VF Plus kon nóg beter gedoen het – Werner Weber

Deel op

Gedurende die onlangse parlementêre verkiesing het die Vryheidsfront Plus sy aantal stemme meer as verdubbel tot 414 844 om sy aantal setels in die nasionale vergadering tot op 10 te staan te bring. Dr. Dan Roodt het met ‘n veteraanverteenwoordiger van die party gesels.

Terwyl ‘n provinsiale raadslid van die EFF in Mpumalanga onlangs gedreig het om “die Witwolf se tande uit te slaan”, lag die VF Plus se verteenwoordiger in die wetgewer, Werner Weber, lekker daaroor. “Ek hoop hy sit langs my,” sê Weber. PRAAG het ‘n onderhoud met hom gevoer oor die party se vertoning in die onlangse verkiesing, asook sy toekomstige beleid.

Die VF + het beter gedoen as wat verwag is. Waaraan skryf u dit toe?

Werner Weber: Die koerante het dit gesê. Na my mening, het ons nie so goed gedoen as wat ek verwag het nie.

Was die DA ooroptimisties?

Werner Weber: Ja, die Die DA was ooroptimisties.

Daar was negatiewe reaksie van Collen Sedibe van die EFF op Twitter wat dreig om u tande uit te slaan. Verteenwoordig die VF+ en die EFF twee teenoorgestelde pole in die Suid-Afrikaanse parlement en politiek?

Werner Weber: Ek is nie oortuig dat hy uit sy hart uit praat nie. Om politieke redes maak hulle asof hulle die witmense haat. Ek ervaar nie sulke gevoelens van swartmense op straat nie.

Dink u die EFF is ook nie so anti-wit as wat hulle voorgee nie?

Werner Weber: Hulle verteenwoordig nie die gesindheid van swartmense nie. Daar is baie min plekke met soveel swartmense soos Piet Retief en ek ervaar hoegenaamd nie daardie gesindheid hier op ons dorp nie.

Oorspronklik is die VF gestig om selfbeskikking vir die Afrikaner te verkry. Maak dit nog deel van die party se grondwet en doelstellings uit?

Werner Weber: Onomwonde, ja! ‘n Mens moet byvoeg dat selfbeskikking verskillende fasette het. Ek kan sonpanele op my dak sit en self elektrisiteit opwek; dit is ‘n vorm van selfbeskikking. Om my eie hospitaal te hê, is ‘n vorm van selfbeskikking. ‘n Eie tuisland is die toppunt van selfbeskikking, maar nie die enigste nie.

Is dit nog die party se strewe om ‘n tuisland vir Afrikaners te verkry?

Werner Weber: Indien moontlik.

Wat dink die VF van die groei onder Europese patriotiese of behoudende partye?

Werner Weber: Daardie partye het ‘n baie sterk gevoel van nasionalisme, en dit verskil weinig van die gesindheid in die VF Plus, want ons is ook patriotte. Ons het ook Afrikanernasionalisme wat vir ons baie belangrik is. Ons vra nie verskoning vir dít wat ons is nie, glad nie. Ons is trots op wat ons is en moedig almal aan wat Afrikaners is en selfs witmense om trots te wees op hulle identiteit.

Is daar enige toenadering tussen sulke partye en die VF Plus?

Werner Weber: Die Duitse AfD het ‘n afvaardiging gestuur na die parlementêre koukus van die VF Plus en hulle het ontmoet. Dit was omtrent so ‘n jaar of 18 maande gelede.

Het die VF enige besoeke aan Europa gebring?

Werner Weber: Daar was so ‘n besoek, maar ek was nie by die gesprek nie.

Hou die VF dop wat in die EU-verskiesings gebeur?

Werner Weber: Ek persoonlik hou dit dop.

Hoe lyk Suid-Afrika se toekoms onder die ANC?

Werner Weber: Ek is geneig om die positiewe raak te sien, maar daar is baie meer negatiewe vooruitsigte as positiewes.

Hoe voel u byvoorbeeld oor die huidige ekonomiese situasie?

Werner Weber: Ek is van mening dat die ANC se finansiële plan nie volhoubaar is nie en dat hulle hul finansieel gaan vasdraai. Hulle planne is net nie volhoubaar nie. Daar is geweldige uitgawes aan sosiale programme. Hul munisipale plan is ook nie uitvoerbaar nie. Een of ander tyd wag daar baie groot moeilikheid.

Werk die demokrasie goed in SA?

Werner Weber: Ek is van mening dat die demokratiese formaat nie ontwerp is vir ‘n land soos SA met verskillende gemeenskappe nie. Dit het sy ontstaan in Engeland gehad wat oor ‘n homogene bevolking beskik het. Dit is uiters onbillik vir minderheidsgroepe. Die ANC sal altyd in beheer wees, en swartes sal altyd in beheer wees.

Is ANC-regering goed vir die breë massa swartmense in SA?

Werner Weber: Op die kort termyn, uitstkend. Maar dis nie volhoubaar nie. Nie finansieel nie. Daar is te veel maatskaplike toelaes, asook oormatige salarisse vir staatsamptenare. Die geld sal opraak, een of ander tyd.

Wat sal dan gebeur?

Werner Weber: Wat dan sal gebeur? Wat met enige besigheid gebeur! Uitgawes sal besnoei moet word en hulle sal vir die massas moet sê julle kry minder geld.

Is die VF Plus steeds ‘n Afrikanerparty of is dit nou ‘n party vir al die minderhede in SA?

Werner Weber: Die party se hooffokus is steeds die Afrikaner want hy het uit die Afrikaner ontstaan. Maar daar word teen alle minderhede gediskrimineer en dus is dit ons missie om alle minderhede te beskerm.

Is die media deesdae vriendeliker teenoor die VF Plus?

Werner Weber: In die laaste drie weke voor die verkiesing het die media baie duidelik gewys hulle veg teen die VF Plus en vir die DA. Hulle wil een groot opposisieparty hê, hulle glo nie in kleiner partye wat ‘n koalisie kan vorm nie.

Hoe sou ‘n ideale SA lyk vir die VF Plus?

Werner Weber: Dis ‘n baie moeilike vraag. Eerstens moet alles op meriete geskied. Ons wil ‘n vreedsame samelewing hê. Ons sou wou hê dat daar weggedoen word met regstellende aksie en swart bemagtiging. Ook dat die ANC se grondplan geskrap word. En dat daar nie teen minderhede gediskrimineer moet word nie.

Ek glo dat as ons normale kapitalistiese stelsel in SA kon implementeer met gelyke geleenthede vir almal sou dit ook beter met ons gaan.

Ek wil byvoeg oor ‘n tuisland: ‘n tuisland is ons strewe, maar dit is nie die oplossing vir almal nie. Die meeste van die witmense en Afrikaners sal nog altyd in die land aanbly. Ons strewe moet ook wees om geregtigheid te verkry vir diegene wat nie in die tuisland sal beland nie. Die res van die mense in die land het ook regte en ons sal vir hulle regte moet opstaan.

Dis baie moeiliker om ‘n tuisland te bekom terwyl die ANC regeer. FW de Klerk moes dit vir ons verkry het. Dis baie moeilik nou want die ANC wil dit nie vir ons gee nie. Ons het eintlik die geleentheid in 1994 verpas.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.