Brief: Afrikaans: Om ‘n ystervark te streel

Deel op
In twee briewe redeneer Johannes Comestor dat Afrikaans nie na behore deur Afrikaansinstansies bevorder word nie. Die Europese wortels van Afrikaans word verswyg, die klem val op meertaligheid pleks van Afrikaans en taalsuiwerheid word skromelik verwaarloos.

Op 17 Maart het ek die volgende teks na LitNet gestuur. Dit is op 19 Maart gepubliseer.

Afrikaans: Drie werklikhede

Johannes Comestor

Etienne van Heerden het gesê: “As redakteur moet ek LitNet nooit sien as ‘n spreekbuis vir wie ook al nie. Ek moet dit nooit gebruik as ‘n manier om bepaalde idees te verkondig nie” (Fred de Vries, Rigtingbedonnerd, Kaapstad: Tafelberg, 2012, p 295). LitNet is ‘n kulturele webwerf (294), ‘n “kuber-Nkandla”, waar almal welkom is (293). Slegs menings wat rassisties of lasterlik is, word uitgesluit (295).

Sedert 1994 het Afrikaans baie aan status ingeboet. Pleks van een van twee amptelike tale te wees, is Afrikaans een van elf amptelike tale. Pleks daarvan dat Afrikaans in dieselfde mate as Engels amptelik en in die openbaar gebruik word, is Engels feitlik die enigste de facto amptelike taal wat van owerheidsweë bevorder word. Wat opval, is dat Afrikaans deesdae nie net baie minder as voorheen in die openbaar gebruik word nie, maar ook dat dit al hoe meer in onsuiwerheid verval; dat ‘n mengsel van Afrikaans en Engels geskryf en veral gepraat word. Dit lyk asof daar by baie Afrikaanssprekendes nie meer taaltrots is nie. Daar word gestreef na die korrekte gebruik van Engels maar met Afrikaans kan daar maar gemors word.

Daar is skynbaar nêrens ‘n geskikter platform as LitNet om besorgdheid oor die stand van Afrikaans uit te spreek nie. Daarom is Etienne van Heerden se versekering dat menings soos myne publiseerbaar is, ‘n riem onder die hart. In hierdie artikel lug ek my standpunt oor drie aktuele werklikhede van Afrikaans. Die norm waaraan al drie voldoen, is dat hulle eerlike (hopelik selfs geldige) menings is.

Afrika-tale

Ten einde Afrikaans in die huidige plaaslike politieke klimaat meer aanvaarbaar te probeer maak, word dikwels sonder meer (opportunities) beweer dat Afrikaans ‘n Afrika-taal is. Maar Afrikaans is nie in dieselfde mate as die tale vir swartes, bv Xhosa of Tswana, ‘n Afrika-taal nie. Afrikaans is ‘n Euro-Germaanse taal wat deels in Europa en deels in Afrika ontstaan het. Die oorsprong van Afrikaans is Hollands, ‘n Europese taal. Die wortels van Afrikaans is dus veral in wat tans Nederlands en Duits genoem word, tesame met (geringe) beïnvloeding deur bv Oosterse tale soos Maleis. Met hierdie tale as grondslag is Afrikaans plaaslik, dus in Afrika, ontwikkel. Anders as egte Afrika-tale kan daar vir Afrikaans dus nie op meer aanspraak gemaak word nie as dat dit deels ‘n Afrika-taal is. “Afrikaans: taal met Nederlands as basis, maar wat onder invloed van veranderde omstandighede en verskillende uit- en inheemse tale tot ‘n onafhanklike taal in Suid-Afrika ontwikkel het” (HAT). Dit sluit onafhanklikheid van Engels in.

Die voortbestaan van Afrikaans word deur ‘n enkele taal, Engels, bedreig. Erkenning dat Afrikaans deels ‘n Afrika-taal is, verswak dus nie sy posisie in vergelyking met Engels wat ‘n nie-Afrika- en Euro-Germaanse taal en boonop dié koloniale taal is nie.

