Dan Roodt: Tyd vir ‘n oranje-blanje-blou lente

Deel op

Ná 25 jaar van Azaniese verdrukking deur die zombie-kommuniste van die ANC/SAKP, is Afrikaners besig om openlik in opstand te kom teen die korrupte regiem. Al is dit bloot op sosiale media en al is dit maar effentjies, is dit onmiskenbaar dáár. Ons mense is kwáád, onvergenoeg, gekrenk, en nie langer bereid om monddood gemaak te word deur die horde meelopers en betaalde agente nie. Die “Praagse Lente” waarvoor ek my al 20 jaar lank beywer, is in die lug, hier op 1 September 2019.

Gepraat van 1 September, ek herinner my toe ek op laerskool was — die Laerskool Christiaan Beyers op Springs — het ons op Lentedag almal wit klere gedra en in die skoolsaal bymekaar gekom waar ons volksliedjies gesing het. Ons het elkeen so ‘n klein FAK-boekie gehad wat ek dink destyds vyf sent gekos het (want toe was ‘n rand mos meer as ‘n VS-dollar werd en sommer baie meer as ‘n Duitse mark of Nederlandse gulde). Maar die belangrikste liedjies het ons almal uit die hoof geken en dan het die skoolsaal gedreun van die kinderstemme wat sing:

Al die veld is vrolik; al die voëltjies sing;
al die kriekies kriek daarbuit’; elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier;
hier galop ‘n goggatjie, daarso dans ‘n mier.

[KOOR]
Nou gaan die kinders draai, nou gaan hul speel!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!
Kom Sus, gee handjie! Almal moet draai!
Boet gee ook handjie! Nou gaan ons swaai–
dis tog so prettig! Wie dans met my?
Al in die rondte, vrolik en bly!

Selfs die vissies spartel teen die kafferskuil;
in die groot ou eikeboom droom ‘n oupa-uil.
Oral in Karooland is ‘n ruik versprei:
boegoeblom en appelkoos–kan jy beter kry?

Die woorde is deur C. Louis Leipoldt en die musiek deur J. Weber, verwerk deur Pieter de Villiers.

Toe ek onlangs aan die buitewyke van Stockholm die Midsommar-fees meemaak, waar Swede insgelyks in volksdrag hul volksliedere sing en volkspele hou terwyl hul blou vlag met die wit kruis oral wapper, het ek sommer tuis gevoel.

Afrikaner, Eurokaner. Maar geen Azaniër! Op universiteit (Wits) het ek my eerste voorsmakie van ANC-verdrukking gehad, want ons is in die staatsleerklas en elders met marxisme gebreinspoel. Wat destyds ‘n minderheidskultuur was, dié van linkse Engelssprekendes wat met Boerehaat en anti-Suid-Afrikaanse ressentiment vervul was, het nou die hoofstroom, die hegemonie, geword.

Ons herbeleef die ou Sowjetunie, dié keer met selfone en Twitter. As jy dus, soos Ernst Roets, die Suid-Afrikaanse vlag van 1928 “vir akademiese doeleindes” twiet, dan word jy strafregtelik aangekla. Dis te absurd vir woorde.

Ongelukkig het dit al voorheen plaasgevind.

Die hele Oos-Europa, China en groot dele van Asië, asook Latyns-Amerika, het in die twintigste eeu onder kommunisme deurgeloop. Vandaar dan die vele opstande teen die ou Sowjetunie en hul streng politieke korrektheid.

Waaronder die wonderlike Praagse Lente in die teenswoordige Tsjeggië! Nadat die Tsjegge onder Alexander Dubček groter meningsvryheid en ‘n toeskietliker ekonomiese stelsel gesmaak het, anders as onder die rigiede kommunistiese regering sedert die tweede wêreldoorlog, het die Sowjetunie tydens die nag van 20 Augustus 1968 sy tenks na Praag gestuur om die vryheidstrewe van die Tsjegge militêr te onderdruk. Maar die destydse Sowjet-leier, Bresjnef, het eers vooraf seker gemaak dat hy geen militêre reaksie van die Westerse lande hoef te vrees as hy die toentertydse Tsjeggo-Slowakye binneval nie.

