Dan Roodt: Gestel ons herower Suid-Afrika?

Deel op

Annette Kennealy, in memoriam

Hoe later, hoe kwater, soos hulle sê. As ek daagliks waarneem hoe die radikalisering van Suid-Afrika sedert die De Klerk-Meyer-oorgawe van 1994 verloop, dan wonder ‘n mens waar dit alles gaan eindig (of juis nie). Want op ‘n manier was dit alles só voorspelbaar; ons ouers en grootouers het presies geweet hoe die Bantoesamelewing lyk en selfs binne die naïewe geledere van die Nasionale Party was daar plek-plek genoegsame kennis van marxisme en afromarxisme sedert 1960 in Afrika om te kon voorspel hoe die “Volksrepubliek van Azanië” uiteindelik daar sou uitsien. Immers was die ANC-SAKP se sogenaamde “Vryheidsmanifes” niks anders as ‘n kommunistiese visie vir ons land met ‘n liberaal-demokratiese sousie bo-oor nie. “Die grond sal aan diegene behoort wat dit bewerk,” staan mos daarin.

Of juis nie bewerk nie, want volgens beskikbare statistieke het 90% van plase wat onteien of aan Bantoeboere oorgedra is, misluk.

Die hele debat oor die ANC se huidige grondgrypplanne is egter al oor en oor in die media en op sosiale media gevoer. Soos Breyten Breytenbach met die spraakvryheid van die vorige bedeling in 1973 egter kon sê:

“Ek is partydig. Ek kies kant. Omdat dit vir my gaan om die totstandkoming van leefbare omstandighede in ons gemeenskap. Omdat dit vir my gaan om ’n soeke na, ’n óópmaak na ’n samelewing waarin elkeen van ons en almal van ons sy regmatige aandeel kan hê, waarbinne ons op gelyke voet verantwoordelikheid vir mekaar kan aanvaar.”

Vergeet vir ‘n oomblik van die res van Breytenbach se stel linkse idees. Waarvan hy hier praat, is “om kant te kies” en “leefbare omstandighede in ons gemeenskap”. Waarskynlik het hy hier aan die multikulturele samelewing gedink, wat op daardie stadium — soos sosialisme in die negentiende eeu — nog grotendeels ‘n verre droom op die horison was. Vandag het ons egter daaglikse ervaring van die onreg, wreedheid en verontmensliking van so ‘n “multikulturele utopie”. Eintlik “distopie”. Veral dan ook onder onverbiddelike Bantoe-oorheersing, waaroor hier onder meer.

Soos Fransi Phillips dit onlangs op Facebook gestel het:

SA is ‘n simbool van die grootsheid van multikulturalisme. Nou moet die res volg. So, ons het eintlik nogal ‘n belangrike plek in die hele opset. Maar dis lekker dat hulle nou eerstehands begin voel wat dit is waaraan ons blootgestel is. Ons moenie die kans laat verbygaan nie.

Ons multikulturele distopie is presies die teenoorgestelde as die “leefbare omstandighede” waarna Breytenbach in 1973 verwys het. Eerder verstaan ons nou sy woorde as “leefbare omstandighede binne ‘n volksgemeenskap of volkstaat”, want solank as wat ons aan die chaos, wanorde, diefstal, korrupsie, geweld en volksmoord – ja, volkmoord – van die huidige Suid-Afrika blootgestel is, sal ons omstandighede nooit “leefbaar” wees nie. Oral om ons word dood en verwoesting gesaai, soos die moord op my vriendin Anette Kennealy onlangs. Terloops, en ‘n mens moet dit seker nie te hard sê nie, maar Annette was in weerwil van haar liberale en dikwels Engelssprekende vriendekring, self ‘n soort “rasrealis” in die Amerikaanse sin. Sy was op ‘n stadium ‘n DA-stadsraadslid op Louis Trichardt en in haar openbare uitsprake het sy nooit, sover ek onthou, enigiets omstrede kwytgeraak nie. Sy het my egter aangemoedig om Robert Ardrey se boeke oor die “territoriale imperatief” te lees en op ‘n keer veelseggend aan my gefluister: “Hulle is ‘n ander spesie.”