Wanneer daar in uitsonderlike gevalle van owerheidsweë toegewings vir Afrika-tale gemaak word, bv by die toekenning van onderwysstudiebeurse, moet daar nie sonder meer aanvaar word dat Afrikaans by hierdie bevoordeling ingesluit is nie, want – só word verkeerdelik geredeneer – Afrikaans is mos ‘n Afrika-taal. Diegene wat oor die voortbestaan van Afrikaans besorg is, behoort iedere keer wanneer daar oor Afrika-tale gepraat word, vas te stel of Afrikaans, as deels ‘n Afrika-taal, in- of uitgesluit word.

Meertaligheid

Afrikaans word dus nie noodwendig ingesluit wanneer na Afrika-tale verwys word nie. Dieselfde geld wanneer meertaligheid ter sprake is; Afrikaans kan uitgesluit word.

Neville Alexander skryf: “I have no doubt that the generations born in the 2020s and after will be completely trilingual, in that all children, besides being fluent in their home language, will – if this language is not English – also learn English and another important South African language, usually from the Nguni or the Sotho cluster” (Thoughts on the new South Africa, Auckland Park: Jacana, 2013, p 163). By Afrikaansinstansies het dit die gebruik geword om Alexander te loof omdat hy meertaligheid bepleit het. Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vereer Alexander deur sy jaarlikse openbare voorlesing oor Afrikaans na hom te vernoem. Maar Alexander het Engels (en Duits) bo Afrikaans verkies en – soos aangetoon – nie noodwendig Afrikaans by sy pleidooi vir meertaligheid ingesluit nie.

Adam Habib verwys na die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se beleid van “competencies to be developed in indigenous languages among staff and students” (Rebels and rage, Jeppestown: Jonathan Ball, 2019, Amazon Kindle 1932). ‘n Nuwe taalbeleid is onlangs deur Wits aanvaar. “Given the limited institutional resources available, the first step in this plan was to change all letterheads, business cards and signage to reflect three languages: English, isiZulu and Sesotho. Language courses specialising in conversational isiZulu and Sesotho have also been established” (2070). Aan Wits word Afrikaans dus uitgesluit nie net wanneer na inheemse tale verwys word nie, maar ook by meertaligheid. Die Afrikaansdepartement aan Wits, waarvan NP van Wyk Louw eens die hoof was (1958-1970), is reeds jare gelede afgeskaf.

Daar is Afrikaansinstansies wat soms die indruk wek dat hulle meer en sterker pleidooie vir meertaligheid as vir Afrikaans lewer. Die klem moet klaarblyklik eerder na die bevordering van Afrikaans verskuif word omdat meertaligheid Afrikaans kan uitsluit. Dus, ‘n toekomstige meertalige Suid-Afrika sonder Afrikaans is iets wat Afrikaansinstansies geensins behoort te bevorder nie. “As Afrikaans in Suid-Afrika sterf, is dit weg, anders as die geval met Engels” ( Hermann Giliomee, Die Burger, 14.03.2019, p 4).

Taalsuiwerheid

Sedert 1994 word (feitlik) geen poging aangewend om taalsuiwerheid by Afrikaanssprekendes te bevorder nie. As daar in hoogs uitsonderlike gevalle op taalsuiwerheid aangedring word, word dikwels teëgewerp dat geen taal suiwer is nie. In iedere taal is daar bv leenwoorde wat as deel van die standaardtaal erken word. Maar as daar taaltrots is, is die gebruik van nie-erkende woorde uit ‘n ander taal onaanvaarbaar. Byvoorbeeld, dit is onnodig om die Engelse woord “issue” in Afrikaans te gebruik omdat ons die Afrikaanse woord “kwessie” het. In die geval van Afrikaans is daar woorde waarmee (feitlik) enigiets wat in bv Engels uitgedruk kan word, gesê kan word; of daar kan, soos voorheen gebruiklik was, woorde geskep word wat met idiomatiese Afrikaans versoenbaar is. Dit is die rede waarom Afrikaans ‘n taal uit eie reg wás; geskrewe en gesproke Afrikaans kon sonder kennis van ‘n ander taal, veral Engels, verstaan word. Geradbraakte loslit-Afrikaans behoort nie ‘n opsie te wees nie omdat dit nie ‘n volwaardige taal is nie; in dié sin dat dit nie sonder kennis van ‘n ander taal, in die praktyk veral Engels, verstaan kan word nie.

