Leon Lemmer: Marlene le Roux van ArtsCape-faam as toonbeeld van aktivisme

Deel op

Johannes Nicholas (Nico) Malan (1903-1981) was ‘n dekade lank (1960-1970) die administrateur van Kaapland. In 1971 is die Nico Malan-teater in Kaapstad geopen as teenhanger vir soortgelyke instansies in die ander provinsies, bv die Staatsteater in Pretoria. Die aanbiedings in hierdie teaters was van hoogstaande gehalte, bv klassieke musiek, opera, ballet en drama. Die Europese herkoms van die room van die Suid-Afrikaanse bevolking is in die aanbiedings weerspieël, gevolglik was daar vanselfsprekend ook heelwat Afrikaanse produksies. Ná 1994 het ook hier, soos elders in die land, agteruitgang ingetree. In 2001 het die Nico Malan-teater ArtsCape geword. In dieselfde jaar het Marlene le Roux (gebore in 1967) daar diens aanvaar. In 2015 het sy die uitvoerende hoof van ArtsCape geword. Sy het twee baccalaureusgrade (BMus en BEd) verwerf. Die Cape Peninsula University of Technology het in 2017 ‘n akademies waardelose eredoktorsgraad aan haar toegeken.

Soos die geval deesdae met so baie instansies is, het ArtsCape eintlik net hierdie Engelse naam. Die benaming en letterlike vertaling, KunsteKaap, word selde gehoor. In die telefoongids word ‘n mens van KunsteKaap na ArtsCape verwys. Deesdae is dit hoofsaaklik in Engels dat dinge daar gebeur. Die webtuiste is uitsluitlik in Engels. Nogtans is daar borge soos die ATKV, Die Burger, Media24 en Rapport. Le Roux kan direk verantwoordelik vir die verwaarlosing van Afrikaans, veral Standaardafrikaans, by ArtsCape gehou word. Desnieteenstaande was sy die voorsitster van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, wat (ironies) “Sigbaar Afrikaans” as leuse het. In 2019 het Le Roux (voorspelbaar) ‘n direksielid van die ATKV geword. Van die Afrikaanse Taalraad (ATR) het sy die ATR-Koker-toekenning ontvang. Na aanleiding van wat hier onder volg, kan/moet ‘n mens egter ernstige bedenkinge oor Le Roux se Afrikaansgetrouheid hê. Een van die sigbare prestasies van Le Roux by ArtsCape is ‘n borsbeeld van Adam Small, wat in 2017 onthul is. Daar is klaarblyklik geen planne by ArtsCape om enige Afrikaner op ‘n soortgelyke manier te vereer nie.

Vanuit ‘n Europese of Westerse perspektief kan ‘n mens met reg verwag dat die uitvoerende hoof van ‘n instansie soos ArtsCape daartoe verbind moet wees om die trotse kulturele tradisie van die Nico Malan-teater voort te sit deur werke van bv die hoogste letterkundige gehalte aan die publiek bekend te stel. Dit is glad nie die geval nie. In die praktyk word naas ‘n ooraanbod in Engels, voorkeur aan geradbraakte Afrikaans, bv die brouseltaal Kaaps, bo Standaardafrikaans gegee; vandaar die verering van onder andere Adam Small. Le Roux se uitgangspunt is aktivisties. Dit gaan vir haar, volgens eie erkenning, veral om die sogenaamde benadeeldes, kwesbares, gemarginaliseerdes. Haar uitlatings is deursprek met politieke aktivisme. Sy hou van woorde soos transformasie en bemagtiging. Sy is ook ‘n propagandis vir ander soorte aktivisme, bv vroueregte en die regte van gestremdes.

As kind het Le Roux polio gehad, gevolglik is haar linkerbeen verswak. In verskeie inskrywings op die internet word apartheid die skuld vir haar gestremdheid gegee. Hierdie (wan)voorstelling het sy oorsprong by Le Roux (kyk hier onder). Volgens haar mag ArtsCape nie elitisties wees nie. Sy gee met oorgawe voorkeur aan polities-betrokke opvoerings. Hulle kan maar van ‘n anti-blanke en sekerlik van ‘n anti-Afrikaner aard wees, maar nie anti-bruin of anti-swart nie.

ArtsCape het as’t ware ‘n verlenging van Le Roux se oortuigings/vooroordele/subjektiwiteit geword. ‘n Mens sou verwag dat sy deur belangegroepe, bv gesofistikeerde lede van die publiek en die borge, tot groter ewewig en ‘n groter mate van objektiwiteit verplig word. In plaas van haar leiding te bevraagteken en te kritiseer, word sy op die hande gedra en vereer asof haar oriëntasie reg en onbesproke is. Om nieblank, naamlik bruin, ‘n vrou en gestremd te wees, verseker dat Le Roux kritiekloos wegkom met blatante eensydigheid, wat in die openbare belang eerder kragdadig bestry behoort te word. Ek verwys vervolgens na drie bronne ter stawing van my voorafgaande karakterisering.

