Leon Lemmer: Ter huldiging van Hennie Aucamp

Deel op

Hendrik Christoffel Lourens (Hennie) Aucamp (1934-2014) vertel in sy boek, Kommerkrale (Kaapstad: Tafelberg, 1989), van ‘n droom wat telkens by hom opgekom het. Hy is “oud en verlate” en kom op ‘n winternag by sy ouers se plaas, Rust-mijn-ziel, in die Stormberg aan. “Van die opstal het net ‘n murasie oorgebly. Ook hier is geen skuiling nie. Maar wanneer ek om die hoek van die bouval stap, sien ek dat een vertrek bly staan het, en dat daar ‘n lig in die kamer brand. Ma sit en wag voor die swart stofie met sy krom pote. Die tafel staan gedek, en by my ou sitplek is daar ‘n netjiese stapeltjie pos met buitelandse seëls. Ek gaan sit by Ma en streel haar hande soos ek nooit gedoen het toe sy nog gelewe het nie.” In sy skryfwerk het Aucamp telkens nostalgies na die wêreld van sy jeug, die Stormberg by Jamestown in die Oos-Kaap, teruggekeer.

NUUT!

Anders as baie ander homoseksuele, wat veral sedert 1994 neig om die ANC, of ten minste oordrewe politieke verligtheid, te ondersteun – weens die groter vryheid wat op alle terreine in die lug bly hang – het Aucamp opvallend behoudend gebly. Hy was geen voorstander van bandelose vryheid nie: “Vryheid is (a) ‘n voorreg, en (b) ‘n verantwoordelikheid” (2010-bron hier onder, p 62). Die verlede het op ‘n konstruktiewe manier sy hede bepaal: “‘n Verlede is nooit afgelope nie” (64). “Wat ons soek, is verlede … Kennis van die verlede is onmisbaar by selfdefiniëring” (77). Hy het met eer uit die lewenstryd getree, al het iemand soos Koos Prinsloo (1957-1994) op sy moedswillige manier Aucamp se goeie naam skade probeer aandoen (kyk hier onder). Albei was stilisties voortreflike woordkunstenaars.

Oor en weer

Ek skryf aanvanklik na aanleiding van Aucamp se boek, Oor en weer (Pretoria: Protea Boekhuis, 2010, 144p), wat ek vandeesweek as ‘n uitgooi-item teen R99 in ‘n boekwinkel gekoop het. Die teks bestaan uit 16 onderhoude, waarvan sommige ongepubliseer was, wat van 1971 tot 2008 met Aucamp gevoer is. In die boek word hulle chronologies aangebied. Al die aanhalings is van Aucamp; dus nie van wat sy ondervraers gesê het nie. Hy gebruik die term “Afrikaanssprekendes” terwyl hy heel moontlik eerder Afrikaners, dus sy mede-blankes, in gedagte het.

In die inleiding besin Aucamp oor “die onderhoud as genre”. Hy verwys na die probleme wat Amanda Botha in 1966 ondervind het om ‘n onderhoud met die biseksuele Marlene Dietrich (1901-1992) in Die Burger gepubliseer te kry. Piet Cillié (1917-1999) was toe die redakteur (1954-1977). Die onderhoud het oplaas in Die Byvoegsel verskyn (p 9). Sensuur kom al ‘n lang pad, waarby Naspers se bydrae sekerlik ingesluit word. Aucamp verwys na NP van Wyk Louw se entoesiasme vir die “oop gesprek”. Maar hy noem dan Willemien Brümmer (Praag 26.01.2020) se werk as ‘n voorbeeld hiervan (9). In Brümmer se joernalistiek word daar dikwels ‘n eie standpunt gestel, maar dit is ‘n suiwere uitvloeisel van haar dwarsheid. Daar is geen werklike openheid nie omdat haar register niks toelaat wat buite die polities byderwetse geleë is nie.

Aucamp se besinning oor die aard van ‘n onderhoud vind aansluiting by sy aangetrokkenheid tot egodokumentasie. Naas die biografie en outobiografie is die essay ‘n voorbeeld van ‘n egodokument. Die onderhoud kan as ‘n essay geskryf deur twee mense beskou word (13). Later sê hy: “Die essay [is] feuilletonistik, oftewel: joernalistiek op pad na die letterkunde” (29). Later noem hy ander soorte egodokumente: “briefbundels, dagboeke, memoires” (50). “Die dagboek vervul hier die funksie van biegvader en psigiater” (68). Aucamp het veral as die skrywer van kortverhale uitgemunt. “Ek is ‘n kortafstandatleet” (107). “Dis die verhaal self wat besluit wanneer en hoe hy vertel word” (104).

