Dan Roodt: NG-belhamels wil nie teen gays, maar teen heteroseksuele mans diskrimineer

Deel op

Die oorweldigende getuienis van samespanning tussen die media, die universiteite en ‘n klein groepie ekstreemlinkse Afrikaners waar dit Afrikaanse kwessies raak, kan ‘n mens laat glo dat ons hele kultuur tans vanuit ‘n korrupte kantoortjie van die nasionale intelligensiediens bestuur word. Op hierdie Sondag 6 Oktober is daar weer ‘n stortvloed propaganda in Media24 waarin die kwessie van homoseksuele regte in die NG Kerk opnuut aan die groot klok gehang word. Vanaf die Rapport-preekstoel word ons dan met vuur en swael gemaan, nogal onder die ironiese titel, “Om jou naaste lief te hê”. En natuurlik word “apartheid”, die vernaamste begrip in die triomfantelike linkse gesangeboek, by die hare bygesleep:

“Die NG Kerk het 30 jaar gelede die moed gehad om van sy ondersteuning van ‘n diskriminerende stelsel met die naam apartheid af te sien. Dieselfde moed en profetiese getuienis word nou weer van die NG Kerk gevra – dié keer oor die ‘gay-kwessie’.”

Die skrywers van dié artikel, Chris Jones en Laurie Gaum, klap hiermee hul vingers. Die Afrikaner en Afrikanerlidmate van die NG Kerk word al dekades lank oor die kop gemoker met felle propaganda, onder meer dat ons miljoene swartes in ‘n “misdaad teen die mensdom” sou uitgemoor het — iets wat ‘n infame leuen is — en nou is dit weer tyd vir elke NG-lidmaat om die knie voor die politiek korrekte politburo te buig.

Waarom het daar ooit ‘n “gay-kwessie” in die NG Kerk ontstaan? Jare gelede toe ek nog op skool was, kan ek onthou dat bepaalde homoseksuele wel eredienste bygewoon en selfs as diakens en ouderlinge in die kerk diens gedoen het. Dit is net nooit aan die groot klok gehang nie. Dit was die tydvak van Afrikanerverdraagsaamheid, van “leef en laat leef”.

Tans verkeer ons egter midde-in die Rooi Revolusie wat niks ontsien nie. Weliswaar het die ANC-SAKP geen marxisme-leninisme in 1994 ingestel nie, al wou hulle hoe graag, maar die meer omvattende kultuurmarxisme het die heersende ideologie in ons land geword. Elkeen sal die revolusionêre evangelie aanneem, anders sal jy vervolg word, of ten minste jou werk verloor of in die openbaar gehoon word.

So pas het die beroemde Franse skrywer en denker, Éric Zemmour, ‘n toespraak in Frankryk gelewer waarin hy die hele “progressiewe projek” wat al sedert die dae van die Franse revolusie duur haarfyn ontleed het. In die Westerse wêreld fokus die linkses en progressiewes op etniese en seksuele minderhede ten einde die heersende orde omver te werp. Daarom, stel hy dit onomwonde: “Die heteroseksuele blanke Katolieke man was die enigste vyand wat vernietig moes word.” Binne die Franse konteks het hy gepraat van die “blanke Katolieke man”, maar hier by ons kan ons dit met die “blanke Protestantse man” vervang.

Lees: Eric Zemmour in Frans, of in Engelse vertaling.

Die NG Kerk is een van die laaste oorblywende instellings wat nie aktief teen blanke mans diskrimineer nie. Juis daarom moet dit vernietig word. In dié opsig is die “gay-kwessie” slegs die Trojaanse perd wat agter die Kerkmuur ingesmokkel moet word, van waar die hele vesting dan ingepalm en geplunder sal word. (Kyk maar na Eskom of die SAUK as finansiële voorbeelde van wat met die “getransformeerde” NGK gaan gebeur.) Binne die Trojaanse perd is daar 12 soldate, ‘n dosyn fanatiese “gay”-dwepers wat reeds die NGK hof toe gesleep het en gesorg het dat die sekulêre hof met sy regters wat deur Zuma of Ramaphosa aangestel word, die uitspraak lewer dat waar geloof en die grondwet bots, die grondwet sal geld. Daardie grondwet waaraan u en ek geen aandeel gehad het nie; dis bloot deur Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa aan ons opgedis as ‘n fait accompli, waaronder die hele stuk diskriminasie teen Afrikaans en die Afrikaner wat onherroepelik daarin vervat is.

As wapen in die hierdie stryd teen die blanke Afrikaanse man, geld die groot progressiewe slagspreuk: “Julle sluit uit!” Die feit dat die NG Kerk nie — soos in soveel ander kulturele instellings reeds gebeur — by voorkeur gays en feministe as predikante aanstel nie, gee aanstoot aan die progressiewes, die Progs om hulle maar so te noem.

Ek sien die laaste oorblywende Prog, Helen Zille, het ook haar naam gevoeg by ‘n lys van “openbare persoonlikhede” wat insgeslyks die NG Kerk maan om finaal die progressiewe ideologie te omhels- en daarmee tesaam huwelike tussen gays, die doop van kinders wat kunsmatig verwek is en deur gays grootgemaak word, asook “transgeslag” mense en alles wat daarmee saamhang. In hul geskriffie in Rapport verwys Jones en Gaum na “gay lidmate (of meer korrek: LGBTQIA+-lidmate)”, dus gaan dit om die hele swetterjoel “geslagte” en Frankensteinagtige praktyke wat die progressiewe ideologie en die moderne tegnologie aan ons kan opdis.

