Hoe ek Jacob Zuma ken

Deel op

ImageJacob Zuma se sekretaresse ontvang my vriendelik en vergesel my na die stoep aan die oostekant. Ek kyk haar vraend aan. Met haar wysvinger maak sy 'n veelseggende draaibeweging in die rigting van die plafon.  

Buite sal ons dus meer privaat wees…
Deel op

Die reusesybokhaarmat wat die voorportaal met die ou Transvaalse wapen vroeër versier het, het plek gemaak vir 'n goedkoop geel, swart en rooi geruite mat. Die stinkhout- en geelhoutmeubels van 'n vorige beskawing is weg. In die plek daarvan staan doodgewone meubels wat lyk of dit uit 'n tweedehandse meubelwinkel kom. Die stoepmeubels is twee stelle gemakstoele met botsende kleure.

Ek wag op die stoep van vervloë jare se administrateurswoning. Overvaal. In die tuine sien ek hoe vier tuiniers probeer om 'n tuinslang gekoppel te kry, terwyl 'n vyfde die hope roossnoeisels in 'n kruiwa laai. Die tuin is sonder persoonlikheid en verwaarloos.

My gedagtes gaan terug na 1967. Oom Sybrand van Niekerk, verlangs familie van my vrou, was toe nog administrateur van die Transvaal. Tannie Marietjie was 'n ywerige tuinskepper en sy en haar wit tuinier moes die groot tuin self in stand hou. Ons het daardie Sondag middagete by hulle geniet. Dit was hoe Boeremense mekaar destyds onthaal het. Ná ete besoek die manne dan die vrugteboord en pluk mandjies vars vrugte. In 1967 was die tuin 'n welige paradys.

Maar dit was 42 jaar gelede. Snaaks hoe die tyd aanstap en dinge laat agteruitgaan.  

Hier sit ek nou in Julie 2005. 'n Maand of wat gelede is ene Shabir Shaik op aanklagte van omkopery en bedrog deur regter Hillary Squires skuldig bevind en tronkstraf opgelê. President Mbeki het sy adjunk kort daarna onseremonieel in die parlement afgedank.  

Dan stap Jacob Zuma deur die sydeur, met sy gebruiklike breë glimlag, hand uitgetrek.

"How are you, Mr Wingard."

"Thank you for seeing me at such short notice, Mr Zuma."

Hy haal sy selfoon uitmekaar en plaas die drie stukke op die koffietafel tussen ons. Ek skakel my selfoon af en sit dit langs syne. Hy knik dankbaar.

"We should be OK here. I take it this is a private meeting. My situation is quite delicate and I do not want any further complications."

Ek stel hom gerus. Ons verwissel 'n paar komplimente en toe vra hy: "How are the Afrikaners?"

"I have not come to talk to you about the Afrikaners today. I want to talk to you about three things and I would be pleased if you would give me frank and honest answers to three matters that bother me."

"OK, what are they?"

Die gesprek wat ons daardie oggend in Engels gehad het, vertel ek nou oor in Afrikaans:

"Eerstens, wil ek oor Jacob Zuma praat. Ek wil sy kant van die storie hoor oor die aanklagte van korrupsie en bedrog wat teen hom gehou word."

"Tweedens, wil ek met jou praat oor 'unfinished business.' Soos jy weet, was daar onafgehandelde besigheid rondom ooreenkomste wat jy en Thabo Mbeki in 1993/94 met die Generaal en ander leiers aangegaan het, maar wat gerieflikheidshalwe onder die mat beland het."

Hy knik instemmend.

"Laastens wil ek oor projekte in Kwa-Zulu Natal praat." Ek kan nie help om die byna seunsagtige opgewondenheid in sy oë te lees nie.

"Goed, laat ek jou my kant van die storie vertel.  In die kabinet was ek die armste kabinetslid. Daarmee beskuldig ek niemand van enigiets nie, net dat dit ironies is dat almal skielik vingers na die persoon wys wat seker die minste invloed gehad het met die toekenning van wapenkontrakte. Onthou jy nog die inligtingskandaal? Connie Mulder moes die spit afbyt om te voorkom dat hy eerste minister sou word. Daarvoor is 'n skandaal geskep. Met al die geheime projekte waarmee die apartheidsregering binnelands sowel as in die buiteland besig was, kon verskeie kabinetsministers van bedrog of wanbestuur aangekla gewees het. Maar Mulder is uitgesonder omdat hy 'n politieke gevaar vir PW Botha ingehou het.

