Leon Lemmer: Heimat, ontheemding, nostalgie en Afrikaans as ‘n tuiste

Deel op

Namate ‘n mens bejaard word, is jy geneig om eerder terug as vorentoe te kyk. Dit is so omdat die verlede oor meer jare strek as wat die toekoms inhou. In die verlede was daar goeie tye waarna jy verlang, terwyl die toekoms vir jou rampspoedig gaan wees. Jou gedagtes word al hoe meer eerder met dooies as lewendes bevolk. Jy ontwikkel ‘n intense waardering vir feitlik alles wat lewe, wel wetende dat alle lewe tydelik/kortstondig/eindig is. “Feitlik alles wat lewe” omdat ek nie ‘n voorliefde vir bv insekte het nie. Soms wonder ek waarom ek nie ‘n vegetariër is nie. Diere sterf baie meer teensinnig as plante. Ek hou nie van die gedagte dat diere ter bevrediging van my eetlus sterf nie. Die beste strategie vir ‘n bejaarde skyn te wees om daagliks in die verskuiwende hede te lewe; dankbaar dat jy steeds die werklikheid ervaar, jy jou min dae ten beste kan benut en die son darem nog skyn om jou voorlopig teen die naderende donker te verskans. Dit is ‘n voorreg om ‘n leeftyd lank in die lig te wandel; ‘n geleentheid wat geaborteerdes ontsê word.

Sowel die verlede as die toekoms kan selektief benader word. Byvoorbeeld, die ANC hou daarvan om sy bloedbevlekte, terroristiese verlede te verdoesel en hoogs oordrewe eerder beweerde gruweldade van die blankes in herinnering te roep. Sowel die hede as die toekoms word deur die ANC met valse optimisme hoogs misleidend positief voorgestel. Vir almal gaan daar glo werk geskep word. Genoeg huise gaan gebou word. Vir almal wag daar ‘n beter lewe, ens. Dit is egter veral die ANC-elite wat materieel al hoe beter daaraan toe is.

‘n Lewende mens is elke oomblik van sy lewe êrens. Hy is noodwendig in tyd en in ruimte. Hy kan kort of lank op ‘n plek vertoef. Hy kan van ‘n plek hou of nie. Veral as hy lank op ‘n plek deurbring en daar gelukkig is, kan hy geheg aan die plek raak; kan hy dink dat hy daar hoort. As hy weggaan en elders minder gelukkig is, kan hy na sy vorige plek bly hunker en kan hy begeer om daarheen terug te gaan. Daardie weggaan is ‘n ontworteling en die wegwees ‘n ontheemding. Daardie hunkering om terug te gaan, word nostalgie of heimwee genoem. Daardie plek waarna hy hunker, is sy tuiste, heimat, kontrei, tuisland, geboorteland of vaderland. Dit is die habitat waarin hy floreer en gelukkig is. Sy heimat kan sy nostalgie, heimwee of verlange verdryf.

In die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (HAT, 2015) word die genoemde terme soos volg verduidelik:

  • ontheemde: vlugteling sonder woonplek [of heenkome]
  • nostalgie: heimwee, verlange
  • heimwee: sterk verlange na ‘n mens se tuiste
  • tuiste: eie huis/woning waar jou gesin of ouers woon
  • heimat: plek/streek waar iemand vandaan kom; geboorteland; kontrei; vaderland
  • vaderland: land van herkoms; geboorteland.

Hierdie verskynsels het bv tyd-, ruimte-, sosiale, kulturele, emosionele/sentimentele, historiese en politieke (bv nasionalistiese) dimensies. Hulle dui op ‘n bepaalde geestesingesteldheid (“mindset’) by die individu. Omdat die werklikheid deurlopend verander, speel ‘n idealistiese of verbeeldingsfaktor ook ‘n rol. ‘n Mens kan nie in elke opsig teruggaan na wat was, bv die tuin van Eden, nie. Om te sê, “Ek sal opstaan en na my vader gaan” (Lukas 15:18, 20), is onrealisties as hy dood is. Immanuel Kant (1724-1804) skryf: “Later, when they visit these places, they find their anticipation dampened and even their homesickness cured. They think that everything has drastically changed, but it is that they cannot bring back their youth” (Barbara Cassin, bron hier onder, Kindle 1206). Sedert 1994 is Suid-Afrika onherroeplik opgedonder. Daar kan nie teruggegaan word na die land soos hy eens was nie. Hoogstens kan ‘n Afrikanertuisland plaaslik of elders geskep word.

