Gustav Venter: Die Afrikaanse Rolprent – op soek na drama

Deel op

ʼn Oomblik van stilte vir die skrywer, die draaiboekskrywer, die draaiboekskrywer van die Afrikaanse rolprent. As jy nog nooit ʼn draaiboek geskryf het nie, liewe leser, liewe fliekkyker, wees nie te skel in jou oordeel nie. Is dit dan so vrekkens moeilik om ʼn draaiboek te skryf? Nee. Geensins nie. Skakel jou rekenaar aan, laai jou woordverwerker, hou koffie byderhand, begin skryf en hou aan skryf totdat die draaiboek klaar is. Eenvoudig. Eenvoudig ja om ʼn draaiboek te skryf; baie ingewikkeld om ʼn draaiboek te skryf wat ʼn fliek sal laat slaag.

In so ʼn draaiboek moet soveel weerbarstige elemente versoen word: Karakter teenoor storieontwikkeling; atmosfeer teenoor tempo; oordrag van inligting teenoor bondigheid. Die draaiboekskrywer moet ʼn deeglike begrip hê van struktuur, wendinge, ontwikkeling, spanning en gevoel, en dit alles nog voordat hy die eerste woord dialoog geskryf het.

Die Afrikaanse draaiboekskrywer moet dit boonop in die skaduwee van ʼn baie groot boom, Hollywood, skryf. ʼn Romanskrywer leer skryf deur romans te lees. ʼn Rolprentskrywer leer deur rolprente te kyk. Hollywood – ʼn sambreelbegrip vir die ganse oorsese filmbedryf – is ʼn magtige bedryf om teen mee te ding, ʼn verleidelike leviatan. Die dilemma is dat die Afrikaanse draaiboekskrywer moet meeding met die bron waaruit hy put en dit veroorsaak ʼn baie ongemaklike tweestryd.

Hierdie worstelinge ken ek goed. Ek is die skrywer, medeskrywer of konsultant vir ʼn aantal draaiboeke. In Januarie het ek en my vrou, met die hulp van ʼn span werklik bedrewe mense, ʼn ou-ou ambisie verwesenlik deur ʼn rolprent te vervaardig. Nou, in die nadraai daarvan, het ek myself te water gelaat om die Afrikaanse rolprentbedryf te verken en te ontleed. En hoe staan sake? In ons bedryf? Die waarheid is dat dit maar droewig is en die droewige waarheid is dat ons rolprentvaardigers vergeet het hoe om ʼn storie te vertel.

Ek het nou ʼn stuk of twintig flieks ontleed en ek doen aan die hand dat ons weer gaan besin oor die aard en doel van drama. Ons weet eintlik almal wat dit is, of kan dit ten minste herken as ons daarin vasloop. Ons oervoorouers het stories om kampvure vertel, en dit was drama. Intussen het drama verskuif na die arena, die dorpsplein, die teaterverhoog, die radio, die silwerdoek, die televisieskerm en nou die rekenaarmonitor en die selfoonaangesig. Drama is orals om ons, maar almal is dit nie eens wat die doel daarvan is nie. Sommige ontleders voer aan dat dit ʼn manier was om die mens van sy bewussyn te verlos – ʼn begrip wat ons deesdae ken as ontsnapping. Ander het drama gesien as ʼn manier om kennis uit ervaring oor te dra. Miskien is dit ʼn soort sielkundige laboratorium om groter temas te ondersoek.

Maar indien ons nie weet wat die doel van drama is nie, moet daar darem nie by ons twyfel wees oor wat dit is en hoe dit werk nie. Die wysgeer Aristoteles het reeds 23 eeue gelede of so reëls vir drama geformuleer. Hy het drama as ʼn reis gesien waarin die held van A na B gaan, in die proses verander word in die minste stappe moontlik, alles binne die strek van 48 uur aan die einde waarvan ons vrees en meegevoel beleef en daar ʼn ommeswaai en herkenning is.