Suid-Afrikaanse Bantoes maak nie bloot blankes dood nie, maar ook die res van hul “broers” uit Afrika. Ons kan boeke skryf oor die redes daarvoor, of dit nature is of bloot nurture, maar dis ‘n futiele oefening. Ons moet die werklikheid in die oë kyk, asook die territoriale imperatief erken waarvan Annette gepraat het. Robert Ardrey se boek is hier iewers op my rak, maar vir die doeleindes van dié artikel haal ek kortliks die opsomming op die Engelse Wikipedia aan:

The Territorial Imperative develops the theses originally introduced in African Genesis: A Personal Investigation into the Animal Origins and Nature of Man, which was published five years earlier. In African Genesis, Ardrey posited that man originated in Africa instead of Asia, that he is driven by inherited instincts to acquire land and defend territory, and that the development of weapons was a fundamental turning point in his evolution. The Territorial Imperative further explores these ideas with a special emphasis on man’s distinct preoccupation with the concept of territory. It goes on to elucidate the role that inherited evolutionary instinct, particularly the so-called “territorial imperative”, plays in modern human society in phenomena such as property ownership and nation building. (My kursivering.) https://en.wikipedia.org/wiki/The_Territorial_Imperative

In vandag se Rapport, die koerant wat jare lank die lofsanger van elke uitgediende liberale leuen en cliché was, skryf die motorjoernalis Jaco Kirsten so ewe hoe lekker hy in Amerika leef nadat hy finaal geëmigreer het. Maar hy is darem nog “hartseer”. Op ‘n manier erken diegene wat emigreer dat blankes aan die verkeerde kant van die territoriale imperatief in ons land verkeer; die land is deur die “ander ras” of die “ander spesie” (die onderskeid tussen die twee is arbitrêr, biologies gesproke) verower en daarom moet ons nou padgee.

In een van die Disqus-kommentare by die Jaco Kirsten-artikel skryf ‘n leseres, Katrien H, die skroeiende woorde:

“Ek huil net om van die afskeid te lees. Daar is geen manier hoe ek sal (kan) weggaan nie maar net die gedagte breek my hart in stukke. Ons is vasgegroei aan Afrika. Dit sit in ons bloed. Tog word die wit mense hier deur meeste ander stamme gehaat. Daar is geen werklike oplossing nie. Ons moes nooit hier gewees het in die eerste plek nie. Maar nou is ons.”

Julius Malema se EFF verteenwoordig die meer radikale faksie van die ANC. Die twee partye se grondbeleid (hul territoriale imperatief) stem egter ooreen en hulle werk saam om blanke boere van hul grond te verdryf, onder meer deur die beplande grondonteiening sonder vergoeding. Hierdie beleid het reeds wêreldwyd opslae gemaak, veral in Westerse lande soos ons stamland, Nederland, waar die Tweede Kamer dit onlangs as ‘n menseregtevergryping veroordeel het.

Geen swart Afrikaland het hom tot dusver teen grondonteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika uitgespreek nie, waarskynlik omdat soortgelyke beleide in Afrika sedert onafhanklikwording male sonder tal op ons vasteland toegepas is. In elk geval is die hele Suider-Afrika, met die hulp en finansiële ondersteuning van linkse Westerse regerings, deur afromarxistiese terreurbewegings (“bevrydingsbewegings” heet die amptelike eufemisme) oorgeneem, wat in mindere of meerdere mate verwoesting gesaai en die eiendom van blankes met geweld of deur wetgewing of ‘n kombinasie van die twee afgevat het.