Maar daardie teruggaan, werklik of bloot in jou gedagtes, kan ‘n mens beter laat voel, kan jou opgewasse vir die hede maak, kan trots op jou Afrikanerskap aanwakker omdat Afrikaners oor eeue voortreflik gepresteer het. Die ANC-regime voel vergelykenderwys so minderwaardig dat bv die vorige landsvlag nie vertoon en die vorige volkslied eintlik nie gesing mag word nie. ‘n Katastrofiese gebeurtenis, soos die mandaatlose 1994-magsoorgawe, kan dus, as dit nostalgie opwek, positiewe gevolge in jou gemoed hê. Onder Afrikaners wat hulle steeds in Suid-Afrika bevind en natuurlik ook onder Afrikaner-uitgewekenes/diaspora neem nostalgie heel moontlik (stille) epidemiese afmetings aan. In hulle historiese plek word Afrikaners nie meer geken, erken of gereken nie. Daar is by hulle ‘n onstilbare gevoel van onherstelbare verlies. ‘n Klein groepie blanke Afrikaanssprekende politici het hulle aangematig om die land en die Afrikanerdom onberekenbare skade aan te doen. Voorheen het talle ANC-terroriste tydelik in vrywillige ballingskap in die buiteland vertoef. Deesdae voel baie van die beste plaaslike blankes verplig om permanent in ballingskap te gaan; om hulle weens die onverkwiklike plaaslike omstandighede permanent in die buiteland te vestig. Die rolle van swart en wit mense is dus omgeruil.

Nostalgie kan gevaarlik wees. Dit kan die werklikheid oorvereenvoudig en onhaalbare verwagtinge wek. Die verlede kan op ‘n onrealistiese manier veridealiseer en die hede onbillik verdoem word. Dit is die boodskap in bv Edoardo Campanella en Marta Dassù se boek, Anglo nostalgia: The politics of emotion in a fractured West (Oxford University Press, 2019, 234p; Amazon Kindle $16.55). Die teks gee uitdrukking aan die outeurs se afkeur van bv Brexit en Donald Trump, asook ‘n afwysing van ‘n terugwaartse of retro-benadering tot die politiek.

Waar hoort ek? Waar behoort ek te wees? Daar is verskillende plekke en vlakke. Hulle bly nie dieselfde nie. Ek is ‘n Afrikaner en Afrikaans. Ten spyte van hierdie benamings het ek my nog nooit as ‘n Afrikaan beskou nie. Ek het geen voorliefde vir die kontinent Afrika nie. Dit is ‘n geval van in Afrika maar nie van Afrika nie. Vóór 1990/94 was ek geheg aan Suid-Afrika. Dit is my geboorteland en ek was tydens die blanke politieke bewind ‘n lojale Suid-Afrikaner. In die jare sewentig het ek in Amerika studeer. Dit was toe die Amerikaanse regering sy beloofde steun aan die Suid-Afrikaanse troepe in Angola onttrek het. My Amerikaanse verblyf het my patriotisme jeens Suid-Afrika versterk. Anders as bv Wim de Villiers het ek nie as ‘n hanskakie en wêreldburger na Suid-Afrika teruggekeer nie, maar meer as ooit as ‘n Afrikaner en Afrikaanssprekende. Suid-Afrika was my heimat vóór die 1994-ontheemding. Slegs wat amptelike burgerskap betref is ek sedertdien ‘n Suid-Afrikaner. Andersins is my Afrikanerskap my identiteit. By my is daar geen sprake meer van eers Suid-Afrikaner en daarna Afrikaner nie. Dit is soortgelyk aan wat Cicero (106-43 vC) geskryf het: “All natives of Italian towns have two homelands, one by nature and the other by citizenship” (Cassin 694).

In Suid-Afrika het ek op verskillende plekke gewoon. Van my eerste twee jaar in ‘n voorstad onthou ek niks nie. Maar daarna het ek op twee dorpe in my ouerhuis gewoon en op drie plekke tydens my beroepslewe voordat ek by die see afgetree het. Laasgenoemde ses plekke was waar ek agtereenvolgens gevoel het dat ek daar hoort, al was dit op elke plek nie altyd in dieselfde huis nie. Daardie halfdosyn plekke het noodwendig ook ‘n streeksgebondenheid meegebring. Toe ek vryelik kon kies waar om af te tree, het ek onthou dat dit altyd soos ‘n tuiskoms gevoel het as ek in die Boland kom en die blou berge en wingerde sien.

Maar naas die land, streek en woonplek (stad, dorp) was die huis waarin ek gebly of wat ek gehuur of gekoop het altyd my ware tuiste. “Aan die einde van die dag is die tuiskoms nog die beste.” “Home is where the heart is.” Die kern van tuisvoel is in die huisgesin en, in breër verband, in die familiekring. Dit is hulle teenoor wie jy beskermend voel en deur wie jy ten beste beskerm word. Jou huis is jou kasteel. Dit is waar ‘n mens laer trek en hoop vind om krisisse die hoof te bied. Dit is waar daar onderlinge vertroue tussen bekendes is, waar jou identiteit of wesenlike aard bekend is en jou lewenswyse aanvaar word. Dit is ook waar voorgeslagte se erfenis gekoester en hulle nalatenskap bewaar word. Die verlede word gehuldig. Herinneringe word lewendig gehou. In die gesin sal jy die langste onthou word. Herinnering is ‘n vorm van oorlewing.

