Leon Lemmer: Jaco Kirsten: Brassery, die groen faktor en transformasie-medikasie

Deel op

Wanneer daar in my jeug uit die Bybel oor brassery voorgelees is, het dit vir my geklink asof dit lekker kon wees om op hierdie manier te sondig. Later, toe ek weet wat brassery is, was ek heelwat minder beïndruk daarmee. Brassery beteken “oordadige etery en drinkery” (HAT), dus om te fuif. In die literatuur oor die Suid-Afrikaanse grensoorloë, asook in die stryd wat blankes ter behoud van Rhodesië se blanke bewind gevoer het, lyk dit dikwels asof veral bierdrinkery die alfa en omega van ‘n soldaat se hedonistiese lewenswyse is. Die lewensgevaarlike situasie waarin soldate hulle aan die gevegsfront bevind, maak brassery verstaanbaar en in ‘n mate verskoonbaar. Die ander beroep wat dikwels voorgestel word asof in suipery uitgemunt word, is dié van joernalis. Dáár kan dit kwalik meer as ‘n slegte gewoonte wees. In Jaco Kirsten (gebore in 1969) se boek, Om na ‘n wit plafon te staar, ‘n (reguit) roman (Kaapstad: Tafelberg, 2009, 224p) word vrye teuels aan brassery gegee; asof dit ‘n onbetwisbare voortreflikheid is.

Hierdie roman het egter om ‘n ander rede bekendheid verwerf: Dit is uitnemend polities inkorrek; dalk meer as enige ander boek in Afrikaans. Die boektitel word soos volg verduidelik: “People talk about some people hitting a glass ceiling … not being able to progress further, being prevented from achieving stuff in certain hierarchies. Well, I feel that we’ve reached a stage where whites have reached a ceiling in this country. A white ceiling” (p 205). “Dis een van die min fiksietekste wat die huidige politieke bestel satiriseer. In watter ander werk in Afrikaans is die ontnugtering met die manier waarop wittes in hierdie land onderwerp word aan geïnstitusionaliseerde diskriminasie tot dusver onder die loep geneem?” (195). Tydens apartheid het bv André P Brink betoog dat ‘n skrywer se politieke gesindheid noodwendig in sy skryfwerk neerslag moet vind. ‘n Mens vra jou af: Waarom het daardie betrokkenheid sedert 1994 grootliks uit letterkundige skryfwerk verdwyn? Waarom het skrywers, as hulle swart mag nie openlik steun nie (bv Antjie Krog), eensklaps stil of ten minste onkrities oor die hoogs onverkwiklike politieke situasie geword?

Voorheen het kritiek selfs in strokiesprente voorgekom. “Ek dink veral aan iets soos Bitterkomix waar die skeppers in ‘n Rip van Winkel-beswyming nog steeds hamer op die patriargale, Calvinistiese Afrikanerman se tekortkominge en hom kruisig as oorsaak van alles wat tans fout is met die samelewing. Liewe vader, is daardie spesie tans nie eerder een wat sy eie museum verdien nie? Was daar al één so ‘n strokiesprent wat die spot gedryf het met korrupte swart staatsamptenare? Wat van net één uitgawe waar die ‘dom poliesman’ die werklikheid weerspieël, met ander woorde, dat hy ‘n funksioneel ongeletterde Xhosa-sprekende man is wat weier om net basiese respek teenoor ‘n klaagster in ‘n aanklagkantoor te betoon? Hoekom satiriseer die skeppende jong Afrikaners nie die huidige regering nie? Want hulle is óf te apaties – stel eerder daarin belang om in shopping malls uit te hang, Engfrikaans te praat en op die internet te surf – óf hulle is te bang om as ‘rassiste’ gebrandmerk te word” (195-196).

Kirsten se boek is nie “geskryf vanuit die benoude intellektuele dampkring van die Afrikaanse literêre wêreld nie. Óf, hemel behoed ons, die klein wêreld waarbinne sy werkgewer beskik oor wat aanvaarbaar is of nie. Dis ‘n uiting van gevoelens wat wyer strek as hierdie vertrek [waarin die boek bekendgestel word]. Van gevoelens wat baie van ons soms langs die braaivleisvuur uiter. Gevoelens wat ons ál hoe meer gereeld openbaar tydens gesprekke oor emigrasie met ons geliefdes … net omdat die wittes aan die suidpunt van Afrika ‘n getalleminderheid het, beteken nie dat hulle perspektiewe nie geldig is nie” (196).

