Leon Lemmer: Die verpolitisering van universiteite

Deel op

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) was ‘n baanbreker op die gebied van afstandsonderrig. In 1946 het Unisa begin oorskakel van bloot ‘n eksaminerende instansie na die verskaffing van tersiêre onderrig oor die pos, waarmee in 1947 begin is. Aanvanklik was daar groot skeptisisme oor of so ‘n onderneming genoeg studente sou trek en in hoeverre die kwalifikasies naas dié van residensiële universiteite deur werkgewers en ander universiteite erken sou word. Die persoon wat Unisa meer as enigiemand anders op ‘n gesonde akademiese grondslag geplaas het, is Samuel Pauw, die rektor van 1956 tot 1972. Sy uitgangspunt was dat die onderrig wat Unisa aanbied en die standaarde wat hy stel, eerder beter as net so goed soos dié van ander universiteite moet wees.

Die geskiedenis van die eerste eeu is deur Maurice Boucher geboekstaaf: Spes in arduis: ‘n Geskiedenis van die Universiteit van Suid-Afrika (Pretoria: Unisa, 1973, 404p). Die teks is ook in die oorspronklike Engels gepubliseer. Vir elke vraestel in elke kursus in elke vak/leergang het die student gedrukte studiegidse en studiebriewe ontvang. Hy moes die voorgeskrewe boeke aankoop en die aanbevole boeke by die Unisa-biblioteek in Pretoria leen en terugbesorg. ‘n Doeltreffende posdiens het suksesvolle afstandstudie moontlik gemaak. Gedurende die jaar moes die student ‘n bevredigende punt vir sy verpligte werkopdragte behaal om toelating tot die eksamen aan die einde van die jaar te kry. In die eksamen is vasgestel hoedanig die student se kennis en insig is, asook of hy daardie kennis kon vertolk en toepas. Soos dit in Unisa se leuse gestel word, het afstandstudie van die student inderdaad moed teen die styltes geverg. Maar geeneen kon toe met reg meer aanvoer dat hy nooit die geleentheid gehad het om ‘n universitêre kwalifikasie te verwerf nie.

Deesdae is afstandskommunikasie baie gouer en makliker en word afstandsonderrig toenemend deur residensiële universiteite aangebied. Sonder elektroniese uitvindings soos rekenaars en die internet sou Unisa in die nuwe Suid-Afrika, ná die ineenstorting van die posdiens, nie kon voortbestaan nie. Die onderrig is in sowel Afrikaans as Engels aangebied. Wat personeel (dosente en administratiewe amptenare) betref, was Unisa tot 1994 oorwegend ‘n Afrikaanse universiteit. Fakulteits- en senaatsvergaderings is feitlik uitsluitlik in Afrikaans gehou. Sedertdien het transformasie plaasgevind. Engels-eentaligheid het ingetree en sowel die akademiese as administratiewe aansien van Unisa het ernstige en heel moontlik onherstelbare skade gely.

Ek skryf oor die goeie ou dae toe Unisa-studente eerder deeltyds as voltyds studeer het. Vanweë die groot aanvraag vir sy onderrig, plaaslik en in die buiteland, kon Unisa vakke, bv in vreemde tale (soos Spaans), aanbied wat aan geen ander plaaslike universiteit lewensvatbaar sou wees nie. Maar daar was ook ander innovasies. Byvoorbeeld, in die wysbegeerte/filosofie was daar twee hoofvakke: Geskiedenis van die Wysbegeerte (GW) en Sistematiese Wysbegeerte (SW). In GW is die vak chronologies aangebied: 1ste jaar (1 vraestel) Antieke/Griekse wysbegeerte. 2de jaar (2 vraestelle) Middeleeuse wysbegeerte en Thomisme en Nieu-Thomisme. 3de jaar (3 vraestelle) Moderne wysbegeerte tot die 19de eeu. In SW is die vak ingevolge wysgerige subdissiplines aangebied: 1ste jaar (1 vraestel) Inleiding/Aard van die wysbegeerte. 2de jaar (2 vraestelle) Formele logika en Wetenskapsleer/Metodologie. 3de jaar (3 vraestelle) Kennisleer/Epistemologie, Metafisika, Etiek, Waardefilosofie/Aksiologie: Estetika of Staatsfilosofie.

