Suidpunt: Hou subkulture enige gevaar vir die Afrikanerkultuur in?

Deel op

Sondagaand, 7 April 2019, op Kwêla, kykNET, is ‘n onderhoud met ‘n paar manne in dierepakkies gevoer . Hulle is Furries, ‘n handjievol van vele wêreldwyd. Hulle voer aan hul kry soms negatiewe kritiek op sosiale media, terwyl hulle maar net hulself is.  In hierdie artikel vra ek myself af waarom subkulture in die eerste plek bestaan, en tweedens, wat hou dit vir die Afrikanerkultuur as geheel in?

Subkultuur

‘n Subkultuur sou ek omskryf as ‘n groep mense, waarskynlik geneties verwant aan ‘n spesifieke bevolkingsgroep, laasgenoemde die aanhangers van die hoofstroomkultuur (en wat o.a. dieselfde taal praat), wat hul eie kultuur voer wat in skrille kontras is met die hoofstroomkultuur.

Baie beskou subkulture in dieselfde sin as “kontrakulture”, met ander woorde, ‘n kultuur wat doelbewus téén die hoofstroom gemik is. Die aanhangers van die teenkultuur beskou hulself dikwels weer as ‘n wekroep vir die dwalinge van die hoofstroomkultuur. Andersins vervul die subkultuur ‘n rol wat die hoofstroomkultuur nie kan bied nie.

Daar is wel ‘n verskil tussen ‘n subkultuur en ‘n bewonderingsklub: word dit ‘n leefstyl, of nie? Net soos NCIS en Paw Patrol, het The X-files nooit ‘n subkultuur geskep nie. Want ‘n subkultuur vereis dat jy lewensveranderinge (ook dikwels taalgebruik) aan jouself moet aanbring of verander. Bewonderaars koop bloot net versamelaarsitems of speelgoed aan, skryf oor en ontleed in detail die verhaalgebeure, skryf miskien self ‘n bietjie fanfiction. En dis dit. Dieselfde met die Blou Bul-ondersteuners uit die 2000’s. Dit gee nie, soos Star Wars, aanleiding tot die ontstaan van Klingon-gemeenskappe nie; Star Wars sou ek dus as ‘n subkultuur beskou.

Net om duidelikheid: party sal seker die indruk kry die “hogere kultuur” van ‘n samelewing is ook eintlik téén die hoofstroom gemik, juis weens die elitisme daarvan, die versluierde simboliek en etiket, maar hierdie kultuurdraers of “fakkeldraers” probeer die menigte “optrek”, terwyl die subkulture wissel vanaf skadelose sygange tot dwalinge wat  die hoofstroomkultuur van binne af kan rysmier. Die hogere kultuur, sou ek sê, is van nature gesofistikeerd, gegrond op die rede, probeer die medemens tegemoet kom (juis daarom is daar soveel reëls en regulasies om die korrekte boodskap op die korrekte tyd uit te stuur deur net jou mes en vurk op die regte manier vas te hou). Daar is van die snobs wat hierdie reëls misbruik om die plebs op meerderwaardige wyse op hul plek te hou, terwyl die eintlike doel van hierdie reëls is om die standaard hoog te hou en die vlam van beskawing eweneens hoog te laat brand. Inklusief is dit helaas nie, want dit is gebou op meritokrasie en jare se afronding. Anders as by subkulture en subkulture is dit geen “cosplay” (kleedparade) nie, en jy kan nie bluf met jou onkunde nie. Die doel van die hogere kultuur is nie om te beïndruk of te skok nie, maar suiwer om die voorbeeld te stel hoe die mens behoort op te tree. Dis eintlik, as mens nou so daaroor nadink, kollektief ingesteld. Dis ‘n swaar verantwoordelikheid.

Die subkulture dien weer as uitdrukking van die individu, of wat die individu verlang. Iedereen kan kom en gaan, aansluit en verlaat. Dit is ‘n internasionale/globale verskynsel, maar daar kan tog ‘n nasionale of plattelandse geurtjie insluip.

In Hitzler en Niederbacher se Leben in Szenen (2010, R213,08 op Google Play) kry jy ‘n kykie in die klomp subkulture wat byna ‘n dekade gelede in Duitsland reeds floreer het: van Antifa tot Warez. Hulle skryf:

Infolge dieser Struktureigenschaften begreifen wir Szenen als prototypische Gesellungsformen der individualisierten und v. a. der juvenilen Menschen in Gesellschaften im Übergang zu einer ‚anderen‘ Moderne. Ihr prototypischer Charakter erweist sich zum einen darin, dass die Zahl originärer Szenen stetig wächst[…,] zum anderen darin, dass Miteinander in herkömmlichen Gemeinschaften immer mehr symptomatische Elemente posttraditionaler Vergemeinschaftung übernimmt.

Vryelik vertaal:

As mens op die struktuur daarvan let, is subkulture nuutgevormde (prototipiese) gemeenskapsvorme deur individualiste en veral onder jongmense in ‘n samelewing in oorgang na ‘n “ander” moderniteit. Die prototipiese wesenstrek daarvan sien mens onder meer in die getal subkulture wat konstant aan die toeneem is; simptomaties hiervan gaan dit in hierdie samelewings dikwels hand aan hand met ou tradisies wat vervang en van ontslae geraak word.

Dit herinner my trouens aan ‘n verhandeling oor François Bloemhof se debuutwerk, Die nag het net een oog, waarin Gotiese elemente bespreek word (Loots, 2007:63):

Regdeur die agtiende eeu het belangrike sosiale, ekonomiese, politieke en kulturele veranderinge die mens se bande met ‘n ordelike sosiale wêreld begin slyt. Verstedeliking, industrialisasie en revolusie was die prominentste tekens van verandering. Tydens die Verligting het selfstandige, individuele denke die plek ingeneem van die opvatting dat geloofsoortuigings met gesag wêreldsake en veranderende opvattings oor die verwantskap tussen mense en die natuurlike, bonatuurlike en maatskaplike ruimtes met gesag kan verklaar. Die Gotiese roman was dus die gevolg van die vrees wat uit bogenoemde situasie ontstaan het; ‘n poging om hierdie onsekerheid te regverdig en te hanteer. Die roman poog ook om dit wat die Verligting onverduidelik gelaat het, te verhelder.

So subkulture kan mens sê is ‘n reaksie teen die modernisme, soortgelyk aan die Romantiek wat as wekroep moes dien teen die Klassisisme, maar wat later ook as reaksie gedien het teen die Verligting/Rasionalisme.

Die WAT stel dit netjies (s.v. “Romantiek”):

Beweging, rigting of stroming i.d. beeldende kunste, letterkunde en musiek wat a.d. einde v.d. 18de en begin v.d. 19de eeu ‘n hoogtepunt bereik het, wat ‘n reaksie was op die oordrewe klassisisme waarop dit gevolg het, en veral gekenmerk is deur ‘n verhoogde belangstelling i.d. natuur en verlede, ‘n beklemtoning v.d. individu se uitdrukking van emosie en verbeelding, ‘n ontvlugting a.d. werklikheid en ‘n opstand teen bestaande konvensies en sosiale norme.

Met ander woorde, om dit baie eenvoudig te stel: subkulture ontstaan uit die konflik tussen gevoel (esoterisme, tradisie wat in onbruik begin raak, intuïsie, irrasionaliteit) en verstand (logika, die rede), gebore uit angs vir die rigting wat laasgenoemde inslaan. Op sigself het die Romantiek en die Postmodernisme eintlik ‘n hele walm stof opgeskop met weinig daadwerklike antwoorde. Die modernisme baan steeds sy pad oop.

Maar, net mooi in die volgende paragraaf van die verhandeling staan daar:

Nienaber en Nienaber beskou verhale soos dié van Edgar Poe as ‘demoniese’ dierverhale en voer aan dit het as ‘n uitvloeisel van oorindustrialisering van die Europese en Amerikaanse grootstede in sommige kringe ‘n hunkering na sensasie en grillighede ontstaan, uitsluitlik met die doel om die verveling van en eentonigheid van die lewe in die stad teen te werk. Hulle skryf die verskynsel toe aan oorbeskawing, ten tye van hulle studie nog nie so ‘n groot probleem in Suid-Afrika nie.

Hmmm… “verveling” en “eentonigheid van die stadslewe” klink vir my nader aan die waarheid.

Ek probeer nie sê elke persoon wat ‘n subkultuur aanhang is van binne verrot nie, ook nie dat hul onredelik is, ongesofistikeerd is of geen hart van goud het nie. Uit ‘n geswore utilis se oogpunt moet ek my wel afvra: Wat presies wil jy oor 30 jaar daarmee bereik? En dit is waarna ons gaan kyk.

Hoe ontstaan subkulture?

Daar is verskeie faktore wat waarskynlik niks met mekaar verband hou nie:

Te veel geld, te veel tyd. ‘n Weg-met-ons-kultuur-samelewing. Soms anti-nasionalisme/anti-patriotisme/anti-tradisionalisme, soms nie. Verveling (soos reeds hierbo genoem). Eensaamheid. Waardering van estetika. Uitsluiting/outsider-wees. Opstand teen die establishment. Iemand wat soek na identiteit en aanvaarding binne ‘n groep. Iemand wat vastrapplek soek in die oorgangstyd/-rite na volwassenheid. Iemand wat tradisies as uitgeleef, sonder mistiek, sonder esoteriese “my magtig, wow!”, en vervelig, voorspelbaar, passé beskou en iets beters soek. Iemand wat iets soek wat anders, nuut, vreemd, verfrissend, opwindend, avontuurlustig, selfs stout, dinamies, nie-bindend, sonder hiërargie is, dog in ‘n mate eksklusief. Iemand wat bloot voel ‘n sekere onderdeel (tema, probleem, kwessie, of mikpunte) van ‘n subkultuur druk sy gevoelens en belangstellings die beste uit. Of iemand wat verkies om agter ‘n masker sy ware persoonlikheid en vryheid uit te leef. Of iemand wat bloot sy laagste drifte wil bevredig. Of mense met ‘n gedeelde slagoffermentaliteit.

Of heel dikwels, soos ek hierbo uitgewys het, is daar ‘n menslikheid of tradisie wat deur die modernisme tot niet gegaan het, en nou onder die stof uitgehaal en op die voorgrond geplaas word.

Kies maar uit, maar so eenvoudig is dit ook nie.

‘n Subkultuur is, soos Hitzler en Niederbacher stel, soos ‘n wolk. Jy kry diegene wat slegs oppervlakkige, onskuldige deelname het (hulle trek kostuums aan, ken ‘n paar begrippe, koop ‘n paar strokiesprentboeke/musiek), jy kry dié wat pens en pootjies daarin plons, en dan kry jy… die Donkerweb. Daardie .onion-webwerwe wat jy met Oom Tor Browser besoek.

Kultuur, moet mens begryp, is opgebou uit die hulpbronne en die vernuf wat onmiddellik tot jou beskikking is. Soos meer hulpbronne beskikbaar raak, sal jou kultuur eweneens ook verander en aanpas. In die verlede sou mens maar tevrede moes wees met eenvoudige Hartebeeshuisies van riet en klei (waaruit tien kinders die lewe moes ingaan), vandag kan jy ‘n futuristiese paleis laat opdoem wat vloek teen die verbeeldinglose Toskaanse Villa-namaaksels van Johannesburg. Vir een mens.

Op soortgelyke wyse kan elkeen vandag kies watter kultuur hy wil aanhang, in weerwil van wat die res ook al mag dink. Ek vra my net af waarheen hierdie subkulture noodwendig lei. Wat is die punt daarvan? Wat is die nut daarvan?

