Leon Lemmer: Adam Habib: ‘n Gladdejantjie oor die studente-onrus

Adam Habib sit onderdanig voor sy aggressiewe Fees Must Fall-studente.

Sedert 2015 is daar studente-onrus in Suid-Afrika. Dit is deel van die onverkwiklike, gewelddadige werklikheid wat as die nuwe Suid-Afrika bekend staan. Die studente-onrus het in Maart 2015 begin met die RhodesMustFall-beweging [RMF]. Max du Preez het die eis vir die verwydering van Cecil John Rhodes se standbeeld op die kampus van die Universiteit Kaapstad goedgepraat met die naïewe opmerking dat hy nog nooit van Rhodes gehou het nie. In Oktober 2015 is die onrus met hernude ywer voortgesit in die FeesMustFall-beweging [FMF]. Met Susan Booysen as redaktrise is die volgende boek gepubliseer: Fees must fall: Student revolt, decolonisation and governance in South Africa (Johannesburg: Wits University Press, 2016, 350p, R350). Die boek handel oor die beginmaande van die onrus (Oktober 2015 tot Junie 2016). Die skade aan universiteitseiendom het toe reeds R460 miljoen beloop (p 37). Maar die departement hoër onderwys “calculated the total cost of the damage to the infrastructure of South African universities in 2015 to be R1 billion” (Adam Habib, bron hier onder, Kindle 1060).

‘n Goeie opsomming van die aanloop tot en verloop van die onrus word in Booysen se boek verskaf (318-327). Soos uit die boektitel blyk, het dekolonisering* die wagwoord in die plek van transformasie geword. Volgens Andile Mngxitama beteken dekolonisering “burn down the university” (146). “Oppression outweighs property damage much of the time” (299). Soos die benamings RMF en FMF aandui, is daar nie ‘n begeerte om konstruktief/opbouend te wees nie. Fallisme is op afbreking/vernietiging ingestel. “The emphasis is on physical violence (largely in the form of burning material campus symbols and infra-structure) in response to the brutalisation wrought by structural violence” (10). Strukturele/sistemiese geweld duur glo voort weens onder meer “the incomplete and compromised 1994 transition” (16). In FMF-geledere is geweld gedefinieer as “an experience of structural oppression” en as “a defence against dehumanisation” (329).

[* “Decolonisation was seen as distinct from transformation, which was deemed a reformist programme reflective of the politics of the ‘rainbow nation’. By contrast, decolonisation … represents a much deeper notion of change – one that forces universities to delink themselves from their apartheid and colonial moorings and re-establish themselves in the postcolonial moment” (Habib 1964).]

FMF het van die begin af ‘n reeks protesaksies omvat, “ranging from the boycotting of classes, to the barricading of entrances and exits, to the hostage taking of council members, to the expression of slogans such as ‘kill all whites’, to the production of a film and the erection of a symbolic shack, to the marches on major sites of political power, to the throwing of petrol bombs at buildings and buses, to the burning of books, tyres, artworks, buildings and cars, to the spread of human faeces on a statue and in lecture halls, to the blocking of traffic on roads outside university campuses and the throwing of bricks at motorists, and to the threats to shut down polls during municipal elections” (294). Kortom, die ANC se onbeskaafde, gewelddadige handelinge tydens die “bevrydingstryd” dien as voorbeeld vir FMF-aksies en word tot op hede voortgesit. Dit is wesenlik ‘n pro-swart- en anti-blanke veldtog. “#FMF was a black-led struggle for radicalism” (26).

FMF is deur die ANC-regering veroorsaak. In reële terme is die owerheidsubsidie aan universiteite elke jaar verminder. Dit het aanleiding gegee tot jaarlikse verhogings in studie-onkoste wat hoër as die inflasiekoers was. Universitêre studie het onbetaalbaar duur geword, gevolglik is studente gemobiliseer om teen die hoë studiegeld te betoog; aanvanklik vir ‘n laer, inflasieverwante verhoging, daarna vir geen verhoging nie en mettertyd vir gratis tersiêre onderwys. ‘n Ander opsig waarin die ANC-regering FMF veroorsaak het, is dat hy die indruk wek dat (feitlik) enigeen die reg op tersiêre onderwys het; dus dat bv iedere universiteit jaarliks al hoe meer studente moet toelaat. Dít ten spyte van die feit dat meer as die helfte van die studente nie hulle studie suksesvol voltooi nie. Die universiteite het op hulle beurt fouteer deur ANC-gedienstig hulle toelatingsvereistes te verlaag en boonop dosente op nie-akademiese gronde (bv ras en geslag) aan te stel en te bevorder. Dit is in reaksie op ‘n FMF-eis soos: “We require alternatives to structures which mainly benefit straight white middle-class men” (55). “There is an ideological and political coherence between much of the #FeesMustFall movement and African National Congress (ANC) government” (8; ook 26).