Die rede waarom ek in 2000 die naam PRAAG (Pro-Afrikaanse Aksiegroep) gekies het, was omdat die ANC en SAKP juis in 1968 sy volle steun aan die Sowjetunie uitgespreek het om die “teenrevolusionêre en reaksionêre neigings” in Praag met geweld te onderdruk. Vandag word die geskiedenis herhaal, want ‘n jakkals verander van haar, maar nie van kleur nie. Die ANC-SAKP is vandag nog net so vasbeslote om volslae kommunisme, ‘n eenpartystaat en veral eenpartydenke af te dwing, dat hy toenemend Afrikaanse onderwys, Afrikaanse name, asook die oranje-blanje-blou verbied.

Op 1 Maart 2006 het president Wladimir Poetin van Rusland tydens ‘n besoek aan Praag sy verskoning aan die Tsjeggiese volk vir die inval tydens Augustus 1968 aangebied. Hy het gesê dat hy “morele verantwoordelikheid” daarvoor aanvaar en dit “veroordeel”.

Natuurlik het die kommuniste van die ANC en SA Kommunisteparty nog nooit vir die Tsjegge verskoning aangebied vir hul steun aan die inval destyds nie. Nóg minder het hulle al verskoning aangebied vir hul gruwelike terreurdade teen Suid-Afrika en die Afrikaner!

Dat die ANC-SAKP Suid-Afrika vanuit die Noorde moes inval onder die dekmantel van “onderhandelings”, sonder dat die De Klerk-bewind van destyds enige weerstand gebied het, is ‘n sonderlinge frats van die geskiedenis.

In 1989, met die ineenstorting van die Berlynse muur, het die Tsjegge daarin geslaag om die kommunistiese juk van hul af te werp. Belangriker egter vir ons situasie, is die voorbeeld van die Oosseestate, Letland, Litaue en Estland wat ná 1989 steeds onder Russiese oorheersing verkeer het.

Net soos in Suid-Afrika tans, het die kommunistiese regerings in daardie lande die nasionale simbole, vlae en liedere van dié drie klein volkere verbied. Soos wat verset teen die verdrukking toegeneem het, het mense al hoe meer openlik sulke liedere begin sing en vlae begin swaai.

Hierdie vreedsame “simboliese opstand” het tydens die “Sangrevolusie” sy hoogtepunt bereik. Dié term is deur die Estiese skrywer, Heinz Valk, gemunt in ‘n artikel wat ‘n week ná die massasangbetogings van 10-11 Junie 1988 by die Tallinn-sangfeesterrein gepubliseer is.

Die hele Sangrevolusie het ongeveer vier jaar geduur, van 1987 tot 1991. Op sy hoogtepunt het ongeveer 2 miljoen mense deelgeneem aan ‘n menseketting wat van die Estiese hoofstad, Tallin, in die Noorde tot by die Litause hoofstad, Vilnius, in die Suide gestrek het. Dit is die “Baltiese weg” genoem en het op 23 Augustus 1989, die vyfitigste verjaardag van die Molotow-Von-Ribbentrop-ooreenkoms plaasgevind. Mense het mekaar se hande vasgehou en verbode volksliedere gesing…

By tye het die ou Sowjetunie gepoog om deur geweld, asook tenks, die Sangrevolusie te stuit, maar dit was tevergeefs. Uiteindelik het al drie die Oosseestate rondom 22 Augustus 1991 onafhanklikheid verkry en was hulle voortaan vry om hul eie vlae te hys, hul eie liedere te sing en eie tale te praat.

Die eerste land wat die onafhanklikheid van Estland op 22 Augustus 1991 erken het, was die Republiek van Ysland wat maar oor ‘n bevolking van 300 000 mense beskik.

Die les van die Oosseestate vir Afrikaners is: vlae en sang kan staatsmag troef, solank mense verenig en patrioties genoeg is.

Sangrevolusie in Estland, 1988. As mense verenig en patrioties is, kan selfs klein volkere vryheid verwerf.

Soos ek al vele kere geargumenteer het, ook in my Engelstalige boek van 2005, The Scourge of the ANC, verteenwoordig die ANC-SAKP ‘n zombie-kommunistiese bewind wat bloot deur die toedoen van FW de Klerk aan bewind gekom het. Die gang van die geskiedenis, veral in die vroeë negentigerjare, was geheel en al téén kommunistiese partye en bewegings wat byna universeel verwerp is. Die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika” (of “ruwe Suid-Afrika” soos dit ook soms in Afrikaans bekendstaan) verteenwoordig dus ‘n anomalie, ‘n frats van die geskiedenis.