Daar is die standpunt dat ‘n kunswerk, bv ‘n letterkundige werk, “selfgenoegsaam [moet] wees en uit homself verklaar [moet] kan word” (15). Aucamp onderskryf hierdie standpunt en noem dat die bysleep van persoonlike besonderhede van die outeur “‘n uiters gevaarlike praktyk [is] … [omdat] die kuns homself moet verklaar” (16). Hy probeer wegstuur van wat DJ Opperman die skrywer se “ander selwe” genoem het (40). Aucamp wil klaarblyklik nie as ‘n homoseksuele kunstenaar geëtiketteer word nie, maar eerder as ‘n skrywer wat (toevallig) ook homoseksueel is. Dieselfde redenasie word by vroue aangetref wat nie ‘n “skryfster” genoem wil word nie, maar bloot as ‘n “skrywer” gereken wil wees. Maar inligting oor die seksuele oriëntasie en geslag van ‘n skrywer kan myns insiens die leser (soms) help om ‘n werk te verstaan.

Aucamp verwys na TT Cloete (1924-2015) “se herfstige wyshede oor oudword” (12). “Die lekker van skryf lê vir my hierin dat ek al skrywende beheer begin kry oor my ervarings” (17). “Ek sal aanhou skryf solank ek die behoefte het om iets aan myself te verduidelik” (85). In aansluiting hierby kan ek noem dat ek op Praag skryf oor die boeke wat ek gelees het, enersyds om my leeservaring met ander mense te deel en andersyds omdat ek die teks beter verstaan as ek daaroor skryf. Soos Aucamp dit stel: “Jy probeer, ál skrywende, iets aan jouself verduidelik” (32). Wat hy oor resensiewerk/boekbesprekings te sê het, is in die kol: “Ek wil ‘n eerbare tussenganger tussen ‘n teks en die publiek wees” (89). “Waarom ek resenseer: om my geesdrif vir boeke met ander te deel” (95). “Die resensent moet respek hê vir die teks wat hy resenseer en vir die publiek wat sy resensie gaan lees, want só behou hy sy professionele geloofwaardigheid. Hy moet deurentyd waak oor sy integriteit” (99). “Die resensent … skryf omdat hy ‘n diens lewer, en dit so eerbaar en so eerlik moontlik wil doen” (101).

Soos ek, het Aucamp graag oor “The Deep South” gelees, maar skynbaar om ‘n ander rede. Ek lees oor die Amerikaanse Suide ter regstelling van die wanvoorstellings wat algemeen in die literatuur voorkom, bv oor slawerny en die oorsake van die Burgeroorlog (1861-1865). Dit is soortgelyk aan wat sedert 1994 in Suid-Afrika gebeur: dat die “oorwinnaars” (die ANC en sy nalopers) doelbewus valse voorstellings van die era vóór 1994 bevorder. Aucamp het “bowenal” graag die werk van ‘n Suiderling soos die polities linkse kortverhaalskryfster, Flannery O’Connor (1925-1964), gelees (17). Sy rede hiervoor kan moontlik deels in die volgende karakterisering gevind word: “The unsentimental acceptance or rejection of the imitations or imperfection or difference of these characters (whether attributed to disability, race, crime, religion or sanity)” (Wikipedia).

In 1971 het Aucamp genoem dat hy “‘n byna onuitputlike voorraad Stormbergse indrukke” het (18). In 2006 het hy egter opgemerk: “‘n Mens besef op ‘n dag dat jou toegemete storievoorraad haas opgebruik is” (112). Die reste van Boerwees het egter in hom behoue gebly. “Die hartseerwals [1965] suggereer ‘n sekere treurigheid om ‘n verbygegane leefwyse – die Boere-kultuur van sê dertig, veertig jaar gelede” (23) – gesê in 1971. Aucamp was, in die woorde van Peter Blum (1925-1990), lief vir “die vasteland waarop ons boer” (52). Taal, spesifiek sy moedertaal, Afrikaans, was van deurslaggewende belang in sy lewe. Afrikaans het aan hom ‘n geestelike tuiste gebied. “Wanneer jy gaan reis, veral in lande waarvan jy die taal nie ken nie, lê jy jou ‘n soort ballingskap op” (19). As ‘n Afrikaner emigreer, word dit ‘n blywende ballingskap.

Aucamp is deur bv André P Brink verkwalik omdat hy nie ‘n polities betrokke skrywer wou wees nie (110). “‘n Skrywer hóéf natuurlik nie in pas met sy tyd te wees nie, want ‘n bepaalde lewenshouding kan aan geen mens opgedring word nie. Die kritikus durf dus nie moderniteit or romantiek of behoudendheid van die skrywer te eis nie, maar alleen dít: gehalte” (20). Nie dat 1994 geen verandering by Aucamp veroorsaak het nie, maar dit was darem nie ‘n radikale transformasie nie. In 1995 skryf Aucamp: “Dalk het William Plomer [1903-1973] se Stormberg- en Zoeloelandverhale my gehelp om openliker oor seks- en liefdesverhoudings oor die kleurgrens heen te skryf as wat tot dusver toe die geval was, of dalk het die nuwe politieke dispensasie bygedra tot my ’emansipasie'” (43) – oftewel sy “uit die kas klim”. Maar Aucamp was andersins sinies teenoor polities korrekte skrywery ingestel: “Jy moet van die Afrikaanssprekende blanke ál skurk in jou stuk maak, of jou ‘politiek’ – lees ook: medemenslikheid – word by die agterdeur uitgeskop” (111).

