Dan Roodt: Hoe die NP Suid-Afrika kon gered het

Deel op

Die afgelope week het heelwat ink gevloei, of liewer aanlyndata, betreffende FW de Klerk se vrylating van Nelson Mandela dertig jaar gelede, asook De Klerk se daaropvolgende verraad jeens die land en sy eie kiesers. Die jongste reaksie wat ek gesien het, is dié van Ilana Mercer, ‘n gebore Suid-Afrikaner wat tans in ‘n verre uithoek van die VSA woon: 30 Years Since F. W. de Klerk’s Great Betrayal.

NUUT!

My eie kommentaar op De Klerk se oorgawe het reeds ‘n week gelede op 1 Februarie verskyn, onder die opskrif: 2 Februarie, ‘n swart dag in ons geskiedenis.

Vanuit die Naspers- en Media24-stal word FW natuurlik konstant verdedig as die gewildste Afrikaner wat ons vyande al ooit teëgekom het, want hy het die land op ‘n skinkbord aan die mees radikale Afro-marxistiese faksie, die ANC/SAKP, oorhandig – met die funeste gevolge wat ons tans ervaar. Ek sit letterlik hier en tik op ‘n skootrekenaar – iets wat ek slegs by uitsondering gebruik want ek verkies ‘n tafelrekenaar met ‘n groot skerm – en wonder of my selfoonbattery lank genoeg gaan hou vir my om dié rubriek via die skootrekenaar te kan publiseer. Praat van jou laaste halwe kersie wat flikker en dreig om uit te brand, te midde van die revolusionêre stikdonkerte wat FW de Klerk geskep het.

Ons is gekondisioneer om beurtkrag, antiblanke haat, (te)regstellende aksie en wetgewing, gate in die paaie, plaasmoorde, geweld, seksuele teistering en selfs verkragting van ons vroue en jong meisies deur swart mans, die afskaffing van Afrikaans, e.d.m., met gelatenheid aanvaar.

Ewe gelate as wat die nonchalante owerspeler en kaalkoppierewaaier, FW de Klerk, vanaf die dek van sy Griekse jag die land weggegee het!

Maar linkses glo dat dit “onvermydelik” was dat die ANC-terreurbeweging Suid-Afrika sou verower. ‘n Dag of twee gelede het ek per twiet vir een van die rooi Afrikaners, Pieter du Toit, gevra of hy dan glo in die marxistiese doktrine van “historiese onafwendbaarheid” waarvolgens die kommunisme bestem is om oor kapitalisme te triomfeer. Dié idee is mos in die geskrifte van Marx en Engels verewig. Maar intussen het die Berlynse Muur geval en is selfs Moedertjie Rusland, waar ek verlede jaar gasspreker by ‘n konferensie was, kapitalisties. Jy kan hamburgers en Coke in Rusland koop, asook Duitse of Koreaanse motors.

Net in Suid-Afrika, Noord-Korea en Kuba het die Muur nog nie geval nie, ideologies gesproke. Want ons word oorheers deur die Christi van der Westhuizens, die Max du Preez’s, die Julius Malemas, Panyaza Lesufi’s en ander wat soos die Russe in die Katynwoud met die Pole gemaak het, elkeen wat hom nog durf ‘n Afrikaner noem, ‘n skoot in die agterkop wil gee.

Nes Pieter du Toit, verdedig Christi van der Westhuizen fanaties De Klerk se oorgawe en die “onafwendbare” staatsgreep, die “nasionale demokratiese revolusie”, wat die ANC uiteindelik op die hele land en sy instellings sou uitvoer – ook op Eskom en elke watersuiweringsaanleg, wat verklaar waarom ek en u vandag dikwels sonder elektrisiteit en water sit!

Christi van der Westhuizen is die ANC se woordvoerder in Afrikaans, en daarom het sy vrye toegang tot Netwerk24, RSG en vele ander media. Indien dit nie vir die internet was nie, sou die res van ons lankal tot Siberië of een of ander strafkamp in die Karoo verban gewees het – letterlik en figuurlik. Die kommunisme (en sy metodes) is mos “onafwendbaar”, soos die linkses ons elke dag verseker. Vir alle praktiese doeleindes is Suid-Afrika reeds ‘n marxistiese diktatuur. Net die koms van die internet en inligtingstegnologie weerhou ons van die totale Sowjetisering van ons land.