Dit is feite, soos hulle sê. Soos ek egter gister getwiet het,

Die hoofstroommedia hou heeltyd die ANC aan ons voor as ‘n “politieke party” wat eintlik “redelik” en “sakevriendelik” sou wees. Sy radikale leier, Ramaphosa, wat self tot die beleid van grondonteiening besluit het, word voortdurend op sy voornaam in berigte vermeld: “Cyril dit, Cyril dat,” ens. Dit herinner sterk aan die persoonlikheidskultus rondom Stalin wat ewe seer as ‘n “vriendelike omie” en “Oom Joe” aangebied is. Intussen ken ons die geskiedenis van Stalin se massa- en volksmoorde, maar ook die radikale ideologie van die ANC en Suid-Afrikaanse Kommunisteparty haarfyn.

Kortom, verwoord Katrien H. hier bo die ANC-SAKP se siening van ons baie goed: Ons is “indringers”, “gronddiewe”, “kolonialiste van ‘n spesiale tipe” wat “nooit hier moes gewees het in die eerste plek nie”.

Swartes, selfs in die VSA, hou graag die gedagte van “Afrika vir die swartman” voor, wat natuurlik ‘n bevestiging van hul territoriale imperatief sou wees. Al hoe meer Europeërs begin ook die idee propageer dat Europa eintlik ‘n vasteland vir Europeërs behoort te wees en nie deur Moslems en swartes oorgeneem behoort te word nie. ‘n Agt-en-sestigerjarige dame in Swede wat op Facebook geskryf het dat alle Afrikane uit haar land gesit behoort te word – iets wat Malema en vele ander byna daagliks by ons betreffende blankes verwoord – is egter deur ‘n Sweedse aanklaer vervolg en sy is tot ‘n boete en gemeenskapsdiens gevonnis.

In Afrika heers daar geen taboe op die verwoording van die territoriale imperatief nie, dog in Europa wel, blyk dit. Soos wat die mengkultuur egter op ‘n breukspul afstuur, voorspel ek dat daar nie meer genoeg howe en tronke in Europa gaan oorbly om die sensuur teen massa-immigrasie op Europeërs te bly handhaaf nie.

Genoeg is al gesê oor die hopeloosheid en agterbaksheid van ‘n vorige geslag sogenaamde “Afrikanerleiers” wat dít bloot in naam was en geensins ons belange op die hart gedra het nie. Roelf Meyer is bloot gevlei deur die aandag van Britse joernaliste uit Londen en het geen flenter omgegee om ons hele volk se toekoms op die altaar te plaas nie. Aldus oorlede Chris Louw, wat dit alles destyds gevolg het.

Dog ‘n veel groter probleem is ons gebrek aan ‘n antwoord op radikale afromarxisme en anti-blanke rassehaat wat die grondslag van amptelike beleid in Suid-Afrika verteenwoordig. Soos die Nederlander en die Vlaming, is die Afrikaner as Dietser minder ideologies en meer pragmaties ingestel. Insgelyks oor die afgelope week het die oorblywende Afrikaanse dagblaaie in die Naspersstal, Beeld, Burger en Volksblad, ‘n patetiese pleidooi gelewer dat die DA met die ANC moet “saamwerk” om ‘n bestuurskrisis in die groot “metropole” af te weer.

Die onderskeid tussen pragmatisme, enersyds, en verraad of meelopery andersyds is dikwels baie vaag. Hierdie soort nihilistiese pragmatisme bied egter vir ons géén oplossing nie en moet met die minagting verwerp word wat dit verdien.

“Afrika vir die swartman,” is ‘n radikale idee, sowel vanuit ‘n ideologiese as ‘n biologiese oogpunt. Die ANC en EFF het reeds besluit dat Suid-Afrika aan die swartman (sal) behoort; vandaar hul meedoënlose plundering van ons staatsbates wat oor vier eeue opgebou is, asook ons universiteite, ons skole, ons grond en ons eiendom.

