Suidpunt: Is DStv ‘n kwynende kerk?

Deel op

My herinneringe van DStv voer ek terug na die jaar 2000, toe ek tien was. Om duidelikheid, hierdie artikel is geskryf op 22 September 2019 (sou onderstaande gegewens oornag verander). Ek dink ons het die volle pakket gehad. Cartoon Network was my gunstelingkanaal (my ouers het nie veel van die inhoud gehou nie), en die gehalte van die karakters was nog goed. Die Skottel-tydskrif het maandeliks by ons opgedaag, toe die poskantoordiens nog vinniger was en die bode nié slegs op Dinsdae afgelewer het nie, maar elke dag. Iewers in 2001 (ek wil nou nie lieg nie, maar my dagboek van 2003 spreek niks van DStv nie) het ons dit afgeskakel, die maandgeld was eenvoudig te duur. Ek onthou by een vakansieoord in Julie 2006 in die Piesangvallei, naby Plettenbergbaai, met die varke van die plakkerskampe oorkant die pad wat toe reeds al wild oor die N2 geloop het (geen vreemde gesig vandag in Somerset-Wes nie), het ek my verkyk aan Kim en Aggie se How Clean is Your House? op BBC Prime, maar bowenal onthou ek The Exorcist waarby hierdie 16-jarige nie verder as die eksposisie gekyk het nie. So nou en dan het ek tog die televisie weer aangeskakel – net daar waar die Etiopiese kindjie al gillend deur ‘n trop hiënas onder honende gelag weggesleep en om die draai verskeur word. Verskriklik.

Deur ‘n skoolvriendin kom ek toe te hore van Binnelanders wat op M-Net Ooptyd was (kanaal vyf), en ek kyk dit in my kamer. Die suiwerder taalgebruik, die dokters wat moeiteloos mediese terminologie soos waatlemoenpitte uitspoeg, Hans Strydom, die skoon gange van Binneland Kliniek (wat oorbeligting darem nie alles kan regkry nie!), die sterker intrige teenoor 7de Laan se swak Afrikaans, gesuip, nihilistiese doelloosheid, die “groot stad” met ‘n kleindorpse benepenheid, selfs die kitsch haarstyle en Oppiekoffie en Hillside Heights wat altyd vuil lyk… regtig, dit was soos om oor te skakel vanaf swart-en-wit na kleurtelevisie. En nee, ek het onlangs in ‘n hotel “HD” beleef; die “ervaring” word ruim oorskat, hoor. Op ‘n skaal van 1 tot 10 sou ek “SD na HD”, wat “lewensveranderend” betref, ‘n koeëlronde nul gee. Ja, die beeld is ‘n bietjie skerper – maar dit kan YouTube ook doen. As ek op ‘n afstand sit of ‘n ent van die televisie wegstaan, raak die beeld tog maar weer dof. Van “lewensveranderend” sou ek “SABC na M-Net Ooptyd” ‘n 5 gee, uit die perspektief van die blinkoog 16-jarige. Dit het ook nie ‘n paar weke geduur nie, of my ouers kon skielik ook die gehalteverskil insien. Ooptyd is egter in 2007 daarmee heen.

Laat in 2008, met Vodacom se nuwe selfoonkontrak met Paps, kom ons te hore van DStv se spesiale voorafberekende pakkette met ‘n paar uitgesoekte kanale. Deur Vodacom kon ons dus KykNET teen ‘n spesiale tarief kyk. Die Skottel-tydskrif het weer in ons posbus beland, nou wel bietjie laat, maar later het ons uit die bloute ‘n Engelse Dish gekry. Ons het eers gedink daar is fout, maar nee, dit was nou die norm. Nou moet jy weet, dit was in die jare toe kykNET se kykertal in 2009 reeds by 1,8 miljoen kykers getrek het. Vergeleke hiermee was die staatsradio, Radio Sonder Grense, se aantal luisteraars in 2008 omtrent 1,909 miljoen (met mededingende gemeenskapsradio’s wat soos sampioene uit die grond verrys het, die belangstellings wat verander, diegene wat uit geloofsoortuiging die kanaal boikot, en die ouer bevolking wat kwyn, praat ons in 2018 van 1,2 miljoen luisteraars). Na afloop van die poskantoorstakings het ons nooit weer ‘n tydskrif gesien nie. Tot op hede kyk my ouers net drie kanale, miskien vier of vyf. Faith op ‘n Sondag, kykNET op weeksaande, en as dit nou die soveelste fliek is wat herhaal word op ‘n Saterdagaand, CNN of Al Jazeera of SkyNews. Anders luister hulle na ‘Country Klanke’ op RSG.

Ek kyk deesdae feitlik nooit televisie nie, om tien redes:

  1. DStv kan nie vir my veeltaligheid bied soos ‘n DVD of YouTube nie. Reekse is op YouTube gratis beskikbaar. Ek dink maar aan die Franse animasiereeks Totally Spies! (6 Reekse) wat in Hollands, Duits, Frans, Engels, Italiaans en Spaans beskikbaar is. Gratis. En ja, dit is wettig deur die verspreider self daar opgelaai.

By my plaaslike Spar (en by uitgesoekte Agrimark-winkels), weens ‘n gebrek aan Musica en Game, weet ek nou elke maand die 15de kom daar ‘n vars stapeltjie DVD’s met ‘n koeëlronde wit Winskopie R59,99-plakkertjie op (ja, net so in Afrikaans gedruk!). Toe Checkers op ons dorp ook DVD’s verkoop het, was dit nog goedkoper: R49,99 stuk. Nog voordat ek by die groenterak gaan draai – is ek daar by die mandjie om te aas. Op Montagu het ek vir tweedehandse horingou DVD’s R40,00 stuk betaal; vir ‘n dubbeldoor R75,00. Op Struisbaai was dit weer R10,00 stuk. Omdat Suid-Afrika die meeste van ons DVD’s uit Italië invoer, word ons ruim bedien van Europese tale. En al is die tweedehandse DVD hoe gekrap, Batman in Frans klink glad nie sleg nie, hoor.

Baie van die SAUK-DVD’s beland ook in die mandjie; soos by Montagu se Agrimark het ek vier DVD’s van Liewe Heksie gekry (altesaam 32 episodes), elkeen R59,99 stuk. Ek het die reeks nog nie op kykNET gesien nie en dit is tans ook nie op Takealot.com beskikbaar nie.