Vaste eiendom, bv ‘n plaas of grond en ‘n huis, laat jou gewortel voel. In die vorige eeu was daar die grootskaalse uittog van Afrikaners vanaf plase na die dorpe en veral die stede. Daardie verskuiwing het Afrikaners aanvanklik met ‘n gevoel van ontwortelling gelaat. Afrikaners het hulle geborgenheid teruggekry toe hulle in 1948 politieke beheer oor die land verkry het. Dit het as ‘n waarborg van Afrikaner-identiteit gefunksioneer. In 1990/94 is daardie begronding op ‘n verraderlike manier verkwansel. Sedertdien sorg die ANC-regime dat die blankes se eiendom, in watter vorm ook al, in soverre dit nie deur misdaad verloor word nie, deur amptelike beslaglegging bedreig word, met onteiening sonder vergoeding as gekoesterde ideaal.

Deesdae moet ons aanhoor, van diegene wat ons ondergang begeer, dat ons as Afrikaners nie laer mag trek nie. Die kulturele marxiste beywer hulle vir die ondermyning van die Westerse gesin omdat die grondslag van ‘n volk en die Westerse beskawing in gesinsverband gelê word. Dit is in gesins- en volksverband dat die onderskeid tussen hier en dáár (elders) en tussen ek/ons en hulle (die ander) getref word. Dit is presies wat diegene wat almal gelyk- en eenders verklaar, wil verhoed en uitroei. Die aktiviste en propagandiste wil nie net die blankes se gedrag beheer nie, maar ook hulle denke. Ons word vermaan dat ons nie nostalgies na die goeie ou dae mag terugverlang nie. Maar ons doen dit juis omdat die verlede in so baie opsigte beter as die hede is; heel moontlik ook beter as die toekoms.

Oor die heimat en nostalgie is talle boeke beskikbaar. Ek skryf vervolgens na aanleiding van Barbara Cassin (gebore in 1947) se boek, Nostalgia: When are we ever at home? (New York: Fordham University Press, 2016, 94p; Amazon Kindle $19.54). Die oorspronklike teks is in 2013 in Frans gepubliseer. Meer as ooit skryf ek vandag na aanleiding van ‘n boek eerder as oor die boek as sodanig. Ek het op hierdie boek besluit vanweë die klem wat Cassin op taal plaas. Sy lewe in en deur en vir taal. Haar teks open die weg vir die siening van ‘n taal, bv Afrikaans, as ‘n “tuiste in eie taal” (JC Steyn).

Dit is blykbaar veral Duitsers wat boeke oor die heimat en nostalgie geskryf het. Cassin is ‘n jodin wat onder meer die denke van Martin Heidegger (1889-1976) probeer deurgrond. Dit verduidelik deels haar leidende aandeel in die Dictionary of Untranslatables: A philosophical lexicon (Princeton University Press, 2014, 1 344p; Amazon Kindle $43.69).* Dit is uiters moeilik, eintlik onmoontlik, om die boeke van bv Heidegger en Ludwig Wittgenstein (1889-1951) bevredigend uit die oorspronklike Duits te vertaal. Hierdie woordeboek het oorspronklik in Frans verskyn. Die Engelse weergawe is ‘n uitgebreide, bygewerkte publikasie. Meer as 150 geleerdes het daaraan meegewerk. Dit was ‘n merkwaardige en uiters ambisieuse projek.

[* $43.69 vir 1 344 bladsye is, ten minste kwantitatief, beter waarde as $19.54 vir 94 bladsye. ‘n Meer bekostigbare alternatief vir die genoemde woordeboek is Ella Frances Sanders se bespreking van meer as vyftig woorde, Lost in translation: An illustrated compendium of untranslatable words from around the world (Ten Speed Press, 2014, 112p; Amazon Kindle $11,92). ‘n Interessanter en meer geleerde aanslag is te vinde in Emily Apter se boek, Against world literature: On the politics of untranslatability (Verso, 2013, 368p; Amazon Kindle $21.07), waarin die gevolge van onvertaalbaarheid aan bod kom, bv daar is wêreldliterature (nie net een nie) en vertaalbaarheidstudie behoort die grondslag van vergelykende literatuurstudie te wees.]

