Leon Lemmer: Klaus Vaqué waarsku betyds teen die 1990/94-verraad

Deel op

Klaus Dieter Vaqué (gebore in 1940) is van Hugenote-oorsprong, maar is in Duitsland gebore. Hy het suksesvolle ondernemings in Denemarke en ander Skandinawiese lande opgebou. In 1977 het hy hom en sy gesin in Suid-Afrika gevestig. Hy was veral in die konserwatiewe politiek en die Lutherse Kerk bedrywig. Vaqué het die volgende boek gepubliseer: Verraad teen Suid-Afrika (Pretoria: Varama Uitgewers, 1989, 270p). Dit is ‘n vertaling van die oorspronklike Duitse teks, wat in 1988 verskyn het. ‘n Engelse weergawe (1989) is gratis op die internet beskikbaar. Die teks is die resultaat van navorsing wat oor ‘n tydperk van 15 jaar gedoen is (p 243). Let daarop dat ek nie deurgaans duidelik onderskei tussen die opvattings van Vaqué enersyds en sy geesgenote andersyds nie.

Dit lyk asof hierdie boek in groot mate in die hoofstroom-inligtingsmedia doodgeswyg is en dit op ‘n stadium toe die plaaslike politici en kiesers hierdie inligting broodnodig gehad het. Dit is ook onverskoonbaar dat geeneen van die gevestigde uitgewerye die boek in enigeen van die drie tale wou publiseer nie. Die outeur het dit self op eie koste gedoen. Sedertdien het ons die oorgang (eintlik ondergang) van die land weens sogenaamde meerderheidsregering beleef, wat die politieke mag aan ‘n klein groepie ANC-kornuite en kommuniste toevertrou het. Suidpunt het op Praag (“Skryf vandag nog jou lewensverhaal!” 11.10.2017) interessant oor Vaqué se boek geskryf, bv hoe hoog PW Botha dit aangeslaan het en hoe merkwaardig goed die afset van hierdie selfgepubliseerde boek was. Die vraag is of FW de Klerk en sy mede-onbekwame grondwetlike onderhandelaars ooit die moeite gedoen het om die boek te lees en of hulle enigsins die implikasies van hulle mandaatlose politieke magsoorgawe begryp het.

Die aanslag teen blank Suid-Afrika, insluitende apartheid, was volgens Vaqué deel van die pogings om ‘n sosialistiese wêrelddiktatuur te vestig (50); dus om bv blanke nasionalisme te ondermyn en globalisme te bevorder. Afrikanisering en in breë verband globalisme word sedert 1994 deur diegene bevorder wat van die nuwe Suid-Afrika ‘n sukses wil maak, bv AfriForum wat openlik teen blanke nasionalisme gekant is. Die Eerste Wêreld (dus ontwikkelde Westerse lande) word op hierdie manier ondermyn ten gunste van die Tweede (dus kommunistiese), Derde (dus ontwikkelende) en Vierde (dus agterlike) Wêreld. Dit is teen sodanige strategie wat Vaqué waarsku. Hou asseblief deurgaans in gedagte dat Vaqué sy teks in April 1987 voltooi het; dus jare voordat die verraderlike magsoorgawe in 1994 plaasgevind het. Hy het tydens die skryfproses veral oningeligte buitelandse lesers in gedagte gehad, gevolglik is ingeligte plaaslike lesers goed bekend met baie van die inligting wat verstrek word en dit word nie hier herhaal nie.

“Wanneer ons die konflikte en rewolusies van hierdie [20ste] eeu in baie lande … bestudeer … val die volgende ons op: … Elke nuwe regime was sosialisties-marxisties of op sy minste sentralisties (diktatoriaal) georiënteerd en in elke geval meer brutaal, meer korrup en meer onderdrukkend as sy voorganger … Die omvergewerpte regimes was sterk nasionalisties, anti-kommunisties en besonder selfstandig of onafhanklik” (8). Die outeur verwys hierna as “die wêreldeenheidsameswering”, wat tot by die Illuminate-Vrymesselaars (9) en Sionistiese bankiers (10) teruggevoer kan word. Illiminate beteken letterlik “verligtes”, wat Lucifer (Satan) as die ligdraer vereer (73). Leonid Bresjnev, die sekretaris-generaal van die Sowjetunie, het in 1971 gesê: “Dit is ons mikpunt om die heerskappy oor die twee groot skatkamers te verkry: waarvan die Weste afhanklik is: die energiebronne van die Persiese Golf en die mineraalskatte van Sentraal- en Suidelike Afrika” (45).

