Suidpunt: Wat broei daar in die ou NP-skoolhandboeke?

Deel op

Die Afrikaner het in die 1970’s in ‘n groot penarie beland: aan die een kant moes hy getrou Christelik-Nasionaal en in sy volksaard bly (dit is van hom verwag), aan die ander kant het mens die toenemende verstedeliking en globalisering en ekonomiese en filosofiese stelsels daarbuite gevind wat met sy eie lewensuitkyk verskil. Die 1968-protesjaar in Europa en Amerika is pas verby, en die Afrikaanse dosente, leerkragte en predikante, die meeste van hulle behoudend en NP-stemmers, sit nou ook met hierdie vraagstukke. Jou deursnit Afrikaner was klaar reeds ‘n stedeling omring deur opkomende nywerhede, maar in hul skoolhandboeke was die Afrikanerkinders duidelik almal op landbouskool en Suid-Afrika ‘n landbouland. In hierdie rubriek bekyk ons Africana Afrikaner: Meestersimbole in Suid-Afrikaanse Skoolhandboeke (1983) deur J.M. du Preez van naby. Ek wys ook die raakpunte uit wat ek in my eie skoolboeke van die 2000’s vind, want sekere dinge verander blykbaar nooit nie.

Maar eers moet ek net gou vinnig ‘n sakie afhandel.

Agtergrond

Van die lesers sal inderdaad wonder of ‘n 29-jarige bevoeg is om hierdie handboeke van die 1970’s te beoordeel. Ek belowe jou, ek was self deur ‘n rampsalige, nivellerende skoolkurrikulum, soos maar alte goed voorspel is in my Sub A-jaar (1997) deur dr. Ferdi Hartzenberg, soos opgeneem in Claus Nordbruch se Reguit (pp. 132-133):

Maar die proses [mobilisering van blankes] sal weer opbou. Hoe ons die mense bymekaar kan kry? Volgende jaar moet die ANC begin om te ‘deliver’, hulle moet nou vir hulle ondersteuners wys. Maar hulle kan nie werk verskaf nie, nie die huise bou nie. So wat gaan hulle doen? Hulle gaan die Afrikaner probeer vernietig d.m.v. sy onderwys, sy taal, sy kultuur. Die Afrikaner moet ‘n melkkoei wees; hy moet betaal vir hierdie goed. Hulle sal nie heeltemal daarmee slaag nie, maar die eerste groot stap neem. Hulle gaan by elke skool en dwing dat daar van die eerste graad af integrasie moet plaasvind, en die enkelmedium word afgeskaf totdat die hele stelsel vervang is. Dan sal ons mense skrik. Almal sal dit of op die een of ander manier ervaar, maak nie saak of jy in die verlede vir die goed gestem het of teen nie, of jy aan magsdeling geglo het of nie. Jou kind sal aan ‘n onderwys onderwerp word waarvan die standaard sal daal. Hy sal nie meer met die res van die wêreld kompeteer soos ons dit in die verlede gedoen het nie. Ons kinders kon eksamens skryf saam met enige ander land in die wêreld. Nou kom ons een en veertigste uit een en veertig lande. Die standaard is weg. Die enigste manier om daardie standaard weer op te kry is, jy moet volkseie onderwys gee.

Die feit dat die ANC Afrikaans vertrap in die SAUK, in die staatsdiens, orals – dit is ‘n vernedering. Dit gaan op ‘n reaksie uitloop. Daar het sedert 1974 derduisende polisiemanne geloop. Hulle is vervang met onervare comrades en politieke kommissarisse. Dis hoekom wet en orde lyk soos hy lyk. Die gevolg daarvan is dat daar geen effektiewe bestryding teen misdaad in Suid-Afrika is nie. En dit sal ‘n probleem vir almal word. Daardie oneffektiwiteit sluit nie net die veiligheidsdienste en die regstelsel in nie. Dit sluit elke staatsdepartement in. Hoekom het die eksamens nou geloop soos hulle verloop het? Omdat die administrasie is nie daar nie. Dit geld ook vir jou poskantoor, by die spoorweë, by Telekom ens.

Daar sal min mense wees wat volgende jaar Kersfees vier wat nie met die een of ander vorm van misdaad kennis gemaak het. Met ander woorde, elkeen sal wakker word.

Vox clamantis in deserto.

Ek wag nou nog op die reaksie. In stede daarvan dat vir my en my geslag reuse-aanvullende handboeke, van 600 bladsye stuk, deur besorgde Afrikanerouers en akademici saamgestel is om daardie hoë standaarde van weleer te handhaaf, het juis die teendeel gebeur.

Zero, zip, zilch, nada, nothing, niks.

Daardie skuldgevoel soek ek nie op my gewete nie. Daarom is ek juis doenig by die Afrikaanse Wikipedia, want ek was ‘n slagoffer van die bovermelde onderwysstelsel. Ek weet wat ek nie weet nie.

Verlede week het mnr. Leon Lemmer op ‘n uiters gepaste tyd gepraat oor seksonderrig vir Standerd 2/Graad 4-leerlinge, as manier om die hoë standaarde af te bring tot rioolvlak. Laat ek asseblief die leser inlig hoe my eerstehandse ervaring van seksopvoeding op skool was. Ter wille van ons ouer lesers vervang ek “Graad” met “Standerd”.

Ek beskou my nie as iemand uitsonderlik intelligent nie. Ek het eers op 8-jarige ouderdom uitgevind wat seks is. Dit was buite skoolverband. My rooikop-neef het dit reeds op 3-jarige ouderdom self uitgeredeneer. Ek onthou nog die ryklik geïllustreerde Waar kom babas vandaan?, en toe die werklikheid my eers op bl. 10(?) tref, presies hoe die vurk in die hef steek, was my eerste antwoord: “oe, gross!” Want waarom sou Pappa dit aan Mamma wou doen? Jy moet onthou, op daardie ouderdom sing mens nog “Boom! Boom! Boom! I want you in my room, we’ll spend the night together, from now until forever” van die Hollandse Vengaboys heelhartig saam sonder om die geskokte uitdrukkings van die Puriteinse volwassenes op te merk. Ag, as hulle maar weet hoe lyk die musiekvideo! Wetenswaardig: ons dierbare Sweedse ABBA-skrywers was óók betrokke by die lirieke (Van Diepen, Van der Driesschen, Björn Ulvaeus, Benny Andersson)! Dit was immers 1998/1999. Wat weet ‘n agtjarige nou van middernagtelike geluide en tonguithang-opwinding?

En so land ‘n veelkleurige reënboogboekie op my skoolbank in Standerd 4, 2002, met ‘n onskuldige prentjie van ‘n blanke seun en ‘n bruin dogter wat saam boomklim (die Freudiaanse betekenis van masturbasie ontgaan my nie). So ‘onskuldig’ die buiteblad, so skuldig die binneblad. Die skoolhoof was egter slim: ons kon die boeke huis toe neem en self besluit of ons die inhoud wil voltooi of nie. Die antwoorde is nooit gemerk of nagesien nie. Die inhoud was Standerd 9-vlak: ‘n dwarssnit van die andrologiese en ginekologiese anatomie is met blanko byskrifte oopgelaat: hier vul jy in die Vas deferens, die prostaatklier, die skrotum, blaas en Vesicula seminalis (seminale sakkie). Die dwarssnit van die voorvel het soos kreefknypers gelyk. (Dit was nog saggies voorgestel, jy moet sien hoe lyk die volkleur Das Grosse Duden Schüler-Lexikon, s.v. “Geschlechtkunde”, bl. 217 tot 221, en dit vir 1979!).

Lewensoriëntering in Standerd 5 beteken hoofsaaklik jy luister na die skoolhoof se seminaar oor die “jong volwassenes” (?) se liefdes-, werkers- en grootwordprobleme (veral leierskap), en mens onthou veral die een episode toe ‘n dokter gevra is om al ons vrae te beantwoord (die seuns en dogters geskei in afsonderlike lokale). Ek was die dag nie in die klas nie, maar blykbaar het een seun, voor almal, vir die dokter gevra wat “skommel” beteken. Die voorstel dat Standerd 5’s masturbasie behandel is eintlik onnodig – dit kom sommer vanself. Ek onthou trouens ‘n 12-jarige wat vir my as 13-jarige gevra het wat ek dink van “selfbevlekking”, is dit sonde? O, ja – en jou eerste vigsprojek skop daardie jaar in 2003 af, wat soos ‘n afkopspook jou sal volg tot einde matriek: want jaar op jaar bly dit presies dieselfde inhoud. Jy sal mettertyd ook kop verloor.

Jy word deeglik daaraan herinner dat slegs ‘n derde van jou klasmaats voor 30 sal oorbly, die res sal almal sterf aan MIV/vigs. En met daardie swaard bokant sy kop moet die jongeling hom in sy jeug verbly en sy hart vrolik maak in die dae van sy jonkheid. Baie kan nog gebeur, maar toe ek laas op Facebook gekyk het, leef die meeste wonderbaarlik nog; die meeste van my klasmaats se doodsoorsake is motorongelukke en nie-vigs-verwante siektes, maar toemaar…

Jy kry ter afwisseling in Standerd 7 ook elke geslagsiekte om na te spoor: gonorree, sifilis, luise, herpes en ander AAI ES TIES (IST’s). Later word die hele skool na die paviljoen geroep (slegs seuns, van die melkbaard-pikkies in Standerd 6 tot die hardebaard-grootooms in Matriek) en dan sal ‘n maatskaplike werkster met gans te veel glinster-grimering (ja, glitter) vir ons nou kom touwys maak hoe om ‘n kondoom aan te sit aan ‘n foppenis (in hierdie geval van hout). ‘n Vrywilliger uit die gehoor word dan sommer gevra. Foto’s word gewys van verwaarloosde geslagsiektes by die man. Die een met die geel druip spook nou nog by my.

Die leerplan kon nie ‘n beter selibate priester gekweek het wat lewenslank ‘n stryd teen die nivellerende Kultuurmarxisme sou voer nie.

Die leerplan het meesterlik geslaag in sy doel: lewenslange leer (lifelong learning). Want sodra jy klaarmaak met skool, gaan jy gewis die lewenslange agterstand moet inhaal. Dit is 12 jaar wat jy van voor af moet inhaal, wat eintlik verdubbel as jou “skooldag” met jou “werkdag” begin inmeng. En maak jy met “skool” klaar, begin jou “universiteit”, en gaan delf jy rond in ou Afrikaanse sintaktiese en semantiekhandboeke waaruit geen dosent meer kan of wil put nie. Om te weet wat in die hede gebeur is nie goed genoeg nie – jy moet ook die sameloop van omstandighede ken wat die afgelope 350 jaar gebeur het, in élke vakgebied, wat daartoe aanleiding gegee het. Jy besef oornag hoe min jy weet, en hoe min die universiteit wil hê jy moet weet. Vir die res van jou lewe sal jy ou skoolboeke, universiteitsboeke en handboeke aankoop en aflaai en deurlees en bestudeer weens daardie oer-minderwaardigheidsgevoel teenoor jou meerderes wat jou voorafgegaan het.

Die leerplan het my ook geleer om selfstandig te werk: want jy leer op natuurlike wyse groepwerk haat. Jy wil klaarmaak, die ander sit en slaap, gesels of weet nie wat eintlik om te doen nie… en so moet jy maar die vrag dra. Soos dit op skool geld, so sal dit eendag geld in die werkplek. Want sien, daar is nie soos in Noord-Korea ‘n bevelvoerder wat met ‘n skokstok rondparadeer en kyk wie om te martel wat nie heelhartig saamwerk nie. Jy skryf die mondelinge, jy neem die inisiatief, jy neem die groepwerk (wat in die klas moet geskied) huis toe, jy werk twee dae vooruit (net sodat die wispelturige onderwyser weer van plan kan verander).

Die leerplan het vir my geleer dat papier heilig is. Nie alleen oor die vragte onnodige vorms en rompslomp wat ons elke jaar moes invul nie. Maar as die leerplan vereis dat jy self die inligting moet gaan versamel, as jou ouers slegs inskakelinternet (dial-up) het en weier om dit gereeld vir jou aan te skakel, en jou oer-Nokia slegs CSD (superstadige dialup) het, en biblioteke en skole geen toeganklike internet vir leerlinge beskikbaar wil stel nie, en internetkafees peperduur is; dan is jy maar aangewese op ou gedrukte inligting. Soos my pa se groen Kinderensiklopedies uit 1950, wat hy nog as kind gebruik het.

Die leerplan het my geleer wat mededeelsaamheid beteken (wat seker later aanleiding sou gee tot my betrokkenheid by die Afrikaanse Wikipedia), want gewoonlik was my huiswerk vroegtydig klaar, partykeer het ek oefeninge uit die handboek sommer twee weke vooruit geloop, en dan staan ander (sodra ek met die motor om 07:00 op die skoolgrond afgelaai word) tou om by my af te skryf. ‘n Mens maak glad nie so lewenslange vriende nie. Niemand is ooit vervolg nie. Die dank wat ek daarvoor gekry het was kritiek oor my ‘doktershandskrif’ wat so afgryslik lelik is. Ek skryf toevallig met die linkerhand. Deur jou mededeelsaamheid pluk jy natuurlik vir jou ‘n lekker lang lat, want kom die eksamens, gaan klop dieselfde mense nie by die onderwyser aan om hulp nie – maar by jou. Nou ja, soos Cicero gesê het, “ons leer deur ander te leer”, dus, goeie hersiening vir my. Gelukkig word dieselfde persone eendag iemand anders se probleem, voordat hulle self deur die samelewing deur hul luiheid en onbeholpenheid uitgewerp word. Wat ‘n wrede mens is ek nie?

Die leerplan het my geleer om vooruit te dink: want al die geesteswetenskaplike skoolvakke was net gerig op 2010, 2010, 2010, 2010. Die Sokkerwêreldbeker, hier te lande in Suid-Afrika, is met die Wederkoms vergelyk. Ek het gematrikuleer in 2008, die Sokkerwêreldbeker het soos ‘n frontale stelsel oorgetrek, sonder om eens ‘n paar druppels uit te sak, daar is aangevoer “dit was ‘n reusesukses!”, Suid-Afrika het met ‘n berg skuld gesit (korreksie, sit nog steeds daarmee), die gastehuise het een na die ander weer mooitjies toegemaak, en die hele gedoe is soos ‘n nagmerrie heeltemal vergete. Kinders nou op skool sal nie eens weet wie Zakumi was nie.

Die leerplan het my geleer wat nut is. Want elke jaar is ons portefeuljes en projekte tog maar in die vullisbak gesmyt sonder dat enigiemand dit kon benut. Dieselfde geld by onderwysers wat ou vraestelle en antwoordstelle in die drom gesmyt het (en ons wat dit weer gaan uitvis het). Met elke dik vorige sillabus wat weggedoen word, gaan bedel, smeek, soebat jy vir daardie einste handboeke om by jou privaatboekery te voeg.

Die leerplan het my geleer om ‘n gesonde wantroue in die staat te kweek. Soos die ouer handboeke (maklik 500g+) by die deur uitgegooi is, het ons almal in die klas beswaar begin maak –die onderwysers moes bontstaan om vir hierdie papierdun nuwe kurrikulum te skerm. Dis hul werk, dit moes hulle eenvoudig doen. As hulle maar net gesê het, soos so baie akademiese handboeke: “vir meer inligting, lees hierdie en hierdie en daardie bron”, dan kon mens die hele stelsel vergewe het. Maar nou is daar net mooi niks nie.

Elke departement moet goed op papier lyk, en ‘n skoolhoof kan veral druk op onderwysers uitoefen sodat hý kan goed lyk. Al moet hulle saamsweer en/of sekere vakke laat afskaf waarin min leerlinge uitblink (byvoorbeeld ‘n Derde Taal, soos Frans, Duits en Latyn). In Nederland werk dit net mooi andersom: daar word gepoog om te kyk hoe regverdig/streng ‘n punt is. As jou mondeling ‘n 3 uit 10 werd is, is dit ‘n 3 uit 10 werd. Dit help nie jy vul ‘n 8 in nie. As al jou leerlinge moet druip, nie omdat die leermetodes noodwendig swak is nie, maar omdat jy met idiote voor jou sit, dan moet hulle almal druip. Spaar hul gevoelens nie. Zachte heelmeesters maken stinkende wonden. Want sien, wat gebeur: eendag gaan iemand met jou skool se naam in sy CV aansoek doen vir werk. En as die werkgewer sien watter onbeholpe produk uit daardie skool kom, sleep dit die skool se naam deur die modder. “Hoërskool X, hou wyd!” “Universiteit Y, nee wat – daar kan niks goeds uit kom nie!” Die individu is ook in eie reg aanspreeklik, ja – maar wie is die Alma Mater wat hierdie swakkelinge aan die samelewing uitlewer? Dit is soos gif wat jy in ‘n oeroue gesonde boom bietjies-bietjies inspuit om ‘n pynlike dood te vrek.

Ja, liewe leser, ek was ook ‘n slagoffer. ‘n Slagoffer van Kurrikulum 2005 en Uitkomsgebaseerde Onderwys. Ek het daarvoor nie ‘n enkele goeie woord nie. Ek glo ek het sedertdien genoeg ervaring opgedoen om ‘n leerplan te beoordeel.

Die onderwysstelsel tydens Apartheid was goed, soos dr. Hartzenberg sê. Maar ook nie perfek nie. Sou iemand hierdie leerplan as model weer wil gebruik, moet mens op die foute let wat wel gemaak is.

Wat is dan die perfekte leerplan?

Z.B. du Toit skryf in die Die Nuwe Toekoms (1999: 363-364):

In die laaste instansie hang Afrikaners se voortbestaan egter in vele opsigte af van hoe hy hom gaan omskryf, self vertolk en na buite projekteer. Dit sal bepaal hoe hy gaan antwoord op die vraag wat Frederik van Zyl Slabbert tydens 1998 se Aardklop-kunstefees op Potchefstroom in sy midde gelê het:

“Die uitdaging vir diegene wat Afrikaners wil wees, is om ‘n nuwe gemeenskaplike interne identifisering van waardes te bewerkstellig wat kan bydra tot ‘n nuwe eksterne toeskrywing van Afrikanerwees. Die samelewing moet uiteindelik kan sê: “’n Afrikaner is iemand wat in hierdie of daardie waardes glo.” Wat is hulle? Daar lê die vraag.”

Hierop kan daar net een antwoord wees: Die nuwe Afrikaner, gedra deur ‘n nuwe Afrikaner-nasionalisme, is die produk van sy volledige Europese geskiedenis. Dit behels sy erfenis van die klassieke beskawings, onder meer die Romeinse reg, die Griekse filosofie en rasionalisme, Latyn en die Christendom en die Renaissance. Die Hervorming is uiteraard ‘n verdere baken in die Westerse geskiedenis en ‘n gebeurtenis wat terdeë deur Afrikaners gedeel word. Ook die Weste se onderskeid tussen God en Caesar, kerk en staat, en beginsels soos die oppergesag van die reg, verteenwoordigende wetgewende liggame en die beginsel van sosiale pluralisme is deel van hierdie erfenis.

Voeg hierby die Afrikaner se hartstogtelike liefde vir Afrika as Euro-Afrikaan en vir sy eie geskiedenis, taal en kultuur en dit rus hom toe om ‘n veel sinvoller rol in Afrika te speel as veral oor die afgelope aantal jare.

Juis die Afrikaner se breuk, hoewel betreklik beperk, met bepaalde Westerse opvattings oor ‘n tydperk van ongeveer ‘n halfeeu behoort hom opnuut toegewyd te maak aan sy geestelike, kulturele en intellektuele wortels. Vir denkende Afrikaners sal dit hoogs opwindend wees om nóú aansluiting te soek by die jongste intellektuele strominge in die Weste en dit prakties aan te pas vir Suid-Afrika. Niemand is beter geplaas as hulle nie. Dit kan Afrikaners des te beter in staat stel om ‘n beduidende bydrae tot ware demokratisering in Suid-Afrika te lewer.

Gaaf, ek sien ek het baie werk vir die Afrikaanse Wikipedia, maar hoe maak mens met ‘n skoolhandboek?

‘n Skoolboek is nooit vry van ideologie nie, want jy sonder sekere inligting uit, en laat ander weg. Die nasionale leerplan is gegrond op wat die land se regering wil hê sy kinders, die volwassenes en leiers en ambagsmanne van môre, moet kan doen. Dit was onder die NP-bewind so, dit is vandag met die ANC-bewind so.

