Brief: Annette Kennealy was ‘n wonderlike vrou

Deel op
William Schalksz van der Merwe is ‘n jong student wat die begrafnis van die vermoorde Annette Kennealy op Woensdag 29 Mei 2019 bygewoon het. Hy gee hier sy indrukke weer.

Soos wat ons die kerk binnegaan, het die gemoedere nog nie bedaar nie. Dus gaan sit ek alleen, links agter in die hoek. Ek aanskou hoe die kerk begin vol loop: eers iemand met ‘n huilgesig, dan weer ‘n gesig wat bekende gesigte uitsoek en daar by hulle sy plek inneem. Toe ek kom sit het, was die kerk nog redelik leeg , maar hy raak nou geleidelik voller.

Ou vriende groet en omhels mekaar, maar die vreugde van ou vriende wat weer bymekaar kom, raak vinnig somber wanneer die omhelsing verbreek word en hulle mekaar in die oë kyk, eensklaps weer bewus van die rede vir die byeenkoms. Hul oë wat ‘n oomblik terug vol vreugde en geluk was, word nou met trane gevul, maar voor die trane vloei gaan hulle sit.

Almal se oë is star gerig op die skerm wat herdenkingsbriewe aan Annette vertoon. Die mense raak stil en lees, maar mens kan sien hulle lees nie net nie, hulle droom, hulle sien die briewe uitspeel in hulle gedagtes aan haar. Die kerk is nou al byna vol. Daar is ‘n ligte gegons; die meeste mense is stil en wag, amper senuagtig vir die begin van die diens. Enkeles kyk die begrafnispamflet met sy collage foto’s van haar oor en oor deur, asof hulle haar nog ‘n rukkie langer as ‘n werklikheid wil koester.

Die musiek is rustig, nostalgies. Die dominee gaan sit voor en die kerk is nou al byna vol: daar is net nog ‘n paar stoele oop, sowat 10 wat  vir die familie uitgehou word. Die briewe op die skerm begin nou herhaal maar die oë bly lees, asof hulle nou net iets soek om die tyd te laat verbygaan. Die familie kom nou nader en ek sien hoe hulle mekaar in die ingangsportaal drukkies gee.

Die kerk is ‘n ouerige steengebou in moderne styl, pragtig en rustig. ‘n Mens voel tuis, soos in ‘n ou-ou plaashuis. Dit spreek van simboliek. Ek slaan my Bybel oop, en kom toe af op Psalm 126. Ek glo nie eintlik daaraan om net die Bybel oop te slaan en lukraak gedeeltes te lees nie, maar dié was anders. Ek het antwoorde gesoek in die Woord, en ek het dit gevind.

Die Psalm lees soos volg:

1. ‘n BEDEVAARTSLIED. Toe die Here die lot van Sion verander het, was ons soos dié wat droom.
2. Toe is ons mond gevul met gelag en ons tong met gejubel; toe het hulle onder die heidene gesê: Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen.
3. Die Here het groot dinge aan ons gedoen: ons was bly!
4.  o Here, verander ons lot soos waterstrome in die Suidland.
5.  Dié wat met trane saai, sal met gejubel maai.
6 .Hy loop aldeur en ween en dra die saadkoring; hy sal sekerlik kom met gejubel en sy gerwe dra.

Die kerk is nou stampvol, tog is dit nou die stilste wat dit nog was. Die diens begin amper en die mense maak hulself reg. Die hartseer hang in die lug, maar dit is nie net hartseer nie, dis woede, dis verwarring, dis verlange en soveel onbeskryflike deurmekaar emosies. Ek glo nie iemand hier weet regtig wat hulle voel of hoe om te voel nie. Dit was nie net ‘n ongeluk waar jy vir een mens kwaad kon wees of ‘n siekte waartydens mens nog tyd kon kry vir groet nie. Nee, dit was skielik en doelbewus, barbaars van aard. ‘n Politieke moord. Dit is vreemd hoe mens eens so opgekyk het na iemand soos Annette weens haar moede en aktivisme, maar nou word sy vir dieselfde ding wat sulke trots gekweek het, vermoor. Gemoedere wat met trots gevul is, word nou met hartseer en woede oorspoel.

Dit is só ironies, hierdie persoon wat vrou-alleen opgestaan het teen die gruweldaad van plaasmoorde word op haar plaas deur haar eie werker vermoor. Dit is soos ‘n distopiese verhoogstuk, ‘n eens optimistiese triomf wat in tragedie . ‘n Moord wat almal raak, ‘n boodskap.
‘n Onopgeloste emosionele stryd duur voort in die mense wat sy hier agter los.

Soos haar dogters instap, draai almal se koppe na hulle. Die mense se oë vertel verskillende stories, een van seer, een van plig tot wraak, een van sprakelose moedeloosheid.

Wat my opgeval het van die begrafnis was dat ons nog nie weet hoe om hierdie gruwelsituasies te hanteer nie, nog minder weet ons hoe om eerbied te betoon.

Annette was ‘n wonderlike vrou, ek het haar nie geken nie maar in elke foto van haar lyk sy vrolik en gelukkig, haar glimlag betowerend. Ek het gesit en hoor hoe mense met woeder en seer van hul goeie herrineringe praat. Ek het gehoor by die teraardebestelling hoe lief die mense vir haar was, hoe die mense betowerende grepe uit ‘n lewe vol vreugde, passie en waagmoed beskryf het. Ek het gedroom oor hoe dit sou wees om daar te wees in haar geselskap, ek het gedroom hoe so ‘n vrou iets van haar wysheid aan my sou kon oordra. Maar meer as droom het ek gewens ek kon net, net een keer die eer hê om haar hand te skud en daardie pragglimlag te sien. Maar daardie wens sal nooit waar word nie, al wat ek kon sien was die fragmente van ‘n eens wonderlike vrou wat nou in ‘n gemeenskap in versplinter het.

Tog is daar hoop, daardie fragmente, daardie herinneringe en glanshelder glimlag leef; dit leef in ons gedagtes en drome, asook in ons wraakgedagtes. Gebruik die fragmente, want met die fragmente en herinneringe aan ‘n vrou soos Annette kan mens meer bereik as met die nagedagtes aan die meeste mense. Ons kan nie haar nalatenskap eer deur passief te droom en te onthou nie, nee, ons moet onthou deur aksie en herdenk deur reformasie. Dis ons plig! Mens mag nie Annette vereer deur net te praat nie; sy was groter as woorde en stories. Sy verdien om nie net ‘n gedagte te wees nie. Sy verdien dat ons haar ideale verwesenlik en dít tot op die vlak van, asook anderkant haar grootste verwagtinge te vervul.

— William Schalksz van der Merwe

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.