Leon Lemmer: Wannie Carstens oor Die storie van Afrikaans

Deel op

‘Afrikaans is nie ‘n kreoolse taal nie. Dit is onbetwisbaar ‘n Indo-Europese taal. Dit is wesenlik anders as die Afrikatale van die swartes. In daardie sin is dit opportunisties en valse propaganda om dit as ‘n Afrikataal te loof,’ sê Leon Lemmer.

JC (Jaap) Steyn (gebore in 1938) is moontlik die verdienstelikste taalyweraar vir Afrikaans. Dit is dus gepas dat sy werk met ‘n huldigingsbundel vereer is: JC Steyn en Afrikaans – ‘n Viering (Bloemfontein: African Sun Media, 2019, 450p; Amazon Kindle $24,15), met Angelique van Niekerk, HP van Coller en Bernard Odendaal as redakteurs. Aan die begin is daar die briefwisseling tussen Elize Botha en Steyn. Veel meer openbarend is Steyn se outobiografiese Sonkyker: Afrikaner in die verkeerde eeu (Kaapstad: Tafelberg, 2008, 408p). Die eerste hoofstuk in die huldigingsbundel handel oor Steyn se Die verlore vader, deur Chris van der Merwe. Die onderwerp van hoofstuk 2 is die derde uitgawe van die Afrikaanse woordelys en -spelreëls, deur Christo van Rensburg, afgerond deur Ernst Kotzé. Hoofstuk 3, “Afrikaanse spitse op die leksikografiese landskap,” is geskryf deur Rufus H Gouws. Annette de Wet is die outeur van hoofstuk 4, wat handel oor bejaardheid in Elsa Joubert se Spertyd. In hoofstuk 5 skryf Theodorus du Plessis oor institusionele en akademiese taalbeleid. Hoofstuk 7, geskryf deur Angelique van Niekerk, het Afrikaanse advertensies as tema. HP van Coller skryf in hoofstuk 8 oor twee van Steyn se drie biografieë: dié oor MER en Piet Cillié. In hoofstuk 9 besin Hein Viljoen oor SJ du Toit se Koningin van Skeba. Die laaste hoofstuk, deur Anthea van Jaarsveld, handel oor Steyn se Dagboek van ‘n verraaier. Ek het die boek in sy geheel gelees, maar beperk my aandag vervolgens by ‘n enkele hoofstuk. Ek moet byvoeg dat die e-boek in talle opsigte ‘n onvolmaakte weergawe van die gedrukte boek is.

NUUT!

Na aanleiding van WAM Carstens en EH Raidt se Die storie van Afrikaans beantwoord Carstens in hoofstuk 6 die vraag: “Wat is daar nog te sê?” Hierdie “tweeluik” bied ‘n omvattende geskiedenis van Afrikaans aan. Maar daar is nog talle onderwerpe wat verder nagevors behoort te word. Carstens het klaarblyklik kennis geneem van wat ek oor die twee boekdele geskryf het (Praag 26.11.2017 en 4.05.2019). Byvoorbeeld, hy gebruik die woord weer slegs twee keer en dus nie meer so dikwels en verwarrend soos in sy tweeluik nie. Maar as verligte gees verwerdig hy hom uiteraard nie om te verwys na wat op Praag gepubliseer is nie. Daarmee onthef hy hom van die verpligting om daardie argumente te weerlê. (Annette de Wet verwys darem na wat ek oor Elsa Joubert se Spertyd op Praag geskryf het, al haal dit nie die indeks nie.)

