Dan Roodt: Behoefte aan die woord ‘Bantoe’

Deel op

Oor die afgelope paar maande het ek begin om die tradisionele woord “Bantoe” op Twitter en ander sosiale media te gebruik, min of meer as sinoniem vir terme soos “swart mens”,”swart man”, “swartman”, “swart inwoner van Suid(er)-Afrika” of “Bantoetaalspreker”. Nie dat ek dit verwag het nie, maar niemand het nog hierteen beswaar gemaak nie.

Immers word daar in Engels gedurig nog na die voormalige tuislande of TBVC-state as “Bantustans” verwys, en dit word selfs as polities korrek gesien.

Waarom voel ek so ‘n behoefte, om die woord “Bantoe” te gebruik? Ten eerste bestaan die wêreld nie net vir my uit swart en wit nie. Om dus almal as hetsy “swart”, hetsy “blank” te kategoriseer, lyk vir my nie net simplisties nie, maar boonop verkeerd. In Suid-Afrika word besonder donker mense uit lande noord van die Limpopo, wat werklik aanspraak daarop sou kon maak dat hulle “swartes” (Eng.: blacks) sou wees, deur plaaslike Bantoes verwerp. Hulle word neerhalend “Kiwi’s” (na aanleiding van die handelsmerk vir (swart) skoenpolitoer) of “makwerekwere” genoem.

Dit is nogal ironies, aangesien swartheid in die huidige polities korrekte tydvak ‘n uiters positiewe aanskyn aangeneem het. Daarenteen word “witheid” as pejoratief en uiters negatief gesien. In die meer marxistiese en feministiese universiteitsdepartemente is daar selfs ‘n vak soos “Witheidstudies” waarin dit verpligtend is om neerhalend na blankes, asook blankes, blanke geskiedenis en kultuur te verwys.

Veral liberale en linkse blankes ly aan “witskuld” waarmee hulle alle wandade wat deur die geskiedenis deur hul rasgenote gepleeg is, op hulself neem en boete daarvoor wil doen. In die hoofstroommedia is dit feitlik ‘n gegewe dat blankes oor ‘n aangebore hoeveelheid skuld of witskuld beskik, na aanleiding van “apartheid, kolonialisme en slawerny”.

Hoewel swartes mekaar in Afrika aan slawehandelaars verkoop het, en Arabiere sowel swart as blanke slawe aangehou het, bestaan daar nie so ‘n begrip soos “swartskuld” nie.

Maar dít is alles bekende terrein waarmee die meeste lesers reeds vertroud is. Terug by “Bantoe”, en waarom ons ‘n sterk behoefte aan dié woord behoort aan te voel.

Volgens Boshoff en Nienaber se Afrikaanse etimologieë, is die word “Bantoe” deur W. H. I. Bleek gevorm uit die voorvoegsel van die meervoud wat in die Bantoetale voorkom “ba-” en die stam “-ntu”, “mens”, dus “mense”, meer bepaald “Bantoemense”.

As ‘n mens na die taalkaart van Afrika kyk, word die Bantoetale meesal in Oos-en Suider-Afrika gepraat (die sogenaamde B-groep van die Niger-Kongo-tale). Hier onder op die kaart word dit in donkergeel aangedui. Sommige “Kiwi’s” is dus ook Bantoes!

Taalkaart deur Mark Dingemanse, Nederlandse Wikipedia

Sommige mense beweer dat die term “Afrikaner” soos ons dit gebruik, uit Duits afkomstig is, en nie vanuit Nederlands nie. In Afrikaans tref ons die onderskeid tussen “Afrikaner” en “Afrikaan”. Enigeen – sowel blank as swart, maar ook Arabier of Magrebyn, soos die Franse na Noord-Afrikane verwys – kan egter as “Afrikaan” deurgaan.

In die VSA word na swartes as “African Americans” verwys, terwyl hulle voorheen bloot as “negroes” bekendgestaan het. Blykbaar word die woord “nigger” ewe seer as pejoratief en rassisties as ons woord “kaffer” beskou. Behalwe as dit deur Amerikaanse swartes self, veral sangers en kletsrymers, gebruik word. Dan word dit meesal as “nigga” gespel en benoem dit ‘n trotse en selfs rebelse rasse-identiteit.

In die geografiese sin is ‘n Amerikaans gebore swarte of neger ewe min ‘n “Afrikaan” as ‘n blanke Noor; nietemin bepaal die sterk rasse-identiteit van Amerikaanse swartes hul identifikasie met Afrika en swartheid. Vandaar dus die term wat hulle vir hulself toeëien, “African American”.

Dekades lank al verkeer Suid-Afrika in ‘n soort woordestryd wat ook ‘n “semantiese oorlog” genoem kan word. Dié term is eintlik Frans van oorsprong, maar “woordestryd” klink so na ‘n hoërskooldebatswedstryd dat dit nie die baie ernstige en fatale oorlog van oor-en-weer beskuldigings waarin ons verkeer, raakvat nie. Toe ek “guerre sémantique” op die internet opkyk, staan die volgende voorbeeld bo-aan:

La déclaration Balfour a ouvert au Proche-Orient une guerre sémantique qui n’en finit plus d’enfler à propos de la Palestine de façon générale, mais aussi des différentes sociétés du Levant. De cette guerre des mots, qui est aussi une guerre des symboles émotionnels, nous sommes encore peu conscients, en Orient comme en Occident.