“Ek was geseënd om binne ‘n boekkultuur groot te word” (95). “‘n Boekultuur blý, volgens my, die fondament van ‘n beskawing” (114). Hy gee goeie raad aan skrywers. Byvoorbeeld, “Skryf so eenvoudig as wat die taalsituasie jou dit toelaat … eenvoudige taal is nie altyd moontlik nie, maar helder denke, dit behoort taalgebruik te alle tye te rig” (21). “Alteveel dink-slordighede word deur skrywers sowel as kritici as fantasievlugte of mistieke openbaringe reggepraat … Daar is [ook] ‘n onverskilligheid omtrent die gevoelswaarde van woorde” (35). “Vir my moet ‘n titel ‘n sleutel tot ‘n verhaal wees” (22). Oor die ek-vertelling waarsku hy: “‘n Eenmansvertoning kan baie maklik eentonig raak” (26). Maar in ‘n verhaal kan ‘n skrywer gerus “‘n eie stem” hê, ‘n “personal voltage” (Sean O’Faolain), “‘n persoonlike geladenheid” wat van menslikheid spreek (39).

Ter onderskrywing van Fernando Pessoa (1888-1935), wat ‘n Suid-Afrikaanse verbintenis het, stel Aucamp die volgende: “Poësie is ‘n oorgangstadium van musiek na prosa” en “Poësieritme binne prosa hoef prosa nie te versteur nie, maar prosaritme binne poësie kan wel struikelinge veroorsaak” (44). Nie dat ritme in prosa onbelangrik is nie. PG du Plessis wou nie ‘n Engelse vertaling van sy nie genoeg geprese roman, Fees van die ongenooide (2008), goedkeur nie, omdat die ritme nie reg (of aanvaarbaar genoeg) was nie. In 2006 sê Aucamp: “Eitemal [WJ du P Erlank, 1901-1984] het my dit op die hart gebind dat ‘n prosaskrywer ook ‘n stipleser van poësie moet wees as hy sy woordbeheer op hoër plan wil kry. Dieselfde geld natuurlik ritme. Slordige prosaritme is net so hinderlik as slordige poësieritme” (94). Nog ‘n Pessoa insig: “In die prosa kom alle kunsvorme saam – deels omdat in die woord die hele wêreld beslote lê” (45) – ‘n uitspraak wat eerder poëties as feitelik korrek is.

Aucamp noem dat sy “belangrikste mentor” (70), Con de Villiers (1894-1978), gesê het: “‘n Mens se foute is vir hom mooi” (27). Aucamp voeg by: “‘n Mens het nie altyd die moed om jouself uit jou werk te verwyder nie. Ek bedoel nou: jou voorbarige, onnodige, ongenooide self” (27). ‘n Klassieke plaaslik voorbeeld hiervan is Michael le Cordeur wat hom op ‘n onfeilbare manier tussen sy onderwerp en die lesers opdring. Soos Anton van Niekerk probeer Le Cordeur om so dikwels moontlik iets in Die Burger gepubliseer te kry – elke keer met ‘n foto van die outeur daarby. Let gerus op die skynbaar onuitputlike voorraad foto’s van hulleself waaroor albei beskik. Hulle verlustig hulle daarin om in die selfie-era te lewe. Ek sou sê dat wat hier volg op albei van toepassing is: “Nog nooit was die Afrikaanse literatuur so ver van die ideaal van ‘Die Oop Gesprek’ af nie, soos voorgestaan en beoefen deur NP van Wyk Louw. ‘Die Oop Gesprek’ het nou in ‘n ‘vuil geskreeu’ ontaard – sien Raka – en ‘n soort skrywer wat jy vroeër net met die poniepers in Engeland verbind het, naamlik die tabloid intellectual, het kom nesmaak in eens gerespekteerde koerante” (58-59).

Ek het ernstige voorbehoude oor graadkursusse in skeppende skryfwerk. Die afrigting van potensiële skrywers moet liefs aan gevestigde skrywers, uitgewers en skrywersinstansies toevertrou word. Aucamp dink anders hieroor. In 1982 het hy gesê: “Ongelukkig het ons nog geen skryfkursusse in Suid-Afrika soos die wat in Amerika op skool en universiteit aangebied word nie” (35). “Talent kan nie geleer word nie; sekere skryfvaardighede wel … Byna alle skrywers het hulp nodig as hulle werklik hul moontlikhede wil verwesenlik” (33-34). Dit kan kort of lank neem om ‘n storie te skryf. “Die verhaal waaraan so knaend gewerk is, is nie noodwendig beter as die kitsverhaal nie” (27). Maar skryfwerk verg dikwels talle herskrywings. “Selfs vir ‘n deurwinterde skrywer kom niks vanself nie. Elke begin is ‘n weerbegin” (116). “Ieder verhaal [is] ‘n stukkie bouwerk” (22). Aucamp het waardering vir “hoe onopvallend ‘n meesterverteller struktureer, hoe millimeterpresies sy woordgebruik is” (50). “As iemand weet wat hy wil sê, en sy hoek reg kies, kom die diensbaarste woord vanself” (79).

