Leon Lemmer: Willie Esterhuyse oor oorlog en vrede

Deel op

Willie Esterhuyse (gebore in 1936) maak daarop aanspraak dat hy ‘n (belangrike) rol in die beëindiging van die blanke politieke bewind in Suid-Afrika gespeel het. Hy het in die jare tagtig deelgeneem aan “geheime gesprekke”, wat as resultaat gehad het die magsoorgawe aan die ANC, dus swart meerderheidsregering. In hierdie proses is die blankes van alle beduidende politieke mag ontneem. Anders as Thabo Mbeki, beklemtoon Esterhuyse graag hulle hegte vriendskap. Hy ontken selfs dat Mbeki ‘n terroris is/was. Hy sou die ANC-terroriste eerder vryheidsvegters of -stryders noem. Esterhuyse kan tereg daarop aanspraak maak dat hy die vader van die vernietiging van die Afrikaanse universiteite is. In die eerste jaar van ons “bevryding” het hy ‘n artikel, “Can South Africa afford five Afrikaans universities?” in The Times Higher Education Supplement (24.02.1995) gepubliseer. Ek het by ‘n vorige geleentheid die aandag hierop gevestig (Praag 20.10.2018). Van my ander rubrieke handel ook oor die geval Esterhuyse (Praag 10.11.2013 en 6.09.2015).

Esterhuyse se jongste boek is: Oorlog en vrede: Die morele verbeelding van die mens (Naledi, 2019, 353p, R270). Die hooftitel stem ooreen met Leo Tolstoy (1828-1910) se klassieke werk (1869), wat Esterhuyse “geïnspireer” het (p 24), maar die twee boeke verskil hemelsbreed in aard (en verdienste). Die woord “verbeelding” in die newetitel en teks is problematies. Hoewel Esterhuyse in sy “Leesgids” (338) nie na Tolstoy of Benedict Anderson (1936-2015) verwys nie, is dit laasgenoemde se boek, Imagined communities: Reflections on the origin and spread of nationalism (1983), wat bygedra het tot die gewildheid van die term verbeelding (“imagination”) in hedendaagse akademiese geskrifte. Anderson se boek word “as ‘n baanbrekerswerk oor nasionalisme en nasiestate beskou. Die frase in die boektitel, ‘imagined communities’, impliseer nie dat nasies fiktief is nie. Dit verwys bloot na die feit dat daar so baie individue in ‘n nasie is dat ‘n lid slegs ‘n beperkte getal van hulle persoonlik kan ken en hy van die res min, indien enigiets, weet. Indirekte inligting en verbeelding is nodig om ‘n voorstelling van ‘n nasie in sy geheel te maak” (Praag 10.02.2018).

Dit is die mate waarin verbeelding (noodwendig) met fiksie/fantasie of onegtheid/valse voorstelling geassosieer word, wat die gebruik van hierdie woord problematies maak; des te meer in die konteks van moraliteit. Dit is ongetwyfeld so dat morele waardes, seker in alle gemeenskappe, met verloop van tyd verander. Maar binne iedere era kan onderskei word tussen diegene wat opreg en diegene wat vals met waardes omgaan. Onder die plaaslike blankes word ná 1994 ‘n groter mate van waardevalsheid as ooit sedert 1652 aangetref. Dit lyk asof Esterhuyse ‘n prominente voorbeeld hiervan kan wees. Is dit werklik moontlik dat ‘n oud-Broederbonder homself tot in sy diepste wese in so ‘n mate kon transformeer dat hy uitgesproke anti-Afrikaner en anti-Afrikaans geword het? Of is dit eerder ‘n front wat hy voorhou sodat hy as ‘n openbare intellektueel in die triestige hede applous kan ontlok vir die polities byderwetse geluide wat hy laat opklink? Kortom, voel Esterhuyse tuis in Kayamandi (kom hy ooit daar, of hou hy haastig verby?) of sit hy liewer knus in Paradyskloof, aan die teenoorgestelde kant van Stellenbosch?