Booysen se boek word oorheers deur die menings van studente en ander linkse elemente, bv dosente. Dit is ‘n geval van “scholarly secondary voices and activist primary voices” (vii). Akademiese oorwegings word deur politieke voorkeure oorheers. Asof dit ‘n mensereg is, word die belange van swartes sonder meer ten koste van dié van blankes bevorder. “Athabile Nonxuba defines Fallism as ‘an oath of allegiance that everything to do with oppression and conquest of black people by white power must fall and be destroyed'” (4). Die universiteit word as uitgangspunt gebruik: “Students are re-imagining the functioning of a university” (54-55). Dit gaan egter nie net om die herdefiniëring (bv dekolonisering) van universiteite nie, maar om die revolusionêre verandering van die hele (plaaslike) samelewing. “The fight is to free our education completely, permanently and ultimately free society” (111).

Marxisme speel ongetwyfeld ‘n deurslaggewende rol. Die marxis, Louis Althusser (1918-1990), het “universities as extensions of the state apparatuses” beskou (28), vandaar die FMF-strategie om anargie op universiteitskampusse te saai ten einde die regering te dwing om aan die studente se eise toe te gee. Dit is in ooreenstemming met Frantz Fanon (1925-1961) se idee van dekolonisering: “a program of complete disorder” (58). Booysen skryf: “It was a modest but reasoned step to move from nonracialism and cross-class unity to the identity politics of black consciousness, African nationalism, intersectionality, assertive feminism and post-patriarchy” (6-7). Hierdie boek is ‘n klassieke voorbeeld van “activist-scholarship” (viii).

Rebels and rage

Die geskiedenis van die FMF-beweging is onlangs tot 2018 aangevul in Adam Habib (gebore in 1965) se boek, Rebels and rage: Reflecting on #FeesMustFall (Jeppestown: Jonathan Ball, 2019, 238p, R250; Amazon Kindle $16,09). Habib is sedert 2013 die rektor van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits). Voor dit was hy ‘n dosent aan die Universiteit Durban-Westville en later verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Hierna was hy ‘n vise-rektor van die Universiteit Johannesburg. Na verstryking van sy eerste termyn as Wits-rektor is ‘n semester studieverlof aan Habib toegestaan. Met die finansiële ondersteuning van die Ford Foundation* het hy in 2018 ses maande lank aan die Hutchins Center for African and African-American Research, Harvard University, deurgebring en hierdie boek geskryf (Kindle 194).

[* Dit is ironies dat ‘n filantropiese fonds wat sy stigter, die polities regsgesinde Henry Ford (1863-1947), se van dra, ontaard het in ‘n uiters linksgesinde instansie; dermate dat Henry Ford II (1917-1987) in 1976 as trustee bedank het omdat hierdie stigting te anti-kapitalisties geword het.]

Aan Wits is Habib die opvolger van Loyiso Nongxa (1768). Vir ‘n Indiër en daarby ‘n Moslem (2367) om ‘n swarte se plek as Wits-rektor in te neem, verg ‘n sterk struggle-getuigskrif. Volgens eie erkenning is sy denke deur veral Karl Marx (1818-1883) en Leon Trotsky (1879-1940) beïnvloed. Habib verwys na die rol wat ‘n boek van Vladimir Lenin (1870-1924) in sy “political past” gespeel het, naamlik Left-wing communism: an infantile disorder, “a polemical text in which the leader of Bolsheviks lays into ultra-left traditions in the communist movement for their failure to appreciate the importance of tactics and strategies and the necessity of compromise in the struggle to advance the revolution” (944). Dat Habib radikaal linksgesind is, blyk uit die feit dat hy van 2006 tot 2010 weens die vermoede van aandadigheid aan terrorisme toegang tot Amerika geweier is (Wikipedia)

Vroeër het Habib ‘n doktorsgraad aan die City University in New York verwerf. Politieke wetenskap is sy spesialiteitsgebied. Sy vorige boek is South Africa’s suspended revolution: Hopes and prospects (Wits University Press, 2013). Sy marxistiese oriëntasie, in die Lenin/Trotsky-idioom, blyk reeds duidelik uit die boektitel. Hy begeer verdere revolusionêre verandering: “breaking out of our structural impasse and achieving progressive outcomes” (127). Fatima is Adam se Eva. As studente was albei United Democratic Front- (UDF-) aktiviste. Habib is ‘n uitgeslape kalant wat vinnig op sy voete kan dink terwyl hy ‘n saak in mooi klinkende voue lê; ‘n gladdejantjie (“smoothie”).

