Karel Combrinck: Die reg van volke

Deel op

Daar is dikwels bespiegeling oor die vraag of die internasionale reg of, soos dit in Afrikaans heet, die volkereg, ‘n toevlug kan bied vir ons as Afrikaners. Moontlik mag dit dus van nut wees om vlugtig ‘n paar gedagtes oor hierdie onderwerp te wissel.

Ons as Afrikaners het nie ‘n alte gelukkige ervaring van die volkereg nie. Eintlik gaan dit nie om die volkereg as sodanig nie, maar om die haatdraende houding jeens Suid-Afrika voor 1994 van die hooforgane van die moderne volkereg, naamlik die Veiligheidsraad en veral die Algemene Vergadering van die VVO, deesdae meer as die “VN” bekend. Oor die jare was die hantering van Suid-Afrikaanse aangeleenthede ‘n politieke gekonkel van die VN eerder as toepassing van die volkereg en daarmee het die organisasie ‘n betreurenswaardige bydrae gelewer, nie net ten opsigte van Suid-Afrika nie, maar ook wat betref die volkereg self. Enige regstelsel kan net gesond funksioneer as dit nougeset volgens regsbeginsels geskied. Sodra daar vir politieke oorwegings en eie belang met die beginsels gepeuter word, is die stelsel ook daarmee heen. Tog bestaan daar ‘n algemene behoefte onder volke en lande aan iets soos ‘n internasionale regsorde en die beginsels waarvolgens die Volkereg fungeer, wanneer dit korrek toegepas word, is wel regsbeginsels.

Die grondslae van die volkereg is gelê deur die groot Nederlandse juris van die sewentiende eeu, Hugo de Groot, soos uiteengesit in sy twee monumentale werke, De Jure Belli ac Pacis (Aangaande die reg van oorlog en vrede) en Mare Liberum (Die reg van die seevaart).

Die hoofdoel van die volkereg, (in teorie in elk geval), is om wêreldvrede te bevorder, geskille tussen lande te besleg, die swakkeres teen die magtiges te beskerm, asook die internasionale handelsverkeer te vergemaklik. Soos met alle menslike ondernemings is die volkereg ook onvolmaak en die toepassing daarvan, veral deur die VN, soms heeltemal verwronge. Daarby is die volkereg sg. “swak  reg” in die sin dat daar nie ‘n opperste gesag is wat dit kan afdwing nie. Dikwels is dit die magtige state wat hulle wil deurvoer, of ‘n gesamentlike poging van ‘n groep lande met ‘n gemeenskaplike ideologiese oogmerk.

Die volkereg behels dus betrekkinge tussen soewereine state en die hoofbron daarvan is internasionale verdrae. Die VVO is trouens self deur ‘n verdrag in die lewe geroep, nl. die “United Nations Charter”, oftewel VN-handves. Verdrae speel in die volkereg die rol van kontrakte in die privaatreg en beide berus op konsensus. Net soos met kontrakte het die partye tot verdrae meesal die bedoeling om deur hulle ooreenkoms gebonde te wees en so verloop verdrae dan ook meesal redelik ongestoord. Verdragspartye, soos ook kontraktuele partye, kom ooreen op ‘n bepaalde gedragspatroon en hou daarby. Dis slegs wanneer sake skeefloop dat hofgedinge ter sprake kom. Die verskil is weer dat kontrakte in die nasionale reg afdwingbaar is, terwyl verdrae moeilik afgedwing kan word. Verdragspartye kan ooreenkom om hulle in probleemsituasies te wend tot bv. onafhanklike arbitrasie of strafmaatreëls, boetes ens., soos in die verdrag bepaal, maar in die finale instansie kan ‘n staat in beginsel nie gedwing word om sy verdragsverpligtinge na te kom nie.