Is dit om deel te wees van ‘n welsynstaat, dan sal die leerplan daarvolgens aanpas. Apartheid het destyds gesê: nee! En dit is waarom (ek lig sekere kernstandpunte uit):

Die idee van die Welsynstaat het onlangs onder skerp kritiek gekom deur die Minister van Finansies, dr. Dönges. Hy het in feite gesê dat dit vaarwel beteken aan die moreel van ‘n volk, sy onafhanklikheid en sy ondernemingslus – en op grond daarvan het hy dit die “vaarwelstaat” genoem.

Swede is die mees gevorderde van alle welsynstate, en dit gee ons dalk enigsins ‘n idee van wat die Minister in gedagte gehad het, as ons ‘n blik werp op wat daar op welsyngebied tot stand gekom het.

Swede verkeer in ‘n gunstige posisie. Al meer as 150 jaar lank het die land vrede geken. Sy klein bevolking van 7 ½ miljoen siele, ken geen rasseprobleme nie, spreek dieselfde taal en het dieselfde godsdiens. Swede het laat begin industrialiseer en kon daarom die foute wat ander gemaak het, vermy.

Die omsetting van hierdie gelukkige maatskappy in ‘n welsynstaat het ‘n generasie of so gelede begin. Die land se welvaart is selfs nog gelykmatiger oor die bevolking versprei. Die einddoel van sekerheid vir almal van die wieg tot die graf is bereik. In Swede is daar geen werkloosheid nie. Een uit vier mense beskik oor ‘n motorkar en beeldradiostel. Baie gesinne het hul eie somerhuisie en op groot skaal word buitelandse reise onderneem. ‘n Metaalarbeider verdien R450 per maand. Die armoede en ook die noodsaak vir ‘n stryd om te bestaan, is uitgeskakel.

Dit klink soos Utopia. En tog ervaar Swede vandag ‘n steeds hoër stygende golf van misdaad, jeugmisdadigers, alkoholisme, verslaafdheid aan verdowingsmiddels, selfmoord en onsedelikheid. Volgens statistieke wat onlangs gepubliseer is, het die misdaadsyfer gestyg van 172,000 in 1950 tot 373,000 verlede jaar. Die inbraaksyfer het in dié tydperk viervoudig toegeneem en motordiefstalle agtvoudig toegeneem. Rowery het alleen al in 1965 met 40 persent gestyg.

Met die golf van misdaad gaan ‘n toename met alkoholisme gepaard. Die aantal hospitaalpasiënte met geestessiektes wat aan oormatige drankverbruik toegeskryf word, word al hoe groter – veral onder vroue. Twintig jaar gelede was daar een vroulike alkoholis teenoor 50 mans. Nou is die verhouding 1 teenoor 10.

Volgens die Stockholmse kommentator Alfred Zanker is jong mense ook in groot mate verantwoordelik vir die skade wat in die Sweedse maatskappy aangerig word, en meer as twee-derdes van alle oortreders is vandag minderjarig. Baie van die jongmense wyt hulle gedrag aan die verveligheid van die gesinslewe, die geredelike beskikbaarheid van motors en drank. Bowendien is daar die godsdienstige onverskilligheid en die sedelike nihilisme van die jong intellektuele wat nou in die openbare bespreking in Swede aan die orde van die dag is.

Die hoof van die Instituut vir Misdaadwetenskappe in Stockholm, sien die grondoorsaak vir die toenemende losheid van sede in die steeds losser wordende gesinsbande en die verlies van die ouerlike gesag. Die algemene welvaart, het hy onlangs in ‘n vraaggesprek gesê, dra daartoe by om die geleentheid én verleiding om te steel, te laat toeneem. Maar dit was nie te wyte aan armoede nie.

Inderwaarheid het hy gesê, sien Swede hom gestel teenoor ‘n nuwe soort sosiale probleem, wat met die hoër lewenstandaard en sekerheid al hoe verder om hom heen gryp. Hy het dit “welsynmisdadigheid” genoem.

Ironies genoeg is die uiteindelike leegheid van die welsynstaat reeds 20 jaar gelede voorsien deur een van moderne Swede se groot staatbouers, Per Albin Hansson.

“Ons het so baie oorwinnings behaal”, het hy in 1946 verklaar, “dat ons ons in ‘n moeilike posisie bevind. ‘n Volk met politieke vryheid, volle werkgeleentheid en sosiale sekerheid het sy drome verloor.”

Die verlore drome word vandag herskep in ‘n sosiale nagmerrie.

Swede se ervaring is geen rede vir ander tot selfgelukwensing nie. Dit word maar net aangehaal om aan te toon dat sekerheid en die uitbanning van die stryd om te bestaan geen formule vir ‘n gesonde en lewenspragtige (sic) maatskappy in (sic) nie.

Hierdie berig het nie in 1990, 1980 of 1970 verskyn nie, maar in die SAUK-SABC Bulletin van 7 Maart 1966 op bladsy 8, opskrif: “Swede, die Welsynstaat”. Dr. Verwoerd het dus nog gelewe.

Nou wat sou dus die perfekte leerplan wees?

Ons moet waak teen “fabrilisme” (waar die universiteit net daar is vir opleiding/afrigting/’dressering’ soos vir ‘n hond, maar geen opvoeding nie), maar ook nou nie so ‘n ivoortoring raak wat niks met die werklikheid te make het nie.

Ongelukkig kan jy nie almal tevrede stel nie.

Dit gaan afhang van watter beroep jy wil volg. Is dit rekenaarwetenskap, dan moet die leerling die rekenaartaal wat in die toekoms bruikbaar sal wees reeds op skool baasraak om ‘n voorsprong te geniet (en verkieslik twee ander ook). Dit is ‘n probleem, want terwyl Borland Turbo Pascal en Delphi in die vere verlede voorgeskryf is, is Java in my tyd op skool geleer (ek praat nou van 2006 en verder). Java is vandag nog die gewildste, gevolg deur C, Python, C++, C#, ens. Delphi/Object Pascal beklee vandag die onnoemenswaardige 14de plek. Benewens die programmatuur, is basiese herstelwerk vir die apparatuur ook nodig (hoewel die nanotegnologie deur die vervaardigers dit deesdae bykans onmoontlik maak).

Ander sou weer ‘n tegniese skool (soos my pa), of handelskool (soos my ma) wil bywoon.

Vir myself sou ek bittergraag die leerplan van die Nederlandse Elite wou hê, soos vasgestel volgens die Wet van die Hoger Onderwijs van 1876 wat tot 1968 sou voortduur. Vir my bly dit die Goudstandaard. Vir diegene wat die “gymnasium-α” wou volg (met die oog op teologie, regte en die lettere aan die universiteit te studeer) val Wiskunde, Natuurkunde en Skeikunde van “gymnasium-β” (vir die medisyne en natuurwetenskaplike rigting) hééltemal weg, en dus benewens Geskiedenis, word aansienlik meer Grieks en Latyn ingevoer (wat jy saam met jou Frans, Engels, Duits en Nederlands en Aardrykskunde en ander vakke moes leer). ] Onthou, terwyl jou huidige akademikus niks verder kan vorder as 1950 of miskien die 1880’s met sy Engels nie, is die jongmens verplig om tot diep in die Middeleeue en vroeër te gaan grawe as dit moet. Onthou ook, Duits en Frans was ook dié wetenskapstale van die 1800’s, en veral Frans in die 1700’s. Daarna moet jy oorskakel na Latyn. Ek het wel gevra waarom Italiaans (die eintlike taal van die Renaissance) nie ‘n keusevak was nie, waarop geantwoord is: dit was nie ‘n taal van ‘n buurland nie.

Tog wel, as jy in ‘n wetenskaplike rigting wou ingaan, kon jy nie Grieks en Latyn vryspring nie, soos ek verneem by Elly van die Nederlandse Wikipedia:

Ik kan bevestigen dat je ook op het gymnasium-β examen moest doen in beide klassieke talen, naast Frans, Duits, Engels en Nederlands. Op de school waar ik zat kon je ook nog facultatief Spaans en Russisch volgen, maar dat waren geen examenvakken. Het was ook wel genoeg, samen met biologie, scheikunde, natuurkunde, wiskunde (algebra, goniometrie, stereometrie apart), aardrijkskunde en geschiedenis (daar viel er eentje vanaf in het examenjaar). […]Volgens mij waren er verschillen tussen scholen. De examens waren niet landelijk dichtgetimmerd als nu. Zo was er op mijn school een experiment met het mondeling examen Latijn en Grieks voor de “beta’s”. Wij hoefden geen nieuwe tekst te vertalen, maar kregen een al eerder gelezen tekst ter vertaling. Met een goed geheugen kwam je een heel eind. Wel moesten we meer weten over de dingen eromheen. Zo moest ik bij Grieks hexameters declameren uit Homerus, en vroeg de gecommiteerde bij Latijn of ik wist welke tekst er op het Pantheon stond in Rome. Dat was voor mij een waar moment van glorie, waardoor ik voor Latijn toch een beter cijfer kreeg dan mijn docent had verwacht. Na zo een examen ligt de wereld voor je open, je kon elke studie kiezen, behalve de klassieke talen zelf, daar had je echt alpha voor nodig.

Die algehele indruk wat ek kry is dat die Holland tot en met die 1960’s onafhanklike denkers probeer kweek het onder die gimnasiaste. Absoluut ‘n klassieke liberale opvoeding: jy kry al die boublokke, bou nou jou eie kasteel na hartelus daarmee. Hulle is opgelei in soveel verskillende tale moontlik, om hulself te help, om inligting te verwerk, om te redeneer. Hulle is wêreldwyd hiervoor geloof. Die Hollandse leerlinge moes mondelings en skriftelik hul eksamens aflê (goed te verstane, want jy moet jou in die openbaar kan verdedig, die punte uit jou kop ken). Dit is presies wat ek vir myself sou wou hê.

Vergelyk nou hiermee my Matriekjaar van 2008. Die Besigheidstudies wat ek op skool gehad het in Matriek was net ‘n politieke gemors van begin tot einde: jy het slegs oor Swart Ekonomiese Bemagtiging en ander polities-korrekte wetgewing en ‘n klomp “makro/mikro-ekonomiese bedreigings” geleer.

Helpmekaar.co.za sê die volgende:

Besigheidstudies is beslis nie die Bedryfsekonomie van ouds nie. Hoewel Besigheidstudies die vak Bedryfsekonomie vervang het as skoolvak, is daar in werklikheid nie meer as 5% van die werk en benadering tot die inhoud wat oorvleuel nie. Die nuwe vak  weerspieël die dinamiek van die besigheidswêreld en hoewel daar steeds heelwat feitelike inhoud is wat bemeester moet word, val die klem ook op die interpretasie van feite en die toepassing daarvan op scenario’s om werklike besigheidsprobleme op te los.

Dit is noodsaaklik dat die leerlinge op die hoogte moet wees van die jongste nuus en aktuele gebeure en hulle sal dus moet koerante lees en nuus kyk.

[…]

Besigheidstudies is ‘n dinamiese vak wat poog om kennis, vaardig…

Hokaai, stop net daar! ‘Dinamies’ is newspeak vir rondneuk, rondboender, rondstoot, rondfoeter, ronddonder, rondf…. . Met ander woorde: wat jy gister nog geleer het, is nie meer relevant twee dae later nie. Wat beteken jou handboek is verouderd nog voordat hy die drukpers haal. Hoe jammer ek het dit nie op hoërskool geweet nie. Nee dankie, gee my maar eerder Frans. O, hoe jammer, my skool bied nie Frans aan nie.

Die inhoud van die vak is so tipies van iemand wat in Menslike Hulpbronne net heeldag bolletjies gaan rol en foutvind met alles, terwyl hy nie die vaagste benul het waaroor die wetenskaplikes in Kamer 9 oor kibbel nie, daarom uitgesluit voel, daaroor sy bek opblaas en uit wraak ‘n volgende spanbousessiedag reël wat die hele onderneming vir ‘n dag lank tot stilstand sal ruk. Natuurlik is die Matriekteks hoogs eensydig geskryf. Soos jou Korporatiewe Sosiale Investering /maatskaplike verantwoordelikheid.

Ek haal aan: “Terreine waarop sakeondernemings konsentreer sluit in: Bemagtiging van vroue; MIV/vigs-bewustheid; armoedeverligting; ontwikkeling op die platteland; pensioentrekkers; minderbevoorregte kinders of weeskinders; onderwys en opleiding – skole en tersiêre instellings; kuns en kultuur; omgewing, byvoorbeeld natuurbewaring; sport, byvoorbeeld borgskappe en sportontwikkeling; jeugbemagtiging.”

En ek dag Besigheidstudies gaan maar net oor hoe om jou worsrolletjiestalletjie doeltreffender te bedryf. Let op hoe jy subtiel geleer word om soos ‘n Marxis te dink, deur skuldgevoel (ek lig die belangrikste dele uit):

Maatskaplike verantwoordelikheid beteken om ‘n maatskaplike gewete te hê, en dat mens dié wat minder bevoorreg is as ons probeer help. Jou gewete herinner jou aan wat reg en verkeerd is. Die regering kan nie self al die probleme oplos wat ons hierbo genoem het nie – sakeondernemings en individue help waar hulle kan. Dit is waarom maatskaplike verantwoordelikheid so belangrik is.

Die meeste sakeonderneming het die een of ander program vir maatskaplike verantwoordelikheid waarvolgens liefdadigheidswerk gedoen word sonder om wins te maak. Die sakeondernemings kan byvoorbeeld tyd en goedere of dienste aan behoeftiges in die gemeenskap skenk. Die personeel van ‘n klein sakeonderneming kan tehuise vir bejaardes of kinderhuise besoek, en goedere skenk of dienste lewer soos regs- en finansiële dienste, aan mense wat dit nie kan bekostig nie. ‘n Klein sakeonderneming kan ‘n plaaslike sportspan borg deur klere, toerusting en/of vervoer te voorsien.

‘n Groot sakeonderneming het soms ‘n spesiale afdeling wat die program vir maatskaplike verantwoordelikheid behartig. In die algemeen lê groot maatskappye met hul pogings klem op ‘n bepaalde saak of terrein waar daar ‘n behoefte bestaan.

[…]

Almal wil graag iets goed doen, en sakeondernemings is geen uitsondering nie. Vir ‘n sakeonderneming lê die grootste voordeel daarin dat iets aan die gemeenskap teruggegee word. Die gemeenskap voorsien die arbeid aan die sakeonderneming, en lewer ook sy klante en verskaffers. Die gemeenskap help die sakeonderneming om wins te maak, en dit is reg dat hulle iets aan die gemeenskap teruggee, hetsy dit tyd, produkte of dienste is.

Sakeondernemings kan die regering met dié probleme help, want die probleme raak die hele land se ekonomie. Jy het gesien dat sakeondernemings net in ‘n groeiende ekonomie floreer en groei.

‘n Program vir maatskaplike verantwoordelikheid verbeter ‘n sakeonderneming se beeld in die gemeenskap, sodat mense trots voel om daarmee verbind te word. Sodanige maatskappye geniet plaaslik en wêreldwye erkenning en lok hoogs gekwalifiseerde en opgeleide werkers. Dit help ook om regstreekse buitelandse belegging waarby die hele land baat te lok.

Die programme is ook ‘n soort bemarking vir die maatskappy, en bemarking lok meer klante. Meer klante beteken groter wins. Selfs ‘n klein sakeonderneming wat ‘n sokkerspan borg, kan byvoorbeeld ‘n reklamebord by die sokkerveld oprig of sy naam en logo op die span se truie laat aanbring. ‘n Groot maatskappy wat byvoorbeeld ‘n tehuis vir MIV/vigs-slagoffers borg, kan byvoorbeeld vra dat die tehuis na hom genoem word.

Maatskappye met programme vir maatskaplike verantwoordelikheid kry radio- en TV-dekking, en koerante en tydskrifte kan dalk artikels oor hulle plaas.

Die regering het ‘n sogenaamde generiese telkaart wat punte toeken aan sakeondernemings met ‘n program vir sosiale verantwoordelikheid. Hoe meer punte ‘n sakeondermening het, hoe makliker word dit om sake met die regering, verskaffers en ander sakeondernemings te doen.

En dit dan die reklameveldtog-formaliteite.

Ek gaan aanneem dat hierdie skenkings nié belastingaftrekbaar is nie (as dit wel was, waarom dit nie hierbo in die teks openlik noem nie?).

Benewens hul belasting (Ontvanger van Inkomste) moet sakeondernemings dus hulself leegmelk vir die aangewese groepe, ‘n bodemlose put, bloot omdat die staatskaste leeggesteel is. Kyk self: die woord “belasting” en “SASSA-geld” duik nêrens hierbo op nie (nou ja, Suidpunt, dit was immers 2008). Vergeet ook nie, ondernemings moet erfbelasting, water, elektrisiteit, riolering, vullisverwydering en ‘n handelslisensie vir die munisipaliteit betaal (met wie weet hoeveel ander verordenings nog), nog voordat hul personeel se afsonderlike byvoordele en wetlik verpligtende papierwerk voltooi word. Onthou ook: jy moet jou eie winkel beveilig met sekuriteitsmaatskappye, bloot omdat die staat jou nie kan beskerm nie. Ook hierdie beveiliging is nie goedkoop nie. Dit is gelukkig belastingaftrekbaar, maar weereens mense – daardie belastinggeld kon vir iets anders gebruik geword het. Dit werk dus soos ‘n tweesnydende swaard. Daar behoort myns insiens in die eerste plek géén misdaad en dus géén sekuriteitsmaatskappye te wees nie. Dieselfde kan jy kyk na vervoer: as die staat ordentlike, veilige, goedkoop en vinnige openbare vervoer verskaf het (wat klokslag aankom en vertrek), dan sou nog minder mense geld van die staat moes terugeis op private vervoer. Tolpaaie sou nie bestaan het nie. Ons praat immers van honderde pendelaars. Dis nog meer geld wat verlore gaan, geld wat met rente op rente opgepot kon word; en die maatskappye die moeite sou spaar om gat te loop kruip by die gemeenskap.  Dink aan privaathospitale wat daar in die eerste plek nie moes wees nie. Onthou ook van versekering. Ons praat van telekommunikasie met supersnel internet. Ons praat van beurtkrag (reeds in 2007, dink diesel, dink olie, dink battery, dink onnodige kragopwekkers met onnodige onderdele), ons praat van watertekorte (met watertenks en spesiale kontrepsies wat aangekoop moet word), ons praat van die onbetroubare poskantoor (en peperduur koerierdienste) – as jy al hierdie klein jakkalsies saamvat, is dit onnodige geld wat die sakebedryf ten eerste op moet bestee, en ten tweedens geld waarvan héélwat onnodig op teruggeëis word omdat jou Staatsdiens ‘n mislukking is. Die ou in die beskuldigdebank is dus nie jou Privaatsektor nie, maar die Staat. En die Staat alléén!

Dis absoluut belaglik! Dit kom eintlik neer op vyf- of ses- of sewevoudige belasting wat die Suid-Afrikaanse sakeonderneming moet betaal (let op die taalgebruik – “en dit is reg dat hulle iets aan die gemeenskap teruggee” m.a.w. ‘hulle skuld ons iets’). Dit word ook sonder meer aanvaar as jy aan jou maatskaplike verantwoordelikheid voldoen, beleggers outomaties uit oorsee oor hul voete sal val om by jou te kom belê. Dis wensdenkery, anders sou ek ‘n Europese winkel of filiaal om elke hoek en draai hier op die platteland gesien het – hier is immers genoeg nood in Suid-Afrika, waarom nie sommer ‘n Europese winkelsentrum so groot soos in Dubai hier kom oopmaak nie? So onbaatsugtig is die wêreld seker nie, nè?

“Die gemeenskap voorsien die arbeid aan die sakeonderneming, en lewer ook sy klante en verskaffers” [en dus moet die onderneming iets terugploeg in die gemeenskap]. My magtig, word hierdie mense dan nie betaal nie? En kan die verskaffers nie vra wat hulle wil nie? As ‘n sakeonderneming nou besluit hy boikot die plaaslike verskaffers, hoef hy dan niks “terug te gee aan die gemeenskap” nie? Want dis presies waarop dit neerkom! As ek as werknemer vir ‘n winkel werk, het ons ooreengekom oor ‘n bedrag – ek steel nie van die winkel se ure nie, en hulle betaal my vir my werksure (want ek kon enige ander plek gewees het waar ek wou). As jy nie wil werk nie, wat soek jy dan daar in die eerste plek?