Habib begin sy boek op ‘n marxisties-globalistiese noot: “We recognise that things can and must change … our collective commitment to addressing inequality within the global academy. If we truly believe in an egalitarian world, then we need to work towards a global academy of commons … Universities can only successfully contribute to addressing inequality if … they enable access for students from poor communities” (93). Marxiste erken nie ras- en etniese verskille nie; slegs klasverskille. Dwarsdeur sy boek gee Habib voorkeur aan armes en gemarginaliseerdes pleks van aan akademies bekwame studente. “The overall goal in our student recruitment was to achieve a strategic balance between demographic representation and cosmopolitan orientation” (136). Marxisme/kommunisme is ‘n sodanige wêreldwye verskynsel. Habib stel “an alternative future” in die vooruitsig (2094).

Habib loof die marxis, Neville Alexander (1936-2012), se boek, One Azania, one nation (1979), waarin Alexander onder die skuilnaam No Sizwe hom onder meer oor Afrikanernasionalisme uitlaat (118). In sy intreerede as Wits-rektor het Habib na “great activists and organic intellectuals” soos Antonio Gramsci (1891-1937) en Steve Biko (1946-1977) verwys (127). Habib is uiters linksgesind en eenogig, bv “I am particularly supportive of the Palestinian struggle, given the atrocities that the Israeli state has been party to” (424). Nelson Mandela word Suid-Afrika se “most illustrious son” genoem (703). Habib verwys ook na “one of the ANC’s most beloved elder couples, Walter and Albertina Sisulu” (893).

“In the late 1990s … the University of Transkei [UT] effectively embarked on a strategy to address its historical infrastructure disparaties by deliberately pursuing a financial deficit” (109). Hy noem die UT “one of the country’s strongest historically black universities,” terwyl die UT dit nooit was nie. Implisiet is ‘n verwyt gerig aan die “apartheidsregime”. Die waarheid is dat die blanke politieke bewind die UT uit die grond opgebou het. Soos in die geval van al die ander universiteite vir nie-blankes is ‘n spesiale jaarlikse vestigingsubsidie deur die blanke politieke bewind aan die UT betaal. Om bekwame blanke dosente na swart plattelandse universiteite te trek, is ‘n spesiale gebiedstoelae maandeliks aan iedere sodanige dosent betaal. Die latere finansiële ondergang van die UT is deur wanbestuur veroorsaak. Toe blankes in beheer van die UT was, was dit finansieel gesond. Nadat swartes beheer oorgeneem het, is finansiële dissipline oorboord gegooi. Studenteskuld het toegeneem en geen daadwerklike pogings is aangewend om die skuld in te vorder nie. Anders as die tradisioneel blanke universiteite is die tradisioneel swart universiteite vir inkomste grootliks van klasgeld en owerheidsubsidie afhanklik. Hulle doen nie genoeg moeite om ander inkomstebronne te ontgin nie. Anders as by die eens blanke universiteite is daar by die swart universiteite geen noemenswaardige vrywillige finansiële ondersteuning uit die gemeenskap nie, onder meer omdat daardie universiteite in veel groter mate as die tradisioneel blanke universiteite ‘n swak naam verwerf het omdat hulle bedrywighede te dikwels deur bv boikotte en onrus lamgelê word.

Wat die falliste gemeen het, is “all questioned the identity of the university and what it meant to be an African institution in the 21st century” (144). Die Europees-Westerse wortels van Wits en van die universiteitswese as sodanig word agterweë gelaat. Wits en die ander tradisioneel blanke universiteite moet teen wil en dank verander word. “It was unacceptable for black students not to feel at home at South Africa’s public universities” (152). En blanke studente? Nêrens breek Habib ‘n lansie vir hulle nie. Weens verswelging deur swartes voel blankes al hoe meer ontuis aan die eens blanke universiteite. Aan die tradisioneel swart universiteite kon blankes nog nooit tuis voel nie.

“The #FeesMustFall movement began at Wits” (152). Dít is ‘n bron van trots vir Habib omdat hy dit as “a legitimate social struggle” beskou (686). Solomon Mahlangu (1956-1979) is weens sy militante MK-bedrywighede ter dood veroordeel. Habib noem MK-terrorisme “a noble cause” (225). Mahlangu “became the mythological mascot of South Africa’s #FeesMustFall protest” (225). Die groot mate waarmee Wits hom amptelik met MK-terrorisme en FMF vereenselwig, blyk uit die feit dat die gebou wat as Senate House bekend gestaan het tot Solomon Mahlangu House hernoem is (274). Daar is ook die Robert Sobukwe Building (1191), die Umthombo Building (1306) en die Steve Biko Centre for Bioethics (1298). “13 new buildings and other sites have been renamed” (2054). Dít moet noodwendig minstens sommige blankes vervreem maar Habib bekommer hom eerder oor die swartes en kla oor die blankes se “failure to understand the alienation that black staff and students experience” (2136). Daar is ‘n Black Students Society (3481) en heel moontlik ‘n personeelvereniging vir swartes, maar sulke eksklusiewe organisasies ter beskerming van blankes se belange is seker(lik) ontoelaatbaar.