In haar jongste Netwerk24-rubriek, vra Christi van der Westhuizen skielik die vraag: “Wat as PW president gebly het?” Dis nogal ‘n interessante vraag, soortgelyk aan: “Sê nou maar FW de Klerk het nie oorgegee nie, wat sou dan gebeur het?”

In vele opsigte voel ek my presies die antitese of die teenoorgestelde as Christi van der Westhuizen. Sy is ‘n linkse, lesbiese vrou sonder kinders. Ek is ‘n regse, heteroseksuele man mét kinders. Per definisie is Christi bloot begaan oor die toekoms soos dit haarself raak. Sy beskik oor geen nageslag of erfenis nie. As die ANC die land totaal verwoes, alle Afrikaners uit die land verdryf of uitmoor, soos hulle reeds in ‘n mate daarin geslaag het, is dit maar tot daarna toe. Solank daar nog iewers ‘n gay kroeg op Port Elizabeth oorbly waar Christi kan gaan rinkink en sy haar maandelikse salaris ontvang om ANC-propaganda op kampus en in die media uit te basuin, is sy dolgelukkig.

Hierteenoor is veel meer as my eie toekoms in ons land op die spel, want ek is oor my kinders begaan. Toe my dogter op Tukkies was, het sy my vertel dat sy bang is om na die Gautreinstasie in Hatfield toe te loop, want swartes op straat teister die Tukkiemeisies en slinger hulle allerlei onwelvoeglike opmerkings toe. Die universiteit doen niks daaraan nie, want dit “vind nie op die kampus plaas nie”. Watter wêreld laat ek aan my kinders na? Het hulle ‘n toekoms in Suid-Afrika onder hierdie rassistiese, linkse diktatuur wat hom as “demokrasie” vermom? Ek het die beste van Suid-Afrika beleef: die sestiger- en sewentigerjare toe Afrikaans ‘n groot opbloei beleef het, Johannesburg wat naas Mahattan die toonbeeld van ‘n “wolkekrabberstad” was, die kosmopolitiese Hillbrow met sy kafees van die Europese tipe, skoon, netjiese en veilige strate sonder slaggate.

Maar danksy De Klerk en sy medeverraaiers het ons tot op hierdie smerige, misdadige, korrupte vlak gedaal. Met my “ja”-stem in die 1992-referendum het ek my kinders se toekoms vir ‘n pot lensiesop verkoop. Dit sal vir altyd by my bly spook.

Christi is ook wesentlik Engels, desnieteenstaande die feit dat sy Afrikaans magtig is. Sy leef in die wêreld van Anglo-Amerikaanse kultuurmarxisme en beskou Europeërs en Afrikaners as agterlik. Hierteenoor hou Engels en kultuurmarxisme vir my geen bekoring in nie. Ek is wel jare lank daarmee gebreinspoel op die Engelse kampus waar ek gestudeer het, maar ek het gou-gou die werke van Nietzsche, Heidegger en ‘n swetterjoel aweregse Franse denkers ontdek. Die Europese, nie die Engelse denke nie, boei my. Hoe Afrikaners in die verlede gedink het, fassineer my insgelyks. Eintlik was hulle hul tyd vooruit, want hulle het al tastende met probleme geworstel waaroor die res van die wêreld nou eers begin dink: die naasbestaan van onversoenbare kulture, asook die hantering van ongebreidelde maatskaplike geweld en misdaad, tesame met politieke of godsdienstige ekstremisme.

Christi van der Westhuizen haat die mense tussen wie sy grootgeword het. Soos die skrywer André P. Brink – nog ‘n linkse idioot as daar al ooit een was – op ‘n keer aan ‘n Franse televisiespan gesê het, sal dit vir Christi van der Westhuizen beter wees “as my eie volk ophou bestaan”.

