Leon Lemmer: Heart of darkness: Deel 2: As nuwe Suid-Afrika-letterkunde

Deel op

Eben Venter (gebore in 1954) het in 1986 na Australië verhuis maar sedertdien (periodiek) na Suid-Afrika (Prins Albert) teruggekeer. Hy en sy lewensmaat, Gerard Dunlop, het ‘n restaurant in Melbourne bedryf.* Venter het ‘n roman oor die nuwe Suid-Afrika in wording gepubliseer: Horrelpoot (Kaapstad: Tafelberg, 2006, 326p, R215; Amazon Kindle $24,15 – ook in Engels beskikbaar: Trenchman, 2008; Amazon Kindle $36,79). Soos Ingrid Winterbach word Venter deur literêre kritici as van die beste hedendaagse romanskrywers beskou. Albei irriteer my met hulle onsuiwere Afrikaans.** In Venter se geval is daar heelwat pogings tot mooiskrywery. Wat oneg aandoen, is die onrealistiese oordrywing van baie van die gebeurtenisse. Wat afstootlik is, is die buitensporige klem op liggaamlikheid/lyflikheid, veral ekskresies. In die boek is daar heelwat teks in Engels, asook in Xhosa. Laasgenoemde na aanleiding van die outeur se jeug in die Oos-Kaap. Horrelpoot was nie eintlik ‘n aangename leeservaring nie. In daardie opsig beveel ek nie die boek aan nie. Ek bepaal my hoofsaaklik by inligting oor die toekomstige Suid-Afrika soos deur Venter in die vooruitsig gestel.

[* Na aanleiding van die jongste bekronings in die Afrikaanse letterkunde het ek my begin afvra: Behoort daar nie ‘n prys spesifiek vir heteroseksuele skrywers ingestel te word nie?

** Johannes Comestor het Winterbach se boek, Die aanspraak van lewende wesens (2012) bespreek en besware teen die gehalte van haar Afrikaans geopper (LitNet 22.10.2013). Chantelle Gray het Winterbach se geradbraakte Afrikaans teen hierdie besware verdedig (LitNet 7.07.2015).]

“Sekere karakters en scénes … is herinterpretasies van [Joseph] Conrad se oorspronklike teks” (p 325), te wete Heart of darkness (1899) – Praag 27.04.2019. Elkeen van die dertien hoofstukke begin met ‘n aanhaling uit daardie novelle. Marlouw (Martin Jasper Louw), die teenhanger van Conrad se Marlow, is die ek- en hoofkarakter. Marlouw is op soek na sy suster, Heleen Spies, se seun, Koert, die teenhanger van Conrad se Kurtz. Marlow onderneem ‘n moeisame tog tot diep in die Kongo om Kurtz te vind. Op ‘n soortgelyke manier vertrek Marlouw uit Australië, waar hy en sy suster hulle as oud-Suid-Afrikaners in Melbourne gevestig het, na Suid-Afrika om Koert op hulle destydse familieplaas, Ouplaas, in die Oos-Kaap te gaan soek en moontlik na Australië terug te bring. In albei verhale is daar heelwat gerugte en bespiegelinge vooraf oor Kurtz/Koert, bv dat hy dood is, totdat Marlow/Marlouw hom vind. In die lande waar die twee verhale afspeel, onderskeidelik die destydse Leopold-Kongo en die nuwe Suid-Afrika in wording, heers daar haas onleefbare omstandighede.

Marlouw is met ‘n gebreklike voet gebore. Hy is die horrelpoot in die boektitel. Sy neef, Koert, het gangreen in sy een voet. “Die kuit gaan definitief saam met die voet afgesit moet word” (288). Hierdie kreupelheid by albei dui moontlik op hulle beweerde apartheidskuld; dermate dat hulle nie normaal in Suid-Afrika kan funksioneer nie. Van Marlouw se voet word gesê: “Daar móét skuld gewees het. Snags die spalke, die leerbandjies en gespes gespan om die voet te probeer op- en terugbuig, bedags die potsierlike, ortopediese skoen” (140).