‘n Opsig waarin Habib as rektor deesdae met die historiese ANC/MK verskil, is dat hy kampusgeweld afkeur (383). Hy verwys na die Sanlam-ouditorium van die Universiteit Johannesburg wat afgebrand is. “It is this blasé attitude towards violence that has come to haunt both the #FeesMustFall movement and the universities, and it is perhaps the single greatest curse afflicting South Africa’s contemporary political system” (1084). Die ANC is ongetwyfeld die vader van die voortgesette politieke geweld in Suid-Afrika, met Nelson Mandela as die ANC-lid wat eerste die geweldsopsie bepleit en toegepas het ten einde die politieke doelwit van swart oorheersing te bereik. Soos die ANC redeneer Habib dat geweld in die blankbeheerde ou Suid-Afrika geregverdig kan word maar nie in die nuwe demokratiese Suid-Afrika waarin swartes beheer uitoefen nie. “Fanon and Biko wrote about revolutionary violence in the crucible of the colonial struggle. Is it legitimate to transpose these ideas onto a democratic era, which … provides the space not only for protest, but also the right to vote out the political elite?” (3564). Terwyl Habib die Wits-rektor is, sal hy teen geweld op die kampus wees.

Habib karakteriseer die ideale universiteit tereg as “a safe and free space for ideas” (160) maar dit is deesdae nie naasteby die geval nie. Anders as voorheen het dit op die kampusse te gevaarlik geword om saans klasse aan te bied of toetse en eksamens te skryf. ‘n Vrye vloei van linkse idees vind sonder beperkings plaas maar standpunte regs van die middel word nie geduld nie. Aan Wits is daar ‘n “Israel Apartheid week” (424), maar daar sal nie ‘n pro-Israel-week wees nie; nog minder ‘n pro-Afrikaner- of pro-Afrikaansdag, al was iemand soos bv NP van Wyk Louw (1906-1970) jare lank (1958-1970) ‘n Wits-dosent. Die Afrikaansdepartement is gesluit. Daar is nie ‘n Van Wyk Louw-gebou nie. Die “intellectually vibrant and humane university that we collectively envisioned” (168) is wat Afrikaners en Afrikaans betref ‘n verbeeldingsvlug. Dit grief des te meer omdat Wits se buuruniversiteit, die Randse Afrikaanse Universiteit, in ‘n oorwegend swart Engelsmedium University of Johannesburg ontaard het.

Wanneer ‘n mens die boek lees, is dit kwalik voorstelbaar dat Wits om akademiese redes bestaan; dus dat onderrig aangebied en navorsing gedoen word. Politieke bedrywighede oorheers. “Almost all of the student leaders’ academic performance was poorer than it should have been” (457). Die opstandige studente wil hê dat hulle tydens (massa)samekomste volgens die meerderheidsmening universitêre besluite neem (936). Dít terwyl seker die meeste van hulle nie eerstehandse ondervinding van ‘n ordentlik funksionerende skool het nie; om van ‘n universiteit, wat ‘n andersoortige opvoedkundige inrigting is, nie te praat nie. Desnieteenstaande word dit telkens toegelaat dat ‘n student die voorsitter is by byeenkomste waar daar van Habib of ander bestuurslede verwag word om op te tree (bv 1314). In die sug na demokratisering word die studente toegelaat om in ‘n te groot mate beheer oor sake uit te oefen. “Some students are particularly rude in the classroom” (2103) en “some students [are] manipulating race to bypass assessment processes” (3153).

Vir FMF het dit om veel meer as akademiese sake gegaan. “There were calls for the termination of all legal contracts with service providers, the immediate insourcing of all employees working in outsourced service companies, the dissolution of the Senate and Council, and the reimagining of the university so that all substantive decisions were made in an assembly with all stakeholders, including the students” (962). In 2000 het Wits tereg die bestuur en administrasie van werkers aan kommersiële maatskappye uitgekontrakteur. Dit is bekend dat private ondernemings meer doeltreffend en ekonomies as openbare ondernemings funksioneer. Universiteite bespaar dus koste met uitkontraktering en word in staat gestel om op hulle kernfunksies, onderrig en navorsing, te konsentreer.

Dit is heeltemal verkeerd dat toegelaat is dat die werkers en die studente teen die universiteit saamspan deur die inkontraktering van werkers te eis. Dit is ‘n nie-akademiese saak wat niks met studente as studente te make het nie, maar wel met studente as aktiviste. Habib is ten gunste van inkontraktering. Let op die mooi voue waarin hierdie gladdejantjie die saak lê: “A progressive pragmatism began to dominate Senate deliberations – one in which achieving socially just outcomes was still important, but in which these outcomes were to be achieved in a way that preserved the essence of what it meant to be a university and recognised that we operate in the world that exists, rather than one we wish existed” (970).