Om die Duitse klankbaan van Troy, Men in Black I en veral The Matrix:Reloaded te luister, is ‘n absolute fees. Dit kan geen skottelkanaal my bied nie.

  1. Ek hou nie daarvan om voorgeskryf te word wat om te kyk en wat nie. As ek iets nou wil sien, wil ek dit nou sien. Waarom ek nou spesiaal ‘n dekodeerder moet gaan koop vir die doel, vind ek onnodig.
  2. Die eensydigheid van die aanbieders het veral sedert my aansluiting in my 24ste lewensjaar by PRAAG merkbaar geword. Die voorspelbare politieke afmerkkaart het byna in elke produksie tasbaar geword en die reekse voorspelbaar. En as dit nie oor drank en dwelms gaan nie, gaan dit oor seks, en as dit nie oor seks gaan nie, gaan dit oor ontrouheid, en as dit nie ontrouheid is nie, gaan dit oor geld, en as dit nie oor geld gaan nie, moordlus. Die dag toe Villa Rosa afgebrand het, het ek gejuig. Ek dink wel die Suidooster het my lankal uit die Kaap gewaai.
  3. Te veel advertensies (in Duitsland is die betaalkanale juis advertensieloos) steel ons tyd.
  4. Halfgebakte navorsing wat in die skadu staan van ou akademici soos J.C. Steyn en kie. Die navorsing grens aan strooiligte reisprogramme. Ek soek ten minste 50 hardgebakte standpunte binne ‘n halfuur (of kwartier is beter) wat ek kan gebruik. Wat my betref is daar ook te min dokumentêre programme in Afrikaans. Die laaste dokumentêre program rakende tegnologie was Debra Deel, en ek kan glad nie onthou in watter jaar dit aangebied is nie (vinnige Google-resultaat: 2014, Julie tot Oktober, magtig, tempus fugit!). Ek soek byvoorbeeld in detail ‘n ontleding van die stand van die windplase in die Wes-Kaap, veral hier in die Overberg. In chaotiese volgorde is my vrae:
Hoeveel kos dit om die plaas in stand te hou per maand, per dag? Wat is hierdie turbine se afmetings? Hoeveel ton weeg hierdie ding? Hoeveel kos een enkele turbine, soos hy daar penorent in die veld staan? Wat is die leeftydperk van die aangekoopte windturbine? Wat word van hom as sy tyd verby is? Gee Eskom die boere die wind van voor wat die kragaansluiting betref? Die wisselrigters en omsetters – hoeveel kos enetjie? Is diefstal van ‘n windturbine moontlik (dis so goed jy vra of ‘n helikopter ‘n toeter het, maar vra is seker vry)? Hoeveel megawatt word gemiddeld opgewek per eenheid? Hoe lank sal hierdie plaas in die aanvraag kan voorsien (bedoelende, teen die verstedelikingskoers, hoe lank voordat nog ‘n plaas bygevoeg moet word, en hoeveel plase maak die bedryf mededingend?) Wanneer waai die wind te sterk? Gemiddeld hoeveel Rand per kilowatt praat ons? Oor hoeveel hektaar moet die windplaas beslaan om ‘n wins te toon? Geluidstoornis: van hoeveel desibels praat ons? Gebruik die windboer self die elektrisiteit van sy eie windturbines (wys ons u huis, meneer De Boer)? Wie is almal betrokke? Hoeveel word ‘n tegnikus betaal? Is die vlermuise en Jaap die eenoog-seemeeu se lewe in gevaar? Wie is die vervaardiger van die windturbine en hoe is die skakeling met die buiteland (reken asseblief die invoerkoste, doeane, en verskeping in)? Is ‘n windplaas meer lonend as ‘n koringplaas – waarom wel/waarom nie (en hoe affekteer dit die nasionale voedselsekerheid)? Kan ‘n windplaas ‘n trekpleister vir toerisme (lees: nuuskieriges) word? Indien reeds, hoeveel mense staan tou en hoeveel geld is ingevorder? Twee Vestas (een was tienjarig) het in Denemarke in Februarie 2008 al uitgebrand, ontplof en omgedonder – wat is die risiko hier? Die Europeërs kla gewoonlik steen en been, maar hier wil dit voorkom of die Kapenaars heel gunstig en positief oor hierdie futuristiese ontwerpe reageer – bevind u dit ook so, mnr. De Boer? Mnr. De Boer, sou u ooit wou oorskakel na sonkrag? Op my heilige, duur Garmin trots geborg deur Cape Union Mart word die volgende koördinate aangegee (xxxxx;yyyy), sê my bietjie, wat maak hierdie plekkie so geskik? Wat maak hierdie plaas so winderig soos ‘n Rottweilerteef? Dit gaan nou snaaks klink, maar help windplase om water te bespaar – dit verbruik tog seker minder as ‘n beesplaas, of hoe? Is ‘n windplaas ewe arbeidsintensief as bv. ‘n beesplaas? Wanneer is die tegnici op hul bedrywigste? Kan die publiek kom belê in die windplaas, en sal dit wys wees? Kyk, ek het nou nie SkeiNat tot Matriek gehad nie, so help my bietjie: as my grassnyer loop, as my boor boor, as my sweis sweis, dan kla die bure oor hul radio en Tant Dorothy oor haar pers aura: watter effek het ‘n windturbine op die elektro-magnetiese veld? Ek hoor die bure hier langsaan kla oor die beeste wat vreeslik onder spanning verkeer….? Sê my, hoe maak julle die lemme skoon? O, bliksem! Hoe gemaak tydens ‘n donderstorm? Hoeveel beloop die gemiddelde versekering vir ‘n windplaas, dink jy? Nou sê my, hoe lyk jou dag? Wat doen jy oor naweke? Kan jy ooit met vakansie gaan? Hoe gemaak met die wind wat ruim (draai)? Wanneer is besluit om die oorgang te maak na ‘n windplaas? Hoe lank duur sulke beplanning en die omgewingsimpakstudie?

Hierdie gestelde vrae het ek binne ‘n kwartier lukraak uitgedink (en dis ook vir diegene wat te lui is om die antwoorde te google). Magtig, man – moet ek al die dinkwerk doen?

