Brief: Boere is Bittereinders

Deel op

In reaksie op Sydney Gregan se brief: Die Afrikanervolk aan die einde van die pad? van 1 September 2019, wil ek vra: Is dit neusie verby vir die Europese afstammelinge aan die suidpunt van die “Donker kontinent”? Afstammelinge van Nederland, Frankryk, Duitsland en ander Europese lande, wat ‘n volk gevorm het hier in Afrika, suid van die Limpopo. ‘n Volk met ‘n eie taal, kultuur en identiteit. ‘n Volk wat al soveel struikelblokke oorkom het. ‘n Volk wat ten spyte van oorheersing en verdrukking deur die grootste moontheid van die 19de eeu , Brittanje, vandag nog bestaan. ‘n Volk gevorm deur sy vrees vir God, Europese waardestelsel en bloedsweet onder die ongenaakbare Afrika son op ‘n droë, maar dankbare, aardbodem.

Hierdie volk is die Afrikaners en ek glo nie hulle is aan die einde van die pad, soos mnr. Gregan homself afvra nie, maar eerder vind die Afrikaner homself voor ‘n kruispad. Hy staan al sedert 1994 voor hierdie kruispad en daar gee ek mnr. Gregan gelyk. Tot dus ver het ons volkie maar net gestaan en kyk… Hy het nie daadwerklik ‘n spesifieke rigting ingeslaan nie, maar net effens verward rondgetrippel.

Tot onlangs kon die Afrikaner soos al die ander Westerse volke tot ‘n groot mate sy gemaksug en plesiertjies handhaaf. Moenie ‘n fout maak nie, die hele Westerse beskawing het sy fut verloor. Dit is nie net die Afrikaner nie. Die Westeling het homself dik gevreet aan gemak en luuksheid. En ons weet dat vraatsug en ledigheid lei tot selfveragting. Selfveragting lei weer op sy beurt tot verlies aan die wil om te oorleef.

Hierdie “luukshede” wat die Afrikaner tot dusver mak gehou het is vinning besig om te verdwyn. Hy is besig om die vet om sy siel te verbrand (ek leen die term by Ernest Hemingway). Ons word lean-and-mean.

Ek sien dit by Boereverenigingsvergaderings. Ek sien dit by die kommentaarafdelings onderaan artikels van die media op die internet. En ek hoor dit om braaivleis vure en op sosiale media. Die Boere het genoeg gehad. Ja, hulle aarsel nog oor watter rigting om in te slaan, maar meer as ooit te vore besef hulle die huidige trajek stuur ons oor die afgrond.

Die wil om te oorleef is baie sterk. Baie sterker as wat mens besef. Vra maar net vir die drenkeling of die man wat op ‘n eiland gestrand is. Die wil om te oorleef kom eers regtig na vore wanneer daardie lewe die koue koelte van die doodskadu begin voel.

Dit is waar dat daar tans nog net ‘n minderheid van Afrikaners daad by die woord voeg en “veg” vir hulle voortbestaan. Maar soos die geskiedenisontleder Arnold J. Toynbee (1889 – 1975) uitgewys het, word die geskiedenis altyd verander deur die kreatiewe minderheid. Die kreatiewe minderheid baan die weg en die res volg.

Tans gaan dit nog net nie sleg genoeg met die meerderheid van Afrikaners sodat hulle hul gemaksone vaarwel roep en die rigting van Vryheid inslaan nie. Die Afrikaner ontwaak, maar hy is nog nie wakker nie. Hy hoop nog vir ‘n ander, makliker uitweg. Hy hoop nog dat iets voor die handliggend gebeur en hy kan maar aangaan soos tien jaar terug. Dit is nou maar eenmaal hoe die mens is. Bang vir verandering. Tog voel hy ‘n verandering kom soos ‘n koue wind vanuit die see en besef hy dat die onvermydelike oppad is.

