Suidpunt: My 10 jaar by die Afrikaanse Wikipedia

Deel op

Dit is vandag 14 Augustus 2019. Ek is vandag presies 10 jaar betrokke by die Afrikaanse Wikipedia. Dit is Afrikaansdag en in Swede open Wikimania vandag hulle makietie in Stockholm. Tussen hierdie planetêre samestand op my horoskoop van toeval, beantwoord ek met graagte ‘n paar vrae rondom die Afrikaanse Wikipedia.

Wat is Wikipedia?

Die vrye ensiklopedie.

Waarom is dit nie ‘n ‘gratis’ Wikipedia nie, maar wel ‘vry’?

Want niks in die lewe is gratis nie. Daar is steeds skenkers wat die hele stelsel aan die gang hou.  ‘Vry’ bedoel, die vryheid van die publiek om enige veranderinge daar aan te bring.

Wanneer het jy aangesluit?

My eerste bydrae onder ‘n IP-adres was “Eliza Meiring” op 14 Augustus 2009, wat ondertussen heeltemal ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het en vandag in 2019 “Heks van Hexrivier” is. Ek het wel amptelik registreer op 21 Augustus 2009, ‘n week later.

Hoekom het jy aangesluit?

Vanaf laerskooldae het ek die innerlike behoefte gehad om inligting en algemene kennis te deel, maar nie almal was daarvoor te vinde nie. Ek bedoel nie skinder nie, dan sou ek by ‘n nasionale koerant of tydskrif gaan werk het. Die feit dat jy weet ander mense lees jou werk, omdat hulle wil, en dit daarom elke dag weer en weer besoek, laat mens voel jou jongmenslewe voor die rekenaarskerm was nie heeltemal verniet nie. Ek het ook van die idee gehou om inligting gratis te versprei en die onbeskikbaarheid van horingou boekinligting te omseil: en almal baat daarby, ryk en arm. Ek wou as’t ware die ou boeke onder die stof gaan uithaal en laat herleef wat vergete is.

Nou goed. Hoe word ‘n mens lid (‘n gebruiker) by die Afrikaanse Wikipedia?

Jy kyk liewers eers op YouTube hoe om ‘n artikel te skep of wysig (“edit”), en dan registreer jy onder ‘n naam. Verkieslik nie jou doopnaam nie; onder ‘n skuilnaam neem jy argumente minder persoonlik op. Jy kan altyd anoniem bydra sodat net jou IP-adres wys, maar omdat vandale in die verlede so baie keer anoniem werk, wantrou ons die IP-adresse. Ons het seker nou al maklik oor die 40.000 registrasies sedert 2001 (ek wil nie oordryf nie), maar die meeste weet nie wat om verder te doen nie of gooi tou op. Of baie is besoekers uit ander Wikipedias wat miskien iets regmaak en weer verkas. Die werklik aktiewe gebruikers is iets onder die 50-kerf, maar toon ‘n opwaartse kurwe. Diegene wat meer as 100 keer artikels wysig is so 12 tot 14 per maand.

En dit vir ‘n ensiklopedie van meer as 83.000 artikels? Die instandhoudingswerk is nogal groot. Jou aantal Duitsers is so 6.230 aktiewe gebruikers (wat ‘n konstante daling toon), waarvan 1.328 per maand besonder aktief is. Hul Wikipedia-artikels tel so ongeveer 2,3 miljoen. Ook is K175 en Suidpunt die jongste lede, sover ek weet, wat baie betrokke en aktief is by die Afrikaanse Wiki. Ons het albei in ons laat-tienerjare begin en is vandag albei om en by 30 jaar oud. Sien ons ‘n vergrysing in die demografie? Ek glo so, maar die hoop beskaam nie. Daar is ‘n Afrikaner jonger as ons, ‘n arts (epidemioloog) woonagtig eers in Londen en toe België, sterk stamgeoriënteerd, maar ons sien ongelukkig bitter min van hom; waarskynlik weens die aard van sy werk.

Hoe werk ‘n mens jouself boontoe?

Boontoe? Dit spyt my, skat, maar ons het geen 33º soos in die Vrymesselary nie. Jy moet maar jou naaste munisipale kantoor daaroor kontak.

By die Afrikaanse Wikipedia kan jy alleen ‘n Administrateur word of ‘n Burokraat. ‘n Administrateur het die voorreg om bladsye te vernietig (of uit die vergetelheid met ‘n muisklik of twee op te haal), artikelname te verander, ‘n klomp wysigings op een slag terug te rol, vandale te versper (enigiets tussen ‘n paar uur, tot in alle ewigheid verdoem!), gebruikers uit te vee (ook hulself! Ek het probeer, en dit werk! ‘n Ander administrateur het my kuberselfmoord egter ongedaan gemaak) en om bladsye te beskerm wat deur vandale gereeld geteister word.

Die egalitêre Hollanders glo ‘n baas is ‘n kollega met ander verantwoordelikhede, onder andere – om vir jou werknemers bekers koffie aan te dra. Dit geld ook hier. Quite the contrary to the lofty offices in Canary Wharf, London… und hinter verschlossenen Türen in Deutschland.

Met ander woorde, ‘n administrateur is slegs ‘n gebruiker met meer verantwoordelikhede. Die Burokraat gee administrateursregte of burokraatregte aan ‘n gebruiker; maar kan ook gebruikersname verander. ‘n Afrikaanse Administrateur of Burokraat het weer nie hierdie gebruikersregte byvoorbeeld op die Nederlandse of Engelse Wikipedia nie. En vica versa.

Maar hoe word ek administrateur?

Jy word daartoe verkies as jy jou verkiesbaar stel. En dit hang gewoonlik van die gemeenskap af of hulle jou daar wil hê. Omdat ons so min werkers is, nie elkeen 24 uur beskikbaar is of mekaar aflos nie, en die werkslading met die skep van elke nuwe artikel daagliks vermeerder (en die aantal aktiewe gebruikers maar dieselfde bly), word administrateurskap byvoorbeeld veel makliker toegeken as op die Nederlandse Wikipedia. Want as iemand ‘n bladsy geskuif wil hê, moet daar iemand wees wat bereidwillig sal wees om dit te doen.

Om ‘n administrateur te word, is soos om priester te word. ‘n Nuwe lidmaat gaan dit nie sommer kry nie. As jy iemand is wat jou opgang wil maak om die septer te swaai, sou ek die volgende aanbeveel het (die ongeskrewe reëls soos ek dit ervaar):

  1. Maak seker jy skep ten minste vyf voorbladartikels. As jy Engelse (Featured Articles) vertaal doen jy goed, as jy uit Nederlands (Etalage-artikelen) vertaal doen jy beter, as jy uit Duits (Exzellente Artikel) vertaal kyk almal jou met nuwe oë aan, as jy uit Frans (Articles de qualité) vertaal is jy ‘n halfgod. En Latyn en ander vreemdetale (Russies, Sweeds, Zoeloe, Japannees) – volmaaktheid  [ons het ‘n moerse skaarste hieraan]. Maar, as vertaling nie so lekker wil vlot nie, skraap jou eie bronne bymekaar en skep jou eie artikel. As jy nie daarvoor kans sien nie, doen die donkiewerk – patrolliewerk en vandale aan die pen ry.
  2. Al hoef jy slegs 6 maande te werk om hierdie opgang te maak, probeer eers deurdruk vir 5 jaar, om te wys jy gaan nie weg nie. En sodat die ander jou eers beter leer ken.
  3. As jy nie besonder goed is met taal nie, wys jy is briljant met die tegniese goed.
  4. Bedank die ander gebruikers gereeld, maar nie oordadig nie. Jy klik op “Wys geskiedenis” en jy klik op bedank as jy regtig dink hierdie ou het ‘n knap stukkie werk gedoen.
  5. Moenie ‘n muurblommetjie wees nie. Neem deel aan gesprekke, veral by die Geselshoekie of op die besprekingsblaaie. Leer die gebruikers se stokperdjies en geliefde onderwerpe ken en bespreek dit waar nodig. Onthou net dat jy moet sin praat. Jy doen selfs beter as jy iemand op sy gebruikersbesprekingsblad vra om hulp, of, as jy weet wat die persoon se belangstellings is en jy met hom meer in daardie rigting vrae stel of raadvra. En werklik belangstelling toon in sy werke en stokperdjie. Onthou ook – niemand sal ‘n robot nomineer nie; mense soek iemand van vlees, bloed en standpunte.
  6. Ontwikkel ‘n sin vir humor en veral ‘n dodelike sin vir ironie. En onthou, jy werk met ‘n kaartespel van standpunte, moet asseblief nie alles persoonlik opneem nie.
  7. Neem standpunt in as jy weet ‘n saak raak ander Wikipediane. Google ook gereeld om ander in kennis te stel wat die media nou weer oor die Afrikaanse Wikipedia te sê het.
  8. Wees miskien by ‘n ander susterprojek ook betrokke. Soos by die vertaling van Wikimania-blaaie of so.