Adam Small-huldigingsbundel

WAM Carstens en Michael le Cordeur het as redakteurs die volgende bundel gepubliseer: Ons kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans (Tygervallei: Naledi, 2016, 601p). ‘n Bespreking van die boek is op Praag (2.04.2017) gepubliseer. Met die uitsondering van Carstens en Danie van Wyk is daar egter nie ‘n enkele bydraer tot die boek wat hom/haar teen die verengelsing van bv die Universiteit van Wes-Kaapland en die Universiteit Stellenbosch uitgespreek en verset het nie. ‘n Mens het dus hier in oorweldigende mate met dislojales jeens Afrikaans te make. Le Roux is een van hulle. Sy is ‘n oudstudent van Michael le Cordeur (p 258) en ‘n mens weet dus eintlik wat om van haar te verwag. Sy word soos volg voorgestel: “Marlene le Roux beskerm en bevorder Afrikaans … Le Roux is ook ‘n Afrikaanse skrywer van formaat” (284). Sy bevorder egter by voorkeur die brouseltaal Kaaps pleks van Standaardafrikaans. Carstens en die ATR wil oorgraag polities byderwets wees. Volgens hulle is Afrikaans vroulik. As feminis beskou Le Roux Afrikaans (296) en ArtsCape (290) as vroulik.

“Voor Suid-Afrika se oorgang na ‘n inklusiewe demokratiese regering in 1994, was kunsonderrig nie beskikbaar vir die meerderheid leerders in Suid-Afrika nie. Om hierdie opvattings en houdings te hervorm en te help met nasiebou, het KunsteKaap … verskeie programme ontwikkel en gevestig om sosiale transformasie te fasiliteer en om brûe te bou oor die talle aspekte wat Suid-Afrikaners verdeel het” (285). Met ander woorde, die ou Suid-Afrika was sleg en die nuwe Suid-Afrika is goed. ArtsCape se opdrag en funksionering word as polities, spesifiek ANC-gedienstig, vertolk. Die kunste word dus met politieke motiewe aangebied en bevorder.

Vóór 1994 was kunsonderrig egter ook vir die oorgrote meerderheid blanke skoliere nie beskikbaar nie. Die enkele blanke staatskole wat kuns as vak aangebied het, moes dit sedert 1994 in feitlik alle gevalle weens finansiële beperkings laat vaar. ‘n Mens kon dus verwag dat Le Roux ‘n spesiale poging sou aanwend om die huidige benadeeldes, die blankes, tegemoet te kom, maar die teenoorgestelde is eerder waar. Sy het (slegs) ore en oë vir die belange van nieblankes, veral bruines. Kyk na foto’s 39 tot 46 oor ArtsCape se bedrywighede. Dit lyk asof daar net drie blankes is onder die dosyne mense wat afgeneem is.

“Gedurende die apartheidsera het die kunste, kultuur en erfenisgoedere hoofsaaklik binne die wit minderheid van die Suid-Afrikaanse bevolking tot sy reg gekom … Die uitdagings vir beleidmakers in 1994 het hoofsaaklik gefokus om dieselfde hulpbronne beskikbaar te stel vir alle Suid-Afrikaners en om sodoende aan alle kultuur- en erfenissektore gelyke geleenthede te bied. Die Nasionale Witskrif op Kuns, Kultuur en Erfenis van 1996 het die beleid en raamwerk vasgestel, om die visie van die nuwe demokrasie te verwesenlik via alle Suid-Afrikaners. Weens hierdie redes is dit van kardinale belang vir KunsteKaap om ons land se geskiedenis volkome [!] te verstaan, sodat ons kan saambou aan die toekoms en erfenis van ons land” (285). Hoe mooi klink dit nie! Maar hoe vals is dit nie! Dit is onverdunde ANC-retoriek. Dit gaan nie om alle Suid-Afrikaners en alle kultuurgroepe nie. Dit gaan om ‘n ongelyke speelveld te skep waarin die belange van die blankes, veral die Afrikaners, verwaarloos word.

In ‘n eindnoot staan: “KunsteKaap strewe daarna om die beleid soos vasgestel deur die regering toe te pas” (298). Met ander woorde, Le Roux en ArtsCape kruip agter die heillose ANC-regime aan. Nêrens spreek kameraad Le Roux kritiek op die ANC uit nie. Haar uitgangspunt en oortuiging is: “Die Nico Malan-teater (en KRUIK [Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste]) het … ‘n apartheidsgeskiedenis wat getransformeer moes [!] word” (286). Volgens die ANC het (die nuwe) Suid-Afrika se (ná-koloniale) geskiedenis in 1994 begin, voorafgegaan deur ‘n vreedsame oorgang. Dít is die ANC se “volkome” (volledige, volmaakte, suiwere) verstaan van die geskiedenis. Dat daar terroriste was wat op groot skaal (onskuldige) bloed vergiet en dood en verwoesting gesaai het, word verswyg. Daar was skynbaar net voorbeeldige vryheidsvegters wat deur ‘n wrede, immorele, blanke regime bloedig onderdruk en onregverdig benadeel is.

Le Roux lê die ANC se rassediskriminasie teen blankes in die allermooiste voue. “Die politieke transformasie in Suid-Afrika en die nuwe regering in 1994, asook ‘n kombinasie van gemeenskapsdruk en politieke druk het KRUIK sowel as ander uitvoerende kunsterade in Suid-Afrika gedwing om die nodige veranderings te maak wat deursigtigheid en toeganklikheid weerspieël. Hierdie druk vir verandering was gebonde aan die dalende staatsubsidie en gevolglik die onsekerheid rakende befondsing” (286). Wat Le Roux verswyg, is dat die ANC hier dieselfde laai as met bv die universiteite uithaal. Die uitvoerende kunste en tersiêre onderwys moet aan die heillose ANC-regime se wense voldoen anders word hulle staatsubsidie, wat sedert 1994 in reële terme drasties verminder is, weerhou. Alle instansies wat van owerheidsfinansiering afhanklik is, word deur die ANC in sy (kommunistiese) ideologie ingedwing. Dat dit teenstrydig met die sogenaamde vryheid is wat in 1994 aangebreek het, kom skynbaar nie by Le Roux op nie.