Wanneer die geskiedenis van Afrikaans in die toekoms geskryf word, sal die (doelbewuste) versuim van Afrikaansinstansies om taalsuiwerheid te bevorder, heel moontlik geïdentifiseer word as een van die vernaamste redes waarom Afrikaans ondergegaan het. Sedert 1994 het die owerheid – soos sommige van sy voorgangers, bv Charles Somerset en Alfred Milner – Engels tot die primêre taal in Suid-Afrika verhef. Terselfdertyd het Afrikaansinstansies oogluikend toegelaat dat Afrikaans al hoe meer verengels; dermate dat daar later nie meer sin in was (of sal wees) om dit as wesenlik ‘n ander taal as Engels te beskou nie.

Die rede waarom taalsuiwerheid uit die agenda van Afrikaansinstansie gelaat word, is klaarblyklik die sug na politieke korrektheid, maw politieke oorwegings weeg vir hulle swaarder as taaloorwegings. Byvoorbeeld, taalsuiwerheid word opgeoffer ten gunste van versoening. Daar word gesê dat die meeste sprekers van Afrikaans bruin is. Op grond hiervan word geredeneer dat die toekoms van Afrikaans deur bruin mense bepaal gaan word. Kaaps word as ‘n variëteit van Afrikaans beskou en daar word van die veronderstelling uitgegaan dat (die meeste van) hulle Kaapssprekers is. Dit is nie noodwendig die geval nie, of baie (dalk die meeste) is (goed) bekend met en dalk ook in groot mate in staat tot Standaardafrikaans. Wat nodig vir die bevordering van Afrikaans is, is dat Afrikaansinstansies alle Afrikaanssprekers tot taalsuiwerheid aanmoedig; nie polities inkorrek net Kaapssprekers nie, maar alle Afrikaanssprekendes. Geradbraakte Afrikaans kom immers deesdae in toenemende mate voor nie net by bruin mense nie maar ook by blankes.

Die visie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is onder meer “die bevordering van die gebruik en die gehalte van Afrikaans” (LitNet 23.01.2019). Dekades het verloop sedert daar laas deur hierdie instansie ‘n pleidooi vir taalsuiwerheid gelewer is. In uitsonderlike gevalle het taalkundiges soos Willem Botha, die hoofredakteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, en Tom McLachlan, voorheen ‘n prominente lid van die Taalkommissie, hulle in die onlangse verlede ten gunste van taalsuiwerheid uitgespreek, maar sonder om Kaaps as geradbraakte Afrikaans te identifiseer en, in soverre dit Engels is, te veroordeel.

Ek het ‘n nuttige meningswisseling met ‘n huidige lid van die Taalkommissie gehad: Phillip Louw, “Afrikaans se gideonsbende” (LitNet 11.08.2017, plus meningswisseling van 21 Augustus tot 4 September), maar hy wou nie die rubikon na die veroordeling van die groot Engelse komponent in Kaaps oorsteek nie. Dit sou glo op verpolitisering van ons gesprek neerkom, asof daar oor die behoud van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika vry van die politieke opset besin kon word. Louw spreek hom eerder teen verengelsing in die algemeen en dus ten gunste van meertaligheid uit, terwyl my bekommernis Afrikaansgesentreerd is. Ek is beswaard oor die verengelsing van Afrikaans, onder meer, dalk veral, weens die koestering, om politieke redes, van Kaaps deur bv Afrikaanstaalkundiges en -letterkundiges. Ek beveel aan dat LitNet-lesers die genoemde Louw/Comestor-meningswisseling (her)lees, want daarin kom inligting voor wat ek nie hier herhaal nie.