Die hoofgebou van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), voorheen die Theo van Wijk-gebou, is na Winnie Mandela hernoem en die groot saal in hierdie gebou na ZK Matthews, nog ‘n ANC-aktivis. Sedert 1994 het Unisa toenemend ‘n doelbewus oorverswarte, linkse politieke instansie pleks van ‘n respektabele akademiese inrigting geword. Dit is hierdie radikaal getransformeerde tragedie wat Esterhuyse as ‘n buitengewone professor aangestel het. Die Thabo Mbeki African Leadership Institute is deel van hierdie opset. Esterhuyse kon hom uiteraard nie daarvan weerhou om hartlik met ‘n instituut vernoem na sy boesemvriend saam te werk nie. Vandaar die sewe lesings wat die hoofteks van sy boek vorm. Daar is ook ‘n voor- en ‘n nawoord. Heel aan die begin is daar selfs twee tekeninge, blykbaar deur twee van sy kleinkinders. Dit gee klaarblyklik uitdrukking aan ‘n persoonlike entoesiasme van die outeur, maar lewer geen bydrae tot die onderwerp van die boek nie. “Ek dra hierdie boek … aan my kontinentale gesprekgenote op” (vii), maw dit staan, soos die Universiteit Stellenbosch deesdae, in die Afrika-konteks.

Die lesings wat Esterhuyse aan Unisa gelewer het, was sekerlik in Engels, in die praktyk (bv aan universiteite) eintlik die enigste amptelike taal in die nuwe Suid-Afrika. Die teks in die boek is egter in Afrikaans, waarskynlik omdat Esterhuyse as historiese Afrikaner hom beter in sy moedertaal as in die ANC se koloniale en amptelike taal kan uitdruk. Deesdae gebeur dit selde dat ‘n akademiese niefiksie boek in Afrikaans gepubliseer word en nie uitsluitlik in Engels nie. Selfs iemand soos Hermann Giliomee, wat in ‘n mate as ‘n behoudende Afrikaner kwalifiseer, veral wat betref sy bevordering van Afrikaans, se jongste boek, anders as sy voriges, is slegs in Engels beskikbaar. In ‘n onderhoud wat die ewe oorverligte Lizette Rabe met Esterhuyse gevoer het, sê hy (sonder om dit te betreur): “Afrikaans, as gesubsidieerde onderrig- en intellektuele publikasietaal, het géén toekoms nie!” (Netwerk24, 18.10.2019). Wie is sterk medepligtig aan die vernietiging van Afrikaans as akademiese taal? Willie Esterhuyse. In 2007 het Esterhuyse “die ryk Afrikaners veroordeel omdat hulle nie geld vir onderrig deur Afrikaans wou voorsien nie” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 158). Die eintlike probleem is dat die ANC-regime bereid is om net ‘n enkele onderrigtaal aan ‘n universiteit te subsidieer, waarmee die vernietiging van Afrikaans as tersiêre onderrigmedium bewerkstellig word. Maar hierdie beleid van die ANC word nie deur Esterhuyse gekritiseer nie.

Die verhouding lesings/boek kan nie uit die teks afgelei word nie. As Esterhuyse sewe voordragte gelewer het en hulle min of meer met die sewe hoofstukke ooreenstem, het elke lesing seker die vorm van ‘n oorsigtelike opsomming van ‘n hoofstuk aangeneem. Dit het immers kwalik enige sin om hierdie hoofstukke aan ‘n gehoor voor te lees. Byvoorbeeld, die eerste hoofstuk handel oor die antieke tyd. Dit het heelwat van my as ervare leser geverg om dit deurlopend met die nodige aandag te lees. Die teks verwys na een antieke heerser na die ander. Elkeen se (bloedige) geskiedenis kom grootliks met dié van die ander ooreen, bv hoe hulle (potensiële) opponente uitgemoor het sodat hulle self kon heers. Wat ek amusant gevind het, is hoe dikwels/graag Esterhuyse na die seksuele gedrag van hierdie mense verwys. Ek het gewonder: Dui dit daarop dat daar by Esterhuyse nog vuur in die kaggel is, al lê daar sneeu op die dak (hy het ‘n halfdosyn kinders), of is dit bloot impotente nostalgie oor wat eens was?