Die ANC-terroristebewind word egter in ‘n mate deur die oeroue Britse kolonialisme gesteun, wat insgelyks ‘n volksmoord teen Afrikaners en die uitwissing van hul taal, kultuur en tradisies as ‘n vanselfsprekende onderdeel van die “hereniging van ‘n (Engelstalige) Suid-Afrika” sien.

Die soort leedvermaak wat daar in Engelse geledere, veral onder linkse hoernaliste in Johannesburg losgebars het met die hofuitspraak teen die oranje-blanje-blou, was ongekend in haat en intensiteit. Daaroor het ek ‘n video-opname gemaak.

Blykbaar werk die tenks van die ou Weermag wat deur FW de Klerk aan die kommunistiese terroristeleiers oorhandig is nie meer so goed nie. Anders sou hulle nou al rondom Afrikaanse skole en kerke geparkeer gewees het en sou kommunisme en Boerehaat met geweld afgedwing gewees het, met ‘n volslae verbod op Afrikaans.

Weens sy stukkende tenks en wydverspreide korrupsie, is die ANC-bewind slegs in staat tot dekrete of Afrikaansvyandige uitsprake deur sy gedienstige, “getransformeerde” howe.

Sowel die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, daardie Orwelliaanse liggaam wat ander se menseregte skend, as die Nelson Mandelastigting het oor die afgelope tien dae keer op keer geëis dat mense “die hofuitspraak moet gehoorsaam” en geen oranje-blanje-blou vlae meer sal vertoon nie.

Toe die terroris ons staat wou verower om agterna na hartelus te kom plunder, het hy hom aan geen wet gesteur nie. Bomme is op straat of in winkelsentra afgesit, ongewapende mense is selfs in kerke tydens eredienste met outomatiese wapens afgemaai, soos wat APLA by die St. Jameskerk in Kaapstad gedoen het. Maar ons moet die taalreëls, kleurreëls, giere en eensydige hofuitsprake van die ANC-terroriste tot op die letter eerbiedig, gehoorsame Afrikaners wat ons is.

Is dit nie tyd dat ons, soos die Tsjegge in 1968 en die Baltiese lande in die laat 1980’s ongehoorsaam raak nie?

Ek voel my lankal nie meer gehoorsaam aan die ANC-bewind met sy quijotiese magsvertoon, korrupsie en verheerliking van terreur nie. Oral waar ek kan, praat en skryf ek Afrikaans – téén sy wense in.

Op hierdie mooi Lentedag in 2019, wel die opstand in my op as ek dink dat ‘n paar burokrate wat nie eens Suid-Afrikaners is nie, maar migrante uit een of ander verre tuisland of selfs ‘n ander Afrikastaat, mý taal, mý vlag en mý volkslied kan verbied.

Steve Hofmeyr stel reeds ‘n baie goeie voorbeeld. Ons vyande het ‘n renons in hom, maar elke Afrikaner is gaande oor Steve.

Laat ons die oranje-blanje-blou swaai en verf net waar ons wil in ons eie land waarvoor ons voorouers soveel bloed gestort het, veral ons vroue en kinders.

Laat ons Die Stem sing, daardie mooi patriotiese gedig van C.J. Langenhoven wat voortreflik deur M.L. de Villiers getoonset is. Laat die vervloekte terroriste ons arresteer omdat ons durf sing!

Laat ons veg vir ons taal teen die hatige Engelssprekendes en Bantoes wat dit wil onderdruk en uitwis, aan ons skole en universiteite, in die howe, in die werkplek en orals.

Miljoene Europeërs en Amerikaners steun ons in ons opstand, want hulle het óf teen kommunisme geveg óf het self daaronder gely. Soos wat ons rebellie vorder, sal dit twiet vir twiet, plasing vir plasing, aan hulle oorgedra word. Soos in 1899 toe ons man-alleen die Britse Ryk aangedurf het, iets waarvoor geen Europese grootmoondheid kans gesien het nie, sal ons weer helde in die oë van die wêreld wees, want ons staan op teen verdrukking in die naam van ons nasionale tradisie.

“Opstand in ‘n volk is net so noodsaaklik soos getrouheid. Dit is nie eens gevaarlik as rebellie misluk nie. Wat wel gevaarlik is, is dat ‘n hele geslag verby sal gaan sonder protes,” het ons groot digter N.P. van Wyk Louw gesê.

Laat die Praagse lente begin.

Die ongelooflike ligtheid van Bantoemag gaan ons dalk net verbaas, om saam met Milan Kundera te praat.

Ondersteun die stryd en sluit aan by PRAAG!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.