Met die minimumloonvereistes beteken dit wel ek gaan nou twee tot vyf mense se werk moet doen (al sou ek ook vir minder deeltyds kon werk), maar dankie meneer/mevrou, ek is een van miljoene wat darem ‘n salaris kry. Ek kon op enige ander plek in die wêreld reggekom het, maar ek is verleë, so daarom sal ek alles tot die beste van my vermoë doen vir ‘n goeie CV, sodat ek miskien elders ‘n beter betrekking eendag kan kry (want ek het langtermynplanne). Nee, ek belowe, ek sal nie staak nie, ek bedank liewer. O, maar sien, die baas was verplig om plaaslike mense aan te stel, anders sou hulle betoog en sy bakkery afbrand. (Jy kan net nie wen nie, nè?) Miskien sou dit beter wees as daar geen bakkery was nie, want dan was daar niks om oor verbitterd te wees nie, niks om oor kwaad te wees nie, en geen winkel wat afgebrand sou word nie. Presies herhalend van die Matriekteks!

Onthou, groot maatskappye begin altyd baie klein. As jy klein ondernemings doodsmoor, kan daar nooit groot winkels kom nie. Met ander woorde – bly die geld nie maar in elk geval in die hande van ‘n paar skatrykes nie? Sonder kompetisie is die land hulle s’n. Hoekom anders maak die hele wêreld, insluitend die Matriekteks, dit so moeilik vir die kleinsakeondernemings om te groei? Huh?

Die algehele boodskap wat ek uit bogenoemde Matriekteks kry is: dit is beter dat daar liewers nie ‘n enkele winkel op die dorp is nie (sodat geen geld en tyd uit die gemeenskap ‘gestéél’ word nie), as wat daar wel ís (werksgeleenthede, ‘n diens wat gelewer word wat tyd en geld spaar, of aanleiding kan gee tot uitbreiding, dat nog winkels gestig word, nog meer werksgeleenthede geskep word). Is algehele werkloosheid dan régtig die beste oplossing? Dat niemand niks het nie?

Kom ons kyk na ‘n gevallestudie: aanlynboekwinkels wat tweedehandse boeke verkoop. Kom ons maak dit ‘n eenmansaak wat sommer uit jou kelder bedryf word. Die boeke word van dwarsoor die land geskenk (of aangekoop), die boeke word op die internet geadverteer, mense uit die land en oorsee koop hierdie boeke aan. Wie is dan jou “gemeenskap” van wie jy stéél? Duidelik nie die armstes van die armes nie, want hulle het nie internettoegang nie. Dit raak al hoe moeiliker om ‘n grens te trek. Jou klantebasis is duidelik nie plaaslik nie, jy gebruik jouself as arbeid, die middele wat jy gebruik is die posdiens, ‘n staatsinstelling, of koerierdienste… ???

En hoe kan jy van die gemeenskap “steel” as hulle vrywillig van jou dienste gebruik maak? Niks keer jou om jou eie bloubessie-pasteie te bak nie. Dit is ook duidelik dat die Matriekteks hoegenaamd niks weet van “smaak”/”vraag” en “aanbod” nie – jy kan hoeveel tehuise borg, soveel jy wil, net om daardie perdemis verkoop te kry: as jou produk mense nie geval nie, kan jy allerhande soorte truuks uithaal, dit gaan nie jou wins opstoot nie en jou grootste konkurrent is die Staat wat genoeg van sy eie “bullshit” aan die publiek verkoop. En dit help ook nie om nou jou perdedrolle vir sitroene te probeer verkoop nie.

In die huidige klimaat en vroeër wantrou die buitelandse beleggers vernaamlik die STAAT en die staat se onvermoë om misdaad te bekamp en om duidelike ekonomiese beleid ter tafel te lê wat almal baat. Dis die staat wat die probleem is, nie die ondernemers of ondernemings nie. So, hou op om die worsrolletjieverkoper skuldig te laat voel.

“Jy het gesien dat sakeondernemings net in ‘n groeiende ekonomie floreer en groei.” Die publiek kry benewens hul salarisse, die geld op vyf wyses (waarvan ek weet): of deur die bank (skuld), of uit beleggings (op welke wyse dan ook) of deur toelaes, of deur erfgeld of deur diefstal. As die bank sy beursie toemaak, en jou neseier toe heeltyd ‘n windeier was, en/of die buitelanders sê “nee dankie, ons belê nie by julle nie, julle regering suck” – sit jy in die knars. Die Matriekteks het eenvoudig nie sover gedink nie. Die SASSA-geld (dus, uitgekeerde belastinggeld) dryf die inflasie teen die mure uit, maar gee dit enigsins aanleiding tot nuwe besighede wat geskep word? Ek kyk na my eie dorp en ek sien dit nie.

As ek byvoorbeeld kyk hoe die Afrikaanse musiekbedryf in duie gestort het na die hoogbloei tussen 2008 en 2011 (omdat daar ‘n ooraanbod was en die aanvraag oorskry het, wat vir jou sê die hoeveelheid geld waarmee die mense bereid was om musiek te koop het sy plafon bereik), die banke wat skielik versigtiger geld uitleen na die ineenstorting van Lehman Brothers oorsee, al hierdie faktore sê vir my die Suid-Afrikaners het nie geld om hul alies mee te krap nie. En juis hierdie geld gaan hul koopgedrag op ‘n manier beïnvloed; jy kan adverteer soveel jy wil – as jou plaaslike mark nie bo hul vermoëns kan koop nie, kan jy nie bloed uit ‘n klip tap nie (weereens Suidpunt, kalmeer, ons praat van 2008).

As die samelewing voel hulle word deur ‘n maatskappy uitgebuit of uitgesluit, staan dit die publiek heeltemal vry om hom te boikot. Gedenk Spur. Hy het die pak van sy lewe gekry – ‘n vriendelike waarskuwing vir ander sakeondernemings wat dit nog sou oorweeg! Spur het dus geen verantwoordelikheid teenoor my nie, my géld sal bepaal hoe hy moet optree. Verder het jy as klant ook die vryheid van keuse: Jy hoef regtig nie vir ‘n wafel met ‘n ertjiegrootte roomysklontjie aan te sit, as jy ‘n hele bak 2ℓ-roomys (of selfs twéé) teen dieselfde bedrag by die supermark kon koop om jou middernag-hongerkrampe te stil nie; gebruik tog jou gesonde verstand.

Kon daardie geld vir liefdadigheid-reklame nie gebruik geword het om juis goedkoper, vinniger en béter dienste te lewer nie – innovering kos tog geld? Of wat van opleiding/merietebonus van jou werknemers, of beurse aan knap (vak)leerlinge? Of boekwinkels wat geskenkbewyse of boekpryse skenk aan topleerlinge. Dit is anders. Ons praat hier ten minste van verdienstelikheid! Dit spoor mense aan om slimmer en met ywer te werk.

Dink jy vir een oomblik Mark Shuttleworth sou sy geld van thawte.com sommer so gekry het sonder VeriSign se belangstelling? Was daar enigsins sprake van “maatskaplike verantwoordelikheid” voor die aankope daarvan in 1999? Was dit die lokmiddel? Natuurlik nie (en hy sit nou gerieflik oorsee, gelukkige hy), eers daarná het die Mark Shuttleworth Stigting ontstaan. ‘n Onderneming moet eers kan kruip voor hy loop.

As jou bedryf skaars op die been is, hoe wil jy nou Moeder Theresa probeer speel? Die lewe is wreed: Buitelandse maatskappye soek kwaliteit, as hulle liefdadigheidsorganisasies soek – daar is meer as genoeg oorsee. Dan weer, soos ek voorheen geskryf het – as die Europeërs en Amerikaners so dik van die pitte is – ‘n enkele Euro kos meer as R16,00. Laat hulle skenk soveel hulle wil, waarom moet ek sestien keer harder werk? Dit word tog nie waardeer nie, want van buite lyk dit tog of jy mense se ellende uitbuit vir jou eie beeldpoetsery. Dis soos stemwerwery by die plaaslike verkiesings deur R500 aan iedereen uit te deel (waar was jy dan die res van die afgelope 5 jaar?). Dis absoluut vals en ek wil niks met so ‘n organisasie te doen hê nie. As jy dit nié aan die groot klok hang nie, dan is dit anders.

Geldskenkings en borge kom altyd met voorwaardes: ons het gesien hoe Afrikaanse kunstenaars na die pype van groot magnate moes dans. Wat het gebeur? Die Afrikaanse kunstenaars het gesê die maatskappye kan hul geld in hul reet gaan opdruk, hulle laat hul deur niemand voorskryf nie. En, toe dit daarop aankom, het die kunstenaars bankvas agter Steve Hofmeyr gestaan. Wie is nou die varke in die verhaal – die maatskappye, wie anders? Dit is tog hulle wat met hul geld vryheid van spraak probeer muilband.

Dink nou mooi: jy lei die arbeidsmag van môre in die skoolbanke op hoe om… te staak? Hipersensitief oor teistering te wees en hoeveel ure jy oortyd moet werk? Amper ‘n skuldgevoel te hê om te werk, om ‘n wins te maak? Wanneer de donder gaan jy die leerlinge leer werk? Innoverend leer dink? Mense, ons sit nie in ‘n Eerstewêreldland waar ons oor sulke luukshede kan kibbel nie: ons moet nog die vlak van Suid-Korea bereik, en as jy in die geskiedenis gaan kyk hoe hulle dit bereik het, het moeders en vaders soos slawe onder die son vir die staat gewerk voordat die eerste staalaanleg gebou is. ‘n Minimumloon het nie bestaan nie, miskien ‘n bakkie rys: alleen hul kinders se toekoms is al waaraan hulle gedink het. Waardeer die moderne K-Pop-aanbidders enigiets wat hul moeders onder die geweefde riethoedens in die vogtige klimaat, steekvlieë en verblindende son vermag het? Seker nie. Die Wirtschaftwunder in Duitsland post-oorlog presies dieselfde: vaders het twee werke gedoen, vyf pakkies sigarette per dag gerook, nie gesug om oortyd te werk nie. Hulle het ‘n fisiese doel voor oë gehad. En hul lakse kindertjies van die 1968-opstande het alles ongedaan gemaak.

As ek nou daaroor nadink het hierdie Besigheidstudies my absoluut niks gebaat nie. So – weg met hierdie twakvak ook.

Enige nugter handboek sou hierdie kritiek lys wat ek hierbo genoem het. Ek het al bogenoemde sommer in die verbygang uitgedink – ‘n ekonoom sal veel meer logiese kritiek as ek kon lewer. Dieselfde ervaar ek met Toerisme: eers op universiteit, en meer in die besonder jou twéédejaarsmodule as onderafdeling van Aardrykskunde, word ‘n paar swakhede daarvan uitgelig; op skool word toerisme amper aangebied as die Groot Heilsuitweg. Weereens, uiters eensydig. Ek moet erken, jou Aardrykskundeboek in Standerd 9 was wel effens krities teenoor ekotoerisme, maar ook net in ‘n vinnige paragrafie. Dit was toevallig ook dieselfde handboek wat ons leerlinge bekend gestel het aan die kwarternêre sektor, as ‘n feit, byna ‘n volle 10 jaar voor RSG en gaste sedert 2016 op hol geraak het oor “die vierde nywerheidsrewolusie”. Die woord “lokasie” is ook sonder probleme in die terminologieomskrywing van die boek opgeneem, én boonop goedgekeur deur die Wes-Kaapse Departement van Onderwys; sommer twéé middelvingers vir die WAT én die Pharos Verklarende Afrikaanse Woordeboek! Hierdie handboek is Verken Aardrykskunde Graad 11 (ISBN13 978-0-636-06745-5).

Wat sal gebeur as ek ‘n Wikipedia-artikel oor “Maatskaplike verantwoordelikheid” sou begin en al hierdie kritiek lys? Die leerlinge sal uiters verward wees (onthou hierdie standpunt, ek kom later daarnatoe terug). Die kinders sal vrae vra en die ouers sal vrae vra en die onderwysers en skoolhoofde sal almal vrae hê. Ons kan elke liewe onderwerp tot in die fynste besonderhede doodanaliseer totdat die Staat nie meer sal weet watter Marxistiese twak hy nog alles kan versin nie. En die Departement sal ontmasker en soos weeluise wegskarrel soos die klippe en petrolbomme deur hul vensters bars. Die Staatsdepartement sal vure moet doodslaan terwyl die een vuurhoutjie na die volgende getrek word. En ek was my hande in onskuld, ek het maar net die waarheid gepraat. Of hoe sê ou Greta:

I shouldn’t be up here. I should be back in school on the other side of the ocean. Yet you all come to us young people for hope. How dare you. You have stolen my dreams and my childhood with your empty words.

Nou ja, toe. So voel ek ook teenoor die Departement van Onderwys. O, u sê skoolkinders mag nie van Wikipedia gebruik maak nie? Hmmm… wie gaan hulle keer? Hoe sal u weet? Die klippe sal dit uitroep, as dit moet!

Kan u nou insien waarom ek geld op myself uitgee – ek koop my eie boeke aan, ek maak self seker die Afrikaanse gemeenskap baat daarby. Ek weet waarheen my geld gaan, maar weet ú?

Hoe lyk die leerplan van ‘n voorgestelde Volkstaat?

Die Volkstaat as Afrikanerbestemming (1989, SABRA, xviii) waarsku teen die volgende:

Die vraag is tydens en na die Tweede Wêreldoorlog gevra waarom die trotse Franse volk voor die Duitse inval verkrummel het. Die ooglopende antwoord skyn te wees dat ‘n sug na stoflike welvaart die drang na vryheid verdring het. ‘n Samelewing wat op rykdom en gerief ingestel is, kweek selfsug; eiebelang word dan bo volksbelang gestel; volksontrou, bedrog en verraad gedy in so ‘n samelewing. Hierdie omstandighede was in Frankryk aan die orde van die dag toe die oorlog uitgebreek het, in die sakewêreld, die weermag, staatsdiens en die politiek. (Maugham, WS. 1942. Strictly Personal. Londen, bls. 142-154)

Die oorsaak hiervan, so word aangevoer, is alleen die liberalisme, wat uit die staanspoor anti-tradisie is. Op bl. 4-5:

Op staatkundige gebied verteenwoordig die liberalisme die leringe van die Franse Rewolusie: Alle mense is byvoorbeeld gelyk; almal het as enkelinge aanspraak op regte, vryhede en “gehalte van lewe” in ‘n demokratiese staat; die owerheid se taak is om vir enkelinge die hoogste mate van vryheid en hoogste bereikbare “gehalte van lewe” te waarborg; alle enkelinge binne die landsgrense stig die staat, deel gelykop in burgerregte en in aanstelling van die owerheid; groepe wat vrywillig, volgens die beginsel van vrye assosiasie tot stand kom, is aanvaarbaar, maar die wetlike omskrywing en beskerming van groepe is onaanvaarbaar.

[…]

Die huidige owerheid van die RSA het hierdie beginsels, denkbeelde en slagkrete heelhuids aanvaar en pas dit toe. ‘n Volslae liberalistiese slagkreet soos “gehalte van lewe”, is selfs tot oorhoofse nasionale doel verhef, uit hoofde waarvan ‘n reeks vreemde slagkrete en doelwitte in die staat beslag gekry het, byvoorbeeld gelyke onderwys, gelyke lone, eweredige verspreiding van welvaart en die beweeglikheid van arbeid en kapitaal.

[…]

Die liberalisme het verbrokkelend op Afrikanerdenke ingewerk, met die gevolg dat van sy kenmerkendste eienskappe, byvoorbeeld beginselvastheid en volkstrou, aangetas is. Die hedendaagse geslagte van Afrikaners is nie meer een van sin nie; eerbiedig nie meer hulle geskiedenis en tradisie eendragtiglik nie; baie dring ook, soos volbloedliberaliste, op hulle reg aan om afwykend te dink en te handel[…]

Die individu bestaan dus, die volke en etniese groepe bestaan nie. En dit is presies waar jy nivellering sien inkom. Dit is waaroor mnr. Leon Lemmer nou die dag geskryf het. Dit is waaroor dr. Hartzenberg gewaarsku het. Die liberalis sal voor sy oë staan en toekyk hoe die algehele standaard voor hom tot in die grond in vertrap word, solank dit hom as individu nie raak nie, en almal in beginsel gelyk is (wat hom dus noodwendig moet uitsluit/buite rekening laat sodat dit hóm nie raak nie), in die naam van gelykheid, kan diegene wat sy taal praat of selfs bloedfamilie is in hulle maai gaan. Natuurlik is hy maar alte bly oor landsgrense en is onder diegene wat die hardste skree teen ‘n eenwêreldregering en die globaliste, want nou kan hy aan oorsese universiteite gaan studeer waar die standaard hoër is as in sy geboorteland – dit plaas hom in ‘n véél hoër en gunstiger posisie met sy terugkeer na sy vaderland as sy volksgenote (wat probeer red wat daar nog te redde is) wat maar tevrede moet wees met die krummels van die tafel tuis. Wat ook al tuis gebeur, pla hom nie in die minste nie. Hy kan egter rondvlug soveel hy luskry, maar soos Omsingel die laer van die heiliges deur Jean Raspail ons reeds in 1973 gewaarsku het, is geen, maar geen land gevrywaar om kort voor lank dieselfde paadjie te volg nie. Die liberalis se eie moeder moes hom liewers by geboorte op Gumtree verkoop het, want dis presies wat hy met haar en haar kleinkinders sal doen. Uitverkoop.

Op bl. 80:

Indien die RSA as een geheel betrag word, met een onverdeelbare grondgebied, een bevolking en een burgerskap onder een owerheid, dan maak dit ‘n Derde Wêreldstaat uit, van dieselfde orde as die Latyns-Amerikaanse state. Die huidige grondwetlike bedeling bevestig en vererger hierdie toestand in plaas van dit op te hef, soos by die begin belowe is.

Eerstens het die beleid van gelykstelling op alle lewensgebiede nie met ‘n opwaartse gelykstelling van arbeidsdoeltreffendheid gepaard gegaan nie. Die teendeel het eerder gebeur. Die klein Afrikanerbevolking verarm gevolglik terwyl die groot, vinniggroeiende Derde Wêreldbevolking nie genoegsaam by die afwenteling van rykdom en inkomste baat om tot op Eerste Wêreldvlak te vorder nie. Wanneer swartoorheersing intree en die sosialistiese gelykmakingsdrang nog sterker word as wat dit tans is, sal die neerdrukkende uitwerking daarvan ook toeneem, soortgelyk aan dié wat deur gesagstate, soos Mosambiek en Ethiopië, ondervind is.

Tweedens is oproer, onveiligheid en onbestendigheid in die land ook nie deur die grondwetlike veranderinge besweer nie en dit lewer ‘n verdere bydrae tot die afwaartse gelykmaking van ekonomiese maatstawwe en vooruitsigte. Die toegewings aan politieke eise wat aan die orde van die dag is, het nie hieraan verander nie. Oproer het saam met die toegewings verhewig, tot die punt van ‘n noodtoestand. Van omkeer na bestendigheid en vooruitstrewendheid wat tot Eerste Wêreldrang kan lei, bestaan daar geen teken nie.

Die oorhoofse beheptheid met stoflike welvaart word as die middelpunt beskou van verbrokkeling van ‘n volk (bl. 43 tot 44):

‘n Begeerde kindertal waarmee die volk gehandhaaf sal kan word, verg ‘n Protestante opvoeding en onderwys wat ander waardes kweek as dié van die liberalisme; wat stofverafgoding teenwerk; die waarde van hegte gesins-, familie- en gemeenskapslewe by die jeug inskerp; en verantwoordelikheidsin, selfbeheersing en volksliefde bevorder. Gesindheide word in dié verband in ouerhuise gekweek en deur die opvoeding en onderwys, kerklike en ander kragte in die samelewing uitgebou en onderskraag.

Protestant? Jammer, maar as ek kyk na Suid-Amerika is daar ‘n veel doeltreffender wapen. Sover ek weet verbied die Katolisisme voorbehoedmiddels, die huwelik het alleen die doel om kinders voort te bring (want waarom anders trou jy?), en die egpaar mag eintlik nie skei nie.