  1. Verder het ek ook logika ontdek: wat is die doel van hierdie program? Waarheen is die program op pad? Wat is die sin daarin?
  2. Die programme is plek-plek té regionaal en dan weer Amerikaans/Brits ingesteld. En dan kry jy die kinders wat op reis gaan en niks gewoond is nie.
  3. Eers land ‘n sanger/bekende op Kwêla, soos ‘n stukkie sosatie-pynappel word hy dan ingeryg by Ontbytsake, dan by Bravo, dan by [voeg nog ‘n programnaam by]. En verbasend genoeg oorvleuel baie vrae.
  4. Kyk, as mens internet per maand betaal, dan het jy steeds iets “tasbaars” op jou hardeskyf: dokumente, prente en so. Maar DStv voel vir my soos ‘n elektrisiteits-, water- en vullisverwyderingrekening asook erfbelasting waarvoor jy absoluut niks te wys het nie. Dis ‘n diens waarvoor jy betaal en dan sak die gordyntjie. ‘n DVD in my hand is tasbaar, altyd myne, uitruilbaar, ek kan selfs ses, nege, vyftig kopieë daarvan koop en onderweg uitdeel as ek wil. Dit kan jy nie met e-boeke doen nie, en ook nie met rolprente en reekse wat jy in die wolk koop nie. En soos die skrywer van ‘n boek kan een van die akteurs die DVD-plaat met ‘n filtpen nogal teken, wie weet? Ek kan ‘n mooi Ex Libris voor in die boek plak. Alles het vandag met die digitale era so onpersoonlik geword. Aan die ander kant: ek kry ook diegene jammer wat spesiaal ‘n TV-lisensie moet betaal, bloot vir die televisieskerm om slégs as rekenaarskerm te dien!
  5. Ek vra my af: sou Leon van Nierop, ‘n rolprentresensent, radiodramaturg en (draaiboek- en roman)skrywer, iets soos ShowMax hê? Sou hy sy hele DVD-kamertjie tot niet maak daarvoor, van voor af alles wéér aankoop? Ek twyfel.

Einde van ‘n era?

Terwyl ek op Wikipedia besig is, met die seën van ander Wikipediane, om te soek na strategieë ter bevordering van Afrikaans deur die dekades heen (asook elkeen se swakplekke) wonder ek skielik: “Maar wat het van die Dish-tydskrif geword? Bestaan dit nog? Ek sien dit nie by Checkers, Pick ‘n Pay of Spar nie.”

So land ek by ‘n forum van die DStv-gemeenskap. Na wat verneem word, het Multichoice dit goedgedink om die tydskrif toe te maak. Dit is verneem Januarie 2019. Een kommentator, genaamd “krugie Red Carpet” skryf lakonies: “Yet they still manage to blame Netflix for a drop in subscribers… mind boggling….

Ek wou sê ek het iewers iemand ‘n vergelyking hoor maak tussen Multichoice se ShowMax en Netflix. Met ‘n bietjie verdere googlewerk kom ek toe op die forum af van MyBroadband.co.za getiteld ‘Netflix vs. Showmax – Pricing and retrictions’. Hierdie blad dateer uit Junie 2019, omtrent drie maande gelede. Die bevinding:

A recent content comparison conducted by MyBroadband found that online streaming services such as Netflix include at least as much content as satellite television when it comes to movies and series.

With this in mind, it would be ideal to subscribe to both Showmax and Netflix to access the wealth of content across the platforms, although you would still need a DStv subscription to watch sport.

Die kommentaar benede is uiteenlopend. Een skryf:

There is just no comparison. No company, especially a South African one can even try to compete with American companies. And to top it off, the quality on Netflix is light years ahead of that of Showmax. It’s not even debatable, period!!!!

‘n Verdere probleem is dat ShowMax, volgens die leserskommentaar, nie tuisteatermodus (5.1) ondersteun nie, terwyl selfs van my R59,99-DVD’s dit kan doen.

‘n Ander skryf:

I have Netflix, Showmax, Youtube Premium, Prime Video, Twitch Prime, and DStv Now with a DStv Premium subscription, so I’m sorted with content. Now the big question is, what do I watch? That’s the irony of this. I have so much to watch, but don’t know what to watch!

Maar is dit werklik nodig om jou aan al hierdie dienste te verslaaf? Moet ‘n mens vyf bykomende los kontantwerkies doen, sodat jy juis minder tyd het om al hierdie goed te kyk? Bloot omdat nie een van die dienste die goed het wat jy werklik wil hê nie?

Wat ek uit al die kommentare, ook van dié op ‘n ander blad tot die slotsom gekom het: iemand wat plaaslike produksies wil kyk (lees: Afrikaanssprekendes), aggressiewe sportliefhebbers is en geen blitsvinnige of vastelyn-internet het nie, sal DStv bly ondersteun.

Maar in die vergelyking lees ek https://www.justwatch.com/za raak en klik daarop.

Ek was verstom wat Suid-Afrika alles te bied het: Netflix, Amazon Prime Video, Apple, Google Play, ShowMax, BoxOffice, Mubi, Guidedoc, Netflix Kids, Crunchyroll en AcornTV.

Natuurlik klik iemand soos ek wat Google Play gebruik heel eerste daarop, kies onder Genre “Animation” en word oordonder deur ‘n skamele 216 titels. Apple lewer 293 titels op. Amazon Prime Video lewer 282 titels. Netflix 272. Netflix kids 49. En Chruncyroll 525 titels (bykans almal Japannese anime).

Dis die prysvergelyking wat vir my die interessantste is. Goed, die enigste film wat ek tot dusver deur Google Play gehuur het, was The X-files: I Want to Believe. My internet het eenmaal gehaak. Die huur op sowel Apple as Google Play is tans R34,99 (albei in HD); jy moet die rolprent binne 48 uur klaarkyk. Maar sou jy die film koop, dan betaal jy op Apple R99,99 en by Google Play kos die rolprent R145,99.

Vir die interessantheid, kom ons probeer sommer nog een, ‘n horingou fliek genaamd Peter Pan (1953), die Disney-een. Dis nie op Showmax of Amazon Prime nie. Om die film te huur kos jou R19,99 by Google Play en by Apple R24,99. Om die film te koop kos jou R147,99 by Google Play en by Apple R149,99. En dit is Standaarddefinisie (SD)! Dis meer as dubbeld die prys as my R59,99-DVD wat ek in die uitskotmandjie by Spar gekry het. Boonop is my Peter Pan benewens Engels ook Italiaans, Spaans en Portugees magtig, met onderskrifte. Kan Google Play dit doen? Nee, net English Stereo, met onderskrifte in Indonesies, Maleisies en Thai.