Wat verwag Aucamp van die literêre kritikus? “Dat hy ‘n onberispelike vakman is. Dat hy naas leeservaring ook lewenservaring het. Dat hy integriteit het” (28). “Net een soort kritikus maak my smoorkwaad: die sede-apostel. Die man wat sê: ‘Dié soort tema staan my nie aan nie: Dis volksvreemd en dekadent.’ Maar selfs waar ek voel dat my werk onbillik behandel is, sal ek nie droom om my te verdedig nie: Die tyd, genadelose bloemleser, gaan heel waarskynlik nie aan mý kant wees nie!” (28). Veral aan die begin van sy skrywersloopbsaan het streng redigeerders hom teen sy “troetelsondes” probeer beskerm (53).

Reeds in 1996 het Aucamp geskryf: “Die onderdrukking van Afrikaans is ‘n politieke feit en moet as sodanig gesien word … Die huidige verontregting van Afrikaans is ‘n reaksie … Afrikaans … is tog tot alles in staat waartoe sy gebruikers in staat is. Vir my gaan dit om doeltreffende uitdrukking” (46-48). In 1997 verwys Aucamp na “die demovering van Afrikaans in die openbare lewe” (53). “Wat my … bedruk, is dat talle jong Afrikaanse intellektuele toenemend ‘n taaltjie praat en skryf wat nóg Engels nóg Afrikaans is, en kennelik in hul skik is met die verdiskontering van Afrikaans en die Afrikaner. Dit mag gebeur dat hulle op ‘n dag by die Ou Fontein wil drink en moet uitvind dat die drinkwater deur hulle eie toedoen besoedel en vergiftig geraak het” (54). Hy noem Engels ‘n “killer language” (113). Wanneer gaan die huidige geslag Afrikaanstaal- en -letterkundiges die moed hê om hulle vir suiwer(der) Afrikaans te beywer?

In 2003 het Aucamp gesê: “Ek glo talle Afrikaanssprekendes, ook die jongeres, het op die oomblik ‘n baie lae selfbeeld, en die brabbeltaaltjie wat so modieus is, is in werklikheid simptomaties van dié minderwaardigheidsgevoel. As die selfflaggelasie-tydperk verby is, sal mense weer ‘n taal praat wat die skyn van ‘n selfstandige taal het. Of so hoop ek maar” (80). Dit is dieselfde as my standpunt: dat die gebruik van geradbraakte taal op ‘n gebrek aan taaltrots dui, wat op sy beurt op ‘n gebrek aan selftrots gebaseer is. In 2006 het Aucamp beweer dat nostalgie “‘n nasionale neurose” geword het (107). “Om nostalgies te raak oor tye toe universele lewenswaardes die daaglikse gang bepaal het, is myns insiens ‘n goeie teken. Dié nostalgie kan lei tot ‘n geleidelike heropbou van ou waardesisteme” (79).

Dit is belangrik dat ‘n skrywer wyd moet lees, maar “daar is geen plaasvervanger vir leef nie; vir voluit leef” (50), dus “om bewustelik te lewe, met die inspan van al my sintuie” (50). Soos dit ‘n (goeie) skrywer betaam, is daar by Aucamp “‘n durende behoefte … om iets te sê” (49). “Ons vraag moet nie gedurig wees of iets letterkunde is nie, maar eerder of dié iets ‘n beduidende mededeling is” (63-64). Maar wáár kan dit in die openbaar gesê word? “Die tekort aan tydskrifte, literêr en populêr, wat oorhaastige bundeling van verhale en poësie sou kon verminder, laat hom al hoe nypender voel. Standpunte en Die Huisgenoot en Sarie van weleer was gimnasiums waarin skrywers, ook digters en dramaskrywers, hul spiere kon inoefen vir uiteindelike bundeling” (54).

“Jou verskyning in Standpunte – en later in Tydskrif vir Letterkunde – het jou publikasiewaardig verklaar … Wat tans gebeur, is dat skrywers weens ‘n gebrek aan geskikte venues tot voortydige publikasie gedwing word, en dit móét op die duur die stand van die letterkunde nadelig beïnvloed … te veel boeke in Afrikaans verskyn wat doodgewoon nie op peil is nie, en dis nie ‘n goeie ding nie. Dit lyk na ‘n geval van kultuurdesperaatheid; na fluit terwyl daar by ‘n kerkhof verbygestap word” (55).