Eksamen kon in talle sentra dwarsoor die land en in sommige hoofstede in die buiteland geskryf word. In Kaapstad, in die jare vyftig, het die Universiteit Kaapstad die eksamenlokaal in Oranjezicht verskaf. ‘n Bejaarde dame, mevrou Adendorf, het as opsiener opgetree. Op ‘n dag sê sy dat sy nog altyd gewonder het wat die verskil tussen historiese en sistematiese wysbegeerte is. Op ‘n ander dag is sy, met die dag se eksamenskrifte by haar, op die stasie dood aangetref.

‘n Rooms-Katolieke Belg, Herman de Vleeschauwer (1899-1986), het in 1923 ‘n doktorsgraad verwerf en in 1934 ‘n professor in Gent geword. Hy was van 1951 tot 1966 ‘n Unisa-dosent en het die Geskiedenis van die Wysbegeerte aangebied. Hy het ‘n spekulatiewe, kontinentale benadering tot die wysbegeerte gehad. Die ateïstiese AMT (Bert) Meyer (gebore in 1922) was van 1959 tot 1971 die dosent in Sistematiese Wysbegeerte. Daarna het hy na Nederland geëmigreer. Hy het die wysbegeerte Anglo-Amerikaans en analities benader. In Pieter Duvenage se boek, Afrikaanse filosofie: Perspektiewe en dialoë (Bloemfontein: Sun Media, 2016, 306p – Praag 16.04.2017) is daar ‘n hoofstuk oor Bert Meyer.

Wat duidelik is, is dat Unisa-studente met twee volwaardige voorgraadse hoofvakke omvattender as aan residensiële universiteite met die wysbegeerte kennis gemaak het. In daardie stadium is die aanbieding van die wysbegeerte aan die Afrikaanse universiteite, soos in die Middeleeuse, sterk deur godsdienstige/teologiese oorwegings beïnvloed en daardeur gerig en selfs oorheers. Dit is waarom Bert Meyer sy pos aan die Universiteit Pretoria ontruim het om eerder ‘n Unisa-dosent te word. Unisa-studente is, soos dit hoort, aan verskillende benaderings blootgestel: bv in die wysbegeerte Rooms-Katoliek en kontinentaal teenoor ateïsties en analities. Maar selfs daardie opset was nie vry van onregverdigbare religieuse beïnvloeding nie. De Vleeschauwer het aan die druk van die Rooms-Katolieke Kerk (RKK) toegegee deur voorgraads ‘n hele vraestel aan die basis van RKK-teologie te wy: die wysbegeerte van Thomas van Aquino (1225-1274), dus wesenlik die verchristeliking van Aristoteles (384-322 vC), en sy navolgers, die Nieu-Thomiste, tot in die 20ste eeu.

Dit het onder meer die volgende hoogs ongewenste gevolg gehad: Ten spyte van die rojale voorgraadse aanbod het die leerplan die studie van die geskiedenis van die wysbegeerte, met die uitsondering van Nieu-Thomisme, nie verder as die 19de eeu gevoer nie. Eers in die eerste honneursvraestel het 20ste eeuse/hedendaagse wysbegeerte aan die beurt gekom. Daar was vier honneursvraestelle. Hierna was daar nog nie ‘n einde aan die buitensporige vereistes wat Unisa aan ‘n student gestel het nie. Die magisterleergang in die wysbegeerte het uit twee vraestelle en ‘n volwaardige verhandeling bestaan, terwyl die residensiële universiteite net ‘n verhandeling vereis het. Deesdae word die magisterleergang aan die plaaslike universiteite dikwels afgewater tot slegs vraestelle of vraestelle en ‘n skripsie van beperkte omvang, soortgelyk aan ‘n vakkundige artikel.

