Leon Lemmer: Die nalatenskap van CJ Langenhoven soos vergestalt deur Willemien Brümmer

Deel op

Sedert 1994 het Suid-Afrika meer openbare vakansiedae as ooit tevore; ook meer as die meeste (beskaafde) lande. Ons politieke “bevryding” het gesorg dat ons op meer dae van werk bevry is. Die meeste mense gebruik nie hulle vrye tyd konstruktief nie. Leeglê-naweke is klaarblyklik nie erg genoeg nie. In die goeie ou dae was ‘n naweek anderhalf dag lank; nie twee volle dae nie. Die werksure was ook langer en die jaarlikse verlof korter. Geen wonder dat die produktiwiteit vroeër hoër en die misdaadsyfer laer was nie. Talle mense sit saans, naweke en openbare vakansiedae voor die televisie en by die radio omdat hulle hulle nie self konstruktief kan besig hou nie. Hulle is statiese sponse wat die polities byderwetse retoriek van veral die SABC sonder gesonde weerstand absorbeer. Die enkelinge wat koerant lees, word aan soortgelyke mode-invloede blootgestel, bv in Afrikaans danksy die monopolistiese Naspers/Media24.

Reeds vóór 1994 het die UDF, SAKP en vakbonde daarop aangedring dat 1 Mei as Werkersdag gevier moet word; dus deur nie te werk nie. Hiernaas het die ANC-regime ander polities geïnspireerde openbare vakansiedae ingestel: Menseregtedag, om die dood en verwoesting van Sharpeville te vier; Vryheidsdag, om die afloop van terrorisme te gedenk; Jeugdag, om die verwoesting aangerig in Soweto in 1976 te verheerlik; en Vrouedag, om die vroue te huldig wat ‘n optog gehou het omdat hulle hardegat oor die dra van passe was. In nie ‘n enkele geval word iets opbouends in herinnering geroep nie. Tiperend van die ANC word misdaad en wanprestasies gevier. Geen wonder dat Suid-Afrika sedert 1994 deur agteruitgang en verval gekenmerk word nie.

Is dit moontlik om nog iets uit te dink wat van Suid-Afrika ‘n volslae verloorland kan maak? Ja, dit is moontlik. Sedert 1 Januarie 2020 is albei ouers by die geboorte of aanneming van ‘n kind op 10 dae betaalde verlof geregtig. Die ouers hoef nie getroud te wees nie. Willemien Brümmer het hieroor in ‘n artikel ‘n loflied aangehef (Netwerk24, 7.01.2020). Sy toon geen begrip vir hoe moeilik dit vir werkgewers is om vas te stel of so ‘n verlofaansoek geldig is nie. Sy gee ook nie ‘n flenter om vir die formele werkure wat verlore gaan nie. Sy vertel dat haar man twee weke verlof geneem het om haar met die geboorte van hulle seun by te staan. Vier maande ná die geboorte is sy terug na haar werk as joernalis. Doen ‘n moeder wat so gou gaan werk nie veel meer skade aan die kind as die potensiële voordeel van die 10 dae vaderskapverlof nie? Volgens haar bevorder die nuwe wet glo gender-gelykheid. Pleks van in talle opsigte na gelykheid en eendersheid te soek, ook waar so iets nie te vinde is nie, sou dit dalk beter wees om eerder daadwerklike geslagsverskille en -rolle te erken.

Willemien roem graag daarop dat sy polities so links moontlik is. Sy is ook ‘n militante feminis. Die manier waarop sy die huwelik en ouerskap benader, kan bevraagteken word. Die tragedie is dat sy die agterkleinkind van CJ Langenhoven is; maw Sagmoedige Neelsie is haar oupagrootjie. Hier onder toon ek aan dat haar lewe ingrypend deur hierdie feit beïnvloed word, maar dat sy terselfdertyd die kern van Langenhoven se ingesteldheid, sy Afrikanerskap, verloën.

