Suidpunt: Terug na die Nordiese volkere!

Deel op

Ek moes my rubriek heeltemal oorskryf. Aanvanklik wou ek voorstel dat ons kleiner taaltjies soos Skots-Gaelies leer, om verskeie redes, maar het vanoggend besef ek probeer, globalisties beskou, sand aan ‘n Arabier verkoop.

Selfs al sou Afrikaans heeltemal uitsterf, so het ek geredeneer, of slegs 300 000 sprekers oorhê, of selfs 300, gaan jy steeds met ‘n magdom literatuur hier ter plaatse en oorsee sit wat mense onmiddellik die taal tot ‘n spesialis-vakgebied sal laat omskep. Ons het genoeg televisieprogramme, onderhoude, boeke, dramas, ens., meer as die leesstof waarmee akademici Latyn in die Middeleeue moes rekonstrueer.

Ek was onder die indruk die landgenote oorsee steur hul nie veel aan die Gaeliese dialekte of Iers nie (“Jy hoef nie Iers te praat om Iers te wees nie”, “om Iers in die openbaar af te dwing is verregs!” is die algemene sêding in Ierland). Kornies moes eers heeltemal uitsterf voordat mense ‘n daadwerklike poging aangewend het om die taal te probeer herleef. Die Korniese bronne was uiters min toe die taal in die 1750’s uitgesterf het, en glad nie gestandaardiseer nie. Die taalkundiges en belanghebbendes spook dus vandag watter dialek nou eintlik vir akademiese doeleindes gebruik moet word.

Om te dink Oudengels het maar slegs meer as 400 werkies opgelewer! Goties het maar ‘n skamele paar Bybelversvertalings en kommentaar opgelewer: http://www.wulfila.be/gothic/browse/ . En die Vlaamse diplomaat Ogier Gisleen van Busbeke het in sy reisverslag (gedateerd 1562, in Latyn) ‘n stuk of 80 Krim-Gotiese woorde (soos beweer word) opgeteken. In 2016 vind Russiese navorsers ‘n kort Gotiese teks uitgekrap op brokstukke afkomstig uit ‘n Middeleeuse kerk wat iewers tussen 850 en 950 moet dateer. Dit was twee versreëls uit Psalm 77, met ‘n hulpversoek “Heer help u dienaar” (in Goties: Frauja hilp skalkis einis). (Sien die foto by: https://www.nrc.nl/nieuws/2016/05/06/late-gotische-graffiti-gevonden-op-de-krim-1618578-a1393343 )

Gegewe wat Afrikaans tot sover bereik het, voel ek glad nie swak nie. Dit kon véél erger gewees het. Maar eers vanoggend (11 Mei 2019) kom ek tot die besef: daar is geen rede om houtgerus te wees nie.

Aanloop

My kop het ‘n laterale denkpatroon gevolg:

Terwyl politici geskenke met lippetaal die afgelope twee maande uitgedeel het, so asof dit Kersfees is, onthou ek 2018 se Kersfees. En die hordes Engelse liedjies wat ek op ‘n nasionale Afrikaanse radiostasie gehoor het. Michael Bublé se tameletjie-trekkerige, jazz-“Have a holly, jolly Christmas!”, “Let it snow, let it snow”, wat my laat terugverlang na die oorspronklike Frank Sinatra. Maar steeds te New Yorkerig en triestige weer na my sin. Sou “Feliz Navidad” van Boney M nie juis geselliger, warmer by die Suid-Afrikaanse klimaat gepas het nie? En net daar tref dit my soos ‘n weerligstraal: maar ons het mos Afrikaanse liedjies! Waar is Lianie May se “Sneeuman” en “Geskenk uit Bethlehem”? Dis maar net uit 2008, skaars 10 jaar gelede. Of wat van “Jesus gaan verjaar” deur Nicholis Louw (2006), “Nou’s dit Kersfees” (Shine4, genade – wanneer was dit?), “Kersfeestyd, regoor die wêreld” (Kurt Darren/Nicholis Louw/Ray Dylan/Fredi Nest/Die Campbells/Amor Vittone/Pieter Koen/Hi-5/David Fourie/Shine 4/Jakkie). En “Hierdie kind kom weer” (Jan de Wet?). Moet ek by Cathy Viljoen in die 1980’s gaan draai? Kom ons laat maar “Pille vir Kersfees” eerder hier uit…