Waarop die boodskap in die boek neerkom, is dat die mens (dalk) die morele verbeelding kan hê om vrede te bewerkstellig (soos die versoener en vredesikoon, Nelson Mandela?) maar dat die geskiedenis oor duisende jare gekenmerk word deur oorloë waarvoor mans polities korrek die skuld kry. “Die mens, veral in sy manlike gestalte, is die lewende wese wat moor, verwoesting saai, oorlog voer” (8). “Waarom kry slagoffers van erge strukturele geweld … dit reg om nie sélf gewelddadig te reageer nie? Baie kere vergewend, versoenend en vredesoekend? Soos Nelson Mandela, byvoorbeeld” (11). Dit is ongelooflik, maar dit staan daar! Mandela was volgens Esterhuyse nie ‘n geweldenaar nie. Hy was 27 jaar in die tronk omdat hy spreekwoordelik te hard in die kerk gesing het. “Die mens … kan nie sonder heldefigure oorleef nie” (71). “Die mens kan skynbaar, as kuddedier, nie sonder kultusfigure lewe nie” (247). Uit desperaatheid moet “die mens” egter nie so dwaas wees om van ‘n misdadiger en geweldenaar ‘n held te probeer maak nie. Esterhuyse verwys na Albert Borowitz se boek, Terrorism for self-glorification (2005). Is Mandela nie dié klassieke voorbeeld hiervan nie? Sy geweldsmisdade word “verromantiseer” (95), maar hy kom weg daarmee. “Magstryde ken nie eintlik morele verbintenisse of stellinginnames nie” (122).

Maar watter ras of etniese groep in (die nuwe) Suid-Afrika is by uitstek by misdaad en geweld betrokke? Dít word nie gesê nie. Esterhuyse stel die vraag: “Word geweld en aggressie geneties bepaal of is dit die resultaat van omgewingsfaktore” (10). Maar hy beantwoord nie sy vraag in die inleiding nie. In sowel Amerika as Suid-Afrika is daar lede van ‘n bepaalde bevolkingsgroep wat hulle by uitstek aan misdaad en geweld skuldig maak. As daardie groep (in uitsonderlike gevalle) geïdentifiseer word, word die genetiese opsie heftig ontken en die omgewingsopsie omarm omdat die blaam daarmee op een en dieselfde ander bevolkingsgroep, naamlik die blankes, gepak kan word. Voorspelbaar is dit die agterdeur wat Esterhuyse gebruik. In die nawoord skryf hy: “Die idee dat mense ‘n gewelddadige brein het en geneties geprogrammeer is om selfs ander mense dood te maak, word skerp afgewys. Redes vir geweld moet eerder in omstandighede en vorme van sosialisering [bv apartheid] gesoek word” (311). Daarna probeer Esterhuyse om hierdie standpunt as bloot een van die moontlikhede af te maak (313). Myns insiens toon sy teks en myne duidelik waar die oorwig van sy simpatie lê. My geheelindruk is dat die tema van die boek deur Esterhuyse se linkse politieke beheptheid bederf word. Die outeur het ‘n byltjie te slyp en hy doen dit met oorgawe. Soos by sy vriend, Dawie de Villiers, is daar by Esterhuyse geen teken van verootmoediging oor hulle grootskaalse politieke droogmakery nie.

Hy skryf: “Die mens se morele verbeelding is vir evolusie vatbaar. Én vir revolusie!” (3). Maar dan verwys hy sagkens na “die georganiseerde verset teen apartheid” (4) pleks van die gewelddadige terrorisme wat dit was. “Die vraag wat soos ‘n refrein deur hierdie boek loop: Is gewelddadigheid deel van die natuur van die mens?” (13). Ja, dit is deel van die natuur van sommige mense. Maar as Esterhuyse daardie mense in sy eie tyd en onmiddellike omgewing nie kan of wil identifiseer nie, watter sin het dit om met hierdie lang historiese relaas vorendag te kom? Heel aan die begin verwys hy na “die wit setlaars … [in Amerika wat] die Indiane meedoënloos uitgeroei het” (2). “Voorbeelde van gewelddadige menslike gedrag teenoor ander mense, en die studies daaroor, vertel dat dit die mens self is wat getem moet word; makgemaak [moet word] … om aggresiewe neigings in bedwang te bring én te hou” (19). In Suid-Afrika is veral swartes (getals- en persentasiegewys) by geweld en misdaad betrokke, maar daardie groep word polities korrek nooit spesifiek daarvoor verwyt nie. In die Suid-Afrika van weleer was die regering myns insiens in die hande van mense en kiesers wat aan hoër morele en doeltreffendheidstandaarde as tans voldoen het, gevolglik is mense se aggressiewe neigings destyds beter aan bande gelê, danksy wet en orde.