Ek gaan slegs vier voorbeelde uitsonder: die Furry Fandom, Vampyre Goths, Steam Punk Goths, en Zef.

Die Furry Fandom

In sy eenvoudigste en reinste vorm sou ek sê ‘n Furry (Duits: Pelztiere) is enigiemand wat hou van dierekarakters wat soos mense aantrek en/of optree. Met ander woorde, vermenslikte diere. As jy sonde hierin sien, is jy seker puriteins, want jy sal gewis geen Disney/Pixar-fliek kan kyk nie. Jy sal Van den Vos Reynaerde uit die Middeleeue nie mag lees nie. Ook nie al die Griekse fabels van weleer nie. En beslis nie die Egiptiese mitologie verstaan wat lewe en dood probeer verpersoonlik het nie. Ook nie in die Kronieke van Narnia, waar Christus as leeu (Aslan) uitgebeeld word nie. Eintlik jammer, want dierekarakters sê dikwels meer as wat mense kan.

Neem nou maar bewysstuk A, soos geskilder deur ‘n Russin in haar laat-20’s. Daardie blik (!), die atmosfeer, die beligting, die waaksame gespitste ore, die amulet, die snoet van die wolf spreek boekdele. Of hy dink ernstig oor iets na, of hier-kom-groot-moeilikheid.

Of, bewysstuk B, deur dieselfde skilder. En mens kan dit op verskillende wyse interpreteer. Voor my sien ek ‘n vos, duidelik in ‘n postapokaliptiese agtergrond, sy ore staan regop, sy stereoskopiese blou oë kyk effens uittartend na die ongesiene teenstander (of gebeurtenis?), sy snoet en bek bloei, die rugsak en weermagbroek, teedoekie om die nek (met tande! ironies), en pistool in die poot/hand sê: ‘ek gaan jou op ‘n slinkse manier terugkry, ek is slaggereed, die hare gaan waai’!  Die Furry, wat die skilder vrye teuels gegee het om hom te teken, interpreteer die beeld weer anders: “Wiping off a bloody nose, with scorched Earth behind him. I’d say he’s satisfied he won the day.”

Eintlik onnodig om te sê, roep sowel “Wolf”, “Vos/Jakkals” en “Kat” vir ons verskillende gevoelens op, en hierdie stereotipes gee ons klaar ‘n aanduiding in watter rigting ‘n verhaal moontlik gaan verloop. Diere se emosies in die prente spreek ook duideliker as mense s’n: jy het ore wat plattrek of draai, groot oë, rûe wat kromtrek, trillende snorbaarde, nekhare wat rys, sterte wat opswaai of tussen die bene druip, snuif-, grom-, hyg-, tjank-, sis-, blaf-, blaas- en spoeggeluide, lang hangende tonge (“lolling”); ontblote grommende tande (met bewende bolip), slagtande wat aggressie kan benadruk, kloue, ‘n wikkelende, swartblink glansende snoet, en ‘n selftevrede oor-, pensie- en rugkrap so nou en dan. En natuurlik, wat al hierdie soogdiere doen: liggies lek met die tong uit pure danigheid. Al emosies wat nou bykom: hulle kan soos mense trane stort en bloos. Die dierekarakters is ook lief om drukkies aan mekaar uit te deel, kompleet soos kindertjies sou doen met pluisdiere. Is dit hierdie platoniese menslike kontak (veral tussen mans) wat deur die modernisme (en ander kultuurinvloede) tot niet gegaan het wat hierdie subkultuur dalk probeer ‘herstel’ op kinderlike wyse? Dis net ‘n onskuldige vraag.

Terug by die gesigsuitdrukkings. Die mensetaal het die meeste van hierdie diere-emosies vervang. ‘n Blanke man sou byvoorbeeld in dieselfde prente nie dieselfde uitstraling kon gee nie. Dis ‘n ekstra dierlike dimensie wat selfs grootoog Japannese anime-mensekarakters nie kan regkry nie. Ons aanvaar dit nou maar eenmaal in die fiktiewe verhaalgebeure so.

Die tekenprente self is vereenvoudigend en idealisties van die werklikheid (waar die lelik uitgesny word), en dikwels is die karakterisering ook so geteken. Soos Jungiaanse argetipes is hulle maar eintlik “hol” van binne. Die Furry-strokiesprente sou ek nie sê ewenaar dié van The X-files-strokiesprentboeke wat jy op Google Play kry nie, en ek glo dis omdat ons daaraan gewoond is om mensekarakters baie komplekse persoonlikhede te gee, vasgevang in uiters komplekse omstandighede, maar dierekarakters nie. Ek glo dit sluit aan by die wanindruk dat animasie “vir kinders bedoel is” (ter onderskeid van grootmensfilms wat voor die kamera geskiet word en daarna oorbodige rekenaargesteunde bewerking kry), wat die indruk skep van kinderlike nostalgie en onskuld. In der waarheid is daar ‘n Duitse gruweltekenprent, Felidae (1994), wat ek beslis nie vir jong kinders sal wys nie.

Maar die Furry Fandom bly egter nie slegs by dierekarakters in die fiktiewe wêreld nie. Albei hierdie bogenoemde skildervoorbeelde van die Russin was avatars (“fiktiewe profielfoto’s”) van die Fursonas (Furry + Personas) van egte mense in die werklikheid. Met ander woorde, mense leef hul uit as hierdie fiktiewe karakters, of hierdie karakters dien as rolspel-uitlaatklep. Party verkies om dit op die internetforums so te hou, terwyl ander wolwepakkies aantrek en die publiek so betree (dikwels net by konvensies, maar ja, waarom nie die winkelsentrum ook nie?). Hier begin die deurbreking tussen fiksie en werklikheid wat omstanders ongemaklik kan laat. En dis dan wanneer die jag op Furries ‘n “bloedsport” word – want Ouma wil die vel hê!

Kom ons gaan vir ‘n wyle terug na die kykNET-onderhoud (https://www.youtube.com/watch?v=W9PWyjrJv3E ) en gaan die punte weer oor. Die volgende stellings word gemaak (uit hoflikheid en om subjektiwiteit te vermy, weerhou ek die name):

– “Daar was nou al heelwat wanpersepsies geskep deur televisie en films en sulke goeters. Daar is baie seksuele konnotasie aan hierdie hele storie. En ek wens net mense kan verstaan dat dit eintlik net oor die kreatiwiteit gaan.”

– Die persoonlike eienskappe van die mens word dikwels aan die karakter oorgedra

– Jy het die vryheid en carte blanche om die fursona aan te pas soos jy wil (kreatiwiteit)

– Furries is tropdiere

– “Om normaal te wees is overrated”

– “Dit bring plesier in hierdie wêreld van ons”

– Hulle hou fondsinsamelings vir liefdadigheid, veral as diereliefhebbers (wolwe, honde/husky-skuilings).

– “And especially in this day and age, with, you know, the way that the media portrays people, the way we are sort of forced to be things that we may not necessarily want to be, I think that’s one of the main draws […] is that we can be individuals. And weirdly enough, the Furry Fandom kind of celebrates individualism to that kind of extent.”

– By ConFurences kom hulle bymekaar, hulle gesels eers, besluit dan om hul dierepakkies aan te trek, en geniet ‘n anderhalfuur mekaar se geselskap in hierdie kostuums deur simpel dinge aan te vang.

– Die Amerikaanse media het sensasie probeer uitbuit, misverstande veroorsaak, Furries uitgebeeld as “weird”, asof hulle “gefassineerd is met diere”, asof hulle diere wil wees. “Ons is nie mense wat dink ons is diere nie”.

– “Dit is ‘n manier van expression, dis hoe jy jouself uitleef”

– “Ek is vreeslik lief vir tekenprente, vir cartoons en goed, en dis waar die liefde daarvoor vandaan kom”.

– Die kritiek op sosiale media maak seer.

– “Ons dra ons dierepakke, ons pla regtigwaar niemand nie. Dis harmless, dis (‘n) harmless hobby wat ons eintlik doen. En ek verstaan nie hoekom mense so negatief reageer daaroor nie.”.

– VRAAG: “En julle het hierdie gemeenskap waar julle almal bymekaarkom. Wat het dit al vir jou in jou lewe beteken?” ANTWOORD: “Vriendskap. Dit gee jou daai sosiale aspek in mens se lewe. […] Jy het tien teen een mekaar nog nooit ontmoet nie. Maar dis fassinerend dat, as jy bymekaarkom, dis asof jy onmiddellik mekaar ken, omdat ons, jy weet, gelyke interesse het.”

Onder ‘n berig op Jacaranda FM  , kry ons die volgende:

* “Men and women who take on “animal-like” personas do so […] as an ‘escape from reality’.”

* “…he had to find to overcome bullying in his childhood as well as the ‘pack’ of friends he keeps around to support him.”

* “…enjoys the camaraderie among the like-minded Furries, citing their childlike nature and the chance to escape from reality as advantages of being a Furry. The benefits far outweigh the expense of being a Furry”

Om dus op te som:

– Furries (maar ook ander Suid-Afrikaners) sien die media as ‘n liggaam wat die afdwingende standaarde stel wat jy [as volwassene] mag en nie mag doen nie. En Furries kan hulle nie daarmee vereenselwig nie.

– Die Furries voel agter ‘n masker bevry om iemand te wees wat hulle wil wees, wat hulle andersins nie as gewone mense kan wees nie.

– Die Furries maak gebruik van die verdedigingsmeganisme genaamd “ontvlugting”.

– Die Furries maak vriende op anonieme wyse, dikwels deur die internet.

– Omrede anonimiteit betrokke is, dink ek nie Furries is aandagsoekend nie; hoewel die koppedraai van die publiek tog op ‘n ersatz wyse die persoon agter die masker nie meer soos iemand in die versmorend gryse menigte laat voel nie.

– Die Furries voel hulle is in ‘n daadwerklike ondersteunende gemeenskap van hul eie.

– Die Furries se liefde het begin by tekenprente/”cartoons”/animasie.  En hierdie karakters, net soos die Fursona, verouder selde.

‘n Paar dingetjies word in die onderhoude wel verswyg, en ons moet die haat teenoor Furries beter begryp. Hoe gouer ons die vis oopvlek hoe beter.

Uit die staanspoor kan mens aanvoer sowel tieners as volwassenes hou nie van “afwykings” (deviants) in hul midde nie (hoewel, vreemd genoeg, die tieners juis die gesag (onderwysers, grootmense, ouers) se reëls dikwels self onbuigsaam vind). ‘n Mens sien dit reeds op hoërskool waar groepsdruk vir die een of ander rede ontstaan en ‘n soort homogeniteit en konformiteit na gestreef word, waar spesifieke reëls vir spesifieke mense geld, en enigeen wat oortree – nou, ja. Hoe ouer die mens word, hoe meer verdraagsaam raak hy teenoor reëls wat nie rigied kan bly nie (in die Franse kultuur is wetgewing bloot ‘n riglyn), met die besef dat daar ‘n klomp grysareas is. Dit is die eerste moontlikheid.

Dan is daar ‘n tweede.

In die onderhoude het ons slegs met diegene te make wat hul dierepakke aantrek en sosialiseer. Ek gaan hulle die voordeel van die twyfel gee en aanneem hulle is van die skadelose, skaflike en ordentlike tipe.