Die werkers, sowat 1 500, wat by inkontraktering betrokke was, sluit talle groepe in: “cleaning, catering, grounds, waste, security … [and] maintenance” (1541). Wat was die resultate van die inkontraktering? Sekerlik nie hoër produktiwiteit en ‘n verbetering in die gehalte van die werk wat gelewer word nie. “The quality of the services had declined” (1674). Dít en aansienlik hoër uitgawes is weens die inkontraktering van werkers genoodsaak terwyl die studente vir laer studiegeld betoog, asof dit nie teenstrydig is nie. “Their remuneration tripled in under two years” (1681). Wat inkontraktering betref “government … refused to provide financial support” (3456). Aan bv die Universiteit Kaapstad het inkontraktering veroorsaak dat talle professore uit diens gestel is. In ruil daarvoor het werkers kollegas met siektefonds- en pensioenvoordele geword wie se kinders voortaan op vrystelling van studiegeld geregtig is. Hiermee het universiteite aan “sosiale verantwoordelik/geregtigheid” gewen maar akademies is groot verliese gely.

Die vergoeding van Wits se uitvoerende bestuurslede het ook onder die soeklig gekom en is as buitensporig bestempel (1624). Die teenargument is dat hulle vergoeding mededingend moet wees. Soos Jonathan Jansen roem Habib daarop dat hy behoeftige studente uit sy eie sak met studiegeld ondersteun (1640). Dit in sigself kan daarop dui dat hy te veel geld “verdien” (eintlik: ontvang). Die kernfunksies van die universiteit is onderrig en navorsing. In hierdie opset is die professore dus die kernelemente. ‘n Rektor ontvang ongeveer dubbel die vergoeding van ‘n professor. Dit kan nie geregverdig word nie. In 2014, dus op die vooraand van die studente-onrus, het Habib ‘n jaarlikse salaris van R3.353 miljoen ontvang. Wat nodig is, is dat die rektor se vergoeding aan dié van dosente gekoppel moet word. Hy moet nie meer as 50% meer as ‘n professor ontvang nie. Daar is deesdae ook talle ander poste, bv dié van vise-rektore en direkteure, waaraan salarisse gekoppel is wat hoër as dié van ‘n professor is. Baie geld kan bespaar word deur sulke poste, sowel as die vergoeding daaraan verbonde, te verminder. Die spandabele Jacob Zuma het net een adjunk gehad, maar ‘n rektor kan die luukse van bykans ‘n halfdosyn adjunkte, elk met allerhande byvoordele, hê.

Die plaaslike universiteite is nie meer wat hulle eens was nie. Voorheen was daar blanke en swart universiteite, asook Afrikaanse en Engelse universiteite. Ook oorwegend behoudende/regse en progressiewe/linkse universiteite. Dus gesonde diversiteit. Deesdae is hulle almal in oorheersende mate gehomogeniseer tot linkse swart universiteite met Engels as onderrigtaal. “The university system expanded from about 420 000 students in 1994 to about 1.1 million in 2014” (489). “Because 55 per cent of university students did not graduate, the sector was not providing sufficient returns on investment” (761). Hoe meer studente jaarliks toegelaat word, hoe hoër styg die druipsyfer, tensy akademiese standaarde, soos die toelatingsvereistes, verder verlaag word. Wat nodig is, is strenger keuring van studente op akademiese gronde, bv bewese akademiese prestasie, en die handhawing of verkieslik verhoging van akademiese standaarde in die toetse en eksaminering.

Universiteite behoort elitistiese inrigtings te wees, waar die room van die samelewing versamel word en nie die gepeupel op grond van bv velkleur, geslag of armoede nie. Habib, daarenteen, gee voorkeur aan ‘n universiteit as deel van “a global academy of commons” (93). In die praktyk vaar rasgroepe akademies nie almal ewe goed nie maar dit word aan die skoolstelsel toegeskryf. “White and Indian students, who often perform better in these tests as a result of better schooling systems” (1777). In bv Amerika vaar dieselfde twee rasgroepe beter as die ander groepe. Wat doen Wits hieromtrent? Hy diskrimineer teen presterende blanke en Indiërstudente. “[They] are required to achieve a higher point score to gain entrance than African and Coloured students” (1785). “Forty per cent of seats in the MBChB programme are now determined simply on the basis of academic results” (1785). Ook hier word toegelaat dat “sosiale verantwoordelik/geregtigheid” swaarder as akademiese oorwegings weeg. Maar daardie 40% wat op akademiese gronde tot MBChB-studie aan Wits toegelaat word, is hoër as by bv die fakulteit geneeskunde van die Universiteit Stellenbosch. Die US se ANC-gedienstigheid het skynbaar geen perke nie.