Dit herinner aan Wim de Villiers se Universiteit Stellenbosch (US), deesdae eerder Stellenbosch University, selfs Stellenbosch Diversity. Die US het doelbewus versuim om sy stigtingskenker, Jan Marais (1850-1915), ‘n eeu ná sy dood te huldig. Marais se stigtingvoorwaarde, dat Hollands/Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie, word opsetlik geïgnoreer. Tydens die US-eeufees in 2018 is Marais se naam skaars genoem. As Marais swart was, sou ‘n mens op die kampus om elke hoek en draai met sy naam gekonfronteer gewees het. Marais se Afrikanerskap bring mee dat hy deur die getransformeerde US as onhuldigingsbaar beskou word.

Dieselfde geld vir Langenhoven, nog ‘n uitnemende Afrikaner. Die US het in 1931 ‘n eredoktorsgraad aan Langenhoven toegeken. Hy het letterlik sy skedel aan sy alma mater bemaak. Die US kon sy skedel drie dekades na sy dood opeis, maar het dit nie gedoen nie. Dit is uitsonderlik dat ‘n Afrikaner soos Langenhoven se naam darem nog nie heeltemal van die US-kampus verdwyn het nie; heel moontlik omdat dit slegs in ‘n gekamoefleerde vorm geduld word, naamlik as Die Neelsie, die naam van die Studentesentrum. Die skrif is egter aan die muur. Die Neelsie se webtuistes is uitsluitlik in Engels. Die Neelsie loop myns insiens die gevaar om as bv The Nelson hernoem te word.

Die US-senaat en -raad het die verengelsing van die US met min daadwerklike teenstand goedgekeur en die verlenging van Wim de Villiers se ampstermyn selfs eenparig. Dit is moontlik dat Die Neelsie se naam met soortgelyke algemene instemming verander sal word. Google “universiteit stellenbosch”. Al die leidrade na die US is in Engels. Vanaf die Engelse webtuiste kan ‘n mens darem nog na die Afrikaanse webtuiste gaan. Maar dit gebeur dikwels dat die Afrikaanse teks van ‘n item nog nie beskikbaar is nie. Die US is deesdae immers primêr Engels. Die uiterste pogings word ook deurgaans op die webtuiste aangewend om die US so swart moontlik voor te stel. Die US is in feitlik geen opsig meer ‘n Afrikaanse universiteit nie en sekerlik nie meer ‘n Afrikaner-universiteit nie. Dit wil selfs nie eintlik as ‘n Suid-Afrikaanse universiteit bekend staan nie. Wat deesdae bowenal begeer word, is dat die US as ‘n Afrika-universiteit bekend moet wees. Dit impliseer verswarting en gevolglik verengelsing. Daar word deur die US skynbaar geen flenter omgegee nie vir die hemelskreiende radikale transformasie wat hierdeur nie net aan die universiteit nie maar ook aan die dorp Stellenbosch opgedring word.

CJ Langenhoven (1873-1932) het sy studentetyd aan die Victoria College (die latere US) as “‘n jarelange stuk woestynlewe” beskryf, onder meer omdat hy toe nog nie “‘n duidelike nasionaliteitsgevoel” gehad het nie (JC Kannemeyer, Die dienswillige dienaar: ‘n Langenhoven-fotoboek (Kaapstad: Tafelberg, 1995, teks by foto 19). In 1895 behaal hy die graad BA op Stellenbosch. Langenhoven is ‘n “onbestendige jongman” genoem (foto 23). Uit Kannemeyer se Langenhoven-biografie (1995 – kyk hier onder) blyk dat onbestendigheid, bv in die sin van dranksug en depressie (wat mekaar wedersyds beïnvloed), nie net die res van Langenhoven se lewe gekenmerk het nie, maar ook dié van sy nageslag. Hy het net een kind, Engela, gehad, wat eintlik ‘n volslae mislukking (bv alkoholis) was en ook ‘n groot teleurstelling vir hom, wat haar eens sy “Engeltjie” genoem het (foto 27).

