Dan Roodt: Afrikaner, Eurokaner

Deel op

Wie en wat is ‘n Afrikaner?

Soos by alle volkere wat vir lang tye oorheers of beset is, het dié vraag al telkemale in die verlede tydens krisistye na vore gekom. Tans, met die juk van die ANC-terroristebewind wat al swaarder op ons druk, tesame met die onderdrukking van ons kultuur, ervaar vele van ons mense nogmaals ‘n identiteitskrisis. Andersins verkeer ons natuurlik in die tydvak van sogenaamde “identiteitspolitiek” wat regoor die wêreld gevoer word en waardeur die identiteit van veral blanke Europeërs of Westerlinge aangeval of verguis word terwyl dié van swartmense of Moslems opgehemel word. Ons sien dit ook in die taamlik absurde “akademiese” diskoerse rondom ‘n begrip soos “witheid”. In Nederland het van die media begin om die woord “blanke” te onderdruk ten gunste van “witte” wat blykbaar oor meer negatiewe konnotasies beskik, sodat witskuld in die hand gewerk kan word.

Die voormalige Beeld-joernaliste Mandy Rossouw

Afgesien van tye in die negentiende eeu toe die koloniale Britse bewind met alle geweld gepoog het om die Nederlands- of Afrikaanssprekende bevolking aan die Kaap te verengels, was daar nog nooit ‘n tydvak in die geskiedenis toe die staat, maar ook privaat magte en kragte soos die hoofstroommedia, so hard gepoog het om die Afrikaneridentiteit aan te val, verdag te maak of te verguis nie. Ek onthou dat ‘n joernaliste van die dagblad Beeld, Mandy Rossouw (sy is intussen oorlede) my op ‘n keer geskakel het en van “rassisme” beskuldig het bloot omdat ek die term “Afrikaner” gebruik het. Ek was heeltemal uit die veld geslaan, maar het agterna by nadenke vermoed dat sy gemeen het dat Afrikanerskap in 1994 deur die revolusionêre oorname van die ANC-SAKP as’t ware afgeskaf is en dat enigeen wat aanhou om die blote woord te gebruik ‘n soort taboe oortree.

In Rapport van 21 April 2019 laat Tim du Plessis hom insgelyks kragtens die heersende ideologie negatief uit oor die Afrikaneridentiteit:

Dié klas rebellies begin dikwels as taalaktivisme vir Afrikaans. Piekfyn met my. Dan volg intree vir die Afrikaanse kultuur. Ook reg, mits dit inklusief is, soos die ATKV dit deesdae doen.

Maar dan op ‘n kol kom jy agter ons ywer is nou vir ‘Afrikaner’. En dis waar jy my verloor. Want van hier af is dit ‘n kort sprongetjie na ‘wit’.

Hiermee verwoord Du Plessis die amptelike sensuur wat daar in die Naspersmedia — deesdae bekend as Media 24 — rondom die begrip “Afrikaner” bestaan. Oor die afgelope dekade of twee is die woord vervang met die neologisme, “Afrikaanse” wat onmiddellik ietwat vroulik op die oor val, soortgelyk aan “Nederlandse”. Dog ‘n “Afrikaanse” is geen vroulike Afrikaner nie, maar veronderstel om ‘n soort samevoeging van alle Afrikaanssprekende identiteite te wees, blank en bruin. ‘n Joernalis van Die Burger, die Kaapse koerant, het my selfs vertel dat hy en ander ‘n omsendbrief per e-pos van die bestuur ontvang het waarin hulle aangesê is om die gebruik van die woord “Afrikaner” te vermy, tensy die konteks dit genoodsaak. Ons sien dus dat die term “Afrikaanse” met ‘n hoë mate van sosiogeniëring gepaard gaan, wat nie vreemd is aan totalitêre, linkse samelewings nie.

In dié verband was die ANC en sy alliansievennoot, die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty, nog altyd uiters vyandig teenoor die inheemse blanke bevolking en veral die Afrikaner. Die party se beleid het in die 1930’s beslag gekry toe dit deur Oos-Europese immigrante met ‘n internasionalistiese identiteit oorheers is. Hiervolgens is die Afrikaner gesien as ‘n “kunsmatige skepping” van die vyandelike klas, die kleinburgery of petite bourgeoisie soos daar gewoonlik op Frans daarna verwys word. In die huidige Suid-Afrikaanse tydvak, wat so intens deur ‘n linkse hegemonie gekenmerk word, het dié kommunistiese vooroordeel uit die vroeë dekades van die vorige eeu tot ‘n nasionale dogma verhard. Sowel die vorige ANC-president, Jacob Zuma, as die huidige, Cyril Ramaphosa, het reeds die datum 1652 as ‘n uiters negatiewe jaar op die kalender gekenmerk toe die Nederlanders aan die Kaap geland het en begin het “om grond te steel”. Logies gesproke, hoort ons dus nie hier nie, synde beide vreemdelinge in die land ná byna vier eeue én “fasciste” wat verseg om ‘n globale, proletariese, Engelse kultuur aan te neem soos wat die SAKP sou verkies.