Marlouw het hom aanvanklik verset teen sy suster te aandrang dat hy Koert moet gaan opsoek en haal. Hy sê: “Ek wou nooit weer teruggaan na ‘n land waar ‘n wit vel as teken van bevoorregting gesien word nie” (8) en “Here, laat ek die vaderland en Ouplaas nooit weer sien nie, laat ek my vir die res van my kortstondige aardse bestaan daarvan losmaak” (10). “Kaart en transport van Ouplaas is aan drie [swart] families oorgedra” (11). Dit het gebeur nadat die Landless People’s Movement die plaaswerkers opgestook het met die geykte leuen: “Julle baas het die grond van julle gesteel” (108). Die swartes op die plaas het hardegat met die blankes geword. Mildred, een van die swartes op die plaas, het met hierdie verwyt vorendag gekom: “Meer kos vir julle honde as vir ons en ons kinders op die plaas, julle honde het meer vleis geëet as ons, jy dink ek het nie gesien nie” (146). “Hulle nuutgevonde gesag moet met ou griewe uitgebalanseer word” (146). “Ek het die [swart] mense nooit geken of verstaan nie, selfs toe ek nog hier tussen hulle gewoon het nie” (52).

“Toe die plaasaanvalle en grondeise begin toeneem, het ek en Heleen hom [Pappie] telkemale gesmeek om die plaas te verkoop … Ek was nooit bang ons sou alles verloor nie, ek het gewéét ons sou alles verloor … hierdie land is besig om te sink … Moes ons nou alles wat ons bereik het sommerso van die tafel afvee?” (208). Daar was dertien geslagte Louws in hierdie land (209). Ben, Marlouw se pa, “was bang ons Afrikaners word wortel en tak uitgewis. Dis die kern van my vrees” (211). Hierdie oervrees is glo in die brein, in die amigdala, gesetel. “Ek glo dat ons vanaf ons eerste vader wat hier voet aan wal gesit het, hierdie droom [van die oorlewing van ons spesie/blankes/Afrikaners] gehad het om ons teen lewensgevaar te waarsku … Dis aan ons gegee sodat ons kan opstaan, ons kan verdedig en kan oorleef. Maar dit lyk vir my of ons gefaal het. Die amigdala het ingesluimer. Ons het nie geluister nie, ons het die tekens nie reg gelees nie en daarom het ons nie betyds begin veg of padgee nie. Ons het handdoek ingegooi, ons het ons eie ondergang bewerk” (211-212).

Marlouw se suster het haar Suid-Afrikaanse (bruin) huishulp, Jocelyn, saamgebring na Australië. Jocelyn verkies om net Engels met Marlouw te praat en Marlouw wil net Afrikaans met haar praat. “Sy moenie vir my kom vertel dis wat sy by haar eie huis praat nie” (14). Vandat Jocelyn in Australië is, “het haar velkleur al hoe bleker geraak” (15). Oor sy voorgenome besoek aan Suid-Afrika sê Joselyn aan Marlouw: “Hulle sal jou nie respekteer nie. Dis nie ‘n marshmallowland waar almal ewe soet wag sodat die wit meneer eerste kan inklim nie. Het jy al gedink hoe daardie mense jou gaan sien? Jy kan ‘n victim word … Daardie mense het self soveel behoeftes” (23).

“Ek moet tot op Fidji kom om ‘n vlug na Johannesburg te haal. SAL-vliegtuie voldoen nie meer aan die standaarde van die Internasionale Lugvaartorganisasie nie en word my eie land se lugruim geweier” (36). Marlouw “slaan versigtig oor na Afrikaans” en sê aan ‘n mede-passasier, JL Smit: “‘Dis ‘n vlieënde doodskis, dié. Kyk hoe lyk die sitplekke. Ons moet seker maar ons gebede opsê’ … Daar is min van ons Afrikaners oor, en wie weet of dié een nog Afrikaans kan of wil praat” (36). Smit verkies om deesdae eerder in Angola te woon (37). In Botswana gaan dit ook beter as in Suid-Afrika (177). Oor Suid-Afrika sê Smit: “Daar is geen sentrale regering meer oor nie. Ná die [Koeberg-kernkragsentrale- (67)] ontploffing in die suide het dinge gou versleg. Meeste buitelandse beleggers het toe padgegee … hoe dieper jy die binneland invaar, hoe skaarser raak die dinge wat jy nodig het om te oorleef. En ek praat nou nie van ordentlik leef nie. Ek praat net van leef” (37). “As jy eers daar aangekom het, moet jy vir jouself kan sorg, dis die belangrikste” (38). “Die wit mense wat oorgebly het, bly oor omdat hulle nie kan padgee nie. Hulle is laer as die armblankes van destyds” (40).