Die aanleiding tot die skryf van die boek was dat die outeur, toe hy ‘n Naspers-motorjoernalis was, per teksboodskap op sy selfoon in kennis gestel is dat hy sy pos kwyt is. Regstellende aksie is op ‘n oordrewe manier bedryf; asof dit die enigste manier is waarop Naspers sy Afrikaner- en Afrikaanse verlede kon besweer ten einde guns by die ANC te verwerf, bv met die oog op die toekenning van lonende drukkontrakte vir voorgeskrewe skoolhandboeke. Toe Kirsten werkloos was en sy vrou se rekenmeestersalaris die huishouding aan die gang gehou het, het hy hierdie reguit-roman geskryf. Dit is eienaardig maar ook bewonderenswaardig dat ‘n Naspers-uitgewery die boek gepubliseer het. Van 2010 af was Kirsten weer as joernalis in diens van Naspers se Media24, wat daarop dui dat hy verdienstelike skryfwerk lewer. Hedendaagse geykte menings oor die hoofkarakter in die boek kan op die outeur toegepas word. Dan is hy “een van die mees politiek-inkorrekte blikslaers” wat daar is (196). “Ek dink hy hunker dalk heimlik terug na wit baasskap” (190). “Hy sê jy’s ‘n ongetransformeerde rassis wat wil vasklou aan die voorregte wat jy en jou soort onder apartheid verkry het” (208). “Moet hy nie eerder emigreer voor dit te laat is nie? Terwyl hy nog jonk genoeg is om weer van voor af te begin nie?” (218). In 2018 het die Kirsten-egpaar hulle in Amerika gevestig.

Christi van der Westhuizen verwys na iemand wat gesê het: “We are doing a project again with the Groenewalds, so it is taking long” (Sitting pretty, Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press, 2017, p 184 – Praag 11.03.2018). Van der Westhuizen verskaf die volgende verduideliking: “An Afrikaans surname cloaks a reference to black people: the Afrikaans word groen in the surnane Groenewald means ‘green’. The use of the term ‘Groenewalds’ foregrounds skin colour as the most salient characteristic. This construction hinges on an understanding of race as a skin-based property that belongs to black people – [hierna gaan Van der Westhuizen, soos sy dikwels moedswilligheidshalwe doen, heeltemal oorboord met] – as opposed to white people whose lighter skins render then race-less and therefore as representing the unmarked normative standard of humanness. White superiority is confirmed through its implicit differentiation from hidden blackness (greenness), set as equivalent with ‘slowness’ in time” (184). In werklikheid word daar soms na groen mense verwys bloot omdat jy verkwalik word as jy hulle swart noem. Dit kan as ironies beskou word dat ‘n Groenewald, Pieter, die huidige leier van die Vryheidsfront Plus is.

Van der Westhuizen se boek het agt jaar ná dié van Kirsten verskyn. Die groenfaktor in die opskrif van hierdie rubriek verwys dus eerder na die rolprent, Die Groen Faktor (1984), waarin die spot met die Nasionale Party se apartheidsbeleid gedryf word. ‘n NP-verkiesingkandidaat drink ‘n brousel wat hom groen laat word, gevolglik sou die blankes teen hom diskrimineer. Daar word tussen ligtegroen en donkergroen mense onderskei. Sake word ingewikkeld (kompleks, soos deesdae so graag gesê word) wanneer die staatshoof ook groen word.

In Kirsten se boek skryf die hoofkarakter, Lourens Erasmus, ‘n boek waarin John de Wet, ‘n professor in dermatologie aan die Universiteit Stellenbosch, ‘n middel genaamd Tirasinol ontwikkel wat wit mense swart maak, wat chaos in die beleid van swart bevoordeling sal veroorsaak. Dit verduidelik die transformasie-medikasie waarna in die opskrif van hierdie rubriek verwys word. “Wittes se melanosome [vervaardig] baie minder melanien as swartes s’n” (85-86). Melanien is “die goed wat vir jou velkleur verantwoordelik is” (85). Tirosinase stimuleer die vervaardiging van melanien sodat blankes swart kan word. Hierdie uitvinding kan Suid-Afrika se rassewrywing oornag laat verdwyn “óf die land in ‘n bloedbad … omskep. Skielik gaan die ANC te doen kry met ‘n situasie waar almal swart kan wees as hulle wil. Hulle wil mos hê dat Suid-Afrika ‘Afrikaniseer’. Dit behoort mos goeie nuus te wees, nie waar nie? Wel, dalk. Maar wie gaan dán geblameer word vir al die onbeholpenheid in die regerende party? Of gaan die ANC, in ‘n perverse nuwe weergawe van die apartheidsjare se berugte potloodtoets, met ‘n soort genetiese toets vorendag kan kom om uit te vind wie ‘werklik’ swart is en wie nie?” (97).