Die ANC-regime verwag voortaan van ArtsCape, anders as in die goeie ou dae, om self sy produksies te befonds. Al wat die ANC-regime onderneem, is om te sorg vir die instandhouding van die bestaande infrastruktuur. Vir die produksies moet ArtsCape self die fondse vind. Die pryse van die kaartjies van diegene wat op- en uitvoerings bywoon, word nie meer gesubsidieer nie. ‘n “Gebruiker-betaal-beginsel” geld (286). Dus, ten spyte van die hoër belastinginkomste wat die ANC-regime in vergelyking met die NP-regering ontvang, is minder staatsgeld as vóór 1994 vir bv die kunste en tersiêre onderwys beskikbaar. Dit is omdat ons te make het met ‘n buitensporig vergrote en uitsonderlik onbekwame staatsdiens, oorlaai met heeltemal teveel personeel, wat verkwistend vergoed word. Wanbestuur en korrupsie dreineer die staatskas. Die ANC is lief vir naamsveranderinge. Die nuwe Suid-Afrika kan hernoem word as bv Korruptië/Corruptia, Rommelië/Junkia of Misdadië/Crimia. Le Roux spreek geen kritiek uit op die armoedige staatsubsidie van ArtsCape nie. Sy erken eerder solidariteit met ‘n politieke doel: “om ons demokrasie te konsolideer” (288).

Soos die ANC-regime het ArtsCape deesdae met “uitdagings” te make (287), dus situasies waarvoor hulle nie die bekwaamheid het sodat die probleme na behore opgelos kan word nie. In die onverkwiklike situasie waarin ons ons sedert 1994 bevind, word op tipiese wyse die volgende kenmerke van “die jeug” gelys: tienerswangerskappe, werkloosheid, MIV/vigs, vroeë skoolverlaters, betrokkenheid by misdaad, dwelmmisbruik, bendebedrywighede, huishoudelike geweld (287). Wat nogeens duidelik is, is dat die aandag nie op alle jeugdiges toegespits is nie, dus nie op die blankes nie, maar op die nieblankes, sowel swart as bruin. Dit is hulle wat “bemagtig” moet word, dus “veral die leerders wat [na bewering] in die verlede toegang [tot die opvoedkundige veld] geweier is” (289).

Die kunste het glo “die potensiaal … om sosiale transformasie te fasiliteer en om brûe te bou oor die baie aspekte wat ons voorheen geskei het” (290-291). “Die kulturele lewe [word] versterk deur middel van innoverende bemagtigingsinisiatiewe” (291). Hulp word aan “benadeelde kunstenaars” gebied (291) pleks van aan belowende, talentvolle kunstenaars, sonder inagname van ras, etnisiteit, kleur of geslag. Ras- en etniese bewustheid word eerder verskerp: “Nog ‘n nuwe tendens by die KunsteKaap is om toenemend bewustheid en waardering vir Khoi-San-identiteit en -marginalisering by die jongmense te skep” (292). ‘n Engelse produksie is hierop toegespits en nog ‘n Engelse een vier ons vryheid (295).

Le Roux verskaf verdere inligting oor ArtsCape se 2016-program as “‘n tipiese voorbeeld van wat KunsteKaap aanbied” (292). Hiermee lewer sy myns insiens verdoemende getuienis oor wat ArtsCape met die geld van die belastingbetalers en borge aanvang. In albei gevalle is groot bedrae danksy die suksesvolheid van blankes beskikbaar, al word hulle belange deur ArtsCape gemarginaliseer. Die skoolvoorgeskrewe werke wat genoem en aandag aan bestee word, is Fiela se kind (dus die onmenslikheid van apartheid), Krismis van Map Jacobs (dus die letsels van apartheid en die Distrik Ses-verskuiwings), die Xhosa-werk Amaza (ter viering van Afrikadag) en twee van John Kani se Engelse werke (apartheid en die vryheidstryd) (292-293); dus nie ‘n enkele werk wat blank-georiënteerd is nie, om van nie-polities en pro-blank nie te praat nie. ‘n Jazz-fees is aangebied om die Sharpeville-slagting te herdenk (294); nie die Bloedrivier- of Marikana-slagting nie.

Hemelbesem (Simon Witbooi) is gekies as die aangewese persoon om in ‘n musiekproduksie die storie te vertel “oor ons gedeelde geskiedenis en hoe taal gebruik kan word om versoening tussen kulture te bewerkstellig” (294). Dit lyk asof niks by ArtsCape van linkse of ANC-politiek vry te pleit is nie. “Ons wil teater as ‘n voertuig gebruik [misbruik] om menswaardigheid, trots, wedersydse respek en selfstandigheid op alle vlakke van die samelewing teweeg te bring en te vestig as ‘n norm” (294). Afrikaans het glo “wel die mag … om nasiebou te bevorder en diverse kulture saam te bind” (296).