“Maar dit is arm lande!” Nou maar? Ek dag jy sê jy soek getalle? En stoflike welvaart is die vyand? Of bedoel jy: “Moenie ‘n vloot Porsches koop nie, laat bou ‘n enorme biblioteek met jou naam op?” Ek weet darem nie, toe ek onlangs vanaf ‘n boekwinkel terug huis toe loop, was dit die saamtrek van Lamborghini’s op Waenhuiskrans, en hulle moes deur ons dorp ry. Dit was nie afguns nie, en ek het nie soos die Hollanders in die 1980’s ‘n klip opgetel om hoogmoed tot ‘n val te bring nie. Dit was ‘n breë glimlag wat onwillekeurig al hoe breër op my gesig geword het – want o, liewe, hemel, dit bly ‘n donderse mooi kar! Nou wat dink jy sal gebeur as iemand in ‘n Boererepubliek met so ‘n kar opdaag? Selfbeheersing ken ook maar sy perke!

Benewens die Christelik-nasionale opvoeding en onderwys wat weer voorgestel word (wat nog altyd die keerwal was teen die Marxisme, soos toe die Afrikaner hom heeltemal van NUSAS (gestig 1924) weggebreek het om hom finaal op 9 September 1933 bankvas agter die Afrikaanse Studentebond te skaar) word slegs ‘n uiters vae beeld geskep wat die Afrikaner nog alles moet doen, onder “Westerse stempel” (p. 38):

Die Afrikaner is ook ‘n Westerse, Eerste Wêreldvolk. Hy stam uit volke van voor die sewentiende eeu en is sedert daardie tyd ononderbroke deur Westerse geskiedenis beïnvloed. Hierdie kultuurerfenis het in Afrika wortel geskiet en tot ‘n onderskeibare Westerse kultuur gegroei. Sy Afrika-omgewing en omstandighede beïnvloed sy bestaan en kultuur uiteraard, maar verander hom nie van ‘n Westerse tot ‘n Afrika-, Derde Wêreldvolk nie.

Om hulleself as Westerse volk in Afrika te kan handhaaf, sal Afrikaners hulle ras en taal moet handhaaf; hulle sal ook hulle kennis van die Germaanse en Romaanse tale en die outydse geskiedenis moet bewaar. Die hedendaagse neiging om Geskiedenis, Duits en Frans byvoorbeeld onregstreeks of regstreeks in leergange te verdring, kan toekomstige geslagte se Westerse begronding aantas. Die oorbeklemtoning van Afrika-geskiedenis en tale bestaan reeds en kan onder die huidige grondwetlike bedeling, veral die onderwysbedeling, net erger word.

Geestelike heropbou vereis vandag ook verset teen die gelykmaking van almal se onderwys in een gemengde samelewing. Gelyke besteding en maatstawwe en enerse leergange maak nie van swartvolke Westerse Eerste Wêreldvolke nie, maar maak die Afrikaner met die Derde Wêreld gelyk. Sy jeug sal swak voorberei wees vir universiteite wat in hoë tegnologiese opleiding uitblink; hulle sal vakke moet kies wat nêrens in aanvraag is nie en hulle strewe om tot die oplossing van dringende Afrikavraagstukke by te dra, sal van die voorskoolse vlak af deurentyd ondergrawe word. Indien die Afrikaner dié gelykmaking aanvaar, sal hy sy reg op voortbestaan verbeur en sal die doel van sy bestaan as hoog ontwikkelde volk in Afrika verydel word.

En dan op bl. 82-83:

Die ondervinding het geleer dat ‘n volk homself deur eie inspanning ophef, soos veral uit die onlangse voorbeelde van Japan, Taiwan, en Suid-Korea blyk. Voorbeelde van volke wat deur ryk volke opgehef is, is nie bekend nie. Der miljoene rand is byvoorbeeld in Afrika aan ontwikkelingshulp bestee sonder dat opheffing tot Eerste Wêreldrang sigbaar gevorder het. Die neigings in die tagtigerjare dui eerder op agteruitgang: Bevolkingstoename oorskry die toename in voedselvoortbrenging; die waarde van uitvoer neem af; en skuld hoop op. Sonder die wil en die arbeid van die volk self, stort hulpverleners hulle geld in ‘n bodemlose put.

Daar bestaan geen rede om aan te neem dat dit in Suid-Afrika anders gesteld sal wees nie.

[…]

Eerste Wêreldrang moet egter op ‘n eerbare wyse behou word. Om dit te wil behou deur die RSA-samelewing onbepaald te oorheers en sodanig in te rig dat die Afrikaner sy voorsprong en mag as klein minderheid kan handhaaf, is nie ‘n eerbare, sedelik verantwoorde weg om te volg nie; ook nie die weg om mag sogenaamd te deel, maar dit nogtans met grondwetlike truuks te probeer behou nie; en ook nie om mag eenvoudig prys te gee, Gods water oor Gods akker te laat loop en in die swartmenigte te verdwyn nie. Hierdie uitweë gaan die Afrikaner as volk vernietig sonder dat daardeur iets bygedra word tot die volgehoue ekonomiese ontwikkeling van ander volke.

Onthou asseblief net weer dat jou huidige dosente aan die universiteite nie glo in iets soos “volk” of “volke” nie, maar alleen die regsbeginsel van “individue wat saamgroepeer”.

Met hierdie kommer van nivellering, uitlewering, uitverkoop, ‘stofverafgoding’ en identiteitsverlies voor oë, kyk ons nou na Africana Afrikaner.

Africana Afrikaner

Francis Grim spreek in 1974 die kommer uit in Gepoogde verkragting van Suid-Afrika oor UNESCO se planne om nasionalisme uit alle leerstof te haal, ten einde wêreldburgerskap onder die jeug te kweek (p. 42):

Onder die vroegste aanhangers van hierdie sosialistiese beweging (die Fabiane) was John Dewey , wat die invloedrykste man in die Amerikaanse onderwys geword het. Sy filosofie en leringe ontken die bestaan van God, verwerp bestaande morele wette en het die Marxistiese leer verkondig dat die mens nòg ‘n vrye wil het, nòg ‘n siel. Hy het die primêre doel van die opvoeding gesien as die vernietiging van die kind se individualistiese eienskappe. Kollektivisme of groepering van mense was van groter belang vir Dewey se beklemtoning as die ontwikkeling van indiwiduele talent en inisiatief. Hierdie begrip van groepering van mense is verwant aan Sensitiwiteitsopleiding wat elders in hierdie boek behandel word. Aan die einde van Dewey se loopbaan in 1950 het hy ere-voorsitter geword van die “League of Industrial Democracy”, wat die Amerikaanse ewebeeld van die “British Fabian Society” is.

Die begrippe en onderrig wat Dewey ingebring en benadruk het beïnvloed nou die onderwys in Amerika van die kindertuin af tot by die universiteit. Sy hedendaagse volgelinge beoog om die nasionalisme en patriotisme in die kind te vernietig, want hierdie eienskappe wat hulle van die ouerhuis af bring is in direkte stryd met die kollektiewe, eenwêreld/een-regering begrip.

Magtige invloede word uit onverwagte oorde op die kind toegepas. Die volgende word aangehaal van bladsye 58 en 60 van volume 6 van UNESCO se “Op pad na Wêreldbegrip”-reeks (1948) – wat heet: “Die Invloed van Huis en Gemeenskap”.

“So lank as wat die kind die gif van nasionalisme inasem, kan die opvoeding in hierdie ‘wêreldbegrip’ slegs onsekere resultate voortbring. Soos ons reeds aangetoon het, is dit herhaaldelik die gesin wat die kind nadelig beïnvloed met oordrewe nasionalisme. Die skool hoort dus gesinshoudinge wat jingoïsme voorstaan, te beveg… die bedrywigheid van die skool kan nie die verlangde resultate voortbring en elke vorm van nasionalisme verwerp nie, tensy die beleid van die nasie self een is van internasionale begrip en samewerking.”

En dan ontdek ons ‘n baie interessante brokkie nuus in Africana Afrikaner (1983), wat aanleiding sou gee tot die verhandeling van me. Du Preez:

Handboekontleding – Internasionale studies

Die vraag ontstaan wat gedoen word omtrent die reeds gemelde goggas wat in handboeke voorkom? Die antwoord is: Met die toenemende belangstelling in tussenvolkere verhoudinge het die soeklig reeds op handboeke geval.

Gedurende 1972 is handboekontledings onderneem deur die vooroordeel van 49 lees-, letterkunde- en sosiale studiehandboeke – gedurende 1958-1967 gepubliseer – na te gaan.

Heelwat studies het hierop gevolg en die volgende is bevind:

–          handboeke is hoofsaaklik op blanke middelklasstandaarde gerig;

–          handboeke bevat rassistiese stereotipes;

–          handboeke bevat geslagtelike stereotipes;

–          daar is gebrek aan materiaal wat positiewe selfbeelde by die kinders van minderheidsgroepe kweek.

Die afgelope dekade reeds wy verskeie organisasies hulle aan die verwydering van nasionale vooroordeel uit handboeke. UNESCO, die Raad van Europa, die Internasionale Federasie van Onderwysverenigings, die Wêreldfederasie van Onderwysunies en verskeie onderwysverenigings in Europese lande hou hulle met die probleem besig en heelwat besluite in die verband is reeds geneem.

Die doel met wedersydse pogings tot skoolhandboekhersienings (waar twee lande besluit om mekaar se skoolhandboeke deur te gaan en stereotipering uit te wys), was om die skrywers en hul uitgewers te motiveer om woorde en sentimente noukeurig te ondersoek en sodoende onbewuste vooroordele te elimineer.

Vooroordeel in handboeke word tans op ‘n deurlopende basis bewustelik ondersoek. Geskiedenis- en Aardrykskundeboeke word op ‘n permanente basis by die Internationales Schulbuch Institut te Brunswyk van nader bekyk.

UNESCO het reeds die gevolgtrekkings gepubliseer wat uit al hierdie ondersoeke voortgevloei het. Verskeie multilaterale en bilaterale ooreenkomste is gevolglik gesluit en veel kan uit hierdie suksesse geleer word.

Die volgende belangrike gebeurtenisse het plaasgevind:

a)      ‘n Internasionale seminaar is in Brussel gehou (1950) met die doel om handboeke as hulpmiddel tot internasionale begrip te verbeter.

b)      Kanada en die VSA het ‘n wedersydse studie van hulle handboeke onderneem.

c)       UNESCO het studies geborg om

–          die behandeling van die Weste in Suid-en Oos-Asiatiese handboeke, en

–           die behandeling van Asië in Westerse handboeke na te gaan.

d)      Die Skandinawiese lande het wedersyds hersienings van hulle handboeke onderneem.

e)      Die Internationales Schulbuch Institut in Brunswyk, sowel as ‘n soortgelyke instelling in Delhi in 1955, is gestig.

Die uitwerking van die toenemende besef van die invloed van skoolhandboeke kan bv. in die VSA, Nederland en Duitsland nagespeur word. Ou boeke is hersien en die Nasionale Geskiedenis word teen die agtergrond van die Algemene Geskiedenis gesien.

Nasionale Geskiedenis mag nie verontagsaam word nie – dit vorm ‘n belangrike basis vir die simboliese verwysingsraamwerk (of te wel individuele en gemeenskaplike lewens- en wêreldbeskouing) in ‘n samelewing.

Nasionalisme is egter teruggebring tot meer beskeie afmetings en perspektiewe. Die gees waarin daar geskryf word, het ook verander. Bitterheid het plek gemaak vir wedersydse begrip.

Ook in Suid-Afrika is daar die afgelope jare ‘n toenemende bewuswording ten opsigte van die bestaan van vooroordeel in die vertolking van Suid-Afrikaanse Geskiedenis in skoolhandboeke. Kritiek in opvoedkundige tydskrifte en die pers op hierdie boeke het uiteenlopende reaksies onder onderwysers tot gevolg gehad.

“Geluk skat, jy suip heerlik soos die purperbeklede Hoer van Babilon aan die vergulde beker van die eenwêreldregering en rý die sewekoppige dier bloots wat volke en nasies sal verslaaf, vertrap en vernietig tot die Wederkoms,” dag ek nog op bl. 16 en 17.

Toe nie – Du Preez ontpop skielik in ‘n kampvegter vir nasionalisme (p. 22-23):

Navorsingsresultate wat nasionalistiese vooroordeel in handboeke aan die kaak gestel het, het weer op hulle beurt die gevaar laat ontstaan dat internasionalisme te ver gedryf word. Die nasionale aspek van Geskiedenis word dan onderskat en verwaarloos. In na-oorlogse Wes-Duitsland bv. het die jeug onverskillig ten opsigte van ‘n eie identiteit geword. Waar daar in die voor-oorlogse jare hiper-nasionaliste gekweek is, word daar nou wêreldburgers gevorm wat geen spesifieke verbondenheid met hul land of volk voel nie. Die Vaderlandse Geskiedenis is in so ‘n mate ondergeskik aan die Algemene Geskiedenis gemaak dat dit feitlik daarin opgelos het.

Nasionalisme gee in ‘n sekere mate sin aan die lewe en die voorbeeld hiervan blyk duidelik wanneer die jeug van demokratiese lande met dié in diktature vergelyk word. In demokratiese lande het nasionalisme begin afwater, terwyl dit in die diktature weer sterk beklemtoon word. Die verskil lê daarin dat die jeug in die diktature ‘n sterk roepingsbewustheid het en ‘toegelaat’ word om ‘n sterk positiewe rol in die lewe en strewe van die gemeenskap te speel. Dit vervul die menslike drang om nuttig te wees en kweek op sy beurt lojaliteit, gehoorsaamheid en offervaardigheid.

Skole in demokratiese samelewings beklemtoon nie hierdie eienskappe nie, maar is meer op die individu ingestel. In hierdie lande vorm die jeug nie deel van die lewe van die volwasse gemeenskap nie. Geen werklike geesdrif word hier, soos by die jeug in die diktature, vir gemeenskapsake gevind nie. Die demokratiese volkere beroep hulle op motiewe wat klein en ondergeskik vergelyk met die begeerte om liggaam en siel te offer vir die bevordering van ‘n groot volksaak.

Dit blyk dus dat internasionalisme, en die gepaardgaande aftakeling van nasionalisme ook sy nadele het. Daar ontstaan ‘n mate van ankerloosheid, onverskilligheid en lewensmoedigheid (sic) wat die gebrek aan grootste (sic) ideale meebring.

Nasionale sentiment op sigself is nie verwerplik nie. Dit kan soms ‘n groep, soos die Nederlandse groep in Suid-Afrika, help om hulle identiteit te behou en voorkom dat hulle verswelg word deur ‘n dominanter Engelse groep na 1815. ‘n Gesonde nasionalisme kom tot uiting in die waardering van die tradisies, sentimente en belange van die eie groep. Dit moet egter nie ten koste van ander groepe geskied nie.

As die klem te sterk op Vaderlandse Geskiedenis val, kan meestersimbole met nadelige effekte ontstaan. Die geloof kan bv. posvat dat dié land die middelpunt van die wêreld is, en dat die volksgroep waaraan dié individu behoort beter as ander is.

En hierdie laasgenoemde mite (“dat dié land die middelpunt van die wêreld is”) het veral in die Afrikaanse koerante sommer nog tot onlangs mee te koop geloop. Ek was sedert ek my voete onder die skoolbank ingeskuif het onder die indruk Suid-Afrika se aansien ewenaar dié van ‘n Europese land, dat ons ‘n soort “ekonomiese reus” is, ‘n “supermoondheid”. Tot ek op ‘n dag, dit was 9 Junie 2015, afkom op The Observatory of Economic Complexity, soos ek destyds geskryf het op Wikipedia.

Ek hoop u hou die vlugsout naby:

Wat die persentasie afsetgebied van die ingevoerde Suid-Afrikaanse goedere en dienste betref, is hierdie land se wêreldwye aanvraag en ekonomiese impak maar uiters gering.

In Europa maak Suid-Afrikaanse goedere en dienste byvoorbeeld slegs 1,36% ($8,3 miljard) van die Verenigde Koninkryk (2012) se totale invoere uit. Meer as die helfte van die Britse invoere uit Suid-Afrika bestaan uit diamante, goud en platinum. So volg in dieselfde jaar ook Duitsland met slegs 0,52% ($5,7 miljard), België-Luxemburg 0,87% ($3,6 miljard), Nederland 0,49% ($2,6 miljard), Italië 0,53% ($2,5 miljard), Switserland 0,99% ($2,5 miljard), Spanje 0,42% ($1,4 miljard) en Frankryk 0,19% ($1,2 miljard).

In die Ooste maak Suid-Afrikaanse goedere en dienste ook ‘n klein persentasie van die totale invoere uit (2012): In China 0,69% ($9,7 miljard), Indië 2,03% ($9,1 miljard), Japan 0,8% ($6,33 miljard), Hongkong 1,23% ($5,84 miljard), Suid-Korea 0,43% ($2,11 miljard) en Thailand 0,99% ($1,9 miljard).

Suid-Afrikaanse goedere en dienste maak ook slegs 0,52% (VS$9,36 miljard) van die totale invoere van die Verenigde State van Amerika (2012) uit.

Wat ‘n ontnugtering. Suid-Afrika kon netsowel nie bestaan het nie. Die “reusebedrae” van “soveel miljard Rand” vir SAA en “soveel miljard Rand” vir ESKOM wat in die parlement afgerammel word is kleingeld in die internasionale sakewêreld daarbuite. Met jou paar sent in die bank voel jy soos vlooibollie in die grote uitspansel. Die ergste van alles is: as ons in die ekonomiese geskiedenis terugkyk, lyk dit ook nie veel beter nie. Gaan kyk gerus op die webwerf en besluit self ( https://oec.world/ ), Suid-Afrika se ekonomie gaan tot 1962 terug. Dit is goed te verstane dat ons baie lank na onsself as ‘n “reus van Afrika” verwys het – kyk steeds maar na die invoere by Zimbabwe en Mosambiek.

Jy kan jou indink hoe woedend ek was oor ek my so lank aan die neus laat rondlei het. Onthou hierdie woede, ek kom later daarnatoe terug.

In elk geval, Du Preez het 53 boeke ontleed in die Geskiedenis, Aardrykskunde, Afrikaanse Letterkunde en Engelse Letterkunde vanaf Standerd 6 tot 10. In die publikasie is die titels doelbewus weggelaat, wat my met ‘n suur gesig laat. In die inleiding word slegs gesê hierdie 53 boeke word dwarsoor die Republiek van Suid-Afrika gebruik in 1980/1981, in sowel Blanke as Swart Hoërskole. Wat was die Du Preez-bevinding (p. 73-74)?

Twaalf Suid-Afrikaanse skoolhandboekmeestersimbole

Nadat al die geïdentifiseerde meestersimbole wat meer as een maal in die verskillende institusionele ordes voorkom, of wat variante van mekaar is, saamgevoeg is, is daar uiteindelik twaalf blootgelê wat herhaaldelik in skoolhandboeke voorkom.

Hulle is die volgende:

a)      Wettige gesag word nie bevraagteken nie.

b)      Blankes is meerderwaardig; Swartes is minderwaardig.

c)       Die Afrikaner het ‘n spesiale verhouding met God.

d)      Suid-Afrika behoort regmatig aan die Afrikaner.

e)      Suid-Afrika is ‘n landbouland, die Afrikaner is ‘n boerevolk.

f)       Suid-Afrika is ‘n strawwe land.

g)      Suid-Afrika en die Afrikaner is geïsoleer.

h)      Die Afrikaner is militêr vernuftig en sterk.

i)        Die Afrikaner word bedreig.

j)        Die buitewêreld se opinie jeens Suid-Afrika is belangrik.

k)      Suid-Afrika is die leier in Afrika.

l)        Die Afrikaner het ‘n Godgegewe taak in Afrika.

Teensimbole is die volgende:

Die regering is nie verhewe bo die kritiek nie en maak soms foute. (a)

Swartes word veronreg. (b)

Swart nasionalisme is ‘n voldonge feit. (d)

Suid-Afrika is ‘n nywerheidsland. (e)

Suid-Afrika is ‘n voorspoedige land. (f)

Die Afrikaner beveg isolasie. (g)

Die Blanke is ‘n indringer in Suid-Afrika. (d)

Die twaalf geïdentifiseerde meestersimbole kom konsekwent in Geskiedenis, Aardrykskunde en Afrikaanse Letterkunde voor. Die Engelse Letterkunde en in ‘n mate Engelse handboeke, lewer die meeste teensimbole op en wel d.m.v. kritiek en negatiewe verwysings na die huidige regering, die uitwys van onreg teen ander bevolkingsgroepe en die siening dat die Blanke eintlik ‘n indringer in Suid-Afrika is.