Hierdie intense belangstelling om ‘n hele Afrikaanse Kersliedjielys op te stel, dwing my toe om Waar kom ons Afrikaanse gesange vandaan? deur G.G. Cillie (1982, 567 bladsye) te bestel, vir jare al uit druk. Vandat N.G. Kerk-uitgewers omgetower is in ‘n popsielkunde-drukkery met winsbejag (Lux Verbi.BM) in die vroeë 1980’s, sukkel ‘n mens om ‘n boek te vind wat hierdie gehalte ewenaar. Eintlik so ironies, want hoe meer die N.G. Kerk leegloop, hoe meer kry ek daardie geweldige verlange vir die ou Gesange en Psalms wat ek, as iemand wat ingeseën en my eerste Nagmaal in ‘n Pinksterkerk gebruik het, nooit geken het nie. Onbeskaamd het daardie gesange ‘n beter rock-inslag gegee, maar ek verkies myne weer in ‘n dreunsang-mannekoor soos in die Middeleeue met kappies en swart habyte. Veral Gesang 9, “Psalm 42”, op maat van Louis Bourgeois se melodie.

Maar hoe dieper mens die boek bestudeer, hoe meer besef jy die Duitse werke waaruit Afrikaans so vryelik vertaal het, was weer gegrond op ou volksliedjies wat opgeteken is en dikwels as kontrafakte die kerk binnegedring het. ‘n Kontrafak is losweg iets soos “Jan Pierewiet” wat ‘n gewyde Gesang word.

So het ons “O, die goeie tyding, o, die blye tyding” wat ons gaan leen het by “O, du fröhliche, o, du selige”, waarvan Herder die melodie gekry het by Sisiliaanse vissers wat elke jaar op 6 Desember ter ere van die heilige Nikolaas gesing het, dan sy beeld uit die kerk gedra en op ‘n skuit tot diep in die see geneem het. In die aand is die beeld weer teruggeplaas, maar eers nadat hulle van huis tot huis beweeg, liedere gesing en vreugdevure aangesteek het. Die lied is “vandag” (dus, 1982), ironies genoeg, egter onbekend onder Sisiliane, maar in Venesië word dieselfde melodie gebruik, op die fees van die Maagd Maria, en dis waarom die wysie van “O, Sanctissima, O, Piissima” vir my so besonder bekend geklink het.

Dit is maar wat alleen musiek betref, ‘n eenvoudige melodie. Maar waarom is hierdie musiek ooit opgeteken?

Gedurende die 18de eeu het mense in Europa begin besef dat met die toenemende industrialisasie en trek na die stede, volkskultuur besig was om verlore te raak. Om te verhoed dat die volksmusiek in die verskillende lande vergete raak, was daar persone wat veral die volksliedere opgeteken het[…]

Moet mens nou kwaad wees oor die Duitser wat die Sisiliane se kultuur “gesteel” het, wat dit in ieder geval sou vergeet het? Wie se skuld is dit nou? Het Herder dit nie opgeskryf of nageboots nie, was dit tot in alle ewigheid verlore. In dieselfde sin moet mens seker dankie sê vir Jan Antonie Engelbrecht vir sy Studies oor Koranna taal (1928), vir Johann H. Schmelen vir die boek Annoe kayn hoeaati haka kanniti, Nama-kowapna gowayhiihati, d.i. “die heilige goeie boodskap, Vier (Evangelie)boeke, in die Namataal geskryf” (1831), en Hans C. Knudsen vir sy spel- en leesboekie van 16 bladsye Nama-A.B.Z (1845). En seker J. Theophilus Hahn vir sy boek Tsuni-//Goam (1881) miskien ook? Dankie dr. Nienaber vir hierdie inligting, soos vermeld in die opstel “Die Khoekhoense name van Kaapstad”, soos opgeneem in die huldigingsbundel Taalkunde – ‘n lewe, opgedra aan dr. W. Kempen (1974). Laat staan nog die hordes Suid-Afrikaanse plekname wat in Afrikaans vertaal is, en in die Wes-Kaap in die 1980’s deur ‘n drukgroep blankes weer “hernoem” is (as my geheue my nie parte speel nie), seker grootliks te danke aan Toponymica Hottentotica (1977) deur die einste G.S. Nienaber en P.E. Rapier. En wat kry mens hiervoor? Stank vir dank! Sou Engeland of Frankryk ooit weer die ou Keltiese name teruggee op sy grondgebied? Nooit! Nimmer!