Op die kykNET-onderhoud is daar die boek ReWritten (2017), deur Jako Malan, wat net ‘n oomblik verskyn. Op Amazon word die boek gekategoriseer onder “Erotik-Horror”, “Science Fiction-Erotik”, “Science Fiction-Romane”, maar as ek deur die opsomming lees, klink dit na ‘n oordrywing – dis nou nie asof Deon Meyer se speur- en spanningsverhale besonder preuts is nie. Ek glo nie dit sal mens skok nie. Inteendeel, ek het Out of Position deur Kyell Gold begin lees (dit was gratis op Amazon toe ek dit in die verlede afgelaai het – die buiteblad het my aandag getrek), en dieselfde taai ou opgewarmde witsous wat jy in elke gayroman vind (soos ek mooi geleer is in my honneursjaar in Afrikaans), kry jy hier: om te ontdek jy is gay, en skaam te wees oor die verhouding (waarvan die ander jocks nie mag weet nie), en dan uiteindelik tog maar uit die kas te klim. Met ander woorde: dieselfde temas wat jy in ‘n roman kry wat mensekarakters uitbeeld, sal jy nou net met dierekarakters uitgebeeld sien. O ja, dié boek speel af in die Amerikaanse “College”, juis die ouderdomsgroep van die meeste Furries.

Voordat ek verder gaan, eers bietjie demografiese inligting.

Wat die politiek, ouderdom, geslag, etnisiteit en godsdiens betref, is die data omtrent die Suid-Afrikaanse groep, sover ek weet, nog nie beskikbaar nie.

Die Kanadese statistiek oor die internasionale gemeenskap (2016) toon aan die meeste respondente is ateïste/agnostici (33,65%), gevolg deur “ander” (26,2%), gevolg deur Christene (23,5%, hoewel baie nie kerk bywoon nie, en ook nie eintlik hul geloof beoefen nie), gevolg deur nieu-heidene (11,0%); die meerderheid beskou hulself as baie progressief (sosiaal), gematig-progressief (polities), gemagtig-konserwatief (ekonomies); manlik; blank; in hul laat-tienerjare tot vroeë 20’s; het universiteitsopleiding; is tevrede met hul werk; is enkellopend; en die meeste stem saam dat “om te behoort”, die “gemeenskapsgevoel”, “ontvlugting” en “vermaak” van die grootste motiveerders is om te bly; en die mees geliefde fursona is hibriedspesies (vernaamlik Hond/Wolf), gevolg deur wolwe, vosse, honde, groot katte en drake. Dus, roofdiere.

In die meerderheid gevalle weet slegs ‘n vriend van die Furry-betrokkenheid, terwyl ouers, kollegas ensomeer salig daarvan onbewus is. Wat seksualiteit aanbetref, is die meeste heteroseksueel. Wat die Furry-paartjies op die webblaaie self aanbetref, is dit juis die homoseksuele wat mekaar die meeste as Furries ontmoet en gevind het (byna 80%). Die mees geliefde subgroepe is kunstenaars, skrywers, musikante en “suiters”, terwyl die vampiere, babyfurs en veral Nazi-furs (wat bloot belangstel in die geskiedenis, sjiek uniform en krygskunde) die meeste gehaat word. Daar bestaan glo ook iets soos die “Post-ConFurence Depression”, wanneer die Furries 3 tot 7 dae ná die samekomste neerslagtig voel.

Reg, daarmee afgehandel, voort na die tekenprente…  en hier is die wortel van alle kwaad.

Die Russin van die sketse hierbo het haarself geteken as ‘n wit wolvin met lang blonde hare, wat verlief is op ‘n hiënamannetjie met gloeiende fosforgroen vlekke (die fursona van haar kêrel in die werklike lewe). Meer as eenmaal het sy haar fursona geteken waar sy openlik die wens uitspreek om sy… boud te byt. Haar slagtande sommer diep in te sink. Ek wonder nou maar net: is sy nou op haar kêrel verlief as mens, of as hiëna, of albei, of… dis ingewikkeld. Hoe gaan hulle voor die kansel of landdros staan?

En op daardie noot gaan ek nou die beerput oopmaak. Dikwels, nee, meer as dikwels, is die prente nie so skadeloos of kindervriendelik nie. Die teken-versoeke (“commissions”) is ook nie altyd ortodoks nie. Hoewel ek naaktheid met ‘n stoïsynse Europese gelatenheid sonder enige promiskuïteit soos die Venusstandbeeld by die voordeur aanvaar (soos ons in die geesteswetenskappe blasé word vir allerlei goed), en maar op nugtere wyse die paring tussen mannetjie- en wyfiedier van dieselfde diersoort probeer terugvoer na ‘n paar “aksiefoto’s” (as jy wil) van die natuurlewe wat my oë in National Geographic gesteel het, word die natuur in die Furry-kunswêreld “wellus-waar” heeltemal op sy kop gekeer.

Dit gebeur die oomblik wanneer jy die ouderdomsbeperking afskakel.

Wat jou na 5 minute onmiddellik op hul netwerke opval is dat die beelde van die dierekarakters wat ‘n ouderdomsbeperking op het, seker 95%+ nie met hul eie soort paar/seksueel omgaan/yiff nie. Soort soek nie soort nie. Dis stoethings op teef (geen woordespel daar nie), mens op luiperdwyfie (kolskoot: bestialiteit), kameelperd op kat, die oë op skrefies van die pyn (ek sou so dink, ja!), of plesier. Ook nie altyd tussen mannetjie met wyfie nie, maar ewe dikwels twee of meer mannetjies, of ‘n groep van ses wat gesellig verkeer en onmoontlik op dieselfde tyd saam kan… is dit Tippex daai wat ek dink dit is? Dit bly ook nie by volgroeide diere nie. Daar’s ook bloedskande en meer as net drank by betrokke, ook welpies wat…  Sulke erotiese beelde in Pompeii sou Berg Vesuvius in ‘n orgastiese hellevlam laat uitbars en die stad in puin lê.

Maar as jou aptyt groter is, daar is “vore” (vorarefilie) – om ‘n geliefde lewendig in te sluk (op te vreet van liefde, lyk dit my). Afgesien van die BDSM, is daar ook diegene wat ‘n fetisj kry oor kleintjies in doeke (hierdie groep heet babyfurs; sal dit nou die verwarde moederinstink wees wat inskop, of om self hulpeloos te wees soos ‘n baba, wat aansluit by “bondage”?), of fantasieë het oor wyfies wat dragtig is.

Natuurlik is ‘n Kruistog deur sowel die publiek as onder Furries self van stapel gestuur om hierdie onhebbelike seksuele perversiteite in die kiem te probeer smoor (binnegevegte onder die onderskeie Furry-groepe is niks snaaks nie), en gedurig is daar webwerwe wat so kom en gaan. Die bekendste ou slagspreuk is “Yiff in hell, Furfags!”. Maar, soos met die pogings van Aksie Morele Standaarde en die Sensuurwet in die 1960’s tot 1980’s, was die totale aanslag net te groot op die internet waar daar geen rondgaande hof is nie. In die proses het hulle net hulself met die modder besmeer.

‘n Mens gun seker elke diertjie sy plesiertjie (binne perke, natuurlik), maar nou kom mens daardie één pelspakkiedraer met mombakkies en al teë in die motorparkade, met die vlugge herinnering aan die “stortvloed kunswerke” wat my bril se lense laat kraak en opwasem het, en mens begin inderdaad met wantroue soos die res wonder: wat broei daar agter daardie wolwemasker uit? Dit is dan geen wonder Furries haal soveel kritiek op die hals op sosiale media nie. Dit maak dus nie saak hoeveel Furry-klubs gestig word waar lede tuis kan voel in ‘n skoon en sindelike leefruimte nie – die skade is reeds gedaan. En dit sonder enige Amerikaanse media of CIS-episode (‘Fur and Loathing’). Die bewysstukke is dan reg voor jou neus!

Om jou gerus te stel: by Wikipedia is daar ‘n kollega van my wat hom vreeslik bemoei met die Sciëntologie, al is hy self geen lid nie. Hy wil weet waarom mense daar in die eerste plek wil aansluit en wat hul dogma behels. Net so ondersoek ek die Furry-beweging en ander subkulture sedert 2009. Ons kan dit nie ignoreer nie.

Vampyres en Steam Punk (Goth-variante)

Volgens Trellia is daar ten minste 33 Gothsoorte daarbuite. Abby Sciuto van NCIS (vertolk deur Pauley Paurette, wat van nature eintlik blond is, soos haar resepteboek Donna Bell’s Bake Shop ook toon) sou mens byvoorbeeld kon tipeer as “Perky Goth”. Haar bokstertjies alleen gee die deurslag.

In Suid-Afrika is daar ‘n paar Vampyre Goth-groepe wat hoog en laag sweer hulle drink niks anders as rooi koeldrank (en miskien bietjie beesbloed) nie, en verklaar op hul webblad:

Behaviors which have nothing to do with Vampyrism or the Vampyre subculture:

·         Sucking blood from dead bodies,

·         Human or animal sacrifice,

·         Cruelty towards animals or people,

·         Sexual abuse or exploitation,

·         Forcibly obtaining blood from people, to consume or to use in rituals or to sell to others for muti purposes,

·         Violence,

·         Drug abuse,

·         Robbery, vandalism or similar tasks or “rites of passage”,

·         “Satanic rituals” involving any of the above.

It must be stressed that these activities are NOT part of the Vampyre subculture or society. These are trends or traits which have nothing to do with Vampyre culture.

The Vampyre community strives to exist and operate within the scope of shinai (non-vampyre) law.

‘n Vraag: nou wat doen Vampyres dan nou eintlik as hulle bymekaarkom?

Volgens The South African Vampyre Alliance se webblad:

The SAVA is NOT a role-playing (LARP) group. True, there are non-vampyres who play role-playing games in which they personify vampire characters, and there are religions where non-vampyres perform rituals and do what Vampyres do as part of their pursuit for enlightenment, or power, or fuzzy white lights or whatever amuses them – but Vampyres have a real NEED to do do these things naturally, without ritual, in order to remain healthy. That is their experience, and their belief is a consequence resulting from their experience. The self-identifying Vampyre does not have to live a “lifestyle”, just as the average person does not view their own identity as a white male or black female or LGBT person as a “lifestyle”.

As an individual can in part be summarized as the outcome of their life experiences, so do we view a real self-identifying Vampyre. The Vampyre knows his or her needs, and knows the effects of satisfying these needs, as they also know the effects of abstinence. This experience demonstrates to the self-identifying Vampyre the reality of their situation and brings home to them the reality of their identity. This sort of reality transcends ritual and transcends religion in the same way as physical hunger and thirst override platitudes and societal taboo.

[…]

We as the SAVA operate on the foundation of what is to us a deeply held belief that being vampyric is a result of an as yet scientifically undefined natural phenomenon, which occurs regardless of choice on the part of the individual, a belief which in most cases is borne out by personal experience.

Okei, soos ek dit verstaan is dit dus ‘n vergadering vir persone met ‘n mediese toestand, genaamd hemofagie, soos by Alkoholiste Anoniem vir mense met ‘n drankprobleem? Behalwe dat die alkoholiste in hierdie geval alkoholiste wil bly?