Maar luister, by elkeen van ons, administrateur of gewone gebruiker, gebeur dit soms dat ons neerslagtig voel. Of mens voel jou werk word nie genoeg opgehemel nie, of die leserspubliek daarbuite is te dom, of die werkslading voel te groot, of die gebruikers verstaan nie jou punt nie – met ander woorde, frustrasie. Soms het van die gebruikers so kwaad geword dat hulle geloop het. Dan gaan haal ons hulle maar weer met ‘n mooi briefie (iets wat die Duitse Wikipedia nie sommer sal doen nie, maar die Italiaanse Wikipedia wél!), of stel voor hulle gaan op ‘n Wikivakansie. Dit is normaal.

Is die Wikipediane nie ‘n spul Kommuniste nie?

O, jy bedoel seker die Engelse en Duitse Wikipedia s’n? Ja-nee, sonder twyfel! Die Franse Wikipedia tot ‘n mindere mate (want ek bedoel, as die Javaanse tier, ‘n voorbladartikel, se uitsterwing heeltemal aan slegs die bevolkingsaanwas van die [oor]bevolking Javane op ‘n posseëlgrootte [128 297 km²] eiland toegedig word, terwyl die Hollanders se gelaaide roer bokant die voordeur lelieblank in sy onskuld skitter… aai, jy moet die Franse seker bemin vir hul onkunde? Of is dit aspris?)

Maar jy vergeet van die Kroatiese Wikipedia wat in 2013 heeltemal in getalle oorgeneem is deur Konserwatiewes en geweier het om te aanvaar dat ‘n huwelik uit iets anders bestaan as tussen man en vrou. Natuurlik was die gaygemeenskap nie alte dolgelukkig daaroor nie. En klagtes is by dosyne ingedien. Maar dit laat tog die vraag ontstaan oor kultuur- en taalregte, wie se standpunt van die waarheid moet geld. Dít vind ek interessant. Omdat dit nou ‘n blanke samelewing is, braak mense gal. Maar gestel iemand wat uit die gemarginaliseerde Khoi-gemeenskap sy eie Wikipedia sou bedryf, wat steeds sterk volgens sy eie kultuurstelsel werk… gaan hy of sy noodwendig, in ‘n poging om hul kultuur te red, nou alles omarm wat vir hom Westers, taboe en verderflik is, te midde van wat die Suid-Afrikaanse Grondwet ook al voorskryf? Wie sal teen hom optree?

My siening is weer dat alle moontlike standpunte en hoeke oor ‘n aangeleentheid gestel word (konserwatief, liberaal, sosialisties, kommunisties). As die Russiese Wikipedia 23 verskillende hipoteses kan aanvoer wat presies op Toengoeska gebeur het (almal aanvaar vandag dis ‘n meteoriet wat ‘n Russiese woud platgevee het), dan kan ons seker elke moontlike standpunt in Afrikaans ook lys?

Die Afrikaanse Wikipedia lyk nie meer soos 10 jaar gelede nie. Net soos ‘n rivier vandag nie meer dieselfde is nie. Toe was alles nog, uit my oogpunt, vreeslik geskoei op die lees van die Engelse Wikipedia. Ek dink ons is geleidelik besig om daarvan los te maak en meer na ander bronne te kyk – ons eie, die Franse, die Duitse en die Nederlanders s’n. Miskien binnekort ook die Swede, Italianers en ander groepe se bronne soos ons slimmer word.

Vandag is ons ‘n bont spul. Jy het byvoorbeeld ‘n aartssosialis, ‘n aartslibertyn (wat hom deur geen wetgewing laat voorskryf hoe hy moet leef en hom op vryheid van wet beroep nie), ‘n etnosentris – al drie belydende Christene. “Hoe op aarde moor julle mekaar dan nie uit nie?” Maklik – aanvaar dat standpunte soos ‘n kaartespel is, en moenie die standpunte aan die persoon koppel nie. Terwyl jou huidige universiteit totaal en al in een rigting dink, is die Afrikaanse Wikipedia baie soos die droomuniversiteit van ouds. ‘n Verskeidenheid van denke. Onthou, jy kan niemand haat oor sy standpunte nie. Standpunte is soos ‘n pak kaarte wat jy skommel. Ongelukkig het, soos ons onder baie akademici sien, bitter min nog daardie volwassenheid bereik om die persoon van die standpunte te onderskei. Beskou die ander persoon slegs as advocatus diaboli, om jou eie standpunte sterker te motiveer, en dan is daar nie ‘n probleem nie.

Ek weet Dr. D.J. Kotzé het in sy een boek Positiewe Nasionalisme (1968) dit betreur dat die Afrikanerkerke nie een word nie, sodat daar minder kompetisie en tweedrag onder die Broedervolk/Afrikanerdom is. Onder die huidige toestande is ek eerder dankbaar vir die magdom denominasies wat daar wél bestaan (want wat as ek uit die kerk sou loop oor onreëlmatighede – is ek dan outomaties ‘n uitgeworpene?). Ek weet ook Prof. M.J. Swart skryf in sy referaat “Ervaring het dan ook geleer dat gesinne wat van die drie susterkerke afvallig word ook kultureel [betreffende die Afrikanerkultuur] traag is – en andersom” opgeneem is in die FAK se Afrikanerkultuur: Fondament en Vergesig (1980:84). Vandag weet ons dit is absoluut onwaar!

Want hoe kan jy my in een boksie druk? Ek is op die databasis van ‘n Pinksterkerk, gaan egter selde kerk toe, maar is hoogs geïnteresseerd in die NG-kerkgeskiedenis (veral die herkoms van die kerkliedere, maar ook standpunte in ou Kerkbodes), ek lees uit die onkanonieke Afrikaanse Bybel van die Mormone (1979) wat beslis onder die nuwe pioniers in die Amerikas byval sou vind, bestudeer die Afrikaanse Adventlofliedereboek van die Sewendedag-Adventistekerk (1960), en is ewe hoogs geïnteresseerd in die gebedsformuliere van die Rooms-Katolieke kerk – soos  die vertroostende een by iemand se laaste sterwensuur, iets wat ek nogal mis by Protestante kerke. En ter afronding het ek nog twee Sciëntologieboeke in Afrikaans gaan koop. Is ek nou ‘n volslae sinkretis? Glad nie – maar sulke kennis rondom die verskillende liturgieë kan maklik vir Wikipedia gebruik word.

Die kuns is egter om al die verskeie standpunte netjies uit mekaar te hou, in ‘n netjiese volgorde te stip en die bewerings en verwerings uit te lig sonder om kant te kies.

Jou probleem is net dat oor Apartheidsake, sê nou maar rondom die Sensuurwet, die Engelse Wikipedia maklik kant sal kies watter bronne om so taks weg te laat. In so ‘n geval raak die werk ‘n opstel ter verdediging van ‘n standpunt, eerder as ‘n ensiklopedie wat al die standpunte moet stel.

Die Afrikaanse Wikipedia (soos my skrywe oor hierdie Sensuurwet-artikel) poog om alle kante van die saak te stel. Aksie Morele Standaarde het ‘n paar billike redes aangevoer hoekom hy bekommerd is, en sterk gesteun op die Grondwet van destyds om sy saak te stel. Ja, daar was die vrees vir kommunisme en die kultuurlewe wat van binne gerysmier word. Ongelukkig kan ek nie, uit die bronne tot my beskikking, nou gaan staan en skryf Aksie Morele Standaarde het net strenger wetgewing verlang maar self geen voorstelle aan die hand gedoen nie (wat altyd gerieflik is vir jou gemiddelde klakous – want elke nuwe wetgewing wat nie werk nie is altyd iemand anders se skuld, maar nooit myne nie).