Die teensimbole wat spesifiek in die simboolsisteem van die Afrikaanssprekende Afrikaner gevind is, is die volgende:

Swart nasionalisme is ‘n voldonge feit.

Suid-Afrika is ‘n nywerheidsland.

Suid-Afrika is ‘n voorspoedige land.

Die Afrikaner beveg isolasie.

En volgens Du Preez kan ‘n teensimbool dikwels gebruik word om ‘n meestersimbool deur argumentering en teenargumentering te versterk. Ek gaan slegs drie uitlig.

  1. a)      Wettige gesag word nie bevraagteken nie.
Ons vroeëre aristokrasie hiërargieë het ‘n simboliese rangorde gehad. Die rangorde is deur die koning bepaal en range deur hom toegeken. Die koning se gesag en reg daartoe het gesetel in God. Die simboliese rangorde het dus direk verband gehou met die mens se verhouding tot God en die hoër kosmiese orde.

Suid-Afrikaanse staatspresidente en regerings is ook deur God geroepe en hulle versinnebeeld die volk se verhouding met God en daardeur met die heelal.

Die Opperwese is vir die Afrikaner die heel belangrikste simbool en deur die Godgegewe leier te eer word God geëer. Die leier is dus die middelaar tussen die lede van sy groep en die hoër orde.

Deur die leier as verteenwoordiger van die groep te eer, word die groep self vereer. Blindelingse gehoorsaamheid en onvoorwaardelike navolging is ‘n vanselfsprekende vereiste. Kritiek op die leier of die regering is dus gelykstaande aan verraad teenoor die groep.

In die skoolhandboeke word leerlinge aangemoedig om ‘n onbevraagtekende lojaliteit teenoor die staat aan te kweek.

Dié absolute lojaliteit versterk die status quo en het die stabiele politieke patroon van die afgelope 35 jaar tot gevolg gehad, maar is in direkte teenstelling met demokratiese beginsels. In ‘n demokratiese gemeenskap word gesag verkry deurdat verskille erken, openbaar gemaak en daarna uitgestryk word. Wanneer verskille doelbewus vermy word en die uitdrukkingsmoontlikhede om te verskil beperk word, dan is demokrasie die lydende party. Wanneer ander menings ‘verraad’ of kettery word, kan demokrasie nie meer bestaan nie. Ironies genoeg verbind die simboolsisteem in die handboeke hom eksplisiet en onvoorwaardelik met die demokrasie.

Die onvoorwaardelike aanvaarding van wettige gesag soos dit deur hierdie meestersimbole in die handboeke gepropageer word, kan uit ‘n innerlike onsekerheid spruit en stagnasie en die belemmering van groei en ontwikkeling tot gevolg hê. Die teksmateriaal lewer dus ‘n skamele bydrae tot die bevordering van ‘n kritiese instelling by die skoolgaande jeug. – bl. 74-75.

Dit is regtig nie die eerste keer dat ek dit hoor nie.

Tönsing skryf die volgende oor sy Duitse klas by die Universiteit van Potchefstroom (bl. 7). Die Suid-Afrikaanse student is wel in die 1970’s ontvankliker vir die letterkunde wat skoonheid en waarheid betref as die Europese eweknie wat norme verwerp, anti-outoritêr is, “entoesiasme as kinderagtig verag en sinies of blasé herkoms en tradisie, die geskiedenis en sy verpligting verwerp en uit vrees vir ‘n derde wereldoorlog in ‘n geestelike vakuum ontvlugting soek”. Aan die ander kant was die Suid-Afrikaanse student hoofsaaklik kritieklose, oordeellose napraters en aanvaarders van elke outoriteit, wat in skrille teenstelling was met die anti-outoritêre opleiding oorsee wat dikwels rewolusie bloot ter wille van rewolusie aangehang het.

Voordat ek die volgende punt behandel, eers die gesprek wat ek en Dr. Dan Roodt op Disqus gevoer het onderaan mnr. Leon Lemmer se rubriek :

Suidpunt:

“Een van die redes waarom ek, in vergelyking met nie-fiksie, min fiksie lees, is omdat romanskrywers se verbeeldingskrag dikwels, selfs meesal, baie beperk skyn te wees. Dit wil voorkom asof fiksie se geslaagdheid in baie gevalle daarvan afhang of dit lewensgetrou is. Daar is al beweer dat ‘n jong romanskrywer nie geslaagde werk kan lewer nie omdat hy nog nie genoeg van die lewe en wêreld ervaar het en genoegsame insig daarin het nie.” [Leon Lemmer]

Ek het hierdie week op Goodreads met ‘n vriendin gepraat. Sy het gesien ek het Kraak drie sterre gegee en vir my ‘n opduimpie gegee. Ek het egter geen resensie gelewer nie en vir haar presies gesê wat fout is met die boek – onder die hofie “Kraak het ‘n kraak weg”:

as jy my eerlike opinie wil hê… dis uit hoflikheid dat ek 3 sterre gegee het en die kommentaar weerhou het [wat die verkoopsyfer andersins sou laat inplof het]. Ek moet seker nie soos Leon van Nierop ‘n Afrikaanse produk met sagte handjies oor die koppie vryf nie – maar…

My grootste probleem met hierdie postapokaliptiese boek is die algehele gebrek aan filosofie. Daar word baie aandag geskenk aan die woordryke omskrywing van die omgewing, mense wat transkontinentaal rondhol… maar ek het my boeke aan die dorpsbiblioteek geskenk. As jy die boek met sy opvolg moet opsom gaan jy maklik 3 sinne gebruik. As jy op ‘n afstand die spulletjie betrag, is dit vir my moeilik om met die karakters te identifiseer. Ek het daarom ook sommer belangstelling in ‘Stof’ verloor, want ek dink ek weet wat kom.

Daar is ‘n rede hoekom ek gistermiddag nog ‘n Wikipedia-artikel geskryf en ‘n onderhoud met Jako Malan van reWritten gevoer het. Dis jou keuse wat jy daarvan dink, maar ‘n roman moet ‘n filosofiese onderbou hê. Ek kan my veel makliker met ‘n jakkals, Makwassie van Elsburg, identifiseer, as met enigeen van hierdie mensekarakters.

[…]

( https://af.wikipedia.org/wiki/ReWritten )

Jammer dat my PRAAG-artikel nog lank vat met Dr. H.J. Terblanche, maar gister het ek Africana Afrikaner: Meestersimbole in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke deur J.M. du Preez (1983) gekry vir R5,00 en dié moes ek nou vanoggend eers deurlees. Dit is ‘n verwerkte verhandeling wat sy met lof geslaag het. Plek-plek is dit nogal lagwekkend: die Afrikaanse kind se handboeke is nog in die 1970-1980’s geskryf asof die Afrikanerkind nog ‘n boer is, terwyl slegs 10-12% hierdie beroep beoefen het teen die vroeë 1980’s. Die handboeke was glad nie aangepas by die meeste wat teen daardie tyd verstedelik was nie. Die stad word in ‘n geweldige negatiewe lig beskou, asook al sy probleme wat daarmee gepaard gaan. Sy beskou dit as bewyse van ‘n nuwe ideologie: dat die Afrikaner gemoderniseer het, uit sy plattelandse bestaan stads geword het – hy het sy deel oorwin; dus, iets positiefs, te midde van die moeilikheid (uit ‘n Calvinistiese oogpunt: slegs deur lyding en arbeid sal jy swoeg – die Afrikaner is dus op die regte pad.). Persoonlik dink ek die staat het die platteland probeer aantreklik maak, juis om die Afrikaner te verlandelik, juis omdat die ontvolking van die platteland soveel probleme veroorsaak, en verstedeliking ‘n probleem is. En dan moet ons ook onthou – die stad het die neiging om die Afrikaner, wat dikwels sosiale opgang wil maak, te laat verengels of te ontwortel.

Sy haal egter een of ander ou uit 1975 (Hendrik Willem van der Merwe, Identiteit en verandering; Looking at the Afrikaner today, almal by Tafelberguitgewers uitgegee, hoewel Sentrum vir Intergroepstudies vir my BESONDER verdag klink) aan wat sê die Afrikaner verkeer onder geen druk meer om te verengels nie, omdat die Republikeinse ideaal in 1961 bereik is. Ek weet egter van Serfontein (1970, Die verkrampte aanslag), P.J. Nienaber (1967) en vanselfsprekend J.C. Steyn (1980) en weer K.P. Prinsloo (1984) wat almal gesê het Afrikaans word verwaarloos en selfs geminag. En natuurlik H.J. Terblanche se outobiografie (1977). Verdomp, het die vrou ooit koerant gelees?! Nee, hoegenaamd nie! In haar verhandeling het sy slegs vaktydskrifartikels en boeke gebruik – sy het wel Duitse boeke ook gebruik, moet ek toegee. Om boonop te dink sy het haar M.graad deur Unisa gekry – ek bedoel, was daar dan géén koerantstelsel daardie tyd nie? Wat dit erger maak: dinge het post-1976 drasties verander, en sy haal ‘n bron aan uit 1975?!

Baie van die ou simbole het ondertussen wel teruggekeer wat sy toe nog onnodig ag (bv. met roer in die hand, want daar is mos polisie; broodknie en selfstandig – want daar is mos die kafee?) – jy is vandag nog op jouself aangewese, met die stygende voedselpryse plant jy maar jou eie groentes waar dit kan… maar op een plek het sy vandag heeltemal mis: Die Afrikaner, uitgebeeld in die eietydse massamedia, is die simboolsfeer van die skoolhandboeke ver vooruit (98). Wel, ek sien karakters op TV met doktorsgrade, maar met die emosionele intelligensie van sesjariges… Die programme is ook so geskryf dat die karakters geen toekomsvisie het nie. Ek sien suiplappe wat feesvier. Die meeste programme is steeds op die landbou geskoei waarin blankes hoofsaaklik uitgesaai word – terwyl die meeste blanke Afrikaanssprekendes (dus, Afrikaners?) juis in Gauteng bly, luidens die Sensus 2011. Oor die algemeen: ‘n gebrek aan filosofie. Hedonisme is nie ‘n filosofie nie – dit is ‘n siekte.

Dr. Dan  Roodt:

Baie interessant wat jy hier sê oor oor “gebrek aan filosofie” rondom verstedeliking. Dit strook met my siening dat die NP-Broederbond met hul reusemiddele (sterkste weermag in Afrika, ambassades in Westerse hoofstede, die SA staat, Eskom, Yskor, Sasol, ens.) INTELLEKTUEEL MISLUK het. Hulle kon eenvoudig nie sin maak van dít alles nie en het dit soos hoërskoolonderwysers benader. PW Botha het ten minste besef dat die “aanslag… totaal” was .

Sunnyside in Pretoria – tans Nigeries – was eens ‘n Afrikaner-Manhattan. Só ook eintlik Braamfontein in Johannesburg waar die drie susterkerke elkeen ‘n groot gemeente gehad het. Die Dopperkerk in Braamfontein was ‘n modernistiese kunswerk in brutalistiese beton waar die orrelis hom op die splinternuwe Duitse orrel met Bach te buite gegaan het. In die sewentigerjare is die munisipaliteit van sowel Johannesburg as Randburg deur die NP oorheers. Steeds as ek hier rondry, verstom ek my aan die pragtige Afrikaanse straatname in die nuwe voorstede van Johannesburg, Randburg en selfs Midrand.

As die Afrikaner ‘n positiewe, amper sê ek “progressiewe” maar ek bedoel meer vooruitstrewende, moderne, uitkyk op die stad gehad het, sou ons dalk ‘n soort wetenskapfiksie-utopie beleef het, iets so half uit die Italiaanse konstruktivisme met al sy nasionalistiese ondertone.

Intussen het die swartes die stede hul eie gemaak en het Afrikaners uitgewyk na die voorstede en kleinhoewes waar hulle ‘n soort ersatz “plaaslewe”, kompleet met grasdak-“lapas” herkonstrueer. Saam met hul stedelike oorheersing is die swartes ook besig om die hoofkantore van die banke, versekeringsmaatskappye en hoofkantore van nywerheidsmaatskappye oor te neem: van die stroois na die wolkekrabber binne ‘n enkele geslag!

Volledigheidshalwe haal ek die hele stuk uit die boek nou aan (p. 80-81):

  1. e)      Suid-Afrika is ‘n landbouland, die Afrikaner is ‘n boerevolk.
Ten spyte van die feit dat slegs 10-12% van alle Afrikaners boer, hang die Afrikaners nog steeds ‘n landelike simboolsisteem aan. Dit verklaar die Afrikaner-stedeling se ewige hunkering na die plaaslewe. (Vergelyk Volkskas se embleem van die ploeg, met sy leuse: Arbeidsaamheid.)

Die skoolhandboeke maak hulle by uitstek skuldig aan hierdie verheerliking van die landbou/boerweessimbole. In die Geskiedenis- en Aardrykskundeboeke is daar veelvuldige verwysings na die belang van landbou. Die milieu van die verhale in die voorgeskrewe Letterkundeboeke is hoofsaaklik die plaas of platteland.

Na die lewe in die stad word vlugtig verwys; dit word nie eintlik opwindend voorgestel nie. Die see- en kusgebiede word ook weinig as agtergrond gebruik. Die Letterkunde se simboolsisteem is besonder parogiaal: die wêreld eindig by die landsgrense. Daar is weinig reisverhale of verwysings na buurstate en ander lande. Betreffende die meestersimbool: Suid-Afrika is ‘n landbouland, bestaan daar net een wêreld, en dit is die Suid-Afrikaanse platteland.

Blanke plaasmense speel die hoofrolle in die verhale. Die Swartes is òf vyande, òf werkers en die Engelse en uitlanders word as antagoniste, met wie ‘n mens nie meng nie, voorgestel.

As gevolg van die grootskaalse verstedeliking van die Blanke bevolking in Suid-Afrika moet die jeug nou sy toekoms in ‘n stedelike omgewing skep. Skoolhandboeke konfronteer die jeug egter steeds met ‘n oordosis van landelike pioniersgeskiedenis wat buite hulle ervaringsfeer lê.

Die stad word as ‘n bedreiging, ‘n plek war die Afrikaner hom nie tuisvoel nie, maar net tydelik moet vertoef totdat hy weer plas toe kan gaan, voorgestel.

Dit is vreemd dat die Afrikaner, wat hom so goed by die strawwe land en die pionierslewe kon aanpas, dit so moeilik vind om met die stadslewe te vereenselwig. By die stadskind word die indruk geskep dat hy in ‘n misplaaste wêreld lewe, dat die eintlike opwinding en avontuur slegs op die plase te vinde is. Die plaaslewe-idille kan ‘n psigologiese onrus by die leerlinge veroorsaak. Vir die oorgrote meerderheid stedelinge is die stad hulle permanente tuiste. Die beperkende simboolsfeer in die handboeke, wat die stadslewe steeds as ‘n tydelike beproewing sien, kan nie vir die algemene aanpassing en lewensgeluk van die Afrikaner bevorderlik wees nie.

Dit gaan nie net daaroor nie. As jy ‘n landbouland wil bly, soos hierbo aangevoer word, moet jy jou nou nie kom staan en vergaap hoe Suid-Korea, Japan, Singapoer ongekende vooruitgang geniet met hul tegnologiese wonders (wat hulle teen watter prys kan vra wat hulle wil) nie. Goed, dit was eers in die 1980’s. Vra dan eerder: hoe het na-oorlogse Wes-Europa uit sak en as opgestaan? Dit alles ontbreek in die boeke. Verklaar vir my die Wirtschaftwunder van Duitsland in die 1950’s, van Italië in die 1960’s?

Om die eenvoudige rede: vervaardigde produkte verdien meer as rustof.

‘n Enkele Mercedes E-klas kos nou meer as R1 miljoen, splinternuut met sy sopnat verf. Jou sakkie appels haal iets soos R20 op die mark, wat nie te sê is jy sal kry nie, want die winkelier moet ook sy wins maak. Kom ons gestel daar is tien appels in ‘n sakkie, wat beteken jy sal 500 000 appels moet verkoop om ‘n enkele Mercedes Benz se prys te ewenaar. As ‘n mens inreken dat jy ‘n hele paar vroegryp en vrot appels in jou boord(e) sal  kry, plaasarbeiders foute maak, haelskade, siektes, ens. ens. verdubbel dit jou spasie, kunsmis, arbeid (ens.) wat jy in beslag moet neem, maar dit krimp jou winsmarge in. Dit is ook glad nie te sê mense het altyd lus om jou appels te koop nie. Nie alleen kompeteer jy met ander boere en ander lande wat ook appels verbou nie, jy kompeteer ook met ander vrugte. Starking appels is vir my te melerig, ek kry soms trek vir ‘n Granny Smith, maar veral vir Golden Delicious. Maar aarbeie met room is vir my soeter en lekkerder. Veral daardie bloubessies en swartbessies en my eie nastergal (Solanum nigrum) en appelliefies (Physalis peruviana) in die agtertuin. Aha – iedereen kan dit verbou.

Maar iets soos ‘n stralerenjin is ‘n dringende noodsaaklikheid – mense moet vlieg, dit is die vinnigste manier van vervoer op die oomblik. En nie elkeen kan hom bou nie. Lugrederye en vliegtuigmaatskappye sal nie omgee wat om te betaal nie, solank hul vliegtuie net in die lug kan kom. Het jy enige idee hoeveel vliegtuie daar tans in die lug is? Volgens die Koninkljike Luchtvaartmaatschappij (2017): “Grof gezegd, kost een motor tussen de 10 en 30 miljoen euro.” En niemand sug om te betaal nie. Jy kan dus vir jouself indink hoe landboulande net al hoe dieper en dieper in die skuld beland, want hulle kan nie genoeg geld maak om hierdie duur masjiene te koop nie. Maak nie saak hoe idealisties jy van die masjienwêreld probeer ontvlug nie, soos die plaasroman van die 1930’s sou jy vinnig agterkom hierdie genre se tyd is verby. My snare het finaal gebreek met Oupa Landman se Viool.

Let wel: ek kritiseer nie ons boere nie. Hulle lewer ‘n diens en produk waarvoor baie van ons nie meer kans sien nie. Dit is ons plig om hulle te ondersteun. Maar dink jou gou vir een oomblik in as die hele Johannesburg nou wil begin boer!

My kritiek is téén die regering (van vandag) wat nie wil aanbeweeg na die sekondêre (nywerheid), tersiêre (dienslewering) en kwarternêre (navorsing en inligtingversameling en -verspreiding) sektor toe soos die res van die ontwikkelde wêreld reeds gedoen het nie. Hulle bly met opset vassteek by die primêre sektor: landbou, bosbou, mynbou, vissery, jag – rustof. Ons grootste uitvoerprodukte is steeds, soos opgeteken sedert 1962, rustowwe. Ons haal $108 miljard in 2017 (en onthou, ons is maklik meer as 60 miljoen mense). ‘n Land soos Singapoer se vernaamste uitvoerproduk is mikrovlokkies en stroombane en kry meer geld deur sy uitvoere ($320 miljard in 2017) vanuit daardie piepklein moeraslandjie, as die ganse Swede ($144 miljard in 2017). Wat is daar om te vergelyk?

Ook die landbou kan weens meganisasie en ander elemente daarbuite net X-aantal mense vat, voordat dit versadig is. Dit is waarom daar in die 1800’s ‘n nywerheidsomwenteling plaasgevind… my donder, dis elementêre geskiedenis! En die staat (die huidige een) wil teen sy beterwete wragtig terugneuk na die 1700’s toe? How progressive… ‘n Mens kon sweer die lot het in die eksamen afgekyk by ‘n Apartheidhandboek en dit net so lettertjie vir lettertjie nagevolg. Dit is só onoorspronklik, Azanië is letterlik ‘n ersatz-Apartheid!

Die belangrikste bevind Du Preez, is die ouer garde wat met heimwee terugverlang na die platteland, wat dit net so tot uiting bring in hul boeke (p. 89):

Die Afrikaner wat op die platteland grootgeword het, en daar gevorm is, bly meestal ‘n plattelander, ondanks sy vestiging in die stad.

Aanpassings by die fisiese vereistes wat ‘n pionierslewe stel, was blykbaar nie te moeilik nie; aanpassings by die psigologiese eise van ‘n ekonomiese-georiënteerde stad moes besonder moeilik gewees het. Derhalwe is daar ‘n groot aantal mense wat nie ten volle aangepas is by die stedelike gemeenskap nie, steeds hunkerend om na ‘n landelike omgewing terug te keer.