Daar is onder andere een meningspeiling (2017) met 28 Suid-Afrikaanse respondente wat toon die meeste aanhangers van hierdie subkultuur is nieu-heidene:

·         Pagan Collective 14/28 (50,00%)

·         Christian Collective 8/28 (28,57%)

·         Other/Something Else 4/28 (14,29%)

·         Satanic/Left-Hand Path Collective 2/28 (7,14%)

Die Afrikaanse letterkunde verraai nie veel oor die Vampyre-beweging nie, maar ek onthou nog Michael Green het in sy een boek, Geheime Dossiere: Nagbewegings (1998), hoofstuk “‘n Pyn in die nek”, kortliks oor hierdie subkultuur op moordend-satiriese wyse op X-files-trant geskryf. Dit handel oor vampiermoorde wat opgelos moet word, en soos in The X-files word die speurders eers op ‘n dwaalspoor geplaas, voordat hulle die dieper en veel grusamer waarheid ontdek (‘n monster wat in ‘n tonnel onder “ene mevrou Sielie Cilliers” se huis  bly). Die dwaalspoor lei in die verhaal dood by die Vampyre[s] wat die eerste verdagtes is (pp. 55-56):

Neville en Mariaan volg hom [Antonelli] soontoe. Mariaan maak lig met haar groot flits. By ‘n groot komposhoop gaan Antonelli staan.

“Ek dink hy is hier onder.”

“Huh? ”

“Dis deel van die vampier Lestat se modus operandi. Wanneer hy moeg is, of in gevaar, gaan hy grond toe. ”

“Hoe bedoel jy nou? ”

“Man, dit werk net in die comic so. Lestat grou vir hom ‘n gat en begrawe homself. Wanneer sy kragte herwin is, klim hy uit.”

“Maar hoe haal hy asem daar onder die grond? Of onder die komposhoop? ”

“Vampiere het geheime magte… Man, ek weet mos nie! ”

[…]

Skielik is daar ‘n roering, dan wilde bewegings en ‘n skril gil. Uit die kompshoop spring Raoul!

“Slang!” skree hy, “‘n Slang het my gepik!”

[…]

Mariaan flits weer op die komposhoop. ‘n Lang swart slang seil daaruit en dan’s dit weg, tussen struike.

Sy swaai die flits weer na Raoul. Met sy wilde spronge in die flitsstraal lyk hy soos ‘n mal raver onder ‘n strobelight.

Dan slaat hy neer. Skop-skop nog so ‘n paar keer met sy een been in die lug, en sterf met geel skuim om die mond.

Aldus, die einde van ‘n Vampyre in Afrikaanse fiksie.

Destyds was daar ook The Eye of Horus Pub (“Very Upmarket Alternative, Rock and Metal Venue”) op die hoek van Raglan en John X Merrimanstraat, Bellville, vanaf Februarie 2005 tot Februarie 2008, waar alle Goths na hartelus kon uithang, maar soos sy stigter self skryf op sy LinkedIn-blad:

Closed after 3 Years of fun because lifespan of n Night Club not suppose to be so long and I got tired of the lifestyle. Also to hard work for little money in Clubs because Cape Town not ready for a up class Metal venue yet or maybe never.

Emo Adams het op sy kykNET-program vir die grap nog daar rondgehang en die ‘Szene uitgekyk’, so dis hoe die naam my bygebly het.

Meer hoef mens seker nie veel oor hierdie Goth-groepe te skryf nie, behalwe deur Dr. Roodt se aanhaling van Talleyrand aan te haal: “Tout ce qui est exagéré est insignifiant” (Alles wat oordrewe is, is onbenullig).

Uit al die Szenes/Goth-tipes dink ek kon Steampunk-Goth uiters kreatief en vernuftig vir die samelewing gewees het, as die goed net prakties was en gewerk het. Maar ook hulle maak hul skuldig aan grillige oordrewenheid.

Ek dink Pieter Verwey se Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok (2015) is die enigste boek in Afrikaans wat Steampunk as hooftema behandel het. Volgens sy eie verhandeling oor sy eie roman,  getiteld “Steampunk – ‘n Beskrywende studie en analise van die neerslag van die begrip in die teks Clint Eastwood van Wyk en die moordenaarsklok” (2015), lig hy die volgende kenmerke uit:

1. “… die Steampunk-gemeenskap [wil] juis die binnegoed van die masjiene sien. Hulle wil die openlike eerlikheid van die masjien self ervaar […] die handgemaakte aspekte uitlig. Steampunt verwerp die moderne massavervaardigde, pseudo-perfeksionisme van hedendaagse ontwerp, en gedenk ‘n tyd toe nuwe tegnologie nie deur reusemaatskappye ontwerp is nie, maar deur individue” (p. 40)

2. “… die onderliggende boodskap van Steampunk is die positiewe geloof dat die mens deur wetenskap en tegnologie die wêreld ‘n beter plek kan maak.” (p. 40)

3. “… Steampunk [is] ‘n teenkultuur teen moderne massaproduksie en verbruik, maar dit is nie aggressief nie: dit is optimisties en dit is inklusief, ‘n vreedsame, doen-dit-self-rebellie met ‘n positiewe, optimistiese uitkyk op die toekoms.” (p. 40)

4. “Steampunk probeer tegnologie “meer verstaanbaar maak”, in ‘n tydperk toe die masjien nog verstaanbaar was. […] Hulle wil self die tegnologie kan regmaak – maar hulle kan nie: geen enkele Steampunk-maker of skepper of ontwerper maak tegnologie wat regtig wérk nie. Die meeste van die Steampunk-tegnologie is so kompleks dat dit deur fantasie verklaar moet word. […] Niks daarvan is eg nie. Dit is wensdenkery. Steampunk-tegnologie lyk romanties, maar kan die verklaar of gebou word nie. […] Eintlik is die woord “wonderwerk” die perfekte woord om Steampunk-tegnologie mee op te som: jy wonder hoe dit werk. Dit impliseer dat jy glad nie verstaan hoe dit werk nie. As daar iemand is wat dit kan verstaan, is dit nie meer ‘n wonderwerk nie. Dan is dit ‘n uitvinding.” (p. 41)

5. Steampunk poog nie soos Star Wars en Star Trek om ten minste hul werk op die wetenskap te grond nie. Beide die skepper en die gehoor is bewus van die onmoontlikheid daarvan. (p. 42)

6. Daar is akademici wat veral Steampunk deurkyk vir die volgende: die herbesoek van rassisme in die verlede, kolonialisme, geweld, die gevaar en uitbuiting van tegnologie, die rol van die vrou in die geskiedenis, die misbruik van mag, kapitalisme, sosiale stand en menseregte. Politiek, dus. (p. 43)

7. Dikwels is hierdie stories gegrond op ‘n alternatiewe geskiedenis wat beter is as die regte, historiese verlede. Dit fokus op die denkbeeld van die verlede: ‘n nostalgiese verromantisering van wat die Victoriaanse era verteenwoordig, in teenstelling met hoe dit werklik was. (p. 44)

8. Steampunk, volgens Verwey, is nie ‘n “tipiese” teenkultuur nie, aangesien die meeste aanhangers eerder belangstel in die Steampunk-items, klere en die beoefening van die Steampunk-leefstyl. Dus, maar oppervlakkig. (p. 48)

Maar wag so ‘n bietjie – is “leefstyl” nie juis “kultuur” nie?

Hoewel ek duidelik kan insien dat Steampunk beslis ‘n soort antikapitalistiese en veral antimodernistiese ondertoon het, bekommer ek my wel ook oor maatskappye wat produkte aan ons verkoop wat ons self nie meer kan heelmaak nie. Dink maar aan yskaste wat doelbewus elke 2 tot 5 jaar breek (na afloop van die waarborg), omdat die gas daarbinne doelbewus die metaalpype deurvreet en die gas begin uitlek; my pa het elke keer nuwe yskasgas gekoop, totdat my ma vir hom die syfers begin wys: die herhaalde aankoop, posgeld en intap van gas en toesweis kos wat geld en tyd betref duurder as ‘n yskas. En in ons omgewing is dit nie ‘n eerste keer nie. Swak vakmanskap? Beurtkrag? J’en doute.

Of dink aan jou selfoon wat duurder sal kos om te laat herstel as om ‘n nuwe een te gaan koop.

As hierdie Steampunkgroep minder op stofbrille, keile, lugskepe en ander oorbodige mode-items uit die laat-1800’s en vroeë-1900’s gefokus het (wat onbekostigbaar duur is, en ironies genoeg juis floreer op kapitalisme!), en meer op die tegnologiese (her)ontwikkeling – goed met ratwerk en tandwerk wat ewe funksioneel kon werk soos ‘n sakhorlosie – dan kon hierdie rigting eintlik nogal nuttig gewees het. Maar nou ja, nie almal het die nodige vakmanskap of tyd nie.

Nugter beskou, maak dit egter nie saak hoe hoog of laag jy spring nie: jy kan nie in die pad van die modernisme staan nie. En deur ‘n klomp groteske sameflansing van ratte en skroot wat op wonderbaarlike wyse moet funksioneer, klink dit vir my eerder na ‘n gril as ‘n gier.

Zef

Zef sou ek formuleer as die vrypas om “kommin” te wees en van jou pragwoning ‘n skrootwerf te maak (Nederlanders: vergelyk dit wel aan New Kids on the block; Duitsers: dink aan die begrippe “Prolo” en “Pöbel”), wat aanvanklik as musiekgenre begin het, maar toe ‘n leefwyse geword het, belangstelling geprikkel het in die laat-2000’s, maar teen die laat-2010’s slegs nog oorbly in relikte daarvan.

Ek wil dit duidelik stel dat ek nie gekant is teen diegene wat “rommel” koop omdat daar nie die geld is, of eenvoudig geld wil spaar nie. Ook nie as hierdie rommel gerestoureer word tot pragstukke of daadwerklik gebruik word nie – ek beny sulke mense. Ek dink elkeenhet  in ons die wil om nuwe lewe te gee aan dooie dinge, ‘n soort Lasarus-opwekkingsdrang. Party is motorwerktuigkundiges, ander is vertalers, ander is dokters, ander is vervaardigers, ander is kunstenaars, kleremakers, akademici herleef en herbesoek ou en vergete kennis, boere kweek voedsel uit dooie vrugte (se saad), predikante bid vir die siektes/opstanding, ens. ens. ens.

Net so sal ek geen miljardêr wat doodtevrede is met sy roeserige rammelkas en eenslaapkamerwoonstelletjie verwyt vir sy sobere Spartaanse leefstyl nie, selfs al kan hy ook drie marmerpaleise en vyf Lamborghini’s, ‘n helikopter en ‘n uitspattige leefwyse op ‘n privaateiland bekostig en onderhou, Bacardi in die hand. Daardie geld word egter vir ander organisasies of bedrywe aangewend, so, vrekkig is die man ook nie. Hy is buitendien meer by die werk as tuis. Op straat sal jy nie weet hy het geld nie, want hy leef nie flambojant nie en vrywe nie sy geld onder ander se neuse nie.

Wat is die verskil? Terwyl ander noodgedwonge op die uitskotartikels moet staatmaak om oorlewing, hang sommiges hierdie Zef-subkultuur aan suiwer om vertoonsug en aandagtrekkery deur die skokwaarde daarvan. Of is daar ‘n ander rede?

Volgens Zef: the New ‘Proudly South African’

Not only is it FINALLY a South African video with some great production standards, but it’s so particularly South African. Even without listening to the words, the beat just speaks to me … it’s the beat of Johannesburg, the beat of a youth which has disconnected from old conceptions of reality.

After all, what else is there to be proudly South African about now? We’re under agreement we’re not proud of our Government. We’re not proud of our armed forces – which drives the entire US mentality. We’re not proud of our national soccer team (big up Proteas and Boks!). We’re not proud of our cities (everybody apart from those smug Capetonians) … so it’s my assertion that we need to be proud of each other.

We need to be proud of our personal work and what we produce in the face of overwhelming odds. We need to be proud of our colleagues’ exceptional work, and the leaders in our industries. We need to challenge the ‘norm’ and all get a little bit Zef. Yes, Die Antwoord and Jack Parrow, I’m proud of you.