Voordat mense te opgewonde raak oor Netflix wat vir polities korrekte DStv ‘n snotklap gaan uitdeel, lees eers hier: VigilantCitizen.com: Netflix is Losing Subscribers in the US: The Untold Reason. Op 18 Julie 2019 word berig 133 000 intekenaars in die VSA alleen het die diens vaarwel toegeroep. Is dit alles te wyte aan die $2-prysverhoging, of is dit daardie sataniese dekadente dogma van hierdie diens se nuwe “oorspronklike” reekse? Die verheerliking van selfmoord, kannibalisme en heksery? En dit nadat $12 miljard hiervoor ingepomp is? So, om DStv te los vir Netflix, is dit nie maar dieselfde soos om jou skoonma vir die duiwel in te ruil nie? Albei ewe erg?

En tog – 1993, toe die Afrikaner nog heel tevrede was met sy SAUK, het slegs 2% van die kykers van M-Net uit Afrikaanssprekendes bestaan. M-Net se doel destyds was om as middelman te dien tussen Hollywood en Suid-Afrika. Hy kon, daar was immers nie internet of Netflix nie. En niemand sou seker kon droom oor die 1,8 miljoen Afrikaanssprekendes wat in 2009 voor kykNET sou sit nie (volgens hierdie bron). Die vraag is – waarheen nou? Reeds nou al begin mense ander plekke soek vir kykgenot. YouTube is nommer 1 op die lys, volgens Alexa.com die tweede mees besoekte werf in Suid-Afrika, ‘n kortkop agter Google.com. Wat by Oom Tor Browser aangaan, weet ek nie, maar ek hou nie besonder daarvan om diep ondergronds krokodille te gaan vang nie.

Ek vind dit wel jammer dat die geld waarvoor my ouers nog elke maand betaal het, vir ‘n kwynende kerk is. Die Afrikaanse betaalkanaal, ook maar net een van die ander plaaslike kanale, het vir honderde mense werk verskaf of as “Springbrett” gedien. En die potensiaal is nou nog groot, as dit net reg aangewend sou word. Ek weet ‘n mens moenie sentimenteel of nostalgies raak nie, die moderniteit laat dit nie toe nie, maar ‘n mens wonder tog: kon daardie geld nie vir iets beters aangewend word nie? KykNET het baie Afrikaanse rolprente ondersteun, maar so ook het die SAUK van destyds gesorg vir produksies soos Haas Das, Die Swart Kat, Oscar met Knersis, en die oorklanking van Brakanjan, Heidi, Tao-Tao, Marthinus en Maryna, Pinocchio, Sophie & Virginie, Janosch se Droomwêreld, Honkedonk, ‘n Lewe van Ellende en ‘n hele paar ander Japannese/Franse/Duitse reekse waarvan ek die name nie meer kan onthou nie. Om die SAUK van destyds bloot op grond van die huidige SABC sleg te maak is absoluut onbillik.

Maar ons kan nié die waarheid ontwyk nie: die getalle wat DStv eers gehad het, is besig om minder te word, as ek die kommentaar op die web glo. Die swak Rand maak die aankoop van reekse en kanale ook nie goedkoper nie. So twee dinge kan gebeur: ‘n klein hoeveelheid getroue, goedgelowige mense gaan ‘n plaas se geld moet betaal om die wa deur die drif te trek, of DStv sal heeltemal ‘n haas uit die hoed moet trek om meer siele te werf, soos met Big Brother in die vroeë 2000’s, toe hulle 40 000 nuwe intekenare gekry het. Of, hulle sal van hul kanale moet minder maak, en dit wil jy nie doen nie. Anders moet jy maar besuinig en nog meer herhalings vertoon. Tot dusver sien ons net hoe die inskrywingsgeld styg en styg en mense al hoe meer in ‘n blik druk om oor te skakel na DStv Premium toe soos die kanale per pakket verwissel. Waarvan die premie ook styg.

In Die Burger van 19 Mei 2012, bl. 12, onder die opskrif “Herhalings op DStv ‘is nie Multichoice se skuld’” word gevra waarom daar soveel herhalings is. DStv word daarvan beskuldig dat hulle die geld opstoot, maar lekker voortteer op hul argiefmateriaal wat hulle elke keer oor en oor uitsaai. Die antwoorde wat kom is:

·         Multichoice skeduleer nie self programkanale nie, maar koop vooraf vervaardigde plaaslike en internasionale kanale aan. (Suidpunt wonder: nou waarom sien mens nie in julle TV-gids op die internet die ‘Paw Patrol’ en ‘The X-files’ wat die Amerikaners kyk nie?)

·         Multichoice het nie direkte redaksionele beheer oor die kanaalskedules en inhoud nie, maar gee gereelde terugvoering en doen aanbevelings aan kanaalsamestellers [volgens] kykerreaksie en navorsing. (Ja, maar as daar vir die kanaalsamestellers gesê word om te besuinig, met die doel om die maandelikse inskrywingsgeld goedkoop te hou, dan is dit tog onder julle beheer, dan nie? Kyk, ek weet kykNET moet adverteerders en borge soos spoeldiamante bymekaarskraap, maar wie is die een wat die maandelikse inskrywingsgeld versprei en toebedeel aan die onderskeie kanale? )

·         Die betaal-TV-sakemodel vereis herhalings: Dis internasionale praktyk dat multikanaalplatforms soos DStv kanale aanbied wat ‘n mengsel van nuwe programme en herhalings insluit om dit bekostigbaar te hou. (Soos ek reeds hierbo gesê het oor die ongunstige wisselkoers?)

·         DStv se herhalings is minder as in die meeste lande. (Ek sou so graag ‘n voorbeeld hiervan wou sien.)

·         Verder moet onthou word daar verskyn slegs 600 nuwe rolprente per jaar terwyl ‘n enkele kanaal 8 760 uur per jaar beeldsend. (Dus, hoe meer kanale daar is, hoe meer betaal jy, en hoe meer herhalings is daar?)