Die punt is: Afrikaans het ‘n eerbare toekoms as ‘n taal uit eie reg slegs as Afrikaansinstansies en alle Afrikaanssprekendes wat taaltrots het, sonder versuim pleidooie lewer vir en daadwerklike pogings aanwend om suiwer(der) Afrikaans te praat en te skryf.

*********

 

Afrikaansinstansies wat voorgee om Afrikaans te bevorder, het waarskynlik kennis van my skrywe geneem maar nie ‘n enkele een het daarop gereageer nie. Ek het gevolglik op 28 Maart ‘n verdere skrywe na LitNet gestuur. Dit is nie gepubliseer nie. Soos gebruiklik het LitNet nie die beleefdheid om te sê dat my teks in sy geheel gesensor is nie; nog minder wat die redes vir hierdie aantasting van my vryheid van uitdrukking is.

Afrikaans wankel na die slagbank

Johannes Comestor

Afrikaans laat my aan die volgende teksvers dink: “Red dié wat na hulle dood toe gesleep word, dié wat val-val op pad is om doodgemaak te word as jy nie keer nie” (Spreuke 24:11). ‘n Vorige vertaling het meer dramaties verwys na “dié wat na die slagbank wankel.”

Die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die pos van Dekaan, Fakulteit Opvoedkunde, geadverteer. Die vereistes wat aan kandidate gestel word, is onder meer: “Bewese ervaring van doeltreffende funksionering binne ‘n veeltalige en multikulturele omgewing. Uitstekende mondelinge en geskrewe vlotheid in minstens Engels” (Sake-Rapport, 10.03.2019, bl 07). Die verlangde veeltaligheid sluit Engels in maar nie noodwendig Afrikaans nie. Die US is voorheen dikwels as die bakermat van Afrikaans beskou. In die akademiese konteks kon daardie etiket met heelwat geldigheid aan die US geheg word. Toe Engelssprekende studente, asook studente wat onderrig in Engels verkies, nog die minderheid was, het die US egter besluit om voorkeur aan Engels as onderrigtaal te gee. Aan die US word die gebruik van Afrikaans reeds jare lank deurlopend afgeskaal.

Die nuwe rektor van die Universiteit Pretoria, Tawana Kupe, ‘n gebore Zimbabwiër, se ideaal is om daardie inrigting ‘n “Pan-African university” te maak. Hy het hom ten gunste van die onlangse afskaffing van Afrikaans as onderrigmedium uitgespreek. Kupe is heel moontlik nie eens Afrikaans magtig nie. Wat hy beoog, is “to develop an African language to challenge the currency of English” (Daily Maverick, 27.03.2019). Vir Kupe gaan dit om die gebruik van Engels en die verdere ontwikkeling van ‘n swart Afrika-taal; nie om die benutting van Afrikaans as ‘n reeds ontwikkelde akademies-wetenskaplike taal nie. Kupe se meertaligheid sluit Afrikaans uit.

Ook aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en die Universiteit Vrystaat is Afrikaans as onderrigmedium onlangs afgeskaf. Die Universiteit Johannesburg, voorheen die Randse Afrikaanse Universiteit, word glad nie meer as ‘n Afrikaanse universiteit beskou nie. Daar is diegene wat die hoop bly koester dat Afrikaans op ‘n enkele kampus, Potchefstroom, behoue sal bly, al is Afrikaans op die twee ander kampusse van die Noordwes-Universiteit (NWU) deur Engels verswelg. Die aanvaarde beleid van die NWU is egter dat blanke studente so spoedig moontlik ‘n minderheid op die Potchefstroom-kampus moet word, sodat Afrikaans ook daar in die slag kan bly.

Dit lyk asof Afrikaans as akademiese taal aan universiteite gedoem is. ‘n Skandalige waarheid is dat Afrikaanssprekendes in baie gevalle die leidende rol in hierdie afskaling en afskaffing van Afrikaans gespeel het. Deels as kettingreaksie hierop word Afrikaansmediumskole al hoe minder en kan hulle mettertyd verdwyn.