Uhmmmm… Ooit gehoor van selfrespek? En presies hoe op dees aarde (!) sou/het die Zef-beweging die regering, die weermag, sokkerspan, stede, ens. verbeter deur “die norme uit te daag”? Watter norme? Platvloersheid bring jou nêrens nie, en laat ook nie die opponent meer van jou dink nie. Ek sukkel regtig om die logika van die argument te begryp.

Wat my veral opgeval het is die propagering van die agterbuurtkultuur deur die hoofstroommedia, soos MK op DStv (wat in 2012 gesluit het) en ook Taalgenoot, De Kat, ens., soos ek in ‘n vorige artikel bespreek het, wat hierdie deprimerende leefstyl goedpraat. Dit is reg om te vloek. Dit is reg om soos tange te lyk. Dit is reg om “af” te wees (of ander mense se naam krater te maak). Dit is reg om kotsdronk te wees. Dit is reg om mekaar met die vuiste by te kom. Dit is reg om op straat jou blaas te ledig. Dit is reg om besete te wees met nihilisme. Dit is reg om jou respektabele CV in die vuur te gooi, met jou mooi toekoms daarmee saam.

Kom ek stel Dr. Roodt eerder hieroor aan die woord: https://www.youtube.com/watch?v=i_nA5-LGJhM

En, inderdaad. Dis asof daar vanuit die hoogte op die [arm of middelklas] Afrikaner gespoeg en mee gespot word deur die media, asof hulle die skuim der aarde is. Amper soos in die Victoriaanse tye toe malhuise besoek is as tydverdryf. Of ek die bedoeling verkeerd lees, dat die berigte, programme en video’s eintlik simpatie probeer wek, is ook te betwyfel. Want reeds in 1935, in die tyd van die Armblankevraagstuk, beskou C.M. van den Heever hierdie “gebaar” as verdoemend en niksseggend (Die Afrikaanse gedagte, bl. 103):

Nog ‘n ander eienaardigheid, wat hom aansluit by dié wat net genoem is, is by sommige skryfsters – blykbaar diegene wat die oog het op die „minderbevoorregte” leser – om soveel patos as moontlik in hul werk saam te bring; die arme vertrapte word nog verder in die aarde vertrap, dit word so erg dat daar uiteindelik nie ‘n droë sakdoek meer oorbly nie!

Langenhoven was ook gekant teen sulke simpatie, want simpatie hélp niemand nie: voeg eerder die daad by die woord en help eerder!

Geld kan ook nie klas koop nie. Daarom wil ek met graagte ‘n huldeblyk lewer aan ene Miemie Coetzee, opgeneem in die outobiografie van Ek kyk terug (Ds. P.J. Viljoen, 1949, 179-188). Sy is in 1850 gebore, maar het by haar grootouers grootgeword waar haar Oupa drie maal per dag gebid het. Sy is aangeneem in Oudtshoorn se kerk, het op 17 getrou met Koos Coetzee, en uit die huwelik is 10 kinders gebore. Sy was geweldig streng in die opvoeding van hul kinders, tot so ‘n mate dat sy die een seun op 21 nog ‘n pak gegee het. Die eerste paar jaar op Oudtshoorn was jare van nypende armoede (kan my indink hoekom), maar sy het ‘n teer hart en oop hand vir armes gehad, maar luiheid en liederlikheid kon sy nie verduur nie. Sy het selde iemand teëgekom wat armer was as wat sy self soms was, “‘En tog’, het sy altyd daarby gevoeg, ‘ek het nooit gebedel nie. Maar ek was ook nooit bang vir werk nie en vir enige eerbare werk het ek my nooit geskaam nie’.”

“Die armoede het soms so hoog geklim dat sy die kinders vroeg na bed moes stuur om ‘n kans te kry om hul kleertjies weer in orde te bring vir die skool en werkplek van die volgende dag. Maar die gedagte om in te gee en hulle uit die skool en uit die werk te hou, het nooit eers by haar opgekom nie.

Die hoeksteen van die opvoeding van haar kinders was die godsdiens. Sy het streng toegesien dat hulle gereeld deelneem aan alle godsdienstige verrigtinge, en geeneen het dit ooit gewaag om sonder ‘n wettige verskoning weg te bly nie. Selfs van die geselskap van haar kinders het sy geëis dat dit godsdienstig moes wees, en meer as eenmaal het sy welgestelde jongmense die deur gewys omdat hulle nie beantwoord het aan haar christelike maatstaf nie. Haar briewe was vol van christelike vermaninge. (p. 182)

[…]

Geen weer of wind kon haar weghou van die pinksterbidure nie, al moes sy meer as anderhalf myl stap om die vergaderplek te bereik. Eenmaal is daar bidure in die namiddag sowel as in die aand gehou. Sy het albei bygewoon en tweemaal daardie afstand heen en weer gestap. (p. 183)

Haar invloed op die Dorkasvereniging, Sondagskool en Vroue-sendingbond was so sterk dat daar, na haar dood, aan alle kante as daar soms ‘n bietjie verslapping ingetree het die volgende woorde opgeklink het: “Ons mag nie tante Miemie se werk in duie laat val nie”. Sy het basaars gereël en self in die werk gespring en onderneem om te sorg vir die salaris van ‘n evangelis. Byna alles op daardie basaartjie het haar eie hande en die hande van haar dogters van jaar tot jaar in gereedheid gebring.

“So lank daar nie ‘n geslag opstaan wat Josef nie geken het nie, sal daardie ondernemings voortbestaan en bloei”, het Ds. Viljoen in sy biografie geskryf (p. 183).

Haar begrafnis het die gemeenskap swaar getref, juis deur die voorbeeld wat sy destyds in haar armoede vir ander gestel het. Maar, haar kinders het deur haar opoffering opgang gemaak.

Om arm te wees, is dus geen rede om “kommin” te wees of te voel ander dink dit van jou nie. En nog minder rede vir ander om daarmee te spot.

Subkulture is steeds geografies beperk

Met die uitsondering van Zef, is daar te veel verskillende faktore wat veral oorsese subkulture op eie bodem inhibeer. Ons kom heel eerste tot die gevolgtrekking dat die groot teelaarde, bakermat, broeines, broeikas, kweekbed of kraamsaal (soos jy wil) van subkulture vernaamlik die digbevolkte stede en ontwikkelde lande is, en wat Furries aanbetref, vernaamlik dié met ‘n welvarende Wes-Germaanse ekonomie (Duitsland, Nederland, België, Engeland, Amerika) met Denemarke en Rusland wat nog as verdere hoofsentra dien. Jou platteland ken dit bykans glad nie.

Soos FurryMap toon, het Suid-Afrika hoegenaamd nie soveel geregistreerde Furries soos in Wes-Duitsland nie. Die getalle by laasgenoemde is besonder digbevolk. So ook in Moskou, Suid-Engeland, Holland is Furries digbevolk, maar verhoudingsgewys is daar verbasend min registrasies in die tradisioneel-Katolieke Suid-Europa, veral Frankryk, Italië en Spanje. Ook in Japan en Swede is daar eintlik betreklik min Furries geregistreer, terwyl Brasilië (weliswaar ook ‘n Katolieke land) weer rondom die stedelike sentra nogal digbevolk is. Die volgende is nogal opvallend: Die Hollanders, Belge en Dene, maar ook onder die Afrikaner (soos afgelei uit die video-onderhoud), se Furry-name is hoofsaaklik in Engels, maar onder die Duitsers bly die name en kommentaar hoofsaaklik Duits. Ek sê nie eersgenoemde groepe voel noodwendig “volksvreemd” nie, dis net toevallig.

Dis eintlik ook vreemd hoe min Furries in Noorweë geregistreer is, veral as mens nou Ylvis se “What does the fox say?” (2013) gedenk…

Die betrokke Wes-Germaanse bevolkings is oor die algemeen ook baie individualisties en postnasionaal ingesteld, en gee daarom minder ag op wat die samelewing/volk as geheel noodwendig verlang. Dit is ook almal plekke wat ‘n blitsvervoerstelsel het wat bymekaarkom vergemaklik. Ook is hul internetkoppeling vinnig en toeganklik. Suid-Afrika het dit nie. Interessant genoeg sou mens dink die internet sou geografie en grense oorbrug tussen die kern en die randgebied (want die internet is tog anoniem en oral beskikbaar?), maar soos ons uit die FurryMap kan aflei, bly die metropole steeds die hoofsentra waar Furries byvoorbeeld floreer.

Geografie (en klimaat?) speel dus tog steeds ‘n rol. In Suid-Afrika is almal te ver uit mekaar verspreid; ek het met die Wikipedia-konferensie in 2018 (Kaapstad) gesien dit gaan dikwels broekskeur om almal bymekaar te kry (ekself was nie daar nie): party bly in Gauteng, ander bly in die Wes-Kaap, een individu bly in die Vrystaat. En een het spesiaal uit Namibië gereis. Hoeveel te meer sal so ‘n organisasie dan kos vir ‘n nismark en –kultuur op Suid-Afrikaanse bodem? Petrol en vlugkaartjies is nie goedkoop nie. Ook in Amerika is Furries talryker in die onderskeie megalopolisse, volgens Furry Maps. Die gebiede sluit die Chipitts-megalopolis in, die Boshwash-megalopolis, met as uitsondering die Sansan-megalopolis in Kalifornië wat heelwat warmer is, terwyl hulle yler in die suide verspreid is en hoofsaaklik in groot stede (soos Dallas) saamtrek.

Subkulture hou vir die Afrikanerkultuur minimale bedreiging in

Getalgewys en weens die verbygaande aard daarvan, glo ek nie subkulture hou vir die Afrikanerkultuur enigsins te veel bedreiging in nie, maak nie saak hoe erg die hoofstroommedia dit ook probeer voordruk, opblaas of ophemel of hoe donker, boos en dekadent die subkultuur kan raak nie. In die meeste gevalle vorder Suid-Afrikaners nooit verder as kostuums nie, en die politiek daaragter word dikwels oor die hoof gesien.

Die gevare wat mensonterende, demoraliserende popfeeste (ekskuus, suipfeeste/seksfeeste), televisieprogramme, leesstof, asook die Marxistiese preke vanaf die universiteit se kateder vir die jongmens inhou is verhoudinggewys aansienlik groter, reeds sedert 1974 (Gepoogde verkragting van Suid-Afrika, Francis Grim, Aksie Morele Standaarde, “Popfeeste”, bl. 30 tot 35); daaroor word dikwels nie ‘n woord gerep nie, veral nie as die koerant of kanaal die feesverrigtinge borg nie. Inteendeel, daar word onderhoude met poepdronk feesgangers gevoer wat my fremdscham maak.

Dit verbaas my eintlik dat daar onder Afrikanergeledere nie juis méér subkulture onder die jeug uitgebroei het nie, gegewe hoe die Afrikaner so dikwels in die media aan die skandpaal vasgebind word vir die publieke vernedering (veral in sy eie taal). As ek deur Rigtingbedonnerd (2012) lees, het die Afrikaners of “gevlug” van hul kultuur waarvoor hulle hulself geskaam het (soos na Londen, Parys, Berlyn, Amsterdam…), of bloot ‘n Boheemse Amerikaanse neiging sonder veel verbeelding nageaap (vra maar vir Koos Kombuis-hulle, hoewel die tendens ook nie juis veel verskil van ander Europese bevolkingsgroepe nie, so waarom die Afrikaner hiervoor alleen uitsonder?), of heeltemal verengels.