Wat duidelik is, is dat die betekenis wat ‘n mens aan ‘n woord heg enersyds kultuurgebonde is, bv deur jou moedertaal bepaal word, en andersyds deur jou ervaring beïnvloed word. In die jare sestig was ek ‘n dosent aan ‘n universiteit vir swartes. Die NP-regering wou die inheemses tot hoër prestasie aanmoedig deur hulle bokant hulle gewigsklas te laat boks. In die huis wat ek van die universiteit gehuur het, was een van die gevolge dat ek met die skakelaar in die voorportaal die kombuislig aangeskakel het. Ek ken die presiese betekenis van die Afrikaanse woord heimwee, wat sy oorsprong in die Nederlandse heimweh en die Duitse Heimweh het. Die Engelse woord daarvoor is homesickness, wat my egter altyd aan my destydse huurhuis laat dink.

Die heimat waaroor Cassin in haar 2016-boek nostalgies is, is hulle huis op Korsika, waarin haar man oorlede is (98). Andersins beskou sy haarself as “uprooted”. Dit is maar asof (“as though”) Korsika haar heimat is (86). Dit is ‘n fiksie wat sy soos ‘n kleinood koester. Dit herinner aan Hans Vaihinger (1852-1933) se boek, Die Philosophie des Als Ob (1911) / The philosophy of ‘As If’ (1924). René Descartes (1596-1650) het in 1648 oor homself geskryf: “One foot in one country and the other in another” (26). Dit kan van baie Jode en deesdae ook van baie Afrikaners gesê word. Descartes gaan voort: “I find my condition to be very happy, in that it is free.” Dit is te betwyfel of baie Afrikaner-uitgewekenes hiermee sal saamstem. “My mother was of Hungarian-Jewish descent by way of Trieste and the irredentist lands,* and my father’s family, descended from barbarian pirates, supposedly acted as one of the people’s bankers in the Comtat Venaissin” (86); dus toe Avignon ‘n pouslike staat was (1274-1791). “[But] I am French, as it says on my identity papers” (111).

[* “The ‘irrendentist’ movement … sought the annexation to Italy of all lands that had historically been inhabited by Italians” (1162).]

In haar inleidende hoofstuk skryf Cassin dat sy geen tuiste (“home”) het nie, dat Korsika nie haar tuiste is nie, maar dat dit (darem) soos ‘n tuiste voel (69). “It is with this experience that I wish to begin: the feeling I inwardly qualify as an irrepressible nostalgia and that I experience every time I’m ‘back’ in Corsica” (80). “Nostalgia is not simply homesickness and the return home … What it is, [is] an adorable human fiction, a cultural fact … The best way to be back home [would be] in one’s [real] homeland” (98). “[Corsica] emerges like an idea … a point of view on the world” (122). By haar is daar “nostalgia for an island. An island is a place” (127). Dit is ‘n plek waarheen ‘n mens kan gaan maar ook een waarvan jy kan weggaan.

Die woord nostalgie is ‘n samestelling van twee Griekse woorde, nostos (terugkeer) en algos (pyn, lyding), “both the suffering that has a hold on you when you are far away and the pains you must endure in order to return” (133). Volgens die Historical Dictionary of the French Language (1678) het ‘n geneesheer, ‘n Duitse Switser, Jean-Jacques Harder, die woord Nostalgie gemunt om Heimweh te beskryf (139). “This book questions, together with ‘nostalgia’, the relationship between homeland or fatherland, exile, and mother tongue” (170). Wat Afrikaans betref, kan onderskei word tussen Afrikaans as die moedertaal van uitgewekenes in die buiteland en Afrikaans as plaaslik die uitgeweke/verworpe amptelike en onderrigtaal van sowel die 1996-Grondwet as die ANC-regime.

Sowel uitgeweke as plaaslike Afrikaners kan deesdae slegs in Afrikaans ‘n tuiste vind. Voorheen het Afrikaners in die land, naamlik blank-regeerde Suid-Afrika, en in bv die Afrikaanse kerke ‘n tuiste gevind. Dit is deesdae (eintlik) nie meer moontlik nie. Dikwels veral nie in die NG Kerk nie. In die Afrikaanse Protestantse Kerk darem nog wel. Vir ‘n uitstekende uiteensetting van die toestand waarin die NG Kerk verval het, lees Fanie Snyman se artikel, “Is die NG Kerk ‘n slagoffer van kerkkaping?” (LitNet 15.11.2019). Snyman het onlangs afgetree as die dekaan van die fakulteit teologie aan die University of the Free State. Voorspelbaar is hy deur ‘n swart kollega opgevolg. Kerklike agteruitgang weerspieël nie noodwendig (in dieselfde mate) ‘n vermindering in religieuse geloof/godsdienstigheid nie.