Buite skool- en universiteitsverband word daar ook glad te min Afrikaanstrots geopenbaar. Soos tatoeëring, wat tradisioneel met matrose en kwaaddoeners geassosieer is, het geradbraakte Afrikaans, wat voorheen verwerplik geag is, hoog mode geword. In sy distopiese roman oor die Suid-Afrika in wording, skryf Eben Venter: “Die Afrikaners het soos die Jode hulleself aan ‘n magtige diaspora uitgelewer en die bloedrivier vir goed verlaat, maar anders as die Jode het hulle selfs hulle taal soos mufbrood op die water weggegooi, snel drywend en stroomaf sodat van die woorde binne die taal, woorde wat almal eens op ‘n tyd onthou het, al vinniger wegvloei en onderwater begin verdwyn. Dan onder dan bo die water soos vingervissies, soms kon jy hulle spatgeluid net nog onderskei, maar soos die geringste waterlewe het hulle ook verdwyn om nooit meer gesien of gehoor te word nie, vinniger en in groter getalle, sodat hulle teenwoordigheid altyd geringer geword het, altyd maar vaer totdat daar g’n enkele taal of tyding meer van hierdie woorde se bestaan oorgebly het nie” (Horrelpoot, Kaapstad: Tafelberg, 2006, bl 219).

Ek het onlangs die aandag op drie werklikhede van Afrikaans gevestig (LitNet 19 Maart): (1) Afrikaans is nie ‘n inheemse of Afrika-taal in dieselfde sin of mate as die moedertale van swart mense nie. (2) Pleidooie vir meertaligheid sluit nie noodwendig Afrikaans in nie. (3) Vir die voortbestaan van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg naas Engels is veldtogte ter bevordering van taalsuiwerheid noodsaaklik.

Dus, dit is fundamenteel verkeerd om (1) die herkoms van Afrikaans, in soverre dit Europees is, te probeer wegsteek; (2) pleidooie vir veeltaligheid te lewer pleks van die heil van Afrikaans voorop te stel; en (3) alle variëteite van Afrikaans, ook dié wat erg Engelsbesoedel is, sonder meer as heilsaam te propageer. Dit is as ‘t ware soos om ‘n ystervark te probeer streel. ‘n Misplaaste sug na politieke korrektheid, wat teen die belange van Afrikaans indruis, is onderliggend aan al drie hierdie euwels. Afrikaans is ‘n voortreflike bate waarop Afrikaanssprekendes ongekwalifiseerd trots behoort te wees.

Instansies wat as missie die bevordering van Afrikaans het, moet myns insiens in hierdie drie opsigte hulle strategie aanpas sodat hulle aksies openlik en onmiskenbaar die heil van Afrikaans bevorder. Dit is nie in al drie opsigte die geval by enige van die leidende Afrikaansinstansies nie, bv die ATKV, ATM, ATR, FAK en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die reaksie op my vorige skrywe was teleurstellend. Nie ‘n enkele van hierdie instansies het hom verwerdig om te reageer nie; ook nie ‘n enkele lid van die Taalkommissie nie. Dit gaan hier uitsluitlik om die bevordering van Afrikaans. Dít behoort van die uiterste belang vir hierdie instansies en persone te wees.

Ek het hierdie artikel met ‘n teksvers begin. Ek sluit met twee teksverse af: “Maar ek hou my doof, ek hoor niks, ek hou my stom, ek maak my mond nie oop nie. Ek het geword soos ‘n man wat niks hoor nie en wat niks het om te antwoord nie” (Psalm 38: 14-15).

********

Kommentaar

As ‘n pleidooi soos die bostaande, wat suiwer op die heil van Afrikaans ingestel is, publikasie deur ‘n webblad soos LitNet geweier word, kan dit op ‘n hoogs ontstellende verskynsel dui: dat Afrikaansinstansies dermate deur politieke korrektheid gekaap is, dat die agteruitgang – pleks van die vooruitgang – van Afrikaans deur hulle bevorder word. LitNet kan inderdaad as die hoofpleitsbesorger van Kaaps beskou word; daardie “variant van Afrikaans” wat so oordadig met Engels besoedel is dat dit nie sonder kennis van Engels verstaan kan word nie.