Maar dan weer – ons het nog lank nie, soos in Wes-Europa/Amerika, ‘n postindustriële samelewing betree wat blykbaar ‘n voorvereiste vir subkulture is nie, want ons is geen nywerheidsland nie!

Die Afrikaner se gedrag is egter ook heel voorspelbaar: hy raak binne drie weke, maande tot maksimum drie tot ses jaar verveeld, sat en uitgekuier met ‘n gier. Sodra die persoon eers begryp wat rasionaliteit en kousaliteit (oorsaak-en-gevolg) behels, en in alles ‘n soort patroon en siklus probeer raaksien [darem nou nie so waansinnig soos in A Beautiful Mind nie], en vooruitdink, sal die persoon kort voor lank gou genoeg insien wanneer ‘n sekere groepsaktiwiteit ‘n doodloopstraat geword het, hy dit ontgroei het, en hom/haar nie meer vreugde kan verskaf nie, tensy daardie betrokke gemeenskap steeds in ‘n behoefte voorsien waarin die hoofstroomkultuur nie kan nie. Nie alleen sosiaal nie, maar ook ekonomies: van die versoeke (commissions) onder Furries kan tot $450 tot $600 per prent bedra. Juis daarom vind jy nog kunstenaars daar betrokke wat lankal oor die 30 jaar oud is, hoewel die eintlike teikenmark veral diegene onder 25 jaar oud is.

Die ‘Fur Science! A summary of five years of research from the International Anthropomorphic Research Project‘-verslag (2016), opgestel in Kanada, toon die meeste Furries se belangstelling begin op 16- tot 17-jarige leeftyd, en hierdie ‘lidmaatskap’ hou vir omtrent 10 jaar lank:

In focus groups and interviews, many furries report having felt “weird” and “alone” because of their furry interests before finally “stumbling upon” this community of like-minded individuals. We are particularly interested in the immediate and long-term benefits of this discovery on the well-being and self-esteem of those who, up to that point, may have felt stigmatized and alone in their interests, and it is likely to be a topic for future research.

[…]

These findings can be understood in the context of the below figure: on average, furries become furries in their mid- to late teens, later than anime fans, who tend to become fans in their early teenage years. This may be due, in part, to the fact that a growing amount of anime television programming is targeted toward a younger audience (e.g., Pokémon), whereas, for furries, the discovery of the fandom is often attributed to stumbling upon it on the internet.

[…]

Perhaps most interesting, however, is furries’ projection of future involvement: despite evidence suggesting that many furries leave the fandom by their 30s, most furries nevertheless assume that they will maintain their current level of fandom involvement into the future.

[…]

Moreover, psychological theories (e.g., social identity theory) suggest that we are biased to see our groups in a positive manner, which may also lead to more positive attitudes over time. On the other hand, as a person spends more time in the fandom, it may be the case that, like in relationships, they lose the “rose-colored glasses” that bias their perception, and become aware of less desirable aspects of the fandom, which may reduce their evaluation of the fandom over time.

Klaar met die dinge van ‘n kind? Dikwels sal al die geld, moeite en tyd wat die persoon uitgegee/deurgebring/ingeploeg het hom verhinder om sommer pad te gee, maar later gaan hy tog besluit genoeg is genoeg en die hasepad kies. En nuwe belangstellings word gekweek: soos kruiekennis, veeartsenykunde, Oudheidkunde, megatronika, sweiskuns. Wat meer nut het. Of gesinne word begin, of daar is meer verantwoordelikheid by die werk, ens.

Maar wat my stomslaan is hoe mense hul steeds, na soveel jare, aan die neus laat rondlei deur die media en daarom ontuis voel in die werklikheid of eie kultuur. Geen koerant gee ‘n duit om oor my behoeftes en begeertes nie. Geen koerant of tydskrif sal vir my voorskryf wat ‘n Afrikaner is, wat ‘n Afrikaner moet doen, hoe ‘n Afrikaner moet dink en optree nie. ‘n Koerant en tydskrif het net een doel voor oë, en dit is wins deur sensasie en propaganda.

Die Afrikanerkultuur vereenselwig ek daarom nie met kotskleurige kakiebroeke, safaripakke en blikversamelings nie. Ook nie kniebroeke en Voortrekkerkappies in die 21ste eeu nie. Daarvoor is modes te oppervlakkig. Ek skaam my dus nie om ‘n Afrikaner te wees nie, en daarom vind ek internasionaalstrekkende (ek vermy liewer die woord “globalistiese”) subkulture eintlik oorbodig. Maar dit wil my voorkom of daar tog dieselfde hunkering onder die aanhangers van subkulture is na jeugbewegings of -groepe, wel nie in die vorm van Die Voortrekkers of kerkselgroepe nie, maar net in iets totaal anders wat die samelewing of Afrikanerkultuur net nie kan bied nie. Ouderdomsgewys sou mens kon dink dat subkulture dus as ‘n soort massa-oorgangsrite dien. Ook die ou opvatting van “die weermag sal van jou ‘n man maak” word weerlê, omdat ek die afgelope 10 jaar keer op keer op Furry-webwerwe profielblaaie van Amerikaanse weermagslui teëgekom het (en die ander rede was die kinderagtige en kleinlike onderwysers op skool, wat vroeër luitenante en majoors was – hulle het nooit grootgeword nie en “die rede” was nie in hul woordeskat nie). En dit was geen rolspel nie.

Die Afrikanerkultuur hoef egter nie vervelig te wees nie, dit hoef nie eentonig te wees nie, dit hoef nie van sy mistiek gestroop te word nie, dit hoef nie so droog soos saagsels te wees nie. En dit hoef ook nie kreatiwiteit dood te druk nie. Dit hoef ook nie sy eie mense op ‘n afstand te hou nie. Dit hoef dit ook nie moeilik te maak om vriende te maak nie. Dit hoef ook nie sy eie mense ontuis of ontwortel te laat voel nie. Dit hoef ook nie te skrik vir kulturele invloede buite die oorbekende Anglosfeer nie.

Ek glo mens kan sê die Afrikanerkultuur is wel bloot versigtig vir oppervlakkige modegiere wat net weer sal oorwaai – tyd en  geld wat vermors is, met weinig nut. Noem dit die ou Calvinisme wat deurslaan. Golwe van sulke modegiere is al sedert die 1700’s aan ons bekend – in eb en vloed. ‘n Groot kultuur, met baie siele, kan maklik subkulture akkommodeer en die vlam aan die brand hou, want daar is genoeg ander mense wat die werk sonder jou mee kan voortgaan. As ek ‘n Duitser was, sou ek seker soos ‘n identiteitlose speld in ‘n hooimied van 100 miljoen sprekers voel, en om jou van jou volksgenoot te onderskei, sal beslis beteken dat jy moet uithaal en wys om aandag te trek. As Afrikaner kan ek as toeris deur die Duitse kultuur soos ‘n aandenkingswinkel trippel en uitkies waarvan ek hou en nie hou nie – in die Afrikanerkultuur self is ek egter die fabrikant en verkoopsman van ons eie ware. ‘n Kleiner kultuur, vernaamlik ‘n groep onder 3 miljoen, moet oordeelkundiger en verstandiger met hul tyd en hulpbronne omgaan. En buitendien, jy kan skaars nies of jou tannie se agterkleindogter weet daarvan!

Maar as ‘n modegier of produk of subkultuur langer as tien jaar kan uithou, die tyd kan deurstaan, dan is die kans goed dat jy ondertussen genoeg geld sou gespaar het om die opgegradeerde 3de, 4de of 5de weergawe daarvan te koop, of die geboortepyne vryspring en die geskiedenis binne 5 minute kafdraf. Die produk het homself bewys. Terwyl die ander platsak is, raai wie is dan hoog in die mode? Mens, dit is die wet van die remmende voorsprong in volle krag.

Op hoërskool op die platteland het jy wel skooldogters gekry wat in 2008 “emo” aangetrek het (swart hare, kleertjies wat wurg, hopeloos te lang wilde kuiwe, dik grimering, langmoutruie in die somer, pienk-en-swart serpe in die somer, lipringe… en nee, hulle het hulself nie gesny nie), maar binne ‘n jaar of wat het die mode ook weer oorgewaai.

Ek sien op Google Trends het die soekwoord “Steampunk” wêreldwyd sedert 2004 sy konstante opgang eers begin kry in Desember 2006, sy klimaks bereik in Oktober 2012, waarna die belangstelling, wel, stoom verloor het. Die neiging is afwaarts. Heel te verstane was die Angel-Saksiese lande weer voor in die koor.

Op die huidige stadium het die soekbegrip “Furry” (wat natuurlik ook na enige pels/bont/tekstuur kan verwys) ‘n plato bereik op Google Trends (soos te sien op 12 April 2019).

En nog iets, net vir die interessantheid daarvan: Daardie “Keep Calm and Carry On”-plakkate het sedert 2008 sy koppie opgetel, momentum gekry in 2011, sy kruin bereik in Maart 2013, en maar weer ‘n stille dood gesterf. En nou sit ons met die donderse goed in snuisterywinkels!

Eerder, die grootste leemte wat ek dikwels in die Afrikanerkultuur voel is bruikbare vaklektuur en die algemene gebrek aan sekere gevorderde akademiese rigtings, vernaamlik dié van ander tale, maar ook tegniese rigtings. Jy het dus niemand met wie jy in jou taal oor hierdie onderwerpe kan gesels nie. Neem nou maar die ontsyfering van Egiptiese hiërogliewe, byvoorbeeld.  Watter kennis staan daar nie miskien opgesluit wat ons miskien kon gebruik het nie?

Kortom: in jou soektog na die waarheid kom jy met ‘n menigte mense in kontak wat jou belangstellings en ywer deel, net soos onder lede van subkulture. Die ontdekking van iets nuuts, of vakgenote, kan net so ‘n euforiese ervaring wek soos om geesgenote van ‘n subkultuur op te soek – boonop voel jy heel in jou skik, omdat jy weet jy is besig om die mensdom ‘n guns te bewys. En dit het nut. Jy het nut.

Subkulture is die newe-effek van vroegryp sosialistiese opvoeding en wroegkultuur

Ek het nog een laaste teorie, wat verskil van die voriges, waarom subkulture ontstaan: die sogenaamde “oorbruggingsjare”.

Seker so ‘n eeu tot ‘n halfeeu gelede het jy die plaaskind gekry wat geleidelik, met verloop van ouderdom, al hoe meer verantwoordelikhede van sy ouers geërf het (veral om die werklas op die plaas te verlig). Dis maar soos ek uit verskeie outobiografieë aflei. Ek glo nie alle ouers was so mislik en korrelkoppe soos Oom Sybrand van Laat Vrugte (1939) [wat maar eintlik deurslaanpapier van Stijn Streuvels se Vlaamse karakters is] nie. Teen die tyd wanneer die plaaskind volwassene (chronologies) en hubaar geraak het, was hy so goed soos selfstandig. Die dorpslewe en stadslewe het sy kinkels en draaie gehad, maar dit was hoegenaamd nie so ingewikkeld soos die moderne samelewing nie. Ek sê eenvoudiger (jy het net soveel keuses en soveel geld gehad, maar sonder die rompslomp), ek het nie gesê makliker nie. Maar die oorgang van jongmens na volwassene was so natuurlik, niemand het dit eers agtergekom nie, niemand was daaroor gepla nie, en niemand het daaroor groot bohaai gemaak nie.