Carstens gaan voort op sy ingeslane weg waarvolgens voorkeur aan politieke byderwetsheid bo die bevordering van ordentlike Afrikaans gegee word. Dit skeel hom klaarblyklik min as sy standpunt die ondergang van Afrikaans tot gevolg het. Ek voorspel: As op die huidige manier voortgegaan word, gaan Afrikaans vernietig word. Dit sal by uitstek op die rug van Kaaps gedoen word. Die mengel- of tussentaal Kaaps word in geen opsig deur Carstens veroordeel nie. Ook nie die sprekers van daardie taal nie. Met die blankes is dit anders gesteld. Hulle het glo op groot skaal drooggemaak en mense heeltemal onnodig vreeslik seergemaak. Dit is hulle wat hulle skuldig aan “fornikasie met slavinne” gemaak het. Hy noem dit twee keer in sy boek en herhaal hierdie frase in sy artikel. Hierdie slegte blankes moet nou as’t ware terugstaan en die toekoms van Afrikaans aan die bruin mense toevertrou. Dít is die kern van sy betoog. Myns insiens is dit onverdunde dwaasheid. Carstens kan gerus meer objektief probeer wees. Dan sal hy besef hoe baie die blankes, veral die Afrikaners, oor eeue in Afrika, by uitstek Suidelike Afrika, tot stand gebring het; insluitende Afrikaans.

Wat Carstens probeer tuisbring, is dat al is hy op sy manier “pro-Afrikaans” en in daardie opsig nie polities korrek nie, hy op iedere ander manier oorverlig is. Dit is dus eintlik nodeloos om hom met argumente tot beter insigte te probeer bring. Ek haal twee kernsinne uit my vorige resensie aan: Carstens “het twee dik boekdele oor die storie van Afrikaans gepubliseer sonder om enige werklike besorgdheid oor die huidige verengelsing van veral gesproke Afrikaans uit te spreek. Dit laat my wanhoop aan sy taalgetrouheid.” Pleks van my besware in besonderhede te herhaal, verwys ek die leser eerder na my twee genoemde resensies. Carstens skryf: “Geskiedenis behels … ook waar Afrikaans nou is en waarheen dit op pad sou kon wees” (Kindle 2646). Seker die opvallendste kenmerk van ná-1994 Afrikaans (naas die afskaling daarvan as amptelike en openbare taal) is seker die toenemende verengelsing van veral gesproke – maar ook geskrewe – Afrikaans. Maar hieroor swyg Carstens. Hoekom? Omdat hy polities korrek wil wees. Niks mag gesê word wat bruin mense aanstoot kan gee en hulle (verder) van Afrikaans vervreem nie.

Carstens weet dat die Afrikaanse woordeskat 85% (2768) of selfs meer as 90% (volgens die boek) van Nederlandse oorsprong is, maar hy bly hamer op groter erkenning vir die bydrae van die slawe, Khoi-Khoin, Moslems en ander bruin mense. Daardie beskeie bydraes is nooit (werklik) misken nie. Erkenning is duidelik vergestalt in die struktuur van Jan van Wijk se Afrikaanse Taalmonument in die Paarl, wat in 1975 tydens die hoogbloei van apartheid ingewy is. Carstens se oorbeklemtoning van die nie-blankes se bydrae tot Afrikaans kom neer op die onteiening van Afrikanerkultuurgoedere sonder vergoeding, soortgelyk aan die ANC se beoogde onteiening sonder vergoeding van blankes se besittings. Waarom lys Carstens nie bv die Afrikaanswoordeboeksamestellers en verskaf dan die persentasie nie-blankes onder hulle nie?

Afrikaans is nie ‘n kreoolse taal nie. Dit is onbetwisbaar ‘n Indo-Europese taal. Dit is wesenlik anders as die Afrikatale van die swartes. In daardie sin is dit opportunisties en valse propaganda om dit as ‘n Afrikataal te loof. Afrikaans is ‘n Europese taal wat in Suidelike Afrika aanpassings ondergaan het; soortgelyk aan Europeërs, veral Afrikaners, wat hulle in hierdie wye en droewe land by die plaaslike omstandighede aangepas en voortreflik gepresteer het. Carstens wil die geskiedenis van Afrikaans “reg” skryf deur sy vertolking af te dwing. Maar dan is dit hy wat kla oor mense wat selektief met die geskiedenis omgaan. “Bevooroordeeldheid” blyk glo as Afrikaans “vanuit ‘n nasionalistiese hoek” benader word en “versoeningsmoontlikhede” nie aan bod kom nie (2680). Ooreenkomstig die mode verdoem hy nasionalisme, maar dit is juis Afrikanernasionalisme wat bv die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners gemotiveer en uiteindelik tot die erkenning van Afrikaans as amptelike taal gelei het. Carstens wil Afrikaans die voertuig vir versoening maak, op die duidelike gevaar af dat die gehalte van Afrikaans dermate aangetas word dat dit mettertyd nie meer die moeite werd gaan wees om die geradbraakte resultaat naas Engels aan die gang te hou nie.

