Leon Lemmer: ‘n Pleidooi vir Afrikaans op Afrikaansdag

Deel op

Ek het in ‘n eentalige Afrikaanse huis grootgeword. Ek het in Afrikaans op skool en aan die universiteit, voor- en nagraads, studeer. Ek het meer as ‘n honderd artikels en resensies in vaktydskrifte gepubliseer; alles in Afrikaans. Op die internet het ek op twee webwerwe (Praag en LitNet) honderde artikels in Afrikaans gepubliseer. Ek het wesenlik en ongetransformeerd Afrikaans gebly en sal Afrikaans doodgaan. Jaap Steyn noem dit taalgetrouheid.

Op skool, aan die plaaslike universiteit en in die omgang is dit by my ingeprent dat Afrikaans so suiwer moontlik gebruik moet word. Ek was en is trots om ‘n Afrikaner en Afrikaans te wees. Sedert 1975 word Afrikaanssprekendes se trots op Afrikaans deur die Taalmonument in die Paarl gesimboliseer. Om lief vir Afrikaans te wees en hierdie taal as die aangewese middel te gebruik om so duidelik moontlik uitdrukking te gee aan wat ek dink en doen, het ‘n vanselfsprekendheid, ‘n lewenslange leefwyse, geword.

My Afrikaanse leefwyse is gesteun deur my onderwysers, dosente, kollegas, vriende, gesins- en familielede. Tradisioneel het Afrikaansinstansies soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns* en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) Afrikaans daadwerklik bevorder en gebruikers aangemoedig om die taal so suiwer moontlik te gebruik. Die Afrikaanse koerante, populêre en vaktydskrifte, asook die Afrikaanse radiodiens, het inligting in suiwer Afrikaans versprei en sodanige taalgebruik aangemoedig.

[* In die Akademie se missie staan: “die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans.”]

Sedert 1994 het die situasie radikaal verander. “The past is a foreign country” (LP Hartley, David Lowenthal). Afrikaanse skole word al hoe minder. Afrikaanse universiteite bestaan feitlik nie meer nie; by uitstek omdat veral Afrikaanssprekende hanskakies weens kruipsug hulle vir die (algehele) verengelsing van hierdie inrigtings beywer. Afrikaansinstansies soos die SA Akademie, die ATKV en die Afrikaanse Taalraad (ATR) propageer nie meer suiwer Afrikaans nie; selfs nie die bevordering van Afrikaans as sodanig nie; veel eerder dat meertaligheid moet gedy; op die gevaar af dat Afrikaans uitgesluit word. Twee Afrikanerheiligdomme, die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), het tot in hulle kern ontaard. “I wonder who will be the last, the very last, to seek this place for what it was” (Philip Larkin).

  • ‘n Afrikaanstaalkundige het die kernrol in die bestuur van Afrikaans aan ‘n tradisioneel Afrikaanse universiteit gespeel. Hy het deurgaans groot lof gehad vir die manier waarop Afrikaans agtereenvolgens deur drie rektore bestuur is (Leon de Stadler). Die verstekonderrigtaal het egter van Afrikaans na Engels verander.
  • Die hoof van ‘n Afrikaansdepartement aan ‘n eens Afrikaanse universiteit beveel aan dat daar nie vir Afrikaans nie maar vir meertaligheid geveg moet word *(Rufus H Gouws).

[* Die volgende redenasie het mode geword: Frans Nel van Hermanus skryf: Om “vir ons taal te ‘veg’ … maak net nog vyande van ons taal” (Die Burger, 9.08.2019, p 10). Dus, laat Afrikaans maar in sy swernoot gaan. Waaraan Afrikaners voorkeur moet gee, is nie die heil van ons moedertaal nie maar eerder ‘n groter nieblanke vriendekring.]

  • ‘n Akademikus wat sy brood daagliks danksy Afrikaans verdien en uit hoofde van sy pos toegelaat word om ‘n kernrol in die heil van Afrikaans te speel, bv as voorsitter van die Akademie se Taalkommissie,* verklaar openlik dat hy nie bereid is om vir Afrikaans te veg nie (Gerhard van Huyssteen).

[* Geen wonder dat township in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls die nuwe Afrikaanse woord vir lokasie geword het nie. Volgens Jana Luther, Fred Pheiffer en Rufus H Gouws se Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is betekenisryke Afrikaanse woorde soos lokasie en klonkie “rassisties”. Op hierdie manier word Afrikaans om linkse politieke redes doelbewus verarm. As ‘n mens sake suiwer taalkundig, bv nie-polities, benader, het die k-woord én die h-woord ongetwyfeld onvervangbare seggingskrag. Die woord kanker kan gevoelens onmeetlik seermaak, maar geen woord behoort op grond daarvan verbied te word nie.]

  • Die redakteur van ‘n Afrikaanse koerant het daarop geroem dat hy nie bereid is om Afrikaans te bevorder nie (Henry Jeffreys). Sedertdien het sy opvolgers sy voorbeeld nagevolg.
  • ‘n Afrikaanstaalkundige en die hoofouteur van ‘n boek oor Afrikaans wat 1 814 bladsye beslaan, versuim om daarin besorgheid oor die huidige gehalte, bv die graad van verengelsing, van Afrikaans uit te spreek.* Daarenteen word die mengeltaal Kaaps eerder geloof as veroordeel (Wannie Carstens).