Vir die dermatoloog De Wet is daar hierdie probleem: “Hoe gaan hy keer dat die Universiteit van Stellenbosch hom nie dadelik sensureer of selfs afdank nie?” (124). ‘n Swarte se reaksie op die uitvinding van die transformasie-medikasie is “dat swart wees ‘n spirituele ding is wat wittes nooit sal verstaan nie en dat die regering via sy strategies ontplooide kaders sal toesien dat sulke navorsing nooit voltooi word nie. Net om seker te maak dat wittes nooit op swart wees kan aanspraak maak nie” (164). Tirasinol “het verbasend goed gewerk en het min newe-effekte getoon. Een was ‘n geneigdheid om harde musiek te verkies” (164). De Wet, wat deur die Universiteit Stellenbosch ontslaan is, het op sy afgeleë plasie sy middel op homself uitgetoets en swart geword. “Gewapen met ‘n vals CV, vals paspoort en identiteitsboekie – wat hy baie maklik by binnelandse sake gekoop het – het hy aansoek gedoen vir sy ou, vakante pos by die Universiteit van Stellenbosch se mediese fakulteit. Suksesvol, bygesê” (165).

“Kort hierna het hy ‘n mediakonferensie belê waar hy met die hele sak patats vorendag gekom het. Die universiteit het hom summier afgedank, hoewel ‘n groot internasionale farmasetiese maatskappy hom dadelik ‘n senior navorsingspos in die VSA aangebied het. ‘n Rukkie nadat hy die land verlaat het, reik die ANC ‘n verklaring uit waarin hulle professor De Wet en die internasionale farmaseutiese bedryf daarvan beskuldig dat ‘die wit man lankal die swarte se siel besit; nou het hulle uiteindelik ook sy vel gevat.’ Die ANC-Jeugliga het geëis dat Amerika en Europa vir Suid-Aftika vergoed deur dinge soos ‘ontwerpersklere, Apple iPhones, Italiaanse skoene, Hugo Boss-pakke, swart Chrysler 300C’s, onbeperkte KFC-hoender en groot Versace-sonbrille met goue versierings vir swart parlementariërs en hulle uitgebreide gesinne te skenk om die emosionele pyn te verlig'” (165).

“Kort daarna begin Tirasinol wêreldwyd op die swartmark (lekker pun né? …) beskikbaar raak. Die Afrika-Unie verdoem die feit dat ‘wittes slegs om kosmetiese redes swart wil wees, en dan ook net vir kort rukkies'” (165-166). “In Suid-Afrika word sportliggame amptelik verplig, kragtens ‘n wet wat die ANC inderhaas deurgevoer het, om maandeliks wit en swart atlete se urienmonsters te toets vir die gebruik van Tirasinol. Ná ‘n jaar of twee begin Bafana Bafana ook beter speel – totdat ‘n joernalis ontdek dat die helfte van die span eintlik ingevoerde Duitse sokkerspelers met vervalste paspoorte is wat (met Safa se goedkeuring) skelm met Tirasinol behandel is voordat hulle klandestien met die president se Boeing na Suid-Afrika gebring is” (166).

By die bekendstelling van sy boek het Erasmus gesê: “Wat ek weet, is dat daar baie wittes in die land is wat wens dat daar regtig ‘n pil was om jou swart te maak. Omdat ons vandag die slaansakke geword het van die regering. Omdat ons die skuld kry vir alles … tog is daar een ding wat vir my erger is … die skokkende selfvoldaanheid waarmee hierdie diskriminasie tans gepleeg word” (197). “Dit voel … of die uurglas … besig is om leeg te loop vir die wit man … Dis hier [Tafelbaai] waar sy voorsate eeue terug geland het en dis hier, amper 350 jaar later, dat hy, ondanks sy verknogtheid aan die land, nie kan help om ál hoe meer onwelkom te voel nie” (201). “Hoe moet dit nie voel om vry te wees nie? Waarlik vry. Vry van verwyte. Vry om jou sê te sê, sonder dat een of ander dimwit jou mening as rassisties afmaak” (204).

Soos dit ‘n joernalis betaam, bied die boek ‘n vloeiende, maklik leesbare teks. Onkiese taal word dikwels gebruik. Daar kom baie onnodige Engelse woorde in die Afrikaanse teks voor. Sodanige “geaffekteerde taalgebruik” word beskryf as “‘n duidelike poging om as byderwets gesien te word” (83) maar die outeur maak hom in buitensporige mate self hieraan skuldig. Daar is heelwat Engelse teks wat, anders as die Afrikaans, in suiwer Engels geformuleer is. Ek gaan nie Kirsten se storie oorvertel nie en eerder volstaan met sy uitbeelding van hoe sotlik politieke verskynsels soos transformasie en regstellende aksie in die praktyk bedryf word. “Suid-Afrika het inderdaad ‘n vreemde land geword” (178), wat die lagspiere kon prikkel as die gebeure nie so tragies en vernietigend was nie.