Hoewel verdrae nie afgedwing kan word nie, is die wêreldmening gekant teen die verbreking van verdrae. ‘n Eensydige verbreking van ‘n verdrag kan ook ‘n land se internasionale aansien en geloofwaardigheid ernstig skaad. ‘n Beroemde geval van verdragbreuk was toe Hitler in 1942 Rusland binnegeval het ten spyte van ‘n nie-aanvalsverdrag wat op 23 Augustus 1939 in die Kremlin deur verteenwoordigers van die twee lande onderteken is. Hiervoor het Duitsland ‘n verskrikike prys betaal naamlik dat hy die oorlog verloor het.

Nog ‘n bron van die volkereg is die opinies en beslissings van die hoofregsorgaan van die VVO nl. die Wêreldhof, met setel in Den Haag. Die primêre funksie van die Wêreldhof is om internasionale dispute tussen soeweine state te skik en om adviserende menings te verskaf oor regsvrae wat deur die VN aan hom voorgelê word. Sommige lesers onthou miskien nog die groot gedinge van die vyftiger- en sestigerjare waarin die Wêreldhof versoek is om ‘n opinie rakende Suid-Afrika se administrasie van Suidwes-Afrka te verstrek. ‘n Sleutelelement, ooreenkomstig die beginsels van die volkereg, in die Suidwesgeskil was dat dit van ‘n internasionale aard moes wees, d.w.s. dat minstens twee soewereine state in die geding betrokke moes wees, in hierdie geval dus Suid-Afrika en Suidwes-Afrika. Suidwes-Afrika was egter geen soewereine staat nie, maar was volkeregtelik ingevolge ‘n mandaat van die Volkerebond onder Suid-Afrikaanse beheer. Oor hierdie punt is eindeloos geredekawel. Daarbenewens is die geding nie deur enigeen van die hoofpartye aanhangig gemaak nie, maar deur Ethiopië en Liberië.

Die beslissing van die hof was tereg dat die partye wat die geding aanhangig gemaak het, nie ‘n direkte belang by die aangeleentheid gehad het nie en het hulle aansoek verwerp. Die Hof het dus die vraag of Suid-Afrika se administrasie van Suidwes regmatig was, gesystap en so die deur oopgelaat vir die VN om voort te gaan met sy program van strafmaatreëls en sanksies teen Suid-Afrika. Hier was dus ‘n duidelike geval van gebrekkige regstoepassng en die reg moes uiteindelik swig voor politiekery, die Achilleshiel van die internasionale reg.

Die inmenging van die VVO in die huishoudelike sake van ‘n soewereine staat, Suid-Afrika, was sekerlik anti-volkeregtelik. Maar daar is ander voorbeelde : Die inval in Irak deur die VSA was een van die blatantste gevalle en insgelyks die moord op Moeammar Ghaddafi. Ook die verklaring deur Amerika van Israeliese “soewereiniteit”  oor die Golanhoogland, wat deel is van die soewereine staat, Sirië en die eensydige uittrede van die VSA uit die multilaterale internasionale kernsperverdrag met Iran. Die VSA se onttrekking aan die internasionale verdrag oor klimaatsverandering wat in 2016 in Parys onderteken is deur so te sê alle lande van die wêreld onde rmeer die VSA, was tegnies wel regmatig (‘n klousule in die verdrag het hiervoor voorsiening gemaak), maar die onttrekking word wêreldwyd as strydig met die gees van die verdrag ervaar.

Om verskeie redes is dit hoogs te betwyfel of die jongste aanval deur die VSA teen Iranese militêre teikens in Irak ooreenkomstig die volkereg geskied het. In reaksie daarop het Iran onmiddellik aangekondig dat hy sy kernwapenprogram in hoogste rat hervat en het die Irakese regering Amerika versoek om sy militêre personeel uit Irak te onttrek, iets wat die VSA weier om te doen. Enkele dae ná die aanval op hulle generaal skiet die Iranese weermag ‘n burgerlike vliegtuig neer met 176 passasiers aan boord. Dis hoe dit gaan wanneer die reg van die oerwoud in internasionale betrekkinge oorneem.