Dog nie net Afrikanerskap staan in die spervuur nie. Ook die Afrikaanse taal, spesifiek die standaardtaal, gee deesdae aanstoot. Daar was die Afrikaans-must-fall-beweging op sommige kampusse, tesame met verklarings deur die hoof van Radio sonder grense (RSG) dat Standaardafrikaans toenemend deur “Kaaps” of ‘n nuwe standaardtaal met ‘n “Kaapse” grondslag vervang sou word. Verskeie taalkundiges, veral vanaf die Potchefstroomkampus van die Noordwes-universiteit, het ook begin om die Wes-Germaanse oorsprong van Afrikaans te bevraagteken en dit as ‘n soort “Khoisan-dialek” voor te stel. Kortom, en in weerwil van die taal se benaming wat na die Afrika-vasteland verwys, word Afrikaans as “te eurosentries” gesien en moet daarom soos die meeste ander dinge verafrikaniseer word deur ‘n Khoisan-identiteit daaraan toe te dig.

Dit bring my by die hooftema van dié rubriek, naamlik die spanning wat daar heers tussen die Europese oorsprong van die Afrikaner en sy heimat in Afrika, “oor ons ewige gebergtes, waar die kranse antwoord gee,” soos dit in “Die Stem” deur C.J. Langenhoven besing word. Die blote noem van “Die Stem” is egter in die huidige tydsgewrig op sigself omstrede, soos mnr. Steve Hofmeyr al telkemale ondervind het, want dié volkslied word insgelyks deur beide die links-liberale en kommunisties-radikale groeperings in Suid-Afrika verwerp.

In dieselfde trant wys die titel van dié rubriek heen na ‘n boek deur die links-liberale politikus, Frederik van Zyl Slabbert, wat sy omhelsing van liberale Engelsheid of Britsheid ten spyt, halsstarrig volgehou het om hom as “Afrikaner” te tipeer. Die teks wat ek in gedagte het is Afrikaner, Afrikaan (Tafelberg, 1999), ‘n vreemde mengsel van saamgeflanste teorie en outobiografie waarin hy die begrip “Afrikaner” letterlik opvat en so min of meer aan dié van “Afrikaan” of swartman — met al die teenstrydighede wat daaruit voortvloei — gelykstel.

Om verskeie redes verafsku ek die soort Engelsgesinde Prog-liberalisme van Slabbert en spreek dit vanself dat my eie begrip van Afrikanerskap reëlreg van syne verskil. My eie siening van Afrikaneridenteit sluit aan by die klassieke tradisie wat in 1707 met Hendrik Bibault se tussenwerpsel teenoor ‘n landdros, Ik ben een Africaander! begin het, en dwarsdeur die negentiende en twintigste eeue deur ‘n swetterjoel geskiedkundiges, skrywers, kunstenaars, argitekte, filosowe en politieke denkers ontwikkel is, waaronder N.P. van Wyk Louw.

Maar, en dis die tweede polemiese invalshoek van my argument, afgesien van my afwysing van die Afrikaner-Afrikaan-begrip, hiermee wil ek insgelyks kritiek lewer op ‘n soort gemoedelike siening van Afrika wat in die verlede deel uitgemaak het van ons identifikasie met die vasteland. In die tyd van Afrikaans must fall en Kill a Boer, kill a farmer, moet ons vereenselwiging met Afrika — dieselfde Afrika wat ons verwerp en aanval, hetsy kultureel, hetsy fisiek — noodwendig onder die loep kom. Daarmee saam moet ons herbesin oor ‘n bepaalde “Afrika-romantiek” wat ons idee van Afrikanerskap in die verlede gekleur het, en wat vir seker by Van Wyk Louw en ander teenwoordig was.

Die huidige tydvak, asook ons volslae magsverlies en oorheersing deur aggressiewe, dikwels vyandige Afrikane, dring hierdie herbesinning aan ons op. Maar ook, en juis as gevolg van Europa en Amerika se immigrasieprobleme, tesame met die opkoms van ‘n wêreldwye anti-blanke of anti-Westerse vyandigheid, bevind ons en ons stamlande ons toenemend in dieselfde bootjie. Vir die eerste keer sedert die vroeë vyftigerjare byvoorbeeld, heers daar toenemende solidariteit tussen Afrikaners en die inwoners van die Lae Lande, sowel Nederlanders as Vlaminge. In Duitsland, Frankryk, Italië en Swede vlam daar ook belangstelling op in die penarie waarin ons ons bevind, met gepaardgaande simpatie. Dít alles noop ons om ons te heroriënteer sover dit ons Europese wortels aanbetref.

Aangaande die term “Eurokaner”, het ek dit helaas nie gemunt nie. ‘n Klompie jare gelede het ek ‘n internetgesprek met ‘n jong Fransman gevoer waartydens hy ewe kripties aan my gesê het: “Afrikaner, Eurokaner, dis een en dieselfde ding.” Dit het my nogal verras en sedertdien het die woord my bygebly. Ek dink dat hy daarmee wou uitdruk dat, soos Ilana Mercer ook al geskryf het, álle blankes nou in die spervuur verkeer. (Ilana Mercer: Why hatred of whites is here to stay.)

Dit is dan die eerste, taamlik breë definisie van ‘n Eurokaner: iemand van Europese afkoms wat weens nyd en ressentiment deur ander gehaat word.

Lees ook: Dan Roodt: Eurokaner en kreool

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.