Karel Combrinck: Sowetokoors

Deel op

In een van haar eerste amptelike optredes het die nuut aangewese president van die Europese Kommissie, Ursula von der Leyen, onlangs ‘n portefeulje (agentskap of ministerie) geskep “om die Europese lewenswyse te beskerm”, ‘n maatreël wat plaasvind binne die raamwerk van immigrasiebestuur. In die eerste plek is dit duidelik dat as sy haar hiervoor beywer, dit noodsaaklik geword het, maar verder is dit insiggewend dat haar inisiatief ‘n storm van verontwaardiging in die Europese media en politieke kringe ontketen het wat haar genoop het om die naam van die portefeulje te verander na “Portefeulje om die Europese lewenswyse te bevorder”(!).

Meer en meer koerante en skrywers begin wys op die geleidelike verswelging van Wes-Europa deur immigrante uit Afrika en die Moslemlande. Dapper enkelinge wat probeer wal gooi, doen dit in die aangesig van ‘n arsenaal van links geïnspireerde staatswette : wette teen diskriminasie, teen haatspraak, teen rassisme, teen islamofobie, teen verwysings na instroming, besetting, omgekeerde kolonisering en wat ook al nog deur die verwronge verbeeldingskrag van linkses en politiek korrektes (dieselfde ding) voortgebring kan word. Praatjies en lesings by universiteite wat op die ontstellende ontwikkelings wys, word verbied deur aanwending van die goedkoop foefie dat die spreker nie die “openbare veiligheid” kan waarborg nie. Elemente wat inderdaad die openbare vrede versteur, word egter wel toegelaat.

‘n Goeie voorbeeld is Thilo Sarrazin. Sarazin is ‘n Duitse ekonoom met ‘n indrukwekkende loopbaan in die akademie, die politiek, verskeie Duitse ministeries, waaronder die Ministerie van Finansies en verskillende groot sake-ondernemings, banke en nog meer. Ten tye van sy gedwonge aftrede in 2010 was hy op die direksie van die Deutsche Bundesbank, oftewel die Duitse Reserwebank. Waarom dan was sy aftrede gedwonge ? Wel, die rede was dat hy in 2010 ‘n boek gepubliseer het getiteld, Deutschland schafft sich ab (Duitsland skaf homself af) wat handel oor ? … die verswelging van die Duitse samelewing deur ? … Moslem immigrante. Sarrazin is terstond uit sy pos by die Reserwebank ontslaan en het nooit weer enige ander noemenswaardige posisie beklee nie. Enkele dapperes is daar dus wel, maar hulle eindig op die ashoop van die Europese samelewing.

Groot dele van talle Europese stede is vandag niks anders nie as lokasies, kompleet met dwelms, geweld, diefstal, beskadinging en roof van openbare eiendom, besetting van geboue, misdadigheid van allerlei aard, maer honde, smerige strate, haarkappery op die sypaadjies, kortom al die handelsmerke van die Afrika-kultuur waarmee ons in Suid-Afrika daagliks saamleef. Die Europeërs vind dit kleurvol. Honderdduisende van hulle onderneem nogtans jaarliks die lang reis na Suid-Afrika om ‘n pelgrimsbesoek te bring aan Kaylelitsha en Soweto. ‘n Mens wil naar word.

Elders op Praag is die onbeteuelde instroming van immigrante uit die Derdewêreld na Wes-Europa breedvoerig bespreek. Hierdie verskynsel is ‘n simptoom van die siektetoestand wat in Wes-Europese lande vaardig is en waaraan die regerende elite ‘n groot aandeel het. Sommige van hulle is bloot onwillig of onmagtig om die instroming — wat inderdaad ‘n oorstroming geword het — hok te slaan, maar ander moedig die instroming van swartes en Moslems selfs aktief aan omdat hulle dit sien as ‘n bron van goedkoop arbeid om die rykes nog ryker te maak. Die prominente Britse skrywer en joernalis, Douglas Murray wys in sy boek, The Strange Death of Europe daarop dat die dood van Europa ‘n bewuste keuse van Europeërs is. Miskien is dit meer korrek om te sê dat dit die keuse van die Europese heersersklas is. Maar hulle begin stadigaan die prys vir hulle onbesonnenheid betaal.