Ek vra weer: Hoe kan mens so maklik hierdie musiek vergeet? Maar dit bly nie alleen by die musiek nie, ook die letterkunde bly in die slag. Hierdie keer weens onkunde.

In die Afrikaanse wetenskapsfiksie ( https://af.wikipedia.org/wiki/Lys_van_Afrikaanse_wetenskapsfiksie ), soos ek in die oorsig opgesom het, kan die leser sommer self maklik aflei dat die akademici herhaaldelik dieselfde standpunte dekadeslank sal herhaal, bloot omdat hulle van mekaar se werke onbewus was. Dit kos net iemand om ‘n deeglike en opgesomde kroniek/tydlyn op te stel, wat maklik gewysig kan word, om die diskoers en nuwe standpunte aan die gang te hou, en die feite te kontroleer, anders kom daar geen nuwe ontwikkeling nie.

Vir jare het mense in die waan geleef dat akademici niks van Afrikaanse wetenskapsfiksie dink nie. Dit is onwaar – die boeke was net swak geskryf: ‘n akademikus soek benewens logika en moontlikhede ook karakterontwikkeling (wat ‘n “space opera” beslis nie bied nie) en, waaraan alle wetenskapsfiksie tot dusver ontbreek, ‘n duidelike filosofie, om aan te peusel. Maar dit moet ook nie so ‘n droëbôkkôm filosofiewerk wees dat jy dit nie kan geniet nie.

Wat die Afrikaanse roman betref, beskou Etienne Leroux die suksesvolle roman so (soos verwoord deur F.I.J. van Rensburg, p. 58 van Gesprekke met skrywers 1, 1971): “Bolangs is daar die mees kontemporêre eietydsheid, maar onderlangs is daar ‘n onheuglike argetipiese toedrag.”

En hoewel District 9 eers op tuisfront die Afrikaanse gemeente bietjie wakker moes skud, wat aanleiding gegee het tot die uiteindelike opstaan van die strydrosse Afrifiksie en Thompson Boekdrukkery (ek het twee eksemplare uit daardie drukkery wat my beïndruk het, veral Deur na Nebula 9 het my aangenaam verras), het hierdie 2009-fliek weliswaar géén swaar of diep filosofie soos mens in The Matrix-trilogie sou vind nie. Wel ‘n klomp postkolonialiteit, bla-bla-bla. Skop-skiet-en-dooddonder. ‘n Marvel-strokiesprent, niks meer nie. ‘n Oopmondkouery van Fritos en Nachos. Jy die Suid-Afrikaanse publiek wou hom genomineer sien vir die Oscars? [Nou ja, hoe swaar weeg die filosofie in die 11-Oscar-wenner Titanic?]

Maar om filosofie te ken, beteken dit jy moet jou navorsing gaan doen. ‘n Skrywer mag nie raai as hy iets skryf nie, het Chris Barnard gesê in Gesprekke met skrywers 1 (p. 14). En dikwels is hierdie inspirasie in ‘n ander taal te kry. En hoe vreemder, hoe beter.

Van stemvee tot Kersfees tot sang wat vergeet word, van onkunde tot filosofie tot onontdekte tale: Dit is hoe ek my visier ingestel het op kleiner Europese tale.

Die Keltiese tale

Op 23 Februarie 1981 verskyn daar op bl. 23 van Beeld die opskrif: “Die Walliese taalstryd in Afrikaans.” Dit is ‘n brief wat onveranderd in Afrikaans geskryf is deur ‘n taalonderwyser van Swansea, Wallis, Robat Powell. Ja, ek sien hy is ook op Facebook, indien PRAAG met hom ‘n verdere onderhoud wil voer: ( https://www.facebook.com/people/Robat-Powell/100009377955193 ). Ek sou sê dis hoogtyd dat hy vir ons weer inlig wat die afgelope 38 jaar intussen verander het. En hiervoor is PRAAG die ideale plek.