Reeds in 1910 het Langenhoven “Engels as die uiteindelike taal van Suid-Afrika” voorsien (foto 35). Omstreeks April of Mei 1910 het daar egter ‘n kentering in sy houding teenoor Afrikaans gekom. “Daarmee vind hy sy eintlike missie in die lewe, naamlik om te veg vir die regte van Afrikaans en om literatuur te skep wat die aansien van die taal sou verhoog” (foto 35). Voorheen was hy eerder anti-Hollands as anti-Afrikaans. Tydens die Rebellie (1914) het hy sy politieke lojaliteit van Louis Botha en Jan Smuts na JBM Hertzog en DF Malan verskuif. As provinsiale raadslid slaag Langenhoven in 1914 daarin om ‘n mosie aanvaar te kry dat skoolonderwys deur die medium van die moedertaal, bv Afrikaans, tot en met die vierde standerd toelaatbaar is (foto 40). In 1918 skryf hy die woorde van “Die Stem” (foto 42). In 1938 word dit een van die twee volksliedere van Suid-Afrika. In 1957 word “Die Stem” (en die Engelse vertaling) die enigste Suid-Afrikaanse volkslied. In 1920 word Langehoven ‘n Volksraadlid en in 1921 ‘n senator. “Op 25 Mei 1925 word Langenhoven se ywer vir die taalstryd beloon met die amptelike erkenning van Afrikaans as amptelike taal naas Engels” (foto 50).

Cornelis Jacob Zetuin Langenhoven (1842-1923) was CJ Langenhoven se vader. Gedagtig aan die ramp wat Suid-Afrika in 1994 getref het en die agteruitgang van bv Afrikaans sedertdien, ook aan die US, het die grafskrif van CJZ Langenhoven besondere relevansie verkry: “Vader as jy maar weer / jou oë kan open / watter veranderinge / sal jy nie sien maar / jy is baie ver beter / waar jy vandag rus / in stilte” (foto 7).

Engela (1901-1975) het in 1926 met ‘n tandarts, Niko Brümmer (1899-1967), getrou. Guillaume Brümmer (gebore in 1934) is hulle enigste kind en dus die enigste kleinkind van CJ Langenhoven. Guillaume het in 1963 met Laetitia Conradie (1936-2019) getrou. Hy het daarna ‘n dosent in wiskunde aan die Universiteit Kaapstad geword (1965-2000). Soos Engela wou Guillaume nie deel van Sarah Goldblatt (1889-1975) se propagandistiese “Langenhoven-industrie” wees nie. Guillaume “het te veel onder die skaduwee van die Langenhoven-verbintenis geloop, en dit was hoog tyd dat hy van dié dinge wegkom en sy eie lewe lei” (Kannemeyer, Langenhoven-biografie, besonderhede hier onder, p 43). Ná Goldblatt se dood het Guillaume egter teen wil en dank die administrateur van CJ Langenhoven se letterkundige nalatenskap geword. Aan die Engelse Universiteit Kaapstad wou hy hom eerder van Langenhoven distansieer. Hy kon dit doen omdat hy as wiskundige akademies uitnemend gepresteer het. Hy en Laetitia het vier kinders, waarvan Willemien (gebore in 1974) die jongste is. Sy het in 2014 met Pierre Barkhuizen getrou. Hulle seun se naam is Matthias. Omdat sy in mindere mate as haar pa presteer, is dit vir haar voordelig om haar Langenhoven-verbintenis tot eie voordeel te ontgin, al neem dit dikwels die vorm van ‘n anti-Langenhoven ingesteldheid aan.

Willemien het honneursgrade in drama en joernalistiek aan die US verwerf en was in 2011 ‘n genoot in die US se departement joernalistiek. ‘n Afrikaner, Piet Cillié, het hierdie departement in 1978 begin, maar sedertdien het dit onder linkse departementshoofde geressorteer: Johannes Grosskopf (1984-1993, wie se seun Hein as ANC-lid in 1987 die bom by Sterland in Johannesburg geplant het waarin 26 mense beseer is), George Claassen (1994-2000) en Lizette Rabe (sedert 2001). In 2006 het Willemien ‘n magistergraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit Kaapstad voltooi. Meer hieroor volg hier onder.