Aan Wits is daar sowat 36 000 studente (2580). Wits is nie meer die universiteit wat hy eens was nie. Dit het bv ‘n oorwegend swart universiteit geword. In 1994 was 35% van die studente swart. In 2018 was dit 82%. “Blacks comprise 90 per cent and Africans 79 per cent of professional and administrative staff … Black staff comprise 49 per cent and Africans 32 per cent of academics … Much still needs to be done. More needs to happen on the academic staffing front and in the senior management cohort” (1711). Waarmee Wits besig is, is “accelerating transformation” (1947) en “approaching our demographic targets” (1719). Wat hier bepleit word, is dat Wits al hoe meer ontwit moet word. Die “wit” moet as’t ware uit Wits gehaal word. Onderliggend is die uitgangspunt van gelykheid/eendersheid; dus dat die personeel in al die afdelings en op alle vlakke veral die swart demografie moet weerspieël. Dít sou polities korrek wees, maar sekerlik nie akademies korrek nie. Habib verwys egter goedkeurend na “transformation and its gains” (1727).

“The African and Coloured staff … expressed much concern about the low numbers of African academic staff and the dominance of whites among the professoriate. There were some expressions of concern that academics from the rest of the continent were prioritised in appointments … There was even the suggestion that there should be a moratorium on the appointment of white staff” (1907). Dit kom neer op anti-blanke rassisme. Hierdie nie-blanke personeel wil op grond van ras bevoordeel word en in die proses blankes benadeel. Talle swart dosente uit die res van Afrika is sedert 1994 aan die plaaslike universiteite aangestel, dikwels omdat in die naam van transformasie voorkeur aan hulle bo plaaslike blanke kandidate gegee word. Die res van Afrika word deurlopend van sy karige voorraad gekwalifiseerde akademici ontneem. In hierdie opsig word daar nie sorg gedra dat “sosiale verantwoordelikheid/geregtigheid” teenoor ander Afrika-lande geskied nie.

Ras speel ‘n groot, soms deurslaggende, rol by Wits en in die res van die nuwe “nie-rassige” Suid-Afrika. Wanneer swartes onsuksesvol by bevorderings is, “[they] simply assumed that the outcome was due to racism. In one particular case, the staff member repeatedly challenged the outcome on racial grounds, even though the entire promotions committee comprised black staff. In addition, in multiple cases staff who had been dismissed or were being dissiplined for corruption, sexual harassment or other serious violations cynically resorted to playing the race card as their first defence. It has also become common for parents of all races to challenge our admission decisions by alleging racism when their child is not admitted” (2171).

Soos dit ‘n politieke aktivis sedert die apartheidsera betaam, hou Habib nie van polisie-teenwoordigheid op die kampus nie, al is die polisiediens nie meer ‘n skaduwee van die doeltreffende organisasie wat dit eens was nie. “Our police force is neither appropriately organised nor adequately trained for a democratic society” (3606). Tydens onrus is by voorkeur private sekuriteitspersoneel op die Wits-kampus ontplooi, wat volgens Habib se opdragte moes optree. Die polisie handel egter volgens eie goeddunke en laat hulle nie deur Habib en andere voorskryf nie. Wanneer onrus ernstige afmetings aangeneem het, is die polisie ontbied. Dit het die gewenste uitwerking gehad: “The presence of police and private security deterred any violence” (986). “Clearly, the police and private security had stabilised matters” (1002).

Oor polisie-optrede is Habib kwaai gekritiseer, onder andere deur verlinkse Wits-personeel. Tydens studente-onrus was Habib ampshalwe verplig om Wits se belange bo sy eie politieke voorkeure te stel. Hy was dikwels oorhoops met verlinkse personeel, bv dosente, wat die studente-onrus opgestook het. Wits se Centre for Applied Legal Studies het gearresteerde studente bygestaan. Habib skryf: “We were comfortable with their doing this” (1068). Dit is ‘n verskynsel wat hom ook aan die ander universiteite voorgedoen het; dat sommige personeellede die misdadige studente simpatiek gesind was en hulle waar moontlik gehelp het, maak nie saak hoeveel skade hulle aangerig het nie.

Wits wou bv hê dat een van die belhamels in die studente-onrus uit polisie-aanhouding vrygelaat word. “We had even contemplated housing him at my official residence … In the end, we made arrangements with the Jesuit Institute to provide housing for him in the city centre” (2758). Daar is dus agteroor geleun om hierdie voorbok goed te behandel, asof hy iets goeds vir Wits en die samelewing gedoen het. “We would not stand in the way of student leaders being released” (2909). Habib is voorwaardelik ten gunste van amnestie vir misdadige studente. “I could only support the call for amnesty if it were qualified and the protesters acknowledge that violence and arson are not legitimate strategies for protest in universities and democracies” (3639). Dit is om misdadigers wat miljoene rande te skade aangerig het heeltemal te lig daarvan te laat afkom. My standpunt is dat hulle, indien nodig, lewenslank dwangarbeid moet verrig, dus totdat hulle arbeid verrig het wat die ekwivalent is van die skade wat hulle aangerig het.