“Wat my bekommer, is die ontoereikende taalbeheersing by enkele talentvolle jong skrywers. Respek vir jou medium, dit moet tog ‘n vanselfsprekendheid wees?” (66). Ek mis daardie respek vir Afrikaans by bv Ingrid Winterbach, maar die kritici is (ongekwalifiseerd) gaande oor haar skryfwerk. Kortom: “Die Afrikaanse letterkunde word voortdurend bedreig deur inkalwing en uitwissing” (60). Reeds in 1982 het Aucamp gesê: “Die populêre tydskrif in Afrikaans, soos hy tans daar uitsien, het beperkte vormingswaarde” (34). Hierdie tydskrifte het “promosieblaaie geword, met baie vir die vlees, soos glansende hare en bultende spiere, maar niks wat ‘n geesteslewe en die verbeelding kan voed nie” (121).

Weens vervlakking het populêre tydskrifte eintlik glad nie meer plek vir kuns van watter aard ook al nie. Aucamp het na die ordentlike, waardige Afrikaans van weleer verlang. Byvoorbeeld, in 2000 het hy nostalgies verwys na “die taal van die Stormberge, die ruie, gespierde Afrikaans van sê die veertiger- en vyftigerjare, dié sal my egter voed tot aan my dood toe” (65). In 2002 vervolg hy: “Soos Lorca [1898-1936] het ek opgestaan in die beeldryke konkrete taal van ‘n boeregemeenskap. ‘n Ruie, gespierde Afrikaans, maar wie praat vandag nog so?” (69). “Woordeskat en kultuurgeletterdheid krimp sienderoë in Afrikaans” (122).

Aucamp was eerder nasionalisties as globalisties: “Ek vind dit bitter jammer dat tydskrifte hul tipies Suid-Afrikaanse karakter verloën het in ‘n strewe om byderwets en internasionaal te word. Eitemal het my geleer: Die pad na die internasionale loop deur die nasionale” (66). In 2003 het hy die belangrikheid van die huisgesin en familie beklemtoon. “Ek dink familieskap gaan herontdek word in Suid-Afrika. Landverlaters en hul agterblywendes reik byna desperaat uit na mekaar; jong mense in die buiteland is skielik hiperbewus van hul bande met familie, land en taal. Vir my is familieskap ingeskakel by groepverbondenheid, ‘n insig wat ek by MER [ME Rothmann, 1875-1975] gekry het. Sy sê in My beskeie deel [1972]: ‘Ook leef ‘n mens nie alleen in die eie persoon nie, maar deur en met jou groep of volk. Word die volk se lewensfunksies gekeer, kwyn die individu ook.’ Lê die huidige kultuurdepressie by baie Afrikaanssprekendes nie juis hierin dat die ‘lewensfunksies’ van die groep sienderoë kwyn nie, dikwels deur eie toedoen?” (76-77).

“Ek praat dikwels van ‘kultuurpessimisme’. Hymne Weiss [1901-2001] het dekades gelede reeds gewaarsku teen ‘vlakwaterkultuur’, maar intussen het die water byna heeltemal weggetrek, en binnekort sal ons voor ‘n leë dam staan. My kultuurpessimisme dreig soms om oor te gaan in kultuursinisme. ‘n Nuwe geslag meningbepalers, stewig ingegrawe in die media, skroom nie om Afrikaans en die Afrikaanse kultuur te ontluister nie, ongeag wat Het Volk dink en voel. Eertydse kultuurwagters en rolmodelle vir die Afrikaanssprekende staan nou op die rand van die strydperk en kyk apaties toe” (91). Hy verwys na die verligte Jeremy Taylor (gebore in 1937) wat Suid-Afrika in 1994 verlaat het toe ons “bevryding” aangebreek het en “voorsien het dat die Afrikaner, soos die Boesman, ‘n tragiese herinnering in dié wye en droewe land gaan word” (114).

Die onderhoude getuig van Aucamp se gesaghebbende, meesterlike erns. “Jou eintlike doel as skrywer is … om jou ambag rustig, eerlik en toegewyd te beoefen” (91). “Ek probeer deeglike werk lewer, en meesal het ek groot plesier in wat ek doen” (71). “‘n Mens sou tot in die oneindige toe kon verbeter aan wat jy geskryf het” (84), maar die een of ander tyd moet jy halt roep. Hy is gedryf deur “gesonde ontevredenheid” (70). “Die besef van eie onvolkomenheid is dalk die sterkste aansporing in enige skrywer se lewe. ‘n Volgende keer, neem hy homself voor, gaan ek myself oortref” (90). “Kreatiwiteit is al ‘die heilige onrus’ genoem” (70). “Die besef van ouer word is ‘n belangrike kreatiewe dryfveer” (109). Maar “‘n skrywer hóéf nie tot op die laaste toe te werk nie. As hy verduidelik het wat hy wou, het dit tyd geword om die kers te snuit” (88).