Ongelukkig is ek nie orals doenig met Apartheidsake nie, want dit is vir my eintlik ‘n bra vervelige onderwerp (al het die skoolkinders inligting daaroor nodig). So, baie van die artikels op die Afrikaanse Wikipedia is reeds verouderd en nog eensydig geskryf. En sonder bronne! As ek oor Apartheid sou wou skryf, gestel nou maar oor die gebeure op 16 Junie 1976, dan moet ek eers daardie “Report of the Commission of Inquiry into the Riots at Soweto and Elsewhere from the 16th of June 1976 to the 28th of February 1977” (1980) deur regter P.M. Cillié en kie in die hande kry. Dus, eerstehandse inligting in twee lywige boekdele. En dié kry jy slegs by universiteite in die stede. Ek bly op die platteland.

Maar lees iemand ooit julle artikels?

Jy kan niemand met ‘n rewolwer dwing om jou werk te lees of te gebruik nie. En jy kan mense male sonder tal die son, maan en sterre belowe jou werk is geloofwaardig en van hoë gehalte – KykNet doen dit, Vrye Weekblad doen dit, Vrouekeur doen dit, Netwerk24 doen dit, Huisgenoot doen dit, die ATKV doen dit, Insig hét dit gedoen – maar mense kan mos self oordeel of iemand perdedrolle vir vye verkoop. Eintlik het die Vrye Weekblad se artikel, uit Stellenbosch se argief, rondom sagte pornografie en sensuur in 1991 my iets geleer omtrent ons ‘kwaliteitmedia’ (hoofstroommedia) se beskouing van kwaliteit: “gehalte” word gekoppel aan die klas papier wat jy gebruik, nie die inhoud nie. So ‘n pornotydskrif wat roem op sy “gehalte”, bedoel “glanspapier”, die topklas “medium”, nie die uitsonderlike ‘inhoud’  (?) nie. Verskil dit enigsins van ons hedendaagse Afrikaanse tydskrifte en koerante? Ek glo nie. Kortom: leuens kan op goue perkamentrolle in fyn ink geskryf staan, op klip uitgekap word; die waarheid kan egter op brose toiletpapier geskrywe staan!

Daar is van die ouer opvoeders (die deursnit respondente!) in Van Huyssteen et al se meningspeiling van 2016 (meer hieroor onder) wat glo hoog en laag sweer hulle het nog nooit van die Afrikaanse Wikipedia gehoor nie. O, die vroomheid darem! En as hulle wel van die artikels toevallig gelees het, so sê hulle met ‘n moesiemondjie, lees hulle net die werk om ander bronne te wete te kom (p. 431):

Bekendheid met en gebruik van Wikipedia: Die Engelse Wikipedia word meer deur die respondente gebruik (ook gemiddeld een of meer kere per week), maar gewoonlik nie vir skool- of werksdoeleindes nie. Die meeste van die respondente het aangedui dat hulle dit slegs gebruik as hulle interessante inligting op die internet wil vind en so gou as moontlik meer van die onderwerp te wete wil kom. Respondente het ook aangedui dat sou Wikipedia vir werks- of skooldoeleindes gebruik word, dit net die vertrekpunt van ‘n reeks soektogte op die internet is: Wikipedia word slegs deur hulle gebruik om verwysings na ander relevante webblaaie of soekterme te verkry. Die Afrikaanse Wikipedia word hoegenaamd nie deur die fokusgroep gebruik nie, en slegs een van die respondente het geweet dat ʼn Afrikaanse Wikipedia beskikbaar is.

Ek sukkel om nie te proes nie.

As jy nog enige twyfel het, besoek Siteviews. Dit toon die hoeveelheid bladtrekke per dag. As jy wil weet wat die artikels is wat die meeste bladtrekke per dag, maand of jaar geniet het, besoek Topviews. Het jy ‘n spesifieke artikel in gedagte, besoek hierdie blad.

Pardon  moi, maar ons praat van enigiets tussen 60.000 tot 160.000 bladtrekke per dag van die Afrikaanse Wikipedia… Empiriese bewyse. So, groot asseblief, mevrou, jy flous my nie. Skoolkinders laat hulle duidelik deur niemand voorskryf waarna hulle soek nie. Ons weet hulle kopieer skaamteloos Mieliestronk en Wikipedia se bladsye sonder om te blik en te bloos. Plagiaat dus. So asof die onderwyser nie paragrawe kan google nie.

Maar géén instansie het my tot dusver nog so verras en gevlei soos RSG nie. “Waar ruwe rotse” is byna woord vir woord op hul webwerf gekopieer. ‘n Artikel wat ek geskryf het. Maar ek het geen probleem daarmee nie!

Waarom is van die individuele artikels se besoeksyfers so laag?

Probleem 1. Die meeste soektogte deur Google of selfs ‘n snuffelaar soos Firefox (myne is in Duits), soos Afrikanus in Disqus al opgemerk het, word outomaties streeksvriendelik. Gestel ek tik “hond” in, lees Google dit as “dog” en gooi vir my alle artikels uit rondom “dog”. Dit wil sê, ‘n Duitser sal soms Duitse of Engelse antwoorde kry. Ek het nié daarvoor gevra nie. Ek sou eerder Frans of Italiaans of Sweeds as sekondêre soektaal verkies het, maar Google is in hierdie opsig kultuurimperialisties. Iemand wat ‘n standaardsnuffelaar in die staatsbiblioteek gebruik (met name Chrome), sal noodwendig Engelse antwoorde kry. Is jou soekenjin op Afrikaans ingesteld, sal jy hoofsaaklik Engelse of Afrikaanse antwoorde kry. Dit is ook hoekom ek ‘n Duitse websnuffelaar gebruik – want ek soek dikwels buitelandse inligting, en verder word jy minder onder die eindelose irrelevante Engelstalige politieke rommel toegegooi! Ek gebruik wel ook die trots en eg Franse soekenjin Qwant.com en stel alles op Frans in as ek Franse inligting soek; of verander die landsverstellings op die Duitse Ecosia.org.

Probleem 2. Verder moet jy nie verwag elke tweede persoon stel noodwendig belang in jou stokperdjies nie. Die meeste besoekers is sonder twyfel skoolkinders. Augustusmaand kry ons die meeste besoeke, ‘n tipiese “skoolpatroon”, soos ons Hollandse bydraer uit Amerika dit noem. Dit bring ons voor nog ‘n dilemma: moet ons noodwendig na die pype dans van die Departement van Onderwys, of moet ons werk maak van ons eie gawes en belangstellings waarin ons uitblink? Dink maar aan buitelandse kennis.

Probleem 3. Die gehalte laat dikwels veel te wense oor, en hieroor het ons al lang debatte gevoer.

Jou een kamp voel jy moet oorspronklike navorsing gaan uithaal en self aanmekaar timmer, of die bronne nou in Duits, Frans, Engels of Afrikaans is, dit maak nie saak nie. Hierdie is tydrowende en stadige werk, want jy moet jou eie boeke aankoop, dikwels self die onderhoude gaan voer, foto’s neem, en op ‘n betroubare derdepartywerf gaan of laat oplaai, self die navorsing en naslaanwerk in die biblioteek en op die internet doen. Om dus kompleet soos Lara Croft, Sly Cooper en Indiana Jones vir die strukturalis, Wladimir Propp, dolgelukkig te maak in die volvoering van jou heldetaak deur die skatkamers oop te breek, op soek na die Heilige Graal. Net soos in die volksverhale. Jou bedreigings is die burokrasie, afstand en tyd. Maar mense toon die grootste waardering hiervoor, veral as jou navorsing bronne beskikbaar stel waarvan niemand ooit bewus was nie, soos die hoeveelheid bladtrekke aanhoudend getuig. Dikwels verkies hierdie kamp ook sake wat nie meer aktueel is nie. Maar daar duik nog ‘n probleem op – dikwels  raak die inligting so baie en oorweldigend, jy word saam met Alice in ‘n konyntjiegat ingesluk. Dink maar aan die honderde artikels, menings en boeke oor Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins daarbuite. Dit sal jou seker sewentig jaar duur om alle bronne deur te werk, op te som en af te handel.

