië misluk het, het Pompeo verduidelik.

“Suid-Afrika debatteer oor ‘n wysiging [aan die Grondwet] om die onteiening van private eiendom sonder vergoeding moontlik te maak,” het hy gesê. ‘Dit sou rampspoedig wees vir die ekonomie, en die belangrikste van alles vir die Suid-Afrikaanse bevolking.’

Volgens Pompeo het Afrika-ekonomieë “sterk regstate, respek vir eiendomsreg, regulering wat belegging aanmoedig” vir inklusiewe en volhoubare ekonomiese groei nodig.

Sonder om Pompeo by die naam te noem, het Cyril Rampahosa ‘n dag later (Donderdag) die VSA se minister van buitelandse sake se uitspraak verwerp deur te sê: “Grondhervorming is ‘n wesenlike deel van inklusiewe groei.”

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge, ‘n liberale dinkskrum, het egter gesê dat die kommentaar van Pompeo “nog ‘n waarskuwing is teen die gevaarlike koers wat die regering inslaan”.

“Dit is nie heeltemal ongewoon dat amptenare wat die buiteland verteenwoordig, sulke sterk gevoelens uitspreek nie. Die opmerkings van Pompeo weerspieël egter kommer wat deur ander uitgespreek word – soos die Nederlandse minister van buitelandse sake, Stef Blok, wat gewaarsku het dat die ondermyning van ‘eiendomsreg en die oppergesag van die reg’ bestaande en potensiële beleggers sal afskrik,” sê Hermann Pretorius van die IRV.

Op 4 Julie 2019 het die Nederlandse parlement oftewel die Tweede Kamer ‘n mosie deur twee konserwatiewe LP’s, Van Helvert en Van der Staaij, aanvaar teen grond waarop beslag gelê word “op grond van velkleur” in Suid-Afrika. In hul resolusie is die Nederlandse regering versoek om “duidelik standpunt in te neem teen die voorgestelde onteiening van grond sonder vergoeding van wit boere in Suid-Afrika, wat in stryd is met menseregte, en om druk op Suid-Afrika uit te oefen om dit te laat vaar”.

In die Nederlandse resolusie word ook genoem dat “die universele verklaring van menseregte, sowel as die Afrika-menseregtehandves die arbitrêre beslaglegging op eiendom verbied en veral op grond van velkleur”.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.