[Die Balfour-deklarasie het in die Nabye Ooste ‘n semantiese oorlog ontketen wat sonder ophou uitswel rondom Palestina in die algemeen, maar ook die verskillende samelewings van die Levant. Aangaande dié woorde-oorlog, wat ook ‘n oorlog van emosionele simbole is, is ons nog maar min bewus, sowel in die Ooste as die Weste.]

Die A-woord (“apartheid”) en R-woord (“rassisme”) is wapens in dié semantiese oorlog wat elke dag woed; hulle word teen blankes en veral Afrikaners aangewend.  Daarteenoor beskik ons oor ‘n baie uitgedunde stelletjie teenwoorde om hulle mee te beveg.

Die Franse voorbeeld hier bo betrek die Nabye Ooste, oorsprong van die sogenaamde “Abrahamiese godsdienste” – Joodsheid, die Christendom en Islam – wat al drie ten sterkste godslastering verbied. Terwyl Jode en Christene in die verlede ook die doodstraf daarvoor sou uitgedeel het, is die verkleinering of belastering van Allah steeds ‘n baie ernstige aangeleentheid en kan tot ‘n fatwa of Islamitiese regsmening lei wat die doodstraf oor iemand uitspreek. Een so ‘n moderne voorbeeld was dié van Salman Rushdie, die Indies-Engelse skrywer waaroor die Ajatolla Khomeini van Iran ‘n fatwa uitgespreek het en hom op 14 Februarie 1989 ter dood veroordeel het op grond van sy roman The Satanic Verses wat aanstoot aan Moslems sou gee. In Februarie 2006 het die Iranese persagentskap IRNA bevestig dat dié fatwa lewenslank sou geld.

Sommige woorde, soos byvoorbeeld die sogenaamde “K-woord” of “kaffer”, word in Suid-Afrika as só kwetsend of aanstootlik vir Bantoes beskou dat dit iets van dieselfde semantiese krag as godslastering bevat. In so ‘n geval is dit nie God wat verkleineer word nie, maar ‘n mens, oftewel ‘n Bantoemens. Sover ek weet, is niemand nog ooit ‘n groot boete of selfs tronkstraf opgelê omdat hy ‘n blanke beledig het nie. Voorheen was daar iets soos siviele laster waardeur iemand wat in sy eer gekrenk of wie se reputasie geskend is, volgens ou Romeinse beginsels skadevergoeding van ‘n lasteraar kon eis. Joernaliste en gebruikers van sosiale media het lyk my in ons tyd hul beledigings en gevloek op ander tot so ‘n hoogtepunt gevoer dat laster lyk my net in spesiale gevalle bestaan.

In die geval van Vicki Momberg is sy tot drie jaar tronkstraf gevonnis nadat sy ‘n aantal Bantoepolisiemanne die K-woord toegesnou het, ná ‘n motorkaping. Een jaar van haar gevangenisstraf is opgeskort en tans poog sy blykbaar om teen die oorspronklike vonnis te appelleer.

Georges Bataille

In die Franse filosofie bestaan daar ‘n begrip soos “oortreding” oftewel transgression waardeur sosiale norme en sedes uitgedaag word. Volgens die skrywer en filosoof Georges Bataille, bevat alle letterkunde ‘n aspek van “oortreding”. ‘n Afrikaanse skryfster met ‘n liberale reputasie, wie se naam ek liefs hier sal verswyg, het op ‘n keer teenoor my genoem dat dit “baie jammer sou wees indien ons nie meer ‘kaffer’ mag gebruik nie”. Die meeste bekende en beroemde skrywers in Suid-Afrika, hetsy Afrikaans, hetsy Engels, het al die woord “kaffer” op skrif gebruik. ‘n Paar waaraan ek kan dink, is: André P. Brink, Etienne Leroux, Totius, C. M. van den Heever, J.M. Coetzee en Nadine Gordimer. Laasgenoemde was albei Nobelpryswenners.

Soos wat die semantiese oorlog in Suid-Afrika voortwoed tussen Links en Regs, maar ook tussen Blank en Bantoe, is dit voorstelbaar dat alle boeke deur skrywers wat iewers in ‘n teks die K-woord gebruik het, verbied mag word, uit die biblioteke gesmyt of selfs verbrand mag word. So ‘n skrywer mag dan ook, soos Vicki Momberg, tronkstraf ontvang omdat hy of veral sy die Bantoedom beledig het en crimen injuria teen die heersende Bantoe-orde gepleeg het.

Hoewel daar dikwels sulke aansprake deur die ANC gemaak word, is die vorige bewind geensins militêr oorwin nie. Die NP het egter daardie fase van die semantiese oorlog – om beheer oor die staat te verkry – verloor. In die huidige fase gaan dit daaroor om die eiendom van blankes af te vat – sg. “onteiening sonder vergoeding” – en om ons teenwoordigheid in Afrika as ongewens en selfs onwettig voor te stel.

