Brief: Hoera, ek is wit en werkloos

Deel op

Hoera, ma, ek is onindiensneembaar. Die woord, sê my geleerde taaltjomme, is Afrikaans vir unemployable.

Nie ek of jy het geweet dat die gebrek aan ‘n driejaargraad my in die tou by die Werkloodheidsversekeringsfonds sal sien sit nie. Wie sou kon dink?

My gedagtes gaan na die nagte wat ek op die vloer gesit het by die koerant, my eerste werk. Die ure se werk toe ek funksies gereël het om produkte bekend te stel. Die sorgvuldige beplanning, die soomlose werkslading. Die “werk-kom-eerste”-fout wat ek begaan het toe ek my persoonlike verhoudings tweede gestel het. Die opofferings omdat ek van werk hou.

Dan dink ek aan die ANC-man met wie ek in 2006 ‘n onderhoud gevoer het toe ek vir Mail & Guardian gewerk het. Na ‘n halfuur van sy retoriek kon ek myself nie keer nie en het hom gevra wat hy dink van my kind gaan word in hierdie land, of nee, ek het vir hom gesê dat die vraag onwillekeurig by my opkom terwyl hy praat. (Die gesprek het oor transformasie gegaan.) Sy antwoord aan my was : “Maak vrede daarmee dat jou kind sal betaal vir wat jou ouers gedoen het”.

Wel, ek kan sy naam nie onthou nie, al onthou ek waar ons was toe hy dit gesê het. (In sy duur Sandton-kantoor). Nou wil ek hom graag in die hande kry en vir hom sê hoe verkeerd hy was. Nie my kind nie, maar ek, betaal alreeds die prys. My 36 jaar se ervaring is soos droë blare wat deur die wind weggewaai word.

My ervaring word afgemaak. My vaardighede kom nie in aanmerking teen ‘n stuk papier nie. My “voorheen bevoordeelde” status is ‘n mite. Toe ek in my tweede jaar op universiteit was, is my pa oorlede en ek kon nie voortgaan nie. Ek het nie gratis gestudeer nie!

‘n Jaar van aansoeke indien, en ‘n handjie vol onderhoude later. Meer as 150 aansoeke, kan ek byvoeg. Dít wat jy weet, het die gewig van ‘n handjie vol blare. Jou intellek, jou ervaring, jou kennis, jou vaardighede – “keep quiet and wait your turn”. Maar werkloosheidsversekering eindig ook.

My arme ouers. Hul belastinggeld het ‘n sterk ekonomie tot stand gebring. ‘n Land se infrastruktuur gebou. Paaie, hospitale, besighede. En nou betaal ons die prys vir hul opoffering, en gee ons eie opoffering. Ons vir jou, Suid-Afrika?

—Ilse

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.