Die jongmense het nie heeltemal geïsoleerd grootgeword nie: hulle het hul skuurdanse gehad, daar was volkspele, markdae, skoue, kermisse; in die stede was daar genootskappe, verenigings, uitstallings, jeugbewegings geskik vir die portuur. En dan was daar ook die Nagmaal een keer per maand. En die familie wat oor Kersfees kom kuier (en die samesyn in onskuldige “krismisbeddens”), of sommer uit die bloute opdaag.

In die moderne samelewing word party tieners seker ontnugter oor die grootmenswêreld (juis as mens so deur die media blaai) wat mens binnekort sal moet betree: grootmense kan nie genoeg kla (hulle noem dit “gesels”) oor die politiek nie, hulle kla oor godsdiens, hulle kla oor die ekonomie, hulle kla oor die huur, hulle kla oor die onderwys, hulle kla oor die paaie, hulle kla oor die predikant, hulle kla oor Skoonma wat kom kuier, hulle kla oor die bank wat al weer die reëls verander het (want waar kom hierdie nuwe aftrekkings skielik vandaan?), hulle kla oor die telefoondiens, hulle kla oor die petrolprys, hulle vloek binnensmonds oor die kruidenierswinkel wat al weer die verkeerde prys opgelui het, hulle kla oor te min tyd, hulle kla wanneer hulle moet wag, hulle vloek mekaar op twitter, hulle vloek mekaar se ma’s op Facebook, hulle kla, kla, kla, kla, kla… Die lewe is een groot stryd van dag tot dag, daar is niks wat hulle kan vermaak nie, niks om na uit te sien nie, dit is een lang grys treurmare tot wanneer die kis toeslaan. En dan verskeur hulle mekaar oor jou testament (groot verrassing: hulle erf jou skuld. Nog iets vir hulle om oor te kla!).  Die verantwoordelikheid is so swaar.

Moontlik antwoord ‘n jongmens daarop: “Ek sien nie nou al kans hiervoor nie, ek voel nog nie gereed nie.”

En as grootmense van nature sulke bitterbekke is, wat gee my die idee iemand wil nog ‘n rukkie langer “kind” bly? In die geval van Furries, waarom nie? Om in dierepakkies op ‘n jakkalsdraffie te gaan is bont, dis pret, dis vrolik, dis opgewek, dis kleurryk, dis lewenslustig!  En waar daar ‘n vraag is, is daar mos ‘n aanbod: so ontstaan ‘n mark ($$$) om diegene te akkommodeer wat nog “die oorgang” na volwassenheid moet maak. En so ontstaan… subkulture.

Maar nou is daar ook die militante soort subkulture soos die Eendsterte (Ducktails) in die 1950’s, wat eers as haarstyl begin het en toe vereenselwig is met rebelle, boewe en later Elvis Presley, hoewel die meeste subkulture eers in die laat-1960’s met die ‘68-beweging na vore begin tree het. Die een subkultuur het hom van die ander probeer onderskei (of saamgesmelt, of afgestig), en soos ‘n kerk wat nuwe lidmate soek en probeer trek, het ‘n reeks etikettering, stereotipering en beswaddering begin wat tot vandag nog voortduur. Die een groep het ook opgestaan om die teenpool van die ander te wees wat hy as iets afskuweliks beskou.

Eintlik was hierdie “tussenmark”, of “oorgangsmark onder die jeug” lankal daar, geskep, of verruim, deur die sosialiste in Duitsland (hoewel dit ook in Amerika en Brittanje en Vastelandeuropa op dieselfde tyd vlamgevat het), en dit het alles met politieke inmenging van volwassenes te doen.

‘n Mens sien dit baie duidelik onder meer in die “Young Adult Literature”, oftewel “Jongmensboeke” in Afrikaans, maar daarby kom ek later.

Hier volg die geskiedenis, soos verwoord in Politische Kinder- und Jugendliteratur… deur Valentina   L’Abbate (2008).

Na die Tweede Wêreldoorlog in 1955 word die Dagboek van Anne Frank uitgegee. Dit is die beginpunt vir baie jeugboekskrywers wat teen die einde van die 1950’s die geskiedenis van die Duitsers en die NSDAP-regime wou bespreek. Die problematiek is egter nie krities aangeroer nie, maar eerder net geprojekteer en uitgebeeld. Baie bou egter die tema herhaaldelik uit. Teen die aanvang van die 1960’s kom daar ‘n eie beweging op die been waar enkele skrywers begin glo het dat die jeug deur boeke polities en maatskaplik opgevoed en bemagtig moes word (p. 4). Ek dink: kom ons vervang “bemagtig” met “opstook”. Dit was ook in die tydperk van die revolusionêre studente-opmars toe alle tradisionele, algemeen-vormende onderwysstelsels (onder andere die Klassieke) summier in die asblik gesmyt is. Aan die Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika was dit egter doodrustig, met die uitsondering van die tipiese kattekwaad van studentwees in die koshuise.

Die einde van die 1960’s was in Duitsland gekenmerk deur die invloed van die nuwe Groot Koalisie, die einde van die konserwatiewe Adenauerera, en ‘n hele beweging vir “Antiautoritäre Erziehung” (anti-outoritêre opvoeding). Hieronder word verstaan dat ouers en opvoeders nie neerbuigend teenoor die leerders of studente moes wees nie, maar op ‘n gelykwaardige manier ‘n tweegesprek moes voer. Daardeur sou die kinders tot selfstandige, skeppende, gemeenskaps- en konflikvaardige persone ontwikkel (p. 5).

Hierdie beweging sou mettertyd oorspoel in die kinder- en jeugliteratuur en staan aanvanklik ook so as “anti-outoritêre” kinder- en jeugliteratuur bekend, maar word sedert 1972 as “emansipatoriese” kinder- en jeugliteratuur herdoop, wat die burgerlike norme nie blindelings oorneem nie, maar bevraagteken en kinders ook bewus maak van wat die onderdrukking in die samelewing kan meebring. Baie skrywers wat tot dusver slegs boeke vir volwassenes geskryf het begin om vir kinders te skryf, of omgekeerd. Die grense tussen KJL en volwasse literatuur het begin vervaag (p. 5).

Op grond van die genoemde politieke veranderinge kry die kind en die jeug nou nuwe betekenis: uiteindelik sou hulle tog hul status as onmondiges en gemeenskapsonbetrokke burgers verloor en verplig wees om hul eie wegkruipplek en naïewe wêreld vaarwel te roep. Die jong leser sou in die leesstof met die sosiale meganismes en ellende daarbuite in die gebroke wêreld gekonfronteer moes word waarmee hy ook moontlik te doen sou kry. Die kind sou uit sy Zwangsinfantilisierungs-jare (d.w.s. waar hy as kind “gedwing” was om so naïef en sorgeloos soos ‘n kind te wees) geruk word (p. 6).

Progressiewe leerkragte het dit dus ongunstig beskou om die kinders in watte te probeer toedraai of die wrede werklikheid en gevare te probeer verbloem of wegwens. Hierdie leerkragte was onder die indruk dat die volwassenes die kind geen guns bewys deur van hulle emosionele en geestelike invalides te maak deur die probleme daarbuite te ignoreer nie. Inteendeel, dit sou selfs oneties wees. Probleemboeke [boeke wat maatskaplike probleme behandel] sou juis die kinders help hoe om hierdie lastige sosiale vraagstukke selfstandig te bowe te kom.

Probleemboeke is heelwat later in die Duitssprekende lande meer dikwels “probleemgeoriënteerde jeugboeke” genoem. Maar teen 1982 kritiseer Winfried Kaminski steeds hierdie definisie, want (p. 5):

Duits: es hat zwar Probleme zum Thema, aber nicht die der Jugendlichen. Es informiert den Leser über etwas, nur nicht über sich selbst, so daß sich die Jugendlichen in diesen Büchern nicht wiederfinden.

Afrikaans: dit [die probleemgeoriënteerde boek] handel weliswaar oor probleme, maar nie die jeugdige nie. Dit lig net die leser oor iets in, maar nie oor homself nie, sodat die jeugdige hom nie met die boek kan vereenselwig nie.

As mens Kaminski se bogenoemde argument in Jugendliteratur & Revolte nou volg, so meen L’Abbate (2014:8), word dit gou duidelik dat Kaminski slegs die Adoleszenzroman as die werklike probleemgeoriënteerde jeugboekgenre uitsonder. Hierby is dit dan ook die jeugdiges wat hul lewens self as problematies ervaar. Verdere temas sluit in die “wegvlug uit die eie (bekende) omgewing”, die ouderdomsgaping en die gepaardgaande kritiek teenoor die samelewing en die owerhede, asook die soeke van die jeugdige na sy eie identiteit. Om die pad te vat weg van die onuithoudbare menseverhoudinge is selde ‘n oplossing, maar dit bied tog ‘n uitweg indien ‘n gegewe situasie die protagonis daartoe sou dwing (p. 8). In die meeste gevalle is dit die samelewing of die ouerhuis wat die jeugdige protagonis [dikwels as verheerlikte buitestaander] wegdryf. Hierdie stories dui gewoonlik op die plofbare situasie by die wegbreek van die outonome jonger geslag van die ouer stel normes en waardes van die samelewing. Dikwels het sulke verhale ‘n oop einde. Die leser kan dan self die “progressiewe potensiaal” insien (pp. 8-9). Die toon van die 1970’s was in die Duitstalige probleemboeke dan hoofsaaklik krities ingesteld teenoor die samelewing en sy ou waardestelsels (p. 9). Dit lyk ook nie of dinge veel verander het nie.

Dwarsoor Europa en Amerika is die deur oopgemaak vir ‘n verskeidenheid onderwerpe ter bespreking, wat wissel van die prosaïese, soos die angs by die kind wanneer sy troeteldier wegloop, tot die trauma van kindermisbruik vir sataniese rituele, asook, natuurlik, watter kleur kondoom by die beste geleentheid sou pas. Ja, seks, wat anders?

Neem kennis dat hierdie boeke geskryf is in ‘n tydperk voor die Internet.

In ‘n neutedop: die klem was op die verkeerde dinge geplaas om die kinders vroegryp te druk. “Vroegryp” en “selfstandig” is twee verskillende konsepte. Daar is gehoop om die kinders “selfstandig” te maak, maar eintlik het die “welmenende” volwassenes van die klomp Wes-Duitsertjies met hierdie afgewaterde leerplan net ‘n spul domastrante kommuniste / Social Justice Warriors probeer maak. Seksvoorligting, politieke bewustheid, maatskaplike probleme, wroeging oor sosiale ongeregtigheid, menseregte, ens. maak steeds nie jou kar reg nie, bedraad nie jou huis nie, leer jou nie om self goed te herstel nie, leer jou niks hoe om nywerhede op te bou nie, leer jou niks omtrent die uitlegkunde (om die oorspronklike doel van ‘n teks te verstaan) nie, leer jou nie wat trots is nie, leer jou nie hoe om in die natuur te oorleef nie (al is dit net die uitwys van natuurlike plantegroei), leer jou nie… Afgesien van die vreeslik saai kurrikulum, het daardie onkunde angs en onsekerheid onder jongmense gekweek wat die grootmenswêreld huiwerig betree. In reaksie op hulle onsekerheid, is aanval en groepvorming die beste verweer.

Verklaar dit miskien nou waarom daar tog so baie aggressiewe subkulture in Duitsland floreer? Nou sit mens in die knars: is dit omdat kinders soos kinders voel dat hulle nog langer kind wil bly, of is dit omdat hul jeug gesteel is en hulle daarom die jare probeer inhaal, of so lank as moontlik probeer uitrek?