Homerus

Die Odyssee is die onderwerp van Cassin se eerste hoofstuk. Homerus word gewoonlik die legendariese (blinde) outeur van twee heldedigte, Die Illias en Die Odyssee (of Odusseia) genoem, maar die tekste het heel moontlik hulle oorsprong in die agste eeu vC in ‘n breër mondelinge antieke Griekse verband, wat dele van die hedendaagse Turkye ingesluit het. Die Illias het drie dae in die Trojaanse Oorlog (13de eeu vC) as onderwerp. Die Odyssee handel oor Odysseus, die koning van Ithaka, se dekade lange omswerwinge en stryd om ná die Trojaanse Oorlog tuis te kom, dus om na Ithaka terug te keer.

In hierdie gedig kan die oorsprong gevind word van die uitdrukking “Om jou tussen Skilla en Charibdis te bevind”, dus op ‘n plek waar daar gevare aan weerskante is. Skilla is ‘n gevaarlike rots of spelonk in die seestraat van Messina, geleë teenoor die draaikolk van Charibdis, gevolglik is daar bitter min ruimte vir ‘n veilige deurvaart per skip. In Die Odyssee is daardie gevaar egter ‘n mitologiese monster wat mens en dier verslind.

In Die Odyssee word van Odysseus se talle vertragings tydens sy terugreis na sy geboorteplek vertel. Sy ontworteling en sy geworteldheid word uitgebeeld. Vandaar sy nostalgie (170). “Nostalgia is what makes one prefer going home, even if it means finding there a time that passes by, death – and, worse, old age – rather than immortality. Such is the weight of the desire to return” (255). “Happy is he who, like Odysseus, can reach home … can return home, after a beautiful journey, full of hard-earned wisdom, to live with his kin for the rest of his life” (407). “Heimweh would be the desire to return, a closed-off nostalgia” (494). Odysseus sê: “What I want and all my days I pine for is to go back to my house and see my day of homecoming” (260). Odysseus vra: “What man has put my bed in another place?” (202, 372). Daar is baie mense wat ontuis voel as hulle nie in hulle eie bed slaap nie. Dit is die mag van die gewoonte; dus identifisering met die bekende, met dít waaraan jy gewoond of geheg geraak het.

“How do you know you are back home?” (266). Die antwoord is: Wanneer jy tuis voel. “One makes one’s bed, now one must lie in it, a bed rooted for good in the ground of the home. And that is how you know you are at home” (384). In daardie sin het Afrikaners voorheen dikwels gehoor dat hulle aan die suidpunt van Afrika geplant is. Dit is waar hulle wortel geskied en uitmuntende vrugte gedra het. Aan die eens blanke plaaslike universiteite, waar swartes geen bydrae hoegenaamd tot die vestiging en uitbouing daarvan gelewer het nie, eis swart studente deesdae alewig dat hulle op die kampus tuis wil voel. Dit bring mee dat die opset volgens hulle wense getransformeer word. Dit veroorsaak noodwendig dat die blanke studente, wat kultureel anders is en tradisioneel daar hoort, ontuis voel. Aan die wense van blankes steur die ANC-kruipende universiteitsowerhede hulle egter glad nie.

Vergilius

Die Aeneïs is die onderwerp van Cassin se tweede hoofstuk. Publilius Vergilius Marco (70-19 vC) is die outeur van die heroïese epos, Die Aeneïs, in Latyn, wat oor die tydperk ná die Trojaanse oorlog handel. Aeneas is die Trojaanse held wat die Romeinse ras sou grondves. In die gedig word daar, in navolging van Die Odyssee, van die legendariese Trojaanse perd vertel, ‘n houtperd waarin Griekse soldate in die 10de jaar van die Trojaanse Oorlog weggekruip het om hul vyande, die Trojane, in die huidige Turkye, ná ‘n beleg van nege jaar te uitoorlê om die stad, Troje, te verower. Kommuniste, soos Joe Slovo, wat in die jare dertig uit Litoue na Suid-Afrika geëmigreer het, en terroriste, soos Nelson Mandela, wat uit die tronk vrygelaat is, was in die spreekwoordelike Trojaanse perd wat toegelaat is om die blanke bewind in Suid-Afrika te vernietig.

Aeneas vlug met my vader, Anchises, op sy rug uit die brandende stad. Hulle skip word deur verskillende winde in talle rigtings rondgedryf, bv na Sicilië (waar Anchises sterf), Libië, Kartago, nogeens Sicilië en daarna Italië, naamlik die antieke staat Latium. Voor dit besoek Aeneas sy vader in die Onderwêreld, Hades, nadat hy die Styx-rivier oorgesteek het. Romulus en Remus, twee lede van die nageslag van Aeneas en sy Trojane, wat die Latynse kultuur, bv taal en kleredrag, aanvaar het, het die stad Rome op die Sewe Heuwels gevestig. Die bevolking van die staat Latium is uitgebou tot ‘n nasie wat eeue lank die Romeinse Ryk sou beheer. Hierdie epos het Dante Alighieri (1265-1321) se epiese gedig, La Divina Comedia (1320, 1ste druk 1472), beïnvloed, wat meegewerk het dat veral die Toskaanse taal mettertyd Standaard-italiaans geword het.