Powell het die artikel geskryf na aanleiding van die uittreksels uit dr. Jaap Steyn se boek Tuiste in eie taal (1980) wat in Beeld verskyn het:

Powell het homself Afrikaans geleer nadat hy sowat tien jaar gelede in Swansea ‘n ou eksemplaar van Jannie de Waal se roman Johannes van Wyk in ‘n rommelwinkel gekoop het. Powell praat Afrikaans taamlik suiwer hoewel hy nog net by drie geleenthede gehoor het hoe die taal deur Afrikaners gepraat word, afgesien van ‘n grammofoonplaat van Anna Neethling-Pohl en Gerhard Viviers se stemme. Aan die Londense Universiteit was Latyn en Russies Powell se hoofvakke. Afgesien van Engels, Wallies en Afrikaans, praat hy ook Italiaans, Frans, Duits, Spaans en Nederlands redelik vlot en hy is nog besig om ‘n paar ander Indo-Germaanse tale baas te raak.

‘n Duidelike model van ‘n volwaardige Europeër!

Die brief is vier bladsye lank, maar ek gaan die hoofpunte uitsonder:

  •         Nadat die Engelse konings ‘n eeuelange stryd gevoer het, het Walllis in 1282 met die ombring van die laaste onafhanklike prins van Wallis in Engelse hande beland. In 1536 het Wallis deur die “Act of Union” ‘n administratiewe deel van Engeland geword. Engeland het die taal van die kerk, skole en administrasie geword. “Die Walliese taal wat al 1 000 jare ‘n geskrewe taal met sy eie literatuur was, het al sy hoë funksies verloor, en die baan vir die verengelsing en die verdwyning van die Walliese volk was klaar. Sedert die 16de eeuw het twee ander keltiese tale in Grootbritannien, Cornish en Manx uitgesterf, en die Ierse en Gaeliese tale het baie verval. Maar die vertroue van die ou man van Pencader is nog nie weerlê nie.”  [Die ou man van Pencader het voorspel op Oordeelsdag sal net die Walliese volk en die Walliese taal vir die landstreek verantwoord, ongeag of die Engelse hulle sal oorheers of nie.]
  •         Benewens die Bybelvertaling en die Keltiese opwekking, het die nywerheidsomwenteling tot ‘n bevolkingsontploffing gelei (in 1780 was daar slegs 180 000 Walliessprekendes, in 1911 was daar 977 000). Die ekonomiese opgang is gebruik om boeke te druk en kapelle te bou. Tussen 1741 tot 1760 is 177 boeke in Wallies uitgegee, maar tussen 1861 tot 1880 was dit 2 195. Was dit nie vir die nywerheidsontwikkeling nie, sou mense na Amerika of Engeland verhuis het, net om daar te verengels.

Maar sedert die taal- en skoolpligwet van 1870, waar Engels die uitsluitlike voertaal was, asook die gevolglike tweetaligheid, immigrasie, televisie, ‘n swak ekonomie en ontvolking, het die syfers geleidelik gedaal (persentasie Walliessprekendes in Wallis):

1901 – 929 824 (49,9%)

1911 – 977 366 (43,5%)

1931 – 909 261 (36,8%)

1951 – 714 686 (28,9%)

1961 – 656 002 (26,0%)

1971 – 534 000 (20,8%)

Hoewel Powell vandag die hoof is van Capel y Nant ( http://www.capelynant.org/ ), spreek hy reeds in 1981 sy kommer uit oor die godsdiens wat al hoe minder ‘n rol speel om volksgenote bymekaar te hou. Powell se kennis van die Europese tale kom hom wel goed te pas om Wallies aan buitelanders te leer. Maar wat het Afrikaans?

Met die skryf van die artikel word in 1981 bevind: “[d]ie helfte van die Walliessprekendes is meer as 45 jare oud, en tot 10 persent van die laerskoolkinders kan die taal praat.” In die Britse staat is Engels die enigste amptelike taal en Walliese ouers wou verseker dat hulle kinders vlot en korrek Engels kan praat en skryf, terwyl ‘n goeie kennis van Wallies nie nodig is nie. Toe die meerderheid van die Walliesers destyds nog eentalig was, moes immigrante uit Engeland en Ierland Wallies leer, maar met die onderwyswet van 1870 het alles verander. En later het ‘n golf immigrante uit die grootstede van Engeland na die rustige platteland van Wallis gestroom – ‘die laaste vestings van die taal’.