Maar dít is die soort Afrikaans wat guns by LitNet vind. Pleks van my skrywe te publiseer, het LitNet eerder gunstige publisiteit aan die DAK-byeenkoms verleen. Ek verwys na Izak de Vries se artikel, “Afrikaans: Waarheid en versoening onder een DAK” ( LitNet 3 April). Hierdie byeenkoms het op 30 en 31 Maart plaasgevind. DAK gee voor om inklusief te wees, maar is na “drie Khoisan-ikone” vernoem: Doman, Autshomao en Krotoa. Afrikaans is glo deur die blankes/Afrikaners gekaap, wat impliseer dat nie-blankes die eintlike skeppers van Afrikaans is. Ek het nie hierdie byeenkoms bygewoon nie. Wat volg, is gebaseer op wat De Vries berig.

Die ANC-aktivis, Hein Willemse. was een van die sprekers. Hy gee graag voor dat Afrikaners Afrikaans gesteel het op ‘n manier soortgelyk aan hoe Afrikaners glo grond van die swartes gesteel het. Willemse is ‘n Afrikaansdosent wat die feitlik onmoontlike vermag het deur die Tydskrif vir Letterkunde in ‘n oorwegend eentalige Engelse vaktydskrif te transformeer. Maar hy is nie hieroor gekritiseer by hierdie byeenkoms wat veronderstel is om Afrikaans te bevorder nie. Hy word ook nie hieroor deur die polities korrekte Afrikaansinstansies, asook Afrikaanstaalkundiges en -letterkundiges, tot orde geroep nie. Willemse se Afrikaansontrouheid, sy dislojaliteit teenoor Afrikaans, asook sy vooropstelling van sy politieke dogmas, word oorgesien. Daarmee word die agteruitgang en moontlike ondergang van Afrikaans bevorder.

In dieselfde polities korrekte Afrikaansgeledere word die uitgesproke marxis, Neville Alexander, wat as veroordeelde misdadiger tronkstraf op Robbeneiland uitgedien het, hemelhoog geprys, onder meer omdat hy meertaligheid bepleit het. Alexander het nie voorkeur aan Afrikaans gegee nie en hom eerder as Engelssprekend voorgedoen. Adam Small word polities korrek as ‘n Afrikaans-ikoon voorgehou, maar sy doelbewus gekose huistaal was Engels en nie sy moedertaal, Afrikaans, nie. Dieselfde geld Jonathan Jansen, wat graag oor Afrikaans uitsprake lewer, maar hy word geensins afdoende verkwalik vir die afskaffing van Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit Vrystaat nie. Danny Titus het tydens sy studie in Nederland sy werkstukke in Engels gelewer, nie in sy moedertaal, Afrikaans, nie. Hy verkies Engels as sy huistaal maar dan word hy toegelaat om ampshalwe die mees uitgesproke ATKV-woordvoerder oor Afrikaans te wees. Enigeen wat die heil van Afrikaans op die hart dra, behoort ander Afrikaans-ikone as Willemse, Alexander, Small, Jansen en Titus (asook Michael le Cordeur – kyk hier onder) te soek. Hulle dank hulle vermeende en skynbaar onaantasbare ikoniese status nie aan hulle Afrikaansgetrouheid nie, maar aan ‘n nie-taaloorweging, naamlik dat hulle almal bruin is.