Daar is nood (58), lyding en oorlewingsangs in Suid-Afrika (56). “Daar’s geen twyfel nie, bekommernis is ‘n vorm van ongeloof” (46). Marlouw verlang na “‘n juweeltjie nostalgie uit daardie [goeie ou] dae” (54). “Tyd vir gewetes is verby” (56). “Die kort geskiedenis van ons voorgeslagte” was “slegs ‘n asemteug lank” (49). Nou: “Daar’s siekte in daai land wat handuit geruk het” (4). “‘n Mens moet maar hard raak, anders gaan jy dit wragtig nie maak nie” (56). “Daar is te veel mense wat jy probeer help” (92). “Gee my ‘n paar dae, langer gaan die beelde van dié mense nie by my boer nie” (57). Marlouw haal ‘n Rooikat-taxi op Bloemfontein se lughawe – die Afrikaanssprekende bestuurder praat aanvanklik Engels. (Ek het onlangs ‘n minibustaxi met die gepaste naam van Stoutgat gesien.) “Sy taxi is ingerig met musiek – voloop en rondom” (55). Daar is nie meer televisie nie; net radio af en toe. “Daar is dan nie eers meer ‘n telefoondiens nie” (198). “Die krag kom net party dae, en hou nooit langer as tot by vyfuur in die middag nie” (95). “Min elektrisiteit. Lang, donker nagte volg al korter opmekaar” (70). In plaas van elektrisiteit is daar kerse, olielampe en paraffien-yskaste. Daar is geen geld oor in die staatskoffers nie. “Al hoe meer mense [het] op welsyn begin staatmaak” (61). “Daar het niks van die hospitale oorgebly nie” (90). Bull Brand bemark nou “Pap & Meat” (83).

Petrol is onbetaalbaar duur. “Snags durf niemand … die paaie aan nie” (67). Marlouw koop vir hom ‘n bakkie in Bloemfontein en reis suid na Aliwal-Noord. “Die bakkie styg en val soos die teerblad meegee en later heeltemal verdwyn, iets wat ek nie sou kon voorspel nie, al wou ek ook. Dis die ene gruis, slaggate en groot, los klippers” (75). Later val die bakkie “tot op diepwatervlak waar die teer sowel as die gruisbolaag heeltemal weggevreet is en die pad so ver insny dat ek tot op vensterhoogte onder die oppervlak ry. Hier kom ek op yslike slaggate af, groot genoeg om ‘n uitgegroeide boerboel in weg te steek” (75). Om Marlouw is daar verskroeide aarde. “Die asveld waardeur ek vandag gery het, die manier waarop die landskap haar aan my wou wys, wou hê dat ek niks van die voortyd meer herken nie” (99).

Op Smithfield is daar ‘n Skandinawiër wat sê sy “restaurant is maar net my poging om ‘n bietjie beskaafdheid te bewaar” (87). Hy “was reg, dit was ‘n [Europese] kultuur wat nooit by hierdie land gepas het nie, van die heel begin af was dit ‘n onmoontlikheid om dit hier vol te hou … Alles tot niet” (158). In sy gedagtes hoor Marlouw hoe sy ouma Attie dit beaam: “Dis alles tot niet” (160). Marlouw het tydens sy bevryde tyd in Australië terug aan Suid-Afrika gedink: “Ek het altyd die gevoel gehad dat ek nie in daardie land hoort nie, dat my mense, my voorgeslagte ook eintlik nooit daar gehoort het nie … En wie is jy? Ek het nooit êrens ingepas nie” (163).

“Jy hoef nie eers self te roei nie, spoel sommer saam” (57). Marlouw verset hom hierteen. “Hoop. Iewers moet daar ‘n bestemming wees. ‘n Plek waarheen mens kan gaan. Iets wat nog die moeite werd is … die wete dat daar nog iewers iets beter bestaan” (58). “Die moeite wat ek het om die vloed terug te hou, teen die gety in te swem en te keer dat ek saam wegspoel. Ek mag my nie oorgee nie, ek het nog oorgenoeg wilskrag om af te klim” (59). “Probeer om hulle oë te vermy. Ter wille van jou sieleheil, glo my, is beter so … jy kan vir die mense jammer voel. Jy kan probeer om iets vir hulle te doen, maar hulle het nou te veel geword … Dis die angs dat ek gaan wegspoel saam met hulle” (60). “Die reëls van die spel het soveel verander dat ek alles weer van voor af moet leer” (112).