By die gedagte van Afrikanervolksmoord, selfs die kultuurvolksmoord wat daar tans teen ons gepleeg word, kom alles wat ek is in opstand. Dis waarom ek my op my Twitterprofiel as ‘n “bittereinder” beskryf: ek sal nooit die oorheersing deur die ANC en deur die Engelse marxiste in Suid-Afrika aanvaar nie. Al word Afrikaans op elke kampus en in elke skool verbied, sal ek dit steeds aanhou praat en skryf – al word ek nou ook na ‘n strafkamp toe gestuur! Nog minder sal ek my tot kommunisme of kultuurmarxisme bekeer. Soos die Franse Protestantse martelares uit die vroeë agtiende eeu wat geweier het om Katoliek te word, Marié Durand, sou ek eerder 38 jaar se eensame aanhouding in ‘n toring verduur alvorens ek my oortuigings sou afsweer.

Synde die verbeeldinglose Christi wat binne haar kultuurmarxistiese eggokamer soos ‘n robot slagspreuke herhaal, kan sy bloot een uitkoms bedink indien die NP nie die knie voor die aggressiewe terreurveldtog van die ANC/SAKP sou gebuig het nie. Sy skryf naamlik:

“Wit regses se fantasie dat wit oppergesag sou kon voortbestaan indien De Klerk ‘nie alles weggegee het nie’, is net in die vorm van ‘n militêre diktatuur haalbaar. Botha en sy sekurokrate het Suid-Afrika op daardie trajek geplaas, soos gesien kan word met die verharding van sy posisie in die tweede helfte van die 1980’s. Sy twee beroerteaanvalle het ‘n stokkie daarvoor gesteek.”

Sy skryf verder:

“Die ekonomie was in ’n onhoudbare krisis. Internasionale mening, veral dié van Westerse bondgenote, het ná die val van die Kommunisme geskuif. Suid-Afrika sou in ’n groot mate geïsoleer gewees het, sonder ’n magtige beskermheer soos wat Israel in die vorm van die VSA het.”

Suid-Afrika was in 1989 ‘n beleërde land, dog slegs in ‘n mate. Verskeie linkse regerings in Skandinawië, Kanada en Frankryk het saam met die Sowjetunie, Oos-Duitsland en Kuba gewerk om die regering te ondermyn en ‘n marxistiese diktatuur hier by ons tot stand te bring. Die aanvanklike plan was om die banke en alle nywerhede te nasionaliseer in ‘n volskaalse “rooi revolusie” soos wat Lenin, Mao, Fidel Castro en vele ander uitgevoer het. Daarmee saam sou die land van “fasciste”, nasionaliste, Afrikaners en nie-linkse blankes gesuiwer word. Indien ons nie almal doodgemaak sou word nie, sou ons soos in Algerië die keuse gegee word: “Pak jou tas of ons maak jou dood.”

Christi praat van ‘n “regse fantasie”, maar hiedie linkse fantasie van ‘n gesuiwerde, hoofsaaklik swart en marxistiese Suid-Afrika bestaan steeds en kruip elke dag nader. Dit leef voort in die EFF se uitsprake en in sy skare Johannesburgse joernalistieke bewonderaars wat graag wil toesien dat sy “ware rooi revolusie” verwesenlik word.

Nie verniet nie maak die nuusredakteur van The Citizen, Daniel Friedman, YouTube-video’s waarin hy spot met “blanke volksmoord” (white genocide).

Dis egter ‘n ingewikkelde wêreld waarin ons leef, baie ingewikkelder as wat die linkse Christi in haar Engelse, kultuurmarxistiese eggokamer haar dit kan voorstel.

Dis boonop onwaar om te sê dat Suid-Afrika onder PW Botha universeel verwerp en geboikot is. Met behulp van die Sweedse geld en al die binnelandse verraaiers soos Desmond Tutu, het die ANC/SAKP wel oral ter wêreld sanksies teen Suid-Afrika bepleit, in die hoop dat die land ekonomies in duie sou stort en hulle Ukhonto we Sizwe oor die Limpopo sou kon stuur om Pretoria met geweld te verower. Maar vele belangrike lande ter wêreld met groot ekonomieë het glad nie sanksies teen Suid-Afrika toegepas nie, waaronder Wes-Duitsland, Italië, Switserland, Japan, Suid-Korea, asook ‘n swetterjoel Latyns-Amerikaanse lande met regse regerings.

