Dan Roodt: PW en die professore

Deel op

Ek het PW Botha twee keer in my lewe ontmoet en was redelik beïndruk met hom. Hy was eerlik, opreg en ‘n lojale Afrikaner. Hy sou nooit soos FW de Klerk aan die ANC oorgegee het nie.

Daar was egter ‘n paar krake in sy mondering. Soos die meeste Afrikaners was hy goedgelowig en het Britse diplomate en staatshoofde (soos mev. Thatcher) op hul woord geneem, min wetende dat ‘n Engelsman gewoonlik vir jou sê wat jy wil hoor en agteraf ‘n ander mening koester.

Die tweede ding wat ek vermoed, is dat hy iewers minderwaardig gevoel het omdat hy universiteit opgeskop het om as jong man voltyds by die politiek betrokke te raak. Soos Duitsers en Nederlanders, heg Afrikaners waarde aan akademiese kwalifikasies en titels.

Waarskynlik was PW Botha intelligenter as die meeste akademici met doktorsgrade; hy het ook uitstekend en baie suiwer Afrikaans gepraat sonder ‘n sweem van ‘n anglisisme. Daarteenoor is akademici gewoonlik konformiste wat handel in die “heersende ideologie”, veral natuurlik liberalisme en marxisme. Daar was eens konserwatiewe akademici, maar hulle is lankal uit die stelsel uitgewerk. Tans verteenwoordig elke universiteit in die land ‘n uitsaaistasie vir linkse denke en propaganda. Daar was meer “akademiese vryheid” in die ou Sowjetunie as in ons land, circa 2020.

Suid-Afrika se sterk weermag destyds was grotendeels die breinkind van PW Botha wat jare lank minister van verdediging was.

PW Botha het egter twee groot foute begaan wat waarskynlik tot die ondergang van Suid-Afrika bygedra het: hy het eers een akademikus en toe ‘n ander aangestel om oor belangrike sake te besluit.

Prof. Nic Wiehahn

Die eerste was prof. Nic Wiehahn wat voorsitter van ‘n kommissie oor vakbonde was. Hoewel dit John Vorster se idee was, het die sg. “Wiehahn-kommissie” in 1979 tydens PW Botha se termyn tot stand gekom en sogenaamde “progressiewe” wetgewing voorgestel, veral vir swart werkers. Trouens, die verskil tussen wit en swart werkers, asook trekarbeiders uit die tuislande en sg. “stedelike swartes” is met een pennehaal afgeskaf.

Die totstandkoming van Cyril Ramaphosa se kommunistiese NUM en COSATU was ‘n direkte uitvloeisel van die Wiehahn-kommissie. Dit het linkses in staat gestel om hul politiek te befonds deur maandelikse bedrae van swart mynwerkers se salarisse af te trek.

COSATU het in ‘n hoë mate die ANC aan bewind gebring. Die ANC was vir alle praktiese doeleindes wat die Amerikaners ‘n “buitelandse terreurgroep” noem en het oor geen binnelandse organisasie beskik nie. Dis nou nog afgesien van die feit dat Ramaphosa, wat uit die ekstreemlinkse vakbondbeweging te voorskyn gekom het, as die ANC se hoofonderhandelaar aangestel is.

Dít alles danksy “professor Wiehahn”.

Die tweede professor wat die Afrikaner se toekoms in Suid-Afrika die doodskoot gegee het, was Niël Barnard. PW Botha was self ‘n Vrystater. In ‘n uiters ongewone stap het hy op 1 Junie 1980 die voormalige staatsleerdosent aan die Universiteit van die Vrystaat as hoof van die Nasionale Inligtingsdiens aangestel.

Barnard het binne enkele jare in Switserland en elders met die ANC begin konkel, blykbaar sonder die medewete van die kabinet of PW Botha self. Waarskynlik is Barnard deur die CIA en die Britse MI6 gemanipuleer om die uiteindelike doelwit van ‘n ANC-oorname te bereik.

Suid-Afrika is van buite af verower deur terreur en propaganda. Daarna is die staat en staatsondernemings van triljoene rand se bates gestroop deur die ANC self, maar ook al die duistere magte, sowel binnelands as buitelands, wat hulle gehelp het en dus ook hul pond vleis kon eis in die vorm van belonings uit korrupsie en sg. “staatskaping”.

In so ‘n omgewing van terrorisme en ‘n “inligtingsoorlog” is ‘n land se verdediging so goed soos sy inligtingsdiens wat die nodige inligting insamel, maar ook terugslaan met “teeninligting” of teenpropaganda om dié van die vyand te neutraliseer. Volgens verskeie bronne het Niël Barnard nie hierin belanggestel nie en het reeds in 1982 vir alle praktiese doeleindes gekapituleer. Die weerstand teen die ANC en SAKP het hoofsaaklik vanuit die Weermag en die Polisie, waaronder die Veiligheidspolisie, gekom en nie vanuit Nasionale Inligting nie.

Elders hier op Praag, haal Leon Lemmer vir Barnard aan waar hy in sy outobiografie skryf:

““Ek het [Mandela] soos die toekomstige president van die land behandel, want dit was duidelik vir enigiemand met ‘n bietjie insig dat hy dit sou word” (p 205).”

Watter nut het dit om iemand aan die hoof van jou inligtingsdiens aan te stel as hy dink dat oorgawe aan die vyand onvermydelik is? kan ‘n mens vra.

Lees ook:

Karin Roodt: Niël Barnard se outobiografie ontbloot NP-rugstekery

Leon Lemmer: Die eienaardige ondergang van blanke politieke mag in Suid-Afrika

Leon Lemmer: Die geskiedenis van ons ondergang

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.