‘n Vrouefees – nie ‘n mens- of mansfees nie – word jaarliks aangebied om geslagsgelykheid te bevorder (296). Die Internasionale Dag vir Gestremdes word ook jaarliks gevier om “die stigmas af te breek wat gestremdheid omring” (296). Daar is ‘n nasiebouprojek wat aan ‘n “inheemse musiekgroep” ‘n platform verskaf (297). Dit lyk asof daar in die ArtsCape-aanbiedings niks is wat vry van aktivisme te pleit is nie. Le Roux noem hierdie eensydigheid “‘n kaleidoskoop van Suid-Afrika se kultuurlandskap” (297). “Ek glo in die kunsteprogramme wat KunsteKaap aanbied omdat dit ons die geleentheid bied om sosiaal-relevante kwessies aan te pak” (297). Inderdaad! Dit gaan nie om die kunste ter wille van die kunste nie, maar by uitstek om die propagering van ANC-politiek.

Russel Botman-gedenklesing

Die bruin Russel Borman was die eerste “swart” rektor van die Universiteit Stellenbosch (US). Anders as in die geval van al die blanke US-rektore, word die nalatenskap van Botman jaarliks tydens ‘n gedenklesing in herinnering geroep. Seker des te meer omdat Botman berug is vir die aktiewe manier waarop hy Afrikaans as US-onderrigmedium ondermyn het. Vir die besonderhede hiervan lees Pieter Kapp se boek, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere verhouding, 1911-2011 (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, 261p – Praag 6.04.2014). Marlene le Roux het die vierde Russel Botman-gedenklesing op 18 Oktober 2018 gelewer. Die teks is op LitNet (19.10.2018) gepubliseer. Ek verwys na die bladsynommers van my uitdruk om die opsporing van verwysings te vergemaklik.

Botman was ‘n militante ANC-aktivis, gevolglik begin Le Roux heel gepas met ‘n verwysing na “mede-aktivis Russel Botman … Botman was bo alles ‘n aktivis … ‘n ewige aktivis” (p 2). Ja, eerder as ‘n rektor. Insgelyks is Le Roux bo alles ‘n aktivis eerder as die uitvoerende hoof van ArtsCape. Botman se vrou, Beryl, word ‘n “aktivis uit eie reg” genoem (2). Sy het haar doktorale proefskrif in Engels geskryf, al is Russel en Beryl van huis uit Afrikaans. Hulle het ook gepoog om hulle kinders Engels groot te maak. Desnieteenstaande was Russel van 2006 tot 2011 die voorsitter van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), waartydens hy die fees, soos die US, meer “inklusief” probeer maak het (4). Die KKNK moes glo “n bevrydende rol” vervul (5). Daar is skynbaar niks wat nie deur Botman of Le Roux verpolitiseer kan word nie. Hy wou sowel transformasie as gelykheid “verdiep” (3), met as implikasie dat daar meer militant teen die blankes gediskrimineer behoort te word en die speelveld al hoe meer ongelyk ten koste van die blankes gemaak moet word.

By Le Roux is daar geen tekort aan die gif wat sy met oorgawe ten koste van blankes, veral Afrikaners, uitstrooi nie. Sy gebruik die geykte truuk om met die oog hierop die woord apartheid pleks van blankes/Afrikaners te gebruik: “Apartheid het ons deur wetgewing soos diere gegroepeer wat na die slagpale [dus die dood] gelei word. Soos slagdiere is ons verdeel, geklassifiseer [doen die ANC nie steeds dieselfde nie?] en van ons natuurlike sosiale menswees ontneem” (20). “Dit was die sing van mekaar se liedere, maar ook ‘n verset teen die onmenslike brutaliteit van ‘n politieke sisteem, in dieselfde gees en as ‘n inisiatief soortgelyk aan dié van die vroue was destyds deel gehad het aan die historiese optog in 1952 teen die onmenslike dompasstelsel. [‘n uitdrukking van Le Roux se feminisme.] Ons het onsself gewy aan ‘n gemeenskaplike saak: om die kategorieë wat verdeel en ontmens deur kultuur en sang te verbreek; om onsself vry te spreek. Dit was ook Russel Botman se visie, ‘n aktivis wat kultuur en sang gesien het as ‘n brug om die verdeeldheid van die verlede te oorkom. Die skep van ‘n menslikheid van deernis en respek. Deur sy betrokkenheid het Russel Botman gestaan vir gelyke regte vir toegang tot die kunste en teologie, vir die regte van vroue en van LGBTI-persone. Sy nalatenskap was die stryd vir ‘n menslikheid vir almal” (4).

Die titel van Le Roux se voordrag, “Van ontmensliking tot hoop”, word soos volg verduidelik. “Die meeste van ons is afkomstig uit ‘n wreedaardige verlede wat ons as burgers van hierdie land ontmens gelaat het. Hoe beweeg ons van daardie wreedheid na ‘n ruimte waar ons onsself kan beskou as burgers van hoop? Hoe beweeg ons … na ‘n ruimte waar daar ‘n tuiste vir elkeen van ons met ons diverse identiteite is? [Die ANC-utopie.] Hoe skep ons ‘n hawe van hoop waar ons stories gehoor en geïntegreer word en waar mense besef dat ons veel meer is as ‘n spesifieke taal, kultuur of godsdiens?” (2). Soos Botman, poog Le Roux om haar hiermee van Afrikaans en Afrikanerkultuur te distansieer. “Die Hoop Projek [is] in Julie 2010 deur Russel Botman geloods” (4). Die oorsprong van sy hoop-begrip het hy in marxistiese literatuur gevind. Soos Botman reeds in 1974 “gedig” (eintlik gepropageer/gewens) het: “There’s hope in revolution” (3).