Willemse etiketteer Afrikanernasionaliste se Afrikaans as ‘n koloniale taal. Daar is ‘n teenstrydigheid hierin. Daardie nasionaliste wou juis van die Engelse koloniale juk ontslae raak. Die Kaap was in elk geval slegs van 1803 tot 1806, tydens die Bataafse bewind, ‘n kolonie van Holland. Van 1652 tot 1795 was dit ‘n besitting van ‘n maatskappy, die VOC. Suid-Afrika was by uitstek ‘n Engelse kolonie (1795-1803, 1806-1910). Engels is dié koloniale taal in Suid-Afrika. Engels eerder as Afrikaans is die taal waaraan baie van die bruin elite voorkeur gee. Maar dan is dit sommige van hulle wat tydens byeenkomste, soos dié van DAK, probeer voorskryf wat Afrikaans is en behoort te wees.

Die olifant in die huidige Afrikaansruimte, naamlik geradbraakte taal, word doelbewus misgekyk. Die naaste wat in De Vries se berig hieraan gekom word, is ‘n verwysing na “die jag op sogenaamde anglisismes,” dus ‘n geringskatting van die bedreiging wat Engels vir Afrikaans se voortbestaan inhou. Engels is sedert 1994 de facto die enigste amptelike taal en die ANC-regering sou die land graag wou transformeer sodat Engels die enigste nasionale taal is. Dit is onderliggende ANC-gedienstigheid wat veroorsaak dat daar skynbaar geen kritiek hierop tydens die byeenkoms uitgespreek is nie.

Tot vervelens toe word voorgegee dat bv die Khoi-Khoin- en slawe-invloed op Afrikaans deur die blankes/Afrikaners ontken word. Die beperkte invloed uit daardie oorde is egter selfs tydens die hoogbloei van apartheid erken, soos sedert 1975 in klip en beton in die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl vergestalt word. Waarteen Afrikaners tereg beswaar opper, is die huidige manie om Afrikaans tot ‘n nie-blanke uitvinding te verklaar wat daarna deur blankes gekaap/gesteel is. Die historiese waarheid dat blankes die leeue-aandeel in die daarstelling, ontwikkeling en amptelike erkenning van Afrikaans gespeel het, kan nie met reg ontken word nie.

Een van die nuwe vorme wat die verkleinering en afkraking van die rol van blankes in die uitbouing van Afrikaans aanneem, is om die ontstaan van Afrikaans tot lank voor 1652 te dateer. Hans du Plessis het in aansluiting by Christo van Rensburg hieroor by die DAK-konferensie gepraat. Volgens Van Rensburg het Afrikaans in 1595 ontstaan. Hoekom? Omdat die eerste Nederlandse skip onder die bevel van Cornelis de Houtman toe om die Kaap gevaar en die bemanning in Mosselbaai aan land gegaan het. Of daar kontak met die Khoi-Khoin gemaak is en hoedanig die kontak was, word nie in WAM Carstens en EH Raidt se 2019-boek gesê nie. Ook nie hoe die destydse (taal)gebeure in Mosselbaai taal in die omgewing van Tafelbaai kon beïnvloed nie. Dit is werklik ‘n verregaande en lagwekkende poging om na strooihalms te tas ten einde blankes se inisiatief met Afrikaans verdag te maak. Seker by geen ander taal word daarop aanspraak gemaak dat dit op so ‘n absurde manier ontstaan het nie.

Deesdae is die gewoonte dat as ‘n mens nie van iets hou nie, dit ‘n konstruk genoem word. Standaardafrikaans is volgens Du Plessis nie net ‘n konstruk nie maar die somtotaal van al die variëteite van Afrikaans. In werklikheid is Standaardafrikaans egter ‘n konstruk omdat ‘n keuse uit daardie variëteite gemaak is en steeds gemaak word. In hierdie konteks kon Du Plessis sy afkeuring van Kaaps in soverre dit Engels is, uitgespreek het, maar hy het dit klaarblyklik nie gedoen nie. In plaas daarvan het hy polities korrek die volgende stommiteit kwytgeraak: Afrikanernasionalisme het die Afrika-hart uit Afrikaans geruk. Die vernederlandsing van Afrikaans het glo Afrikaans verarm. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer: Hollands/Nederlands het Afrikaans verryk. Afrikaans kan hom nie van sy Nederlandse grondslag losmaak nie. In talle opsigte kwalifiseer Afrikaans steeds as ‘n dialek van Nederlands.

