Karel Combrinck: Voete van klei

Deel op

Dit voel soos gister dat Colin Powell die buisie met ‘n monster van Irak se “wapen van massavernietiging ”  aan die wêreld vertoon het. Hierdie foefie was ‘n genoegsame voorwendsel vir ‘n Amerikaanse militêre inval in Irak. Soos ons almal nou weet, was daar toe nooit enige wapens van massavernietiging in Irak nie.

En hier kom mnr Trump jou gedoriewaar weer met ‘n slenter van dieselfde aard: Iran is verantwoordelik vir die hommeltuigaanslag teen die olievelde van Saoedi-Arabië. Amerikaanse troepe en militêre toerusting is reeds onderweg na Saoedi-Arabië om te gaan help. In ‘n gesamentlike verklaring ondersteun mnr Johnson, mnr Macron en mev Merkel die Amerikaanse standpunt weer klakkeloos, soos gewoonlik. As rede vir hulle bevinding voer hulle aan dat Iran skuldig moet wees, aangesien daar geen ander bevredigende verduideliking is nie. Dis die presidente van die Weste se voorste moondhede wat só redeneer! Die Midde-Ooste wemel tog van terroriste van alle kleure en geure wat so’n aanval sou kon uitvoer. Die enigste belang wa Engeland, Frankryk en Duitsland in die geskil het, is om die Amerikaners na die mond te praat.

Maar laat ons mekaar mooi verstaan. Dit gaan hier nie om ‘n pleidooi ten gunste van Iran in die algemeen nie. Die Iranese regime is sekerlik nie iets moois nie, om by vroueregte maar te begin. Dit gaan om beskuldigings van bombardemente van die Saoedi-Arabiese olievelde. Vir vroueregte in Iran voel die Amerikaners in elk geval vere, net soos hulle vere voel vir vroueregte in Saoedi-Arabië of vir die verpletterde bevolking van Jemen.

Iran is dus “skuldig” aan die aanval in Saoedi-Arabië. Die vraag wat ontstaan is waarom die Saoedi’s dan nie self hulle verdediging kan waarneem nie. Amerika, Engeland en Frankryk lewer jare lank reeds die modernste wapentuig ten bedrae van miljarde dollars aan Saoedi-Arabië. Die Saoedis gebruik hierdie wapentuig wel om ‘n vernietigende oorlog te voer teen die bykans hulpelose staatjie van Jemen, sonder dat dit skynbaar die Amerikaners, Franse of Engelse enige slapelose nagte besorg. Maar om hulleself  teen ‘n hommeltuigaanval te verdedig, moet die Amerikaners kom help.

Dis duidelik dat  Amerika oorlog soek in die Midde-Ooste. Hulle het nog steeds nie die situasie in Irak bevredigend bygelê nie en het nog altyd troepe daar. So ook in Sirië,  Libië en  Afghanistan waar hulle die afgelope 20 jaar reeds vasgeval sit en waar dit al hoe duideliker begin word dat hulle die stryd aan die verloor is. En dan praat ons nie eers van hulle jammerlike mislukkings in Viëtnam, Somalië en elders nie, maar dit is vir die Amerikaners natuurlik antieke geskiedenis.

Vraag is ook waarom Saoedi-Arabië ‘n bondgenoot van Amerika is en Iran ‘n vyand. Hulle is mos maar soos vinkel en koljander. In Saoedi-Arabië, Amerika se groot bondgenoot, is dit moontlik dat selfs minderjariges tot die dood deur kruisiging veroordeel kan word vir ‘n oortreding so gering as om aan ‘n betoging deel te neem.

Wat kan die beweegrede dan wees vir die Amerikaanse bemoeienis met die Midde-Ooste? ‘n Vanselfsprekende rede is natuurlik olie. Die Midde-Ooste beskik oor die wêreld se grootste oliebronne. Maar daar is ook die belange van Amerika se ” bondgenote” in die Midde-Ooste wat gedien moet word. Die Amerikaners probeer voorts om deur militêre optredes hulle ekonomie te stimuleer en terselfdertyd die aandag af te lei van die dreigende ekonomiese ramp wat hulle in die gesig staar. Maar die belangrikste rede is waarskynlik is dat die Amerikaners probeer om ‘n kordon te span rondom Rusland, wat in die pad staan van hulle strewe na wêreldoorheersing.

Al waarop die res van die mensdom kan hoop, is dat die Amerikaners ons nie almal saam met hulle oor die afgrond sleep nie.

As dít alles ‘n bietjie deumekaar en teenstrydig voorkom, is dit geen wonder nie. Die dae van pres De Gaulle, mnr Adenauer, mev Thatcher en dr Verwoerd is verby. Die Weste is in die hande van afkophoenders.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.