Die tweede kamp vertaal hoofsaaklik uit Engels. Dit het sy voordele en nadele. Die voordeel: Dit is gerieflik, jy hoef geen bronne te gaan soek nie. Jou besoekers kry die presiese inligting wat hulle wil hê in sy eie taal, vir ‘n gegewe oomblik. Die nadele: 1) Die Engelse Wikipedia verander byna oornag, nie altyd ten goede nie. Jou Franse en Duitse Wikipedia verander weer redelik stadig. 2) Baie vertaal maar power, deels omdat ‘n woord-vir-woord-vertaling gevolg word, met ruim hoeveelheid Anglisismes wat opduik. Die doel van vertaling is om die “gedagte” vas te vang en in jou eie woorde om te sit. As ek nou maar ‘n gedig kan gebruik, F.W. Reitz se verwerking (“Klaas Geswind en syn perd”) van Burns se “Tam O’Shanter”, ter illustrasie (met dank aan A.P. Grové se referaat uit “Afrikanerkultuur….”, 1980:125):

But pleasures are like poppies spread –

You seize the flow’r, its bloom is shed;

Or like the snow falls in the river –

A moment white – then melts for ever

 

Plesier is nes ‘n jong komkommer:

As jy hom pluk, verlep hy sommer;

Of nes ‘n skilpad in syn dop in:

Soos jy hom vat, dan trek hy kop in.

Dit is hoe ‘n Afrikaanse Wikipedia-artikel min of meer behoort te lyk, sonder om die waarheid te verkrag. Dit is dus tragies as die Engelse etimologie klakkeloos net so vertaal word, terwyl jou Afrikaanse woordherkoms heeltemal ignoreer is. Hallo! Dis ‘n Afrikaanse Wikipedia! ‘n Bietjie kultuursensitiwiteit sal nie kwaaddoen nie. In hierdie wêreld waar ek daagliks Duits en Hollands lees vind ek so iets heeltemal belaglik!

Jou laaste kamp voel ons moet fokus op brandaktuele sake, al is die inligting hoe karig, om die maksimum lesers te trek. ‘n Goeie voorbeeld is Gerda Steyn, die wenner van die Comrades Marathon 2019. Op 10 Junie 2019 kry die blad 698 kyke, maar die belangstelling val binne enkele dae soos ‘n baksteen. Vandag wissel die daaglikse besoeke tussen 6 tot 2 tot niks. Daarop vra ek my dikwels: is dit die moeite werd om al jou kragte uit te put suiwer om nuuswaardige artikels? Vir één enkele dag? Om miskien een potensiële bydraer te werf? Die teenantwoord daarop is: die karige inligting sal ander mense motiveer om self in te spring. Wat dink jy?

Probleem 4: “Vrotpootjie”, my Afrikaanse benaming vir link rot. Soms klik jy op ‘n skakel in die verwysings of bronnelys, en jy kry die 404. Of, soos baie ou Naspers-artikels, die “uitklok”-terapie, omdat hul argief oornag gesluit is. En dit, mense, doen jou geloofwaardigheid geweldige skade aan. Die Franse en Italiaanse Wikipedia werk met ‘n outomatiese argiveringstelsel (wat ook sy gebreke het!), maar by die Afrikaanse, Nederlandse en Duitse Wikipedia werk ons nog handmatig. archive.is het gelukkig baie van die ou bronne laat behoue bly, en daarvoor is ek die Yslanders ewig dankbaar. Deesdae probeer ek maar liefs elke aanlynbron eers by archive.org of archive.is berg voordat ek ‘n artikel skryf – werk die een nie, werk die ander. Ek gebruik ook ‘n lieflike stukkie gereedskap uit die tuinhuis genaamd Checklinks in my speurtog, wat ek weer by ‘n Hollander woonagtig in Suidoostelike dele van Engeland gekry het.

Gepraat oor daardie vertalingpogings, wat doen julle om die Afrikanerkultuur te bevorder?

Es gibt keine patriotische Kunst und keine patriotische Wissenschaft. Beide gehören, wie alles hohe Gute, der ganzen Welt an und können nur durch allgemeine freie Wechselwirkung aller zugleich Lebenden, in steter Rücksicht auf das, was uns vom Vergangenen übrig und bekannt ist, gefördert werden.”

Daar bestaan nie iets soos patriotiese kuns of patriotiese wetenskap nie. Soos alle “goeie gawes” is hierdie twee ook die hele wêreld se erfstukke. Slegs deur die algemeen vrye wisselwerking kan hierdie, in konstante nabetragting wat aan ons oorgebly en bekend is, onder alle lewendes bevorder word.

– Uit die mond van Goethe, soos aangehaal as motto uit my geliefde argeologiese boek, Götter, Gräber und Gelehrte (1949), deur C.W. Ceram, die skuilnaam van die Kurt Wilhelm Marek.

Wat is die Afrikanerkultuur? Die vraag is nou al so holrug gery en steeds hou die akademie en media ons aan die praat, praat, praat daaroor. Hordes van my ouderdomsgenote ly aan ‘n soort psigotiese identiteitskrisis… en ek snork soos ‘n bees daaroor.

Ek gaan eers ‘n kort geskiedkundige oorsig gee, and dan terugkom na Goethe toe. Wat jy wel sal sien, is hoe die beweging van die Afrikanerkultuur voortdurend fluktueer – ons kan nie daarop ‘n ensiklopedie uitbou nie. Wel op die manier van Goethe.

In 1968 word die Afrikanerkultuur so saamgevat deur D.J. Kotzé in sy boek Positiewe Nasionalisme, nadat hy soveel keer getoon het ons eet-, klere-, vervoer-, wonings-, en godsdiensgewoontes lyk nie meer soos 100 jaar terug nie, wat toon wat oorbly as jy alles sou wegstroop (p. 40):

By die Afrikaner word die roepingsbewussyn aangetref. Die Afrikaner glo dat hy nie per toeval en tydelik in Afrika is nie, maar permanent hier geplaas is deur ‘n Hoër Hand om hier ‘n plig, taak en roeping te verrig – ‘n roeping na binne én buite. Na binne moet die Christelike evangelie en die goeie dinge van die Westerse beskawing uitgeleef word. Die Blankes moet ook die Nie-blankes van Suid-Afrika in die geleentheid stel om gekersten, beskaaf en opgelei te word, en vir hulle as voog optree totdat hulle selfstandig en volwasse is. Daar moet ook ‘n goeie verhouding tussen alle bevolkingsgroepe in die land, veral tussen Blank en Nie-Blank, bewerkstellig word. Die ekonomiese hulpbronne van Suid-Afrika moet na die beste van sy vermoë ontwikkel word en daar moet mededeelsaamheid beoefen word. Dit is die roeping na binne. Die roeping na buite sou daarin geleë wees dat die Afrikaner vir die res van die wêreld ‘n voorbeeld moet stel t.o.v. die vreedsame naasbestaan van rasse, volke en nasies in ‘n pluralistiese samelewing; om aan Afrikagebiede hulp, en selfs leiding, te verskaf; en om die wêreld te leer dat ‘n staat hom nie met die huishoudelike sake van ander state moet bemoei nie.

En Kotzé staan verder ‘n hele hoofstuk af, net soos die NG-Kerk-kategismusboekie van 1969 [let op die tydperk!], hoe soveel moeite gedoen moet word sodat almal gelukkig moet wees in die kinderkransdans van die nuutgevormde Republiek, bloot om die kommuniste in Moskou se monde te snoer. Min wetende die meeste Kommunisteleiers was nooit arm-kaalgat plaasarbeiders of mynarbeiders nie, maar dik, uitgevrete, goddelose Rykmanskinders [!] met ‘n geweldige hoë dunk van hulself, soos ek op my Goodreads-resensie saamvat van Jy kan kommuniste vertrou deur Fred C. Schwarz (1963):

Die stelling “niemand het ooit ‘n kommunis geword op ‘n leë maag nie” is ‘n infame leuen. Schwarz wys onder meer na Karl Marx, Friedrich Engels, Wladimir Lenin, Josef Stalin, Molotof, Boelganin, Kalinin, Mikojan, Kaganowitsj, Mao Tse-toeng (bibliotekaris), Tsjou En-lai (seun van skatryk Aristokraat, was student in Frankryk toe hy Kommunis geword het), Lioe Sjao-tsji (student), Tsjoe Teh (seun van ‘n ryk Sjinees, kommunis geword toe hy aan ‘n Pruisiese Militêre akademie student was), Ho Sji-minh, Whittaker Chambers, William Remington, Hal Ware. (p. 19-20)”

[…]

“’n Derde faktor in die werwing van ‘n Kommunis is intellektuele trots. Die agttien- of negentienjarige student begin die vryheid voel van sy nuwe intellektuele omgewing. Hy begin net besef hoe min sy ouers weet. Sestien of sewentien jaar lank het hy die waarheid omtrent hulle agterlikheid en onkunde nie raakgesien nie, maar nou is die lig besig om deur te breek. Hy het die laagheid van die tradisies van sy eie land ingesien en ontdek dat die nasionale helde, selfs manne soos Washington en Lincoln, deur motiewe van persoonlike selfsug en hebsug aangedryf was. Hy is ontnugter ten opsigte van sy familie en sy nasionale erfgoed en is nou ryp om bekeerd te raak tot die Kommunisme. Oortuig van sy intellektuele skranderheid, beskou hy hom as baas van die situasie, as iemand wat, weens sy voortreflike intelligensie, geregtig is om die uitvoerder te wees van die groot program vir die vernuwing en vervolmaking van die ganse mensdom. Die mensdom het bepaald nodig om verander te word, en hy is presies die man om dit teweeg te bring.”