Die Verenigde Koninkryk het nooit ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika toegepas nie. Trouens, uit onlangs vrygestelde geheime dokumente uit Brittanje blyk dat die VK onder mev. Margaret Thatcher selfs die verpligte VN-wapensanksies omseil het, met die firma Plessey wat radartoerusting aan ons ou Weermag veskaf het. Dis dalk een goeie ding wat die Engelse oor die afgelope 200 jaar gedoen het.

Die val van kommunisme in Oos-Europa moes ook die ANC-SAKP uitgewis het. Soos ek reeds in my Engelstalige essay, The Scourge of the ANC, geargumenteer het, het FW de Klerk se onnoselheid en verraad dié terreurorganisasie van ‘n gewisse dood gered! Soos God in die dakskildery van die Sistynse kapel, het FW sy vinger na die sterwende, verswakte ANC uitgestrek en hulle van ‘n tweede lewe voorsien.

Was dit nie vir De Klerk se onbekookte, oneerlike verraad nie, kon dit só anders verloop het. Ons kon permanent van die ANC ontslae gewees het. Dwarsdeur die wêreld, maar veral in Latyns-Amerika, was daar al terreur- en guerillabewegings wat hele landstreke en stede kon beset, maar wat agterna die onderspit teen die veiligheidsmagte gedelf het. Die ANC was in ‘n oorlog met die Afrikaner en met Suid-Afrika gewikkel, ‘n oorlog wat hy net nie kon wen nie, gegewe die feit dat hy nêrens in Suid-Afrika enige dorp, stad of lappie grond kon verower nie.

Maar terug by linkse en regse “fantasieë”. Werklikheidsontkenning is ‘n algemene probleem in Suid-Afrika. Dis reeds glashelder dat die ANC nie in staat is om te regeer nie, asook dat die ewe “bevryde” Zimbabwe ‘n volslae mislukking is. Linkses ontken dit egter, en maak asof sowel Suid-Afrika as Zimbabwe sal “regkom” as ons net ‘n paar klein verstellinkies aanbring: ‘n Cyril Ramaphosa hier en daar, rentekoerse wat ‘n kwart van ‘n persentasiepunt verlaag word of nóg ‘n lening vir Eskom of SAL.

Ons kan nie langer in ontkenning leef nie. Een vorm van ontkenning is egter marxistiese “historiese onafwendbaarheid”. Die ANC en SAKP was nooit gepredestineer of vooraf bestem om te regeer nie. Dié ramp is deur menslike optrede veroorsaak, veral die optrede van een man: FW de Klerk.

Dit kon só anders verloop het.

Gestel die kabinet, pleks van onderlangs te mor oor die feit dat De Klerk en sy lakei, Roelf Meyer, besig was om al dié liggaam se voorskrifte en voorbehoude oorboord te gooi, het FW en Rooi Roelf net daar afgedank, die kabinet geskommel en ‘n nuwe span ingestuur.

Onlangs het dr. Rina Venter, wat destyds minister van gesondheid was, haar outobiografie gepubliseer waarin sy weergee hoe onrusbarend FW de Klerk se “styl van onderhandeling” (lees: oorgawe) was. Indien sy en ander kabinetslede destyds bymekaar gekom het en De Klerk afgedank het, kon hulle nog die land gered het.

Miskien kon Rina Venter self president geword het. Deur die geskiedenis het vroue in bepaalde krisissituasies na vore getree om hul land en hul volk te red. Dink maar aan die sewentienjarige Johanna van Arkel wat in 1428, toe Frankryk op sy knieë was en beset deur Engelse, self die wapenrusting aangetrek en ‘n leër rondom haar versamel het om ‘n Franse opstand van stapel te stuur. Of mevrou Margaret Thatcher wat die VK van stagnasie en linkse ondergang gered het. Om nie van Eva Perón, die “geestelike leier van die Argentynse nasie”, te vergeet nie.