·         Kanale het verskillende herhalingspatrone. (Irrelevant waarom daar herhalings is)

·          “Multiplexing is ‘n vorm van herhaling wat ‘n hele blok programme skeduleer en dit dan in dieselfde volgorde op dieselfde of ‘n ander kanaal herhaal. Kanale soos M-Net Series, M-Net Movies 1 en M-Net Movies 2 gebruik Multiplexing”. (Irrelevant waarom daar herhalings is)

Terselfdertyd moet ons onthou in Amerika, waar baie van hierdie kanale vandaan kom, is die televisie self besig om te “sterf” (tussen aanhalingstekens, want dieselfde is destyds van radio gesê), en so ook sy adverteerders, wat dui op ‘n afwaartse spiraal: nog minder geld vir goeie produksies, nog minder kykers, nog minder adverteerders, nog minder geld vir goeie produksies, nog minder kykers, nog minder adverteerders, ens. ens. ens.

So, dis nou maar dit.

Ons gaan in die toekoms dus toekyk hoe nog ‘n produk nie kon tred hou met tegnologie nie. Die ossewa en perdekar kon nie by die motor byhou nie. MXit kon dit nie teen Whatsapp maak nie. Toeter is destyds geskep om twitter na te aap – dit het misluk. Die uiters gewilde sosiale netwerk hyves.nl het in Nederland geswig voor Facebook, en verkoop vandag speletjies. Om dus nog geld in die sentebussie te gooi is net om ‘n kwynende kerk te befonds.

Kortom: elkeen soek ‘n internasionale platform waar hy gemaklik met ander mense en vakgenote wêreldwyd kan skakel en kommunikeer, kus en keur. C’est la vie.

Dan, terwyl ek heel toevallig navorsing doen oor al die probleme met oorklanking, tweet Dr. Dan Roodt oor ‘n Turkse reeks op e-tv, genaamd “Die Vreemdeling”. Open View, onthou ek skielik, het ook ‘n kanaal gehad waar ‘n oorgeklankte Turkse reeks uitgesaai is (ek sien pas byna al die kanale op Open View is een of ander vorm van e-tv). Die naam het my egter ontgaan. Ek het ‘n paar maande gelede die kombuis ingestap, my ouers was besig om televisie te kyk, ek het Afrikaans gehoor, maar akteurs gesien wat ek van g’n Adam af ken nie. Binne ‘n oomblik het ek geglimlag: “my magtig, dis oorklanking!”

My enigste beswaar teen Afrikaanse oorklanking tot dusver, en dit sluit die Heidi-rolprent-DVD (2015/2016, wat jammerlik genoeg nie die oorspronklike Duitse klankbaan het nie) en “Drie Wilde Engele” (oorklanking in 2011) ook in, is die stemme wat duidelik klink of ek in ‘n klankdigte ateljee saam met die akteur/aktrise opgesluit is. Gewoonlik word mens se stem in die buitelug verdoof of vertroebel deur ander geluide en veral die ruimte. Miskien is dit net haarklowery, maar die agtergrondklanke voel myle ver. Die Zoeloe-oorklanking van The Lion King (1994, met uiters voortreflike lipsinchronisasie) op DVD, maar ook die Afrikaans-oorgeklankte Khumba (2013), asook die ou Afrikaans-oorgeklankte reekse van die 1980’s en 1990’s, voel net natuurliker. Kyk, ‘n radiodrama het nie dieselfde luukse nie, want dit gaan klaar moeilik as daar ‘n simpel koppie of boom in die pad staan wat die tussensigbaarheid met ‘n radiomas op die bergspits verydel. Die dialoog is dus belangriker as die byklanke. Trouens, by die skryf van ‘n radiodramateks is jy “verplig” om die byklanke te skei van die dialoog (jy kan dus nie praat terwyl jy ‘n deur oopmaak nie, wat allermins natuurlik is, want mense stap gesels-gesels ‘n vertrek binne terwyl die deur oopgesluit en die deurknop gedraai word; luister maar volgende keer om 02:00 in die oggend as jy in ‘n hotel op ‘n Vrydagaand probéér oornag!), of so te versag dat die dialoog op die voorgrond is. Ek weet nie of die dialoog in die televisiereekse en rolprente net (oor)duidelik klink omdat ek deur my oorfone luister nie, maar ek twyfel daaraan.

‘n Mens kan natuurlik jou rug op die hele vermaaklikheidbedryf toekeer – en dit is jou volste reg as beursiehouer – maar wat nou van die bruikbare plaaslike inligting, waar gaan jy dié nou in hande kry?

PraagTV, YouTube-kanale en die nuwe joernalisme

Enige ou kan ‘n video stuur wat by PraagTV, na goeddunke, opgelaai kan word. Of, jy kan sommer jou eie kanaal skep.

Terwyl die hoofstroommedia seker wonder wat die toekoms vir hulle inhou, en vir die laaste maal by die barokkale klokhorlosie by die trap wag vir hul Titanic om te sink, vir hul laaste uur om te slaan, kan ek ongelukkig nie op die dek lank bly om die mooi vioolmusiek te waardeer nie. Ek wil nou nie dat my aandpak en krokodilvelskoene nat word nie.

Ons moet maar iets vir onsself doen. Ek dink ons het werklik ‘n tekort aan deeglike navorsing of joernalistiek. By ons is die standpunte belangriker as die hoeveelheid kykers – die ideaal is natuurlik om soveel kykers moontlik te kry om die boodskap uit te stuur of te beredeneer. Maar dit bly ‘n ideaal. Mense haat “click-bait” (wat sal mens dit noem, klikstrik?) en ek ook. Dus, maak seker jou amateurwerk is van sulke hoogstaande gehalte dat mense weer sal terugkom. Ek glo daarin. Gee vir jou leser/kyker méér as wat hulle sou verwag het. Soms is ‘n opspraakwekkende titel nie goed genoeg nie.

In ‘n onderhoud op 13 Mei 2015 op Spektrum, RSG, tussen Izak du Plessis met Bun Booyens, toe nog die redakteur van Die Burger, net die volgende:

Die kernwoord is: bruikbare inligting. Die gebruik van inligting het met die opkomende middelklas wêreldwyd nie minder geword nie (inteendeel, die inligting word gemaklik gedeel of getweet). Die vraag is eerder waar hierdie middelklas sy inligting gaan soek. Hierby moet alle media aanpas. Radio het hom byvoorbeeld mededingend by die televisiekompetisie aangepas en is in die moderne en beweegliker samelewing nog lank nie dood nie: gratis geselsprogramme, spitsverkeernuus, geldsake, musiek, preke, radiodrama’s, ens. in die wandel, op pad. En as jy weet jy gaan deur ‘n dal beweeg waar geen radio-ontvangs is nie, kon jy vooraf die radiodrama afgelaai het as mp3.