Die aanslag van die roman is sterk outobiografies. Die hoofkarakter is ‘n motorjoernalis en die voorstelling van die werksituasie is blykbaar in groot mate soos Kirsten dit by Naspers se Media24 ervaar het. Die uitbeelding van baie van die karakters is op werklike persone gebaseer; selfs die name wat aan hulle gegee word, kamoefleer hulle werklike identiteit slegs in geringe mate. ‘n Nuwe redakteur word by die Kaapse koerant aangestel, wat “so polities korrek soos kan kom” is (11). Erasmus oorweeg dit om ‘n manuskrip vir publikasie voor te lê “as ‘n bruin skrywer. Of nóg beter, ‘n swart skrywer” (32). “Sy lewe sou darem maklik gewees het as hy ‘n swart joernalis in die maatskappy was” (66). Inderdaad. “Asof die feit dat die ANC [die koerant] as ‘n pro-DA-publikasie sien nie genoeg van ‘n nadeel is nie, is dit onmoontlik om iets uit te snuffel as jy nie swart, en verkieslik Xhosa-, joernaliste het nie. En hulle sukkel hulle dood om jong Xhosa-verslaggewers te kry wat goed Afrikaans kan praat en skryf” (119).

Van die hoof van een van die uitgewerye, Orca, word gesê: “Hy was effens te jonk om werklik by die Broederbond te gebaat het, maar te oud om ‘n Madiba-hemp met oortuiging te kon dra en om – anders as byvoorbeeld ‘n lesbiese Xhosavrou – geloofwaardig vir transformasie en regstellende aksie te agiteer” (36). “‘Julle moet oor belangrike dinge skryf, man.’ ‘Soos wat – die ekonomie wat in sy moer is?'” (63). “Hulle weier dan om gekwalifiseerde wittes in die staatsdiens aan te stel, al is daar ernstige tekorte en duisende poste vakant” (67). By Orca is dit nie veel anders gesteld nie. Die hoof van die maatskappy vra: “Presies hoe, vra ek jou … gaan ons relevant bly as ons personeelsamestelling nie verteenwoordigend van die samelewing is nie?” (76-77). Orca se hoof besef dat hy “op die punt is om geoffer te word” (77). ‘n Bruin man sal binnekort na hom toe gestuur word. “Ons wil hê jy moet hom touwys maak … Hom mentor … Jy tree oor ‘n jaar af” al is hy “nou eers 55” (77). Sy bruin opvolger het “uit die aard van die saak baie goeie ANC-kontakte. Dink net wat hy vir Orca kan beteken met die verkryging van staatskontrakte vir skoolhandboeke” (78).

“Hoe meer ouer, en spesifiek ouer wít mans, aftree, hoe beter lyk die maatskappy se rassetelkaart. Op redaksievlak is daar ‘n vaardigheidstekort … Deels omdat die koerant besluit het om ter wille van transformasie jongmense uit die aangewese groepe sommer direk uit die technikon aan te stel – anders as in die ou dae toe ‘n graad ‘n minimum vereiste was vir ‘n joernalis – en deels omdat van die ervare, of anders gestel: wittes, ontslae geraak is deur hulle te dwing om vroeër af te tree. En die feit dat die maatskappy geld sal spaar deur ontslae te raak van mense met relatief groot salarisse is natuurlik ‘n welkome bonus … ons vervroegde aftree-ouderdom [is] ‘n dom politieke opoffering … wat die maatskappy maak” (112).

Na aanleiding van negatiewe berigte oor die staatsdiens van die nuwe Suid-Afrika sê Erasmus aan ‘n vriend: “As jy ontslae raak van alle ervaring en kundigheid, van die fokken klerke tot die direkteure, en hulle eensklaps vervang en alles ‘transformeer’ ter wille van ‘demografies verteenwoordigende personeel’ – van wie die senior amptenare almal politieke aanstellings is – dan is dit mos logies [dat die diens ineenstort]. Ek bedoel, dis mos die suiwerste voorbeeld van die oorsaak-gevolg-verband waarvoor jy kan vra” (182).