Aeneas, met sy vader op sy rug, simboliseer iemand wat alles in sy vermoë doen om, terwyl hy vlug en daar geen hoop meer is nie, soveel moontlik van sy vaderland met hom saam te neem (40, 557). Anders as Odysseus keer Aeneas nie na sy geboorteland, sy heimat, terug nie. “[His] uprootedness occurs without any hope of return” (528). Hy is uit Troje gegooi en moet as emigrant in ballingskap sy begeertes by sy nuwe situasie aanpas (533). “Aeneas will no longer speak Greek but Latin, the language of those who live where he is settling. Exile forces one to abandon one’s mother tongue. Land of the fathers, language of the mothers: it is with the language of the other that one makes a new fatherland for oneself” (626; ook 736). Hannah Arendt spreek hierdie standpunt lewenslank teë (kyk hier onder). Vir haar is haar moedertaal die maatstaf vir [onveranderbare] identiteit (670).

Uiteindelik vind Aeneas ‘n tuiste in ‘n nuwe taal, Latyn (45). Hy sê: “[I shall] make them all Latins with one language” (528, 670). “The Greek language … disappears … to the advantage of Latin” (676). Dit herinner aan die heillose ANC-regime wat daarop ingestel is om Afrikaans as amptelike taal, asook andersins (as hoftaal, as onderrigtaal in skole en aan universiteite, ens), te vernietig, met as ideaal een (swart) nasie en een taal, “globish, global English” (725), die absoluut teenoorgestelde van ‘n eie nasionale taal. “[But] the memory of the past remains present right up to the last breath [of Aeneas]” (539).

Hannah Arendt

Sommige idees van Hannah Arendt (1906-1975), ‘n Duitse jodin, is die onderwerp van Cassin se derde hoofstuk. Arendt was ‘n student van Martin Heidegger en Karl Jaspers (1883-1969). In 1937 het sy staatloos geword toe haar Duitse burgerskap nietig verklaar is. In 1941 het sy in Amerika aangekom en in 1951 ‘n Amerikaanse burger geword (736). Dit is net haar nasionaliteit wat verander het (803); nie haar identiteit nie. Terugskouend op haar lewe het sy gevra: “What remains? The language [German] remains” (731, 742, 797). “The German language is the essential thing that has remained and that I have always consciously preserved” (973). “I had to leave Germany more than thirty-four years ago; the mother tongue is the only thing you can take with you from the old country, and I have always tried to keep this irreplaceable thing intact and alive” (809).

Vir bannelinge is hulle moedertaal “the only part of their home they still mastered” (827). “Language is what counts” (803). Arendt sê: “There is a tremendous difference between your mother tongue and another language” (803). “It is the mother tongue, not the land of her fathers, that constitutes her homeland … It is the [her] resistance of German in New York [City] that makes the [her] homeland … Arendt teaches us how to detach language from people … The German language and the German people are not identical or superimposable in any way, especially not politically” (742). Arendt sê: “I … don’t believe that I have ever considered myself a German – in the sense of belonging to a people as opposed to belonging to a state” (758). “The country I like best of all is German [the language]” (1015).

Richard E Flathman verskaf die volgende samevatting van Arendt se denke, waaruit duidelik blyk waarom haar idees tersaaklik vir Cassin se boek is. “There is a breach between being and thinking, one that cannot be closed by thought … Modernity remains mired in egoism, a condition compounded by the emergence of a ‘mass’ that consists of bodies with needs temporarily met by producing and consuming and which demands governments that minister to these needs. In place of thinking, laboring, and the administration of things now called democracy, all of which are instrumental but futile as responses to the ‘thrown’ quality of our condition, Arendt proposed to those capable of it a mode of being, political action, that she found in pronounced form in pre-Socratic Greece and briefly and gloriously at the founding of the Roman and American republics … Political action requires the courage to initiate one know not what. Its outcome is power; not over other people or things but mutual empowerment to continue acting in concert and thereby to overcome egoism and achieve (positive) freedom and humanity” (The Cambridge Dictionary of Philosophy, 2nd edition, edited by Robert Audi, Cambridge University Press, 1999, p 43).