“Daar bestaan geen moontlikheid dat die ou Vrymesselaarsdroom van ‘n demokratiese wêreldrepubliek volgens die patroon van die Verenigde State ooit werklikheid sal word nie. Daarteenoor lyk dit of die totstandkoming van ‘n totalitêre, sosialistiese wêreldrepubliek nog net ‘n kwessie van tyd is” (79). ‘n Bankier, James Paul Warburg, het in 1950 gesê: “Ons gaan ‘n wêreldregering kry, of u dit nou ook al wil hê of nie – met geweld of met instemming” (79). Die Verenigde Nasies (VN) is die prominente voorloper van wêreldregering (80). Sedert 1994 pas die plaaslike politieke bedeling hierby in. Pous Paulus VI (1963-1978) het beweer dat die VN “die aardse weerkaatsing van God se ryk op aarde is” (85). In wese is dit ‘n kommunistiese “klasselose internasionale broederskap” van alle mense (107). Vaderlandsliefde en nasionalisme word as verwerplik voorgestel. Mense word saamgesnoer in onderdanigheid aan bo-nasionale groeperings (122), soos die Afrika-Unie, Europese Unie en VN, met as ideaal wat almal wêreldburgers word. Dit is die ideologie van “die ontkenning van die saamhorigheid van stamme en volkere, die ontkenning van die andersoortigheid van die veelvoud van menslike rasse” (122). Rasvermenging en rasse-integrasie word deur diesulkes voorgestaan (123).

“Alles wat die swartman vandag in Suid-Afrika besit, het hy te danke aan die tegniese kennis [kundigheid] en die skeppingsvermoë van die blanke” (18). “Sekerlik het daar nog nooit so weiniges vir so baie so veel gedoen nie” (19). “Dit met die blankes van Suid-Afrika ongetwyfeld beter sou gaan indien hulle nie nodig gehad het om die astronomiese bedrae met belasting in te bring wat benodig word vir die ondersteuning van die vinnig aangroeiende swart massas nie” (22-23) – deesdae afkomstig uit die plaaslike bevolking en as inkommers uit die res van Afrika. Tans is ons by die stadium waarin die ANC-regime in sy gelykmakings- (dus verarmings-) proses die blankes van hulle oorblywende besittings wil beroof.

Sedert 1994 het Suid-Afrika se status van ‘n Eerste na ‘n Derde Wêreldland verander en is hy op koers om tot in die Vierde Wêreld af te gly. Daar is drastiese diskontinuïteit tussen vóór en ná 1994. Omtrent net rassediskriminasie het deurlopend behoue gebly. “Die nakomelinge van die Boerepioniere – die blanke Afrikaners, soos hulle hulle self noem – het saam met geslagte van latere emigrante uit Europa in 300 jaar aan die suidpunt van Afrika ‘n modelstaat opgebou met ‘n byna Europese karakter, ‘n staat wat ontwikkel het tot die grootste ekonomiese en militêre mag in Afrika” (23). “Dat die meeste Afrika-staatshoofde ‘die wit reus van Afrika’ met afguns aanskou, kan ‘n mens hulle dit kwalik neem, waar Suid-Afrika teenoor hulle heeltemal onopsetlik ‘n superioriteit aan die dag lê, waaroor hulle slegs maar kan droom?” (28). Deesdae word ons deur die ANC-regime wysgemaak dat almal gelyk en selfs eenders is, terwyl die enigste opsig waarin dit waar is, is die onregverdigbare gelyke stemreg wat aan alle volwassenes toegeken is. Die volgende absurde situasie het ontstaan: Die stem van die ongeletterde, werklose plakker dra dieselfde gewig as dié van die suksesvolle nyweraar of sakeman.

“Die strategiese lyn vir die verowering van Suid-Afrika word al vir baie jare sistematies gevolg: para-militêre operasies, terrorisme, guerrilla-oorlog, disinformasie, gebruikmaking van satelliettroepe (Kubane ea), inskakeling van Westerse ‘nuttige idiote’ volgens Lenin se ideologie (bv kerkmanne), propaganda en sielkundige oorlogvoering” (57). “Is dit nie ‘n feit dat een vrye land na die ander in die laaste jare met die hulp van die Weste in die kommunistiese laer ingedwing is nie? Dink maar net aan Viëtnam, Nicaragua, Kuba, Rhodesië, Angola, Mosambiek en baie ander. Iran, die Filippyne, Taiwan, Chili, Suidwes-Afrika en Suid-Afrika staan nou op die lys om vir die sosialistiese wêreldstaat ‘gereed gemaak’ te word” (58). “Hierdie [wêreld]regering sal dan daarvoor sorg dat daar geen onafhanklike nasiestate meer bestaan nie” (59). Suidwes-Afrika het in 1990 as Namibië ‘n polities onafhanklike sosialisties-kommunistiese staat geword, gevolg deur ‘n soortgelyke Suid-Afrika in 1994.

Die buitelandse proteste en optogte teen die plaaslike blanke politieke bewind word soos volg beskryf: “Onbevredigde huisvroue, beroepstudente en liberale droomdansers van alle soorte doen met neurotiese ywer moeite om ontslae te raak van hulle frustrasies en tekortkominge deur in skynheilige verontwaardiging teen ‘n land te demonstreer wat hulle maar net hoor-sê ken” (128). Hierin het koerante, soos die New York Times en die Washington Post, ‘n leidende rol gespeel. Plaaslike inligtingsmedia het lustig hieraan meegedoen. Joaquim Chissano, die president van Mosambiek (1986-2005), het gesê: “Ons weet reeds dat die blankes van Suidelike Afrika deur hulle eie media so beïnvloed word, dat hulle hul magsposisie op die kontinent sal prysgee” (134). “Een van die mees onaangename aspekte van die Suid-Afrikaanse joernalistiek is die wyse waarop dit toegelaat het dat dit gebruik word in die wêreldwye kampanje teen hierdie land” (142). Dit herinner aan wat die Chinees, San Tsu, in 450 vC geleer het: “Ondermyn alles wat in die lewe van julle teëstanders goed is” (136). ‘n Nasionale skuldkompleks moet by die blankes opgebou word (139).