‘n Redakteur sê: “Weet jy hoe sukkel ons as Afrikaanse dagblad om relevant te bly? Aan die een kant het ek ‘n krimpende wit demografiese mark wat ongelooflik ontnugter is met die huidige stand van sake in die land. Nie dat ek hulle kan verkwalik nie. Maar aan die ander kant is daar bruin lesers wat al lank saam met ons kom. Dis mense wat ook aanspraak kan maak op Die Kapenaar [eintlik Die Burger]. Weet jy hoe moeilik is dit om ‘n eierdans te doen tussen die uitbou van ons koerant onder die bruin gemeenskap, waarvan die helfte in elk geval nie meer Afrikaans wil praat nie, en kritiek op die regering? Dis so maklik vir enige kritiek van ons kant af om as rassisme gesien te word” (176). “Die maatskappy het ‘n paar jaar gelede begin met ‘n tranformasieforum. Weet jy wie daaraan behoort? Enige werknemer – solank hy of sy nie wit is nie. Daar kry hulle die kans om te praat oor enige aangeleentheid wat hulle pla. Het ons jong wit werknemers dieselfde kanale? Nee, natuurlik het hulle nie” (177).

“Deesdae raak [Erasmus] ook ál hoe meer gefrustreerd oor mense wat laat kom … begin mense hulle in die algemeen nie maar tóg oorgee aan Afrika-tyd nie – nes hulle die laaste dekade ál hoe meer soos Derdewêreldmense begin bestuur het?” (131). “Die gemiddelde bestuurder begin al nes die minibus-taxi-bestuurders ry … Sy’t al baie gewonder oor die ware betekenis van ubuntu en of dit ooit regtig bestaan. Is dit nie maar iets wat die ryk, swart elite gebruik om wittes te laat skuldig voel en die arm swartes onderhorig te hou nie?” (68). “Ja, kuns – of letterkunde – mag dalk kuns wees, maar soos ons almal weet, net solank dit politiek-korrek is” (69).

Dit is ‘n boek binne ‘n boek. Erasmus se beoogde boek kry teenstand. Die uitgeweryhoof sê: “Ek kry al hoe meer druk van bo af dat julle met swart skrywers vorendag moet kom. En bruin skrywers. Nou kom jy met ‘n bitter jong Afrikanerman wat regstellende aksie wil satiriseer” (69-70). Sy onderdaan werp teë: “Ons kan hom mos manage en sorg dat dit nie te erg … hoe sal ek sê, ‘regs’ is nie, dat mense hom nie sal etiketteer as ‘n soort Dan Roodt Lite nie” (70). Nadat die boek gepubliseer is, sê een van die joernaliste: “Ek het vinnig deur die ding geblaai, en dit klink of [Erasmus] Dan Roodt se alter ego is” (180). “Dalk is dit nog erger. Ek bedoel, as Dan Roodt iets skryf, dan kry ons iemand soos Christi [van der Westhuizen] of Amanda [Gouws] om sy boek te resenseer. Maar [Erasmus] is een van óns. Hoe gaan ons sy boek hanteer?” (181).

Dit is reeds lank vir enige kritiese leser van die boekresensies in Media24 se koerante duidelik dat wanneer Naspers-publikasies bespreek word van resensente verwag word om hulle so veel moontlik goed te praat. Die resensente speel saam, want hulle word betaal en dit is publisiteit vir hulle. Die resensies dien eintlik as advertensies vir die boeke. Wanneer ander uitgewerye se publikasies in uitsonderlike gevalle bespreek word, kry die resensente vrye teuels om hulle sleg te sê. Die resensente word met voorbedagte rade uitgesoek. ‘n Klassieke voorbeeld is Bill Nasson, ‘n bruin historikus wat aan die Universiteit Stellenbosch aangestel is. Hy is versoek om ‘n boek oor Hendrik Verwoerd te resenseer. Nasson noem die boek ‘n “aanstootlike anachronisme” en Afrikanernasionaliste “dinosourusse” (Rapport, 10.06.2018). Die hele resensie is deurweek met vooroordeel en siniese sarkasme. Nasson het dit klaarblyklik geniet om Verwoerd van ‘n kant af sleg te sê. Blykbaar maak dit nie saak wat enige regsinninge mens van so ‘n geskiedkundige behoort te dink nie.

“Om ‘n ouer, heteroseksuele Afrikanerman by ‘n progressiewe Afrikaanse dagblad te wees, is hel, het dit al hoe meer geblyk. As jy teen 1994 ouer as 20 was, het jou hande as ‘t ware met bloed gedrup, was die uitgesproke sentiment in die gange” (87-88). Die kruipsugtige maatskappy bied diversiteitsessies vir sy werknemers aan sodat hulle kan aanpas by die (wrede) werklikheid van die nuwe Suid-Afrika. “Alles het die laaste twintig jaar so drasties verander. Het die Ou Suid-Afrika ooit bestaan? Of was alles net ‘n verskriklike nagmerrie?” (96). “Dis asof die gebeure van 1994 en die gepaardgaande sosiopolitieke veranderinge ‘n sneltrein was wat nie eers spoed verminder het toe dit langs die perron verby geblits het waarop die gedoemde geslag van … wit Afrikanermans … gewag het nie” (126-127). “Die wittes kon in twee groepe ingedeel word: dié wat probeer oorkompenseer het en meer liberaal en progressief as hulle gekleurde kollegas probeer wees het, en dié wat apolities was” (94).