Le Roux haal ‘n 2003-berig oor haarself soos volg goedkeurend aan: “She criticises productions of the performing arts for being ever too Eurocentric, and blames the government … who continue to fund Eurocentric state theatres. In short, Le Roux supports a theoretical school that feels that ‘white people’ with their ‘Afrikaner culture’ are undermining South African culture” (5). In 2006 het Le Roux haar soos volg oor bv die KKNK se uitreikprogram uitgelaat: “Hierdie rondgaande verhoë kan verseker dat die uitvoerende kunste deur die eng kultuurraamwerke breek waarbinne baie van ons, veral Afrikaners, steeds vasgevang sit, en dat ons bevry word van die ongeldige aannames en vrese wat ons steeds jeens mekaar koester. Kunstefeeste soos die een in Oudtshoorn het die potensiaal om ‘n samebindende fees van alle kulture, deur alle kulture vir alle kulture te word” (5). Dus, net soos die US nie (net of oorwegend) ‘n Afrikaanse universiteit moet wees nie, moet die KKNK (nie net of oorwegend) ‘n Afrikaanse fees wees nie. Hiervolgens het Le Roux reeds in 2003 en 2006 haar ideologies-betrokke benadering tot die kunste openlik gepropageer. Desnieteenstaande is sy ‘n dekade later as die uitvoerende hoof van ArtsCape aangestel.

Oor een saak kan daar geen onsekerheid wees nie: Veral vir Afrikaners het Le Roux haar mes in. Met die oog hierop moet sowel die onderwys as die kunste (tot die uiterste) misbruik word. “Indien dit ons erns is om te verseker dat histories verontregte gemeenskappe die vrugte van die vryheid pluk waarvoor hulle gestry het en ons ‘n samelewing wil word wat op sterk demokratiese waardes geskoei is, durf ons nie die belangrike rol wat holistiese onderwys en die kunste hierin kan speel, negeer nie” (6).

As uitgesproke ANC-aktivis stel Le Roux die volgende vier vrae: “Wat beteken ‘n verdieping van gelykheid vir persone betrokke by die kunste? Hoe herstel ons menswaardigheid deur teater? Hoe verdiep ons die transformasie van ons samelewing deur die kunste? Hoe kan ons aktiviste van hoop wees?” (6). Die Le Roux-manier van doen, word verduidelik na aanleiding van wat ArtsCape in September 2018, Erfenismaand, aangebied het. Sy begin deur gunstig te verwys na die sogenaamde Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) as “‘n stuk teater” waar “vertelling van die [ongetoetste] waarheid [!] … deel van ‘n soeke na geregtigheid” was. “Watter rol kan ons speel in die herstel van menswaardigheid en om elke individu te oortuig dat ons erkenning gee aan hul verhaal?” (6). Waar gaan soek Le Roux ‘n verhaal wat ArtsCape kan vertel? By die 85-jarige Katrina Esau, glo “die laaste oorblywende vlotspreker van die San … taal” (6). Hieruit is ‘n ArtsCape-verhoogproduksie, Katrina, die dansende taal, geskep. Kirvan Fortuin, “‘n opkomende kunstenaar”, gebore in Macassar, maar wat ook in Nederland werk, het as choreograaf opgetree. Sy kommentaar op die stuk word egter in Engels gelewer (7).

Die volgende dag het ArtsCape ‘n Afrikamusiekkonsert met inheemse instrumente aangebied, met Zinzi Nogavu as sangeres. “Sosiale kwessies is aangespreek” (7). Daar was ook ‘n Nelson Mandela & Albertina Sisulu Eufeeskonsert met kunstenaars uit Gugulethu. “Gugulethu … wat bekend is vir ‘n kollektiewe weerstand teen apartheid, met spesifieke verwysing na die ‘Gugulethu Seven’ – sewe jong mans wat as lede van Mkhonto weSizwe (MK), die gewapende vleuel van die African National Congress (ANC), oorval en vermoor [! – pleks van gedood] is deur die Suid-Afrikaanse sekuriteitsmagte op die oggend van 3 Maart 1986” (7-8). Dít is die soort aanbeveling wat vir Le Roux onweerstaanbaar is. Sy skaar haar by die terroriste. ArtsCape móét pro-ANC-propaganda daaroor versprei. “Dit was dus gepas dat hierdie huldigingskonsert ter ere van apartheidsvegters, soos Tata Madiba en mevrou Sisulu, aangebied sou word in ‘n pertinente ‘township’ as ‘n sprekende voorbeeld van die terugeis van ‘Ons Trots’ as ‘n vry nasie” (8). In Erfenismaand 2018 het ArtsCape dus die WVK, die San, Afrikamusiek en “Gugulethu se erfenis en … kultuur” gehuldig. Hiervolgens is daar geen sprake dat Westerse, Europese, blanke en Afrikanerkultuur in Erfenismaand deur ArtsCape gehuldig word nie.