Daar word dikwels beweer dat die nuwe Suid-Afrika een van die gewelddadigste lande in die wêreld is. Myns insiens is dit ongetwyfeld ‘n nalatenskap van die ANC se terrorisme, maar Esterhuyse verkies om Mandela, Mbeki en die res van die ANC as vreedsame elemente voor te stel. In linkse geledere word blankes graag as geweldenaars voorgestel omdat bv die twee wêreldoorloë in Europa uitgebreek het. Daar word dan beweer “dat die bestaan van nasiestate en nasionalismes by uitstek die eintlike struikelblok vir standhoudende Europese vrede is” (23). Maar Norbert Elias dink “dat georganiseerde en insidentele geweld in Europa oor die eeue heen betekenisvol gedaal het” (20 – The civilizing process, 2000). Steven Pinker kom tot ‘n soortgelyke gevolgtrekking (314 – The better angels of our nature: Why violence has declined, 2011). Maar in Suid-Afrika is die teenoorgestelde tendens sedert 1994 waarneembaar. Kan dit verkeerd wees om hierdie onverkwiklike situasie aan die nalatenskap van veral die ANC se terrorisme en die gedrag van sy ondersteuners toe te skryf? “Moenie jou vyand se infrastruktuur vernietig nie” (12). Die ANC het ook in hierdie opsig ‘n slegte voorbeeld gestel. Wanneer swartes deesdae steeds infrastruktuur vernietig, kom ANC-kornuite met die oproep: Moenie dit in ‘n demokrasie doen nie; dus, dit was iets wat met reg tydens die blanke bewind gedoen kon word.

Esterhuyse maak gewag van “gedienstige lakeie” (33). Karl Marx het gewillige politieke lakeie “bruikbare idiote” genoem (70-71). Gedagtig aan Esterhuyse se rol in ons “politieke oorgang” (eintlik ondergang), soos deur homself beskryf in sy boek, Eindstryd (2012): Is Esterhuyse nie ‘n klassieke voorbeeld van ‘n bruikbare idioot nie? Thabo Mbeki wou hom selfs as die visevoorsitter van die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) aanstel, sodat hy kon help om die blankes, veral die Afrikaners, te diskrediteer. “Tot vandag toe nog speel oorlopers ‘n belangrike rol in politieke prosesse” (201). Esterhuyse is ‘n prominente voorbeeld van ‘n verloopte Afrikaner. Dit verg ‘n erg verloopte Afrikaner om die 1994-ramp as ‘n suksesverhaal te takseer: “Suid-Afrika se vredesonderhandelinge en soeke na ‘n grondwetlike bedeling wat ‘n volwaardige nierassige en nieseksistiese bedeling moet inlui, kry buitengewone belangstelling en applous. Daar is immers min suksesverhale” (256).

Die nuwe Suid-Afrika is nie ‘n toonbeeld van sukses, nierassigheid en nieseksisme nie; eerder die teenoorgesteldes. Finansiële rommelstatus is verwerf en daar word blatant teen veral die blankes en by uitstek blanke mans gediskrimineer. Esterhuyse gee ‘n aanduiding van die soort rol wat hy as WVK-visevoorsitter sou gespeel het: “Daar is altyd dissidente en spelbrekers wat nie deur die meganisme van algemene amnestie na wapenstilstande en informele vredesgesprekke gelok kan word nie. Hulle gaan gewoonlik voort met hul gewelddadige optredes om pogings tot ‘n onderhandelde skikkingsooreenkoms te saboteer. Soos wat ook in Suid-Afrika gebeur het” (298). Toe Mandela en later Mbeki die staatshoof was, was Esterhuyse ongetwyfeld ‘n geesdriftige ANC-kornuit. Dit is die rol wat hy by die WVK sou uitgeleef het. En hy sou sy mes vir veral regse Afrikaners, eerder as swartes, in gehad het.