Ek het grootgeword in die dampkring van ‘n protestantse predikant vir wie die Roomse gevaar die grootste onding op aarde was. De Vleeschauwer het die ryke kultureel-geestelike verskeidenheid van die Middeleeue, wat hy van 400 tot 1400 nC gedateer het, aan my bekend gestel. Dit was nie donker eeue soos dit dikwels in protestantse geledere voorgestel word nie. In daardie era is die grondslag vir die moderne tyd, die Renaissance, Verligting, Protestantisme, moderne wetenskap, nasionale state en tale, ens, gelê. Die latere geskiedenis van Europa, die Weste en die wêreld kan nie afdoende sonder kennis van die Middeleeue verstaan word nie.

Dit bring my by Milo Yiannopoulos (gebore in 1984) se boek, Middle Rages: Why the battle for Medieval Studies matters to America (Dangerous Books, 2nd edition, 2019, 56p; Amazon Kindle $3.44). Die boek is deur die outeur self gepubliseer. “This story was originally slated to appear in one of the country’s most prestigious higher education publications … Two days before publication, I was abruptly informed that the story would not run as intended, with no further explanation offered” (Kindle 288). Die eerste weergawe het in 2018 op die outeur se webwerf, dangerous.com, verskyn.

Ek het by ‘n vorige geleentheid oor Milo geskryf. Ek haal ‘n paragraaf aan: “JH du Toit het reeds oor die Milo-manie op Praag (11 Februarie [2017]) geskryf. Milo lyk en is in vele opsigte anders as die stereotiepe beeld wat aan regses gegee word. Dit maak dit moeilik om hom sonder meer te ondersteun. Lees bv die omvattende Wikipedia-artikel. Maar Milo het veral op Amerikaanse universiteitskampusse ‘n oorwegend heilsame invloed, waar – soos deesdae in Suid-Afrika – regse standpunte feitlik nooit gehoor word nie. In hierdie konteks word Hannah Arendt (1906-1975) soos volg deur Milo aangehaal: ‘The aim of totalitarian education has never been to instill convictions but to destroy the capacity to form any'” (Praag 7.10.2017).

Intussen het Milo verder op sy eiesoortige pad gevorder. “Milo lives in New Jersey with his husband, John” (Kindle 778) – waarskynlik ‘n skuilnaam. Die boek is aan John opgedra (11). “I am married to a black man from Jersey” (251). Sy lewensmaat is dus soos dié van die vigslyer en gay-aktivis, Edwin Cameron, wat teen wil en dank op aandrang van Wim de Villiers as kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel is om as rolmodel vir studente en andere te dien. Cameron is ‘n US- en Unisa-oudstudent. Volgens Nelson Mandela is Cameron “one of South Africa’s new heroes” (Wikipedia). Wat goed genoeg vir Mandela is, is (vanselfsprekend) goed genoeg vir die getransformeerde US.

In sy nuwe boek toon Milo weer sy omvattende ingeligtheid en sy buitengewoon goeie insig, al beweer die Wikipedia die teenoorgestelde. Hy slaag daarin om op ‘n sprankelende manier sy gedagtes te verwoord. Vryheid van denke en uitdrukking bly sy hoofokkupasie eerder as konserwatiewe, behoudende denke – daarvoor is hy in te vele opsigte te radikaal. Maar hy het fundamenteel reg met: “Wat deesdae regstelling, korrektheid en byderwetsheid genoem word, is eintlik almal polities oordraagbare siekte; tentakels van dieselfde sindroom” – soos ek dit in die vorige rubriek oor Milo gestel het. Hy dink, soos ek, dat ‘n universiteit nie net verskillende standpunte moet toelaat nie, maar dit daadwerklik moet aanmoedig. “Wanneer ‘n universiteit soos Stellenbosch [egter] deesdae diversiteit propageer, gaan dit om die obsessie om ‘n verskeidenheid rasse en kulture op die kampus te hê; nie om die studente ook aan nie-linkse, bv regse, idees bloot te stel nie.”