Hierdie plattelandse oriëntasie word nog in groot mate gevind by die eerste geslag wat in die stad opgroei as gevolg van sosialisering deur ouerhuis, kerk en skool. Met die koms van die volgende gesalg word die invloed van die onmiddellike omgewing sterker as dié van die platteland. Kulturele verstedeliking tree eers werklik by die derde en vierde geslag in.

Daar is ‘n progressie te bespeur by verstedelikte Afrikaners wat as volg opgesom kan word:

–          Die ontstaan, groei en bloei van ‘n radikale politieke sienswyse.

–          Die opkoms van die Afrikaner in die industrie en ‘n toetrede tot die kapitalisme.

–          Die inburgering van die Afrikaner en die ontstaan van ‘n middelklas binne die stedelike en voorstedelike woongebiede.

Hierdie progressie word nie in die simboolsfeer van die skoolhandboek-teksmateriaal betrokke by hierdie ondersoek gedek nie.

Vervolgens ‘n aanhaling uit Van der Merwe (1975): “Toe Kestell in 1938 by Bloukrans gepraat het oor ‘my nasie in nood’ en om ‘n ekonomiese reddingsdaad gepleit het, kon hy onmoontlik vooruitsien dat die Afrikaner-ekonomie binne ‘n dekade die beproefde selfreddende pad van die moderne industriële kapitalisme met merkwaardige ywer, talent en vindingrykheid sou volg.”

Dit is vreemd dat Suid-Afrika se ‘Wirtschaftwunder’ geen aanklank in die simboolsfeer van die skoolhandboeke vind nie. (my beklemtoning)

Plek-plek gaan sy vir my te ver. Sy gebruik Ortega Y Gasset se indeling van die geslagte:

1)      Die kind aanvaar hoofsaaklik sy ouers se simboolsfeer en vertolk weinig self.

2)      Die jeug ontwikkel ‘n selfbewustheid en begin self vertolk.

3)      Die generasie van inisiasie het al grotendeels sy eie lewenstyl deur eie vertolking bepaal en kom in opstand teen die lewenstyl van die generasie van dominansie.

4)      Die generasie van dominansie se lede beklee die belangrikste posisies in die samelewing.

5)      Die ou mense werk nie meer aktief aan ‘n lewenstyl nie en het hul posisies in die samelewing aan die generasie van dominansie afgestaan. Ortega noem hulle getuies van die verlede.

Volgens Du Preez se vertolking is die ou mense, die getuies die skrywers van hierdie boeke en het lankal hul raktyd oorskry. Die generasies van inisiasie, die jeug en die dominante kultuurvormers word saamgesmelt; hul seggingskrag, selfstandigheid en vertolking word ontneem en as groep word hulle “soos ‘n kind behandel”. Wat sy eintlik sê is: die Afrikaner sit hier met ‘n gerontokrasie.

Verskoon my, maar dit grens darem aan growwe “ageism” en “stale pale male”. Mnr. Leon Lemmer is in die 80 en steeds lewer hy weekliks vir ons goeie resensies wat vir my ook bruikbaar is. Die internet is van so ‘n aard dat ouderdom regtig nie meer ‘n faktor is nie. Slegs die wil, die ondervinding en die kennis. Daar is ‘n rede hoekom die mense in die parlement en hof hierdie lawwe wit poeierpruike gedra het, en dit was om mense te herinner dat ouderdom nie tel nie, maar die opinies en die rede wel. Dit maak nie saak of jy ‘n infantiele kommunis met ‘n rateltjie of ‘n helder, ingeligte, oopkop bejaarde met ‘n loopraam is nie, die geldigheid van die argumente spreek vanself.

  1. i)        Die Afrikaner word bedreig

Die volgende twee paragrawe (p. 85):

Verstedeliking: Die Afrikaners, wat hulleself as ‘n landbouvolk beskou, het migrasie na die stad net as ‘n laaste uitweg oorweeg. Slegs omdat hulle voortbestaan bedreig was, het hulle die plase verlaat. Die tyd wat hulle dan noodgedwonge in die stede moes deurbring, was ‘n beproewing en gekenmerk deur hulle ewige hunkering na die plaas.

Die stad word as ‘n vyandige omgewing gesien, waaruit ‘n mens liefs so gou moontlik moes wegkom voordat dit te laat is. Die bekende uitdrukking Sodom en Gomorra is aan die stede toegedig en is ‘n uitstekende beskrywing van wat die plaasmense se indrukke van ‘n stad was. Mense ‘af die plaas’ was daarenteen puriteinse, naïewe persone wat nie opgewasse was vir die eise van die stad nie.

Kom ons stel Du Preez se teorie op die proef aan die hand van ‘n steekproef (‘n eksemplaar) uit hierdie era. Ek het ‘n ander teorie. Maar voordat ons beskuldigings rondgooi, laat ons net eers doodseker maak of die Staat vooraf geweet het wat die Afrikaner se beroepsposisie in die stad is.

“Die Afrikaner in die beroepslewe van die stad” (1968)

Sowaar, hulle het geweet. Die proefskrif van dr. S. van Wyk sluit af met die volgende slotsom (pp. 237-239):

Die slotsom waartoe geraak word na aanleiding van die onderhawige studie is die volgende:

a)      Die Afrikaner het inderdaad teen 1960 nog ‘n baie groot agterstand in die beroepswêreld deurdat hy in ‘n veel groter mate as die nie-Afrikaner in die minder aantreklike en minder lonende beroepe gestaan het. Hy begeef hom veral in die kollektivistiese en owerheidsektor.

b)      Die nie-Afrikaner vergelyk oor die algemeen baie gunstig met die Afrikaner omdat hy na verhouding veel meer as die Afrikaner die aantreklikste en die hoogs besoldigde professionele, uitvoerende, besturende en verkoopsberoepe beoefen. Die Engelstalige se sosiaal-ekonomiese voorsprong blyk ook daaruit dat hy veel meer as die Afrikaner ‘n ondernemer en werkgewer is.

c)       Die agterstand van die Afrikaner staan regstreeks in verband met sy landelike agtergrond, sy gebrek aan ‘n stedelik-industriële tradisie, die feit dat die stadsontwikkeling skielik gekom het, die feit dat die verstedelikingsproses wat gevolg het na aanleiding van die ontdekking van diamante en goud en die daaropvolgende handels- en industriële ontwikkeling snel verloop het en die feit dat die ondernemers en kapitaalkragtiges in die vir die Afrikaner nuwe ekonomiese stelsel uitheemse nie-Afrikaners was.

Die Afrikaner is deur allerlei faktore van die platteland na die stedelike omgewing weggedryf – faktore in die natuuromgewing geleë (droogtes, plae, veesiektes); die plattelandse verarming, veral ook na aanleiding van die Tweede Vryheidsoorlog, ensovoorts. Die Engelstalige daarteenoor het weer ‘n groot voorsprong in die beroepslewe van die stad, omdat hy hierheen gekom het as ‘n stedeling met ‘n stedelik-industriële tradisie, met ondervinding en opleiding, en ook as gevolg van die feit dat hy gerugsteun is deur die Brits-imperiale verband. Hy was ook van die begin af die ondernemer en die kapitaalkragtige. Vandag nog is een van die grootste vraagstukke vir die Afrikaner in die ekonomiese lewe van die land daarenteen juis die vraagstuk van kapitaalvorming.

d)      Daar is ‘n besonder noue verband tussen die beroepslewe en die sosiaal-kulturele en sosiaal-ekonomiese lewe van die gemeenskap. Die agterstand wat die Afrikaner in die beroepslewe ondervind, moet noodwendig sy sosiaal-ekonomiese en sosiaal-kulturele ontwikkeling oor die algemeen benadeel, terwyl dit die Engelstalige natuurlik kragtens sy voorsprong bevoordeel. Solank die Afrikaner ‘n agterstand in die beroepslewe het, sal hy ook ‘n agterstand in alle fasette van sy maatskaplike lewe ondervind en solank die Afrikaner op sosiaal-ekonomiese gebied ‘n agterstand ondervind, sal hy ook ‘n agterstand in die beroepslewe hier te lande openbaar.

e)      Kragtens die sosiale dinamika waardeur iedere gemeenskap gekenmerk word, moet mens te wagte wees dat die Afrikaanse gemeenskap ook in sy beroeps-, maatskaplike en kulturele struktuur mobiliteit sal ondervind. Hierdie beweeglikheid in die maatskaplike struktuur kan òf die vorm van geleidelike agteruitgang, òf die vorm van vooruitgang aanneem, maar juis omdat die Afrikaner so besonder bewus is van sy sosiaal-kulturele en sy sosiaal-ekonomiese agterstand, sal hy na alle waarskynlikheid vordering toon.

[…]

Die vordering van die Afrikaner hang in ‘n baie groot mate van homself af – van die mate waarin hy die bestaande geleenthede benut, hulle voortdurend aanvul en uitbou en die mate waarin hy hom dit daadwerklik ten doel stel om sy posisie te verbeter. In elk geval kan hy sy beroepsagterstand alleenlik uitwis deur bewustelik daarna te streef, deur die optimale benutting van onderwysgeleenthede en deur die ontwikkeling van elke greintjie latente vermoë. Ten dien einde sal die Afrikaner se besonder gunstige posisie in die onderwysprofessie hom in die toekoms as onskatbaar vername hulpmiddel te stade kom.

Ons sien dus Van Wyk se stelling is ‘n effense draadsittery: ja, hy wil die Afrikaner in die onderwysberoep sien, maar nee, hy moenie die staatsdiens te lank beklee nie maar eerder in die privaatsektor vir homself werk vind en skep. Ek vermoed hy sou wou hê jy moet die geld van die staat as middel oppot (hoe karig ook al) totdat jy jou eie onderneming of professie (soos die geneeskunde, veeartsenykunde, tandheelkunde, ens.) kan begin. Of, die geld sal vir jou kinders gebruik word, sodat hulle hierdie beroepe kan beklee.

Van Wyk skryf ‘n paar bladsye tevore (bl. 231-232) vir ons hoe die Engelssprekende nog vernaamlik “konserwatiewe” skoolvakkeuses gemaak het:

Vergelykende statistiek van die Departement van Onderwys, Kuns en Wetenskap bring aan die lig dat die Afrikaanse hoërskoolleerling ‘n verontrustende agterstand in vergelyking met sy Engelstalige eweknie het. In die Transvaal het byvoorbeeld slegs 53 persent van die Afrikaanse matrikulante in 1962 wiskunde geneem teenoor 82 persent van die Engelstalige matriekleerlinge. In die Kaapprovinsie was die verhouding 44 persent teenoor 65 persent, in Natal 66 persent teenoor 87 persent en in die Oranje-Vrystaat 47 teenoor 64 persent onderskeidelik. Ook wat Latyn betref, was die bevinding dat die Engelstalige die vak baie meer neem as Afrikaanstalige leerlinge. Dit was onder andere aan die verkeerde vakkeuse van Afrikaanse kinders te wyte dat daar ‘n wanverhouding in die getalle Afrikaans- en Engelstalige geneeshere, ingenieurs, regsgeleerdes en verwante professionele werkers bestaan het wat deur die universiteite gelewer is. So was van die studente wat by die mediese fakulteite van al die universiteite in 1963 ingeskryf was, slegs 27 persent Afrikaanssprekend. Van die ingenieurstudente was slegs 34 persent Afrikaanssprekend en in die regsfakulteite, waar kennis van Latyn ‘n voorvereiste was, was slegs ongeveer 42 persent Afrikaanssprekend.

[…]

Die bedenklike verskynsel dat kinders aan die Afrikaanse hoërskole so dikwels toegelaat word om allerlei maklike vakke vir Matriek te neem, lei dus daartoe dat die Afrikaanse kind outomaties van sekere beroepe uitgesluit word.

[…]

“’n Mens kry ongelukkig die indruk dat dit in sommige Afrikaanse skole die vernaamste doel geword het om die kind in Matriek te laat slaag sonder dat daar gevra word of daar by hom ‘n grondslag gelê is waarop hy in die verde lewe kan voortbou.”

Ek is pleit skuldig – ek het die ‘maklike’ vakke gekies (wat soos ‘n ‘stigma’ aan ‘dom’ kinders gekleef het – wat soek ek dus in hierdie klas?), wat onbewustelik my algehele gemiddelde ‘kunsmatig’ opgestoot het bo die res. Baie leerlinge wat gebars het in die tegniese en wetenskaplike vakke (Biologie, Skeinat, Rekeningkunde, Wiskunde, Rekenaarstudie) sal my dus, seker goed te verstane, nie juis eendag onthou as ‘n geliefde mens nie… As daar maar beter geesteswetenskaplike vakke of tale was om van te kies, wie weet?

Nou goed, tyd om die skoolhandboek aan te pak.

‘Geskiedenis vir St. 10’ (1974-1984) onder die soeklig

Die bovermelde handboek, uitgegee deur Perskor, is geskryf deur C.J. Joubert, en sy ISBN-nommer is 0628009313 as jy self wil gaan naslaan. In die voorwoord van die tweede uitgawe word gesê “weinig wenke” is ontvang wat verwerk kon word.  Wat?! Het absoluut niemand beswaar gemaak nie?

Wat jou heel eerste opval in hierdie boek is die afdeling oor die ekonomiese indringing, of eerder, inwurming, van Sjina in Afrika, en watter gevaar dit vir die Blankedom aan die Suidpunt inhou. Maar vir hierdie artikel moet ek my nou gaan toespits op die verstedelikingskwessie.

Interessant, op bl. 226 staan duidelik: “…in 1970 was 86,7% van die 3 774 000 Blankes verstedelik”. ‘n Mens sou dus meer wil sien oor die rol van Blankes in die stad/dorpe.

En soos Du Preez tereg sê, ‘n mens sou meer oor die Wirtschaftwunder in Suid-Afrika wil weet, maar amper vier bladsye agtereenvolgend (elders nog meer) word afgestaan aan die Armblankevraagstuk. Oor sy opgang in die stede (p. 228)? Daar word meer gekyk na sy kulturele en maatskaplike toestande as die ekonomiese dryfveer.

Deur hierdie faktore beïnvloed, was ‘n groot deel van die verstedelikte Afrikaner nie net besig om geestelik en kultureel agteruit te gaan nie, maar ook om sy identiteit te verloor. Dit het ‘n proses van denasionalisering aan die gang gesit. Denasionalisering sou ‘n groter tol geëis het as dit nie was dat kultuur- en kerkleiers stappe gedoen het om die proses te stuit nie. In 1929 is die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) gestig. Die FAK en die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging), sowel as kerklike organisasies, het die Afrikaner gehelp om sy identiteit te behou. In die dertigerjare het die Afrikaner ‘n sterk kultuurmens geword. Die verheffing van Afrikaans tot amptelike taal in 1925, die opkoms van die Afrikaanse letterkunde, die ingebruikneming van die Afrikaanse Bybel in 1933 en die Eeufeesviering van 1938 het ‘n nuwe trots by die Afrikaner laat ontwikkel.

Die Afrikaner het mettertyd sy probleme wat hy as stadsmens ondervind het, oorkom. Steeds stygende getalle, beter akademiese agtergrond, beter ekonomiese posisie en sterk kultuurbewustheid het teen die jare veertig ook ‘n invloed op die politieke toestande in Suid-Afrika gehad. Al meer van die stedelike kiesafdeling is deur die Nasionale Party gewen. Dit was veral van 1948 af merkbaar.

Hierdie boek sê hy “trek” die geskiedenis “deur” tot 1970, dus, vier tot ses jaar voor die skrywe. Uit die vorige blad (p. 227) word net geskryf in 1939 het die Afrikaner slegs 8% van die handel beheer en in 1963 was dit reeds op 28%. In die volgende paragraaf word net gesê in 1961 was 71% van alles staatsdiensamptenare Afrikaanssprekendes, terwyl dit in die polisiemag nog veel hoër is, met 87%, en dat ‘n toenemende getal Afrikaners die onderwys sedert die 1930’s hul beroep gemaak het. Weereens, die staatsdiens.

Wat die ekonomiese vooruitgang betref, presies soos in my Aardrykskundehandboek van 2006, word daar meer gekyk na die Staat se eie inisiatiewe en ontwikkelingsprojekte as die privaatsektor s’n. Wat my betref het die privaatsektor ‘n dubbele rol: hy verskaf die geld waarmee die regering moet dobbel, en hy moet nog op sy eie bene staan, op sy voete dink en die inisiatief neem wat dikwels die staatsektor ligjare vooruit is. Vir die hoeveelheid geld wat die privaatsektor bydra, is ‘n paar paragrawe in die handboeke seker nie te veel gevra nie, of hoe?

So, ons moet nou aanneem dat die Afrikaner sy opgang gekry het as kripvreters en dat die privaatsektor glad nie bestaan nie of ‘n weinige rol speel. Of: die staat (of die skrywer) wil eintlik hê die Afrikaner moet nog in die staatsdiens bly/oorheersend wees.

‘n Veel groter hoeveelheid bladsye word aan die “Verstedeliking van die Bantoe” afgestaan en al die euwels wat daarmee gepaardgaan.

Dit is baie duidelik dat die boek desentralisasie voorstaan, en met goeie rede (p. 225):

Meer as 80% van die Republiek se fabrieksgoedere word in die vier hoofnywerheidsgebiede geproduseer. Dit is die Pretoria-Johannesburg-Vereeniging-gebied, die Durban-Pinetown-gebied, die Port Elizabeth-Uitenhage-gebied en die gebied om Kaapstad. Dit bring mee dat Suid-Afrika se industrieë meer gekonsentreerd is as dié van die meeste ander nywerheidslande. Om verskeie redes is so ‘n toestand nie wenslik nie.

–          Dit dra in ‘n groot mate by tot die ontvolking van die platteland.

–          Terwyl ontwikkeling slegs in enkele gebiede plaasvind, raak die res van die land agter wat industriële vooruitgang betref.

–          Die plattelandse bevolking deel nie in gelyke mate in die toenemende welvaart van die land soos die stedelike bevolking nie.

–          Konsentrasie van bevolking in die stede bring mee dat lewenskoste styg. Hoe meer mense op een plek saamgetrek word, hoe hoër styg die lewenskoste per persoon.

Die regering het derhalwe besluit om ‘n program van desentralisasie van stapel te stuur. Deur desentralisasie kon daar ook nywerhede op die grense van die Bantoetuislande gevestig word waar daar nie genoeg ondernemings is om in die aanbod van arbeid te voorsien nie. Agt gebiede is vir grensnywerhede opsygesit. Ten einde nyweraars aan te moedig om ondernemings in dié streke op te rig, is spesiale toegewings aan hulle gemaak.

[…]

Groeipunte in grensgebiede wat hoofsaaklik op die Bantoe toegespits is, is Brits, Rustenburg, Potgietersrus, Pietersburg, Phalaborwa, Richardsbaai, Ladysmith, Newcastle, Oos-Londen, Berlin, en King Williamstown. In die Bantoetuislande is die groeipunte Babalegi, Isithebe, Umtata en Butterworth.

Waarom al die jakkalsdraaie loop? Hoekom spel jy dit dan nie uit nie: “ons soek jou op die platteland, hond!” Want gesien die 2011-sensus het die Afrikaner die subteks duidelik nie gesnap nie, of soos ‘n rooi robot saans in Hillbrow geïgnoreer.

Die skrywer het wragtig vergeet om toe te voeg: “waar meer mense van oraloor saamdrom is daar ook meer ongeskoolde arbeid, meer werkloosheid, meer misdaad, daarvan hou ons nie.”

Ag, ons almal weet die skrywer was diep in sy hart net bang dat die Afrikaner in die stad verder sal verengels en sy kultuur kwytraak. Nou stuur hy hom terug na die kibboetse op die platteland waar die Afrikaner nog die hef in die hand het.

Of was dit die hele “terug na die natuur”-beweging in Europa wat uiteindelik oorgespoel het hierheen? Ek weet van piekniekfoto’s van ABBA op die idilliese Sweedse platteland, die hare ongekunsteld mooi gladgestryk, te mooi … Die ‘sorgelose’ 60’s en 70’s. In Amerika is suburbia ook nie meer so lekker nie, en ‘n naweekboshut iewers in die ongerepte wildernis word as die nuwe ideaal voorgestel. Sous un ciel d’étoiles.

Luna, dies et nox et noctis signa severauit Lucretius, of soos T.J. Haarhoff vertaal in sy boek Briewe aan Reinhard van Johannes (1942:39): “Die maan, die dag en die nag, en die streng sterre van die nag”.