Na aanleiding van die vorige paragraaf kan ons sê dat daar ‘n verskil is tussen die omstandighede waarin Afrikaners hulle tans bevind en die situasie waarin hulle graag wil wees. Die swart massa gee voorkeur aan die bevrediging van hulle eie korttermyn behoeftes. Die ANC-regime probeer om veral ten koste van blanke belange aan hierdie eise te voldoen. Sonder hulle instemming en teen hulle sin woon Afrikaners in ‘n land waar beleid deur emosie eerder as rasionaliteit bepaal word. Om uit hierdie gat te kom, is politieke aksie noodsaaklik. Afrikaners sal êrens moet begin om iets te doen ten einde hulle vryheid en selfbeskiking, en dus ook hulle selftrots, terug te wen.

Arendt het Engels aangeleer, maar kon dit nooit aksentloos praat nie. Sy was ook nie in staat om idiomatiese Engels te skryf nie. Haar man het gepraat van “the ‘stammering existence’ of exiles who are tossed about ‘not only from country to country, but language to language'” (827). “Home is the language [German] that she lives in against all opposition … The German language was what remained of a homeland, or rather, what remained as a homeland. In so doing she taught us that there is a ‘difference between the mother tongue and the land of the fathers'” (45). “To have one’s language for a homeland, or even for one’s sole homeland. That is how, in dark times, Hannah Arendt, ‘naturalized’ in her American exile. Chooses to define herself: not in relation to a country or a people but only in relation to a language, the German language. It is this language that she misses and wants to hear” (175). “It wasn’t the German language after all that went mad” (973) – in die tyd van Naziisme. Insgelyks behoort Afrikaans nie op grond van apartheid veroordeel te word nie. In talle opsigte was apartheid ‘n sinvolle beleid. In elk geval, waarom word Engels nie verdoem op grond van imperialisme, kolonialisme, standbewustheid en die tradisionele Britse beleid van rasseskeiding nie?

Dit lyk asof hulle moedertaal, Afrikaans, tans die kern is van wat van Afrikaner-identiteit behoue gebly het. Maar dan Afrikaans wat dikwels en al hoe meer in ‘n hoogs onvolmaakte toestand verval het, naamlik in geradbraakte, Engels-besoedelde vorm. Ek het al dikwels maar tot dusver tevergeefs gepleit dat Afrikaansinstansies, soos die Afrikaanse Taalraad (ATR), die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, hulle verpligting ten opsigte van die gehalte van Afrikaans moet nakom deur veldtogte ten bate van taalsuiwerheid te voer. Om politieke redes, dus om politiese byderwetsheid, verseg hulle om iets hieromtrent te doen. Dieselfde geld iedere tans praktiserende dosent in die Afrikaanse taal- en letterkunde.

Vir my is en bly dit een van die verwerplikste, skandaligste en onverskoonbaarste verskynsels in die nuwe Suid-Afrika. Die ingesteldheid is: Soos Afrikaners kan Afrikaans maar in sy swernoot gaan. Daar is skynbaar geen voorgevoel of aanvoeling vir onherstelbare verlies, vir heimwee, nie. Omdat Afrikaanstaalsuiwerheid nie bevorder word nie, is nie net nieblanke sprekers al hoe meer geneig om Afrikaans met onnodige Engelse woorde te besoedel nie, maar ook blanke Afrikaanssprekers. Daar kan gerus in gedagte gehou word wat Victor Klemperer (1881-1960), ‘n neef van die dirigent Otto Klemperer, geskryf het: “Words can be like tiny doses of arsenic: they are swallowed unnoticed, appear to have no effect, and then, after a little time, the toxic reaction sets in after all” (984). Toksiese Afrikaans neem epidemiese afmetings aan sonder dat teenmiddels aangewend word. Die dood is so ‘n taal se voorland. Dit sal nie in ‘n erg geradbraakte toestand vir lank en sekerlik nie onbepaald naas Engels kan bly voortbestaan nie.

“What is it that makes a tongue a ‘mother tongue’? Perhaps the possibility of invention. Poetry, this making (of) language, is naturally bound up with the mother tongue” (827). “Rather than using it [the mother tongue] as a static totality, one produces it as energeia and not as ergon, as putting into work, into act and evolution. Arendt underscores this: ‘I do things in German that I would never allow myself to do in English'” (833). In sy voorwoord by die boek skryf Souleymane Bachir Diagne: “Cassin proposes … an important distinction between the language that we put into work as energeia, in which we allow ourselves to make radically new possibilities happen because we feel that we contribute to its continuous creation, and the language that we use, no matter how well we master it, as ‘a static totality’, which we perceive as already constituted outside of us, as an ergon” (51), dus as bloot ‘n gebruiksmiddel.