Pleks van FW se ellendige oorgawe aan die Rooies, sou Rina Venter dadelik bondgenote na regs begin soek het. Sy kon in die geheim met Constand Viljoen, Jaap Marais, Andries Treurnicht en Ferdi Hartzenberg vergader het. Daarna met Buthelezi, Lucas Mangope, Oupa Gqozo en ander tuislandleiers.

Sodoende kon ‘n verenigde regse front tot stand kom teen die dreigende ANC-oorname van Suid-Afrika.

Christi van der Westhuizen verwys na die geheime plan van die ANC in die vroeë negentigerjare om Suid-Afrika met geweld oor te neem, bekend as Operasie Vula. Pleks van die verraaier FW de Klerk wat dit as ‘n kleinigheid afgemaak het, sou Rina Venter dit as ‘n verskoning gebruik om die onderhandelings heeltemal te staak. Sy stel die ANC voor ‘n ultimatum: óf hulle laat vaar geweld en oorhandig al hul onwettige wapens, óf sy staak die onderhandelings en verklaar die onderhandelings as ‘n mislukking. Die Israeli’s en Palestyne het al verskeie kere onderhandel en nooit tot ‘n ooreenkoms gekom nie. Die buitewêreld sou verstaan: ons het probeer, maar die ANC klou vas aan sy idée fixe van gewelddadige, marxistiese revolusie.

Terloops, FW de Klerk moes nooit vir Mandela met soveel fanfare en publisiteit vrygelaat het nie. Is Bram Fischer nie ook destyds in 1975 weens humanitêre redes vrygelaat toe hy kanker in die gevangenis ontwikkel het nie? Niemand het eens daarvan geweet nie. Die ANC het insgelyks vir Clive Derby-Lewis ná lewenslange tronkstraf vrygelaat, maar dit was geensins voorbladnuus nie en hy was steeds onder huisarres en moes gereeld by die polisiestasie aanmeld.

Indien De Klerk oor enige verstand beskik het, sou hy presies so ‘n metode gevolg het om Mandela vry te laat: eers moes hy geweld afsweer (soos wat PW vereis het), daarna kon hy op Qunu gaan bly, maar hom daagliks by die polisiestasie aanmeld en aan geen politieke bedrywighede deeneem nie, anders word sy parool teruggetrek.

Waarskynlik sou die ANC nie daarvan gehou het dat die NP nie meer wou kapituleer onder Rina Venter nie en sou gepoog het om vir oulaas ‘n gewapende opstand te pleeg deur Operasie Vula van stapel te stuur. Rina Venter sou alle weerbare blanke mans oproep en Ukhonto we Sizwe blitsig verslaan, met die meeste wat uitwyk na hul ou kamp wat deur die Oos-Duitsers, Swede en Russe in Tanzanië beskikbaar gestel is. Maar omdat Oos-Duitsland en Rusland ná die ineenstorting van die Berlynse Muur nie meer militêre bystand en toerusting aan die ANC verskaf nie, stort alles in duie. Soos in 1969, hou die ANC weer ‘n konferensie in Morogoro om sy voortbestaan te bespreek en besluit dié keer om wel te ontbind.

Swede en Noorweë besluit om eerder Robert Mugabe se bewind te finansier ten einde Afro-marxisme te verwesenlik, maar as grondhervorming in 2000 in dié land afskop, help selfs die Sweedse geld nie meer nie. Suid-Afrika sluit sy grense met Zimbabwe en laat geen voedseluitvoer na dié land toe nie, sodat die Zimbabwiërs krepeer en slegs danksy voedselhulp vanuit Skandinawië en vanaf die Wêredvoedselprogram in Rome oorleef.