Nadat Marlouw in Aliwal-Noord oornag het, vat hy die Steynsburg-pad na Maitland, die dorp waar hy grootgeword het. Dit is in werklikheid Burgersdorp, die outeur se geboortedorp, wat maklik herkenbaar is vanweë die verwysing na “die afkop-marmervrou, die ou Afrikaanse [eintlik Hollandse] taalmonument” (163), onthul in 1893. Die Britte het die monument tydens die Anglo-Boere-oorlog geskend. “Die Nederduitse Gereformeerde kerk het ‘n staal-en-lemmetjiesdraad-omheining” (110). “Solank ons net die Huis van die Here teen die oormag kan beskerm” (111). Die burgemeester, Mervyn Jantjies, vra of hy “die komende winter maar die kerkbome vir brandhout kan gebruik. Toe skrik die gemeente, hulle sien die wêreld het radikaal verander” (111). Die statige Gereformeerde Kerk is ‘n weeshuis. Aan ‘n winkeleienaar sê Marlouw: “Mister Wesley, I am shocked about the state of this town … Daar’s dan niks oor nie … I am in a constant state of readjustment as no answers and no solutions are apparent” (169). Wesley sê hy het besluit om hom eerder te laat veras as om begrawe te word. “No one wants to be buried in the graveyards anymore. Oh, it is a sin against God what is happening out here” (170).

Op Ouplaas aangekom – soortgelyk aan die plaas waarop Venter grootgeword het – merk Marlouw op: “Alles kaal, g’n boom soos in die voortyd toe die veld hier sonder huis of skuur of kraal gestaan het” (118). “Daar is, God vergewe die byl, geen enkele boom meer oor nie” (118). “Koert is nêrens te siene nie” (118). “Hy is hier, maar jy kan hom nie nou sien nie. Jy kan hom net sien as hy vir jou laat roep” (127). “Ek kyk hulpeloos om my rond waar die kinders en opgeskote meisie-ma’s en pluimvee en brandsiek brakke en verveerde katte ronddwaal of sommer op ‘n plek gaan staan sonder rigting of rede. Wat doen jy in godsnaam as jy so arm is dat jy niks het en niks het om te doen nie – alles is gedaan, alles tot niet sodat die werf byna onherkenbaar is” (119).

“Wat die plaas betref, het ek reeds genoeg gesien: die veld is vertrap, die watertafel laag, alles tot op die nerf toe verinneweer. Die mense op Ouplaas het min oor om van te lewe en die bietjie wat daar is, gaan hulle nie ver bring nie” (165). “Op ‘n afstand hou die swerm aasvoëlkinders ons almal dop” (161). “Ek huil” (119). Mildred, een van die nuwe eienaars, sê: “Tyd vir huil is verby … Dis nie meer jou mammie en jou pappie se plaas nie. Óns bly nou hier, sak en pak. Maar ons is dolgelukkig” (119). “‘Mildred,’ sê ek by gebrek aan iets anders om te sê – ek wou nooit weer enigeen van hulle gesien het nie, ek wou dít nooit sien nie – ‘ek is nou hier'” (119).

Die plaasopstal is in vier verdeel “om plek te maak vir die behoeftes van drie families, asook vir Koert Spies” (122). Koert het sy deel deeglik afgeskei deur dit aan die huiskant toe te messel en sy voordeur met ‘n veiligheidshek te beskerm. Al die familiemeubels word deur Koert in sy deel geberg. Die nuwe eienaars het egter op die gordyne beslag gelê en daarvan klere gemaak. “Van die ruite is gebreek en met hardbord of swart plastieksak bedek” (139). “Hier is húlle baas, dit is húlle huis. As daar gesê gaan word hoe dinge hier gedoen moet word, dan is dit hulle wat gaan sê” (129). Marlouw kry ‘n matras waarop hy in die kwartiere van een van die eienaars kan/moet slaap. “Dis die eerste keer in my lewe dat ek so deur mense verswelg word, elkeen met sy arms en hande en bene en voete reg om en by my. Hier moet ek wragtig uit, anders gaan ek ‘n floute kry” (128). Mildred sê: “Ons is te deurmekaar geknoop om ons van mekaar los te heg, slegs saam kan ons vorentoe beweeg” (129). Dit klink bekend.