Baie blankes het sedert 1994 hulle gatte geswaai. Byvoorbeeld: “By die redaksielede … is dit ‘n ope geheim dat Hein Gagiano in sy fleur vir Militêre Intelligensie gewerk het … Baie van sy kollegas sou nog simpatie vir hom gehad het, was dit nie vir die feit dat hy as ‘t ware oornag ‘n 180-grade ommeswaai in sy politieke standpunt gemaak het … nie … Tydens redaksievergaderings het hy skielik heftig teen die ou regering begin uitvaar” (108-109). “Deesdae weet jy nie hoe enigiemand sal reageer as rassekwessies ter sprake kom nie” (122). “Niemand praat meer oor hulle militêre verlede nie. Wat is die nut daarvan om nog sulke dinge te onthou as almal die onderwerp vermy?” (96). “Was dit omdat hy sy verlede wou agterlaat, of was dit bloot omdat mense naderhand al hoe minder omgee vir dinge – dinge waarvoor hulle eens op ‘n tyd bereid was om te sterf?” (116).

Erasmus “dink terug aan die verpligte diversiteitsessie wat hulle ‘n paar maande vroeër moes bywoon en hoe Hetta [‘n blanke] en ‘n paar van haar bondgenote meer as die bruin redaksielede sélf teen wit mense te velde getrek het” (87). “Lourens het al gewonder hoekom Hetta nog nooit ‘n verhouding met ‘n Suid-Afrikaanse swart man gehad het nie; is dit omdat hulle uiteindelik tóg te swart is vir haar?” (87). As vrou is Hetta glo “noodwendig fyner ingestel op hierdie … nuanses in the subtiele magswanbalanse binne die samelewing. Omdat jy as vrou hierdie voorsprong bo mans het, is dit belangrik dat jy dit gebruik om jou kollegas voortdurend bewus te maak van die subtiele rassisme wat so algemeen in beriggewing is” (88). Hierdie onsubtiele feministiese twak word toegeskryf aan ‘n Stellenbosse professor, Amanda le Roux; ongetwyfeld beter bekend as Amanda Gouws. Lize Kruger, ‘n Stellenbosse joernalistiekprofessor, is ‘n fasiliteerder by een van die diversiteitsessies; ‘n effens gekamoefleerde verwysing na die onredbaar linkse Lizette Rabe.

“Daar waar [Erasmus] heel agter in die koerant se groot konferensievertrek tussen al sy kollegas gesit het, het dit vir hom gevoel of hy die alleenste mens in die hele wêreld was. Hy was ‘n wit, heteroseksuele joernalis in sy laat dertigerjare en dit het vir hom gevoel of hy aan ‘n bedreigde spesie behoort. Die meeste van die bruin joernaliste was aangename mense, maar was te jonk vir hom om regtig mee te kon sosialiseer. Daar was ook ‘n paar ouer bruin kollegas, maar dié was te min op kantoor om regtig te kon leer ken, omdat die koerant se topbestuur hulle so dikwels ingespan het vir openbare geleenthede om ‘n minder wit profiel te probeer bevorder” (90).

“Wat is die nut van die wit man in Afrika … Moes hulle in die eerste plek ooit hierheen gekom het? Hoe sou ‘n primitiewe Afrika vandag met die gevorderde wêreld om hom omgegaan het as hulle nooit gekolonialiseer was nie? … Gaan die Derde Wêreld, soos Raka, nie skielik eensklaps die poreuse grense van die Weste oorsteek en die heersende swak, permissiewe, akkommoderende kultuur – wat besig is om homself van binne af te verteer – eenvoudig oorspoel met getalle nie? Is dit nie tog wat alreeds aan die gebeur is nie? Dalk gaan die honger, vermenigvuldigende kulture suid en oos van Europa nie soos Raka die kraal binnegaan as die stam houtgerus lê en slaap nie. Dalk doen hy dit in inkremente. Dalk woon Raka al klaar daar, rég onder die niksvermoedende Wes-Europeërs se neuse. En wat van die wittes in suidelike Afrika? Is hulle die eerste Westerlinge wat besig is om te ervaar hoe dit is om deur ‘n getygolf van ‘n Derde Wêreldse getalleoorwig oorweldig te word en te sien hoe hulle beskawing voor hulle oë vervang word deur iets waar oermotiewe die motivering agter alles is, al word dit verpak in oënskynlik intellektuele klankgrepe? Of het hulle ‘n voordeel dat hulle vroeër die geleentheid sal kry om te leer om saam te leef met ander kulture, anders as die beterweterige Nederlanders, byvoorbeeld?” (103).

