Tuinier in hegtenis as verdagte in Kennealy-saak

Deel op

Die tuinwerker van die vermoorde Annette Kennealy is gisteraand in hegtenis geneem. Hy heet Kenny Ramatshimbila en het op haar perseel gewoon. Sowel boere in die Louis Trichardt-omgewing as die polisie se woordvoerder, kol. Moatshe Ngoepe, het dit bevestig.

“Annette het haar ma gebel en gekla dat die tuinwerker besig was om ‘n baie slegte houding te ontwikkel,” het die vermoorde Kennealy se buurman gesê. “Dis moontlik dat daar ‘n struweling was, waarna hy haar met die hamer en ysterpyp doodgeslaan het.”

Annette Kennealy was ‘n bekende kampvegter teen plaasmoorde in die Louis Trichardt-omgewing en het veral skakelwerk met buitelandse media gedoen om hulle oor die toestande in Suid-Afrika in te lig. Die nuus dat sy vermoor is, het landwyd skokgolwe veroorsaak. Vanoggend in Johannesburg en Pretoria het die dagblad Beeld se baniere op lamppale gelui: “Aktivis op hoewe vermoor.”

In sy reaksie gister het dr. Dan Roodt van PRAAG geskryf dat hy vermoed dat sy deur ‘n bekende vermoor is aangesien sy altyd gewapen was. “My vriendin en aktivis vir landelike veiligheid, Anntte Kennealy, het self die slagoffer van ‘n verskriklike plaasmoord geword…. Sy was baie dapper, en het altyd ‘n wapen by haar gedra, ‘n 9mm-Astra-pistool. Kennelik was haar paraatheid nie genoeg om haar uiteindelik te red nie. Sy is óf deur iemand gedood wat sy geken het óf sy is verras.”

Dit blyk dat Kennealy wel haar pistool by haar gehad het tydens die voorval. Nadat die verdagte ondervra is, het hy die pistool op die moordtoneel aan die polisie uitgewys.

“Waarom het sy hom nie geskiet nie?” het een van Kennealy se vriende, met wie PRAAG vanoggend gesels het, gevra.

Blykbaar het die verdagte reeds erken dat hy die moord gepleeg het. Hy het egter nog nie in die hof op ‘n moordklag verskyn nie.

Nog kommentaar van boere in die omgewing was: “Totdat ons ons eie werk begin doen, sal ons nooit veilig wees nie. Annette het hom nie nodig gehad nie. Sy het haar perde verkoop. Maar sy het hom daar laat bly en af en toe die pad bietjie laat regmaak. As sy alleen was, het sy nou nog geleef.”

Kennealy se moeder het Maandagaand begin onraad vermoed toe sy Sondagaand nie haar selfoon beantwoord het nie. Sy het ook nie soos gebruiklik haar om 18:00 op die plaaslike plaaswag se burgerbandradio aangemeld nie. Toe iemand Maandagoggend uitgestuur is om ondersoek in te stel, is haar lyk omstreeks 9:00 ontdek.

Op haar Facebook het Annette Kennealy haar die bynaam Tshinakaho gegee, tesame met die Engelse onderskrif: “White lives matter.”

Die radio-omroeper van RSG, Izak du Plessis, het foto’s van haar op sy Facebookblad geplaas en hulde aan haar gebring:

Mooi loop, Tshinakaho. Dankie vir die stil nagte in jou paradys op die berg wat jou hel geword het. Dankie vir die diep gesels, vir die spesiale tyd saam met jou, die straight shooting, die aand toe ons knieë geraak het in Saartjie se garage, die blywende vriendskap daarna en die mooi van jou hart. Dankie vir daai naweek toe ons dié foto’s geneem het. Ek sal jou nooit vergeet nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.