Koert het “nie eers die moeite gedoen om te kom groet nie” (129). “Ek sal my kans met Koert afwag. Dis duidelik dat hy hier op Ouplaas ‘n besondere plek vir hom ingepalm het” (131). “Niemand mag blykbaar enigiets sonder Koert se toestemming doen nie” (132). Wat Koert gedoen het, is om ‘n florerende veehandel op te bou. “Hy het naderhand skape by ander plase aangekoop en op Ouplaas kom vetmaak om vleis aan die abattoir te lewer” (175). Die omgewing was van hom vir vleis afhanklik. Met sy geld het hy invloed by die eienaars van Ouplaas gekoop deur vleis, drank en ander geskenke aan hulle uit te deel. Op hierdie manier het sy woord wet op die plaas en selfs in die distrik geword. “Ag, Mildred … Jy praat van júlle plaas, maar intussen is dit Koert wat julle hiet en gebied” (265).

“Vreemdste van alles is dat die erfgename van die plaas, die wetlike erfgename, toegelaat het dat hy maak soos hy lekkerkry” (267). “Hy het ons baie gehelp, hy help almal” (152). “As dit nie vir Koert was nie, dan was daar al lankal niks meer hier op Ouplaas oor nie” (174). Koert het die wit/swart-grens oorgesteek deur een van die jongvroue op die plaas, Esmie Phumzile, tot bywyf en “prinses van die werf” te maak (120). “Koert trek haar voor en stop haar geld in die hande” (148). Sy dra duur klere maar is siek aan vigs. “Het Esmie dalk die virus by jóú opgetel, Koert?” (261). Esmie sê aan Marlouw: “Mense raak skoon opgewonde oor vars nuus. In die leë aande wanneer ons niks het om te doen nie, maak ons onsself daarmee vol. Dis een ding wat armoede nie van ons kan wegneem nie en wat ons nie siek maak nie. Vertel my hoe is dit daar anderkant” (130) in Australië.

Spoedig word dit vir Marlouw duidelik dat Koert siek is, belangstelling in die plaas verloor en in onaktiwiteit verval het. Nou verwag die swartes dat Marlouw moet regmaak wat op die plaas verkeerd is en hulle aan die lewe hou. “Ons moet daardie trekker weer laat regmaak, Marlo’tjie” (129). Die skape vrek op ‘n streep. Marlouw word gevra om doseermiddel op die dorp te gaan koop. Na verloop van dae het hy nog nie eens vir Koert te siene gekry nie. Marlouw antwoord: “Laat weet vir Koert hy moet hom gereed maak en ‘n tyd sê waarop ek hom kan groet en met hom praat. Dan sal ek julle help en kan ons die dous gaan koop” (149). Die volgende probleem wat voor Marlouw se deur gelê word, is “die windpomp werk nie meer so mooi nie” (153). “Sy pype lek … waar gaan ons geld kry om hulle reg te maak of nuwe pype en [rubber]sole te koop?” (154). “Dis nou net een windpomp hier in die Huiskamp wat werk” (154). “Die twee fonteine [het] lankal opgedroog” (155). Marlouw sê: “Julle maak seker grappies. Ek sal nooit weer hier kom bly nie. Ek weet nie eers hoekom ek my bekommer oor julle en julle vee nie” (154).

“Nie een van julle weet waarmee julle besig is nie” (155). “Ek is die pad byster, ongeduldig met myself, geïrriteerd met my sorgsaamheid … Ek is besig om stroomop te neuk om skaapdoseermiddel te gaan haal – is dit waarom ek na hierdie land gekom het? Om deur ander oorlewingstake opgeslurp te raak. My erbarmlike hart te oefen en uiteindelik af te gee: Hier, neem dit, ek het eintlik gekom om julle te help” (155). Naas die doseermiddel moet hy ook meel, koffie en suiker koop. “Ek is nie hier om julle los te koop nie” (168). Een van die swart plaasbewoners sê: “Marlo’tjie, dis ons land dié. Ons het ons eie rules. Jy moet nou nie vir jou opwerk nie, Marlo’tjie” (168). Wat doen die swartes terwyl aksie en geldbesteding van Marlouw verwag word? “Die winterson is op sy geselligste en almal sit en bak op die stoep agter die kombuis … Laat ons die bietjie hitte van die son geniet, vanaand slaap ons weer op ons dun, koue matrasse” (170).

“Hulle verdra my nie regtig hier nie. My teenwoordigheid het die verlede opgediep” (172). “Ek moes nooit gekom het nie” (173). Marlouw word verwyt: “Julle wit mense het altyd so min tyd en so baie goed” (172). “Die hand van die patron [donateur] wat altyd oop is, wat altyd gee. Waarom sal ons dan nie sit en wag dat die tyd omgaan nie. Marlo’tjie het teruggekom om ons te kom help” (173). Esmie sê: “As jy en Koert die dag hier loop, vrek ons almal op ‘n hoop” (174). Maar die oudste swarte op die plaas, ouma Zuka, noem wit mense mzungu. “Semanties hoort dit nie by die term ‘mens’ nie. Net Afrikane kwalifiseer as abantu, as mense. Ek, met my wit vel, en Koert, val buite die menslike kategorie. Vir ouma Zuka is ek en Koert mzungu, ‘n onding, ‘n soort nie-mens” (181).