“Waarom doen ons al hierdie dinge?” In ArtsCape se 2017-Transformasieplan (eintlik vanselfsprekend in Engels) staan: “The ArtsCape Theatre Centre has a vision to be the world’s [!] leading centre of performing arts and creative excellence. Our passion is to be an inclusive space for all people [including Afrikaners?] from every corner of our province irrespective of race, creed and religion … towards building a Socially Cohesive Nation. Our aim is to bring people together with a singular goal: Creating shared and safe spaces for people to come together!” (8). Dit is vir my duidelik dat ArtsCape in hulle produksies veilige plekke vir nieblankes skep; dus dat geen kritiek op en niks negatiefs oor nieblankes geduld word nie. Blankes, veral Afrikaners, daarenteen, kan maar tot vervelens toe, bv onder die dekmantel van apartheid, sonder beperking verdoem word. Le Roux erken dit eintlik wanneer sy waaragtig sê: “As UH [uitvoerende hoof van ArtsCape] streef ek ook daarna om téén die nalatenskap van apartheid te werk” (8). Sy wil as ‘n “agent van verandering” optree (8). Dit is “die stukrag en motivering vir my toewyding tot verandering” (8).

Volgens Le Roux was Botman “getuie van die gevolge van ‘n onregverdige taalbeleid, en as rektor, tesame met sy kollegas, word hy die geleentheid gegun om hierdie onregverdigheid reg te stel. Hul oogmerk is geregtigheid in Afrikaans – gelyke toegang tot alle geleenthede. Dit is nie ‘n taal wat in die gedrang is nie, maar die toekoms van ‘n land. Dit is nie ons vrese wat bedreig word nie, maar ons hoop. Afrikaans is ‘n sleutel van die 21ste eeu wat kan bydra tot die ontwikkeling van ander Afrikatale – ‘n bydrae wat Engels nie kan maak nie” (9). Myns insiens was en is daar geen werklike ongeregtigheid in die voortbestaan van ‘n eentalige Afrikaanse US nie omdat daar talle eentalige Engelse universiteite is.

Dit is gewoon onmoontlik dat ‘n Afrikaanse US die toekoms van die land en “ons hoop” kan bedreig. Op grond waarvan moet Afrikaans, maar nie Engels nie, tot die ontwikkeling van swart tale bydra? In elk geval, sou die afskaling van Afrikaans, soos dit aktief deur Botman aan die US bedryf is, die taal beter toerus om ‘n bydrae tot die ontwikkeling van swart tale te lewer? By implikasie praat Le Roux Botman se verengelsing van die US en die afskaling van Afrikaans goed. Hierdie voordrag was vir Le Roux die ideale geleentheid om voorkeur vir die behoud van Afrikaans as akademiese taal aan die US uit te spreek. Le Roux doen dit nie omdat sy nie Afrikaansgetrou is nie. My aanvoeling is dat daar by Le Roux, soos by Botman, ‘n dislojaliteit jeens Afrikaans en ‘n onkritiese voorkeur vir Engels is. Dít is ‘n opvallende kenmerk van die oorgrote meerderheid van die bruin elite.

Daarna volg afdgesaagde ANC-retoriek: “Ja, Afrikaans is deur die voormalige Nasionale Party se apartheidsbedeling op nie-Afrikaanssprekende leerlinge afgedwing” (9). Word Engels nie deesdae in groter mate en al hoe meer deur die ANC-regime aan sowel Afrikaanse skoliere as studente opgedring nie? “Ja, geweld en onreg is in Afrikaans gepleeg” (9). Het die ANC/UDF nie in sowel Engels as Afrikaans onreg gepleeg nie? Die MK-terroris, Basil Kivedo, spog oor “hoe ek sabotasie in Afrikaans gepleeg het, hoe ek in Afrikaans die kleefmyn gemonteer en gedetoneer het” (Carstens en Le Cordeur, p 485). Le Roux sê: “Afrikaans gee ons die ruimte en die geleentheid om die grense en onregmatighede van die verlede reg te stel” (9).

Sowel Engels as Afrikaans kan deur die ANC gebruik word om verskoning vir sy wan- en misdade te vra, maar dit word nie gedoen nie. Albei tale kan ook gebruik word om die blankes, by uitstek die Afrikaners, te bedank omdat hulle Suid-Afrika oor eeue tot die ontwikkeldste en voorspoedigste land in Afrika opgebou het. Dank is ook aan die blankes verskuldig vir al die goeie dinge wat hulle, sonder om moeg te word, gedoen het en voortgaan om te doen, maar daar is geen sprake van sodanige erkentlikheid by Le Roux of die ANC nie. Le Roux beweer eerder: “Afrikaans is gedurende 1994 stelselmatig bevry” (10) – blykbaar van apartheid.

Aan die einde keer Le Roux terug na Botman se hoop-manie, wat maar ‘n hopelose saak is in die toestand waarin die land sedert 1994 verval het: “Ons het ‘n punt in ons geliefde land bereik waar ons as ‘n nasie op ‘n reis moet gaan van brutaliteit na hoop – hoop wat in aksie omgesit moet word, waar dit nie net gaan oor die gesondword van herinneringe van die verlede nie, maar oor sosiale geregtigheid” (11). Ek ervaar die nuwe Suid-Afrika egter as meer brutaal en voller van ongeregtigheid as die ou Suid-Afrika. Hoeveel geregtigheid is daar in bv wanbestuur, korrupsie, rommelstatus, die misdaadepidemie en onteiening sonder vergoeding?

