NG Kerk-dominee verwerp Calvinisme, omhels ‘diversiteit’ (Islam en Judaïsme)

Deel op

‘n NG-predikant van die Groote Kerk in Kaapstad, ds. Riaan de Villiers, het ‘n herrie ontketen omdat hy na afloop van ‘n kerswaak vir die vermoorde Moslems van Christchurch gesê het dat die Calvinistiese uitverkiesingsleer verwerp moet word. Alle gelowe moet omhels word en dit sou selfs “rassisties” wees om te glo dat alleenlik Protestantse Christene gered word.

Hy het ook gesê dat “Jesus oor Moslems treur”. Gewoonlik word Christene deur Moslems as “ongelowiges” beskou, met verskeie verse in die Koran wat Moslems oproep tot djihad of “heilige oorlog” teen die ongelowiges.

Lede van De Villiers se gemeente is aangemoedig om verlede Sondag die kersweek in die Anglikaanse St. Georg-katedraal in Kaapstad by te woon.

Volgens ds. Riaan de Villiers is die aanval deur Brendon Tarrant in Christchurch op ‘n moskee die “produk van ’n giftige vermenging van denkwyses soos onder andere nasionalisme, rassisme, vreemdelingehaat en misplaaste geloofsoortuigings van uitverkorenheid.”

By implikasie het De Villiers Protestantse Calviniste wat wel aan die uitverkiesingsleer glo as “medepligtig” aan Brenton Tarrant se terreurdaad beskou kan word.

“As die kerk dié sienings in hulle midde akkommodeer of toelaat, is hulle medepligtig,” het De Villiers gesê.

Daar is ook gepraat van “Moslembroers en -susters”, waaroor De Villiers sedertdien gekritiseer is.

Ds. Riaan de Villiers het aan Die Kerkbode verklaar: “In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur.”

Die Kerkbode berig verder dat Jacques Strydom, ’n lidmaat van die Groote Kerk, sê hy het eers die waarde van die kerswaak besef toe hy sien hoe “divers” die bymekaarkoms is. “Dit maak my opgewonde dat kerke nie net oop kan wees vir verskillende mense nie, maar selfs ook vir ander gelowe,” sê hy.

Intussen woed ‘n polemiek rondom De Villiers se uitsprake op die Facebook-blad van Die Kerkbode.

In sy reaksie het ds. Schalk Strauss van die APK gesê: “Ek glo nie wat ek lees nie! Niemand keur die sinnelose geweld goed nie, maar om te beweer: ‘In Christchurch is kinders van God met onbeskryflike geweld om die lewe gebring terwyl hulle besig was om te bid. Jesus treur hieroor en sy kerk behoort hierdie mense te omarm en saam te treur’, is verregaande! Jesus Christus treur eerder oor valse uitsprake soos hierdie!”

In nog ‘n plasing op Facebook, sê Hans Steyn: “Die dominee moet van sy amp ontneem word en geskors word vir die skokkende uitlating — Moslems is mense en verdien simpatie maar hulle bly heidene.”

Sowel die Anglikaanse Kerk van Suid-Afrika as die Joodse Raad van Afgevaardigdes het vóór 1994 terreuraanvalle op onskuldige burgerlikes in Suid-Afrika ondersteun of goedgepraat. ‘n Moslem, Aboobaker Ismail, het ‘n sleutelrol gespeel om die Kerkstraatbom van 20 Mei 1983 te laat ontplof.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.