Milo se benadering tot die Middeleeue is ewewigtig en myns insiens korrek. Wat aan veral die Amerikaanse universiteite gebeur, is dat Medieval Studies verdag gemaak en gekritiseer word omdat dit glo te wit en manlik is. Wat verlang word, is inklusiwiteit, oftewel diversiteit en multikulturaliteit; dus die soort pleidooie wat al hoe meer ook op die plaaslike universiteitskampusse opklink. Dit is “die ander” wat deel van die hoofstroom wil wees en dus ook gekanoniseer moet word; dus nie net (of veral) blanke mans nie, al het die ander nie (in dieselfde mate) gepresteer nie. Die sogenaamde benadeeldes koester slagofferstatus en wil hê dat die geskiedenis herskryf moet word sodat die rol wat hulle voorgangers na bewering gespeel het, ook die aandag geniet wat hulle glo verdien.

Dit is eintlik soortgelyk aan die besware teen kolonialisme. Die geskiedenis moet verwring word totdat dit in ooreenstemming met hedendaagse ideologiese oortuigings is. Die kere toe hieraan toegee is, “accurate understanding of the past and its greatnesses have given way to scapegoating, victimology, and ressentiment” (21). “The intersectionalists are actually the specific heirs to a Western egalitarian tradition with no parallels. To turn on the culture that produced you and label it the origin of all evil is a sort of oedipal auto-cannibalism that literally cuts off inspiration at its source” (657). Hedendaagse Amerikaanse universiteite is feitlik per definisie anti-Amerikaans, dus dislojaal, onpatrioties en deurspek met kulturele marxisme.

“Medieval Studies is an outlier in the academy. Although the foundational texts of medieval history are also the foundational texts of the academy itself, it has always been on the margins as a discipline. Since the founding of the Medieval Academy in 1925, it has been an interdisciplinary endeavor including language, liberature, history and philosophy” (199). “Medieval Studies would be a glistering jewel in the social justice diadem, because study of the Middle Ages is fundamental to understanding how the Christian West emerged, and how dramatically its character differs from other cultures.* Read properly, medieval history is about the divine comedy of Christianity – and about the rise of its great eastern antagonist, Islam. Europe’s self-criticism is what medieval studies is largely about, so it stands at the heart of current debates about Europe and western civilization,including the current moral panic about white supremacy” (332). Onderwerpe soos “white ethno-states” (369), nasionalisme, skone kuns en religie, veral die Christendom, kan nie vermy word nie. Hulle almal het tot die Weste se sukses bygedra (337). Volgens die kritici is die studie van die Middeleeue ” a safe space to be elitist, a safe space to be white, a safe space to be Christian, Eurocentric, misogynist” (354). Wat deesdae, in sy geheel gesien, onaanvaar van die Middeleeue is, is sy “unbearable whiteness” (390). “Europe is too ‘white-centric'” (405).

[* Ingevolge sosiale geregtigheid is bv mense, religieë en kulture gelyk en fundamenteel eenders. Die andersoortigheid van die Weste mag dus nie uitgelig word nie. Maar: “The historical fact remains that from around 1000 CE western European Christian society developed in ways connected to, but distinct from, other parts of the world” (354). Die linkses se eintlike grief is “the cultural and economic superiority of the West” (396).]

In die boek word daar veral verwys na die smeerveldtog wat teen ‘n gerekende historikus in Middeleeuse Studie gevoer word: die “white, Republican-voting Catholic convert” (136) Rachel Fulton Brown, verbonde aan die University of Chicago. “Here we have several common features of academic decay: the politization of a scholarly field, the arousal of tribal resentments, allegations of white supremacy, a victim of color, a white perpetrator, a protest letter with many, many signatures, and a compliant media” (27). Die “victim of color ” is ‘n ander dosent in Middeleeuse Studie, die Koreaan Dorothy Kim.