Fair Saturday-toekenning

Teen die tyd dat ‘n mens by ‘n derde bron van Le Roux se menings kom, besef jy hoe vlak van gees sy is. Daar is geen diepe of oorspronklike denke nie. Daar is eerder besete ANC-gesindheid aangedryf deur vooroordele. Soos die ANC verkondig sy inklusiwiteit, asof almal deur ArtsCape bevoordeel word. Daar is by haar geen begrip vir die doelbewuste uitsluiting/ontheemding van die gesofistikeerde, beskaafde, Europeesgeoriënteerde samelewingsektor wat die teaterkompleks opgerig en in bedryf gestel het en wat steeds die voortbestaan daarvan met hulle finansiële ondersteuning, bv as belastingbetalers en borge, moontlik maak nie. Le Roux bedank nie die blankes vir die luukse teaterkompleks wat hulle opgerig het en wat sonder vergoeding deur die ANC onteien is nie. Nog minder vra sy verskoning daarvoor dat sy, in navolging van die ANC, die teater nou as ‘n anti-blanke ruimte, veral anti-Afrikaner-/anti-Boer-fasiliteit, misbruik. Sy is so idee-arm dat sy in haar toespraak heelwat herhaal wat in haar twee voorafgaande bronne staan. By wie sy aansluiting vind en uit wie se idees sy inspirasie put, blyk bv uit die Nelson Mandela- (p 1) en Desmond Tutu-aanhaling (6).

Le Roux het op 24 Junie 2019 ‘n Fair Saturday-toekenning in Bilbao in Spanje ontvang. Die teks van haar toespraak is op LitNet (18.07.2019) gepubliseer. Ek verwys na die bladsynommers van my uitdruk om die opsporing van verwysings te vergemaklik. Hou in gedagte dat sy hier plaaslike toestande beskryf waarmee die buitelandse gehoor nie (goed) bekend is nie. Dit bring die verpligting mee dat die spreker haar so waarheidsgetrou moontlik behoort uit te druk.

“Fair Saturday is described as ‘a day to improve the world through arts and culture'” (1). Soos die marxiste wil Le Roux Suid-Afrika ooreenkomstig die wense van die ANC verander. Met die oog hierop word die uitvoerende en ander kunste, met ArtsCape as naaf/sentrum, misbruik. “It is only fair [!] to ask the pertinent question: have we been able to improve South Africa through arts and culture? And more specifically, is it [at] all possible to restore the humanity and hope of the people of South Africa through the Arts, now living in a democratic, post-Apartheid society?” (1). Die veronderstelling waarvan sy uitgaan, is dat Suid-Afrika voorheen, soos apartheid, ongekwalifiseerd sleg was, bv onmenslik en sonder hoop, en dat die kunste (mis- of) gebruik kan word om die land te verbeter.

Hoekom is ArtsCape, afgesien daarvan dat Le Roux nou die uitvoerende hoof is, soveel beter as die Nico Malan-teater? “The dilemma was that the old Nico Malan Theatre was a ‘white space’ staging performances for a predominantly white audience, with a focus on ‘high’ art meaning classical art forms originating in Europe, with for example signage only in Afrikaans and English” (2). Is die huidige opset noodwendig beter, waar die standaard afgewentel is na die smaak en begripsvermoë van die gepeupel, Engels die oorheersende taal en Afrika die voorkeurplek van oorsprong van opvoerings geword het? Behoort daar nie eerder geleenthede gebied te word aan enigeen om kennis kan maak met vergestaltings van hoër en beter kuns nie?

Le Roux se aandrang dat die kunste die ANC se ideologie moet onderskryf, is myns insiens ‘n onding wat uitgeroei moet word. Kuns moet nie op- en uitgevoer word om die politiek van die oomblik te propageer nie. Grootse kuns is tydloos. In Le Roux en die ANC se retoriek: Kuns hoef nie ‘n nasie te bou en gewonde, benadeelde mense se pyn te verlig en hulle te probeer heelmaak nie. Kuns kan as kuns beoefen word en die publiek moet vry wees om dit na goeddunke volgens eie behoeftes te vertolk. Blatante, ongenuanseerde politiek moet nie (ongevraagd) aan hulle opgedring word nie.

Le Roux se familie en “millions of South Africans … were treated as second rate citizens under an Apartheid state that dehumanised people – taking away their dignity … A lot has changed since 1971 to 2019, but many wounds remain unhealed, many stories are untold, many people are still invisible. That is why it is more accurate to speak of a post-1994 South Africa than a post-Apartheid South Africa – many of the legacies of Apartheid still wreaks havoc in our society, keeping people apart, making people invisible” (2). “As CEO, I have striven to reverse the legacies of Apartheid” (3).

Le Roux sal dus verseker voortgaan om haar amp te misbruik ten einde haar kruistog teen apartheid (dus teen blankes) voort te sit, pleks van die kunste sonder aansien des persoons te bevorder. “I want to assist in being an agent of change. The change … encompasses an awareness of all persons” (3), maar klaarblyklik nie almal in dieselfde mate nie, bv eerder nieblankes as blankes, eerder vroue as mans, eerder gestremdes as niegestremdes, ens.

“Flowing from my gender and disability activism, … my political activism against Apartheid and my work within the Performing Arts, I have proposed a model in my Master’s thesis” (4). Dit is nie duidelik of dit ‘n voltooide projek is en of daar nog aan die verhandeling gewerk word nie. Daar sal egter ‘n punt moet kom waar aktivisme nie alles vir haar vermag nie. Sy behoort pogings aan te wend om vry van ideologie daadwerklik te presteer. Sy beweer in die samelewing en in teaters “exclusion, inequality and discrimination [are] at the intersection of race, class, ability (vs disability), location (rural/urban/informal), gender, age, sexual orientation, mobility (transport) and even connectivity (internet or not)” (4-5). Daar is niks oorspronkliks of opspraakwekkends hierin nie; niks wat selftevredenheid regverdig nie.