Maar vir Suid-Afrika, waar ons Afrikaners veel makker is (en betogings en klipgooiery benede ons waardigheid vind), het ek ‘n ander teorie: walging vir die eie kultuur. Subkulture kan ook mos ‘n simptoom (protes) van ‘n hoofstroomkultuur wees wat nie meer lekker is nie.

Het hierdie gemors (probleemboeke) in Europa en Amerika gebly, was dit ‘n seën, maar toe spoel dit mos oor na Suid-Afrika. Die Afrikaanse probleemboeke het meestal op ander maatskaplike vraagstukke gefokus, soos egskeiding, alkoholisme, gebroke gesinne, dwelmverslawing, die dood en liggaamsgebreke, soos in die Afrikaanse jeugboeke van Elsabe Steenberg (die suster van André P. Brink, het ek reg?), Hester Heese, Louis Krüger en Maretha Maartens. Eers teen die vroeë 1990’s het die seks-, pedofilie-, gay- en rassekwessies te voorskyn gekom.

‘n Dekade of wat later het daar oorsee “Young Adult Fiction” ontstaan.  Die bronne wat ek oor die Afrikaanse leeswêreld vir inligting gedelf het is die artikels van Donnay Torr (2015. Jong-volwassene-literatuur: Die lees van lugkastele. Taalgenoot. Somer 2015:51-55) en Keina Swart (2015. Jeugboeke – die pendulum swaai. De Kat, Maart/April, p. 44).

Laat ons wegspring.

Ná die sukses met jongmensfiksie oorsee, soos Harry Potter, die Twilight-reeks, Divergent, Mortal Instruments, The Perks of Being a Wallflower asook The Hunger Games en die sick-lit-faam The Fault in our Stars, wil die Suid-Afrikaanse uitgewersbedryf in 2015 ook dieselfde doen. In die De Kat-artikel sê Michelle Cooper (uitgewer van kinder- en jeugboeke by NB-uitgewers) “realisme gaan na alle waarskynlikheid die volgende groot plaaslike jeugboektendens wees, met distopiese fiksie en fantasie steeds in die kol”. Dit is juis hierdie “realisme” wat die meeste aandag in sowel die De Kat– as Taalgenoot-artikel geniet. Nie die ‘fantasie’ (NB!!!) wat mens in Harry Potter en Twilight vind nie.

Carina Diedericks antwoord in ‘n onderhoud met Keina Swart in De Kat (2015:44) dat jeugboeke “’n reuse-uitdaing van skrywers is”, want dit moet “lesers van 15 tot 100 moet vermaak”. Slegs enkele paragrawe later word die klem verskuif:

Weens die oorvloed uiters neerdrukkende wroegboeke wat die jeugboektoneel in die 1970’s en 80’s in Afrikaans oorheers het, was ons die afgelope twee dekades sku vir boeke wat dieper kwessies bekyk. Die pendulum swaai en ek is opgewonde dat daar nou weer boeke verskyn wat dieper en donkerder is, maar wat die fokus op die leser behou.

En ek wil my polse daarvan sny. Moet die jongmensliteratuur noodwendig deurspek wees met realisme wat wil-wil grens aan betrokke literatuur van die Sestigers? En realisme uit watter oogpunt geskryf? Die realisme wat ek in probleemboeke ken is gewoonlik ‘n gerieflike kitsoplossing [of oop einde], want die skrywer sal homself nooit vasskryf nie en die verhaalgebeure met ‘n ysterhand plooi en regeer soos dit hom pas. Die skrywers druk ook hul eietydse waardes, norme en houdinge op die boek af, hoe hulle die probleem sou benader het: die komplekse werklikheid word dus oorvereenvoudig op papier. Die invloed van die leeservaring van die boek word oorskat (want wie wil blaaie deurworstel as Google en Quora daar is?). Die sentrale en onomstootlike probleem self word voortdurend oor en oor en oor op die voorgrond geplaas, die prekerige didaktiek daarvan onverbloemd onthul. Regdeur die verhaal word vooraf saadjies geplant van die probleem, en daar kom nooit wendings voor wat mens by lekkerleesboeke kry nie (dit word wel soos ‘n kussingsloop vol onsinnighede opgestop): die probleem vererger net totdat ons hoofkarakter van aangesig tot aangesig die probleem vierkantig in die oë moet kyk, die dag van afrekening wat aangebreek het en BOEM! die yl intrige en yl karakterontwikkeling is uiteindelik verby. Dankie tog.

Sien, ons ken ons skrywers nou al teen dié tyd gans te goed.

Belangriker selfs: moet hierdie “realisme” dan noodwendig na ernstige sake oorhel, 350 bladsye lank wees, oor lyding en doodbloei-maatskaplike probleme waarvoor mens bloot die antwoorde kon google? Ek haal ‘n paar interessante sinsnedes en paragrawe aan rakende Young Adult Literature (YA):

–          “YA-boeke [is] gevul met metafore vir “regte wêreld”-probleme. “Dalk dien dit as ‘n literatuur-kaart om mense te help lei deur hulle grootword- en volwasse lewens. YA-fiksie plaas karakters in situasies wat die leser dalk in hulle leeftyd sal beleef, of dalk nooit weer sal beleef nie (soos om ‘n tiener te wees). Die storielyn dwing dikwels die leser om hulleself te strek, en dinge soos vlakke van empatie te bekyk, en ideologieë te bevraagteken – te dink oor wat ‘n boek die moeite werd maak om te lees. Meer en meer titels het nie “gelukkige” eindes nie, maar eindig met ‘n boodskap van hoop en dinge wat dit werd is om voor te veg – die evaluering van wat belangrik is vir die boekkarakter. Nes in die werklike lewe” (Torr, 2015:53).

–          “Die mees suksesvolle YA-fiksie wentel om tydlose, universele temas: liefde, die drang om te behoort, anders wees/nie inpas nie, die hantering van hartseer, woede, pyn en ontbering” (Torr, 2015:53).

–          “Jonkwees is gevul met traumatiese uitdagings, en is nie iets om sonder handskoene te pak nie. Internasionale titels soos Jay Asher se Thirteen Reasons Why handel oor ‘n hoërskoolmeisie wat selfmoord pleeg en kassette aan klasmaats stuur om haar motiewe te verduidelik, terwyl Lia Block se Wasteland gaan oor ‘n bloedskandelike verhouding” (Torr, 2015:53).

–          “Plaaslike skrywers soos Fanie Viljoen takel seks, dwelms, rock ‘n roll en moorde (Breinbliksem), skoolskietery (Pleisters vir die dooies) en die soeke na seksuele identiteit (Uit), terwyl S.A. Partrigde in Sharp Edges die onverwagse dood van ‘n meisie deur die oë van haar vriende oopskryf. Adeline Radloff takel boelies in Chain Reaction, terwyl As ek val, ‘n boek deur Jenny Downham wat uit die Engels [Before I die] vertaal is… die hoofkarakter se stryd om te lewe ten spyte van kanker ondersoek” (Torr, 2015:53).

–          “Ek wil die wêreld waarin ouer tieners hulself bevind, oopskryf. Ek gee ook geleentheid om gewaagder temas soos ‘n skoolskietery of gay rugbyspelers aan te pak.” [Fanie Viljoen] (Torr, 2015:55)

–          “Ek het Alive Again geskryf omdat ek glo boeke kan lewens verander. Die tema van die boek is verkragting, en die 15-jarige eerstepersoonsverteller vertel haar storie, van ontmagtiging en bemagtiging” [André Eva Bosch] (Torr, 2015:55).

–          “Ek onthou jonkwees en tienerwees so goed… Partykeer is dit nogal pynlik! Ek weet dinge verander, maar die kern van die dinge waardeur ons gaan (eerste liefde, eerste soen, eerste gebreekte hart) bly dieselfde. Die gevoelens van anders wees, en om deur vriende verraai te word en alleen te voel is universeel – maar ook gevoelens van geluk wat jy net nie kan beskryf nie” [Liz de Jager] (Torr, 2015:55).

–          “Die plaaslike YA-mark, veral dan ook in Afrikaans, [maak] die grootste deel van NB-uitgewers se verkope uit, ‘natuurlik ook omdat hierdie boeke soms in skole voorgeskryf word’”.

Die hemel help ons. Ek is seker die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling hanteer nie soveel sake nie, want dit is geen prioriteit nie. Daar word probleme gesoek waar daar nie probleme is nie. Buitendien, wat het geword van “laat ons die swaarkry met lekkerkry klaarkry?” Huh? Dis jong volwassenes waarvoor jy skryf! As ek vir ontspanning fiksie lees, wil ek ontspan, geniet, lag, vrolik wees, die optimistiese blink kant sien, werkbare idees op die proef stel. En veral: om saam met die hoofkarakter soos in die klassieke Jules Verne-boeke iets te ontdek, meegevoer te word na iets, ‘n werklikheid, wat veel groter as die mens self is, al is dit ook net opgesluit in die filosofie wat jy soos ‘n pak kaarte skommel en uitdeel.  Verdomp, het ons skrywers geen verbeelding nie? En is die jong Afrikaanse lesers regtig so dom? As Agent Dr. Dana Katherine Scully in The X-files mediese terminologie tydsaam op haar diktafoon gemoduleerd oordra, of Abby Sciuto en Timothy McGee wat mekaar in NCIS met rekenaarterme moker, is dit niks – maar waag jy dit net, sal die Afrikaanse uitgewers ‘n vyfdubbele hartaanval kry! Dit mag nie.

Tog is daar skrywers soos Jaco Jacobs wat gekant is teen taboe-temas of omstredenheid wat in Afrikaanse fiksie oorbeklemtoon word en waar sulke omstredenheid en sensasie as maatstaf gebruik word vir boekvernuwing of -gehalte (Torr, 2015:53-54).

Dit wil egter voorkom of die persepsie jongmensliteratuur = jongmensprobleme onder ‘n taamlike aantal Suid-Afrikaanse skrywers nog lank nie afgeskud is nie. En dit skep die indruk wat volwassenes van jongmense in hul vroeë 20’s dink. Al is ek nou byna 30, is die Afrikaanse jongmensboeke vir my niks anders as folterbeddens wat sy lesers onderskat nie. Uit al die reeds genoemde inligting duur dit nie lank om te spekuleer of die eertydse (en gehate) voorgeskrewe probleemboeke op skool vandag slegs in die louoond opgewarm en in ‘n aantreklike plesiersousie opgedien word nie, soos kaas op broccoli vir ‘n tweejarige vol groentefiemies. Jong volwassenes kan seker nou al besluit watter groente en roomys hulle wil hê, dink jy nie? Niemand laat hulle deur niemand voorskryf nie – en tog doen skrywers dit wel. Soos gesê, die eens hardgebakte maatskaplike kwessies van vroeër word nou bloot met meer vermaak en smaak beklee en metafories aangebied, maar word hierdie oppervlakkige vermaaklikheid egter wegdistilleer, bly die maatskaplike kwessie as residu agter. Wat jy steeds kon gegoogle het. Maar dis seker maar normaal, want ons uitgewers sê dié tipe boeke is normaal. En die onderwys skryf die boeke voor – dan is dit mos normaal.

Nou maak alles  vir my sin. Dit is glashelder. Doe maar normaal, dan doe je al gek genoeg?

Aikona, die teendeel is waar: “om normaal te wees is overrated”.

As die Afrikaanse hoofstroomkultuur so lyk, dink ek dit is genoeg rede vir ‘n tiener, skoolverlater en student om hom tot ‘n vrolike Furry te bekeer en om dartelend op die grasperk vlinders rond te jaag en saam met die ander wolwe in die skemer teen die volmaan te huil.

A-hooooooe!

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.