Die beswaarskrif teen Brown is deur 1 500 dosente ondersteun. Sy word beskou as “being insufficiently woke on matters of social justice” (131). “Sharp-elbowed young professors know that a preoccupation with social justice is both fashionable and advantageous. It can also excuse you from the perky business of serious scholarly work” (220). “They signed the letter because they wanted to signal their virtue, because they wanted their colleagues to think well of them, or because they wanted to ease for a moment their liberal guilt” (37). Onderliggend is daar identiteitspolitiek en politieke korrektheid, waarvolgens nieblankes verheerlik en blankes verdoem word. Dit is ‘n voorbeeld van die “anti-intellectual ossification into which the humanities have deteriorated” (32).

Baie van die akademiese euwels wat in hierdie rubriek aan bod kom, is reeds in my vorige rubriek oor Michael Rectenwald genoem (Praag 20.07.2019). Milo verwys spesifiek na die geval Rectenwald (622). Daar is talle ooreenkomste tussen die stryd wat Rectenwald gevoer het en dié van Brown. In die genoemde vorige rubriek het ek ook bronne gelys wat handel oor die oorweldigende linksheid van Amerikaanse universiteite. Die aanslag teen Middeleeuse Studie is deel hiervan.

Brown se misstap is dat sy in 2015 ‘n inskrywing op haar blog met die opskrif, “Three cheers for white men”, gepubliseer het. “She was responding playfully to the ‘dead white male’ trope in academia, gently pointing out that the wicked Caucasian dudes of social justice folklore were responsible for, among other things, the development of chivalry, consensual marriage and, to some extent, the success of feminism itself” (49). Wat Brown na bewering via haar blog gedoen het, is “‘facilitating cyber-harassment’. In the topsy-turvy world of social justice, reporting is abuse, journalism is harassment and political dissidence is a capital crime” (478).

“Brown’s colleagues declared war on her, incensed by her refusal to back down and apologize” (55). Sy het ‘n permanente doseerpos, maar haar werkgewer het die kritiek op Brown as baie ernstig beskou, maar tog besluit om haar nie te ontslaan nie. Dit is te danke aan die feit dat die University of Chicago sterker akademies en (dus) minder polities byderwets as baie (of die meeste) ander Amerikaanse universiteite is. Maar: “How can the University of Chicago, rightly lauded for its attitude to academic freedom and freedom of speech, win the fight against trigger warnings and safe spaces if other universities don’t recognize what it means to stand for academic freedom against the social justice warriors? Or for truth against social justice?” (725). “To this day, the University of Chicago remains silent on the matter, and her [Brown’s] department [history] has done nothing besides issue a boilerplate statement distancing themselves from Fulton Brown’s personal opinions. The Medieval Academy of America, an academic body to which most medievalists belong, didn’t punish Kim, instead, they rewarded her. Kim was given free membership … for life” (189).

Die gebeure dui op hoe toksies die atmosfeer aan universiteite is; hoe kronies siek die akademie geword het. Dit verduidelik bv waarom daar by die dosentekorps van die Universiteit Stellenbosch geen daadwerklike teenstand teen Wim de Villiers se verengelsingsbeleid is nie. Ook waarom die US-senaat vroeër vanjaar eenparig die verlenging van De Villiers se termyn as rektor vir ‘n verdere vyf jaar aanbeveel het. Almal val sonder verset in by wat in die mode is. “Scholars are not known for their courage” (736). Eintlik is die houding van die US-dosentekorps dalk eerder “self-serving cowardice – not to mention suicidal professional stupidity, given the vast body of evidence we now have about what happens to university departments and academic disciplines once they capitulate to the insatiable cult of social justice” (742). Die eens goeie beeld van die US as akademiese inrigting het die afgelope dekade of twee radikaal verander. “The glamor and admiration once associated with higher education is evaporating, now that universities are seen as hyper-partisan centers of political indoctrination and fortresses of elitist hypocrisy” (616). “Educators refused to defend their own academic freedom from the rising tide of political correctness, social justice, victimhood culture and millennial entitlement … The faculty has no one to blame but itself” (622).