Oor JC Kannemeyer se biografie, Langenhoven, ‘n lewe (Kaapstad: Tafelberg, 1995, 728p), het ek by ‘n vorige geleentheid op Praag (16.05.2015) geskryf. Langenhoven het Afrikaans “my pêrel van grote waarde” genoem. Hy het ingesien dat “taalregte ‘n essensiële voorwaarde vir die volwaardige bestaan van sy mense in hierdie land is.” Langenhoven het in 1914 geskryf: ” Afrikaans … is die enigste band wat vir ons als ‘n aparte nasie aanmekaar bind.” Ook: Afrikaans is “die één band wat ons as nasie aanmekaar heg; die uitgedrukte siel van ons volk.” As verloopte Afrikaner sal Willemien nie saamstem met Langenhoven se hegte band tussen die Afrikanervolk en Afrikaans nie.

Ek het al verskeie kere op Praag na Willemien verwys:

19.08.2017: Haar bespreking van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS, 11de uitgawe, 2017) op Netwerk24, 4.08.2017). Sy insinueer dat Standaardafrikaans, soos Afrikaners, (minstens) ‘n eeu lank benepe was. Dit vind aansluiting by haar ongunstige uitbeelding van Afrikaners in haar drama, Braai (2014). Kaaps is glo een van Afrikaans se “kleurryke en verleidelike variëteite.” Een van die besware wat hierdie feminis opper, is: “Die AWS was baie jare lank die domein van wit mans.” Ek het destyds geskryf: Brümmer “wek die indruk dat sy (ongekwalifiseerd) ten gunste van swart oorheersing en die (slaafse) navolging van internasionale neigings is.” Daarenteen was Langenhoven se standpunt: “Ter wille van die naturel self, sowel as ter wille van die blanke, moet daar na ‘n oplossing gesoek word waardeur die oorheersing van die witman verseker word vir die toekoms” (Kannemeyer, Langenhoven-biografie, p 416). Willemien verwys ook (smalend) na die “taalbulle” en “heilige koeie wat bly bulk.”

7.04.2018: Ek verwys hier slegs terloops na Willemien se verbintenis met die US se departement joernalistiek. Die boek van Gabriël Botma wat bespreek word, gee egter ‘n uitstekende beeld van bv die anti-Afrikaner dampkring waaruit Willemien kom en waarmee sy haar klaarblyklik vereenselwig. Daar is myns insiens geen moontlikheid dat Willemien haar onomwonde teen bv die moorde op blanke of Afrikanerboere of die verswarting en gevolglike verengelsing van die US sal uitspreek nie. Oor plaasmoorde vestig sy die aandag op swart eerder as wit lyding (Netwerk24, 13.08.2019). Sy wek die indruk dat sy nie juis simpatie met die blanke slagoffers het nie; dat hulle kry wat hulle verdien. Sy impliseer ook dat die Grensoorlog onnodig was (Netwerk24, 7.11.2019). Skynbaar is geen standpunt vir haar te links nie.

23.06.2018: Plaasmoorde word gekenmerk deur van die diepste smart denkbaar. “Om oor so ‘n pynlike situasie te berig, behoort in die kraam van bv die smartvraat-joernalis Willemien Brümmer te pas. As iemand wat op haar radikale politieke oorverligtheid roem, het sy, sover ek weet, nog nooit so ‘n rampgebied besoek en daaroor ‘n berig gepubliseer nie.” Kort hierna het sy my dalk verkeerd probeer bewys deur ‘n onderhoud te voer met gesinslede van die vermoorde eienaar van ‘n padstal buite Stellenbosch. Dit was egter glad nie ‘n tipiese plaasmoord nie. Sy het ook versuim om die moord en moordenaars te veroordeel. Ek noem ook dat sy ‘n onderhoud met die oud-MK-soldaat en -terroris, Jeremy Vearey (Praag 26.05.2018) gevoer het en “kritiekloos en selfs bewondered oor hom … skryf.” Sy het ook ‘n striemende aanval op Danie Langner, die besturende direkteur van die FAK, geloods. “In haar jongste skrywe lê sy haar pa [wat aan demensie ly] woorde in die mond ter verkleinering van ‘Die Stem’, wat glo ‘in elk geval nie ‘n goeie gedig [is] nie. Dis te blikkerig, te vol trompetgeskal, veels te eensydig in die klem op Afrikaners as “knegte van die Allerhoogste”. Die opvatting van Afrikaners as ‘n uitverkore volk, “teen die hele wêreld vry”, is in elk geval deur die geskiedenis geweeg en te lig bevind. Anders as jy [Langner] en jou organisasie [die FAK] roem ons nie op ons verlede nie. Ons sien ook nie “Die Stem” as ‘n simbool van Afrikaner-identiteit nie. Dit mag jou dalk ontstel, maar daar is duisende, dalk miljoene Afrikaanssprekendes wat met pres Ramaphosa saamstem dat “Die Stem” en die ou landsvlag simbole van diskriminasie, verdrukking en ellende is.’ Die politiek van hierdie skepsel behoort vir iedere Afrikaner absoluut verwerplik te wees.” Dit is die soort anti-Afrikanergif wat Naspers/Media24 deesdae graag publiseer.