[…]

“Mense is dronkgeslaan wanneer iemand wat skatryk gebore is en ‘n hoë posisie in die samelewing beklee, ‘n Kommunis word, sy rykdom aan Kommunistiese doeleindes bestee, en selfs tronk toe gaan in belang van die Kommunistiese saak. Baie mense sien daar geen sin in nie. Kom ons plaas ons in sy posisie. As kind het hy die beste onderwysers. Hy is baie intelligent. Baie vroeg in die lewe verneem hy dat daar geen God is nie, dat die idee van ’n God vir dom en stompsinnige mense is, en dat hy, in die reinheid en volmaaktheid van sy verstand, geen behoefte aan God het nie. Hy aanvaar die Darwinistiese teorie aangaande die oorsprong van die mens, en die Marxistiese gegewens omtrent die oorsprong van die beskawing, kultuur, sedelikheid, etiek en Godsdiens.

As jongeling sit hy op die berg van geleerdheid en betrag die vooruitgang van die diersoort uit die oerwoud via barbarisme en heidendom na die beskawing. Hy betrag die produktiewe magte wat inwerk op die mensdom en dit verdeel in volke en klasse, terwyl dit kulture, beskawings, sedelike kodes, opvoedkundige en politieke instellings en godsdienstige geloof tot stand bring. Hy sit bokant dit alles. Hy is verlore in eensame afsondering. Die lewe is sonder betekenis, doel en bestemming. Tog is hy ‘n jongeling met al die idealisme en emosionele drang van die jeug. Waar kan hy vervulling vind? Sommige soek dit in die lewe van ‘n sportman, ander in die lewe van losbandigheid. Hierdie uitweë trek hom nie aan nie.”

En nou, onder die geweldige indruk van hubris en ontnugtering, kom hierdie half-materialistiese, half-idealistiese Kommunisme op ‘n skinkbord aangebied. Materialisme lei inderdaad tot “die lewe is sonder betekenis, doel en bestemming.” , m.a.w. nihilisme. Hegel se idealisme, die dialektiek (wat self ook nie ‘n einddoel het nie, maar bloot ‘n proses is iewers heen in die onbekende in) preek nou toegewydheid, opoffering, inisiatief, determinisme vir een of ander soort Endzustand. Dit kom met ‘n visioen en heerlikheid. Dit tower sterre in sy oë om die wêreld te verower en die mensdom te vernieu. En die outjie sluk dit heelhuids in.

Maar, omdat jy jou onderwerp aan die Party se belange (“want die Party is altyd reg”), en jou eie individualiteit opoffer vir die mensdom, kom dit ook nie sonder die skeut ironie nie (p. 57):

“Die vloek van die Kommunisme is dat dit deur die Party wat dit in die lewe roep, die idealisme van sy jong rekrute neem en dit gebruik as ‘n uiteindelike instrument van diktatorskap en tirannie. Hulle verstand word uitgebuit, en hulle idealisme verlaag en hulle word vervorm tot intellektuele robotte van blinde gehoorsaamheid en skrikaanjaende doelmatigheid tot die beskikking van die Party.”

So dis hoe jou ware vrygees lyk?

En jy wil kommuniste met geld en ekonomiese vooruitgang probeer beïndruk? My skat, geld was hul vrugwater! Dit is juis die tonne geld wat hulle so ongelukkig gemaak het! Ook is dit uiters dwaas om Kommuniste te wys op die vooruitgang van Amerika as teenbeeld, want onthou, hierdie materiële mooi dinge is alles simptomaties van die klassestryd, die siekte van Kapitalisme. Die Kommuniste stel nie belang in die teenwoordige nie, maar die toekoms, en dus alles wat jy hier sien is net die rustof van die gelouterde staal wat kom. [Ons jaag al weer metafore rond, ja?]

So, my liewe mens: Hoe wil jy daardie 6,5% ekonomiese groeisyfer tussen 1961-1964 van die Republiek in stand hou met sanksies skaars 10 jaar later, net om die Kommuniste uit jou hare te hou? Maar dit sou Kotzé nie weet nie. En wat van die kritiese Hollanders probeer paai, soos hy ook in ‘n afsonderlike hoofstuk behandel? Nee – jy sou nog 30 jaar moes wag totdat hul kwistige sosiale stelsel in die 1990’s mooitjies in duie gestort het, die konfetti van die fuifpartyjie opgevee moes word (dit moes tog een of ander tyd eindig?), ‘n moord op Pim Fortuyn uitgevoer is, en dan nog Trump wat aan bewind moes kom, Brexit, en Thierry Baudet… So jammer, maar die kalender werk steeds teen die Afrikaner.

Teen die laat-1970’s lyk die F.A.K. vreeslik ontnugter in hul bundel referate getiteld Afrikanerkultuur: Fondament en Vergesig (1980), en in ‘n groot mate ook Dr. Jaap Steyn in sy boek Tuiste in eie taal (1980). Waar nasionalistiese en onafhanklikheids-vuurwerke afgeskiet is en vreugdevure hoog gebrand het in die vroeë 1960’s, tree daar ‘n algemene malaise in die 1970’s na vore. Die Afrikaner stel eenvoudig nie meer in sy volk belang nie (maar wel in hul klein afsonderlike gesinnetjies), of beskou die kultuursake as ‘n probleem vir die staat, of is by geen kultuurinstansie meer so kranig betrokke nie. Maar bowenal tree daar ‘n skaamte in as dit oor Afrikaans handel in die stede, veral in die werksplek of in die lig van die Soweto-onluste, al wys Steyn en die F.A.K. uit dit was ‘n oproer-op-oproer wat al in 1975 en vroeër begin het. Die televisie (ha-ha-ha, wie kyk nog?), die massaverbruik, die kontak met ander volke en volksvreemde gewoontes, en miskien ook diensplig, en die verraad van die Nasionalistiese Party om die “Afrikanerparty” ongevraagd in ‘n “Blanke Party” te omskep, en Van Riebeeckdag ongevraagd afgeskaf het, kon moontlik tot hierdie vervreemding bygedra het. Tog, ek vra vanoggend my moeder of sy ooit in die 1970’s aan ‘n Afrikaanse kultuurorganisasie behoort het, bo en behalwe haar intekening by die Naspers-boekekraampie genaamd Leserskring. Net die jongmensvereniging van die NG-kerk, antwoord sy. Skynbaar was daar geen behoefte om aan ‘n Afrikanerkultuurorganisasie te behoort nie?

Prof. M.J. Swart betreur in dieselfde boek die afsydigheid van die Afrikaner in die verskeie kultuurorganisasies, veral samewerking wat ontbreek onder volksgenote (pp. 87-88):

Tegelyk het ‘n baie groot, maar vroeër minder aanvaarde of selfs bestaande verskynsel momentum gekry – standeverskil tussen Afrikaners onderling wat suiwer op uiterlike beroep of besit gebaseer is. Tog werk derduisende Afrikaners van verskillende kringe steeds in die Voortrekkerbeweging, die A.T.K.B. [sic?], AKPOL, skoleverenigings, amateurtoneelverenigings en kunswedstrydverenigings saam. Afrikaners wat by internasionale liefdadigheidsgroepe aansluit, moet beslis ook met Rapportryers, Vryburgers en Junior Rapportryers rekening hou. Maar in die politieke kringe weer is die ou verdeling langs die taal- en kultuurnaat af nie meer só geldig nie. Afrikaanssprekendes bevind hulle toenemend in sektegemeentes waar die voertaal dikwels Engels is. Volkspele en jukskei word nie deur die meerderheid Afrikaners bedryf of gesteun nie – selfs die teendeel is waar. Afrikanergetalle is nie meer die gunsfaktor wat die vroeër vir hom was nie.