Daar volg nog ‘n diversiteitsessie wat in besonderhede beskryf word en vir die doeleindes van hierdie rubriek die hoogtepunt in die boek is. Hetta wil nog ‘n “workshop oor diversity” hê “om “ons te sensitise vir … racism” (109). Die outeur verwys afkeurend na “haar irriterende gebruik van Engfrikaans” (183). Hetta kry ondersteuning van ‘n kollega. “Hetta, ek dink dis ‘n baie goeie idee. En ek moet sê, as dit my keuse was om te maak, het ek hom [Erasmus, vanweë sy transformasie-medikasie-boek] eers kultureel laat herprogrammeer – voordat ek hom afgedank het! Want wat die rassis nie besef nie, is dat ons nie kan bekostig om die ANC kwaad te maak nie” (109). “Dalk moet sy kop herprogrammeer word. Dalk moet alle wit mans se koppe herprogrammeer word … Totdat daar eendag uiteindelik niemand meer oor is wat enigiets weet of enigiemand anders aanstoot gee nie” (110).

Volgens verligtes smeek iemand wat skryf van “‘n groot, uitgevrete Nigeriër, die ene tande” (129) om getransformeer te word. Erasmus “weet dat wanneer hy ook al iewers in ‘n straat loop, hy net so gestereotipeer word in die oë van enige swart waarnemer as dít waarvan hy en mans van sy geslag beskuldig word. Wat moet hy doen? Mag hy nie dink en skryf oor die wêreld om hom nie? Moet hy eers toestemming vra dat sy gedagtes niemand affronteer nie?” (110-111). “Hoe lank moet ons wittes nog steeds verskoning vra vir alles?” (130).

In die nuwe Suid-Afrika het die personeelafdeling van hierdie van huis uit Afrikaanse maatskappy oornag ‘n nuwe en daarby Engelse naam, “Human Resources”, gekry. Die hoof is ‘n regstelling, Calvin Moses, wie se moeder- en huistaal heel moontlik Afrikaans is, maar by die werk is hy uitsluitlik Engels. Die uitnodiging wat Erasmus na die diversiteitsessie ontvang, is uiteraard eentalig Engels (124). Kenmerkend is die fasiliteerders van die diversiteitsessie ‘n wit vrou en ‘n swart man en Engels is die enigste voertaal. “Daar is net een ding waarop ‘n Engelsman meer neerkyk as ‘n swart man en dis ‘n Afrikaner!” (182). Die wit vrou is van Ierse afkoms en het voorheen die land uit protes teen apartheid verlaat (131). Die swart man was lid van die UDF en het ‘n vakbond- en struggle-verlede (132). “Ongeveer 40 minute nadat hulle [met die werksessie] begin het, is daar ‘n klop aan die deur … ‘n jong swart vrou in haar vroeë twintigs kom binne. ‘Sorry I’m late’ … Sy lyk nie in die minste verleë dat sy laat is nie” (132). Die volgende dag, die laaste dag van die werkseminaar, is sy “net 30 minute laat” (139). Daar is ‘n swart man in die gehoor wat ‘n All Black-rugbytrui dra. “Hou hy van die All Blacks se styl van rugby, of is hy ook ‘n navolger van dié gewilde antiwit-ingesteldheid?” (132).

Erasmus vat vlam toe die Ierse dame sê: “It is not possible for the current government to be racist” (133). “Excuse me. So you mean to say that the current government cannot be racist?” (133-134). “Yes, that’s what I said.” “Not at all?” “No … there first needs to be institutionalised discrimination against certain groups.” “But affirmative action …? Surely it discriminates between certain races.” “Yes … but you have to understand that other factors, like economic power, also need to be taken into account.” “So you’re telling me that because some white people have economic power, the poorer whites cannot be discriminated against by government?” “Exactly. In order for a group to be discriminated against they have to experience it through language, education, values, legislation, social and political systems. And surely that is not the case with whites, is it?” “I have to disagree with you … Our language – Afrikaans – is being eroded in the public sphere. Many highly deserving – and by that I mean academically deserving – white learners are often prevented from studying medicine, because of quotas at universities. And legislation … do you know that the Tshwane Metro Council has barred the use of white contractors for certain work?” (134), ens.

Later vra Erasmus bv: “Why do people still call us settlers?” (135). Hy kry ‘n antwoord van ‘n swart man: “That is typical white man’s history. We don’t trust it! Africa belongs to the black man! … You have taken what belongs to us and now we’re taking it back” (135). Die swart vrou wat laat gekom het, sê: “I don’t know when you people will start believing the true history of Africa. What you are saying now is just typical racist denialism. We blacks were here first” (136). Erasmus sê: “Well, what about the fact that South Africa has, by far, the biggest, most successful and sophisticated economy and infrastructure in Africa? Don’t you think that, on a material and technological level at least, there were – eventually – benefits for everyone? Why are millions of African refugees streaming into South Africa? Why don’t they flee to other, predominantly black, black-dominated countries?” (136).