Dosente in veral sosiologie en sosiale/kulturele antropologie het uitgemunt in hulle sabotering van universitêre gesag en dissipline. Dit geld ook ander dosente in die humaniora en sosiale wetenskappe. Veral in hierdie geledere is leerplanne gedekoloniseer (1972). “The Humanities faculty … often prided itself on having the most politicised and socially conscious academy in not only the institution, but also the country” (1379). In uitsonderlike gevalle is studente geskors, maar dit is gewoonlik kort daarna opgehef (1076). ‘n Mens sou eerder dink ‘n universiteit is ‘n opvoedkundige inrigting en dat alles moontlik gedoen sou word om misdadigers swaar te straf. Hulle vernietig eiendom en skend immers die regte van studente wat ongehinderd wil studeer.

Die aanleiding vir FMF was oënskynlik hoë studiegeld. Maar baie studente betaal nie die studiegeld wat hulle skuld nie en kom weg daarmee omdat groot bedrae telkens afgeskryf word. In daardie sin geniet die nie-betalers reeds gratis universitêre onderrig. Studielenings word in baie gevalle nie terugbetaal nie. Teen die einde van 2015 “the total historical debt had already crossed the R100 million threshold – the financial burden of clearing this debt would be unsustainable for the institution … The protesters believed that, if there was to be no free education, there should be no education at all” (1174). Daarom is gepoog om die kampusse in die ANC-idioom onregeerbaar te maak. Habib en Wits “support the idea of free education and highlight the inclusive benefits that society could derive from it” (1403). Gratis studie moet onderrig-, akkommodasie- en onderhoudskoste insluit (1412). Soos tydens slawerny moet alles aan die (arm/swart) student voorsien word.

Jacob Zuma het na aanleiding van die studente-protes in 2015 aangekondig dat studiegeld nie in 2016 verhoog sou word nie. Die staat sou die universiteite vir hierdie verlies vergoed. Op 16 Desember 2017, kort voor die ANC se verkiesing van die volgende president, het Jacob Zuma onverwags aangekondig: “Free education for all students in universities and technical vocational education and training (TVET) colleges with family income of less than R350 000 per annum. The plan was to be implemented over five years and would commence with new first-year students in the 2018 academic year” (3080). Hoekom het Jacob Zuma dit gedoen? “To tilt the scales at the [ANC] conference in favour of his preferred candidate, Nkosazana Dlamini-Zuma” (3080). Maar Cyril Ramaphosa is tot president verkies. Sowat 40% van die studente sal mettertyd by gratis studie baat, maar die finansieringsprobleme van studente uit huishoudings met ‘n inkomste van minder as R600 000 per jaar, die sogenaamde “missing middle” – “the vast majority of students at universities like Wits and UCT” (3088) – word nie hiermee aangespreek nie.

Die gevolge van hierdie besluit van Jacob Zuma is ingrypend. Swartes het weer bewys dat geweld ‘n doeltreffende manier is om die verlangde resultate te behaal. “Violence had become an ‘addictive reality’ for many Fallists” (3555). “It is incontestable … that … there was an almost infantile romanticising of violence” (3555). Maar let op hoe gladdejantjie Habib dit elders vertolk: “It must be said that, at least at the rhetorical level, most of the leaders of #FeesMustFall professed a commitment to peaceful action. Peaceful mobilisation also seemed to be the substantive intent of the vast majority of its supporters” (3473).

‘n Ander gevolg van die Zuma-besluit is die toenemende verswelging van universiteite deur studente wat akademies swak toegerus is. “The EFF and Julius Malema in particular called on students to flood the universities and claim their place” (3115). Verder, deurdat die ANC-regering eensydig besluite oor universiteitsake neem, is die outonomie van hierdie inrigtings verder weggekalwe. Die finansiële welsyn van universiteite is al hoe meer uitgelewer aan die regering se beloftes dat hulle vir verliese vergoed sal word, dus dat hulle subsidiëring verhoog sal word. Maar dit veroorsaak dat universiteite vir hulle voortbestaan al hoe meer van die regering afhanklik word, wat tot die verdere erodering van hulle outonomie lei.

Habib voer aan dat ‘n politieke oplossing nodig is om universiteite se probleme op te los (3139). Maar dit moet die besef insluit dat universiteitstudie nie ‘n reg is nie en vir die meerderheid skoolverlaters nie beskore is nie. Die kolleges (TVET’s) behoort baie meer studente as die universiteite te akkommodeer (3209). Die kollege-sektor sal hergestruktureer en heropgebou en uitgebou moet word. Myns insiens met die herinsluiting van die eertydse technikons, wat verkeerdelik as universiteite geklassifiseer is. Veralgemenend: By universiteite gaan dit om opvoeding, onderrig, teoretiese begronding en beroepsvoorbereiding. Kolleges, daarenteen, is op afrigting vir beroepsbeoefening ingestel, met (heelwat) minder teoretiese begronding. Die onderwyskolleges sal ook moet herlewe. Sonder genoeg bekwame, professionele onderwysers sal die gehalte van skoolonderwys nie verbeter nie en sal die uitsaksyfer aan universiteite en kolleges nie verlaag word nie.