[* In die hofsaak oor die huidige taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch is genoem dat 62% van die bruin eerstejaarstudente in 2015 en 64% in 2016 Engels as onderrigtaal verkies het (Die Burger, 9.08.2019, p 3). In hulle latere studiejare neem daardie persentasies skerp toe. In die Noord-Kaap dring Afrikaanssprekende bruin ouers aan op Engels as skoolonderrigtaal, bv op Springbok. By bruin mense, veral die elite, is daar histories en sedert 1994 sprekende bewyse van taalontrouheid. Dit is ongetwyfeld dwaas om die toekoms van Afrikaans aan die bruin gemeenskap toe te vertrou, soos Carstens en diesulkes polities byderwets doen.]

  • ‘n Mederedakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) skryf: “Die verbete najaag van Afrikaanse taalsuiwerheid – met ‘n sterk skeut nasionalisme en ‘n antagonisme jeens Engels – dateer uit ‘n vorige era. Dit was nouliks taalkundig gefundeer” (Netwerk24, 12.07.2019). Die wisselwerking van Afrikaans en Engels word ongekwalifiseerd taalontwikkeling genoem en lewer glo ‘n bydrae tot die oorlewing van Afrikaans. Deur die oorname van Engelse woorde aan te wakker, ontmoedig hy woordskepping en dus die ontwikkeling van eiesoortige Afrikaans. Wat hy in werklikheid nastreef, is om Afrikaans agteruit te reverse. Daar is geen aanduiding dat ‘n snars omgegee word vir die oorlewing van Afrikaans in ‘n agbare, nie-aanstootlike vorm nie. Die boodskap is: Afrikaanssprekendes moet ontslae raak van die bagasie wat veroorsaak dat hulle hulle teen anglisismes verset. Klaarblyklik moet geradbraakte Afrikaans ter wille van die taal se oorlewing verwelkom word (Fred Pheiffer). Dus, Afrikaans kan slegs in oneer voortbestaan en hy berus daarin.

Elkeen van hierdie halfdosyn gevalle is aan ‘n spesifieke individu gekoppel. Hierdie ses mense woon ongeskonde tussen ons asof hulle geen onreg jeens Afrikaans gepleeg het nie.

‘n Mens moet nie vra hoe is dit moontlik nie, want hierdie dinge gebeur werklik. Jy moet eerder vra: Waarom gebeur dit? Omdat dit as polities verkramp beskou word om vir Afrikaans in die bres te tree. Ook omdat blanke Afrikaanssprekendes deur propaganda geïntimideer en gekondisioneer word om skaam vir eerder as trots op hulle verlede, hulleself en hulle moedertaal te wees.

Waarom is daar nie meer ‘n passie vir Afrikaans nie? Waarom is Afrikaans nie meer heilig nie? Waarom kan daar maar sonder beperking met Afrikaans gemors word? Omdat toegelaat word dat die Afrikaner as ‘n ongewenste verskynsel voorgestel word. Die standaardstrategie is om apartheid as net sleg te verdoem terwyl die rassistiese uitgangspunt eintlik is om die Afrikaner as ongeneeslik siek voor te stel. En hieraan doen mense wat eens Afrikaners was met oorgawe mee want hulle soek glo heling, ontsmetting, transformasie, ‘n diepe kloof tussen die verlede en die hede, asof die verlede nie glansryker was as wat die onverkwiklike hede is nie.

“The leaf unable to predict the fall” (WH Auden). Wie sou vóór 1994 kon dink dat ons in ‘n situasie sou beland waarin daar nie ‘n enkele Afrikaansdosent aan die universiteite oor is wat daarvoor bekend is dat hy/sy hom/haar vir die voortbestaan van suiwer(der) Afrikaans beywer nie? Dit is ook waar van al die genoemde instansies wat hulle as pro-Afrikaans voordoen. Dít is gewoon ‘n skande. Dít is heeltemal onaanvaarbaar. Dít is werklik iets om oor skaam te wees.

Sonja Loots bied ‘n sprankie hoop. In haar rubriek (Rapport 28.07.2019) tree sy in die bres vir nie-anglisistiese Afrikaans. Dalk gee dit positiewe leiding aan haar mede-Afrikaansdosente. Maar sy is, in die mate wat dit geldig is, ‘n onlangse bekeerling tot enigiets wat pro-Afrikaner is. Gebruik gerus die Praag-soekfunksie vir bewyse.

Die Here sou Sodom nie verdelg as daar selfs maar net tien regverdiges was nie (Genesis 18:32). Onder Afrikaansdosente en Afrikaansinstansies is daar eintlik nie ‘n enkele een nie. Dit is ‘n verdoemende getuigskrif. Hoeveel van hulle gaan die geleentheid aangryp om vandag ‘n pleidooi vir Afrikaans te lewer? Heel moontlik nie ‘n enkele een nie. Watter Afrikaanse koerante sal vandag ‘n spesiale poging aanwend om Afrikaans te bevorder? Waarskynlik geeneen nie.

Eintlik is dit ongelooflik dat ek reeds jare lank ‘n pro-Afrikaanse stem roepende in die woestyn is. Soos oor Steve Hofmeyr kan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gerus sy stem duidelik oor Afrikaans laat hoor.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.