‘n Betreklik onlangse verwikkeling in die Volkereg is die erkenning deur die VN van volksmoord (genocide) as ‘n misdaad . Hierdie vertakking het sy oorsprong in die vervolging van Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Volksmoord is streng gesproke nie ‘n volkeregtelike aangeleentheid nie, want konflik tussen soewereine state is selde ter sprake. Nietemin, word volksmoord soos bv die uitroeiïng van Armeniërs deur die Turke, of die massamoord teen die Kambodjaanse bevolking deur die monsteragtige Pol Pot of die volksmoord teen die Toetsi’s deur die Hoetoes in Rwanda of die massamoorde deur die Sowjetunie en Mao Tsetoeng se Rooi Sjina algemeen deur die beskaafde wêreld veroordeel. Of die VN wel bereid of in staat is om iets omtrent sulke gevalle te doen, is ‘n ander vraag, maar ervaring tot dusver dui eerder op die teendeel.

In die jongste tyd was daar ook vervolgings deur die Wêreldhof teen bewindhebbers, staatshoofde ens. op aanklagte van “misdade teen die mensdom” en “oorlogsmisdade” in hul eie lande. Die geval van die voormalige Serwiese president, Slobodan Milosevic in 2006 is ‘n voorbeeld hiervan.

Is dergelike vervolgings egter van volkeregtelike aard ? Waarskynlik nie.

Van watter betekenis is dit alles vir ons as Afrikaners? Soos beklemtoon, is die volkereg in beginsel gemoeid met betrekkinge, vriendelik of vyandig, tussen soewereine state. Die volkereg bemoei hom in beginsel nie met die lotgevalle van indiwidue nie, behalwe waar dit gaan om politiekery en die enkele situasies wat hier bo geskets is. Weliswaar is daar in die jongste tye tekens van volkeregtelike erkenning van indiwidue, “vryheidsbewegings” ens., maar of die VN enige beskerming van hierdie aard aan blanke Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners sal verleen, kan elkeen maar vir homself uitmaak. Dr Roodt maak in sy artikel oor die Finne melding van talle klein volke wat oor eeue vir hulle vryheid en onafhanklikheid moes veg. Die sleutelwoord is veg, m.a.w. stry. En verder hulle hoop vestig op die gelukskoot. ‘n Interessante geval van ‘n gelukskoot is dié van Skotland wat die Brexit-verwikkeling gaan aangryp om onafhanklik van die  “Verenigde” Koninkryk te raak.

Onder dié wat moes stry vir hulle vryheid was ons miskien die uitsondering wat sy vryheid sonder stamp of stoot prysgegee het. Die groot Franse dramaturg van die sewentiende eeu, Corneille, praat van die skande van te sterwe sonder om te veg. Maar hierdie is ‘n onaangename waarheid waarvan ons seker maar moet probeer vergeet.

Ten spyte van alles kry ‘n mens steeds die gevoel dat dit in die internasionale verkeer ten slotte tog maar die magtiges is wie se wil deurslaggewend is. Gedurende al die jare waarin die Sowjetunie tientalle kleiner volke oorheers, onderdruk en uitgemergel het, het die Verenigde Nasies weinig of niks uitgevoer om hulle lot te verlig nie. Ook in hierdie geval was dit maar net weer ‘n gelukskoot wat hierdie volke van die kommunistiese juk bevry het in die vorm van die byna onverwagse ineenstorting van die Sowjetgedrog.

Ten einde ‘n subjek van die volkereg te kan wees, m.a.w die houer van volkeregtelike regte en verpligtinge, sal ons op die een of ander manier aanspraak moet kan maak op ‘n vorm van soewereiniteit, dit wil sê ‘n gemeenskap van mense met ‘n eie identiteit wat homself regeer of minstens die potensiaal moet hê om dit te kan doen, op ‘n bepaalde grondgebied en met die vermoë om internasionale betrekkinge te kan aanknoop en onderhou. Is dit op die oomblik die geval? Dit sal ons volgehoue strewe moet wees en ook sal ons hierdie oogmerk daadwerklik moet bereik voordat daar enigsins ‘n kans sal wees op volkeregtelike erkenning. Vir ons voortbestaan as ‘n volk is hierdie die hoogste prioriteit.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.