Verskoon my, as dit mag: terwyl die hele wêreld hul asem ophou oor die Koue Oorlog, die Grensoorlog, en bekommerd is oor ons agter raak op wetenskaplike en ekonomiese vooruitgang, waarom sit en kibbel ons nog oor iets so prosaïes soos ‘n potjie jukskei?! En ek dag tuinmaak is ‘n mors van Godgegewe tyd om iets goed te doen!

Ek dink eerder Swart se waarneming kan ons die onbetrokke-bystander-sindroom noem wat onder die publiek posgevat het: of iemand anders sal die probleem oplos (ek hoef nie) of “die staat sal daarvoor sorg” of “wie se probleem is dit dan nou eintlik?” Of dalk het nasionalisme, omskep vanuit Afrikanernasionalisme na die Suid-Afrikanisme, juis hierdie massamense gebaar? Noem dit maar ‘n kultuurvolk-op-staatsmorfien. Noudat die Afrikaner egter wéét die huidige staat in 2019 voel vere vir hom, weet hy wie se verantwoordelikheid sy kultuur is: sy eie. Wat hy nie het nie, is net sy eie skuld.

Maar gaaf, terug by die vraag oor die Afrikanerkultuur en Wikipedia: noudat Afrika nie meer sulke bovermelde en aangehaalde paternalisme (voogde, watwou!) van Kotzé nodig het nie, net so maak ek die uitbou van die Afrikakulture nou amptelik die staat se probleem, nie myne nie. En buitendien, die materialistiese SASSA-kaart, brood en melk, beteken mos meer as kultuur- en geestelike opheffing en die kweek van ‘n roostuin vir die gemiddelde mens; so, ék kan seker nou uiteindelik “etnosentristies” of “stamvas” begin raak omtrent kultuurdinge en op “my eie mense” ‘n slag begin fokus? Soos dit vanaf die begin af hoort? Daar is immers nie meer ‘n bose buitelandse media om tevrede te hou nie. Ons roem immers op ons diversiteit, nè? Soos ons landsleuse mos lui: !KE E: /XARRA //KE. (Eenheid in verskeidenheid). As ons ‘n verskeidenheid is, dan bewerk ek slegs my eie kulturele blombedding daarvan, en miskien die Europeërs s’n om ‘n bilaterale betrekking te verwesenlik…  Die res is vir hul eie staatstuine verantwoordelik.

Ek sou dus sê, ons is een van die min Wikipedias daarbuite wat werklik op ‘n nugtere wyse kritiek teen die Ubuntu-filosofie lewer. Die Nederlandse Wikipedia klou verbete aan die filosofie vas soos ‘n gebedsnoer – ‘n tragiese voorbeeld van ‘n popelende filosofiese plassie oor ‘n denkraamwerk waarvan hy niks weet nie. Ons bly hier in Afrika, en daarom ken ons sy foute in die praktyk – ubuntu se skadukant kom daarop neer jy mag nie buitekant die groepsverband dink nie, uit respek vir ander. Hier is ons net wetenskaplik eerlik. Van Wyk Louw se lojale verset is onbegryplik vir, nee, onversoenbaar met, ubuntu.

Wat het ons dan geleer uit die Suidoos-Asiatiese onkeerbare ekonomiese insinking in 1997? Die werknemers is nie alleen ontmoedig nie, maar “verbied”, “belet” om kritiek oor hul ondernemings of die land se ekonomie te lewer, want wat as dit beleggers sou afskrik? En bring jy nie skande, beswadder jy nie jou eie huis, jou werkgewers, die ouderlinge wat ouer en wyser is en van beter weet nie? ‘n Skande op jou familie. Vir jou land! Dis taboe! (The Years of Living Dangerously: Asia, from Financial Crisis to the New Millennium, Stephen Vines, 2000, p. 40) En raai wat het toe gebeur? Derduisende mense het hul werk verloor toe die aandele vou. Hierdie wegskram van die waarheid, uit hoflikheid en respek [!], is iets wat vir ons Westerlinge vreemd is. Weer – jy mag nie jou nek bokant groepsverband uitsteek nie.

Ek glo jy is skrander genoeg om die verband tussen die Asiatiese en Afrikastelsel te kon insien, en waarom dit teenproduktief werk.

Waarna ons op die Afrikaanse Wikipedia dus moet streef, in aansluiting met Goethe se aanhaling, is wetenskaplike eerlikheid en nugterheid. Solank ons elke moontlike hoek en kant ondersoek, kan daar nie van ‘n wisselvallige “Zeitgeist” gepraat word nie. Daarop wil ek die Afrikaanse Wikipedia uitbou. Ons moet ook nie, soos die bovermelde Suidoos-Asiate, links en regs ons surplus geld verkwis op spreekwoordelike “aandele”, net om te wys daar is lewe in die brouery (of ekonomiese casino) of ‘n vinnige slag te slaan nie. Nee, ons moet ons bestaande produkte met die surplus geld uitbou, verbeter, konstant vernuwe, innoveer. Ons moet in ons eiegoed belê.  En geld put in konstante navorsing. En soos Warren Buffet gesê het – hy glo nie in aandele belê nie, hy glo daarin om in die maatskappy self te belê; daar is ‘n nuanseverskil. Dus, koop vandag ‘n Afrikaanse boek as jy wil, maar nie as ‘n simbool nie. Gebruik dit. Nuttig.

Op soortgelyke wyse moet ons ook die mites en volksverhale in die Afrikanerkultuur betref nie oor die hoof sien nie. As daar vaktydskrifartikels of boeke is wat die “Heks van Hexrivier”, “Waar ruwe rotse” én “Die vloek van Boontjieskraal” op grond van die waarheid weerlê en die leser ontnugter, soveel te beter. Dikwels bly dit ‘n maaksel wat deur herhaling op herhaling deur die pers aan die gang gehou word, sonder dat mense dit enigsins oordink. En niemand steur hul eintlik daaraan nie. Die ironie, het ek wel bevind, is dat mense, wanneer jy ‘n genadelose aanval met steenharde wetenskaplike feite loods en die glas breek, opnuut, in ‘n byna postmoderne sin, in hierdie mites en volksverhale soos die Evangelie wíl glo. Kyk, dan het jy mos nou aan iets heiligs gevat; hoe durf jy! Daar is trouens ‘n liefdesroman en ‘n radiodrama oor twéé van hierdie volksverhale verewig (sommiges sommer kort nadat ek ‘n artikel begin het!), en ek glo daar sal nog rolprente hieroor gemaak word wat miljoene by die loket gaan verdien!

Waar kry jy jou bronne?

Archive.org, Google Play, Google Books, ‘n Duitse aanlynboekwinkel gesetel in Pretoria, ‘n Afrikaanse aanlynboekwinkel gesetel in Hatfield , en ‘n Afrikaanse tweedehandse aanlynboekwinkel gesetel in Roodepoort. En verder koop ek ‘n boek teen R1,00 tot R2,00 stuk by ons pragtige, maar onderbenutte, dorpsbiblioteek. In Kontrei onthou Kleinboer elke dorp aan die hoere wat hy daar besoek het. Suidpunt onthou ‘n dorp aan die boeke wat hy daar gekoop het. Ek bid nog hard dat daar ‘n Franse boekwinkel êrens in Suid-Afrika sal oopmaak… Pour le bien de la France.

Ek was nou die dag by ‘n tweedehandse winkel op Struisbaai en my oë skeer so oor twee dik rooi-groen boeke met die woorde “Van Dale”, “Handwoordenboek”, “Nederlands-Duits” en “Duits-Nederlands”. Jou kop registreer net: “Gryp!” “Dadelik!” “Gou!” “Voor iemand anders!” “Donder man, hol net!” en voor jy kon kry gryp jy soos ‘n besetene die goed van die rak af. R20,00 stuk. Nog ‘n slag is geslaan.

Die grootste genot was êrens in die Boland. Ek het heel verveeld in die tweedehandse boekwinkel rondgekyk, en vir die dame gevra of daar nie miskien nog ‘n paar boeke is waarvan ek nie weet nie. Omdat sy weet ek is een van haar lojaalste klante, het sy soos Persephone in The Matrix:Reloaded (2003) my met die trap af na ‘n kelderkamer gelei – boeke gestapel van bo tot onder. En daar het ek elke liewe Afrikaanse taalkundeboek uitgevis wat ek kon. My vingerpunte was inkswart en vetterig agterna, maar versadig en tevrede.  Sien, jy moet net vra!

Sal die Afrikaanse Wikipedia ooit ‘n handboek  kan vervang?