Waarom nie sommer op die platteland bly nie? Met jou blokhakskoene, Sweedse ferweel en lunettes de soleil rondes noires. Iewers lees ek nog in Buidel hoe Jan Rabie en Marjorie Wallace op die idilliese Onrus gaan bly het (ek kan net nie onthou of Uys Krige hom voorgespring het nie), en dit het die lêplek van al wat kunstenaar en skrywer geword wat hom tydig en ontydig kom “verras” het – tot sy ergernis. Net soos die ongevraagde voëls wat in sy koolkoppe (of was dit nou blaarslaai?) kom nesmaak het. Nou moet jy ook verstaan: Jan en Marjorie het heerlik getoer deur die ‘ou Griekeland’ en die ware “Westerse plattelandse dorpsheid” opgesoek wat in die stad en moderne Afrikaanse dorpe en deur die modernisme verlore gegaan het.

Maar gesien teen die inhoud van die Geskiedenishandboek, ontstaan daar onder die stedeling, wat geen behoefte aan ‘n Onrus het nie, meer vrae as antwoorde. Selfs ek wat op die platteland bly kan dit met ‘n stok aanvoel.

My liewe mens, om na die platteland uit te wyk, beteken mos nou nie jy hoef ‘n afkeer in die stad te kweek nie! Daar is meer as genoeg stoot- en trekfaktore wat daarnatoe sal lei.

Wanneer ‘n leerling/student/afgestudeerde eers agterkom dat die staat hom in ‘n blik wil druk, inligting van hom verswyg het of blatant vir hom gelieg het, gaan hy in opstand kom, die hele stelsel verwerp, of ‘n ander heil soek wat na die regte pad lyk. Dit gaan beslis gepaard met verwarring en woede.

Verwarring, woede en verwerping onder die jeug

Probleem nommer 1: die ontnugterde buitestaander vs. “‘n nasie iewers êrens heen”.

Ek wou eers The Story of an Afrikaner: die rewolusie van die kinders (1980) deur Natie Ferreira in die hande kry, maar het daarteen besluit, aangesien ek nie kon uitvind presies wanneer die persoon die Afrikanernasionalisme verwerp het nie, en ek spesifiek na jeugdige voorbeelde gesoek het.

In Abraham de Vries se resensie sien ons egter duidelik ‘n Afrikanerman wat heeltemal ‘n ontsaglike probleem het met sy eie individualiteit wat doodgesmoor word deur Nasionalisme, tot so ‘n mate dat hy voortaan in Engels skryf (wat ek nou oorskryf uit Judith Lütge Coullie se “Rejecting the Mother Tongue: Afrikaner on the Margins” ):

I should really be writing in Afrikaans. But as you know it is impossible to do so at this stage. It irritates and saddens me but at least I know that time is on my side.

The point is: our politicians, newspaper editors and Afrikaans publishers will allow us to write (and think, and say) only certain things – those things that fit the grand schemes and narrow thoughts of a powerful cabal. I know because I’ve tried. I pleaded with them, argued and fought. Nothing helped.

So I will write in English but always with the hope that one day my people will know that they are not free.

Volgens hom: “the individual has no lebensraum except in submission.” En diegene wat nie konformeer nie, kry die volgende behandeling van die koerante (soos weergegee in De Vries):

“ … Afrikaans newspapers and the SABC start in on what they call a ‘knife job’. This simply means that the culprit is discredited, smeared, written off and buried” or in a “subtler version”: the doodswyg-metode, the kill-by-silence method” (p.4.)

Bravo! Ongeag die politieke bordjies wat verhang is – het hul strategie en metodes sedertdien verander? Plaas van weerlegging wat ‘n sinvolle gesprek is, spreek die media eerder van hul onkunde deur slagspreuke en eensydige beriggewing. ‘n Intelligente mens dink uit verskeie invalshoeke.

Ferreira is ook nie die eerste een nie: ek weet van Reisigers na nêrens (1953) deur Willem P. van den Berg, wat die hele mensdom amper verkwalik omdat die hoofkarakter se eie individualiteit, drome en selfverwesenliking verpletter is deur die sieldodende tradisie wat gestroop is van betekenis (soos hý dit ervaar). Van der Berg skilder ‘n kuddedier voor ons (p. 108-109):

Met ‘n gevoel van bitterheid in sy hart bekyk hy hierdie mense. Hoe dankbaar is hulle nie vir elke geleentheid tot ontvlugting nie, al die perverse, enge, bekrompe kreature! Wat gee hulle om of hierdie aand Kersaand of watter aand ook al is, solank hulle in uitspattigheid en uitbundigheid hulself en hul klein en verskroeide lewentjies kan vergeet! En dit is Gods hoogste skepping, die mens, sy medemens, in wie hy altyd so vas en seker geglo het, vir wie se geluk hy bereid was om te stry, omdat hy geglo het in mooi-klinkende terme soos ‘n gelyke bestaansreg, vryheid, die geleentheid tot selfverwesenliking, die ontwikkeling van die persoonlikheid. Maar kyk na hulle! Waar is die selfverwesenliking, waar ‘n persoonlikheid? Hy beskou hulle aandagtig, soos hulle verbykom, een vir een. Skaars ‘n enkele gesonde, selfs maar liggaamlik gesproke. Die een ‘n vet jong man, ‘n verbleekte ou vroutjie, ‘n teringlyer, ‘n mank bedelaar, twee jong meisies, welgevorm maar met alle natuurlikheid verberg onder poeier en verf en kunsmatig gekrulde hare, hulle gesigte leweloos en onverskillig – ‘n stroom van mislukkings, gebroke nature, verydelde geeste.

En dit is soos hulle hierdie dag vier. Wat ‘n teenstelling tussen hierdie aand en daardie! Die stilte op die vlaktes voor Betlehem, die gesprek van die eenvoudige herders wat huiswaarts keer, die enkele gloeiende ster in die uitspansel, die sang van engele! En hier, dreunende motors met hulle skerp ligte, straatligte, advertensieligte, motorbusse, verligte vensters, sigarette; ‘n skreeuende tierende mensemassa op jag na vermaak, plesier, net iets opwindends; in die kafees en deur die vensters by die danssale, wilde, luide, sensuele musiek. In die nagklubs word gedans, in die kroeë word gedrink – want Kersmis moet gevier word – so!

En kort voor lank kom die verwagte aanval op Afrkanernasionalisme ook in die boek voor.

Maar die teenpool sal ons wel in Raiders of the Lost Empire vind: dr. Dan Roodt bevind mense wat geheel en al onverskillig en ontwortel is van hul eie volk, hul eie taal, hul eie identiteit, dus, in ‘n staat van kultuurloosheid verkeer, is vatbaar vir verdowingsmiddels of enige ander vorm van ontvlugting, wat nie in die minste die werklikheid verander nie:

There is a kind of snobbery around drugs and the English look down upon others who do not use narcotics. I strongly suspect that a lot of opinions that we encounter in English newspapers or in the media in South Africa, were also concocted while on some form of stupefying substance. The French word for drugs, stupéfiants, expresses it very succinctly, for in the act of drugging oneself one also succumbs to stupor or becomes stupid. South Africa has plumbed such levels of stupidity over the last few years that we are regressing back to primitive, early Stone Age, or even hominid levels. Very soon South African English, which is already considerably creolised and ugly, will consist of screeches and grunts. Like the vuvuzela, a monotonous plastic instrument habitually blown at soccer matches, all communication will eventually descend to a very basic level.

There is something tragic about English consciousness, which is fundamentally unhappy, hence the need to be drugged, inebriated or numbed. Perhaps this has some connection with the global multicultural project, which aspires to the destruction of all identity, including personal identity. Only when we achieve an undifferentiated herd consciousness, an atavistic “we”, are we to become “fully human” or whatever cliché it may be called. In South Africa’s business schools, they even teach courses in “ubuntu” as an ethical principle which translates “I am a person through others”, another way of expressing the longing for a collective hive consciousness.

Today in South Africa, it is part of the English creed that we should in no way be “divided”. This is almost a world-wide Anglo-Saxon principle. All progress towards becoming an undifferentiated human mass, a bit like the science-fiction concept of “the Borg” in the American Star Trek series, is applauded. Anyone relinquishing his language and culture in favour of English is seen as having taken a step towards becoming part of the “greater mass” which may even be seen as a global or planetary mass.

Met ander woorde – skat, dit maak nie saak hoe jy jou probeer lostorring van die gewaande “kuddediere” nie, jy word slegs deel van ‘n veel erger vorm van identiteitlose, staatlose kuddedierskap. Van nasionale na ‘n globale skaal.

Maar toe kom ek op ‘n veel beter bron af.

Probleem nommer 2: die groot kultuurbom bars een of ander tyd.

Ek was besig op delpher.nl toe ek op hierdie stukkie juweel afkom: Boekhandelaar provoceert censuur in Zuid-Afrika, De Volkskrant, bl. 17, Vrydag, 29 Januarie 1982, geskryf deur Ena Jansen.

Dames en here, wie het veel beter kennis van die omvang en die agtergrond van die hele probleem, as ons eie stigters-egpaar, dr. Dan en Karin Roodt?

In die berig pryk ‘n foto van Marcus de Jong, die Hollandse boekhandelaar en uitgewer van Taaldoos. Met die destydse sensuurraad op die loer, stel De Jong eintlik voor jy moenie in Afrikaans publiseer nie, maar in Nederlands, want omdat die lesertal so min is, sal niemand eers daaraan dink om jou boeke ooit te vervolg nie:

Omdat in Zuid-Afrika Nederlandse boeken een veel kleiner lezerspubliek hebben dan Engelse boeken, is de kans dat een Nederlands boek of Nederlandse vertaling van enig buitenlands boek door de mazen van de censuur glipt juist groter. The Godfather van Mario Puzo werd bij voorbeeld destijds verboden, terwijl de Nederlandse vertaling gewoon verkrijgbaar is. Iedere titel moet namelijk individueel worden aangeklaagd om als “onwenselijk” en dus tot verboden literatuur te worden verklaard.

Maar wat my toe eintlik interesseer is die volgende. Ons vind die term “toeristisch” waarvan dr. Roodt die konsep tot vandag toe nog met ‘n passie haat (ek is seker ek het dit iewers in sy boek Raiders of the Lost Empire ook raakgelees):

“Ik heb in dit verband Dan Roodt de term toeristisch denken in de mond gelegd. Als je bijvoorbeeld vanuit Amerika naar Nederland komt, verwacht je klompen en tulpen en sekswinkels aan te treffen. Zo wordt iedere werklijkheid buiten je eigen werkelijkheid geëtiketteerd. Het Zuidafrikaanse etiket is uiteraard de apartheid en binnen de Zuidafrikaanse werkelijkheid krijgt iedere groep ook weer een etiket opgeplakt, de Zoeloe is eerlijk, krijgshaftig maar dom, de Afrikaner is een herriebek, en de Engelsman is een usurpator maar liberaal. Daardoor wordt met woorden de hele complexe werkelijkheid vereenvoudigd, op een journalistieke wijze aannemelijk gemaakt voor mense die niet kunnen denken.

Als je een kijk op de werkelijkheid wilt veranderen, dan is de meest voor de hand liggende manier om andere begrippen te gebruiken dan de geijkte “toeristische”. Als je een ongestructureerde beschouwing hebt die helemaal tegen de gangbare mening ingaat, krijg je een soort magisch-realistische kijk die je niet hoeft te verantwoorde tegenover mensen die in Oxford, Amsterdam of New York zitten. En zeker niet tegenover Pretoria.”

En, dan hierdie baie belangrike stukkie.

Dan Roodt wil geen nieuw denksysteem met vaste waarden of vaste maatstaven. Hij heeft dan ook lak aan normen van kwaliteit. Het heel begrip kwaliteit is in Zuid-Afrika toch al een gepolitiseerd begrip geworden. Alleen rechtse mense denken in termen van kwaliteit. Linkse mensen denken in termen van authenticiteit. Dan Roodt heeft dus een hekel aan Brink en Gordimer. Het kan zijn dat jaloezie daarbij een rol speelt, maar hij is vooral tegen deze auteurs gekant omdat zij opereren met begrippen als literaire kwaliteit. Ze brengen weliswaar verslag uit van de Zuidafrikaanse werkelijkheid, maar verpakken dit volgens hem overeenkomstig de normen van de westerse romantraditie. De censor heeft gezegd: “Boeken die ‘n zekere kwaliteit hebben, worden niet verboden.” De baas in Pretoria heeft zich vereenzelvigd met de westerse kwaliteitscultuur en hiertegen verzetten de Taaldoos-mensen zich. Zij willen niet schrijven volgens de normen die door de ambtelijke cultuur worden voorgeschreven. Zij geloven ook niet in het woord als wapen. Dat vinden zij een burgerlijke opvatting.”

Dan Roodt en de zijnen gaan zeer grof tegen de censuur in en dat bereiken ze vooral door tot nog toe oncombineerbare zaken met elkaar in verband te brengen. In “Patria Matria & Poep & Sê Hosanna” worden de Zuidafrikaanse volkshelden, de Springbok-rugbyspelers afgeschilderd als een stelletje oververhitte flikkers* die tijdens de wedstrijd er alleen maar aan denken hoe ze elkaar te pakken kunnen krijgen. [*’flikkers’, Nederlands vir ‘moffies’]

Dit klink nogal radikaal en revolusionêr! En dit sê vir my een ding: ‘n seun en ‘n dogter kom rou uit die skool, word op Wits gebombardeer deur kultuurmarxisme waarop hulle geheel en al nie voorbereid was nie (danksy jou wonderlike skoolkurrikulum), álles wat hulle tot Matriek en in die ouerhuis geleer het is verkeerd en verwerplik – so waarom nie die hele stelsel op sy kop keer nie? Hierdie berig is geskryf toe dr. Dan Roodt 24 jaar oud was.

Nee, hy en sy vrou hoef nie vandag om verskoning te vra nie, hulle was ook maar net slagoffers van die stelsel: die skool het hulle nie voorberei op Wits se indoktrinasie nie, en hul koppe het uitgehaak. Oorsaak en gevolg. Die Staat het soos Pilatus sy hande in onskuld gewas. Waar was jou Veiligheidspolisie toe? As studente, veral Afrikaners wat voorheen Afrikaanse skole bygewoon het, almal by ‘n sekere fakulteit begin snaaks optree, moet jy mos ondersoek instel? Die Christelik-Nasionale Staat het sy seuns en dogters willens en wetens vir die honger Sowjetwolwe gevoer en hul skoongepikte beendere veras en in die wind verstrooi as dankoffer in die Ganges. In antwoord op Stefanie Nieuwoudt se vrae in 2004 (Filistynse luiheid pla: Engels nie ál venster op buiteland, sê Dan Roodt. Die Burger, 15 Junie, bl. 14):

Dit was aanvanklik vir my ‘n skok om agter te kom hoe naïef ek was met die stelletjie links-liberale idees wat by Wits by my ingedril is. Terwyl ek in Suid-Afrika destyds baie krities was oor die ou regering, het ek nou toenemend die valsheid van die apartheid-stereotipe in die buiteland begin raaksien en gaandeweg daarteen in opstand gekom. Moltrein verteenwoordig in ‘n sekere sin my weerwraak op apartheid, op die woord self, maar ook op al die gemeenplase, halwe waarhede en opvattinge wat sowel plaaslik as internasionaal daaronder versprei is.

Veral in Frankryk was die anti-apartheidsbeweging ‘n blote afdeling van die Franse Kommunistiese Party, en dit het my laat besef dat hulle ‘n eie agenda gehad het om Afrikaners te beswadder in reaksie op hul eie morele probleme as gevolg van die kritiek op die kommunisme en die uiteindelike heengaan van die stelsel in Oos-Europa.

Maar wag nou, Suidpunt! Het jy nie tydens jou relaas oor jou Besigheidstudies gesê die Staat moet liefs nie hul politiek in die werk afdwing nie?

Ag, my liewe leser – die Apartheidstaat van destyds het, sover ek weet, nié die Handves van Menseregte onderskryf nie, so hulle kon die media eintlik pasmaak en reguleer soos hulle wou. Ek sê “kon”. Onder so ‘n staat kan jy sensuur toepas soos jy luskry. As die staat sou verkies om iemand voor die vuurpeloton te stel wat die leier ‘n aap noem (ek sal liewer nie Koos Prinsloo hier herhaal nie), dan kon die Staat dit doen. Maar hy het nie. As hy die gevaar van Rooi-Sjina wil uitlig, dan kon hy dit doen; hy stry immers teen die Kommunisme en maak sy leerlinge attent op wêreldgebeure.

As die Staat vir Suid-Afrika ‘n landbouland wou maak met alle stedelinge wat moet dink hulle is landbouers, dan kon hy dit seker ook so beskrywe in sy handboeke. Maar dit sou oneties teenoor sy Afrikanervolk of Suid-Afrikaanse nasie wees. So in hierdie geval sou ek nie so straf wees teenoor die Apartheidsregering op ‘n regsbeginsel nie, want hy beweeg net binne sy eie vrye raamwerk. Dat hy wel dwaas opgetree het deur die Afrikaner van sy omgewing d.m.v. sy skoolhandboeke te vervreem, daaroor kan ek kritiek lewer. Asook hul versuim om strenger antikommunisties op te tree.

As die Apartheidsregering onderneem het om die volk en sy kinders en jongmense teen Kommunisme te beskerm, help dit egter nie jy maak of dit glad nie in jou land bestaan nie. Dis so goed jy ignoreer die inbreker in jou huis. Want hoe gaan die kind weet of hy deur ‘n frontorganisasie ingetrek word? Wat my dus dronkslaan: daar was wetgewing teen Kommunisme, maar tog lyk dit my het (verbloemde) Kultuurmarxisme in Academia floreer. Jou student gaan met hierdie linkse professore te doen kry, en hulle gaan nie weet hoe om kritiek te lewer nie. Daar dink ek kon die Staat reeds ‘n grondige Antikommunisme-Bybel, verkieslik opgestel deur ‘n vlugteling-Pool of –Rus, onder die jeug versprei het om die werktuig van die duiwel te ontkrag.

Maar in Suidpunt se geval, in sy hoërskooljare, het die postapartheidstaat reeds die Handves van Menseregte aanvaar en onderskryf, met ander woorde, die Staat is moreel verplig om vir my al die verskillende uitgangspunte , oplossings en probleme te stip wat op geen wyse eensydig is teenoor sy landsburgers as individue nie. Jy streef mos na gelykheid, gelykheid van menings? Maar ons weet dit gebeur nie. Ek het dit pas hierbo bewys.

Wat moes dus gedoen word?

Nommer 1

Die Afrikanerprofessore was duidelik bewus van die 1968-beweging wat oorsee gewoed het. Hulle moenie vir my kom sê hulle het nie geweet nie. Dieselfde geld vir die kerke. Die boek met die ironiese titel, Jy kan die kommuniste vertrou, deur die Australiër Fred Schwarz, is reeds in die vroeë 1960’s vertaal en verkoop. Die omslag is oortrek met resensies uit Afrikanerkoerante. En ek laat my nie vertel die Onderwysdepartemente was salig onbewus daarvan nie.

Ek sit hier met Gaudeamus Igitur (1974) deur Deon Hugo reg voor my. Dit was vir eerstejaars bedoel.  Op bl. 34 word die maatskappykritiek van Marcuse net so aangehaal en al die besware wat ‘n student kan hê ten opsigte van die leerplanne. Al wat Hugo in ‘n neutedop hierop sê: festina lente (haas u langsaam). Moet jou nie warm loop en dink jy gaan die wêreld oornag in ‘n sewende hemel omskep nie (p. 38):

·         Wanneer jy bv. irritasie smaak omdat jy sien dat die volwasse-wêreld nie ag slaan op die erns waarmee jy probleme bejeën nie, sorg dan dat jy genoegsaam konsiderasie het vir hulle erns.

·         Voordat jy ‘n sogenaamd uitgediende sisteem vernietigend sloop omdat dit na jou mening nie probleme kan verhoed nie, konstrueer eers ‘n sisteem wat wel onfeilbaar is – enigeen kan ‘n Utopia beloof sonder om ‘n program voor te lê.

·         Indien jy ‘n kortpad gaan vat – het iemand gesê – vergewis jou eers van al die feite waarom jou voorgangers die ompad gebou het.

·         Dit is ook maklik om te sê dat die volwassenes gefaal het in hantering van verantwoordelikhede – want jy kan rondom jou talle samelewings-mislukkings uitwys. Korrek. Maar, is jy bereid om die blaam te dra van al die probleme wat sal bestaan as jy twintig jaar ouer is?

