Brief: Die verraad van Februarie 2020

Deel op

Theuns Eloff se skrywe van 11 Februarie op Maroela Media verwys: Apartheid, FW en die ANC: vier mites aan die kaak gestel.

NUUT!

Die grootste fout wat ons kan maak is om te dink dat die verraad teen ons volk 30 jaar terug gebeur het. Die realiteit is dat hierdie verraad steeds aan die gang is en duidelik sigbaar is in skrywes soos dié van Eloff. Sy skrywe is ‘n desperate poging om die besluite wat gemaak is 30 jaar terug steeds te regverdig om sodoende die paar mense wat nog aan die feëverhaal vashou te probeer paai.

De Klerk het die volk uitverkoop.

Eloff is heeltemal reg dat hierdie ‘n mite is.

Die waarheid is dat De Klerk nie alleen skuldig was aan die uitverkoop van die land nie, maar dat hy ondersteun is deur ‘n hele aantal mense om hom te help in hierdie aksie. Die tweede probleem is dat die stelling verwys na die verlede tyd, maar die realiteit is dat De Klerk en ander steeds vandag besig is om ons volk uit te verkoop. Die korrekte stelling sou eerder wees:

De Klerk en ander is steeds besig om die volk uit te verkoop.

In talle artikels sedert 2 Februarie word daar herhaal hoe min opsies daar was. Dit was óf oorgee óf oorlog. Dit moet seker verskriklik wees om in ‘n wêreld te leef waar jy net óf kool óf wortels moet eet omdat jy nie bereid is om bietjie in die tuin rond te stap nie. Enige iemand wat hierdie stelling glo, is net so visieloos soos De Klerk en ander en glo seker perdedrolle is vye ook!

Daar is altyd opsies. Daar was altyd opsies. Maar eerder as om verantwoordelikheid te aanvaar dat hulle te visieloos was om nog meer opsies te ondersoek, verhard hulle in die idee dat daar net twee opsies was. Op daardie tydstip het die publiek reeds te kenne gegee dat verandering noodsaaklik was, maar hulle het gehoop dat wie ook al namens hulle onderhandel, sekerlik genoeg verstand aan die dag sou lê om te verseker dat ons volk se reg om voort te bestaan in ag geneem sou word.

As ons vandag kyk na wat in die land gebeur sover dit die vertrapping van ons volk se basiese regte betref, menseregte en steeds nie erken dat daar moontlik ander opsies ondersoek moes word nie, dat daar moonlik ‘n fout gemaak is nie… as jy dit steeds regverdig vandag, is jy nog besig met dieselfde verraad… Is jy steeds besig om jou rug op die volk te draai!

Die tweede mite wat Eloff gebruik,

Daar was geen ander keuse,

weerspreek dus die eerste. In soveel woorde erken hy daar was ander keuses, hulle het net nie belang gestel om dit te ondersoek of na die tafel te bring nie. Hierdie stelling van Eloff is die bewys dat De Klerk en ander by magte was om ander keuses te maak en dat hulle gekies het om nie ag te slaan op die langtermyngevolge vir ons volk nie. Die korrekte stelling moet dus lees: Daar was ander keuses, ons het net nie gedink dis belangrik om aan die Afrikaner se oorlewing te dink nie.

Die derde mite: Die ANC het gewen,

is maar net ‘n poging om die glorie en euforie van die oorgang aan die lewe te probeer hou. Terwyl mense soos De Klerk en Eloff duidelik die opinie van die buiteland en al die eer wat daarmee saamhang na waarde skat, is hulle ver verwyder van die opinie van die Venters en Van der Merwes wie se belange hulle eintlik moes beskerm. Hierdie verknogtheid aan internasionale erkenning is die bewys dat hierdie nie in die geskiedenis as volksleiers onthou sal word nie. ‘n Volksleier, soos wat hulle voorgegee het hulle was, beskerm die belange van sy eie mense bo dié van enige internasionale mening.

Wat die Venters en van der Merwes betref: Indien Eloff sou belangstel in hulle mening, is dit redelik duidelik dat die ANC gewen het. Dit is die ANC wat die laaste 25 jaar die wette maak wat veroorsaak dat ‘n kind in 2020 met ongelooflike akademiese prestasie nie keuring kry om ‘n dokter te word nie oor die kleur van haar vel. Dit is die ANC wat wette skryf wat Afrikaans uit die skole haal. Dit is die ANC wat eiendom sonder vergoeding wil onteien. Hier waar ons gewone mense sit, ook bekend as die volk… lyk dit darem baie asof die ANC gewen het. Maar miskien hoop Eloff die internasionale gemeenskap glo hom; dit is mos al wat nog altyd saakgemaak het—nie die Venters en die van der Merwes nie.

Die vierde mite wat Eloff noem: ANC glo steeds in nierassigheid

spreek van De Klerk en ander se totale vermetelheid. Die waarheid is die ANC het nog nooit in nierassigheid geglo nie. Daar was nog nooit ‘n bewys daarvan in enige van hulle agendas nie. Dit was De Klerk en ander wat naïef genoeg was om te glo dat die ANC hulle gaan verbind tot ‘n Grondwet (wat hulle al hoeveel keer verander het en nog gaan verander) terwyl die “dom, verregse, verkrampte, verkakte” volksleiers hulle daarteen gewaarsku het. Die mite dat die ANC in nierassigheid glo, is iets wat De Klerk en ander uitgevind het om hulle besluit te probeer regverdig. Die ANC glo in die ANC… het nog altyd, sal altyd.

Eloff se skrywe is maar net ‘n manier om swak leierskap te probeer regverdig met verskonings. ‘n Ware leier sou lankal opgestaan het en erken het dat dit ‘n fout was om die land oor te gee op die wyse waarop dit gedoen is. ‘n Ware leier sou erken het dat die buitelandse druk belangriker was as die belange van ‘n volk. ‘n Ware leier sou erken het dat daar ander opsies was en dat dit dalk ander resultate sou kon oplewer. ‘n Ware leier sou ophou verskonings maak en die seer en kommer in sy eie volk raaksien. ‘n Ware leier sou erken het dat hy uitoorlê is by die onderhandelingstafel. ‘n Ware leier sou alles in sy vermoë doen om sy volk ‘n kans op oorlewing te gee, om te baklei vir hulle. ‘n Ware leier sou nie in Februarie 2020 steeds volhard in sy foute nie, sou nie steeds sy rug op die volk keer nie en sou wragtig nie meer verskonings maak nie.

Want dit sou vir ‘n ware leier verraad wees!

—Johan van der Merwe

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.