Nou kyk, ek weet nie so lekker wat Die Burger beskou as “bruikbare inligting” nie (vir Booyens is dit “nuus”), maar laat ek vir jou sê hoe lyk myne:

As ek in 1998 se Africa Environment & Wildlife (Jaargang 6, nommer 6) deurblaai op bl. 36 tot 43, wat handel oor die luiperdspesie van die Midde-Ooste, het die twee Israeli’s (teks Reuven Yosef, foto’s deur Eyal Bartov) hul uitstekend van hul taak gekwyt op hierdie 8 bladsye (met inbegrip reusefoto’s wat soms oor ‘n blad-en-‘n-half strek). Die leser vind uit oor die luiperd se jagmetode, jy word voorsien van ‘n verspreidingskaart, die dier se vyande word gelys, ook sy prooi (wat honde, katte, vosse, voëls, hase ens. insluit – alles uit hul stoelgang ontleed), die natuurlike habitat word omskryf (ook die wyfies se 120 vierkante kilometer wat gepatrolleer moet word, en die mannetjies s’n van 150 tot 200 vierkante kilometer, en hoe die gebied gemerk en afgebaken word), ook word melding gemaak van die Ou Testament waarin die dier genoem word, dat daar weinig navorsing oor die dier gedoen is, en dié wat wel gedoen is, berus op residu (kopbene, mishope) of deur telemetrie of deur hoorsê. Dan word daar aandag gegee aan die dier se afmetings (of is dit nou mates?), hul lewensverwagting, die drie subspesies se afsonderlike voorkoms en verspreidingsgebied (maar ook die teorie wat bestaan dat hulle almal tot een subspesie behoort); die grootteverskil tussen mannetjie en wyfie; die grootte van die spore word vermeld (ook hoe dit tussen die mannetjie en wyfie verskil); ook dat hierdie luiperd tot 15 kilogram vleis kan opvreet op een slag; die voortplanting van die spesie word in vier paragrawe in detail omskryf – vandat die kat bronstig raak, tot by die daad (250 keer oor drie dae sonder eetpouse, gepaardgaande met ‘n gebrul), die dragtigheid, tot by die werping en moontlike kannibalisme. Die jag op luiperds word in ‘n enkele paragraaf opgesom en watter metodes deur mense gebruik was voor die koms van die vuurwapen. Die toekoms van die dier word oor drie paragrawe bespreek – dat daar moontlik nog 10 in die woestyn oor is, die meeste van hulle mannetjies is, enkele wyfies “per ongeluk” doodgemaak is (wat die voortplanting bemoeilik), en dat die politieke situasie in Israel en omgewing so gespanne is op die oomblik dat daar weinig aandag aan natuurbewaring geskenk kan word.

Al wat kortkom is ‘n verdere akademiese leeslysie.

Nou dit, liewe leser, is hoe ‘n artikel moet lyk. Geen snot-en-trane-stories nie. Klipharde feite en saaklik geskryf. Dit sou ‘n Wikipedia-artikel met min moeite kon vervang. Dit skop stof in National Geographic se oë. Laat staan nog die Afrikaanse koerante en televisiekanale.

Of is die televisie en koerante eenvoudig nie vir slim mense bedoel nie? Het ons so nuuskierig geword, so akademies geraak, so geleerd, so vergoddelik, dat ons vervreemd geword, uit voeling is met van die gewaande “Suid-Afrikanerskap”, van ons medeburgers? Of lê die fout nie by ons nie?

Ek kry die indruk die moderne media probeer ‘n teks afwater (of soos ‘n dun biltongrepie uitrek) om voort te borduur op ‘n enkele idee of feit, want aai, waaroor skryf hy tog môre weer? Dis Boerebedrog, of ‘n toonbeeld van persone wat in ‘n baie eng klein wêreldjie bly. Kom ons demonstreer dit: google die soekwoord “Korsikaans” met aanhalingstekens en moenie verbaas wees hoe bloedweinig die bruikbare resultate is nie. Toe, probeer gerus. Maar jy mag dalk net terugverwys word na PRAAG, hoor…

As ons mooi kyk na die standpunte die afgelope vyftig, sestig jaar, en gegewe wat alles in die argief opgesluit lê, berus die meeste standpunte op herhaling-herhaling-herhaling. As mens net eers daardie een standpunt op ‘n plek soos Wikipedia vasgepen kan kry, dwing jy mense om ander idees by die lys te voeg, of ten minste die bestaande idees krities te bekyk.

Van die idees om Afrikaans te bevorder is byvoorbeeld opgeneem in ‘n ontsettende dik boek soos Tuiste in eie taal (1980) deur J.C. Steyn, ons praat hier van 460 blaaie. Hierdie boek het uit ons dorpsbiblioteek spoorloos verdwyn, maar gelukkig het ek een gekoop teen R5,00 op Hermanus. In die Wes-Kaap het slegs die volgende biblioteke nog hierdie boek: Beaufort-Wes, Valsbaai, George, Mosselbaai, Kwanonqaba, Oudtshoorn, Paarl, Swellendam, Vanrhynsdorp, Worcester. Nie een van die kopieë is tans uitgeneem nie. En dit skeel niemand nie. Maar gebruik ek hierdie inligting nou op Wikipedia, dan moet jy sien hoe skielik “weet” almal daarvan. Jou Afrikaanse gemeenskap is net donders lui.

Daar steek ‘n joernalis in elkeen van ons. Kamerafone het die norm geword; digitale videokameras is deesdae ook nie meer so duur nie. Die nadeel is egter dat mediahuise moontlik op die aas is na gratis nuus, soos jou eie werk. Maar magtig, jy sukkel om die werklik nuttige video’s op YouTube te vind, en ek soek dit as bronne vir my Wikipedia-artikels. Tik gerus “oorklanking” in by YouTube – al nuttige video’s is dié van FreshFilms TMF wat Henriëtte Gryffenberg en ‘n paar aktrises aan die woord stel. Die res is absoluut onbruikbaar.