4.08.2018: Hier word daar slegs terloops na Willemien se Vearey-onderhoud verwys. Maar ek stel die vraag: Sou Brümmer en nog ‘n joernalis, Hanlie Retief, so bewonderend oor Vearey en sy boek geskryf het “as Vearey as MK-terroris van hulle familielede uitgewis het?”

Deur die soekfunksie van Netwerk24 te gebruik, kan Willemien se ander koerantartikels gelees word. Wat opval, is dat sy, wat as moeder maar vyf jaar ondervinding van ‘n enkele kind het, graag raad aan ander uitdeel asof sy oor besonder gesaghebbende kennis en insig beskik. Foto’s van die Barkhuizen-gesin word oor en oor gepubliseer. Myns insiens dui dit op erge subjektiwiteit en narsisme by die skryfster. Dieselfde indruk word ook deur die titel van haar boek gewek en deur die inhoud bevestig: Die dag toe ek my hare losgemaak het (Kaapstad: Human & Rousseau, 2008, 144p; Amazon Kindle $18,40). Die boektitel is ook die titel van een van die dosyn kortverhale. Drie van die verhale is voorheen elders gepubliseer.

Die teks in die boek is in meerdere of mindere mate verwerkings van die manuskrip wat Willemien in 2006 vir die verkryging van ‘n magistergraad in skeppende skryfwerk ingelewer het. My geheelindruk is dat haar verhale enersyds erg geforseerde en smartvol gebaarde konstruksies is en andersyds dat verbeeldingskrag, wat so noodsaaklik by fiksieskrywers is, by haar ontbreek. Diegene wat met haar skryfwerk en bv Kannemeyer se Langenhoven-biografie bekend is, sal tot die gevolgtrekking kom dat ons hier wesenlik met outobiografiese inligting te make het, wat ietwat aangepas is, bv die name en om die verhale “interessanter” te probeer maak. Vir my as leser is nie een van die verhale bevredigend nie. In my Amazon-beoordeling het ek twee uit vyf sterre aan die boek toegeken. Nogtans het Willemien die graad met lof ontvang. Haar Langenhoven-verbintenis kon hier ‘n rol gespeel het. Sy het boonop ‘n beurs vir hierdie studie ontvang.

Hierdie gebeure bevestig my siening dat kursusse in skeppende skryfwerk nie deur universiteite aan aspirantskrywers aangebied behoort te word nie; veral nie vir ‘n gevorderde graad (soos magister, wat die deur tot ‘n doktorsgraad kan wees) nie en liefs vir geen graad nie. In taalkursusse vir die graad BA kan aan studente wel (beperkte) onderrig in skryfwerk gegee word, maar dan van ‘n afrondende aard. Die grondslag vir goeie skriftelike uitdrukking behoort reeds op skool gelê te word, hoewel ek natuurlik bewus is van die dalende gehalte, sedert 1994, van skoolonderrig in Suid-Afrika. Ek sou in elk geval graag die eerlike mening van ‘n ervare kortverhaalskrywer en -kenner, soos Abraham H de Vries, oor hierdie bundel wou hoor. Vir my is dit duidelik dat Willemien nie ‘n verbeeldingryke, skeppende kunstenaar is nie, maar bloot ‘n bevooroordeelde, selektiewe verslagdoener. Ek dink sy behoort na dese te besef dat sy eerder ‘n joernalis as ‘n fiksieskrywer is. In die res van hierdie rubriek bepaal ek my aandag by haar boek.