Na aanleiding van sy en andere se (skielike) ná-1994 (oor)beklemtoning van die nieblankes se bydrae tot Afrikaans vra Carstens: “Wat kon aanleiding gegee het tot die verander(en)de insigte? Die sosiopolitieke proses wat tot die vestiging van die nuwe Suid-Afrika in 1994 gelei het, durf nie onderskat word in hierdie verband nie; as proses het dit ‘n nuwe bewussynsopenheid geskep, wat gelei het tot ‘n klimaat van regstelling op vele terreine, ook wat betref hoe ons na Afrikaans se verlede kyk” (2787). Carstens het hom hierdeur laat meevoer. ‘n Geykte resep word gevolg. Relatief prestasieloses se bydraes word bo verdienste verheerlik. In soverre daar nie salf aan te meer is nie, word die blankes die skuld gegee omdat hulle nie aan die benadeeldes geleenthede vir prestasie gegee het nie. Carstens loof die Afrikaanse Taalraad (ATR), waarvan hy die eerste voorsitter was, se politieke uitgangspunt: dat dit primêr om versoening eerder as die heil van Afrikaans gaan. “Die totstandkoming van die ATR is waarskynlik een van die belangrikste gebeure die afgelope 50 [!] jaar betreffende Afrikaans” (2925). Die ATR is ‘n miskraamde vulletjie in vergelyking met die onthulling van die Taalmonument in 1975. Daar is volgens Carstens “die onmenslike gevolge van apartheid” (2867) wat reggestel moet word. Afrikaans is glo gebruik “om ‘n onaanvaarbare politieke bestel af te dwing” (2877). Is die huidige politieke bestel werklik beter? Waarom verswyg Carstens grootliks die brutale wyse waarop Engels deesdae afgedwing word?

Afrikaans word deur Carstens as ‘n politieke instrument vir (per slot van sake) die ANC se nasiebouprojek gebruik. Daar word geywer vir “‘n nuwe, gedeelde ‘ons'” (2796). Die strategie is die gonswoord “inklusiwiteit” (2801). Die kriteria is “objektiwiteit en billikheid” (2807). Carstens wil glo “feitelik korrek” wees (2830). Maar daar mag nie ingevryf word dat die Afrikaners se bydrae tot Afrikaans baie groter as dié van die nieblankes is nie. Dit sou die “eiendomsreg” van die blankes onaanvaarbaar kolossaal maak. Daar moet ook nie geteem word oor die grootskaalse dislojaliteit jeens Afrikaans in die bruin gemeenskap nie. Dit kan mos uitsluitlik gewyt word aan die blankes se apartheidsbestel. Maar was baie bruines sedert die aankoms van die Britte (1795, 1806) en bv tydens die Anglo-Boereoorlog, dus lank voor apartheid, nie geneig om pro-Brits en pro-Engels eerder as pro-Afrikaner en pro-Afrikaans te wees nie? Dit is deel van “die volle prentjie” (2811) maar word polities byderwets verswyg. Carstens se boek bied glo “‘n wyer blik” (2821) maar ‘n selektiewe, polities korrekte perspektief. Dit skrei ten hemele dat net die blankes gekritiseer word; dat die nie-blankes en hulle morsige omgang met Afrikaans nie gekritiseer word nie. Carstens wil politieke winste behaal, maar dit geskied ten koste van eerbare Afrikaans. ‘n Mens sou dink dat ‘n Afrikaansdosent se primêre lojaliteit Afrikaans sou wees.