Intussen het die kreatiewe minderheid al begin met oplossings. Soos Hein Marx van die “Verenigde Vryheidsalliansie” (VVA) wat reeds Artikel 235 (Die reg op selfbeskikking) van die grondwet en die internasionale reg ingespan het sodat ons kan sesseer. Of Dan Roodt wat die internasionale gemeenskap bewus maak van ons situasie en al baie simpatie en ondersteuning in die buiteland vir ons saak verkry het.

Suidlanders en Afriforum het ook al baie ondersteuning vir die blankes in Suid-Afrika gekry alhoewel ek besef dat baie konserwatiewe Afrikaners agterdogtig is oor hulle motiewe.

Dat die “regses” dan ook so onder mekaar baklei soos mnr. Gregan beweer, is waar. Maar soos iemand eenkeer vir my gesê het, daar moes een Groot Trek gewees het. Op die ou einde was daar vyf trekke, want die Afrikaners kon nie ooreenkom waarna toe nou eintlik nie. Maar toe die nood druk, toe staan ons saam. Bloedrivier. Die res is geskiedenis. So ook met die eerste Britse besetting van die Transvaal het die Boere eers niks gedoen nie. Te onafhanklik en indiwidualisties. Maar ou wee… toe hulle saamstaan!

Dan is dit juis ons selfstandigheid en indiwidualiteit wat ons so gevaarlik maak! Ons wil sekerlik nie saamwerk en saamstaan soos ‘n trop skape nie.

Dit vat ‘n ruk vir die Afrikaner om eers te begin, maar wanneer hy begin, maak hy klaar. Tot die einde toe. Tot die laaste. Ons het Bittereinderbloed in ons are. Die dag wanneer ons regtig nie meer kan nie, is die dag wanneer ons vryheid begin. Iets kry eers waarde wanneer jy dit verloor.

Mnr. Gregan meen ons moet trek. ‘n Nuwe stuk aarde waar ons nie verswelg sal word deur Afrika nie. Die Blankedom voel egter die demografiese knyptang orals. Lae geboortesyfers en derdewêreldse immigrasie bedreig blou oë op elke kontinent. Daar is ‘n eksodus van Jode uit Europa na Isreal omdat hulle glo daar is nie meer ‘n toekoms vir hulle in Europa nie. Dit agv die Islamisering van Europese nasiestate. Die inheemse Europeërs het egter geen tuisland om na toe te trek nie. Sal ons onsself by ander blankes voeg en ons Afrikanerkultuur prysgee om maar net daar ook weer in die minderheid te beland?

Darem weet ons hoe die vyand lyk. Ons het nie ons wapentuig neergelê en die vyand ingenooi nie. Meeste Afrikaners weet waar Dawid die beskawingswortels begrawe het. Hulle besef verskillende kulture kom slegs tot volwaardigheid buite die smeltkroes. Dat ons almal nie maar dieselfde is nie.

Buitendien gee die staat vorm aan gemeenskappe of word gemeenskappe gevorm van die grond af op? Hoe het die Hongare oorleef onder Oostenryk en toe later die Sowejetunie? Die Pole onder Rusland, Duitsland en die Sowejetunie? Of die Armeniërs onder die Turke?

Kan die Afrikaner dan nie ook oorleef alhoewel hy nie sy eie soewereine gebied het nie? Ek dink hy kan en hy maak só. Ten minste totdat die gety draai. En die gety gaan draai, dít kan ek u verseker.

Mnr. Gregan, dankie dat u besorg is oor ons mense. Dankie dat u alreeds protesteer en veg vir ons vryheid. Ons het u nodig, nou meer as ooit tevore. Ons tel die wapentuig op. Volg ons. Ek sal van u nie iets vra wat ek self nie bereid is om te doen nie. Stap saam met my.

Die pad is lank en moeilik, maar lei na die Lig. Ons uiteindelike Bestemming is reeds gekoop. Ons kan dus reeds in hierdie wêreld die fakkel optel met die wete dat die duisternis oorwin is.

Boeregroete,

—Albert de Villiers

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.