In 2002 het Aucamp geskryf: “Vir my was een leeftyd genoeg vir wat ek te sê het. Ek sien eintlik uit na ‘n tyd waar my skryfaktiwiteite gaan inkrimp tot dagboekinskrywings en briewe aan vriende. Dán eers sal ek rustig kan omgaan met die boeke, die kuns, die musiek in my lewe” (73). “Ek begin tentpenne uittrek. Saam met Marthinus Versfeld [1909-1995] glo ek dat ‘n mens wat opruim ‘n opgeruimde mens is” (88). Hy haal “Ta Miem” (MER) goedkeurend aan: “Oudword beteken nie minder leef nie, net stadiger leef” (80). Hy voeg by: “My verweer teen die lewe is kreatiwiteit” (80). Maar hoe later in jou lewensloop, hoe minder is jy in staat om te verander. “‘n Mens word al hoe meer wie en wat jy is” (87). Dit verduidelik seker (deels) waarom bejaardes geneig is om meer konserwatief as jeugdiges te wees. Winston Churchill (1874-1965) het gesê: “If you’re not a liberal at twenty you have no heart; if you’re not a conservative at forty you have no brain.”

Om Hennie Aucamp te onthou

Die enigste boek van Hennie Aucamp wat in Kindle-weergawe te kry is, is Volmink (1981, $14,95). Dit lyk asof sy werk uit die mode raak. Sy boeke staan onverkoop in die boekwinkels. Jamestown het “‘n spookdorp” geword (Danie Botha, bron hier onder, p 85). “Die bibliotekaresse [in Jamestown het] nog nooit van Hennie Aucamp gehoor” nie (49). Dit is die soort verdomming waarmee ons al hoe meer moet probeer saamleef. En dít terwyl WA de Klerk (1917-1996) “gesê het dat Hennie se ‘vertolking’ deel is van ‘n nuwe herontdekking van die betekenis van kultuur deur Suid-Afrikaners” (49). Hennie het bv in 1967 geskryf: “Dit word ‘n soort gerusstelling: die Afrikaner kán … ons hét styl” (57).

Ek het ook die volgende boek as ‘n uitgooi-item teen R99 gekoop: Danie Botha (samesteller), Om Hennie Aucamp te onthou (Pretoria: Protea Boekhuis, 2015, 112p). ‘n Aantal mense wat Aucamp geken het, skryf daarin oor hulle herinneringe. Daar is ook insiggewende foto’s. Die boek is ‘n waardevolle aanvulling van wat Aucamp oor homself te sê gehad het. Maar sommige van die mans- en vrouename in die teks neig om ‘n wie-is-wie in die Afrikaanse (intellektuele – 30) homoseksuele wêreld te word. Die bydrae van bv sowel Marius Bakkes as Danie Botha draai nie doekies om nie. Marius skryf: “Wedersyds het ons nooit die toestand [moffie-wees – 30] probeer uitpluis nie” (35). Danie skryf: “Hennie sou heel dikwels stem gee aan gays” (91).

Hennie se ouer suster, Rina Gouws, vertel van hoe hulle met ‘n liefde vir lees grootgeword het en die rol wat bv die tydskrif, Die Huisgenoot, daarin gespeel het. Oor Hennie: “Ja, vir honde en katte was hy baie lief solank hy nie vir hulle moes sorg nie” (11). In later jare: “Hennie se boekery was ernorm” (15). Sy pa “het vir hom [Hennie] ‘n heerlike sonnige woonstel so dertig meter van die hoofhuis [op die plaas] gebou” (18). Hoewel hy lief vir die natuur was, was dit duidelik dat Hennie “nooit sou boer nie” (15). Daar was ‘n stadium toe daar “kookdae” in sy lewe was, maar later het hy nie meer self kos voorberei nie (19, 20). As dit by opskep kom [“opskeploer” – 18] en die gasvrou vra “hoeveel?” dan sê hy “genoeg, want hy sal in ieder geval ‘n tweede porsie neem” (23). Hy het graag padstalletjies (21) en restaurante (20) besoek.

Uit verskeie van die opstelle blyk Hennie se liefde vir lekker eet. “Hennie eet vreeslik vinnig” (92). “Hennie kon nogal gulsig weglê” (33). “Hennie kon sonder pretensie en met opsigtelike oorgawe lekker eet” (63). Sy Xhosa-bynaam was Mafutha/Mafoeta, die vettetjie (18, 111). Samuel Johnson (1709-1784) word soos volg aangehaal: “He who does not mind his belly will hardly mind anything else” (17). ‘n Lekker vol bord kos was by die Aucamps bekend as “‘n hovaal (hoogvol en ovaal)” (18). “Hennie self was verdold op [mal oor] ‘n piekniek” (19) – “verdold op” (ook 10) was blykbaar by die Aucamps ‘n gebruikswoord. Hennie se ma het die woord “bejiggert” vir “befoeterd” gebruik (22). In die jare sewentig, toe ek ‘n onthaal in Stellenbosch aangebied deur ‘n kollega bygewoon het, het sy in dieselde woonstelgebou, Molenvliet (20, 56, 69), as Hennie gewoon. Hy het vir haar gelyk asof hy dikwels bedruk en bejiggert was. “Negatiewe kritiek het hom sleg gestem. Lank bedruk gewees” (32). “Hennie het trekke van sy ma geërf” (84). Hy onthou “dat sy soms ‘bitter beneuk en bitter droefgeestig’ kon wees … ‘Ma’, sê Hennie, ‘kon tot veertien dae aanmekaar verontreg lyk. Nes ek'” (84).