Met die ANC as bedreiging uit die weg geruim, gaan dit egter klopdisselboom in Suid-Afrika. Nadat die Franse Sosialistiese president, François Mitterand, in 1995 teen Jacques Chirac in die presidentsverkiesing verloor, besluit Frankryk om sanksies teen Suid-Afrika op te hef. Geen van die voormalige Oosbloklande wil sanksies teen Suid-Afrika handhaaf nie, gegewe ons voortreflike rekord van antikommunisme, dus val die domino’s een na die ander: handelsanksies, finansiële sanksies, sportsanksies. As George Bush by Bill Clinton in 2001 oorneem, word alle Amerikaanse sanksies kragtens die Comprenhensive Anti-Apartheid Act van 1986 herroep.

Slegs Kuba en Swede handhaaf steeds sanksies teen Suid-Afrika, maar dit kan Rina Venter en haar span nie skeel nie. Teenoor die verdeeldheid wat vanaf 1968 met die wegbreek van Albert Hertzog uit die Nasionale Party gegeld het, heers daar nou ‘n ongekende politieke eenheid onder Afrikaners. Van Zyl Slabbert, Roelf Meyer, Leon Wessels en Theuns Eloff bevind hulle nou in vrywillige ballingskap op Gorée-eiland waar hulle hul besig hou met Afrika-ontwikkeling terwyl hulle salarisse van George Soros se Open Society Foundation ontvang.

Die NP, HNP en KP het reeds in die vroeë negentigerjare saamgesmelt om die Nuwe Afrikanerparty te vorm, ‘n party waarin openhartige debat en kritiese denke aangemoedig word, anders as die gatkruiperkultuur wat in die dekadente fase van die ou NP en veral onder FW de Klerk gegeld het.

Die Driekamerparlement word stelselmatig hervorm om ook ‘n kamer vir stedelike swartes in te sluit. Dit vind groot byval en die munisipaliteit van Soweto verkry breë magte om die swart woonbuurt byna soos ‘n Switserse kanton te bedryf. Buitelandse waarnemers is beïndruk met die pragmatiese hervormings van die Nuwe Afrikanerparty, wat so geslaagd ‘n linkse, marxistiese revolusie deur die ANC en SAKP in Suid-Afrika afgeweer het.

Verskeie linkse groepe is egter steeds in die land bedrywig. Soos voorheen gebruik hulle die Engelse kampusse van Wits, die Universiteite van Kaapstad, Natal en Rhodes as basisse vir agitasie en ondermyning. As die liedjie “Kill a Boer, kill a farmer” op die kampus van die Universiteit van Kaapstad gesing word, roep dr. Rina Venter haar kabinet byeen om die toestand te bespreek.

Daarna maak dr. Koos Malan, ‘n eertydse HNP-lid, skrywer en tans minister van onderwys, ‘n aankondiging dat die vier Engelse kampusse summier gesluit word. Terselfdertyd bars daar spontaan betogings op die Afrikaanse kampusse los met die slagspreuk: “Skaf Engels af!”

Die polisie bewaak die vier Engelse kampusse waar soveel lede van die voormalige ANC en Kommunistiese Party voorheen gestudeer en geïndoktrineer is en sorg dat niemand dit op die persele waag nie.

In die Afrikaanse media skryf vele rubriekskrywers dat slegs Afrikaans vir hoër onderwys in die land gebruik behoort te word, vanweë die koloniale en marxistiese geskiedenis van Engels in die land. ‘n Besoekende Poolse parlementslid beaam dit as ‘n goeie idee.

Koos Malan kom egter met ‘n nuwe voorstel vorendag, en dit is dat die vier Engelse kampusse veeltalig moet word. Pleks van plaaslike linkse universiteite, moet hulle nou omvorm word tot internasionale regse universiteite waar ‘n heenkome gebied word vir behoudende intellektuele en denkers van regoor die wêreld, met klasse in Engels, Frans, Duits, Spaans, Russies, Pools, Japannees en ander tale, asook natuurlik Afrikaans.