In hierdie stryd speel die term “African” wat op Engels eksklusief deur Bantoes toegeëien word, ‘n vername rol. Deur ons as “nie-Afrikane”, “setlaars”, “koloniste”, en dergelike te tipeer, word die logiese grondslag vir onteiening sonder vergoeding, geweld, uitsetting en selfs volksmoord gelê.

Die woord “Bantoe” is minder gelade en meer neutraal. Dit druk ‘n bepaalde etnokulturele groep uit. Dit tipeer mense nie oppervlakkig op grond van huidskleur nie, maar na gelang van hul taal, kultuur en etnisiteit. Juis daarom verdien dit om oral in die Afrikaanse media, asook sosiale media, gebruik te word.

Die wêreldbeskouing van die Bantoe is simpatiek uitgebeeld deur die Vlaamse geestelike, Vader Placied Tempels. Hy het in 1945 sy beroemde boek gepubliseer, Bantoe-filosofie. Dit word deur Bantoes self, wat tot op daardie stadium geensins hul eie denke in boekvorm neergeskryf het nie, erken as ‘n groot bydrae tot die Bantoe-kultuur en -letterkunde. Boonop is dit volledig aanlyn in verskeie tale beskikbaar, waaronder die oorspronklike Nederlands.

In ‘n Disqus-reaksie by sy vorige rubriek, vermeld Leon Lemmer:

Max du Preez het in sy Vrye Weekblad “beswaar gemaak teen onsensitiwiteit waarmee samestellings met kaffer [in die WAT] gehanteer is … [Hierdie] kritiek was van die belangrikste faktore wat daartoe gelei het dat die Buro van die WAT besluit het om die vroeë dele van die WAT te kuis. Die kuising sou behels dat bepaalde woordeboek-artikels herbewerk word sodat rassistiese items meer sensitief aangebied word. Die gekuiste dele is opgeneem in die elektroniese WAT … ‘n Kongres is in 1994 oor die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items gehou … Daar is ooreengekom op ‘n beleid dat rassistiese items wel opgeneem word, en die etiket rassisties kry, maar dat geen verdere bewerking in die gedrukte WAT sou staan nie. Dit sou wel in die elektroniese formaat kon verskyn en op aanvraag beskikbaar kon wees. In 1995 is weer met die kongresgangers in aanraking gekom en teen daardie tyd het die klimaat in die land in so ‘n mate verander dat die beleid deur konsensus gewysig kon word dat ‘n beperkte bewerking van rassistiese items in die gedrukte weergawe van die WAT aangebied kon word. Van Deel X [1996] af is beledigende en sensitiewe items wel opgeneem, maar met duidelike etikette wat die gebruiker kan waarsku teen die kwetsende aard daarvan *… By rassistiese items verskyn geen voorbeelde nie, omdat die WAT dit as noodsaaklik beskou om geen inligting te verstrek wat die gebruik, aanleer of bestendiging van rassismes bevorder nie. By hierdie woorde word ook geen sinonieme, antonieme of ander verwysings gegee nie. Op aanvraag kan ‘n volledige [!] maar sensitiewe bewerking [!] by die Buro beskikbaar gestel word … Enige item wat as rassisties aangevoel kan [!] word, word van Deel XII [2005] af as (rassisties) geëtiketteer” (JC Steyn, ‘Ons gaan ‘n taal maak’: Afrikaans sedert die Patriot-jare, Centurion: Kraal Uitgewers, 2014, p 469-470).

Dus word die woordeboeke gekuis van “rassismes”. Maar wie besluit wat ‘n “rassisme” sou wees?

Dit hang ook af wie ‘n sogenaamd “rassistiese” woord gebruik. Bantoes kan oor blankes sê wat hulle wil, sonder dat daar hoegenaamd enige regsoptrede sal wees. Daar was ook verskeie onlangse gevalle waar Bantoes mekaar “kaffers” genoem het; sover my wete strek, is geen van hulle aangekla of vervolg nie.

Op die internet het ek afgekom op ‘n woernaal deur ene Dina Ruth waarin sy die woord “kaffir” herhaaldelik gebruik in ‘n plasing genaamd, “a KAFFIR and a KWEREKWERE sit down for tea and a talk”. Omdat sy self ‘n Bantoe is, sal niemand haar weens die gebruik van die woord “kaffer” gaan aankla nie.

Soos in die geval van Amerikaanse swartes wat na hulself as “niggas” verwys, is dit waarskynlik geoorloof.

Feit is dat ons taal as blankes al hoe meer beperk en ingeperk word weens die heersende politieke korrektheid, maar ook die soort Bantoeryk waaronder ons tans leef.

In die alledaagse semantiese oorlog word ons dus toenemend ontwapen.

Maar “Bantoe” is ‘n klein stukkie woordgebied wat ons gerus weer in besit kan neem. Dit is veel meer presies en vol betekenis as enige ander woord in ons Suid-Afrikaanse konteks.

Lees ook elders op PRAAG:
Skoppensboer: Vicki Momberg, martelares vir spraakvryheid

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.