Die ANC-SAKP se beleid is naakte Bantoe-imperialisme. Niks minder nie. Vanuit hul voormalige tuislande en van oorkant ons grense is die suidelike Bantoe besig om ons land stukkie vir stukkie te verower met die doel om uiteindelik ‘n Suid-Afrika sónder blankes en veral sónder Afrikaners tot stand te bring.

In die aangesig van dié groteske territoriale imperatief, word duisende van ons mense tereg met vrees vervul. Ons is ontwapen deur die De Klerk-Meyer-oorgawe, demografies oorspoel, ontredderd en veral sonder enige visie of teenplan.

In ‘n essay wat ek jare gelede aangehaal het, het Carel Boshoff IV op ‘n keer gesê: “Een revolusie roep ‘n ander op.” Dit is baie waar. Maar ook: “Een radikalisme roep ‘n ander op.”

Daar is geen pragmatiese of selfs demokratiese — wat dit in ons tyd ook al mag beteken — antwoord op naakte Bantoe-imperialisme, anti-blanke en anti-Westerse haat nie. In elk geval stel die Bantoe-imperialis kwalik belang in dialoog met die Afrikaner, wie se taal, kultuur, identiteit en geskiedenis hy verafsku en sonder omhaal wil vernietig. Panyaza Lesufi, die ANC se onderwysminister in Gauteng, is onomwonde daaroor dat daar nóg vir Afrikaans nóg vir die Afrikaner enige plek in “sy skole” is. Eens “ons skole”, deur ons gebou en met ons belastinggeld betaal, maar nou, ná die revolusie en Afrikaneroorgawe: “Bantoe-eiendom”.

Die ANC en sy bondgenoot, die EFF, se slagspreuk is wesentlik: “Suid-Afrika vir die swartman!” Daar is al vele kere parallelle getref tussen Zimbabwe en Suid-Afrika en dit is tog helder dat dieselfde beleid gegrond op haat vir die blanke, asook die Bantoe-territoriale-imperatief, hier by ons ontplooi word.

Die kreet dat Suid-Afrika uitsluitlik Bantoe-eiendom is, is ‘n rasbiologiese kreet. Soos Jaco Kirsten wat besluit het om “pad te gee”, betrek dit die primitiewe dele van die brein, ‘n oorblyfsel uit die reptieltydperk, soos die breinstam en die amigdala. Dis ‘n geval van: “veg of vlug”! Sommige “vlug” of het reeds gevlug, maar ander van ons “veg” of probeer, sy dit dan op ‘n geringe manier en met die karige middele tot ons beskikking, weerstand bied.

By elke begrafnis, soos dié van Annette Kennealy onlangs, waar ons van iemand afskeid moet neem wat deur die rasende swartman neergevel is, word ons daaraan herinner dat ons in ‘n oorlog verkeer. Dis ‘n ander tipe oorlog as dié waaroor ons in Westerse geskiedenisboeke lees; dit is nooit behoorlik verklaar nie (hoewel die ANC in die tyd vóór 1994 herhaaldelik teenoor ons oorlog verklaar het en terreur op ons burgerlikes op allerlei maniere gepropageer en selfs uitgevoer het), maar dit maak dit nie minder uitmergelend en vernietigend nie. Dit stem ooreen met die tegria-oorloë wat die eerste Europese reisigers, soos byvoorbeeld Mungo Park, in Afrika ontdek het. Park skryf in Travels in the interior districts of Africa:

The wars of Africa are of two kinds, which are distinguished by different appellations ; that species which bears the greatest resemblance to our European contests, is denominated killi, a word signifying “to call out,” because such wars are openly avowed and previously declared. Wars of this description in Africa commonly terminate, however, in the course of a single campaign. A battle is fought, the vanquished seldom think of rallying again the whole inhabitants become panic-struck, and the conquerors have only to bind the slaves, and carry off their plunder and their victims. Such of the prisoners as, through age or infirmity, are unable to endure fatigue, or are found unfit for sale, are considered as useless, and I have no doubt are frequently put to death…

