Kan die Springbokke die wêreldbeker wen?

Deel op

Met Engeland wat die All Blacks oortuigend met 19-7 in Jokohama verslaan het, is alle oë nou gerig op môre se wedstryd tussen Wallis en die Springbokke. Wallis was eintlik gelukkig om teen die Franse te wen en hoewel die Britse sportskrywers so te sê klaar Suid-Afrika afgeskryf het, is die kanse goed dat hulle wel môre kan wen en kan deurdring na die eindwedstryd wat in dieselfde Internasionale Stadion op 2 November te Jokohama gehou gaan word.

‘n Element wat egter vrese in Suid-Afrika wakker maak, is nie soseer Wallis nie, maar die Franse skeidsregter, Jérôme Garcès, wat in die verlede al bevooroordeeld teenoor die Springbokke opgetree het. In vorige wedstryde tussen die Springbokke en die All Blacks het hy openlik vir die Nieu-Seelanders kant gekies. Uit 14 toetse waarin Garcès geblaas het, het die Springbokke net vier gewen, ‘n suksessyfer van 29% terwyl hul algehele wensyfer in toetsrugby  62% is.

Garcès het ook ‘n rooikaart aan Damian de Allende toegeken in ‘n wedstryd teen die All Blacks in 2017 vir ‘n laatvat op Lima Sopoago. Tydens ‘n appèlbeslissing ná die wedstryd is bevind dat die oortreding nie ‘n rooikaart geregverdig het nie.

Die veteraan-Springbok en rugbykommentator, Kobus Wiese, het aan ‘n tydskrif gesê:

“Jérôme is ‘n aangename mens, maar kyk jy na sy rekord, dink ek nie hy is ‘n baie goeie skeidsregter nie. Hy maak baie vreemde beslissings en hy’t sover ook nie ‘n goeie Wêreldbeker gehad nie. Ek wonder dus op grond waarvan kwalifiseer hy om nou een van die twee skeidsregters in die semi-finale te wees.”

Wiese het Jérôme Garcès as “verskriklik wisselvallig” beskryf, waaronder “sy beslissings by die skrums – wanneer hy strafskoppe daar toeken. Dit lyk half asof hy duim suig… een vir jou, een vir my. Dit maak net nie sin nie. En hy’s nie al een wat daaraan skuldig is nie.”

Nieteenstaande die Franse skeidsregter wat sake vir die Springbokke teen Wallis mag bemoeilik, dui die sportweddenskapsblad Betway Suid-Afrika tans as gunsteling aan. Die koers waarteen ‘n weddenskap op die Springbokke uitbetaal, is slegs 1,30 terwyl ‘n wen vir Wallis 3,85 as opbrengs bied. Dit beteken dat met R10 se wedgeld, kan mens slegs R13 terug ontvang vir die Springbokke, maar R38,50 indien Wallis die knoop sou deurhaak.

Die meeste Suid-Afrikaners sien uit na môre se wedstryd teen Wallis, asook om die Springbokke in die eindstryd in Jokohama te sien speel. “Met die All Blacks uit die pad, behoort dit eintlik makliker te wees om Engeland te klop,” het een geesdriftige wat nie haar naam genoem wou hê nie, by ‘n Johannesburgse winkelsentrum gesê.

Kenners is dit eens dat Wallis oor ‘n span gedugte voorspelers beskik. Die Suid-Afrikaanse stut, Brok Harris, 34, wat reeds ses jaar lank vir die Dragons van Newport in Wallis rugby speel, sê: “Albei spanne se verdediging is rotsvas. Die span se agttal wat vir die agterspelers die beste platform gaan skep om vanaf te speel, sal die wedstryd wen.”

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.