Karel Combrinck: Wil jy of wil jy nie — ‘n Engelse tameletjie

Deel op

Binne enkele weke breek die oomblik uiteindelik aan vir Brittanje om die Europese Unie te verlaat. Of liewer, so lyk dit, want op daardie eilandjie is niks meer seker nie. Selfs in hierdie laat stadium is finaliteit oor die vorm wat hierdie uittrede moet aanneem, nog steeds nie in sig nie. Die huwelik tussen Brittanje en die Europese Unie was nooit ‘n gelukkige een nie. Gedurende die verlowingstadium al is die verhouding herhaaldelik verbreek en die egskeiding gaan skynbaar nog pynliker wees as wat die huwelik was.

Hierdie wankelmoedige verhoudiing lê aan die wortel van die Engelse se besluit om formele bande met die Europese Unie te verbreek. As rede waarom hulle dit juis nou wil doen, word aangevoer die invloei van werkers uit Oos-Europa, Pole, Tsjeggië, Roemenië ens. wat bereid is om vir laer salarisse te werk en dus die Engelse werkers se arbeidsekerheid in gevaar stel.

Eienaardig genoeg het die Engelse minder beswaar teen die instroming oor baie jare reeds, van Indiërs, Pakistani’s en Nigeriërs.

Maar nou het dit tyd geword om die tasse te pak. En nog steeds word geredekawel oor of daar ‘n ooreenkoms moet wees of nie, of daar vir verdere uitstel onderhandel moet word of nie , of gelde wat deur Engeland aan die EU verskuldig is, betaal moet word of nie en selfs of daar weer ‘n referendum oor uittrede gehou moet word, ensomeer.

Maar die mees tergende probleem is die posisie van Ierland. Die situasie is naamlik, soos ons weet, dat Noord-Ierland (of Ulster) ‘n Engelse provinsie is terwyl Ierland (Eire) ‘n onafhanklike republiek is. Wanneer Engeland dan finaal uittree uit die Europse Unie beteken dit dat Ulster outomaties ook uittree terwyl die Ierse Republiek lidland van die Europese Unie bly. En dit beteken op sy beurt natuurlik ‘n grens tussen Ulster en die Ierse Republiek met grenspolisie, doeaneposte, grensbelastings en wat ook al met grense tussen lande gepaard gaan.

Ná jare van vrede en vrye beweging tussen Ulster en Ierland is ‘n harde grens ‘n nare vooruitsig wat deur alle partye vermy wil word. Om hierdie situasie te beredder, het die Europese onderhandelaars ‘n oplossing aan die hand gedoen wat gerieflikheidshalwe die ” Backstop position” genoem word. Die Backstop position kom daarop neer dat wanneer Engeland uit die EU tree, dan is die EU bereid om vir ‘n onbepaalde oorgangstydperk toe te laat dat daar geen harde grens tussen Ulster en Ierland sal wees nie. Dit beteken dus voortdurende vrye beweging van mense en goedere heen en weer. Die Engelse sien in hierdie oplossing die spook van vereniging van die twee ” Ierlande”, ‘n spook wat hulle hare laat regop staan. ‘n Aspek wat hiermee saamgaan, is dat die Britse Konserwatiewe Party deurgaans die wense in ag moet neem van die Ulster-parlementslede sonder wie se steun die party nie aan die lewe kan bly nie.

Die Engelse het dus ‘n stokkie gesteek voor die Backstop-oplossing wat die hele onderhandelingsituasie steeds totaal oop laat. In hierdie (laat) stadium is daar  na jare van onderhandelings dus nog geen uittree-ooreenkoms nie en ook nog geen verstandhouding oor wat in Ierland gaan gebeur nie. Het iemand gepraat van afkophoenders of verkeerdeveerhoenders? ‘n Ooreenkoms wat mev Theresa May met die EU beding het, is deur die Britse parlement verwerp. Mnr Johnson, knaend oorhoops met sy eie parlement oor hierdie of daardie aspek van Brexit, het onlangs selfs sover gegaan as om die Britse parlement te ontbind, iets wat die Britse Hoërhof terstond weer ongeldig verklaar het.

Hierdie tameletjie skep natuurlik ondraaglike probleme vir die duisende Europeërs wat in Engeland woon en werk en dieselfde vir Engelse wat in Europa woonagtig is.

‘n Ontwikkeling wat ook nog onder die oë gesien moet word, is dat die Skotte, wat nie ten gunste van Brexit was nie, na die Britse uittrede uit die EU van die Verenigde Koninkryk mag afskei. Daarna sal daar nog ‘n koninkryk wees, maar weinig meer om te verenig.

Mnr Johnson het pas teruggekeer van Brussel waar ‘n nuwe ooreenkoms bereik is oor Britse uittrede uit die EU. Die ooreenkoms verskil in geringe mate van dié  wat bereik is met mev Theresa May ‘n jaar gelede, wat deur die britse parlement verwerp is en tot mev May se bedanking gelei het. Die Britse parlement het die naweek (19 Oktober) oor mnr Johnson se ” nuwe ” ooreenkoms gestem en dit ook verwerp. Hierdie week word weer oor die ooreenkoms gestem en skynbaar ook oor ‘n voorstel om die datum van uitttrede uit te stel.

Dit is wat ‘n mens ‘n fiasko noem en die vraag is wie nou eintlik vir die fiasko verantwoordelik is.

Minstens hierop is die antwoord redelik duidelik. Engeland het ‘n probleem geskep toe hulle ná jare se wik en weeg uiteindelik toegetree het tot ‘n gemeenskap waarvoor hulle in die eerste plek nie eintlik tande gehad het nie en waaruit hulle nou na vyftig jaar van lidmaatskap wil padgee. En as ‘n mens mooi nadink, het hulle die probleem in Ierland ook geskep deur in die eerste plek ‘n Britse kolonie daar te vestig. Dit is m.a.w. die soort gemors wat hulle wêreldwyd nagelaat het waar hulle kolonies gehad het, insluitende in ons eie land.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.