Van die grootste vergrype sedert 1994 in die Afrikaanstaalkunde is die ontmaskering van “die mite dat die geskiedenis van Afrikaans eers in 1652 begin het” (2853). Die Khoi-San was vóór die blankes aan die Kaap. As ‘n mens hulle en die slawe (wat ná die blankes hier aangekom het) wil verhef tot die eintlike skeppers van Afrikaans, móét die ontstaan van Afrikaans terugdateer word tot vóór die aankoms van Jan van Riebeeck. Dan kan immers met reg beweer word dat die Afrikaners Afrikaans van die nieblankes gesteel het. Dan kan nie meer beweer word dat die Khoi-San en die slawe niks nagelaat het nie. Afrikaans word dan húlle nalatenskap.

Maar hoe bewimpel ‘n mens dit “taalwetenskaplik”? Jy aanvaar sonder meer Hans den Besten se (wan)voorstelling dat die “Aanleerdershollands” van die Khoi-San en slawe die hoofstroom en die Hollandse taal bloot ‘n systroom in die ontstaan van Afrikaans was. Dan kry jy die Afrikaanse Taalraad om opdrag aan Christo van Rensburg te gee om, in die onsterflike woorde van Michael le Cordeur, “die misverstande oor waar Afrikaans vandaan kom, finaal by te lê” (Christo van Rensburg, So kry ons Afrikaans, Pretoria: Lapa Uitgewers, 2012, p 9). Dus om “die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem te smoor … dat Afrikaans die eiendom is van almal wat Afrikaans praat” (10).

Volgens Van Rensburg het Afrikaans in 1495 ontstaan (148), dus vóór Vasco da Gama in 1497 om die Kaap geseil het. Dit was ‘n “ligte mistykie” (Schalk Pienaar). Dit was te wyte aan die ongeërgde manier waarop Van Rensburg met jaartalle omgaan. “Teen die einde van 1500” (17) beteken nie 31 Desember 1500 of iets soortgelyk nie, maar die einde van die 1500’s, dus die einde van die 16de eeu. Daar is talle soortgelyke voorbeelde in die boek. Hy tref geen duidelike onderskeid tussen die taal Hollands aan die vroeë Kaap en die latere Nederlands nie. Van Rensburg onderskei ook nie konsekwent tussen Khoi (die taal) en die Khoi-Khoin (die sprekers van Khoi) nie. Maar hy is geloof vir die nuwe verligtheid wat hy in die studie van Afrikaans gebring het. Hy het oornag ‘n gewilde spreker geword by diegene wat sy polities korrekte weergawe wou hoor.

Van Rensburg het dus voortborduur op sy ingeslane weg en ‘n verwerking en aanvulling van sy 2012-boek gepubliseer: Van Afrikaans gepraat (Pretoria: Lapa Uitgewers, 2018). Ek het albei boeke bespreek (Praag 15.12.18). Die ontstaan van Afrikaans word nou ‘n eeu later, 1595, gedateer. Dit maak Afrikaans uniek. Daar is seker geen ander taal waarvan die ontstaansdatum so presies bepaal is nie. 1595 is nie die jaartal waarin die Khoi-Khoin met Aanleerdershollands begin het nie. Dit is ook nie proto- of oer-Afrikaans nie. Dit is sommer Afrikaans. Wat in 1595 gebeur het, is dat dit die eerste bekende geval is waar die matrose van Hollandse skepe, Cornelis de Houtman (1565-1599) se bemanning, met Khoi-Khoin kennis gemaak en handel gedryf het. Daar is waarskynlik meer beduie as gepraat. Daarby het (al) die matrose nie noodwendig Hollands gepraat nie. Maar die vindingryke Khoi-Khoin het eensklaps Afrikaans geskep. Daar is egter geen dokumentêre bewys hiervoor nie. Dit is bronlose spekulasie of verligte wensdenkery.