In die boek is Mia Albertyn die hoofkarakter en verteller. In die voorwoord en in die eerste paragraaf van die eerste verhaal word Langenhoven genoem. Sy beeld haar pa as ‘n skeikunde-professor uit. Ná nog ‘n verwysing na haar deurmekaar ouerhuis in Tamboerskloof, handel die tweede verhaal oor die familieplaas buite Ladismith in die Klein-Karoo. Dit is die Desembervakansie ná sy standerd 4 (graad 6) voltooi het. Op hierdie jeugdige ouderdom is sy reeds haar polities verligte self. Sy wil nie hê dat die bruin plaaskinders haar “kleinnooi” noem nie. Hulle verwys na hulle “matchbox-huisie” (Kindle 215), ‘n term en siening wat eerder eie aan die volwasse Willemien is. Daar is glo “‘n onsigbare muur” tussen wit en bruin mense (245) wat Mia in woord en daad probeer afbreek. Sy is blykbaar vroeg seksueel oorryp. Op haar inisiatief speel sy as laerskoolkind “donkerkamertjie” met ‘n ouer bruin plaasseun (297). “As ons die lig afsit, sal niemand kan sien of ons witmense of bruinmense is nie” (307). Sy lewer ‘n hoogs onoortuigende maar polities byderwetse uitbeelding van kinderspel.

In die derde verhaal verwys Mia na haar ouerhuis se deurmekaar kombuis, waarvan die vloer smerig is (soos later blyk), en sy is beswaard oor een van haar familiename, Ragel. Dit is werklik nie die moeite werd om iedere verhaal te probeer vertel nie, onder meer omdat daar maar min storie in is. In die verhale wat volg vertel sy van haar ma se onvermoë om kos te maak en hoe sy haar ma op ‘n onbeholpe manier hiermee help. Sy skryf ook oor die intieme verhoudings wat sy as jong meisie met ongetroude en getroude mans gehad het; soos Azille Coetzee onlangs ook gedoen het. Seksuele losbandigheid is blykbaar skering en inslag van verligtheid. “Ek het al baie boyfriends gehad … en ek het nog presies dieselfde issues” (1712). Sy stel haar in Engels voor aan die Afrikaanssprekende Nick du Toit (532).

Mia besoek Beaufort-Wes, waar haar ouma Ragel (Engela) lank gewoon het en “nie altyd so lekker gevoel [het] nie” (922). “Die bottel Gilbeys was ‘n permanente susmiddel wat die werklikheid draagliker moes maak” (1554). Sy vertel ook van haar oeroumagrootjie wat aan depressie gely en selfmoord gepleeg het. Haar pa se (fiktiewe) suster, Aletta genoem, en een van haar kinders is in ‘n motorongeluk dood toe Aletta “poepdronk” was (1785). Een van Mia se mansvriende vra (tereg): “Was jou hele familie verstreurd?” (1090). Mia het ‘n sielkundige en ‘n terapeut en word in die hospitaal vir depressie behandel. ‘n Verpleegster vra: “Enige familiegeskiedenis van geestesversteurings?” (1541). Sy antwoord: “My ma sê daar’s ‘n geskiedenis van maniese depressie – aan my pa se kant. En party van my voorouers het gedrink” (1563). “Uit ‘n sekere perspektief gesien het nie een van hulle aan die waansin ontsnap nie” (1865). In die laaste verhaal is Mia getroud en het ‘n kind, maar haar man het gevlug toe die kind drie maande oud was. Dit klink glad nie onrealisties nie, maar Willemien het eers jare ná die publikasie van die boek ‘n man en kind gekry.

Uit Goethe se Faust word aangehaal: “Wat jy van jou vadere geërf het: verdien dit self om dit te besit” (1936). Anders as Langenhoven en haar pa, moet Willemien nog haarself bewys. ‘n Mens kan maar net hoop dat die volgende administrateur van Langenhoven se letterkundige nalatenskap iemand is wat waardering vir Langenhoven, “Die Stem” en die Afrikanerdom het; dus iemand anders as Willemien.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.