‘n Nuwe wet, soortgelyk aan die Franse wet wat voorsiening maak vir die ontheffing van burgerskap, word deur al vier kamers van die parlement goedgekeur. Diegene wat hulle skuldig maak aan ondermynende bedrywighede teen die staat, die propagering van Boerehaat of vyandigheid teenoor Afrikaans, die beplanning van terreur of sabotasie, of bloot radikalisering, word deur die minister van binnelandse sake van hul Suid-Afrikaanse burgerskap onthef en gedeporteer na hul land van herkoms, hetsy die Verenigde Koninkryk in die geval van blanke Engelssprekendes, Indië of Pakistan in die geval van Indiërs en Israel of Litaue in die geval van Jode. Met behulp van die wet, word daar skoongemaak onder Engelse akademici en ‘n hele paar honderd word gedeporteer. Die Burgerskapontheffingswet maak ook voorsiening daarvoor dat waar ‘n persoon nie oor ‘n duidelike land van herkoms beskik nie, hy na Zimbabwe gedeporteer mag word. Max du Preez, Christi van der Westhuizen, Adriaan Basson en diesulkes, wat Afrikaans grootgeword het maar die Engelse marxisme omhels het, se Suid-Afrikaanse paspoorte word afgeneem en hulle word na die utopiese landjie noord van die Limpopo gedeporteer.

In haar onlangse Kersboodskap aan Suid-Afrika, het dr. Rina Venter gesê:

“Toe ek minister van onderwys was, het ek besef dat goeie beplanning die grondslag vir alle groei en ontwikkeling is, hetsy in die gesondheidstelsel, hetsy in die ekonomie of die samelewing as geheel. Daarom sal ons voortaan groot klem plaas op ruimtelike ordening en die handhawing van ons omgewing, soortgelyk aan hoe dit in Nederland en sommige ander lande gedoen word.”

As deel van haar nuwe Groot Plan vir Suid-Afrika, word steenkoolkragsentrales stelselmatig uitgefasseer en Suid-Afrika skakel oor na sonkrag en alternatiewe energiebronne, ook om energieonafhanklik te word. Die minister van handel en nywerheid hoor iewers ‘n voëltjie fluit dat ‘n Suid-Afrikaner in Kalifornië, Elon Musk, besig is om ‘n nuwe elektriese motor, die Tesla, te ontwikkel. Hy vlieg onmiddellik soontoe om hom te oortuig om sy fabrieke vir motors en batterye in Suid-Afrika op te rig, met die regering wat alles in sy vermoë doen om dit vir hom aantreklik te maak. In Rosslyn verrys ‘n nuwe “gigafabriek” om Teslas te vervaardig, wat van daar af oor die hele wêreld versprei word. Binnelands word subsidies aan die publiek betaal om oor te skakel na elektriese voertuie, soortgelyk aan hoe dit in die EU geskied.

In al die groot stede word daar soos in Nederland en Denemarke fietspaaie aangelê sodat mense ook per fiets heen en weer werk toe kan ry. As voormalige minister van gesondheid, is dr. Rina Venter veral begaan oor volksgesondheid en dat ons mense fiks en aktief moet bly.

Trouens, as jong minister onder PW Botha het sy die magtige Rembrandtgroep aangevat en die verkoop van sigarette aan kinders onder 18 verbied, asook reklame vir sigarette ingeperk, iets waarvoor sy ‘n toekenning van die Amerikaanse Kankervereniging ontvang het.

Suid-Afrika is besig om in ‘n droomland te ontpop: die lug is skoon, die paaie en sypaadjies is skoon, die begrotings klop, nasionaal, provinsiaal en munisipaal. Tabak, alkohol en dwelms kwyn weg. Eskom is nou ‘n leier op die gebied van alternatiewe en veral sonergie, met reusesonkragsentrales wat oral soos paddastoele verrys. Met die afskuwelike linkse klein landjie Nieu-Seeland, die Kuba van die Stille Oseaan, wat uiteindelik ingestem het dat Suid-Afrika weer tot internasionale rugby toegelaat word, word die rugbywêreldbekergtoernooi vir die eerste keer in 2011 in Suid-Afrika gehou en die Springbokke wen die eindwedstryd teen die Kiwi’s 62-0. (Maak dit 102-0, dit klink nóg beter.)

