Brief: Raai, raai… die verhaal van ‘n hond

Deel op

Hierdie is ‘n raaisel. Kom ons kyk of julle dit kry. Net ‘n wenk : dit gaan oor politiek.

My buurman oorkant die straat het ‘n tydjie gelede ‘n brakhond aangeskaf by die DBV. So’n nare vaalgrys gedoente met ‘n histeriese blaf waarmee hy knaend die hele buurt verpes, insluitend die verbygangers, stappers, fietsryers, drawwers en rondlopers.

Uit die staanspoor het die brak meer tyd op my werf bestee as op sy eie erf (ek het nie ‘n heining aan die straat se kant nie) hoofsaaklik ten einde op my grasperk te kan broek losmaak. Ek het hom aanvanklik probeer ontmoedig deur die tuingieter na hom te gooi (meer lawaai as wol) en ook mettertyd met ‘n kettie losgebrand. In my jeug was ek nogal ‘n kranige kettieskieter, maar my jongste pogings het veel te wense oorgelaat, want die klippies, albasters ens. het sedertdien die manier ontwikkel om eerder na my kant toe te kom as na die brak s’n sodat ek noodgedwonge ‘n veiligheidsbril moes nader trek.

Hoe dit ook al sy, die besoeke het tog ietwat afgeneem, hoewel nog steeds nie volledig opgehou nie.

Van tyd tot tyd stap die buurman oor die straat om te kom geselsie maak en dan kom die brak saam. Met sy baas in die nabyheid is hy dan behoorlik Kaatjie van die baan: hol kringe deur my groentebeddings, ruk die plantlyn af, kry opelyf op my grasperk, kom snuffel aan my en gryp selfs na my broekspyp. Die baas laat maar begaan en ek kan, in belang van goeie buurskap, ook nie veel doen nie.

Die magtelose ergernis het nou ‘n stadium van intense wrewel bereik sodat ek, (as hondeliefhebber !) niks daarvan sal dink om die gedierte stilweg te verongeluk nie. Ek oorweeg nou ernstig ‘n windbuks. Die koeëljie sal sekerlik sy opelyf aanhelp, maar daarna sal ek hopelik vrede van hom hê.

Niks minder as drastiese optrede kan sekeres van hulle vermetelheid genees nie.

Karel Combrinck

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.