Myns insiens kan hierdie onderskeid veralgemenend op die Afrikaans van Afrikaners en bruin mense toegepas word. Afrikaners is Afrikaanslojaal en beskou hulle moedertaal as deel van hulle onvervreembare identiteit; selfs as die kern van hulle identiteit, dus as dít wat van hulle meer as enigiets anders Afrikaners maak. Afrikaners is noodwendig Afrikaanssprekend. Hulle gaan skeppend met Afrikaans om, soos oortuigend geboekstaaf in die taal- en literatuurgeskiedenis van en ander gepubliseerde werke in Afrikaans.

Bruin mense, daarenteen, is tot dislojaliteit jeens Afrikaans geneig. Afrikaans is nie deel van hulle onvervreembare identiteit nie. Baie van hulle het (met wisselende mate van sukses) verengels. Sedert 1994 neem hierdie verskynsel epidemiese afmetings aan. Bruin mense het dus nie noodwendig Afrikaans as moedertaal nie. Vergelykenderwys is hulle skeppende vermoë in Afrikaans skynbaar beperk. Weens hulle neiging tot Afrikaansdislojaliteit wend hulle hulle dikwels en al hoe meer tot die mondelinge en skriftelike gebruik van Engels as kenmerkende deel van hulle geradbraakte Afrikaans, pleks van skeppend met Afrikaans om te gaan. Afrikaans word verwater tot (bloot) ‘n kommunikasiemiddel pleks van dié vaandeldraer van hulle identiteit en kultuur te wees. Bruin mense behoort dus – al word daar kwantitatiewe redes ten gunste hiervan aangevoer – geensins met die toekoms van Afrikaans vertrou te word soos sommige Afrikaanse instansies, soos die ATR en die ATKV, by voorkeur en met oorgawe doen nie.

Wat by bruin mense met hulle Afrikaans/Engels, bv Kaaps, gebeur, is soos by die swart mense se Engels. Die taal word meganies, dus nie-skeppend, gereproduseer. “One cliché chases another” (833). Byvoorbeeld, ons moet kort-kort aanhoor die polisie werk “round the clock” om misdadigers op te spoor, maar dan verskyn daar foto’s van polisie-amptenare wat selfs in die dag tydens dienstyd slaap. “We become the way we speak” (840). “This lack of invention … rides on the back of a lack of taste” (871). Ons moet liefs energiek en skeppend en met eerbied met taal omgegaan. Tans kan dit meer as ooit met reg van die Afrikaans van alle Afrikaanssprekendes verwag word.

“One’s tongue is no longer a ‘mother tongue’ as soon as one no longer invents anything in it, indeed, … it is no longer even really a ‘tongue’ for all those politically and humanly idiotic listener-transmitters crippled by banalities and lacking in any reflective or critical judgment” (854). “When the mother tongue is no longer a tongue, a language, there is only propaganda. In fact, it is because we have a responsibility with regard to the words we use, the responsibility of an author and not of a receiver or communicating go-between, that language is also something political” (859). Dat dit só is, spreek uit wat hier bo staan. ‘n Prominent kenmerk van die kultuurkrisis of -oorlog is “mass culture, mass communication: when the language in general use is no longer anything but globish, that is, global English, and there is no longer any invention, taste, or judgment” (871).

Cassin beklemtoon “the absolute singularity of the mother tongue” (883). “The mother tongue is unlike any other tongue not simply because it is the language or tongue of the mother – and one has only one mother – but because it constitutes one’s very being through a complete imbrication [“oorvleueling”] of nature and culture. How can we ‘have’ a language without ‘being’ in the process constituted by this sonorous mix of signifiers and life, that is, without having us?” (876). Haar verwysings na “being” (syn, dus wat is) kan op Heidegger se invloed dui. Heidegger het die Griekse taal as van wysgerige aard beskou. Hy skryf: “The extent to which this is so depends on the depth and power of the people and the race who speak the language and exist within it” (900). Dit kan ontologiese nasionalisme genoem word (906). “Das Vaterland ist das Seyn selbst” (913) – Die vaderland is syn as sodanig.

Ons lewe in ‘n era waarin geradbraakte Afrikaans en vlakheid van denke, bv onkritiese konformering met modeverskynsels, hoogty vier. Kan ons wat hierop volgend van Homeros en Grieks gesê word steeds van Afrikaanse skrywers en Afrikaans sê? Ek dink nie so nie. “Just by reading Homer one learns to speak Greek, to speak well, to think correctly, to be cultured, to be civilized, in short, to be men, and one thereby differentiates oneself from ‘barbarisans’ (we would say ‘foreigners’), that is, from those we cannot understand, who do not speak Greek, who commit barbarisms in language, who are neither cultured nor civilized, who are not men like us, who are not men at all … Isn’t belonging to a people precisely this imbrication of language and culture?” (888).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.