Terwyl die staats- en betaalkanale derduisende Rand mors, kan diegene wat bedrewe met YouTube is ‘n onbaatsugtige diens lewer (want hoeveel geld kan iemand nou uit YouTubevideo’s in Afrikaans maak? Selfs Amerikaanse kanale bedel deesdae vir Patreon-ondersteuning). PraagTV het met mense op voetsoolvlak gepraat – wat die mense sê; nie altyd met een of ander hooggeplaaste in ‘n lugverkoelde kantoor in Sandton of munisipaliteit nie.

Al bogenoemde leemtes is fantasties, want dit beteken:

1) Al is die teksspasie onder die YouTube-video beperk tot 1 000 karakters, kan jy ‘n volledige transkripsie van die dialoog en jou video op jou persoonlike webblad aanbring. Sorg dus dat jou kernwoorde, jou trefferwoorde wat jy in jou dialoog gebruik, nommerpas is. Onthou, ek het “miljoen luisteraars” gegoogle om uit te vind hoeveel luisteraars RSG wel het – en bloot elke jaar afgebaken om die soektog te verfyn. Mense wil hierdie teks gemaklik kan kopieer en plak en deel. Sodra iemand dan die oorsprong gaan navors, sal hy uitvind jou video was die beginpunt.

2) As jy Afrikaanse onderskrifte kan bygee, sal dit ewe veel kan help (veral diegene wat wil video kyk én lees; of diegene wat Afrikaans so half wil verstaan, maar nog net nie die kloutjie by die oor kan kry nie). Ook hierdie onderskrifte word deur Google as soekwoorde geëien. Ek weet dit vat baie tyd, en ‘n mens praat maklik 300 woorde per minuut (5 woorde per sekonde) as hy werklik geesdriftig raak, maar hierdie moeite word ryklik beloon. Glo my, daar is Pasella-video’s wat al 8 jaar oud is en steeds onder ‘n halfduisend kyke het (die Engelse onderskrifte is daar reeds op die videobeeld ingeskryf, maar nie op die YouTube-webwerf ingevoer nie; dus kan Google nie die teks eien nie). As hulle die tekste sou transkribeer en as onderskrifte opgelaai het, sou die resultate veel anders gelyk het.

3) Ek glo ‘n mens sal beslis meer aftrek kry as jy meer onderhoude met buitelanders kan voer, veral diegene wat Frans of ‘n ander taal praat, want ek weet van géén jong aanbieder op Suid-Afrikaanse televisie, hoe sag op die oog ook al, wat dit nog gedoen het nie. Dis altyd, altyd, altyd in Engels. Ons moet die voorbeeld stel. So iets het ek wel gesien op CNN met aanbiedster Hala Gorani wat ‘n Parysenaar regstreeks voorgekeer en met vrae in Frans bestook het. Dit was nogal ‘n gesig om te aanskou. ‘n Tweede is hierdie een, waar sy in ‘n videokonferensie met die Franse televisie is (2009). Sy het haar lewe lank in Parys gebly, bygesê.

4) Dit staan jou vry om 35 tot 50 standpunte binne ‘n halfuur tot ‘n kwartier deur te werk waarin nie kykNET of die SAUK kan voldoen nie. As jy standpunte wat reeds bestaan wil weerlê, doen dit. Maak dus seker jy en jou gas weet wat jou vrae gaan wees om die onnodige hmmm’s te vermy (dit doen hulle tog ook! Hoeveel keer moet iets nie van vooraf geskiet word nie?). Nie almal voel ewe gemaklik nie. Mense is klaar gespanne voor die kamera (sit my hare reg, is my stem duidelik genoeg, wat as ek voor die gemeente poep? Die wegneem-kerrie van Sameema sit juis nie vanaand so lekker nie) en nou kom bombardeer jy die arme oubaas met vrae waarvoor hy eintlik eers sou wou voorberei het. Dit ís mós om sy maag heeltemal onderstebo te keer?

Vir potgooie stel ek voor die gas en aanbieder moes albei ‘n dialoog vooraf uitgewerk en neergeskryf het, amper soos ‘n radiodrama. Veral wanneer iets telefonies plaasvind. Die aanbieder, bevoorreg met die mikrofoon, het die neiging om die gesprek te oorheers terwyl die inbelgas die muurblommetjie speel; dit gebeur ook by die beste radiostasies. Op radio, waar daar gewoonlik meer as een gas is, word die naam genoem wanneer hy moet praat, amper soos: “Pop, praat nou.” Hou dit ook in gedagte as daar nog mense is. Wanneer dit ‘n tweegesprek is, weet mens ook nie: het die ou nou klaar gepraat, of nie? Dus: skryf ‘n dialoog vooraf (met leemtes vir die gas, byvoorbeeld ‘n deskundige) en e-pos dit aan die gas. Die gas vul die antwoorde in, en stuur die dokument terug. Wanneer albei kante tevrede is, en daar geen verdere teenvrae of iets by te voeg is nie, kan die aanbieder die laaste boodskap stuur: “Ek bel jou om 07:00, maar seker jou Word-program is voor jou oop”. Sodra die opname begin, moet dit so natuurlik moontlik klink met tussenwerpels soos “kyk”, “jong”, “dit gaan nie werk nie”, “as jy so sê”. Die dialoog moet so geskryf word dat dit soos ‘n gesprek klink. Moet dus nie die spreekbeurte te lank maak nie. As ‘n pouse benodig word, sny eenvoudig die opname uit, loop spoel die toilet, gaan drink eers ‘n versterkende koppie tee, borsel jou tande, suig ‘n pepermentjie, en sit jou werk daarna voort. Maak dan weer die oproep. Las dan die twee gesprekke by mekaar sodat dit soos één aaneenlopende produksie lyk. Laai dan die gesprek op YouTube, plaas die video met transkripsie op PRAAG, en probeer die onderskrifte op YouTube inskryf, waar dit kan. Dit is immers reeds op skrif, jy het dit pas afgelees (of toneelgespeel).

Wat die dialoog betref dink ek aan iets soos:

Persoon 1: Toe kom ons by die robot en hier jaag ‘n BMW oor met ‘n woedende taxi agterna. Ek dag – wat besiel die vent? Toe herken ek die registrasienommer – en… my magtig dis mos Karin Hougaard!