Natuurlik is reëls daar om gebreek te word; soms is dit al hoe ons vorder, maar ʼn mens moet jou eers van die reëls vergewis voor jy hulle kan verontagsaam. Natuurlik is Aristoteles se reëls nie ʼn soort natuurwet nie, maar ek verseker jou, as die draaiboekskrywer onderdanig aan hulle bly, sal hy ʼn suksesvolle rolprent skryf.

Dis my diagnose dat te veel Afrikaanse draaiboekskrywers beroemde Amerikaanse – en enkele Britse – rolprente wil naboots sonder enige begrip van die steierwerk van dramareëls waarom dit gebou is.
Ek noem net een voorbeeld: Die meeste Afrikaanse draaiboekskrywers ignoreer die onmisbare element van ʼn doelstelling. Vir ons held om van een punt na ʼn ander in die verhaal te beweeg, moet hy ʼn doelstelling hê en ons, die kykers, moet presies weet wat dit is, anders gaan ons hom nie volg nie. Dit het my verstom in hoeveel Afrikaanse draaiboeke hierdie reël bloot weggelaat word. Die eerste vraag wat van ʼn draaiboek gevra moet word is: Waaroor gaan dit?

As die draaiboekskrywer dit beskryf aan die hand van milieu, kan jy maar weet dit is ʼn draaiboek wat soos ʼn brommer in ʼn bottel herwaarts en derwaarts gaan gons en nêrens uitkom nie. Die rolprent moenie bloot gaan oor ʼn meisie wat in ʼn koshuis is nie of ʼn gesin in Waterkloof nie of ʼn troue of ʼn seun op ʼn plaas nie.

Drama, volgens Aaron Sorkin, bestaan bloot uit doelstelling en struikelblok. Die storie begin eers wanneer die held sê hy wil die lughawe verlaat om in New York te wees, maar die lughawebestuurder versper sy weg (The Terminal,) of die twee rampokkers wil emigreer, maar hulle word gejag deur ʼn spesiale taakmag (Butch Cassidy and the Sundance Kid,) of Moses wil sy volk red, maar Farao wil hulle nie laat gaan nie (The Ten Commandments,) of Michael Corleone wil sy familie bewaar teen die aanslag van ander Mafiabendes, maar hy word deur verraad bedreig (The Godfather.)

As ons as draaiboekskrywers dit nie verstaan nie, is dit omdat ons dit vergeet het, want Afrikaanse rolprentmakers het dié reël stiptelik en met groot sukses nagekom. Jamie Uys het dit reeds in 1951 gedoen met Daar doer in die bosveld. Die fliek kry dit reg om in 61 minute meer te beskryf van verliefdheid as wat stringe ander rolprente in twee ure doen. Die hoofrede is dat die kyker presies weet wat die hoofkarakter se doelstelling is: Hy wil sy onbeholpenheid teenoor vrouens te bowe kom deur die nuwe skooljuffrou by die stasie te gaan haal en tuis te besorg. Dis die doelstelling, ja, maar wat is die struikelblokke? Sy bogenoemde verbouereerdheid, beslis, en dan die afgeleefde, onhebbelike voertuig waarmee hy ry en waarop hy staatmaak.

Gaan kyk dit gerus op Youtube. Dis ʼn reis waarop jy tot by die laaste halte sal bly. En ja, ons held is verander. Daar was ʼn ommeswaai. Dit is geslaagde drama.*

Wat meer is as wat ons van omtrent enige hedendaagse Afrikaanse fliek kan sê. Maar solank ons weet wat haper, kan ons verbeter.

* Boonop bly Daar doer in die Bosveld regtig snaaks. Dit het my hardop laat lag toe ek dit nou weer gekyk het, wat meer is as wat ek van enige eietydse Afrikaanse fliek kan sê.

Gustav Venter se rolprent Dies irae – dag van wraak word op 25 April bekendgestel.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.