As die Europese regerende elite dan willoos, hulpeloos en gelate toekyk hoe hulle beskawing letterlik besig is om te verdwyn, is dit egter nie so gesteld met die algemene bevolking nie. In talle Europese lande is daar ‘n onmiskenbare reaksie onderweg van bevolkings wat behoudend en nasionalisties is, asook keelvol vir wat besig is om met hulle te gebeur. In Frankryk, byvoorbeeld is die Rassemblement National van Marine Le Pen reeds die grootste enkele party. In die pas afgelope verkiesings in Spanje het die regsgesinde VOX-party se steun vermeerder van 24 setels in die parlement tot 52 setels. Daar is ook sterk en groeiende nasionalistiese partye in Skotland, Oostenryk, Italië, Pole,en Hongarye en hulle steun neem by die dag toe. Die Brexitbeweging kan op sy afkophoendermanier ook beskou word as ‘n nasionalisiese reaksie. Die regerende elite lê natuurlik allerlei struikelblokke op die weg van behoudendes om op demokratiese wyse vordering te maak. In die jongste algemene verkiesing in Frankryk het die party van Marine Le Pen 23% van die totale stemme gekry, maar slegs 8 van die 577 lede van Nasionale Vergadering is afkomstig uit haar party, oftewel ietsie meer as 1%. Demokraties!

Die sogenaamde ” mandaat ” wat die verkose leiers van die bevolking ontvang, is bloot ‘n mandaat in naam. In werklikheid regeer die Europese politici met ‘n mandaat van die groot finansiële instellings, onder meer die banke. Die wette waarvolgens Europeërs leef, word deur die Europese parlement gemaak of goedgekeur en die Europese Parlement en Kommissie word totaal deur die geldmagte voorgeskryf. (Sien in hierdie verband ook my rubriek oor die seekatvampier van 27 Julie 2016). Hierdie werklikhede is stadigaan besig om deur te dring tot die bewussyn van die algemene Europese bevolkings.

Dit skyn dus asof Europa begin ontwikkel in die rigting van ‘n gesplete samelewing met aan die een kant mense wat nog waarde heg aan die nasiestaat, Europese tradisies en kultuur en aan die ander kant die globaliste wat aan Europese tradisies geen erg het nie, met hulle gevolg van bruikbare idiote in die media en elders agterna.

Daar is Europese denkers en skrywers wat selfs begin dink in die rigting van “paralelle instellings” en ” paralelle geografiese gebiede “, ‘n aanduiding van hoe ver die verrotting reeds gevorder het. Lappies aarde op ‘n vasteland met ‘n beskawingsgeskiedenis van duisende jare ? Lyk alteveel na apartheid in die hart van Europa. Net in hierdie geval sou dit eerder  blankestans wees as bantoestans. Die enigste aanduiding van paralellisme vir die oomblik is egter nie dié van beleërde Europeërs nie, maar van juis van die nuwe derdewêreldse intrekkers. Groot gedeeltes van veral stadsgebiede in Engeland en Frankryk en ander Europese lande is reeds vir die polisie, ambulansdienste, posdienste en ander staatsinstansies onbegaanbaar en word letterlik deur vreemdelinge, insluitend dwelmhandelaars en soortgelyke kriminele elemente, regeer.

Die oomblik waarop  ‘n vloed gekeer moet word, is wanneer die eerste krakie in die damwal verskyn. As die wal eers gebreek het, is dit te laat. Ons Nederlandse vriende sal begrip hê vir hierdie analogie  “Parallelle oplossings” kan miskien in Suid-Afrika ‘n goeie idee wees, maar in Europa? Is die “parallelle oplossings” nie maar net ‘n poging om nuwe dammetjies te bou nie wat op hulle beurt ook gaan breek, soos ons in die Wes-Kaap reeds ondervind het: eers kom die goedkoop arbeid, dan die vrouens en ooms en tantes en nefies en niggies en die swerms kleintjies en siedaar! ons is kop onder water. Ons het dit alles reeds beleef : oorwig van getalle, stemreg, mag, oorheersing en verval. Suid-Afrika bly maar eenmaal ‘n patroon van wat wêreldwyd gebeur.

Nuwe dammetjies is net nie die antwoord nie. Die enigste antwoord is ‘n reusagtige poging om die damwal te herstel en die vloed om te keer. Maar eers moet die Europeërs die skade van die dekade lange breinspoeling herstel voordat hulle hierdie stroom gaan keer. So’n proses neem egter tyd en tyd is juis dít wat kortkom.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.