Dit vind soos volg neerslag in die tweede boekdeel van Carstens se Storie: Hy haal uit ‘n 2016-artikel van Van Rensburg aan: “Die eerste Afrikaans het al in 1595 begin toe die Khoi-Khoin die Nederlandse seelui se eerste Nederlands probeer napraat het: Khoi-Afrikaans” (39). Let op die foutiewe verwysings na “Nederlandse” pleks van Hollandse en “Nederlands” pleks van Hollands. Carstens voeg by: “Geskiedenis van Afrikaans in Afrika begin [in 1595]” (39). Dit herinner aan die Universiteit Stellenbosch wat hom deesdae eerder as ‘n Afrika-universiteit as ‘n Suid-Afrikaanse universiteit bemark. Carstens aanvaar sonder meer Van Rensburg se wensdenkery ten spyte van al die historiese en taalwetenskaplike besware wat geopper kan word. Hoekom? Omdat dit sy politieke agenda pas.

Dieselfde geld vir bv Azille Coetzee vir wie enigiets blykbaar aanvaarbaar is as dit haar oorverligtheid pas. Sy borduur te pragtig voort op Van Rensburg se uitlatings en beweer selfs dat daar historiese rekords hiervoor bestaan. Sy skryf: “Jy soek verniet vir suiwerheid, veral in ons taal. In die voue van Afrikaans sit die Khoi. Vra vir die taalkundiges … Daar is rekords van Khoi-mense wat Nederlands kon verstaan so vroeg soos 1595, vóór die koms van Jan van Riebeeck. Hulle dryf handel met die Nederlanders wat by die Kaap verbygekom het voor die vestiging van die VOC. Die Khoi-mense rol die Nederlandse woorde in hul mond rond, buig dit. Breek die sinne, sit hulle terug aanmekaar, sodat die ritme reg sit, blaas rym daarin, sodat dit betekenis kry hier onder die sterre, die oopblou lug, op die liggrys grond op die suidelike punt van die Afrika-kontinent” (In my vel: ‘n reis, Kaapstad: Tafelberg, 2019, p 78-79). Oor Afrikaners kan sy nie so liries raak soos oor die Khoi-Khoin nie. Soos Van Rensburg onderskei sy nie tussen Hollands en Nederlands, asook tussen Khoi en Khoi-Khoin, nie.

Lees ook Dan Roodt: GroenLinks en Afrikaans — Azille Coetzee se Amsterdamse relaas.

Die destruktiewe gevolge van Van Rensburg se wensdenkery strek selfs verder. Om Afrikaans in oortreffende mate te verafrika, moet sy Hollandse/Nederlandse penwortel misken word. Van Rensburg verwys dus na “die vermeende Europese herkoms van Afrikaans” (140). Die wesenlik Hollandse/Nederlandse aard van Afrikaans word deur Van Rensburg die “herkomsmite” genoem. Daarmee word glo beweer: “Afrikaans kom uit die buiteland” (109). Die taalkunde as akademies-wetenskaplike dissipline en Afrikaans word nie ten beste met hierdie politiek-geïnspireerde speletjies gedien nie. Engels word selfs nie deur Van Rensburg as ‘n bedreiging vir Afrikaans beskou nie. “”Hoekom moet ‘n stryd met Engels aangeknoop word?” (145). “Engels verryk ook, bedreig nie net nie” (146). Dit herinner aan die argumente ten gunste van massa-immigrasie en multikulturaliteit. “Engels is goed geposisioneer … om Afrikaans te beïnvloed” (145). Inderdaad. Engels is met die steun van die ANC-regime en sy meelopers goed geposisioneer om Afrikaans al hoe meer te verswelg. Des te meer omdat Afrikaanstaalkundiges, soos Van Rensburg en Carstens, Kaaps as ‘n Trojaanse perd vertroetel.