In die boek word “bloedige geweld” en “morsige affêres” een na die ander beskryf. Daar styg “‘n walging in jou gemoed op oor hoe meedoënloos gewelddadig en aggressief die mens weens godsdienstige fanatisme kan word” (93). Dit geld ook vir politieke fanatisme, waarvan die ANC ‘n sprekende voorbeeld is. “Die hedendaagse idee dat dit die moeite werd is om met die vyande te praat ten einde dodelike geweld te vermy of verdere bloedvergieting te bekamp, kry ‘n bepaalde gestalte” (94). Myns insiens laat “onderhandelinge” sedert 1994 ‘n bitter smaak in die mond van Afrikaners. ‘n Mens onderhandel nie met terroriste en kommuniste op wie se beloftes, bv dat hulle hulle geweldpleging staak, geen peil getrek kan word nie. Daar kan nie “in goeie trou gesprek” (123) met ‘n immorele instansie soos die ANC gevoer word nie. Dit was “‘n fyn beplande strik wat as ‘n onderhandelingsproses voorgehou is” (118). Sinvolle onderhandelings vereis ‘n sekere minimum morele gehalte by albei partye; iets wat by die ANC skromelik ontbreek. Die ANC is nie “die konstruk van die vyand” (bv 105, 253) nie. Die ANC is onteenseglik ‘n werklike en gevaarlike vyand van die blankes, veral die Afrikaners.

Hoe polities korrek het Esterhuyse nie geword nie. “Die dialektiek tussen oorlog en vrede is daarom vanaf eeue gelede al ook deur goed georganiseerde (manlike) geheime organisasies bepaal. Afrikaners se Afrikaner-Broederbond, waarvan selfs [!] ek vir ‘n tyd ‘n lid was [toe dit lonend was], het ‘n lang geskiedenis” (100). Dit kan met stelligheid beweer word: Gerrit Viljoen sou nie vir Esterhuyse as hoogleraar in filosofie aan die Randse Afrikaanse Universiteit aangestel het as hy nie ‘n Broederbond-lid was nie. Dieselfde geld vir sy daaropvolgende aanstelling aan die Universiteit Stellenbosch. Aan Afrikaanse universiteite moes jy die “regte” front voorhou vir aanstelling as dosent, veral in die filosofie. “Beloning vir slaafse lojaliteit is so oud soos die berge” (122). Deesdae sing Esterhuyse ‘n heeltemal ander deuntjie as voorheen, bv: “Calvinisme … het op apartheid-Suid-Afrika ‘n wesenlike invloed gehad, weliswaar as ‘n polities perverse [!] interpretasievorm” (104). “Die apartheidstelsel was rassisties. Afrikaners wat die stelsel ondersteun het, ook. Dit sit in hulle gene” (306). Daar kan geen twyfel oor Esterhuyse se nuut gevonde anti-Afrikaner gesindheid wees nie.

“Soldate toegelaat [is] om vir eie gewin te plunder, te roof, verwoesting te saai en te moor wanneer mense hulle verset het, soos wat … die geval in die Amerikaanse Burgeroorlog was toe die Suide geknak is” (106). Die ANC se MK-terroriste het dieselfde misdade as die soldate van die Amerikaanse Noorde gepleeg. Abraham Lincoln het die Amerikaanse Burgeroorlog ontlok, soos die Britte in die geval van die Anglo-Boereoorlog gedoen het. Lincoln het die slawe opgestook en tot die uiterste teen die Suidelike blankes misbruik. Die Suide is geplunder en sy infrastruktuur is in groot mate vernietig. Maar Lincoln word deur die swartes en linkse blankes as ‘n held voorgestel, soortgelyk aan die manier waarop Mandela deur die swartes en hulle meelopers, bv Esterhuyse, tot ‘n held verhef word; nie as gewelddenaar en terroris nie (dít word verswyg), maar as die teenoorgestelde: “Suid-Afrika se belangrikste vredesmakelaar” (248).

Soos die ANC is Esterhuyse (ongekwalifiseerd) anti-kolonialisties: “Europa was polities en maatskaplik-ekonomies op ‘n strukturele en fisiek-gewelddadige trajek, naamlik kolonialisme” (111). Kolonialisme was glo op “goedkoop dwangarbeid” gebaseer (113). “Die kerklik-godsdienstige regverdiging van Westers-geïnisieerde strukturele en fisieke geweld, gepaardgaande met eksploitasie van mense en hulpbronne, het in koloniale en slawetye vir ‘n laagtepunt in die mens se geskiedenis gesorg waarvan die nagevolge nou nog rimpeleffekte laat. Dit was ‘n vorm van georganiseerde geweld wat nie bloot polities geïnspireer was nie, maar ook ekonomies. In die Europese slawehandel tree politieke imperiale drome en ekonomiese eksploitasie in ‘n bondgenootskap met mekaar op. Strukturele en fisieke georganiseerde geweld word ingebou in ‘n sosio-ekonomiese en politieke stelsel, met swartmense wat tot verhandelbare kommoditeit gereduseer word” (113).