Ons hoor of lees feitlik nooit in ons inligtingsmedia dat Suid-Afrika sedert 1994 met ‘n kommunistiese regering sit nie. Die volgende aanhaling van Nelson Mandela kom ‘n mens selde teë: “Ons, lede van die Kommunistiese Party, is die mees ontwikkelde rewolusionêres van die moderne geskiedenis. … Die vyand [blankes] moet eers volkome verpletter en uitgeroei [!] word van die aardbodem, voordat die Kommunistiese Wêreld verwerklik kan word” (167). “Die uitrusting van die ANC bestaan oa uit landmyne, kleefmyne, springstofbomme, handgranate en AK-47-gewere” (179). Een van die nuwe Suid-Afrika se heiliges, Beyers Naudé, het gesê: “Klippe gooi, motors en huise aan die brand steek en soms kollaborateurs doodmaak,” mag nie met absolute sekerheid “geweld” genoem word nie (211). Nog ‘n predikant en nuwe heilige, Desmond Tutu, het gesê “dat die swartes van Suid-Afrika ‘n Sowjetbeheerde magsverandering sou verwelkom” (265).

“‘n Ideologie het seker nog selde ‘n noodlottiger uitwerking op die mensdom gehad as die marxistiese dwaalleer van die gelykheid van alle mense. Hiervolgens bestaan daar slegs uiterlike verskille tussen mense afhangende van die sosiale klas, godsdiens of rykdomsgraad waartoe hulle behoort. Origens, ongeag die ras of nasie waaraan hulle behoort, is hulle volgens hulle natuur almal gelyk en besit dieselfde bekwaamhede, talente en potensialiteite. Indien almal dieselfde opleidingsgeleenthede en dieselfde opvoeding sou hê en onder dieselfde omstandighede sou opgroei, sou almal tot dieselfde groot geestesontplooiing in staat wees … hulle weier om toe te gee dat daar orals waar gelyke geleenthede bestaan, tog ongelyke bekwaamhede na vore tree” (147). “Al wat gelyk is, is die onwegneembare lewensregte van die mense, nie die mense self nie. Niks aan hulle is gelyk nie behalwe hulle ongelykheid” (151). “Ontevredenheid en haat teen die meer bekwames ontlaai dan in altyd-weer-herhaalde geweldsontploffings teen ‘die maatskappy’ [of ‘stelsel’] en dié se polisie en veiligheidsorgane” (148). “Wetlik voorgeskrewe gelykheid tussen ongelykes veroorsaak spanning en disharmonie omdat dit godgegewe werklikhede wil uitskakel” (149).

“Die swart man het sekerlik bekwaamhede van sy eie op die gebiede wat met sy kultuur in verband staan. Om egter ‘n moderne industie-staat soos Suid-Afrika te lei of selfs die hele regeringsmag oor te neem kragtens sy stemmemeerderheid, daarvoor is hy totaal onbekwaam in vergelyking met die blanke Europeaan, wie se millenniumoue kultuur en beskawing ‘n veel beter waarborg is vir vooruitgang en instandhouding van ‘n geordende staatsbestel” (150). “Apartheid is ‘n sielkundige noodwendigheid en daarom ‘n sosiale noodwendigheid en dus ook ‘n morele noodwendigheid … Verskille bring skeiding mee” (163). “Apartheid verskaf eenvoudig die beste waarborg vir menseregte … die reg op ‘n selfstandige eiesoortige lewe” (165). “Dit is volkome in orde en normaal om trots op jou ras en nasie te wees” (164).

Vaqué het voorspel: “‘Hervorming’ sal tot die ondergang van die Suid-Afrikaanse [blanke] nasie lei” (164). Soos Michael Arnheim ‘n dekade voor hom (Praag 17.04.2019) het Vaqué voorsien dat onderhandelinge vir politieke magsdeling tot magsoorgawe aan die swartes sou lei: “Om mag te deel sou absurd wees, ‘n onhoudbare toestand wat na ‘n kort tyd weer sou lei tot ‘n nuwe magstryd en tot alleenmag van die sterkste groep” (255). Sedert 1994 is daar geen teken van FW de Klerk se beloofde wigte en teenwigte nie. Wat ons het, is enersyds liggewigte (De Klerk en sy onderhandelaars) en andersyds booswigte (ANC/SAKP-kamerade). As Suid-Afrika se volkere in die smeltkroes van ‘n demokratiese eenheidstaat ingedwing sou word – wat in 1994 gebeur het – “sal die land wegsink in Afrika se chaos omdat dit sy toekoms verspeel het” (256).

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.