Ek word presies op dieselfde manier uitgesonder, vanweë my sterk aanhang in die party.

Ja, ek het 'n vertrouensverhouding met Shabir Shaik gehad. Ja, hy het aan my geld geleen. Natuurlik sal dit alles bewys kon word. Maar ek kan met 'n skoon gewete sê dat ek nog nooit 'n sent van die staat of van die publiek wederregtelik gevat het of dat enige besluite wat ek moes neem deur Shaik se lenings beïnvloed was nie. Ek weet nie hoe iemand ooit soiets teen my sal kan bewys nie. As ek sy saak kwansuis sou bevorder het, sou dit binne die normale menslike politikus-vriendkonteks gebeur het.  

Dan is daar ook die kwessie van ons Afrikakultuur. In die Afrikakultuur is dit nie ongewoon vir onderdane om gereeld 'n bok of selfs 'n os vir die Kgosi saam te bring nie. Daardeur bewys hy dan sy lojaliteit en maak hy staat op die wederkerige beskerming van die hoofman.

In die westerse politieke stelsel word van lobbying gebruik gemaak. Parlementariërs en ministers word met allerhande gunste bearbei om bepaalde beleidstandpunte te beïnvloed."

Ek word meegesleur deur sy driftige openhartigheid. Ná nog verdere verduideliking steek ek my hand uit:

"Dankie, ek verstaan die situasie en aanvaar jou verduideliking. Op 'n later tydstip sal ek dit wêreldkundig maak. Intussen moet die reg maar sy loop neem, maar ek sal nie my vertroue in jou verloor nie." Jacob heg waarskynlik baie waarde aan my eertydse diens by die Volkstaatraad, en aanvaar my bona fides volledig.

Hy neem my hand: "Jy weet nie wat jou woorde vir my beteken nie. My familie is baie geskok oor al die beweringe. Mense behandel my deesdae asof ek melaats is, maar soos gewoonlik verstaan die Boere my die beste. Laasweek het ek besoek gehad van 'n Boere-afvaardiging, en hulle het ook hul steun belowe."

Hy gee 'n oorsig van die historiese verhouding tussen die Boere en die Zoeloes. Jacob Zuma ken sy geskiedenis en hy respekteer die Boere. Sedert daar vrede gemaak is ná Bloedrivier was daar vir langer as 150 jaar geen noemenswaardige spanning tussen die Boere en die Zoeloes nie. Beide partye het altyd hul ondernemings nagekom.

"En wat nou van die onvoltooide besigheid?"

'n Ernstige uitdrukking kom oor sy gesig wat hy op 'n honderd plooie trek.

"As ek die president van hierdie land sou word, sal ek ernstige en dringende aandag daaraan gee. Ek sal na alle redelike versoeke luister. Ek heg baie waarde aan die mens se kultuur en besef dat die Boere ook baie gesteld is op hul eie kultuur. Maar wat Afrikaners baie mooi sal moet verstaan:  Hulle sal hul huis in orde moet kry.  Ek kan nie met verskeie teenstrydige versoeke of skemas gekonfronteer word nie. Doen julle huiswerk behoorlik en ek sal my kant ook bring."

Toe trek Jacob Zuma weg met 'n byna onthutse aanval op die huidige rasbehepte beleid van transformasie. Hy kan onmoontlik nie verstaan hoe die ANC by die punt uitgekom het waar ideologie belangriker geword het as dienslewering nie. Hoe kan die land bekostig om honderde duisende geskoolde landsburgers elke maand te verloor?

Daarna bespreek ons kortliks 'n reeks biobrandstofprojekte in Kwa-Zulu Natal. Ek verseker hom dat ek die saak op die regte tydstip verder sal voer.

Dit was byna vier jaar gelede. Sedert die Overvaal-besoek het ons weer twee keer ontmoet. Elke keer was sy uitsprake dieselfde oor Afrikaners. Dit is duidelik dat hy nie ons stemme wil werf nie, maar dat die land hulle nodig het, want, soos hy dit stel:

"We cannot run this country without the Afrikaners." 

для насосовлобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.