Sedert 1960 het “byna elke huis in Wallis sy televisie”. Kinders sal saans 3 tot 6 ure lank beeldradio kyk – die programme is 90% in Engels. In navolging van hul televisiehelde, praat die kinders ook Engels. Dr. Gwynfor Evans, destyds voorsitter van die Plaid Cymru (Walliese Nasionale Party) het selfs ‘n hongerbetoog gelewer – en daardeur is 22 uur Wallies per week op die televisie toegestaan vir 1982.

(Nota: Deesdae met die magdom oorgeklankte DVD’s met ondertitels wat ons vanuit Italië invoer, asook die internet, is die hegemonie van die eentalige televisie ook gelukkig nou verby).

Powell gaan voort:

‘n Ander faktor is die swak ekonomie en werkloosheid van Wallis omdat die land soos ‘n ekonomiese kolonie van Engeland uitgebuit is. Baie jong Walliessprekendes moet na Engeland trek om werk te soek, veral uit die landelike streke, en baie huise in daardie gebiede word as vakansiehuise verkoop.

Die meeste akademiese verslae is vreeslik bekommerd as ‘n bevolking eers tweetalig raak – hier word eentaligheid gewoonlik as ‘n bate beskou, want dit verhoed dat die volgende geslag ‘n taalverskuiwing sal beleef, byvoorbeeld na Engels. Jy kan egter om wil en dank nie in ‘n vakuum bly leef nie: as jy nie jou taal met niefiksie en wetenskaplike verslae uitbou nie (en daarvoor het jy ander tale nodig), dan kon jy netsowel reëndanse hou en net nog ‘n sorgelose heuningtapper in Utopiese Afrika word. Sodra jou kinders egter genoeg gehad het om ‘n voor met ‘n verroeste spyker te trek om mielies te plant, en beïndruk word deur die naderende stadsliggies daar doer in die verte… kyk – dan is dit Ikabod.

Afgesien van die ekonomiese probleme wat met opset in Wallis veroorsaak is om goedkoop mannekrag vir Suid-Engeland te werf, sien ek tweetaligheid pleks van meertaligheid hier weereens as die kortsigtige wortel van allerlei kwaad. Iemand wat 3+ tale onder die knie het, sal hoegenaamd nie sy moedertaal minag nie. Dis as iemand slegs twéétalig is, dat hulle oorspoel word deur ‘n minderwaardigheidskompleks en kniel voor daardie een “groot” Cargo Cult-taal (‘bestowed by the gods’) wat hulle ken, en daarom geneig is om sleg van hul eie taal te dink. Dis daardie “bietjie geleerdheid, soos voorgeskryf deur die staat”, daardie “bietjie kennis” wat doodmaak.

Juis daarom was my betoog dat ons ‘n wilde verskeidenheid tale leer, maak nie saak hoe klein dit is nie. As ons ‘n Keltiese taal sou leer, het ons nie ‘n groot taal meer nodig nie, word ons self die ondersoekers, word ons selfstandig, word brûe tussen die sprekers gebou.

Maar, toe kom ek ‘n foutjie in my teorie agter.

Strategie verskuif

My vraag is, waar staan Afrikaans vandag? Volgens Google Trends is die belangstelling in Skots-Gaelies dwarsoor die wêreld (wat geografie betref) die afgelope 5 jaar aansienlik meer as in Afrikaans (hoewel die intensiteit van Afrikaans sterk aan die opmars is https://trends.google.de/trends/explore?date=today%205-y&q=%2Fm%2F070zw,%2Fm%2F0x82 ):

Ook in Duitsland ( https://trends.google.de/trends/explore?date=today%205-y&geo=DE&q=%2Fm%2F070zw,%2Fm%2F0x82 ) is daar meer belangstelling in Skots-Gaelies as in Afrikaans. Dit was vir my ‘n effense gatslag. Veral Italië is halsoorkop verlief op Skots-Gaelies soos ‘n hings op steroïedes wat uit sy kamp wil losbreek. Frankryk trippel kort op sy hakke agterna. Het die mense dan stapelgek geword? Het Afrikaans dan heeltemal niks te bied nie? Is Afrikaans dan nie ook so “geïsoleerd” soos Skots-Gaelies nie? Was al ons wetenskaplike artikels uit die verlede dan kaf in die wind? Beteken ons vereenvoudigde grammatika dan niks nie? Is ons nie eksoties genoeg nie? Het ons nie veel meer boeke te bied nie?