Die ekonomie groei teen agt tot tien persent per jaar, wat ‘n groot tekort aan opgeleide mannekrag veroorsaak. Maar ‘n horde Nederlanders, Vlaminge, Duitsers, Oostenrykers, Skandinawiërs, Pole en Russe staan tou by Suid-Afrikaanse ambassades om hierheen te immigreer en in huise met swembaddens, twee badkamers en dubbelmotorhuise met een Tesla en een elektriese BMW daarin te kom woon.

Tuislandontwikkeling vorder met rasse skrede en word hoofsaaklik met hulpgeld vanuit die EU en die VSA bedryf, sodat dit geen las op die Suid-Afrikaanse belastingbetaler plaas nie. Slegs die Transkei verseg om te ontwikkel maar ‘n hoë muur is reg rondom die land gebou sodat geen Xhosa meer onwettig ons land mag binnekom nie. Die laaste paar Xhosas wat in die Wes-Kaap bakhand staan, word terug Transkei toe gedeporteer en daarmee is Suid-Afrika se “rasseprobleem” so te sê opgelos.

In sy begrotingsrede verlaag die minister van finansies in 2015 sowel die persoonlike as die maatskappybelasgtingkoers tot 20%. Die blanke parlement staan verdere belastingtoegewings toe vir gesinne met kinders; blanke gesinne met drie of meer kinders betaal geen persoonlike belasting nie.

Die Staatsteater word opgeknap en operas met internasionale sterre word daar aangebied, terwyl nie minder nie as twaalf voltydse simfonieorkeste regoor die land konserte hou.

In 2020 steek die Suid-Afrikaanse ekonomie dié van Kanada verby, om die gesamentlike negende plek met Brasilië te deel. Ons is lankal groter as Australië of Nederland. Met die politieke en ekonomiese probleme in Brasilië, is ekonome dit eens dat ons ekonomie binne die volgende jaar selfs groter as daardie land s’n gaan wees. In die VSA meen vele meningsvormers dat Suid-Afrika vir Kanada binne die G7 moet vervang.

Vanweë die streng toepassing van verkeersreëls, bestuursbystand in elektriese motors en die miljoene kilometer wat pendelaars per fiets aflê, het die ongeluksyfer in die land van 16 000 sterftes per jaar tot 300 sterftes, heelwat laer as in die meeste EU-lande, gedaal. Die eerlike, bekwame polisiemag en doeltreffende howe het insgelyks gesorg dat die moordsyfer van 34 per 100 000 lede van die bevolking tot 3 per 100 000, laer as in die VSA (5,30), gedaal het. Maar steeds hou die minister van justisie en polisie vol dat dié syfer nog “veels te hoog is” en dat Suid-Afrika, naas Japan (0,2), “die veiligste land ter wêreld behoort te wees”.

Niemand kan meer onthou wanneer laas iemand op ‘n plaas vermoor is nie en met die hoëspoedinternet wat deesdae oral op die platteland beskikbaar is, is vele stedelinge besig om uit te wyk platteland toe om die natuur en ‘n veilige, ongejaagde lewenstyl te geniet.

Eiendomspryse in die middestede van Johannesburg, Pretoria, Kaapstad en Durban lyk egter naar, want die koers per vierkante meter vergelyk goed met dié in Parys, Londen of Toronto. ‘n Kleinerige woonstel in Hillbrow of Braamfontein kos R10 miljoen, terwyl ‘n voorstedelike huis in Pretoria teen ‘n prys van tussen R20 en R30 miljoen verhandel. Om die instroming van kapitaal na Suid-Afrika te stuit, oorweeg die Reserwebank tans negatiewe rentekoerse op die kort termyn, asook maatreëls om die oorverhitte eiendoms- en aandelemarkte te kortwiek.

Vir eerste kopers van woonhuise en veral jong paartjies wat gesinne wil begin, bied die staat egter gesubsidieerde, rentevrye lenings aan.

Afrikaans beleef ‘n ongekende opbloei en dit spoel selfs oor die landsgrense na die buurlande en elders in Afrika waar die taal gesien word as ‘n vername onderdeel van die voorspoed en voortreflikheid van Suid-Afrika…

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.