Dan Roodt: ‘n 1652-makwerekwere-bondgenootskap?

Deel op

Iets om te oorweeg: Linkse Engelse en die SA swart elite het ‘n alliansie teen Afrikaners gesluit & ons oorwin, alles geplunder, wil grondgryp, ens. En as ons ‘n alliansie aangaan met buitelandse swartes in SA & hul lande van herkoms teen die Anglo-Bantoe-alliansie?

Noem dit ‘n 1652-makwerekwere-alliansie.

Hoe ek dit sien gebeur: Ons hou ‘n groot betoging in die Johannesburgse middestad teen die rassisme en xenofobie van die ANC-bewind. Baniere kan in Afrikaans, Frans en Engels wees (daar is baie Kongolese en Wes-Afrikane ook). Ons eis stemreg vir buitelanders in die munisipale verkiesings, asook dat hulle moet kwalifiseer vir regeringsposte en BEE. Uiteraard wil ons hê BEE moet afgeskaf word, maar in ‘n eerste fase moet al die buitelanders óók daarvoor kwalifiseer.

Hier in Johannesburg is daar ‘n ontsettende gevoel tussen die plaaslikes en die vreemdes. Die vreemdes is beter werkers, minder arrogant en word regtig sleg behandel deur die polisie, administrasie, ens.

Dis ‘n skuif wat niemand van ons verwag nie. Solank ons ‘n klein groepie “regse wit Afrikaners” bly, kan hulle ons maklik hanteer, want by die stembus tel ons handjie vol stemme niks en verder moet ons maar net magteloos toekyk hoe hulle een wet na die ander maak om ons bates te plunder, ons kinders landuit te verdryf met rassewette, asook bedek en onbedek geweld en plaasmoorde teen ons aan te hits.

Dink uit die kassie uit. Ons situasie raak by die dag desperater, want ons verloor ons beste mense oorsee, word ouer, swakker en minder. Op ‘n dag gaan dit soos Zimbabwe wees: hulle sal net by jou huis opdaag en dit vat.

Trouens, hier in Johannesburg is daar van die deftige swartes met korporatiewe werke wat van sulke goed praat en mal is oor Malema. Hulle droom daarvan om die groot, weelderige huise in Sandhurst, Hydepark, Saxonwold en ander ryk buurte “sommer net te vat” as Malema aan bewind kom en “onteiening sonder vergoeding” plaasvind.

Jou vyand se vyand is jou vriend. Die klein groepie linkse Engelse in Johannesburg het dit goed besef en ná Republiekwording die swart massas teen ons begin monster met “anti-apartheid”. Hulle het hulle intussen onder die ANC ryk gesteel en die geld is Switserland toe. Gavin Watson en Bosasa is maar net die top van die ysberg.

Maar ons kan dieselfde doen! Ons kan die ANC skaakmat stel met sy immigranteprobleem. Elke makwerekwere is ‘n potensiële bondgenoot.

Ons moet ook nie te veel vooropgestelde idees oor die uitkoms hê nie. Miskien val die land uitmekaar soos Joego-Slawië en ons kry ‘n volkstaat, miskien smeek die EU en die VSA ons Afrikaners om weer te regeer en die orde te herstel. Hoe dit ook al sy, ons sal keuses hê.

Tans beskik ons oor géén keuses nie. Dis óf verdere afgang, óf emigrasie. Die VF Plus het nie ‘n kat se kans om ooit te regeer nie. Selfs nie eens die DA nie, wat in elk geval ideëloos is en die ANC bloot na-aap.

Ek ken Jhb soos die palm van my hand, het dit voor my oë gesien verval. Met ‘n bietjie hulp is ek seker ons kan by al die buitelanders se etniese netwerke uitkom en daardie groot betoging in die middestad reël. Daar sal nie ‘n tweede Shell House wees nie, want die Zoeloes moes van Natal af opruk teen die ANC. Die makwerekwere is reeds híér – in groot getalle!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.