“Brown was taken to task for refusing to acknowledge the problematic ‘whiteness’ of her field and her responsibility as a Medieval Studies professor to ‘do something about it'” (55). Dit is klaarblyklik “an attempt to inject into the study of the Middle Ages the same far-Left identity politicking that has done so much damage to liberal arts departments” (60). In die humaniora in Amerika is dit veral Engelsdepartemente wat hulle aan ekstreme linksheid oorgegee het en in die sosiale wetenskappe is dit veral dosente in kulturele/sosiale antropologie en sosiologie. Die beswaar teen Brown is onder meer “about medieval history being used to shore up white supremacy” (84).

‘n Mens vra jou af: Hoe op aarde moet Brown die studie van die Middeleeue ontwit? Sy het ruggraat en het vir die aktivistiese akademici uitdagend aangesê: “Learn some fucking history” (84). “Her point being that learning the facts about the Middle Ages destroys any white supremacist narratives” (235). “The story grew legs, and journalists started sniffing around, ears cocked for any headline into which they could crowbar a reference to white supremacy” (105). Retories is Brown daarvan beskuldig dat sy ‘n rassis, fascis, nazi, anti-semitis, blanke heerssugtige, wit nasionalis, ens, is. Die siening van haar kritici is bv “the Crusades as a manifestation of white imperialism” (359) en “Medieval Studies is actively hostile to minorities [ie non-whites]” (430).

Dorothy Kim “kicked off all the drama” (277) en het Brown die skerpste en herhaaldelik aangeval. Sy is aktivisties en polities betrokke. “Neutrality is not optional” (277). Kim is baie jonger as Brown en het nog nie ‘n vaste aanstelling as dosent in Middeleeuse Studie nie. Brown is ‘n medeprofessor in geskiedenis terwyl Kim ‘n assistent-professor in ‘n Engelsdepartement is en in letterkunde spesialiseer. In 2015, toe die polemiek ontstaan het, was Kim aan Vassar College (Ploughkeepsie, New York) verbonde. “She has since been appointed at Brandeis University [Waltham, Massachusetts], which has a reputation for indulging identity politics and social justice demands to a degree considered extreme even by university standards” (225). Kim het ‘n boek oor die gebeure geskryf wat na verwagting aan die einde van 2019 gepubliseer gaan word: Digital whiteness and Medieval Studies (153p). Daar is interessante inligting oor hierdie polemiek op die internet beskikbaar: Google Rachel Fulton Brown en Barbara Kim. Dit is duidelik dat Brown se vriendskap met Milo Yiannopoulos haar by baie mense in onguns gebring het. Die National Association of Scholars het genadiglik sy steun aan Brown toegesê.

Al die afgesaagde besware teen die blankes en die Weste word ter diskreditering van Middeleeuse Studie opgehaal. “Insufficient attention is paid in medieval curricula to the ‘problem of whiteness’ and its complicity in European slavery … But the medieval slave trade stretched from Scandinavia to the furthest reaches of the Muslim world. Vikings began their raids not for food or precious metals, but to abduct people they could sell into servitude. Globally speaking, slavery isn’t a ‘white thing’ – it wasn’t in the Middle Ages and it isn’t now” (414). “Leftist critiques of the field seem to have less to do with rebalancing a Eurocentric understanding of the past than they do with giving white Christian Europe – and, by implication, modern Christian America – a bad name” (420).

Daar is ook aktiviste wat “queer readings of the Middle Ages” verlang (493). Hierteenoor kan ‘n meer realistiese standpunt gestel word, soos dat “modern feminism [is] … a ‘sour mix of victimization and privilege'” (532). ‘n Tipiese (oordrewe) verweer is dat dit ‘n uitdrukking van haat jeens vroue is (536). Maar dit kan ook beskou word as ‘n geldige beswaar teen “the excesses of feminism” en ‘n poging “to build men up” (541) uit hulle huidige vertrapte toestand.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.