Carstens noem sy stellinginname waaragtig “die depolitisering van Afrikaans” (2925), wat deurgetrek moet word na die versoeningsgesprek (2929). Moslemafrikaans word geloof, al weet hy dat hierdie gemeenskap, soos baie ander in bruin geledere, sedert 1994 met rasse skrede verengels het (2939). Hy opper geen beswaar teen Kaaps as onderwystaal nie. Hy voorsien eerder dat dit “‘n fokuspunt in die Afrikaans van die toekoms gaan wees” (2943). Soos in ander lande is Standaardafrikaans, soos feitlik alle fasette van Afrikaans, deur die Afrikaandssprekende elite, die Afrikaners, geskep. Daarom word daar geneul oor die herstandaardisering van Afrikaans (2943); selfs die destandaardisering van Afrikaans, waaraan Kaapssprekers toegelaat word om mee te werk, bv op LitNet en in Rapport. Jan Rabie het ‘n afkeer van Engels gehad. Desnieteenstaande is die Rabie/Wallace-toekenning by meer as een geleentheid aan ‘n Kaapsskrywer toegeken. Dit bevorder geensins die heil van Afrikaans nie.

Teen die einde van die hoofstuk haal Carstens ‘n tipiese reaksie van ‘n bruin Afrikaanssprekende aan. “Bestaansangs en vrees oor Afrikaans gaan ons nêrens bring nie … Ons moet … versigtig wees om nie in ‘n gat te trap waar ons dink ons taal is belangriker as ander tale nie, want dit is nie” (2979). Afrikaans kan dus, volgens haar, sonder groot verlies maar in sy swernoot gaan. Daar sal mos ander tale oorbly waarmee ons kan kommunikeer. Die punt is egter: Afrikaans is die moedertaal van Afrikaners. Dit is die kern van die Afrikanerdom. Dit is onvervangbaar. Daar sal met groter toewyding ten bate van Afrikaans geywer moet word; Afrikaans wat so volledig moontlik van Engelse invloed gesuiwer is.

Ná 1994 het daar skynbaar ‘n fatale konsensus onder Afrikaanstaalkundiges gekristalliseer:

  • Engels is ‘n wêreldtaal, gevolglik is dit nodeloos om jou daarteen te verset.
  • Afrikaans sal behoue bly as ons meertaligheid bepleit pleks van spesifiek vir die heil van Afrikaans te ywer.
  • Die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin, gevolglik moet die toekoms van Afrikaans aan hulle toevertrou word.
  • Alle variëteite van Afrikaans is gelykwaardig.
  • Kaaps is ‘n variëteit van Afrikaans wat (gelyk)waardig die plek van Standaardafrikaans kan inneem.

Onderliggend aan hierdie konsensus is daar die sug na versoening. Enersyds moet die ANC liefs nie gekonfronteer word weens sy uitgesproke voorkeur vir Engels en sy benadeling van Afrikaans nie. Konfrontasie kan die situasie van Afrikaans glo net verder beduiwel. Andersyds moet die eenheid in Afrikaansgeledere herstel word. Die breuk word aan apartheid toegedig, terwyl dit in werklikheid veel verder terug in die verlede strek. Hierdie strategie wek (valse) skuldgevoelens by Afrikaners en ontmagtig hulle om vereistes/riglyne oor die gebruik van Afrikaans, soos taalsuiwerheid, aan bv die bruin mense te stel.

My standpunt oor die bogenoemde vyf items is egter soos volg:

Eerstens, dat Afrikaans, soos voorheen, sy tradisionele gelykwaardige, prominente plek naas Engels behoort in te neem. Daarvoor moet kompromisloos geywer word. As dit nie gedoen word nie, sal die ANC sonder noemenswaardige teenstand voortgaan met die opdringing van Engels op iedere terrein. Die ANC-ideaal is een (swart) nasie en een taal (Engels). Hierin is daar nie plek vir blankes, veral Afrikaners, en Afrikaans nie.

Tweedens, dat daar onomwonde eerder vir Afrikaans as vir meertaligheid geywer moet word. Meertaligheid kan immers Afrikaans uitsluit, soos al hoe meer gebeur.