·         Soms wil jy rewolusionêr probeer om lewe te blaas in slakkegang-beweging van die volwasse wêreld. Onthou dan net dat die Christelike beskawing die resultaat is van eeue se denke, pyn, ontbering en harde werk – dis nie ‘n kits-skepping tydens teepouse nie.

Hiermee saam kan jy ook maar onthou:

·         Welsprekendheid moet nie met wysheid verwar word nie

·         Bewerings is nie feite nie

·         Woede is nie ‘n plaasvervanger vir kennis nie

·         Slagspreuke is nie oplossings nie

·         Idealisme vereis weinig verstand

·         Gebrek aan agting maak jou self uiteindelik veragtelik.

“Elke oplossing skep onmiddellik ook sy eie probleme,” kon hy met liefde bygevoeg het.

Ten spyte van hierdie baie mooi wyse woorde, het jy steeds met redelose studente te make. Ek dink dit sou ewe goed wees om ‘n boek saam te stel waarin alle Marxistiese stellings weerlê is. Dit was immers in Nasionale Belang! In Afrikaans, vir die Afrikanerkind. Hy moet dit op hom dra soos sy tweede Sakbybeltjie, of soos die Joodse seuns die tefillien shel rosh op hul voorkop. Iewers sou die jong Afrikanerkind hom in die middel van ‘n debat bevind in ‘n gebied waarvan hy absoluut niks weet nie. Hy ken nie die oorsprong daarvan nie, hy weet nie wat logika, redeneerkuns en sirkelredenasies is nie. Hy sit met leë hande, of op die kantlyn, want hy kan nie deelneem nie.

 Nommer 2

Vir elke voorstel wat jy in jou handboek aan die hand doen, lig onmiddellik ook die kritiek of verbeteringspunte uit. Indien ‘n ou norm vervang is, lig uit waarom dit verander is. Sê daarmee: “Die oplossing van die probleem is vir ons belangrik, maar ons het ook gekyk watter uitwerkings die verskeie oplossings gaan hê. Ons is meer ingesteld op die korrekte oplossing as watter keuse per se voorgestel of gekies moet word of die gewildste is.” Tot op datum misluk die skoolkurrikula en semestermodules in die geesteswetenskappe hierin cum laude. Ons almal het dit eerstehands beleef.

Nommer 3

Die feit dat die meeste Afrikaners in Gauteng woonagtig was in 2011, beteken jy pas jou aan volgens hulle behoeftes, sonder om die plattelanders uit die oog te verloor. Wat dit juis erger maak: destyds in die 1970’s was daar nie ‘n algehele nasionale leerplan nie, maar volgens provinsies, en daar is byna elke vyf jaar ‘n sensus gehou en die navorsingsrade talryk. Die provinsies behoort juis van beter te weet hoe die bevolkingsverspreiding en behoeftes sou lyk.

Nommer 4

‘n Stedelike nedersetting word beskou as enige plek met meer as 500 mense (volgens S. van Wyk, Die Afrikaner in die beroepslewe van die stad, 1968).

Die hele stadsfilosofie waarvan ek en Dr. Roodt praat vir die ‘stedelinge’ is eintlik ‘n soort denkwyse wat ons van die “ideale Europeërs” het. Ons is alte bewus van die kultuurinsinking oorsee, maar ons wil graag die goeie behou. Hoe lyk dit? Jy is nie meer “boer” nie, maar “nyweraar”. Die spreekwoordelike kaal bolyf, hark en breërandhoed maak plek vir ‘n deftige onderbaadjie en sakhorlosie. Dis geen snobisme nie, ons probeer van die stedelinge bloot egte stedelinge maak. Soos ek uit Dr. Roodt se stelling kan aflei praat ons, benewens die estetika (vorm en funksie), benewens “straatslim” te wees, ook van Europese tale (in die internasionale publiek) en die grondige filosofiese onderbou daarvan (of watter vakgebied ook al jou keuse is) kennis te dra.  Baie mense kom stad toe en wei op die oppervlak van die beskawing en raak so ontwortel. En verward.

Die eintlike doel is nié om van die Afrikanerkind ‘n rat in die stadsmasjinerie of enige organisasie te maak nie (wat uitgelewer word aan die geldwolwe wat minderwaardige kultuurprodukte smous) nie, maar ‘n rasionele, onafhanklike wese wat wêreldwyd in die hoogste kringe kan beweeg en saampraat. Ons wil hom juis so beweeglik moontlik maak. Die Hollanders was nie bang dat hul seuns met hul kennis van Frans, Duits en Engels die land sal verlaat nie, al het hulle al die middele gehad om dit te doen. Hulle is wel na buitelandse universiteite toe om ondervinding daar op te doen, maar die meeste het huiswaarts gekeer. Waarom? Want hulle het gewéét waar daar ‘n leemte was, kon hulle dit vul.

As jy my môre in Rotterdam, of Frankfurt, of Lyon of watter plek ook sal aflaai, sal ek die skaars bronne wat daar is (wat ek nie op archive.org kan kry nie) gebruik om artikels te skryf vir die Afrikaanse Wikipedia. Want ons het dit nie. Daar is ‘n vaste doel, ‘n vaste mikpunt, ‘n vaste wil. As ek dit mag saambring Suid-Afrika toe, sal ek maar te bly wees.

Iewers in Du Preez se verhandeling vermeld sy onder “Gebrekkige en ontoepaslike selfmodelle” die volgende (bl. 93):

‘n Strewe na geleerdheid word met suspisie bejeën: (‘…of hy met al sy slimmigheid darem nog Afrikaner gebly het’ kom uit een van die voorgeskrewe boeke.)

Om ‘n kind van die wêreld te isoleer deur hom nuttige vakke en inligting te ontneem, doen jy hom en die ganse samelewing ‘n groot onreg aan.

Die stad/dorp was in die 1980’s nie meer die grys triestige gedrog met snorkende stoomneus-treine met monsteroë uit die 1800’s nie, maar die welkome kultuurhart van ‘n volk in die 1980’s. Daar vind jy jou museums, jou biblioteke, jou kerke. Dit bly steeds die ideaal.

Die Afrikaner skrik nie as ‘n stad/dorp of wêreld rondom hom (ten goede) moet verander nie, want hy weet dit is nodig en dikwels onafwendbaar. Daar was in Parys in die verlede groot ongelukkigheid oor die Haussmann-geboue wat die ou stadskern verdring het. Dit was egter om sindelikheidsredes nodig (sien hier). Party Paryse skrywers het in die 1860’s lang trane gehuil oor hul geskiedenis, die ou Middeleeuse Parys, wat van hulle onafwendbaar ontneem word, soos Charles Baudelaire in sy gedig Le cygne:

Le vieux Paris n’est plus (la forme d’une ville

Change plus vite, hélas! que le coeur d’un mortel)

Die ou Parys is nie meer nie (die vorm van ‘n stad

verander vinniger, helaas! as ‘n sterfling se hart)

Maar skaars ‘n paar geslagte later kom die Suid-Afrikaanse Ambassade onder skoot omdat dit ‘n “filistinisme” was om die verskriklike Haussmann-gebou te sloop en ‘n hipermoderne gebou in sy plek op te rig (vergelyk Moltrein, bl. 231). Die Haussmann-argitektuur, óns identiteit, is in gevaar! Dit wys jou net.

Nommer 5

Gepaardgaande met verandering moet die kind ook geleer word, omrede alles verganklik is, moet daar deeglike dokumentering plaasvind. Want mense gaan dit aanvra. Dit is ‘n legkaartstuk. Soos met kamerawerk. En omdat jy ‘n stedeling is, behoort jy ‘n goeie lees- en skryfkultuur te ontwikkel. En gepaardgaande met ‘n skryfkultuur het jy ‘n goeie waarneming en goeie woordeskat nodig.  ‘n Kamera vang lig teen ‘n enkele hoek vas, woorde hoe die mense voel en dink.

Ander kere, kort jy bloot pen en papier. Dink maar aan die Afrikaanse Kersliedere wat die afgelope dekades gekom en gegaan het. Elke jaar hoor ons presies dieselfde Engelse liedjies oor die radiostasies, terwyl die FAK-bundels, die Afrikaanse Gesangeboek, die Jeugsangbundels I en II, en natuurlik ons popsterre (ek dink aan Lianie May (Johan Vorster) se oulike ‘Sneeuman’, Nicholis Louw se ‘Jesus gaan verjaar’… ) heeltemal vergeet word. Maar as jy dit eers neergepen het, stel jy eintlik ‘n inventaris beskikbaar waaruit toekomstige geslagte self kan besluit wat hulle daarmee wil maak. Ek het nog nie eens die helfte, of kwart, van al ons Kersliedere opgespoor nie – tot my spyt is ek geen musikus of musikant of danige plateversamelaar nie. Dit is geplaas op 2 deser, die dag van die rugbyeindstryd. My suster het op daardie dag en datum die Sionsgesange (1947) langs ‘n vullisdrom in die hoofstraat van ‘n Overbergse dorp met minder as 35 000 mense in omtrek opgetel en saamgebring, terwyl ek onwetend die hele week besig was met die artikel (wat is die waarskynlikheid?!); natuurlik beskou ek dit as ‘n teken van Bo – ek doen Godswerk onder die heidene! ‘n Mens wonder dan net hoekom niemand nog vroeër aan so ‘n lys gedink het nie. Miskien is dit ‘n probleem wat C.M. van den Heever al lank gelede opgemerk het in Die Afrikaanse Gedagte (1935:65-66):

Die volk wat geen visie, geen verstand het nie – so leer die Bybelwoord ons – sal ondergaan. Die volk wat wel oë besit, maar niks sien nie, is innerlik dood – so ook die mens wat horende doof en siende blind is. U sal sê dat dit onmoontlik is. ‘n Mens besit immers ‘n paar oë, deeglike besigheidsoë, hoe sou hy dan nie kan sien nie? Nee, hy sien goed, maar net ‘n klein kantjie van die lewe. Hy het sy hele visie vertregter op een aspek van die lewe: hy sien die moontlikhede om besigheid te doen, hy sien die swakhede en gebreke van sy medemens, waaroor hy diepsinnig kan skinder, maar die lewe as geheel, met sy hoogtes en dieptes, met sy breë menslike ervaring, die lewe as geheel kan hy nie sien en aanvoel nie. Waarom? Hy het nooit geleer om met en deur sy siel te kyk nie! Hy het grootgeword in ‘n omgewing, in ‘n onderwys waarin die lewe versplinter lê tot klein flenters, waarin die groot-menslike nie meer in die oog spring nie, die lewe net sy praktiese alledaagse gelaat toon en die wonder van die oneindige wat straal agter alle uiterlike verskynsels, nie meer gesien en ervaar word nie. Ons gevierde beeldhoukunstenaar Anton van Wouw het eenmaal aan my gesê dat dit so treurig is om op te merk dat die meeste mense niks sien nie. En inderdaad moet dit vir ‘n kunstenaar soos van Wouw, met daardie fyn-skerpe waarneming van die uiterlike vorm en lyn van die dinge, afskuwelik wees om te sien hoe die meeste mense deur die lewe gaan en nouliks besonderhede van hul omgewing opmerk. Dit is ‘n kuns om te kan sien, en dit is nog ‘n groter kuns om die mooie en waardevolle wat ons opgemerk het, te assimileer tot geestesbesit en om te kan onderskei tussen die essensiële en die nie-essensiële in die lewe wat ons omring. Mens moet van jongsaf leer om ‘n gesonde waarnemingsvermoë te ontwikkel en om die bonte, veelkleurige wêreld wat ons sien, te verinnig tot sielsbesit deur dit suiwer te laat afspieël op ‘n mooi gevormde innerlike. Ons het al almal mense ontmoet wat ‘n hele lang reis gemaak het en jou niks kan vertel as hulle terugkom nie; of as hulle dan nog vertel, dan is dit ‘n aanmekaargeratel van oninteressante dinge, en wie oninteressant gesels of skrywe, het geen fyne sin van verhouding nie, kan nie onderskei tussen wat boeiend en vervelend is nie. Sy hele gees is gemeenplasig. Daar is baie mense wat nog nooit opgemerk het hoe die randjie naby sy huis lyk nie, wat die werklike kleur van die veld, pad of straat in sy omgewing is nie. Alles is min-of-meer, nooit ‘n drang na die haarfyne en korrekte nie. En hoeveel van ons lê ons toe op ‘n sorgvuldige, indringende studie van ons medemens se siel. Baie van ons het wel ‘n hele boel te vertel oor hul swakhede, maar die mens as geheel, met sy swakhede en deugde, sy vreugde en leed, al sy menslikheid ken ons nie, en daarom kan ons ook geen kuns waardeer nie, want om waardering te hê vir kuns, beteken om menslik te wees, om die groot ruim veld van die lewe onbevooroordeeld in te gaan en met al die sintuie en die hele gees op te neem alles wat van waarde is en om dan so ‘n volledige persoonlikheid op te bou wat gedrenk is in ervaring en verruim is deur begrip en menseliefde.

Soos Van den Heever pleit op ‘n gewaarwording wat gekweek moet word vir die uitken en waardering van die skone rondom ons, pleit ek vir die uitken en waardering van die nuttige bronne wat rondom ons is, byna soos ‘n bestekopname.

Nommer 6

Dit is vir my moeilik om te bepaal wat die langtermynoogmerk van die onderskeie handboeke was. Die Hollandse Gimnasium-kurrikulum voor 1968, soos ek reeds gesê het, was eenvoudig: hier is jou boublokke, bou ‘n kasteel daarmee. Dè! Gaan! Verken die wêreld. De wereld ligt voor je open.

Wat die boek deur C.J. Joubert (1974) betref sien mens tussen die reëls dat die Afrikaner weerstand moet bied op militêre en politieke gebied, dat sy hele bestaan in gevaar is; en/of ‘n uitwaartse beleid moet handhaaf met ander Afrikalande (te midde van die isolasie wat die wêreld op ons deur sanksies probeer bewerkstellig). Op ekonomiese en maatskaplike gebied moet jy solank gereed maak om die stad permanent te verlaat. En hou jou kruit droog. Die res van die samelewing het blykbaar heeltemal ophou bestaan. Ek praat van die privaatsektor, kultuur, die wetenskap… daaroor is nie veel gesê nie.

In die 2006-2008-Aardrykskunde/Toerisme-handboeke kan jy duidelik die elektriesgelaaide opwinding aanvoel oor die BRICS-lande en veral die noue samewerking met Sjina. En natuurlik die Sokkerwêreldbeker van 2010. ‘n Politieke tydsdokument, dus. Dis byna-byna 13 jaar later sedert die uitgawes wat ek moes leer; ek wonder watter teleologiese “eindpunt” verkoop die jongste handboeke vandag?

Is ‘n skoolhandboek ooit veronderstel om so voorskriftelik te raak?

Slotsom

Volgens Du Preez is daar sekere gedragspatrone tot mitiese status in die VSA-kultuur verhef. Die belangrikste hiervan is (p. 18):

  •         die Puriteinse mite o.a. die gevare van aardse geluk
  •         die pioniersmite, d.w.s. onwrikbare geloof in die onbeperkte moontlikhede vir die individu met krag, moed en intelligensie
  •         die mite met betrekking tot die belangrikheid van die individu se alledaagse lewe
  •         die mite van die belangrikheid van materiële sukses; en
  •         die mite van die jeug se vervreemding ten opsigte van die volwasse gemeenskap.

Ons sien hoe “gevare van aardse geluk” (wat baie na Calvinisme klink) moontlik “materiële sukses” kan temper (as ons nou volgens die Volkstaat-idee kyk wat gekant is teen stoflike welvaart), maar ook vind ek die noodwendige vervreemding van die volwasse gemeenskap in vele opsigte heeltemal onnodig en selfs uitgedien. Baie keer word ‘n besluit geneem omrede dit vir die pragmatiste op daardie oomblik na die beste oplossing gelyk het. Dikwels is dit nie uit kortsigtigheid nie.

Ek wil nie met Latyn of met Frans of Duits dweep nie, maar neem hulle nou as voorbeeld: in die 1980’s sou niemand kon dink dat al daardie Middeleeuse werke of selfs die proefskrif van Ferdinand Postma (De Numine Devino quid senserit Vergilius ) eendag op die internet beskikbaar sou wees nie. Niemand sou ook kon dink dat Umberto Eco se postmoderne Il nome della rosa (1980) dwarsoor Europa en Amerika opnuut belangstelling in die Middeleeue sou blaas nie. Soos in die res van Europa in die 1960’s was die vakke op daardie stadium vir jou skoolhoofde en leerlinge dus as uitgedien beskou. Wat gister uitgedien was, kry vandag weer nut, want nou moet ons al die ou probleme en oplossings weer van voor af gaan naslaan, of tydlyne optrek soos die teorieë verander het. Sodat niemand weer dieselfde foute of bevindings oor en oor sal maak nie. Want dit mors tyd. Ander kere is voorgestelde oplossings oor die hoof gesien, bloot omdat die infrastruktuur of platform nog nie daar was nie.

Trouens, met die uitsondering van die pioniermite ek die hele Amerikaanse mite-stelsel, want ek werk volgens ‘n probleem-oplossing-stamboom, wat hom by die unieke omgewing aanpas.

Soms kry jy vir ‘n probleem ‘n enkele oplossing – soos in jou Wiskunde. 1 + 1 = 2. Soos ‘n vrygesel loop sy spoor daar dood.

Ander kere kry jy ‘n uitgebreide gesin: ‘n waaiervormige hoeveelheid oplossings vir ‘n enkele probleem. Maar hierdie oplossings skep dikwels weer probleme, wat op hulle beurt ook ‘n waaiervormige uitklok van oplossings bied. Mense soek dikwels die vinnigste kitsoplossing met die minste moeite teen die minste geld, maar oor die lange duur is dit nie altyd die beste oplossing nie. Goedkoop is duurkoop. Dan moet daar tog maar teruggekeer word na die tweede opsie toe. En so hou die stamboom van probleem en oplossings net aanhou met uitbrei, uitbrei en uitbrei.

Iewers lees ek in Prof. Kobus van der Walt se Omgewingspraatjies (2012:315):

‘n Britse wiskundige, I.J. Good, het in 1965 al gepraat van ‘n intelligensie-ontploffing in die toekoms. Ons nader nou daardie punt wat singulariteit, oftewel sonderlingheid, genoem word. Sonderlingheid is ‘n teoretiese punt waar die antwoord op ‘n probleem sal bestaan nog voordat die probleem geïdentifiseer is. Die mensdom kom al hoe nader aan dié punt.

Maar dit bestaan reeds! Ek wonder nog oor ‘n saak en ek google – en iemand het reeds die vraag gevra en dit is reeds deur ander beantwoord en gekritiseer. Ons grootste probleem is net dat die meeste boeke nog nie korrek gekategoriseer is nie, en die inhoud daarvan nog nie op die internet maklik verkrygbaar is nie. Jou eintlike probleem van singulariteit is dat ‘singulariteit’ self ‘n probleem is. Dat ‘n probleem dikwels slegs ‘n/één oplossing gebied word, wat mense deur herhaling op herhaling slaafs en resepmatig sal navolg. Ons behoort nie te praat van ‘n antwoord nie, maar antwoorde. Of, ‘n oplossing is reeds in ‘n terloopse voetnota in ‘n boek in 1345 opgeskryf, maar die arme sotte is vandag salig onbewus van die boek se bestaan. Hulle sit dus met ‘n eietydse probleem waarvoor daar eeue al ‘n oplossing is. Die antwoord bestaan dus nog lank voordat die probleem geïdentifiseer is. Wat gister soos prosaïese of selfs nuttelose reisaantekeninge gelyk het, is vandag miskien brandaktueel.

Dit was in die 1970’s miskien nie altyd moontlik nie, maar vandag glo ek ons kan ons kinders en die jeug eerder leer om te gaan ronddelf na antwoorde, gevolg met verdere eksperimentering en kritiek. En hiervoor het jy die redeneerkuns (logika) en die uitwys van drogredenasies en misleiding (wat jammerlik genoeg dikwels eers in jou honneursjaar geleer word) dringend nodig.

Die huidige Onderwysdepartement kan dus met vrug van seksopvoeding ontslae raak. Hy kan sy politieke projekkies maar los vir die dooies. Hy kan wel vir ons soliede boublokke gee waarmee ons self sal besluit hoe ons toekoms moet lyk.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.