The other species of African warfare is distinguished by the appellation of tegria, “plundering or stealing.” It arises from a sort of hereditary feud which the inhabitants of one nation or district bear towards another. No immediate cause of hostility is assigned, or notice of attack given; but the inhabitants of each watch every opportunity to plunder and distress the objects of their animosity by predatory excursions. These are very common, particularly about the beginning of the dry season, when the labour of the harvest is over, and provisions are plentiful. Schemes of vengeance are then meditated. The chief man surveys the number and activity of his vassals, as they brandish their spears at festivals, and, elated with his own importance, turns his whole thoughts towards revenging some depredation or insult, which either he or his ancestors may have received from a neighbouring state.

Wars of this description are generally conducted with great secrecy. A few resolute individuals, headed by some person of enterprise and courage, march quietly through the woods, surprise in the night some unprotected village, and carry off the inhabitants and their effects before their neighbours can come to their assistance.

Dit is helder dat die tipe oorlog waarin Suid-Afrika tans verkeer van Mungo Park se tegria-tipe is. Die hoofman, “elated with his own importance”, dink aan al die “onregte van die verlede” en moedig dan sy onderdane aan om te gaan roof en plunder, asook die vyand in onverwagse aanvalle uit te moor, soos tydens plaasmoorde byvoorbeeld.

Maar hoe troef ons die radikale visie van die Bantoe-imperialis, met ons eie, ewe radikale siening vir die toekoms? Op die vooraand van die eerste vryheidsoorlog, kon Paul Kruger begeesterd uitroep:

“Met vertroue lê ons ons saak oop vir die hele wêreld. Hetsy ons oorwin, hetsy ons sterf: die vryheid sal in Afrika rys soos die son uit die môrewolke, soos die vryheid verrys het in die Verenigde State van Noord-Amerika. Dan sal dit wees van Zambezi tot aan Simonsbaai: Afrika vir die Afrikaner.”

Lees ook: Dan Roodt: Die politieke lesse van Paul Kruger

Of dalk in ons tyd: Suid-Afrika vir die Afrikaner? Op die oog af lyk dit onmoontlik, om die land te herower, daar waar ons in die aanloop tot die ’94-oorgawe, “oorwin” is en vandag telkens daaraan herinner word dat ons ‘n “magtelose minderheid”, “ongewenste setlaars” of “sommer niks” is nie. Maar toe die Litaus-gebore Joe Slovo en sy medekamarade sonder enige openbare steun in die 1940’s en 1950’s daarvan begin droom het om ons land met hul frontorganisasie, die ANC, te verower, was dit ewe vergesog en “belaglik”. Nietemin het hulle, weliswaar met die geluk en FW de Klerk aan hul kant, daarin geslaag!

Die geskiedenis is vol vreemde wendings, iets wat die meeste van ons in ons leeftyd ervaar het. Ek het in Oktober 1989 nog die Berlynse Muur op ‘n besoek gesien. In die 1980’s het die meeste gewone Afrikaners nie eens van die ANC se bestaan geweet nie, wat nog te sê die idee dat hulle die land kon inpalm… ‘n Klein groepie radikale onder aanvoering van die bysiende kommunis, Joe Slovo, het dit egter reggekry.

Winnie en Nelson Mandela, Joe Slovo

Niks is ontmoontlik nie! Maar ‘n mens kort ‘n doelwit, ‘n teiken. In vorige eeue en selfs in die twintigste eeu, is groot ryke oor geslagte heen opgebou. ‘n Prins of vorstehuis het ‘n visie verwoord en daarna het die hele volk saamgewerk om dit te verwesenlik. Vandag kan ons steeds dieselfde doen.