Twee polisiemanne kom op Ouplaas aan en beskuldig Marlouw valslik daarvan dat hy sy bakkie gesteel het. Koert stuur een van die plaaswerkers om die polisie om te koop en Marlouw los te kry. “Koert het gesê ek moet die vleis bring dat jy nie vassit in die tronk” (192). Dit is die swartes wat hiet en gebied en Marlouw wat iets probeer uitrig. “Eers spit ek al die onkruid uit, dan dolwe ek die grond om en maak beddings reg vir saai. Ek het al drie klaargemaak, vir wortels, pampoen en tamaties” (204). Op die vullishoop het hy “op veertien boerpampoenpitte afgekom” (204). Daar is nie meer brandhout vir die kombuis nie. “Weet jy wat, Mildred? Ek is moeg vir almal van julle. Hier’s baie wat jonger as ek is en jy vra vir my om hout te gaan maak?” (230). Tog sê Marlouw: “Ek sal gaan hout haal” (205). Marlouw het ook die slaapkwartiere wat hy met die swartes deel, reggetrek. “Ek het vandag my bed opgemaak en November se woonruimte ‘n bietjie aan die kant gemaak. Ek het ‘n kledingstuk opgevou, Pilot se Nikes langs mekaar geplaas, sy beddegoed uitgeskud en lug gegee, toe uitgevee” (226).

Terwyl Marlouw hout in die veld versamel, kom daar ‘n blanke vrou te perd aan. Sy woon op ‘n buurplaas. Sy sê: “Nie een van ons [blankes] wat [in die land] oorgebly het, kan dit meer bekostig om Samaritaan te speel nie. Daar is te min van alles” (217). “Die Afrikaners het soos die Jode hulleself aan ‘n magtige diaspora uitgelewer en die bloedrivier vir goed verlaat, maar anders as die Jode het hulle selfs hulle taal soos mufbrood op die water gegooi, snel drywend en stroomaf sodat van die woorde binne die taal, woorde wat almal eens op ‘n tyd onthou het, al vinniger weggevloei en onderwater begin vedwyn het. Dan onder en dan bo die water soos vingervissies, soms kon jy hulle spatgeluid net nog onderskei, maar soos die geringste waterlewe het hulle ook verdwyn om nooit meer gesien of gehoor te word nie, vinniger en in groter getalle, sodat hulle teenwoordigheid altyd geringer geword het, altyd maar vaer totdat daar g’n enkele taal of tyding meer van hierdie woorde se bestaan oorgebly het nie” (219). “Sy moet tog weet dat die bloed- en woordbande waarop sy sinspeel, iets van die verlede is” (219-220). Sy antwoord: “Tye het so verander, ek was vir ‘n oomblik meegevoer, ek het vergeet dat die ou dae vir altyd verby is” (220). “Daar het niks meer warm of lekker vir ons oorgebly nie” (222). Sy vertel dat haar man skape steel. “Of jy baklei volgens die heersende reëls, of jy gaan tot niet … Daar bestaan nie meer iets soos gewete in hierdie land nie” (223). “Ons menswaardigheid, dié het ook later in die slag gebly” (224).

Na verloop van dae, “afgeleef van die antisipasie, van die triestigheid van alles” (242), staan Koert uiteindelik ‘n oudiënsie aan Marlouw toe. Koert lê in sy bed. Hy is erg oorgewig, “‘n logge gestalte soos dié van ‘n varkbeer” (183), ‘n “wanstaltige kolos” (245). Dit is omdat hy, soos hulle almal, twee keer per dag eet: “pap vir ontbyt en saans pap en sous” (182). Weens sy buitensporige gewig en sy besmette voet, kan Koert nie meer loop nie; ook weens dranksug. “Hoe’t jy so vet geword, man? Dis godsonmoontlik om jou te hanteer soos jy nou is” (261). “Ek kannie meer nie staan nie” (253). Koert het “die stem van ‘n vertraagde” (244) en praat ‘n mengsel van Afrikaans, Engels en Duits. “Whaz left for Koert … Eintlik fokkol-hol … nothin’ left to salvage. Alle hoop in sy malle moer” (246). “Die vrees dat die man met die mes by die bed van die voorvader die oorhand sal kry en dat daar niks van ons gaan oorbly nie: hier is dit nou, die niks, in groot maat. ‘n Misbaksel wat net ‘n spoegie van die oorspronklike taal behou het” (246).