Terloops doen ‘n kort video vandeesweek die rondte van sosiale media vanuit Frankryk, waar ‘n ewe verligte Franse vroueparlementslid verduidelik dat die nuwe wetsontwerp rondom mediese bevrugting en alles wat daarmee saamhang “geen beletsel plaas op heteroseksuele paartjies wat kinders vleeslik sou wou verwek nie”.

“Geen beletsel nie.” Met ander woorde, die vereniging van man en vrou in die huwelik, wat sekerlik ‘n hoeksteen van die Kerk is, anders waarom sou almal nie maar in die landdroskantoor trou nie? word nou toenemend gesien as iets “wat toegelaat word”, maar nie noodwendig binne die progressiewe ideologie (en teologie!) as wenslik geag word word nie.

Feministe (en elke vroulike universiteitsteoloog is seker vandag ‘n feminis en interpreteer die Bybel vanuit haar anti-man- en veral anti-blankeman-perspektief) praat van “heteronormatiwiteit”. Hiermee word die gedagte uitgedruk dat die tyd van die heteroseksuele mens gekom en gegaan het en ons dus reeds in ‘n soort postmenslike, alfabetgeslagtelike toestand verkeer. Hoe lank alvorens die huwelik tussen hetereksuele man en vrou, wat reeds deur progressiewes as “ongewens” gesien word, inderdaad belet of verbied word? Immers gaan ons Aldous Huxley se “dapper nuwe wêreld” tegemoet waarin die totalitêre staat hom met ons intiemste handelinge en identiteite bemoei, gestu deur die histeriese “Rooiwagte” van die geslagsrevolusie.

Daar is dus baie meer op die spel as bloot of ‘n homoseksueel in die kerk mag trou, of in die amp bevestig mag word, aldan nie. Hierdie stap deur die progressiewes om die NG Kerk met hul blikoopmaker oop te sny, is bloot die eerste van vele daaropvolgende stappe. As heteroseksualiteit “uitsluit”, weet ons mos danksy die Idi Amin-agtige Panyaza Lesufi van die Gautengse onderwysdepartement dat Afrikaans dit ook doen. Dus sal die taal insgelyks moet waai.

Indien enigiemand dink dat ek nou te ver gaan, hoef hy of sy maar net te let op die onheilspellende ondertone van die Trojaanse perd-insittendes, of NG-belhamels, soos André Bartlett byvoorbeeld, wat elders op Netwerk24 sê:

“Die NG Kerk sal nog baie meer as tans homself as deel van die groter kerklike beweging moet sien en baie meer ekumenies moet saamwerk. Nie net op die vlak van kerklike verband nie, maar ook op plaaslike vlak sal gemeentes hande moet vat met ander Christelike gemeenskappe.”

En van daar af is dit maar ‘n kortpad daarna om jou plaaslike Nigeriese pastoor penningmeester van jou gemeente te maak en die wagwoord vir die bankrekening aan hom toe te vertrou. Ons leef mos in ‘n uiters eerlike en wetsgehoorsame land wat deur die progressiewes met hul marxistiese gelykheidsideologie vir ons geskep is.

Reeds tweehonderd jaar lank word Afrikaners aktief vervolg en selfs geterroriseer deur sekere Engelstalige kerke in dié land. Gaan lees maar die ou en meer onlangse geskiedenis. Die Soweto-onluste is ten minste gedeeltelik deur die Anglikaanse priesters opgestook — uit haat vir Afrikaans. Moet ons nou met diegene “hande vat” sodat ons ondergang soveel sneller kan geskied?

Maar waarom ophou as dit by “ander Christelike gemeenskappe” kom? Radio Sonder Mense alias RSG saai reeds getrou soggens Moslempreke uit, hoewel die gebruik van Afrikaans by Kaapse Moslems blykbaar tot op nul gedaal het, ten minste sover dit hul universele, internasionalistiese godsdiensbeoefening betref. Eerder as wat daardie uitsendings op Afrikaanse Moslems gemik is, wat in die praktyk nie bestaan nie, vermoed ek dit gaan juis daaroor om Afrikaners sag te maak vir verdere “ekumeniese samewerking”, nie net oor taalgrense nie, maar ook oor geloofsgrense heen.

Die godsdiensvryheid waarvoor ons voorouers gestry, gely en dikwels gesterf het, loop gevaar om in die sand te loop. Aanstons gaan ‘n klein bende “ekumeniese teoloë” bepaal wat ons mag glo, wie ons mag aanbid, in watter taal, en met wie ons mag trou.

Al weet ons nog nie presies hoe hulle “dapper nuwe wêreld” gaan lyk nie, weet ons reeds hoe die geteikende mens of “identiteit” daar uitsien: die blanke, heteroseksuele man.

Het dit nie dalk tyd geword dat ons almal rondom die ware slagoffer groepeer, hy wat reeds in plaasmoorde en huisaanvalle sneuwel en teen wie daar in die werkplek, op universiteit en binnekort selfs in die Kerk gediskrimineer word nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.