Ná die sessie voel Erasmus “dat hy eerder op ‘n ander plek wil wees … Iewers waar hy nie verkwalik gaan word vir die feit dat hy wit is nie … Toe [hy] later na sy woonstel ry, voel hy terneergedruk, moeg daarvoor om verwyt te word vir alles wat verkeerd is in Suid-Afrika. Moeg om ongelukkig te voel oor Afrikaanse plekname wat in sommige gevalle vervang word deur name wat min of niks met werklike historiese feite te doen het nie en wat ‘n ál meer arrogrante vorm van magsvertoon is” (137).

“Wat hom opgeval het van die vorige dag se werkswinkel is hoe militant die jonger kollegas is – mense wat in 1994 nog op laerskool was. Watter verwronge idee hulle van geskiedenis het. Hoe hulle die meeste verontreg voel, duur klere, juweliersware en loopbane by ‘n regstellende-aksie-bedonnerde maatskappy ten spyt. Is daar hoop vir hierdie land … Of gaan alles oor ‘n dekade of twee inplof in ‘n orgie van selfgenoegsame toe-eiening en vergelding?” (138). Dink aan landbou: Die ANC se strategie “is not to develop the industry … but rather to … cannibalise it as a means of providing a sort of welfare aid to poor people. And therein lies a huge ideological chasm. A clash of civilisations* … So instead of South Africa developing into the powerhouse of Africa, we’re probably going to regress to the same level as the rest of Africa” (207). [* ‘n Verwysing na Samuel Huntington, Praag 5.11.2016.]

Die volgende dag besluit Erasmus: “Vandag gaan hy net stilbly en luister wat die ander mense sê, want ‘n tweerigtingdiskoers is heeltemal buite die kwessie in dié omgewing” (139). Toe hulle nabetragting hou, sê een van die swart mans: “We were always going to seize power, no matter what. What I have learnt is that black people have a lot of patience. But that patience is not endless. And we want what is rightfully ours. Although we are willing to discuss the finer details” (140). ‘n Swart vrou sê: “This is a black country and they [white people] must understand that it must have black place names” (140).

Erasmus probeer klaarheid kry deur met ‘n vriend te gesels. “Dis nie omdat hulle [swartes] skelm of agterlik of so iets is nie. Dis omdat hulle nie wéét dat hulle nie weet nie. Omdat hulle nie kan insien nie dat wanneer hulle partylojale apparatchiks, in plaas van bevoegde, onpartydige mense, orals ontplooi, die hele affêre in ‘n stadium eenvoudig gaan inplof. En dan gaan hulle dít ook op ons wittes blameer. Nes in Zimbabwe” (143). Aan ‘n blanke jong meisie wat ANC-gesind is, sê Erasmus: “Jy sal sien dat die wetgewing van die party wat jy ondersteun dit vir jou onmoontlik sal maak om ‘n werk te kry as jy sou meeding met iemand van ‘n ander ras wat net naastenby dieselfde kwalifikasies as jy het” (183). Soos in George Orwell se Animal farm : “Ons is … almal gelyk. Maar party van ons is meer gelyk as ander” (194).

Tydens ‘n besoek aan Europa het dit vir Erasmus “opgeval dat, anders as in Suid-Afrika, niemand sy gemors op die grond neergegooi het nie” (154). Hy keer terug na Suid-Afrika, “die land waar die meerderheidsparty geen kans laat verbygaan om wittes te laat verstaan dat hulle aan ‘n uitheemse spesie behoort nie. Dat hulle uiteindelik steeds setlaars is wie se bydrae hoogstens dié is van ‘n groep wat hulle kundigheid moet oordra aan die ‘inheemse’ mense. Die wáre, legitieme inwoners van die land. Dat hy hier, in sy geboorteland, hoogstens verdra word” (154). Hy is gefrustreerd met die nuwe Suid-Afrika se “eiesoortige gelatenheid van ‘n Derdewêreldland” (154-155). By die lughawe “is daar altyd die gewag in die ry van paspoortbeheer, net om uiteindelik te staan te kom voor ‘n trae, nors beampte wat oopmond kougom kou en jou klokslag laat verstaan dat hulle jou ‘n guns bewys. Buite die aankomssaal moet hy dadelik op sy hoede wees vir diewe wat sy bagasie wil steel” (155). “Die gemiddelde landsburger [het] ‘n vreesbevange gevangene in sy eie huis geword” (209).

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.