Ek onthou dat die NP-regering tydens die polio-epidemie, soos die gebruik tydens alle epidemies was, op groot skaal teenmiddels aan al die bevolkingsgroepe verskaf het. Le Roux beweer egter dat die polioteenmiddels net by die kliniek vir blankes beskikbaar was en nie by die kliniek vir nieblankes nie, gevolglik het polio haar gestremd gelaat (2-3). Die vraag is of versuim (deur ‘n ouer) of nalatigheid (deur die kliniek) pleks van apartheid nie eerder die skuld moet kry nie. Maar apartheid is deesdae die aangewese en handige sondebok vir ANC-aktiviste.

Sy haal dieselfde sinne uit die 2017-Transformasieplan van ArtsCape aan as in die tweede bron hier bo. Die 1996-Grondwet, soos deur die ANC-meerderheid in die parlement aanvaar, het as rigsnoer vir die ArtsCape-plan gedien. Daarom word gepoog “to create a necessary transition and transformation from a bureaucracy that encouraged segregations and inequality to one which is inclusive and people-driven” (5). Waarop dit neerkom, is dat ‘n era van vryheid aangebreek het waarin daar oral gedwonge rasse-integrasie is. “Performances, artistic workshops and exchange programmes … encourage activism and awareness of integration” (5). “Our goal is to harness the arts, culture and heritage for creative expression, education and training, job creation and the eradication of poverty … An essential aspect of the transformation process [is] enhancing equality of people and the arts. Then we can create a space for all people” (5). Eintlik hoef ArtsCape bloot te verklaar dat hy die ANC in alles ter wille is. As die gewaande gelykheid van alle mense nie in die praktyk verwerklik word nie, kan en sal apartheid, dus die blankes, die skuld daarvoor kry.

Haar ophaal van die Afrikamusiekkonsert is grootliks ‘n woordelikse vertaling van wat in die vorige bron hierbo staan. ‘n Soortgelyke herhaling is die geval Katrina Esau. Wat nie in die vorige twee bronne staan nie, is: “ArtsCape is the only theatre to have a dedicated Islamic prayer room in the building” (6). Vir die VGK sal Le Roux seker graag dieselfde doen, maar ek dink nie sy sal geneë wees om, weens hulle “apartheidsondes”, ‘n versoek van die NG Kerk of die APK gunstig te oorweeg nie. Die VGK het Engels tot sy enigste sinodale rekorderingstaal verklaar. As Le Roux Afrikaansgetrou was, sou sy haar al teen die VGK se verwaarlosing van Afrikaans as kerktaal uitgespreek het. Sover ek weet, het sy dit nie gedoen nie. Myns insiens sou sodanige beswaar onversoenbaar met haar talle ANC-getroue aktivismes wees. Aktivisme ten gunste van Afrikaans is nie een van Le Roux se manies nie, al verkies die ATKV en ATR om haar as sodanig voor te stel.

ArtsCape dien as voetuig vir Le Roux se feminisme. “Every year in August ArtsCape and Women Zone coordinate a Humanity Walk which kicks of[f] our Women’s and Humanity Festival. All are invited to join the walk … Afterwards there are workshops offering free legal advice, free HIV/Aids screening en a flurry of activities on the piazza in front of ArtsCape” (6). Hierdie aktiwiteite behaag die ANC, maar wat het hulle met die (uitvoerende) kunste te make? ‘n “Absolutely Fabulous Drag Show” word ook deur ArtsCape aangebied (6), wat in ‘n mate geregverdig kan word vanweë die kostumering, sang en danse, maar dit kan dekadensie aanmoedig.

Die betekenis van die modewoord ubuntu word goedkeurend deur Le Roux uit ‘n aantal bronne aangehaal. Dit het glo “the capacity to restore humanity and dignity” (7), dus twee van die dinge wat glo deur die slegte invloed van apartheid afgebreek is. “The journey to restore the humanity and hope of people through the Arts after Apartheid (post-1994), is however not cheap or sentimental. It is also a quest for justice – a journey towards an economically inclusive and socially just society” (7). Hiertoe is Le Roux verbind, met as ideaal “making all of us more human” (8), ná die beweerde ontmensliking van apartheid.

Sy verseker haar gehoor in Spanje dat die stryd teen apartheid nog nie afgehandel is nie en deur haar voortgesit word. “The success of Apartheid in South Africa is that we still do not have real human connections. We still live in separate neighbourhoods [as in other countries] and we still go to different churches on a Sunday [likewise in other countries]. At ArtsCape we have been on a difficult, but also hopeful journey of creating a space where everyone [including Afrikaners?] has a sense of belonging, where you can listen to stories of the slow violence of Apartheid [and the terrorism of the ANC/UDF/SACP?], and also to stories of hope [and the marginalisation of Afrikaners and Afrikaans?] performed through visuals, song, dance and music. We are on a journey of connecting people – Whites, Blacks, Coloureds and Indians, disabled and abled-bodied, rural and city, township and affluent neighbourhoods, Muslims, Christians and Jews, straight, gay and transgender – a journey of becoming more human, a journey of hope” (7).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.