Hennie “was altyd ‘n man van die natuur” (41); “flaneur, lewensgenieter, bergklimmer” (100). Daar word genoem dat hy nooit leer tik het nie (98). Hy was in baie onderwerpe geïnteresseerd, maar van “‘n internetbesigheid en die digitale wêreld … [het] hy nie veel verstaan nie” en ook nie veel daarin belang gestel nie (24). Hy was ook nie ‘n danig bedrewe motorbestuurder nie. “Met die ouer word was Hennie nie meer lus vir bestuur nie” (33). Maar boeke het hy in elke opsig voorbeeldig benader. Nico Loubser vertel dat Hennie “nooit gelê en lees het nie – volgens hom moet ‘n professionele leser sit en lees!” (103).

Die skryfster, Margaret Bakkes (gebore Aucamp, 1931-2016), is Hennie se niggie. Hulle het op buurplase in die Stormberg grootgeword. Hulle “voorouers het op die Stormberge agtergebly (uit die trek van Louis Trichardt)” (44). Die Auchamps was oorspronklik Franse Hugenote. “Aucamps beteken van/na die velde” (49). In hierdie opsig was Hennie “oergetrou aan die naam” (49). Die eerste Aucamp, Johan Diederik (“hy’t sy naam en van vernederlands – 49) het in 1727 aan die Kaap geland (46). Die Aucamps se “klein vaderland” is afgebaken “met dorpe soos Dordrecht, Molteno, Jamestown, Sterkstroom en Burgersdorp” (48). Die Aucamps was al daar “toe die Tregardt-trek in 1834/35 daar verby is … Een Aucamp verlaat egter die Stormberge en sluit aan by Piet Retief se trek: Johan Diederik, gebore in 1800 … Op 6 Februarie 1838 word ook hy saam met Retief … [deur Dingane – 46] vermoor (48).

Margaret onthou: “Ons wil skryf [“om te ‘storie'” – 28]. Ons was albei leesvrate … Ek het spoedig geweet: Hennie is ‘n meester, toegewy aan die skryfkuns” (27). “Ek het jou sprankelende menswees, jou onuitputlike skeppingsvermoë hier by my: Ek steek my hand uit na my boekrak om die gesprek te hervat … Hennie was in die Afrikaanse wêreld van die woord ‘n ikoon, ‘n onvervangbare rigtingwyser, ‘n heerlike heldhaftige meester van die woord en ‘n unikum by uitstek” (28). Margaret haal Hennie soos volg aan: “Iedere ernstige kunstenaar het die verpligting om verstaanbaar te wees. Hy mag hom nie belangriker ag as die woord wat hy praat nie” en “Kabaret is beskaafde protes” (28) – iets wat plaaslik eintlik onbekend is.

Een van Margaret se seuns, Marius, skryf: “Hennie [het] baie graag briewe geskryf … Die briewe was ‘n groot inspirasie om self skeppend te wees. Dit het ook die dissipline van sinvolle, deurdagte korrespondensie by my tuisgebring” (38). ‘n Bundel met Hennie se briewe is gepubliseer: Mits dese wil ek vir jou sê (2013). Petrovna Metelerkamp is die samesteller. Oor Koos Prinsloo skryf Marius” “Dinge tussen hom en Hennie [het] later ‘n ongelukkige wending geneem. Iewers het die mentorskap versteur geraak [skeefgeloop*]. Literêre jaloesie, jeugdige eiewysheid. Koos kon baie geniepsig wees” (35-36), soos Johannes Kerkorrel (1960-2002) ook ervaar het. [* skeef: (informeel, kwetsend) gay (HAT 2015).]

Die digteres, Lina Spies (gebore in 1939), karakteriseer Hennie as “‘n veelkantige persoon” met ‘n “veelsydige skrywerskap … Hy het vir my woorde gegee; woorde wat lewe; tekste wat verryk” (60). Daar was sy “onbaatsugtige deel van sy kennis en liefde vir die kunste” (65). By hom was daar “woordgevoeligheid” (61). Dit is iets wat by die huidige geslag Afrikaanstaal- en -letterkundiges ontbreek wanneer hulle nie ‘n flenter omgee as Afrikaans tot geradbraakte Kaaps verlaag word nie. Hulle kom eerder met lof vir hierdie uittarting van Afrikanergevoel vorendag. Hennie was “‘n kortverhaalskrywer van statuur” met “erkentlikheid vir waardering van sy werk” (62). Hy het, in sy eie woorde, “lewenservaring verkook tot ‘n ekstrak” (72). By hom was daar “liefde vir die ‘gekonsentreerde reël’ as ‘wysheid’ in die ‘spreekwoordelike neutedop'” (72).