Nee, Gaelies en ander Keltiese tale staan véél nader aan die Romaanse tale, aangesien hierdie volkere vir eeue langs mekaar gebly het, en oor en weer mekaar se biltong uit die yskas gesteel het. Dit was natuurlik in die jare voor die Romeine en Germane die Keltiese volke op ‘n hoop gejaag het na die Britse eilande toe. En die res in Frankryk, Roemenië, Italië en Spanje en Portugal hulle “bekeer” het tot die taal van die maghebbers. Maar die Keltiese tale is ‘n veel ouer strata as enige ander taalfamilie van Europa, en juis daarom is die Europese taalkundiges hoogs geïnteresseer in die taal wat eerste op hul geboortegrond gepraat is.

En met al die Afrikaner se doen en late, al ons vertalings uit Frans, al ons geswymel, al ons gekwyl en femelende geskuur teen die kerkbanke oor Frans op televisie en die akademie: dit het absoluut bôggerôl gehelp. André P. Brink was bloot ‘n selfopgelegde martelaar – ‘n kuriositeit – en hy is dood. District 9 het bietjie belangstelling in Afrikaans gebring – dit is verby. Die Antwoord was toe nie die antwoord nie: dit was eerder ongevraagd.

Die Fransman stel nie belang in Afrikaans nie. Punt. Ons kan erotiese danse met halsbande en goue kettings in hokke uitvoer vir ons taal voor die Franse Parlement, ‘n dagboek in Parys van die 1950’s uitgee, kook in Nantes, ‘n bundel briewe uit Provence uitgee, dit sal nie ‘n stomme moedertjie help om Afrikaans te bevorder nie.

Gelukkig is ou vriende (en vyande) is darem nog daar: Swede, Nederland en familie in Australië en Nieu-Seeland. En nog een outjie: Denemarke ( https://trends.google.de/trends/explore?date=today%205-y&geo=DK&q=%2Fm%2F070zw,%2Fm%2F0x82 )

Ek het wel ‘n eksperiment destyds probeer, en ek sien dit het nogal geluk. Op die Afrikaanse Wikipedia het ek probeer om elke liewe dorpie in Noord-Jutland uit Deens te vertaal. Was nogal moeilik. Sommer onbekende plekkies soos Ulsted, ‘n plek met 1 030 mense, destyds 1 085. My belangstelling het na ‘n rukkie gekwyn, want dit het nie vir my gevoel of ek “vriende maak” en/of die Dene byna oornag in Afrikaans sou belangstel nie. Ek was erg afgehaal. Dit was in 2011. So het die jare verbygegaan.

Toe ek dus vanoggend (11 Mei 2019) bietjie gaan rondloer of die Dene meer belangstel in Skots-Gaelies as Afrikaans, soos in die res van Europa, was ek heel aangenaam verras. My werk, so glo ek, het bietjie dividende gelewer. Region Nordjylland stel in Afrikaans belang, nie een enkele druppeltjie in Skots-Gaelies nie.

Het ek maar vasgebyt, kon ons posisie vandag selfs sterker gestaan het. Of oorskat ek my vermoëns?

Ek is nie spyt ek het artikels uit Duits en Frans vir die Afrikaanse gemeenskap vertaal nie, ek is net erg teleurgesteld dat die belangstelling in Afrikaans so verdomp min is, veral as jy die taalverwantskap met veral Duits inreken. Of is dit ons eie skuld? Uit al daardie boeke wat die Duitsers oor Suid-Afrika geskryf het – Wangemann inkluis – hoe is dit moontlik dat Afrikaans steeds slegter daaraan toe is as ‘n Keltiese taal wat op sterwe na dood is?

Ek dink die tyd het aangebreek dat ons terugkeer na ons Nordiese broers en susters, wat darem meer belangstelling toon as enige groot volk daarbuite wat Afrikaans skynbaar nie nodig het nie.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.