Esterhuyse veroorloof hom sterk taal wanneer hy teen blankes te velde trek. Hy sal die verval van en ellende in die polities onafhanklike Afrikastate ná kolonialisme nie “‘n laagtepunt in die mens se geskiedenis” noem nie. Wit slawe en swart slawehandelaars en -eienaars word nie as immoreel veroordeel nie. Die klem word eensydig op swart slawe en blanke slawe-eienaars geplaas, soos die gewoonte in polities linkse geledere is. Moslems en Arabiere word darem terloops genoem: “Vir bykans driehonderd jaar word mense Afrika se belangrikste uitvoerproduk wat die heersende ekonomiese en arbeidstelsel betref – mans, vroue en kinders. Hulle was kommoditeite in die hande van gewetenlose slawehandelaars, sowel Christene as Moslems. Dit was ‘n besigheid waarin die Arabiere, Spanjaarde, Franse, Hollanders en Engelse uitgeblink het, al het die Britte self nie slawe in Engeland aangehou nie” (115). Die swartes wat mede-swartes as slawe aan die Arabiere en blankes verkoop het, bly onvermeld. Pleks daarvan skryf Esterhuyse van “slawerny [wat] op ‘n groot skaal Europees en Christelik geword het” (118). Dit is die wanvoorstelling van slawerny, deur linkses soos Esterhuyse, wat hierdie eensydige beeld geskep het.

Hierdie linkse elemente het bv in Amerika geen waardering vir Christopher Columbus nie. Esterhuyse skaar hom by hulle eenogige siening: Columbus “moes nie net ‘n nuwe handelsroete na die Ooste ontdek nie, maar ook nuwe bronne vir plundering, verowering en toeëiening vir die Spaanse heersende elite en sy gewillige meelopers van aristokrate en polities gesanksioneerde handelaars verkry” (114). Nog ‘n anti-blanke eensydigheid word deur Esterhuyse gepleeg wanneer hy na die Berberse Oorlog (“Barbary War”) van 1803 verwys sonder om melding van die verskriklike lot van blanke slawe in die hande van daardie Arabiere en Berbers te maak. Pleks daarvan plooi hy die gebeure met ‘n anti-Amerikaanse uitspraak: dat daardie oorlog “die begin [was] van wat as die Amerikaanse obsessie met wêreldpolisiëring beskou kan word” (166). Dit lyk asof Esterhuyse in sy lesings oorbewus van die anti-Westerse ingesteldheid van die Mbeki-instituut was en hy sy mantel ooreenkomstig gedraai het. Hy skryf van “politieke ego-massering” (171). Is dit nie ‘n raak karakterisering van sy veelgenoemde vriendskap met Mbeki nie?

Later skryf Esterhuyse op sy eensydige manier verder oor slawerny omdat dit hom in staat stel om sy aansien by swartes, spesifiek die ANC, te konsolideer. Mandela het die slegte gewoonte gehad om te beweer dat die blankes in Suid-Afrika nie na verdienste suksesvol en welvarend was nie, maar omdat hulle op die rûe van swartes gery het. Esterhuyse pas dit op die blanke Amerikaanse Suiderlinge toe: Hulle het glo “‘n luukse en selfs uitspattige lewenstyl op die rûe van slawe geniet” (213). “Slawehandel, en nie bloot die besetting van grondgebied nie, was ‘n intrinsieke element van die koloniale projek. Die koloniale maatskaplik-ekonomiese instelling van slawerny is met geweld gebore en met geweld bevorder. Mense, hetsy verower of as potensiële slawe gevange geneem, is met geweld weggevoer; uit stam- of familieverbande geruk en as kommoditeite na ander lande verskeep om daar verkoop te word. Die VSA is vir ‘n lang tyd in sy vormingsjare gebou met die sweet en bloed van slawe se dwangarbeid en is daarvolgens nie ten volle in vryheid gebore soos graag beweer word nie. Die VSA was ook ‘n uitbreidingsproduk van Europese en Engelse imperialisme én ‘n sisteem van goedkoop arbeid” (130).