Lina skryf: By Hennie was daar ‘n “terughoudendheid teenoor my oor godsdiens en geloof” (73). “Vir my veranderde siening van die Bybel en die geloof kon ek by Hennie geen vonk van belangstelling wek nie” (71). “Hennie se geloof is veilig geborge in die kluis van sy gelukkige jeug binne ‘n hegte gesin op die plaas Rust-mijn-ziel … Hy wou nóg ‘n kerklike nóg ‘n sekulêre begrafnis hê” (75). “Die Bybelse idioom … het … sy Afrikaans as instrument van sy woordkuns geslyp” (74). Sy religieuse vorming dank hy aan Albert Schweitzer, MER en Olive Schreiner (73). Dit is onder meer Schweitzer se invloed wat hom ongemaklik in die nuwe Suid-Afrika gemaak het. Hy het nostalgies na die ou Suid-Afrika verlang. Soos Colette (1873-1954) kon Hennie (en ek) sê: “Ek behoort aan ‘n land wat ek verlaat het” (78). Lina sluit af: “Hennie was dol oor [verdold op] sonneblomme. Dit … het mettertyd die simbool van ons vriendskap geword” (77).

Pas het ons deur ‘n onverkwiklike tyd gegaan toe leidende figure in die mandaatlose magsoorgawe van 1994, soos FW de Klerk en Leon Wessels, in vervoering was oor die bodemlose dwaasheid van die De Klerk-toespraak op 2 Februarie 1990 – dertig jaar gelede. Dit is mense wat skynbaar blind is vir die negatiewe veranderings, bv verval, wat sedertdien oor die land neergedaal het. Marius Bakkes vertel van ‘n besoek wat hy en Hennie afgelê het: “Ons is terug na Rust-mijn-ziel, die plaas waar Hennie grootgeword het … Die woonhuis was reeds onbewoon. Die grasdak van die buiterondawel waar Hennie as seun gewoon het was vertoiing. Die ou huis was afgebreek. Hier het Hennie al gegroet toe die plaas in die jare sewentig verkoop is” (34). Hennie se pa is in 1974 oorlede (9).

In 1989 het Amanda Botha ‘n dokumentêre program vir televisie oor Hennie gemaak. Hulle het van Bloemfontein af gereis na sy jeugwêreld, wat vir hom ‘n “emosionele” landskap was (79); “sy innerlike landskap, maar ook sy (lewens)kompas” (80). Daar is winter “nie ‘n seisoen nie, dis ‘n lewenswyse” (81). “Winter is hier ‘n ‘leefwyse met ‘n smeulstoof … As dit sneeu en kapok in die dag, is dit poësie'” (80). In Aliwal-Noord is die warmwaterspa toe pas oopgestel vir alle rasse. Die blankes is verswelg. “Ek beduie na Hennie, nee, hier moet ons uit! Ons beleef ons eerste ervaring van ‘n veranderde land: die aantog van die nuwe Suid-Afrika – die finale aanslag op wit alleenreg” (79).

Hennie sê: “Die plaas is nie meer die plaas van my kleintyd nie” (78). “Dis nie meer ‘n plaas nie – die plaas het verdwyn. Nóú is dit net ‘n herinnering, ‘n landskap van die gees, ‘n ‘sprokie bevolk deur dooies'” (81). Amanda skryf: “Ons ry ‘n landskap van verlatenheid binne. Die buitekamertjie is daar en ook Ouma se huis” (81). “Ma, vertel Hennie, het blomtuine gedroom” (82). Nou is daar ‘n “eertydse tuin” (81). In die goeie ou dae was daar “kêmfroetbottels” op die rakke in die huis (82). In Ouma se Statebybel was daar “geplette blommetjies” (83). Die Statebybel is ‘n boek wat voldoen het aan die fisiese vereistes wat Hennie gestel het: “Omslag, letterwerk en illustrasies – alles moet ”n ondeelbare eenheid vorm'” (83). Hennie was ‘n “boekesteet” (94).

Amanda skryf: “Ons is terug in die Kaap, maar my gevoel is dat dit tog vir Hennie ‘n aangeleerde tuiste bly. Hy voel altyd ‘n ‘skuldlas’ teenoor die Stormberge, sug hy. Hy het dit ‘probeer afbetaal deur daaroor te skryf’. Tog sê hy: ‘Daardie bar, eensame wêreld sal altyd ‘n verwyt bly omdat ek hom verlaat het'” (86). Daniel Hugo dig: “Rust-mijn-ziel waar jou ma rustig wag: die geskropte kombuistafel jou allerlaaste vasmeerplek” (99). Daardie plaas, soos baie ander plase, en Jamestown, soos seker iedere ander dorp en stad in hierdie getransformeerde land, is sedert 1994 totaal opgedonder. Maar daar is eertydse blanke politici en hulle meelopers wat hulleself en ander probeer wysmaak dat hulle voortreflik gepresteer het deur mandaadloos oor te gee. In so ‘n getransformeerde land kon Hennie, met sy “byna ouwêreldse ‘ordentlikheid en regskapenheid'” (106), nooit werklik ‘n holte vir sy voet vind nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.