Handboek? Nee, nooit. Ek sit met ‘n handboek Wildplaasbestuur deur J. du P. Bothma (tweede uitgawe, 1995). ‘n Aardige 602 bladsye. En mens kan slegs ‘n geringe opsomming daarvan gee. As jy in detail oor die voordele en nadele, siektes, peste en plae van luiperds op ‘n wildsplaas wil skryf, dan moet jy self die boek op ‘n manier in die hande probeer kry. Dit raak uiters gedetailleerd. Genoeg om my af te skrik om ooit ‘n wildsplaas te begin! Dit is so gevoelig, daar is net te veel wat kan verkeerd loop. Wikipedia is slegs die beginpunt, ‘n aptytwekker, niks meer nie.

As ek byvoorbeeld die redelike lang essay, Raiders of the Lost Empire, deur Dan Roodt, sou opsom, sien ek hy bou sy boek rondom vier standpunte uit. Ek kan egter nie in detail alles weergee wat hy sê nie. Met ‘n handboek beslis nie so nie. Maar dit spaar tog tyd en sal die belangstelling prikkel.

So sit ek ook met Le Husky Sibérien (1985) deur die Kanadese veearts, Dr. Dominique Grandjean, en ook hierdie honderas beslaan 345 bladsye. Hoe jy dit alles tot ‘n Wikipedia-artikel gaan omsit, sal net jy weet. Maar miskien moet jy eers Frans goed leer ken – dis ‘n goeie beginpunt.

Soos ‘n motorwrak kan jy slegs ‘n paar onderdele stroop van elke boek, maar nie alles gebruik nie.

Selfs al is jou artikel ook hoe oorvolledig (waarna ons almal streef), handel ons steeds met tweedehandse inligting. Jy kan nie jou eie mening afdwing nie, dit is beslis nie ‘n beredenerende  opstel wat jy skryf nie. Jy lewer slegs ‘n relaas van die geskiedenis. Soos ek pas genoem het, jy kan slegs opsommings gee. As jy egter ‘n handboek wil skryf is daar ons sustersprojek genaamd “Wikiboeke”. Jy kan daar selfs praktiese oefeninge gee, met antwoorde, as jy wil.

Hoe verskil die Afrikaanse Wikipedia van ander gemeenskappe?

Haai, dis maklik. As gemeenskap is die lot op twitter ‘n spul onbeskofte aandagvrate [ek skaam my rot vir die plasings daarso] wat glad nie weet hoe om Van Wyk Louw se oop gesprek te voer nie. Ek voel skoon vuil as ek daar was. Tog werk twitter lekker as jy wil weet hoe ‘n plan vorm aanneem of waarmee ‘n skrywer op die oomblik besig is. Die klomp op Quora.com is nie werklik ‘n gemeenskap nie en radiostasies, net soos die Kerkblaaie en ander gedrukte ensiklopedieë, is eenrigtingverkeer.

In watter opsig sou jy sê is die Afrikaanse Wikipedia beter as ander bronne wat die aanbieding betref?

Jou probleem met aanlynkoerante, twitter en Facebook is die nuus wat vinnig verdwyn en in die doofpot gestop word. En die mensdom het ‘n vreeslike kort geheue ontwikkel. Uit die oog, uit die hart. Maar soos boeke by antikwariate waarop mens gereeld afkom waarvan almal vergeet het, kan jy altyd terugkeer na ‘n Wikipedia-artikel. Dit raak ‘n spilpunt waar jy alle bronne, oud of nuut, bymekaarbring. Waar jy orde uit die chaos van die internet probeer skep. Jy moet die inligting net bewerk volgens datum (as jy volgens ‘n tydlyn wil werk), of volgens ‘n standpunt, of tema. Ek dink dit sal enorm baie help as om elke Maandagoggend presies dieselfde standpunte op Praatsaam te hoor wat vyf jaar gelede deur presies dieselfde ou tannies op die leerstoel kwytgeraak is. Die radio het nou maar die nadeel van herhaal-herhaal-herhaal. Op Wikipedia speld jy die standpunt vas saam met die tien ander – en miskien noop dit die lot sprekers om bietjie kreatief op te tree (veral as tien weerleggings per standpunt gelys word).

Quora.com het weer die probleem dat die antwoorde op ‘n vraag te veel en herhalend raak; soos YouTube-kommentaar. Gestel een vraag kry ‘n duisend antwoorde – gaan jy dit werklik alles deurlees? Dit werk volgens ‘n opduimpie-stelsel. Dus, ‘n oorvereenvoudigde antwoord wat die siniesste of snaaksste klink, beland bo-aan die trefferlys. Maar is dit noodwendig die béste antwoord? Hoe kan jy ‘n hoogs gekompliseerde probleem, waaroor boekdele geskryf is, maar net aflag in ‘n enkele sin? Dis mos malligheid! Dieselfde probleem met twitter. Ook baie van die antwoorde daar is gegrond op anekdotes.

Ek dink ook wat die Afrikaanse Wikipedia in die besonder anders kan maak, byvoorbeeld teenoor die Engelse en Duitse Wikipedia, is die geweldige groot aandag wat geskenk kan word aan die resensies en akademiese besprekings van ‘n Afrikaanse (of anderstalige) boek. Want van die bronne is so verouderd dat dit nie meer herdruk word nie. Gelukkig, vir ons, sien ek is van daardie ou uitgawes van Tydskrif vir Letterkunde nou op archive.org. En dis wonderlik! Ons leef in ‘n wêreld waar Afrikaanse bronne gedigitaliseer word, maar ons sal wel werk daarvan moet maak om hierdie inligting te integreer.

Potgooie weet ons het geen skrif nie, en jy kan nie die antwoorde in potgooie gaan google nie. Oor Wolwedans in die skemer het ek ‘n onderhoud op Monitor, 16 Oktober 2012, wat 12 minute geduur het, opgesom in ‘n enkele paragraaf van 220 woorde. As ek die teks stadig en hardop lees is dit 1 minuut en 12 sekondes lank. Ek spaar jou dus meer as 10 minute luistertyd! Potgooie werk wonderlik vir die stemtoon (om die konteks te snap), die direkte onderhoudvoering (praat werk vinniger as skryf), ens. wat jy nie op skrif vind nie. Jy kan ook na die potgooi luister terwyl jy jou T-hempie stryk. Maar mense hakkel, stotter, herformuleer hul sinne, onderbreek mekaar, vra beleefd om verskoning vir die onderbreking, stem saam, dink hardop, uhhh, praat te sag, praat te hard – en binne 12 minute kon jy ‘n kwart van ‘n luisterboek klaargeluister het. Dieselfde met inbelprogramme wat ‘n uur lank duur: Op die ou end sit jy bloot met drie of hoogstens vyf verskillende standpunte (“en sit jou donderse radio af!”). By die Wikipedia-artikel kan jy vinnig na hoofopskrifte en kernwoorde soek (Ctrl + F) – met ‘n potgooi en YouTube-video moet jy enduit luister.

Verlede week het ek afgekom op Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift, die heel eerste Nederlandse tydskrif vanuit Suid-Afrikaanse bodem, op Google Play. Google Books en Google Play se kategorisering en indeksering is pateties, want elke keer spoeg die soekresultate heel lukraak, oor en oor, slegs 3 verskillende jaargange uit, ongeag watter jaartal as soekwoord jy intik, en hoewel jy voor jou siel weet daar is beslis 20 boekdele daarbuite. Dit het my byna ‘n dag geneem om 19 uit die 20 te vind. Dink nou aan iemand wat haastig daardie bronne nóú nodig het! Ek moes op Google Books se soekenjin intik “Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tydschrift w 5 d 2 8 h” (dus, met die stelsel rondneuk en hom onsedelik aanrand) om daardie jaargang 1828 uiteindelik in die soekresultate te kry. Ek soek wel nog na 1836, so, as iemand hom sou gewaar, lewendig of dood… So, om tyd te spaar vir ander (en jouself), skep jy blitsvinnig ‘n artikel waarin jy al hierdie beskikbare bronne onder mekaar lys, met die nodige skakels langsaan. En siedaar!

Eties gesproke is ek wel wat fiksie betref, in twee verskeurd. Gestel nou maar iemand het breedvoerig oor Moltrein se intrige (“plot”) geskryf in 2006 (twee jaar nadat die boek verskyn het), sou mens nie die skrywer in daardie opsig van inkomste beroof het nie? Om daardie rede probeer ek ‘n tienjaarspeling gee met Suid-Afrikaanse of Namibiese skrywers se werke. Wat Duitse, Nederlandse, Engelse, Sweedse en Franse skrywers se werke betref, gee ek nie ‘n bloue duit om nie – jou gemiddelde Afrikaanse leser sou daardie werke in elk geval nie koop of lees nie, of weinig buitelandse lesers sou die moeite doen om die Afrikaanse Wikipedia deur te lees om meer oor die intrige te wete te kom.