Esterhuyse borduur voort: “As dit so is dat die reuk van goud en geld die mens van vroeg af gedryf en gemotiveer het, was kolonialisme, die verowering van die Nuwe Wêreld en veral slawehandel die mees strukturele én fisiek gewelddadige inkarnasie van dié reuk” (131). Amerikaanse slawehandel het “‘n dominante etniese faset gehad: wit eienaars teenoor swart slawearbeiders; ‘n wit meestersklas teenoor ‘n swart (gedwonge) werkersklas … Slawe het géén regte gehad nie. Slegs base” (132). Kortom, blankes is hel uit sleg. Ten spyte van al die swart “sweet en bloed” in die VSA se fondament, was en is dit egter blankes wat die land die suksesvolste en vooruitstrewendste ooit gemaak het.

Esterhuyse se “morele verbeelding” gaan selfs verder op loop. Die Transatlantiese slawehandel is dié slawerny waaroor linkses by voorkeur te kere gaan. “Jy hoef nie eens hieroor te lees nie, maar net jou verbeelding te gebruik om ‘n voorstelling te kan maak van hoe wreed, onmenslik en moreel boosaardig dit was vanuit ‘n een-en-twintigste-eeuse perspektief bedink” (134). Die swartes is “soos slagvee op die slawemark opgeveil” (135). “Slawehandel en die slawemark was in die Westerse koloniale tye dié voortreflikste voorbeeld van strukturele en fisieke gewelddadigheid, met die Nuwe Wêreld as die wenner en Afrika as die grootste verloorder” (136). Is Amerika en ander Westerse lande nie dalk uit eie reg wenners en Afrikalande insgelyks uit eie reg, bv weens onvermoë, verloorders nie?

Is die bodemlose Westerse hulpverlening aan mislukte swart state skuldige boetedoening of is dit blaamlose/pryssenswaardige goedertierenheid? Soos in swart geledere wil Esterhuyse hê dat die blankes (en net die blankes) steeds vir slawerny moet boet: “Dit moet beklemtoon word dat Afrika dié kontinent was waar die kanker van kolonialisme en slawerny wonde, letsels en herinneringe nagelaat het wat selfs tot in ons teenswoordige eeu nog nie uitgewis óf genees is nie” (142). Esterhuyse sou dieselfde van apartheid in Suid-Afrika beweer en die blankes tot verskoning vra en boetedoening probeer verplig. Maar sou hy ooit die “morele verbeelding” hê om teen die “wonde, letsels en herinneringe” van die “kanker” van ANC-terrorisme te velde te trek? Nooit gesien nie.

Let op hoe wyd gooi Esterhuyse die wanprestasies en skuld van die slegte blankes: “Die era van Westerse kolonialisme en Christelike beskawingsinisiatiewe as vorm van fisieke en strukturele geweld, en Westerse imperialistiese drome, is ongetwyfeld een van die mees destruktiewe en mensonterende periodes van die sogenaamde moderne tyd en Christelike Westerse beskawing” (147). En Afrika sedert “bevryding” van die koloniale (dus blanke) “juk”? Is hierdie lande toonbeelde van nie-gewelddadigheid en beskawing? Nee, maar Esterhuyse en diesulkes het ‘n agterdeur: Die slegte blankes word hiervoor die skuld gegee.

Die sin wat hier volg het op Brittanje betrekking, terwyl die een daarna lekker loslit sommer alle kolonies betrek: Die Britse kolonies was “niks meer as plunderplatforms nie. Daarom [!] was alle [!] koloniale state net [!] ‘n nuwe vorm van ‘n imperiale roofstaat met krygshere” (159). Oor kolonialisme: “Kulturele erfenisvernietiging en die verslawing van die inheemse bevolking het hand aan hand gegaan” (121). Die ANC beweer dat dit tot 1994 die geval in Suid-Afrika was. In werklikheid was die NP-regering daarop ingestel dat die swartes hulle kultuur, insluitende hulle moedertaal, moet koester en behou. Aan swartes is selfbestuur in hulle eie tuislande toegestaan; iets wat sedert 1994 nie aan die blankes gegun word nie. Die ANC misken in groot mate tradisionele swart kultuur en taal. In die geval van die Afrikaners word groot vyandigheid teenoor hulle kultuur en taal deur die ANC-regime geopenbaar.