Derdens, die meerderheid Afrikaanssprekendes is bruin (slegs) as Kaaps as Afrikaans geklassifiseer word. In werklikheid is Kaaps ‘n mengeltaal wat tussen Afrikaans en Engels geposisioneer is en, bv wat woordeskat betref, toenemend Engels word. Pleks van ‘n kwantitatiewe maatstaf (die getal sprekers) behoort ‘n kwalitatiewe norm (die gehalte van die Afrikaans) aangewend en slegs sodanige Afrikaans bevorder te word.

Naas taalkwaliteit is daar ‘n ander belangrike rede waarom bruin mense nie met die toekoms van Afrikaans vertrou kan word nie. Dit is ‘n bewese feit dat veral die bruin elite Afrikaansdislojaal is en Engels verkies. Die res van daardie bevolkingsgroep is taalgewys geneig om eerder die leiding van hulle elite na te volg as dié van die blankes. Dit is die wesenlike opsionaliteit van Afrikaans vir bruin mense wat dit louter dwaasheid maak om die heil van Afrikaans aan hulle toe te vertrou. Daar is net een etniese groep wat, in die konteks van Afrikaans, uitmunt in taalgetrouheid en dit is die Afrikaners. Selfs hulle geledere is deur hedendaagse hanskakies uitgedun. Daar is slegs ‘n enkele (en heel moontlik kleiner wordende) groep aan wie die toekoms van Afrikaans wyslik toevertrou kan word: die monokulturele, nie-diverse, nie-verloopte Afrikanerdom.

In die vierde plek volg dit – as Kaaps as ‘n Afrikaansvariëteit erken word – dat alle variëteite van Afrikaans nie kwalitatief gelykwaardig is nie. Die groot en groeiende Engelskomponent in Kaaps druis lynreg in teen idiomatiese Afrikaans. Kaaps bedreig die voortbestaan van Afrikaans; des te meer omdat nie-Kaapssprekers, bv blankes, in navolging van Kaapssprekers, geneig is om in toenemende mate hulle Afrikaans met onnodige Engelse woorde te besoedel. Dit is ‘n dwase manier om eenheid in Afrikaansgeledere te herstel. Sodanige brouseltaal is nie ‘n taal uit eie reg nie omdat dit kennis van sowel Afrikaans as Engels veronderstel.

Ontologies is al die variëteite van Afrikaans gelykwaardig omdat hulle almal is/bestaan. Maar die getal sprekers van elk wissel. In elk geval word daar in die sug na inklusiwiteit te veel klem op die bestaan van variëteite gelê, bv die bewering dat Afrikaans meer divers as enige ander taal is. In eenheid, bv Standaardafrikaans, is daar krag en word die oorlewingskanse van Afrikaans verbeter. Versplintering het die teenoorgestelde tot gevolg.

Vyfdens moet die volgende vraag dus beantwoord word: In watter opsig(te) is al die Afrikaansvariëteite gelykwaardig? Oor een ding kan daar sekerheid wees: Almal is nie in dieselfde mate geskik as oorlewingsvorm vir Afrikaans nie. Standaardafrikaans is vir hierdie doel uitnemend geskik terwyl Kaaps daarvoor absoluut ongeskik is. Maar wat gebeur in die praktyk? Kaaps word kritiekloos opgehemel terwyl Standaardafrikaans gekritiseer en verdag gemaak word.

Wat gaan Carstens en diesulkes se Afrikaansbenadering (bv die bevordering van meertaligheid, koestering van Kaaps, swye oor taalsuiwerheid; kortom versoening) tot gevolg hê? Enersyds die konsolidering van Kaaps as ‘n brouseltaal waarin meertaligheid in die vorm van tweetaligheid (Afrikaans en Engels) vergestalting vind. Andersyds die agteruitgang van Afrikaans van ‘n eens ontwikkelde taal tot ‘n onderontwikkelde taal soortgelyk aan die plaaslike swart tale waarin Engelse woorde (onveranderd) oor- of opgeneem word pleks van kreatiewe taalskepping. Die eindresultaat sal Afrikaans as uitgestorwe taal wees; verswelg deur Engels weens dwaasheid – soortgelyk aan die ongekende dwaasheid wat die Suid-Afrika van weleer in 1994 vernietig het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.