Afrikaners verwerp etniese politiek

Deel op

Die uitslag van die 2009 algemene verkiesing is 'n werklike terugslag vir Afrikaners se politieke belang. Hoewel Afrikaners geen hoop gehad het om by wyse van enige politieke party die mag oor te neem nie, is dit die wyse waarop Afrikaners gestem het wat aandui dat die huidige breë politieke beweging vir Afrikaner-selfbeskikking bittermin impak het.

Deel op

Die swak vertoning van die VF+ het nou finaal getoon dat die party geensins Afrikaners se verbeelding aangryp nie. Deels sou dit seker toegeskryf kan word aan die verbeeldinglose en vaal leierskap van die VF+. Hierdie party se ‘samewerkende’ opponerende styl tot die ANC skep waarskynlik weinig vertroue by Afrikaanse kiesers. Boonop onderspeel die party Afrikaner politieke selfbeskikking, een van hul amptelike beleidspunte, in der mate dat dit eerder voorkom asof die spesifieke beleidspunt 'n verleentheid vir die party skep. Die party se onvermoë om meer aktivisties om te gaan met Afrikaner-politiek, te midde van ons huidige krisis, versterk verder die gevoel van beroepspolitici wat nie die appelkar wil omgooi nie.
Hoewel die VF+ 'n sentrale rol gespeel het in die herwinning van Suid Afrikaners in die buiteland se stemreg, het daardie einste kiesers die party grootskaals ten gunste van die DA verwerp. Dit moet sekerlik die grootste klap in die VF+ se gesig wees.

Die feit dat Afrikaners grotendeels vir die liberale multikulturele DA en in mindere mate vir die swart oorheersde Cope stem, is nie net ‘n stem van afkeur vir die VF+ nie, maar ook vir Afrikanerselfbeskikking in die geheel. Afrikaners ondersteun by implikasie die huidige politieke orde en onderskryf in alle dwaasheid die idee dat deelname deur middel van die DA hul lot kan verbeter.

Nie net is hierdie toedrag van sake ‘n groteske aanduiding van die mislukking van die VF+ nie, maar dui dit ook op die mislukking van die breë Afrikaner-selfbeskikkingsideaal en almal wat hulleself daarvoor beywer. Die leiers van die versplinterde regse beweging het ernstige rede tot nadenke. Duidelik het hul onderskeie pogings om afkeer van die linkse DA te toon geensins byval by die kiesers gevind nie. Moontlik was die gefragmenteerde boodskap doodgewoon so difuus dat dit nooit by die meerderheid Afrikaners uitgekom het nie. Klaarblyklik het die breë regse beweging ook klaaglik misluk in hul poging om die idee van die volkstaat te bemark. Indien die kiesers entoesiasties oor laasgenoemde idee was, sou mens immers ‘n beter uitkoms vir die VF+ as die enigste parlementêre verteenwoordiger vir die idee kon verwag … of altans so sou mens kon redeneer.

Mens sou verder kon argumenteer dat Afrikaners regse politiek en die selfbeskikkingsideaal bykans geheel en al afgeskryf het en hul futiele lot by die ANC, DA en Cope se multi-kulti-swart meerderheidsoorheersde NSA ingewerp het. Dit is werklik ‘n hartseer stand van sake, maar moet sekerlik voor die deur van die gefragmenteerde en swak leierskap van die breë regse beweging gewerp word. Afrikaners het duidelik die keuse om in belang van hul etniese belange te stem, verwerp ten gunste van ‘n identiteitslose multi-rassige opposisieparty. Dat die voormalige Black Sash-lid, Helen Zille, Afrikaners meer inspireer as Afrikaner-leiers, is 'n belediging vir laasgenoemde.

Die feit dat daar te veel ego's ter sprake is – en ook 'n sekere fundamentalisme wat meebring dat ‘n breë regse kompromie nie gevind kan word nie – mag nou die finale spyker in die Afrikaner se politieke doodskis wees. Mens kan alleen wonder of Afrikaners hulself werklik nog as ‘n etniese groepering beskou. My gevoel is egter dat daar nie asem opgehou moet word dat Afrikaner-leiers hul politieke huis in orde sal kry om die stand van sake om te keer nie.

free slot spinsДанильченко Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.