Koert sê vir Marlouw: “Lag jou whiskers af, maine bradder. Van lag kom skyt, sien jy wat ek nog kan ge-remember kry. Julle-se taal wat julle so geshape en gedress en opgeprop het. Vir wat? Eintlik vir niks … ek is hy, ek is die taal, die volk, ekke is julle-se fear … die very heart of darkness wat geremyn het” (254). “Daar’s ni a past en no future hier nie” (256). “Ek vrek, ekke … My kingdom came and went. Ek sense dit nou, they’re starting to lose respects. Dollars is op, vlys is gedaan … Ekke’t alles vir hulle-se gegee wat ek kan, alles” (258). Wanneer ‘n blanke nie meer gee nie, is sy tyd verby. Koert “sê sy hele lewe is ‘n flater” (268). “Dis poegaai met als … Jy praat jou bek verby, gestuff met ‘n taal enne attitude wat nie meer hier belong nie” (260). Marlouw vra: “Wat het van jou geword, Koert? Wat het van ons geword?” (256). “Dis verby met Koert en dis verby met my, met ons almal, maar wie gee op die oomblik vir die almal om?” (256).

Marlouw glo sy pa wil niks met sy kleinseun, Koert, te make hê nie. “Hy is ‘n deurbringer wat sy moedertaal weggegooi het. Sy geslag het ons herkoms vertrap. Nekomgedraai. Ek ag hom nie as ‘n Louw nie … [Hy is] ‘n Basterafrikaner, skuim” (212). Dan kry Marlouw in sy gedagtes hierdie opdrag van sy pa: “Ek wil hê jy moet teruggaan na die begraafplaas op oupa Rhymie se plaas, daar waar ons begrawe lê. Gaan verwoes alles, alles. Steek die kransies aan die brand, vee die hele begraafplaas plat. Ek wil hê daar moet g’n niks van my en Mammie en ons familie in hierdie land meer oorbly nie … Ek weet jy twyfel aan die rede vir jou koms na die vervloekte land *… Gaan nog vandag en maak daardie begraafplaas gelyk met die grond. Dis die laaste ding wat ek van jou vra, my kind. Laat my in vrede rus, in Godsnaam” (213). “Koert het Pappie en Mammie se aardse nalatenskap onteer … Die enigma van Koert Spies, die wete dat hy, sy soort, die laaste van ons nageslag was wat daar oorgebly het – dit was so, maar ek kon nie daarmee vrede maak nie” (269). [* Nie meer FA Venter se Bedoelde land (1968) nie.]

Koert wil saam met Marlouw gaan om die familiebegraafplaas op sy oupa se eerstydse plaas te vernietig. Die swart woonbuurt sterk tot by die ringmuur. Grafskenders en kisdiewe is daar bedrywig. ‘n Draagbaar word geprakseer en met die hulp van verskeie persone word Koert, “die homp mens” (271), “die groot logge liggaam” (272), en sy matras op die bakkie gelaai; ook ‘n byl, voorhamer en sakke vleisbene. Toe die swartes in die buurt agterkom dat Koert agterop die bakkie is en hy hulle opdrag gee, help hulle met oorgawe aan die vernietiging van die grafte. Koert sê: “Hierso is julle-se long awaited vlysbene. Juicy, cummin fetch. Indulge yours, wretched of the earth” (275) – ‘n verwysing na Frantz Fanon se boek. Die vleisbene is egter nie genoeg vir almal nie. “Jy weet nie wat die mense alles wil hê nie” (279). Die swartes word al meer aggressief, gooi klippe na die bakkie en val vir Koert aan. “Almal in hierdie land is voortdurend uitgelewer aan die dood” (284). Hulle albei keer darem lewend terug na Ouplaas.