In meer praktiese terme sien ek dit só ontvou:

  • Al is ons ‘n klein groepie “ware Afrikaners” of “Boere”, sweer ons trou aan ons volk en sy toekoms. Ons aanvaar dat dit ‘n lang en swaar stryd gaan wees om weer vryheid te verkry, met die juk van Bantoe-imperialisme wat swaar op ons druk, swaarder nog as die eertydse Britse imperialisme.
  • Ons skep enklawes in Suid-Afrika, “kastele” waar ons vroue, kinders en oumense veilig kan wees. Dit gebeur reeds: Orania, Kleinfontein, veiligheidsbuurte met Afrikanermeerderhede.
  • Ons skep die Wolkstaat waarvan ons voorheen gepraat het: eie virtuele ekonomie, eie handel met onsself en met die buiteland, finansiële bates in die buiteland waar die Bantoe-imperium hulle nie kan plunder nie.
  • Ons skakel virtueel by ons stamlande in Europa in en begin waar doenlik die euro as betaalmiddel tussen Afrikaners gebruik. Elke Afrikaner moet oor ‘n buitelandse rekening beskik en glad geen kontant of spaargeld in die “getransformeerde” Suid-Afrikaanse banke laat rondlê nie.
  • Ons sien om na mekaar. Alle armes, werkloses, siekes, ens., moet op ‘n sentrale register geplaas word soos dit in Europa gedoen word en planne moet gemaak word om na elkeen om te sien, werk te skep, hier of in samewerking met Europeërs, Amerikaners en Afrikaneremigrante wat steeds ons saak goedgesind is.
  • Ons verdedig ons teen die alledaagse aanvalle, rooftogte, plundering en plaasmoorde kragtens die selfverdedigingsbeginsel in Romeins-Hollandse reg: se defendendo.
  • Ons bestee minder aan selfone en motors, en meer aan veiligheid. Elke Afrikanergesin moet oor handwapens, jaggewere (die “long guns” waarvan die Amerikaners praat) en selfs, waar moontlik, semi-outomatiese wapens beskik. Alles binne die wet, natuurlik.
  • Ons versterk die Afrikaanse kultuur, veg waar moontlik hofsake oor verengelsing en internasionaliseer die taalstryd. Voortdurend moet ons dit duidelik maak dat die onderdrukking van Afrikaans net ‘n onderdeel van die groter volksmoord is wat die geradikaliseerde Bantoe-marxis tans op ons uitvoer. Verder skep ons verwoed in Afrikaans: boeke, toneelstukke, films, video’s, musiek… ‘n hele Afrikanerrenaissance soos laas in die 1930’s gebeur het!
  • Ons troef die ANC-SAKP se propaganda dat “Suid-Afrika wel Bantoegebied is” met argumente, boeke en artikels wat die teendeel bewys. Ons ontken dat die Bantoestamme op enige grondgebied buite die ou tuislande of die omringende “nasionale state” soos Swaziland, Lesotho, Botswana, Zimbabwe, ens. geregtig is. Alle vorme van “grondhervorming” en grondgryp moet met hand en tand beveg word. Ons was éérste hier, in 1652. Laat hulle die teendeel bewys. Op skrif.
  • Ons boikot selektief anti-Afrikaanse of anti-blanke maatskappye soos Spur, Toyota, DSTV en die res, asook die kleiner munisipaliteite waar dienste in elk geval nie meer gelewer word nie.
  • Soos wat die stryd tussen ons en die Bantoe-imperium voortwoed, sal ons wel punte begin aanteken. In elk geval is die openbare maatskappye soos Eskom, Transnet, SAL, Denel, ens., asook die munisipaliteite, reeds bankrot gesteel en sal die ekonomie al swaarder begin trek.
  • Ons moedig ‘n toeristeboikot deur buitelanders, tesame met verbruikersboikotte van Suid-Afrikaanse goedere in die buiteland aan. Dít alles sal die ekonomiese druk op die Bantoeryk verhoog en hy sal minder belastings in, asook weens sy beperkter staatsmiddele minder van ons bates kan plunder.
  • Soos wat die druk toeneem, kan ons begin om bepaalde gebiede in die land waar ons in die meerderheid verkeer, onafhanklik te verklaar en die vlae van volkstate te hys. Al word sulke state nie aanvanklik universeel erken nie, sal hulle nie meer belastings aan die Bantoeryk hoef te betaal nie en kan ons sodoende groter beheer oor ons eie finansiële en ander hulpbronne verkry. Gebiede moet ook gekonsolideer word in een of twee groter Afrikanerrepublieke wat soortgelyk aan die ou Boererepublieke sal saamwerk en ‘n gemeenskaplike verdedigingstelsel sal instel.