Braam Hanekom het gekom met die eienaardig gedagte dat die NG Kerk in die Wes-Kaap op grond van taal en ingevolge die Belhar-belydenis met die VGK kan verenig. Hierdie naïewe mens besef nie in watter mate die VGK verengels het en Afrikaansdislojaal is nie. Die vereniging van die NGK met die VGK sal die gatslag vir Afrikaans as kerktaal wees. Kan Hanekom hom voorstel dat ‘n sinode van ‘n verenigde NGK/VGK Afrikaans as voertaal sal duld?

Michael le Cordeur, in ‘n Afrika-hempie getooi, het beweer dat Afrikaans swaar dra aan die Nasionale Party se bewind, terwyl dit in werklikheid die bloeitydperk van Afrikaans was. Om Afrikaans ‘n witmanstaal te noem, is glo om dit te stigmatiseer. Dus, wat met blankes geassosieer word, is sleg. Hoekom? Seker omdat blankes in Le Cordeur se oë verwerplik is. ‘n Moskee in die Bo-Kaap is volgens Le Cordeur dalk ‘n groter hoeksteen vir Afrikaans as die Taalmonument. Het iemand Le Cordeur gekonfronteer oor sy openlike ondersteuning van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch? Klaarblyklik nie, maar dan word wat hy oor Afrikaans te sê het, steeds ernstig bejeen en onkrities aangehoor.

Anton van Niekerk het die skuld vir die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch (US) aan die studente probeer toeskryf; dat hulle nie sterk genoeg oor Afrikaans as onderrigtaal voel nie. Daarmee verdoelsel hy sy eie skandalige aandeel, soos gedokumenteer deur Pieter Kapp, in die bevordering van die verengelsing en die afskaling van Afrikaans aan die US. Hiervoor is hy nie voor stok gekry by hierdie byeenkoms nie, wat skynbaar in eensydigheid en valsheid uitgemunt het.

Afrikanernasionalisme is tydens hierdie byeenkoms verdoem, maar geen woord van kritiek is teen swart nasionalisme geuiter nie. Apartheid, wat wesenlik op blanke selfbehoud ingestel was, word sonder meer verwerp, maar die terrorisme en ander dade van geweld wat deur die terreurbendes van die ANC/UDF en PAC gepleeg is ten einde die politieke mag te bekom, word veronderstel om voortreflik te wees.

Aan Afrikaans word die negatiewe etiket van verdrukking geheg. Terreurdade wat deur ANC-kamerade in Afrikaans gepleeg is, word egter getakseer asof aan sulke onbeskaafdheid ‘n positiewe etiket geheg moet word. Die ANC-terroris, Basil Kivedo, het bv voorheen vertel hoe hy “sabotasie in Afrikaans gepleeg het, hoe ek in Afrikaans die kleefmyn gemonteer en gedetoneer het.” Jacques van der Elst, as uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het goedkeurend na Kivedo se Afrikaanse terrorisme verwys. Die talle opsigte waarin die stryd om die behoud van Afrikaans ontaard het, is ontstellend en saai vertwyfeling oor die oorlewingsmoontlikhede van Afrikaans. Ander instansies en mense as dié wat deesdae luidrugtig menings oor Afrikaans uiter, moet liefs op die voorgrond tree en ‘n stryd ten bate van eerbare, suiwer Afrikaans voer.

Die teks van Hein Willemse se voordrag is op 4 April op LitNet gepubliseer. Ek het dit nie nodig gevind om enigiets te verander aan wat ek hierbo na aanleiding van De Vries se weergawe geskryf het nie. Wat Willemse en diesulkes skryf, word deur LitNet as publiseerbaar geag. Wat ek skryf, word egter van LitNet-lesers weerhou. Behoort dit ‘n bron van trots vir LitNet te wees? Word Afrikaans op hierdie manier ten beste gedien?

—Johannes Comestor

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.