Die laaste windpomp, die een wat water aan die plaashuis voorsien, is nou ook stukkend. “Dis klaar met die mense op Ouplaas” (284) en die swartes lag daaroor. Mildred sê: “‘Water, Marlo’tjie. Die put is in die kalf,’ probeer sy vir Mammie namaak en kom vat aan my arm, sy’s desperaat. ‘Jy moet ons help'” (285). “Nuwe ysterpyp en [rubber]sole. Maar jy kry dié goed nie op Maitland nie. Jy sal na ‘n ander plek moet ry. Bloemfontein sal nog hê” (289). Marlouw het egter genoeg van hierdie parasiete gehad: “Vergeet dit. As julle dink ek gaan Bloemfontein toe jaag om vir julle windpompparte te gaan koop en weer met die einste parte terugry – Mildred, julle moet nou mooi luister: as ek weer in Bloemfontein kom, is ek klaar met hierdie land. Dan vlieg ek met die vliegtuig weg. Ek kom nooit weer terug nie” (290).

Koert besef dat hy én Ouplaas aan hulle einde gekom het. Marlouw: “Dertien geslagte en drie en ‘n halwe eeu op die kontinent kom tot ‘n einde. Ander gaan hier voortplant en -leef, maar óns sal nie. Ek en my mense het vir goed hiervandaan verdwyn” (297). Vir oulaas reël Koert ‘n groot partytjie op Ouplaas. Voertuie bring mense van elders. Daar is drie kleingoed agter in ‘n motor. “‘Hier,’ roep sy [Mildred] na my om hand by te sit met die bloedjies. Ek en Mildred dra hulle in ons arms aan” (293). November, ‘n swarte, sê: “Die Here sal ons nie weggooi nie, ons is sy mense” (297). Hulle wag op die verskyning van Koert. Mildred sê: “Hierdie nag gaan nog lank nag maak voor die dag kom. Ag, hy [Koert] kan ook wegbly, die dag van môre, ons het hom nie meer nodig nie” (299-300). “Teen môre gaan daar net as en stof oorbly” (303).

Uiteindelik daag Koert op. “Hy kruip, hy sleep homself voort” (303). Hy dink hy is steeds “die ware Jakob, die outentieke, wit meester” (305). Maar ouma Zuka sê: “Hierdie mzungu is ‘n ongedierte wat op julle mensewerf kom bly het” (306). Koert is nie meer bruikbaar nie. Sy nut is uitgedien. Die swartes steek Koert met ‘n mes dood. “Waar gaan hulle water vandaan kry om hulle moordenaarshande af te was?” (311). Soos by Kurtz (“The horror! The horror!”), is Koert se laaste woorde: “Die horrel, die horrel” (310) – die afgryslikheid en natuurlik ook ‘n sinspeling op die romantitel, Horrelpoot. Kurtz verwys na die afgryslik wat blanke koloniste in die Kongo geskep het. Koert, daarenteen, gee uitdrukking aan die volslae gemors wat swartes van Suid-Afrika, ‘n eens beskaafde Europese land, gemaak het. Marlouw wat, soos Koert, die swartes ook nie meer wil help nie, moet vlug vir sy lewe. Esmie wil saam met hom Australië toe gaan. Haar troefkaart is: “Jy moet my saamvat, ek het Koert se kind” (312). Maar Marlouw antwoord: “Hulle sal jou nooit binnelaat nie” (312). “Esmie het familie geword. Die veertiende geslag sal in hierdie land gebore word” (313).

Terug in Australië vertel Marlouw so min moontlik ongure besonderhede aan sy suster, Heleen. “Niks oor Koert se voorkoms, niks oor die omgewing waar hy gelewe en gesterwe het … nie” (318). Heleen is meer begaan oor haar hond wat dood is as oor die dood van haar seun, Koert. Sy stel eerder belang in wat Koert van haar gesê het: “Het Koert oor my uitgevra?” (317). “Het hy na my gevra toe hy sterf?” (319). “Hy was toe al baie ver heen, Heleen, dit moet jy goed begryp. Daar het allerhande woorde by sy mond uitgekom. Jy sou amper kon sê, uitgeborrel. En ja, een van die woorde was jou naam” (319-320). “Ek kom vinnig orent en tree weg van haar en my noodleuen en probeer myself tevergeefs vergewe” (320). “Sy gaan tot die bitter einde lojaal teenoor haar eniggeborene bly” (319).

Die vlermuise het eerste in die verlate huis op Ouplaas ingetrek. Die sinkplate van die dak is weggery. Miere het die opstal ingeneem. Paddas, skilpaaie, bosduiwe, springhase en springbokke het hulle verskyning in die veld gemaak. “Maar g’n mensespoor of mensestem ooit weer op daardie stuk aarde nie. Die naam van die plaas ook al lank vergete. Bid jou aan: wind dwarsdeur die murasie van die opstal asof daar nooit ‘n mens gewoon het nie” (323).

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.