Wikipedia laat jou ook besef wanneer inligting ontbreek; daarom kan jy self die inisiatief neem en die skrywer of wetenskaplike gaan peper met vrae terwyl hy/sy nog leef (en op ‘n derdepartywebwerf laat publiseer, as bron). Gewoonlik, nadat ek die artikel geskryf het, sal ek die skrywer persoonlik kontak om te hoor of hy tevrede is met die artikel en of daar enige inligting kort (soos onderhoude wat met hom ondertussen oor die betrokke werk gevoer is). Tot dusver was geen skrywer nog dikbek daaroor nie, inteendeel.

Ten laaste, omdat ons ook artikels uit ander Wikipedias kan vertaal, verryk ons die Afrikaanse leeswêreld. Solank mens natuurlik vir die Afrikaanse leser die konteks goed verduidelik hoe vreemder die kultuur raak. Selfs ons eie Westerlinge sal ‘n kultuurskok beleef hoe meer ons teruggaan in ons eie kultuurgeskiedenis. Uit Regters aan die woord: ‘n aantal uitsprake van die Hooggeregshof (1971: 73) lees ons byvoorbeeld:

Volgens die Germaanse reg het die man wat buitenegtelike geslagsverkeer beoefen geen adulterie gepleeg nie en sy vrou kon op daardie grond hom nie teen sy sin skei nie. Dit sê veel dat selfs in die meer verligte Germaanse geweste die vrou haar man kon skei slegs indien hy ‘n onnatuurlike geslagsdaad met ‘n man pleeg of indien hy haar teen haar sin aan prostitusie blootstel. Speelkinders het by die Longobarde saam met hulle regte broers geërf, maar hulle porsies was kleiner. Waar die regsordening so ingestel was, was ‘n deliktiese regsvordering van ‘n vrou teen haar neweboelster ondenkbaar.

Waarom dit so was, probeer ek nog uitpluis. Is dit miskien die hoë sterflikheidsyfer dat sulke veelwywery verduur is om erfgename te verseker?

Is daar enige akademiese belangstelling in die Afrikaanse Wikipedia?

Vra jy nog!

Afgesien van Maroela Media se betrokkenheid, was die héél eerste hoogleraar wat belangstelling in ons getoon het Professor Laurette Pretorius. Ek weet nie of WikimediaZA haar eerste genader het, en of sy húlle genader het nie, maar haar betrokkenheid is sedertdien glad nie minder nie. Sy het eers gepraat op Die tale wat ons praat op 1 November 2015. Daarna volg ‘n vaktydskrifartikel. Professor Gerhard van Huyssteen, Alex Antonites en Melodi Botha volg met hul eie artikel in dieselfde tydskrif .

En onlangs, uit die mond van ons woordvoerder, met die gebruikersnaam Oesjaar:

Gemeenskap, ek het vandag ‘n simposium bygewoon saam met Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, VIVA, ATKV en nog ‘n paar ander organisasies. Sodra ek die volledige presensielys het sal ek ‘n verslag skryf. Dit was ‘n interessante dag. Groete! Oesjaar (kontak) 19:34, 29 Julie 2019 (UTC)

Die volgende organisasies was teenwoordig:

  • Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK)
  • Maroela Media
  • Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI)
  • Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV)
  • Afrikaanse Taalraad (ATR)
  • South African Centre for Digital Language Resources (SADiLaR)
  • Virtuele Instituut vir Afrikaans (ViVA)

Prof Laurette Pretorius het die vergadering gelei. Sy het een ding duidelik uitgewys: die aantal eenlyn-artikels wat sedert Augustus 2018 geskep is en volgens haar weinige waarde tot die Wikipedia toegevoeg het gemeet aan die Wikipedia doelwitte en standaarde. Sy is reg…ek het wel haar daarop gewys dat ons dit deels gedoen het in ‘n poging om die Wiki te groei; indien die saadjie bestaan is dit makliker om dit verder te groei deur nuwe gebruikers.

Prof Annemarie Beukes (Voorsitter SAAWK) het baie vrae gevra oor vertalingsprogramme. Prof Pretorius het onmiddellik daarop gewys dat die Engelse Wikipedia masjien vertalings verbied het. Dié feit is bevestig deur raad van WikimediaZA, waarop ek as ‘n lid dien. Prof Gerhard van Huyssteen het daarop gewys dat hy beïndruk is met Google Translate.

Ek, as Wiki-gebruiker, was effektief almal hierbo se kliënt. Ek het hulle op vier dinge gewys:

  • dat ons te min inhoud skep (te min aktiewe gebruikers)
  • soos die Wiki groei word die instandhouding (logistiek) verantwoordelikheid groter (bv. ATKV pryswenners moet opdateer word, Comrades-wenners, verandering van taksonomie ens. en die lys is lank)
  • ons sukkel met tegniese vertalings (terminologie) en dit is hier waar bogenoemde organisasies ‘n ontsettende belangrike en groot taak het. Ek het die verteenwoordigers gevra om vir my: depleted uranium tipped armourpiercing shells te vertaal. Hulle het die boodskap verstaan…
  • ons is die laaste geslag wat hierdie dinge kan omdraai…

Gerhard het ‘n model op die spreekwoordelike tafel gesit oor die rol wat al die verteenwoordigers speel om te verseker dat enige navraag vanaf Wiki outomaties na hulle verwys word, die proses wat dit sal volg en hoe dit werk. Wikiwoordeboek speel ‘n integrale rol hier. Ek kan met trots sê dat Gerhard en Gebruiker:Naudefj reeds werk aan ‘n oplossing om VIVA se woordedatabasis outomaties oor te dra na Wikiwoordeboek! Dankie Frank! Ons gaan net die model verwoord alvorens ek dit beskikbaar gaan stel.

Ek het baie vrae beantwoord, hopenlik korrek!

Vir my is die dag ‘n sukses, ek kon ‘n bewusmaking skep oor die rol van Wikipedia en hoe belangrik die organisasies teenwoordig se samewerking is. Ek het ook vir Prof J.E.H. Grobler ontmoet, hy het opleiding versoek…. Ek gaan hom help. Groete! Oesjaar (kontak) 06:03, 30 Julie 2019 (UTC)

Die hoogleraars en organisasies, neem ek aan, het besluit hulle gaan eerder op die kantlyn sit in raadgewende hoedanigheid (dit wil sê, hulle laat die werk in ons bekwame hande oor en wil nie inmeng nie). Nou daar was diegene in die verlede wat hieroor gemor het: Ons doen al die werk en munt nuwe vakwoorde en die proffies oes ryklik van ons hawer, kompleet soos voor die Grande Jacquerie in die jaar 1358. En ek was self krities, want dit kon bloot wees om nog ietsie te hê om jou CV mee af te rond. Met ander woorde, slegs in naam is die ander organisasies by die Afrikaanse Wikipedia betrokke. Maar die feit bly staan: iemand moet steeds die vis en tjips loop bak, sonder akademiese besoldiging!

Gewoonlik sukkel ‘n mens om die wedersydse voordele in te sien as dit nie duidelik uitgespel word nie.

Aan die ander kant het die professore veel meer invloed as enigeen van ons, byvoorbeeld, deur bewusmaking of verbintenisse in die buiteland. En van hul kant af verskaf universiteite in hul stilligheid bronne aan ons – soos Tukkies wat Tydskrif vir Letterkunde vanaf 1936 tot 2001 vryelik beskikbaar gestel het op archive.org. Hulle kon geweier het. Onthou, hul biblioteke is stampvol boeke wat nog digitaal gemaak moet word. Dis ‘n datamyn soos min. Ons moet dit slegs mildelik gebruik. Moet dus nie sê: “fonteintjie, ek sal nooit weer van jou drink nie”. As dit ons geld kan spaar, kan ons dit op ander bronne uitgee.

Wat beplan jy nog om te doen?

Tussen die vaklektuur en fiksie deur wat ek graag wil opsom, wil ek nog graag één artikel oor die ekonomiese opbloei van Venesië uit Duits vertaal (Wirtschaftsgeschichte der Republik Venedig), ‘n voorbladartikel. So tussendeur wil ek ook “Volksetimologie” klaarmaak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.