Afhangend van die omstandighede by daardie punt, behoort ons egter nie op te hou nie. Onthou: “Een radikalisme roep ‘n ander op.” Net soos wat die ANC-SAKP ons almal by ons werkplekke, aan die universiteite en in skole wil vervang – die “Groot Vervanging” waarvan daar insgelyks in Europa sprake is – moet ons op die duur alle swartes laat vervang met ‘n beleid van BEB, oftewel “blanke ekonomiese bemagtiging”. Ons sal blankes invoer uit ander wêrelddele om arbeid hier te kom verrig en geen enkele Bantoe meer in diens neem nie, iets wat reeds met welslae in Orania toegepas word.

Sodoende sal die twee onversoenbares, die Afrikanerkultuur en die Bantoekultuur, op ‘n natuurlike wyse uitmekaar groei en elkeen in sy eie gebied teregkom. Anders as in Verwoerd se tyd, sal dit nie by wyse van patriargale blanke staatsbeleid gebeur nie, maar meer organies en in reaksie op ‘n radikale kultuurkonflik wat reeds deur die Bantoe-imperialiste ontketen is — en voortaan onstuitbaar is. Dit is ‘n proses wat by wyse van aantrekking en afstoting sal gebeur: die verwerping van Afrikaans en die Europese wêreldbeskouing deur die afrosentriese, geradikaliseerde Bantoe veroorsaak dat hy sy rug op ons keer, terwyl ons op ons beurt ons rug op die Bantoe en sy imperiale gebiedsuitbreiding, asook sy sug na oorheersing keer en selfbeskikking nastreef.

Dis nie nodig om ‘n lykskouing by die NP-beleid van destyds onder Malan, Strijdom en Verwoerd te hou nie. Maar in die 1960’s was die wêreld nog nie reg vir gebiedskeiding en die “afsonderlike ontwikkeling” van kulture nie. Tans is veral die Westerse wêreld, sowel die Noord-Amerikaners as die Europeërs, uiters ontvanklik daarvoor. Europa se vrees vir Islamisering en die Amerikaanse weerstand om deur immigrasie vanoor die Mexikaanse grens — waaronder ook swartes uit Afrika! — oorspoel te word, skep ‘n natuurlike bondgenootskap tussen ons en die res van die Weste.

In die aangesig van korrupsie, geweld, volksmoord op boere, asook die uiterste vorme van Bantoevermetelheid tans, beskik ons reeds oor die “morele hoëgrond”, soos dit genoem word.

Die herowering van Suid-Afrika, dít wat op Spaans die reconquista genoem word, moet met ongekende ywer nagestreef word, totdat die rug van die Bantoebesetting finaal gebreek is. Selfs dán moet dit nog nie ophou nie, en moet Suid-Afrika as ‘n integrale deel van die Westerse en Europese stelsel herstel word – soos dit tot onlangs toe was!

Tydens die klassieke reconquista, het dit die Spanjaarde 780 jaar geneem om van die Arabiere in hul land ontslae te raak. Vir seker gaan dit nie so lank neem om die oorheersing van die suidelike Bantoe in ons land vir goed te beëindig nie.

Ek verstout my om te sê: Ons kan nie anders as om te oorwin nie.

Om die leuse van Hoërskool Linden in Johannesburg, een van die skole wat Lesufi die Bantoe-imperialis van Gauteng, tot niet wil maak, lui:

Volhard!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.