Motors: Nissan Micra is ‘n geheel nuwe motor

Deel op

Nissan se Micra was nog altyd die kleinste Nissan wat jy in Suid-Afrika kon koop. Die motortjie was beknop en werklik nie een van die mooiste motortjies op die pad nie. Die nuwe Micra lyk nou heeltemal anders, is heelwat groter en baie mooier as sy voorganger.

Dit blyk ook dat die Micra nou een segment opgeskuif het en met motors soos die Ford Fiesta en Renault Clio meeding. Laasgenoemde is in werklikheid een en dieselfde motor as die Micra, met dié dat Nissan eintlik deel van die Renault-stal is.

Voorkoms

Die Nissan Micra van agter

Die vorige generasie Micra, wat nou as die Micra Active bekendstaan, was werklik nie sag op die oog nie. Die nuwe Micra is egter ‘n geheel nuwe motor met skerp lyne en doelgerigte hoofligte, asook die Nissan-familiegesig wat op elke ander Nissan behalwe die Active te sien is. Die motor vertoon van voor af baie groter – as gevolg van die voorligte – as wat hy werklik is. Die agterdeure se handvatsels is in die C-pilaar versteek sodat die motor byna na ‘n tweedeur lyk, wat meer sportief vertoon. Die wiele is mooi op die hoeke gemonteer en oorhange is minimaal wat padhouvermoë en hantering baie beter maak.

Binneruim

Instrumentepaneel van die Nissan Micra

Wat die binneruim betref is die Micra nou ook in die moderne era met n raakskerm en mooi netjies lyne met konstaterende materiaalinsetsels in die deure en instrumentepaneel. Oral waar jou oog vang en jou elmboog rus, is die materiale ook sag. Dus is die voorkoms en ergonomie van die nuwe Micra heelwat verbeter. Die stuurwiel het ‘n plat onderkant wat weereens die sportiwiteit van die Micra beklemtoon.

Agtersitplekke in die Nissan Micra

Die sitplekke is met doekstof oorgetrek, maar jy moet aan dit raak om agter te kom dat dit nie leer is nie; die materiaal vertoon werklik baie meer luuks as vantevore. Metaalkleurige plastiekinsteselsels op die stuurwiel asook om die rathefboom beklemtoon die gevoel van ‘n weelderiger kajuit. Wat ruimte betref, bied die nuwe Micra plek vir 5 insittendes, maar agterlangs is die beenruimte steeds beperk tot korter mense of kinders. Hierdie is ‘n stadsmotortjie. Kop- en skouerruimte agter is baie beter as in die vorige generasie. Die bagasiebak kan 300l se bagasie sluk en wanneer die agterste sitplekke plat gevou word, vergroot die inhoud na 1004l. Wanneer ‘n mens in ag neem dat die Micra en Clio eintlik dieselfde motor in verskillende baadjies is, is dit eintlik snaaks dat die Clio meer ruimte bied in ‘n bakwerk wat byna identies in afmetings as die Nissan is.

Enjin

Bagasiebak van die Nissan Micra

Die enjin wat diens doen in die Micra is ‘n 898 cc-, 3-silindereenheid met ‘n klein turboaanjaer. Hy lewer 66 Kw se krag en 140Nm se wringkrag. Dieselfde enjin in die Clio lewer 10Nm meer. Die enjin is baie gewillig as hy eers aan die gang is , maar weereens in die Micra voel die eerste rat baie pap en traag terwyl die Clio gemaklik en agtermekaar voel. Ratskakelings is baie glad en die 5-spoedhandratkas verplaas krag na die voorwiele. Skakelings is sekuur. Brandstofverbruik word aangegee as 6,7l/100km terwyl die Clio met dieselfde enjin 6,3l/100km aangee. Feit is dat ons slegs 7,8l/100km in ons toetstydperk kon handhaaf. Dit is so-so vir ‘n klein motortjie en ons vermoed dit het te make met die grootte van die bakwerk teenoor die enjin. Jy moet maar die toere opjaag om die Micra aan die gang te kry.

Wat pla

Die Micra voel net nie vir ons soveel motor soos die Clio nie, die deure klink blikkerig met die toemaak daarvan en van die panele binne-in die kajuit lyk mooi, maar voel nie soos wat dit lyk nie. Turbotraagheid veral in eerste rat is opvallend en by hoër snelhede is die enjingeraas ook heelwat meer as in die Clio. Dit is asof die Clio ‘n vroulike motor is en die Micra ‘n manlike motor. Die prys is ook sowat R10 000 meer as die Clio s’n en die Clio se spesifikasievlak is hoër. Glybeheer in die Micra ontbreek maar is standaard in die Clio. Daar is agterste parkeersensors in die Clio maar nie in die Micra nie. Outomatiese reënveërs ontbreek, asook verhitte buitespieëls wat alles standaard in die Clio voorsien word. Daar is nie outomatiese wegvoubare kantspieëls nie, asook geen sleutellose toegang of navigasie nie. Die voordeure besik oor elektriese ruite maar nie die agterdeure nie; dié het nog slingervensters.

Gevolgtrekking

Na ons mening is die nuwe Micra heelwat moderner as sy voorganger, groter en ligter met meer krag, maar ook byna R100 000 duurder as die Micra Active, R10 000 duurder as die soortgelyke middelspesifikasievlak-Clio en Ford se Fiesta Trend bied heelwat meer krag en n hoër spesifikasievlak teen R5000 meer as die Micra. Die nuwe Micra is stukke beter as vantevore, maar Nissan kan gerus kyk na die prys en spesifikasievlakke van hul motors.

Teen R268 500 sluit Nissan ‘n 6-jaarwaarborg met 3-jaardiensplan in.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.