“Beslaglegging op leë en onontginde gebiede was [is] ‘n wet van die natuur,” volgens Alberico Gentili (1552-1608) (124-125). Toe die Voortrekkers in die 1830’s die binneland ingetrek het, was dit grootliks ontvolk weens stamoorloë onder die swartes. Daar kan dus kwalik beweer word dat die blankes (al hulle) grond van die swartes gesteel het. In die Kaapkolonie was daar van 1652 af nomadiese/rondtrekkende Khoi-San, maar hulle het nie die grond ontwikkel nie; eerder roofbou toegepas. In Australië was daar al hofuitsprake waarvolgens ontwikkeling noodsaaklik is vir aanspraak op eiendomsreg op grond. Die ANC se voorgenome grondonteiening sonder vergoeding voldoen nie aan hierdie regsbeginsels nie. Later vestig Esterhuyse (onbedoeld) die aandag op sinvolle standpunte. “Vir die Eurosentriese denkers soos [John] Locke [1632-1704] was die onbenutte grond en woude van Amerika geleenthede vir arm Europeërs en hul aspirasies. Besetting en ontginning was ‘n reg en ‘n plig. Thomas Hobbes (1588-1679) het ook so gedink. En ook die deken van St Paul’s Cathedral in Londen. In 1622 het hy met ‘n heilige [!] oortuiging tydens ‘n diens verklaar dat die ‘law of nature’ (en van nasies – dit wil sê: die Weste) vereis dat grond wat nie goed benut word nie, die regmatige eiendom kan word van dié wat dit wel kan benut” (149-150).

Met verwysing na onder meer Vladimir Lenin (1870-1924), skryf Esterhuyse oor “bepaalde fasette van georganiseerde geweld” waarmee hy klaarblyklik saamstem. Eerstens: “Die verdediging van ‘n revolusionêre vryheidstryd as ‘n geregverdigde stryd, en die klassifisering van opponente, soos kapitaliste, koloniste en rassiste, as die eintlike gewelddenaars, oftewel aanstigters, en die opstandelinge as slagoffers van die stelsel [bv apartheid] en sy maghebbers [bv die NP]” (152). “Westerse kapitalisme stoel op kolonialisme” (175). Tweedens: “Die droom van radikale transformasie van die gevestigde orde en die skep van ‘n regverdiger orde op die basis van menseregte, asook die vereistes vir maatskaplike geregtigheid en ander vryheidsregte soos dit deur die vryheidsvegters verstaan word” (152). Albei is eintlik ‘n samevatting van die terroristiese ANC se stellinginname.

Die ANC se menseregte sluit minderheidsregte uit en sy idee van geregtigheid sluit blatante rassediskriminasie (sy groot beswaar teen die blanke bewind) in. Die Afrikaners se kulturele regte, insluitende taalregte, word meedoënloos deur die ANC-regime misken en onderdruk, maar Esterhuyse opper geen beswaar hierteen nie. Die ANC se kampanje teen blanke boere, bv grondonteiening sonder vergoeding, volg ook die voorbeeld na wat Lenin gestel het deur “die grondeienaars en kommersiële boere aan te val. Niks help populistiese politiek méér doelteffend nie. Dit regverdig ook geweld [plaasmoorde?] teen grondbaronne” (177).

Na sy oorsig van vyf duisend jaar se geskiedenis kom Esterhuyse, sekerlik onder meer gedagtig aan die ANC-distopie, tot die volgende gevolgtrekking: “Die morele verbeelding van die mens kán nie altyd ‘n paradys skep nie, maar wel konsensus oor ‘n gedeelde humaniteit en ‘n meer inklusief-menslike lewenswyse bevorder” (327). Hierdie slotsom is meer sop as substansie. Op die liggaamlike vlak (asemhaal, eet, drink, slaap) is daar gedeelde menslikheid. Kultureel is ‘n inklusiewe lewenswyse egter ‘n onhaalbare ideaal wat nie aan dese en gene opgedring moet word nie. Erken liewer kulturele verskille en berus daarin.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.