Motors: Datsun is terug!

Deel op

Die naam Datsun is wêreldwyd bekend vir motors soos die 240Z, 120Y en SSS. Die naam het in die tagtigerjare heeltemal verdwyn en is hoofsaaklik deur Nissan vervang. Die oorspronklike betekenis van Datsun beteken letterlik die “Seun van DAT”. Dat was ‘n Japannese motorvervaardiger in die dertigerjare en hulle het hul klein intreemotortjies Datson genoem wat later na Datsun toe verander is.

Met motors wat tans in Suid-Afrika byna heeltemal onbekostigbaar geraak het, het Nissan SA die Datsun-naam teruggebring as ‘n intreevlakmotortjie. Alhoewel Nissan deesdae aan die Franse motorreus Renault behoort en dus baie van die Franse tegnologie gebruik maak, wend die Datsun Go dieselfde 1,2-liter- 3-silinderenjin wat diens doen in die Nissan Micra Active en Renault Clio aan. Die Clio is net toegerus met ‘n turboaanjaer.

Voorkoms

Die Datsun Go van agter

Sou ‘n mens die Datsun Go en die Renault Kwid langs mekaar parkeer, is die Datsun beslis die mooier een van die twee. Datsun bemark die Go as ‘n intreevlakstadsmotortjie terwyl die Kwid as ‘n intreevlakkruisvoertuig beskou word. Maar eintlik deel die twee modelle onderstelle en is dit eintlik dieselfde koper wat na beide sal kyk wanneer daar na ‘n kompakte motortjie gesoek word. Die Go is ‘n kompakte ryding, maar tog 100mm langer as die Kwid. Die Go staan ook hoër op sy wiele en het dieselfde grondvryhoogte van 180mm as die Kwid. Om dit in perspektief te stel, is dit ook dieselfde as ‘n Mahindra Scorpio en 20mm hoër as ‘n Toyota C-HR of Hyundai Kona. Die oorhange voor en agter is kort en die neus is baie doelgerig met vertikale dagryligte en ‘n baie prominente sierrooster. Die hoofligte is ook groot en laat die motor baie groter vertoon as wat hy werklik is. Van agter is die ontwerp baie skoon met netjiese agterligte wat weer die regte grootte van die motor beklemtoon. Die Datsun Go lyk nou weer soos ‘n klein motortjie van agter. Netjies gevormde buffer met tru-parkeerhulpsensors in die buffer laat die motor werklik modern en eintlik heel aantreklik voorkom.

Ruimte

Agterste beenruimte

Ek is regtig aangenaam verras met die ruimte aan die binnekant van die Datsun Go. Hierdie is ‘n klein motortjie, maar been-, skouer- en kopruimte is besonders goed vir so ‘n klein motortjie. Mens voel wel dat dit ‘n klein motortjie is wanneer jy drie persone agter wil laat sit.

Teen 1636mm is die Go breër as die Kwid maar jy sit nogal baie naby aan die persoon langs jou. Wat begasieruimte aanbetref, beskik die Go oor ‘n kattebak wat 265l kan sluk. Die agtersitplek se rugleuning kan wel plat slaan maar as ‘n geheel en nie in dele nie. Dus kan die laairuim wel vergroot word maar dan sal daar glad nie enige iemand agter kan sit nie. Wat ook vir my verbasend is, is dat daar ‘n volgrootte-noodwiel in die kattebak se vloer lê. Deesdae kom motors mos met hierdie Mariebeskuitjiewieletjie of partykeer sommer sonder een.

Binneruim

Raakskerm

Die afwerking in die Go is prakties en selfs mooi vir die tipe motortjie. As ‘n mens dink dat die Go eintlik vir die Indiese mark ontwikkel is en soos ons weet kyk hulle maar bietjie anders na ergonomie as ons Westerse mense, lyk dit heel mooi. Die middelste konsole het dieselfde voorkoms as die sierrooster met ‘n raakskerm. Ronde luginlate aan die kante en ‘n lekker breë luginlaat bo die raakskerm sorg vir goeie lugvloei in die binneruim. Die gehalte van die materiale is ook heel skaflik vir dié tipe motor met goeie kwaliteit plastiekpanele. Daar is metaalkleurige plastiekinsetsels in die deure en om die raakskerm wat die swart mooi afwissel.Die sitplekke is oorgetrek met ‘n goeie kwaliteit veloermateriaal. Wat effens pla, is die middeltruspieël wat met ‘n konkawe kurwe loop; dit versteur so effens jou sig na agter en daar is ook geen smukspieël in die sonskerm bo die passasiersitplek nie. Pakplek in die voorste deure is ook genoeg om ‘n redelike groot bottel water te kan akkommodeer. Tussen die voorste sitplekke is daar bakkies en koppiehouers wat dinge maklik maak. Alle kontroles vir die ligte, lugversorging en kantspieëls is mooi gemerk en maklik bereikbaar. Ek was werklik baie beïndruk met die Datsun Go se pakket.

Enjin

Die Datsun Go se instrumentepaneel

Die Datsun Go is beskikbaar in twee afwerkingsweergawes, die Mid en die Lux en beide is toegerus met dieselfde 1,2-liter- 3-silinderenjin wat 50 Kw en 104 Nm se wringkrag lewer. Nou, hierdie syfers is maar klein in enige taal, maar die verskil is dat die Datsun slegs 788KG weeg en dus voel die motor baie lewendig en pla die min krag glad nie, nie eers as daar vier mense in die motor is nie. Daar is ‘n 5-spoedhandratkas wat die krag na die voorwiele stuur. Brandstofverbruik is ook baie indrukwekkend met ‘n amptelike syfer van 5,2l/100km. Met ons toetstydperk kon ek ‘n ware 5,6l/100km behaal. As gevolg van die gebrek aan gewig is die Go ook baie gewillig en kan hy gemaklik teen 140km/u toer. Ek moet sê die 3-silinderenjin is meer gemaklik in die stad as op die oop pad, maar die motor voel werklik nie enigsins gestrem as daar aangestoot word nie, dit stoot net die verbruik op want die enjintjie moet dan bietjie harder werk.

Veiligheid

Daar was in die vorige generasie ‘n groot bekommernis oor die veiligheidskenmerke van die Go. Anders as die Renault Kwid is die Datsun Go met twee lugsakke en ABS-remme toegerus. Die motor voel meer stabiel veral teen snelwegspoed as die Kwid. Beide die Go Mid (R149 600) en die Lux teen R166 300 beskik oor lugsakke en ABS remme.

Prys

Teen R166 300 is die Datsun Go Lux werklik baie goeie waarde vir geld en daar is min motors in dieselfde prysklas wat soveel waarde bied. Ingesluit in die prys is ‘n 6-jaar- 150 000km-waarborg met ‘n diensplan of onderhoudsplanopsie.

Gevolgtrekking

Sou jy ‘n nuwe klein motortjie vir jou matriekkind soek of selfs as jy self net as gevolg van die brandstofprys iets kleiners wil aanskaf, is die Datsun Go beslis ‘n baie goeie keuse.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.