Persoon 2: En julle sit haar toe agterna?

Persoon 1: Ja, ja natuurlik, man! (Persoon 2 lag)

Bovermelde dialoog is slegs ‘n denkbeeldige konstruk – niemand, veral nie die BMW, is in die voorval beseer nie.

As dit ‘n regstreekse opname is, soos tussen vier mense tydens ‘n Skype-konferensie, gaan dit miskien ‘n bietjie lol, of dalk nie – want dit sal gewoon lyk of jy na die “gesig-beeld” kyk op Skype, terwyl jy in die werklikheid die gesprekke voor jou het. Elkeen se gesprektyd is ewe lank. Gaste kan mekaar in die rede val (soos die rol vooraf ingeskryf is). Die gas kan ook alreeds “uh, ja, uh” sê om te wys hy stem saam en het ‘n antwoord gereed (dit kan reeds by die dialoog ingewerk word). ‘n Gas kan dan “onderbreek” en die aanbieder ‘n teenvraag stel, of “onkant betrap”, waarop laasgenoemde doodluiters antwoord. Die kuns is net om te leer om vir die kamera te kyk terwyl jou oë so nou en dan jou eie woorde beloer, amper soos ‘n teleprompter (haal dus jou bril af, mense gaan die teks sien weerkaats!). ‘n Teks verhoed ook dat mens begin “dwaal” in die gesprekke – dink: kernwoorde, kernantwoorde. As jy skielik jou woorde vergeet, kan jy net “uhhh” sê en so taks na die skerm kyk (‘n mens se oë rol mos afgetrokke as jy dink). Dan kan vrae van die publiek op YouTube vir laaste gehou word. Dit gaan net daaroor om die gesprekke vloeiend te hou. En dit klink net professioneel.

Probeer asseblief om nié 128 woorde per minuut te praat soos Winston Churchill nie. Onthou – hy het nog gepraat voor tannies en ooms wat snelskrif geskryf het. Twee woorde per sekonde klink uiters vertraag. Radio verkies 150 tot 160 gemoduleerde woorde per minuut, terwyl ek eerder ‘n vloeiender 200 woorde per minuut verkies. Hou die gesprek en debat lewendig en opgewek. Maar, ter wille van die Nederlandessprekendes sal ek 175 woorde voorstel (hier is ‘n voorbeeld tussen 201 woorde per minuut en 128 woorde per minuut). En tog: as ek Duitse radio sonder teks voor my moet oorleef, kan buitelanders Afrikaanse potgooie seker ook!

5) Tydens die regstreekse konferensies op Youtube is daar altyd vrae wat die kykers stel wat die onderhoudvoerder moet vra – daarvan hou ek besonder baie. Hoeveel keer sit mens nie voor die televisie en dink: “vra dit, onnosel!” Soos reeds hierbo genoem, hou hierdie vrae vir heel laaste.

6) Ek weet mens voel lus om elke week ‘n “goeie” video op te laai. Maar goeie produkte duur lank om te maak. Jy kan elke dag ‘n paar kolwyntjies bak, of jy kan een enorme, onverteerbare, geil swartwoudkoek per maand of tweeweekliks bak wat die kykers maande daarna nog sal laat les opsê van die sooibrand.

7) Toe ek in Januarie 2018 gesoek het na resensies oor The X-files se 11de reeks (onthou, Suid-Afrika is maande agter Amerika), kom ek af op ‘n aanvallige 26-jarige dametjie wat bo in haar woonstelletjie in New York sommer twee lampe gegryp het, haar gesig mooi grimeer het, haar lang blonde hare netjies geborsel het en haar resensie voor die kamera gelewer het. Nou hoewel sy gereeld die bottel versterking voor die kamera oopgeskroef en die een f-bom na die volgende laat ontplof het, was haar resensies tog besonder eerlik en ewe goed beredeneerd. Ek kon Donderdae om 15:00 nie wag wanneer haar weeklikse video sou opgelaai word nie. En daarin lê die antwoord: ek het geweet wat om volgende week te verwag. Dus, as mens ‘n onderhoud voer, stel duidelik wat jy volgende beplan om te doen.

8) Belangrik ook: maak seker daar is opvolgvideo’s oor vorige sake. Moenie ‘n saak onafgehandeld in die lug laat hang nie. Byvoorbeeld: oor die munisipaliteit wat nou onder administrasie is en die inwoners onafhanklik nou self hul eie vullisverwydering doen, probeer elke drie maande of ses maande ‘n opvolg daaroor doen. Al is dit ook telefonies. Miskien is daar nuwe projekte waarvan ons nie weet nie. Hou jou vinger op die pols.

9) Soos ook te siene sal wees in jou transkripsie, verkies ek dat mens volgens ‘n Vraag-en-Antwoord-stelsel werk. Dit lees ook makliker as jy die vrae soos opskrifte behandel. Dit hou ook die onderhoudvoerder ‘n bietjie in toom, en gee die gas vry ruimte om te praat. Ek weet nie, anders raak die dialoog te maklik soos ‘n rugby-post-mortem. Firefox se [a:web] gebruik ‘n verhalende manier om joernalistiek te lewer (“Storytelling”), maar dit voel vir my amper soos jou ma wat vir jou sprokies vertel, wat ‘n enorme Kaapse draai gaan maak net om by die één onderliggende moraliserende lessie uit te kom. ‘n Onderhoud is meer: “dis wat hy sê, ek hoef nie daarmee saam te stem nie”. Die joernalis en sy prooi speel bietjie brandbal. Of, skaak. Of tennis (ek vra jou ‘n vraag; jy vra my ‘n vraag).

10) Nou voordat jy sê “Ja, Suidpunt, maar ek kon netsowel hierdie onderhoud op PRAAG skriftelik loop publiseer het”… ek sou sê PRAAG werk wonderlik vir persoonlike monoloë, of vir my en mnr. Leon Lemmer wat resensies lewer. Maar by onderhoudvoering verkies mense om die antwoorde “uit die perd se bek” sélf te hoor. Ten tweede soek mense in die soekbalk van YouTube self rond, wat die geskrewe rommel op Google Soektogte natuurlik drasties uitskakel.

Waarop dit eintlik neerkom: as jy meer moeite doen met die voorbereiding en die versorging van die teks en video as die res, sal die resultate wys.

Dit is die tyd werd.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.