Verder sal die ANC en veral swartes tot hierdie besef moet kom: “There is no such thing as free education. Someone always has to pay” (3158). Insgelyks is daar nie so iets soos bv gratis water, vullisverwydering, elektrisiteit, televisie, mediese sorg en skoolonderrig nie. Die grootskaalse manier waarop daar op inkomstebelasting- en dienstebetalers geparasiteer word, is nie volhoubaar nie en is ook immoreel; eintlik misdadig. Daar is diegene wat die koste van die aangekondigde gratis tersiêre onderwys met bv ekstra belasting op die superrykes wil bestry (3167). Maar die gevolgtrekking waartoe Habib kom, is: “South Africa simply does not have sufficient resources in state coffers to implement comprehensive, free higher education for both universities and TVET colleges” (3192). Nog minder sou gratis skoolonderrig deur die staat bekostig kon word. Gratis hoër onderwys is in elk geval absurd as daar nie ook gratis skoolonderwys is nie. Die onkoste van “gratis” universitêre onderwys kan deels verhaal word “by a graduate tax structured through the payroll” (3250). Baie studente sou kon baat by ‘n stelsel van “bank-funded but government-guaranteed loan[s]” (3284).

Daar is ‘n wesenlike probleem wat glad nie deur Habib aangespreek word nie; waarskynlik omdat hy bang is om swartes aanstoot te gee. In die naam van transformasie werf universiteite deesdae by voorkeur swart kandidate met studiebeurse. Die matrikulant word voor hierdie keuse gestel: Kom studeer aan bv die Universiteit Stellenbosch of bly tuis en hoogs waarskynlik werkloos en krepeer saam met jou familie. So ‘n student kan moontlik na die kampus kom primêr om verblyf en kos te ontvang en nie noodwendig om (ernstig/toegewyd) te studeer nie. Van die studiegeld wat hy ontvang, word nie vir studie (bv die aankoop van boeke) aangewend nie, maar aan sy kreperende (uitgebreide) familie gestuur. Weens sy persoonlike omstandighede saboteer hy dus self sy studie.

Ingeskrewe studente wat nie studeer nie, is by uitstek diegene wat onrus stook. Hulle behoort so gou moontlik verwyder te word. Andersins is daar, soos duidelik uit Habib se boek blyk, oud-studente en nie-studente wat die kampus betree om kwaad te stook. Hulle moet toegang tot die kampus verbied word en oortreders moet swaar gestraf word. Maar by mense soos Habib weeg “sosiale verantwoordelikheid/geregtigheid” swaarder as akademiese oorwegings, gevolglik word anti-akademiese elemente sagkens behandel en staan dit hulle in te groot mate vry om met hulle ontwrigtende gedrag voort te gaan. Die marxis Habib bly ingestel op voortgesette revolusie: “I see myself as a progressive who is committed to the goals of social justice and an alternative political and socioeconomic order” (3407). “Mass action and social mobilisation are an essential component of the strategic arsenal required for changing our world” (3415).

Habib is sekerlik diep bewus van die ongedurigheid in die verhouding van Indiërs en swartes; nie net plaaslik nie maar ook in Oos-Afrika, bv Uganda en Kenia. Nogtans het Indiërs en swartes in die “bevrydingstryd” saamgewerk. Sedert 1994 word die belange van swartes egter geprioritiseer, wat Habib as rektor in ‘n ongemaklike posisie aan die oorwegend swart Wits plaas. Hy is op sy pasoppens vir swartes, soos blyk uit die volgende twee voorbeelde. “Some senior black academics who profess to be committed to the transformation agenda … are almost completely divorced from day-to-day interactions about how to transform institutions. I stress that this does not apply to all black staff” (2128). Die Mellon Foundation is versoek om meer beurse vir studie aan bv Harvard en Oxford beskikbaar te stel. Oor sodanige bevoordeling is die swartes in hulle noppies, al is daar by daardie universiteite geen sprake van gedekolonialiseerde leerplanne en kampusse waar hulle tuis sal voel nie. “Officials of the Mellon Foundation … remained silent even though they recognised the contradiction; reluctantly [!], I stood up and pointed it out” (2162).

Een van Habib se skemas is “competencies to be developed in indigenous languages among staff and students” (1932). ‘n Nuwe taalbeleid is aanvaar. “Given the limited institutional resources available, the first step in this plan was to change all letterheads, business cards and signage to reflect three languages: English, isiZulu and Sesotho. Language courses specialising in conversational isiZulu and Sesotho have also been established” (2070). Wat dwarsdeur die boek afwesig is, is enige verwysing na Afrikaans. Habib is moontlik nie eens Afrikaans (behoorlik) magtig nie. Hy verwys uitsluitlik na Engelse inligtingsbronne. Die soort meertaligheid wat Wits beoefen, behoort ‘n wekroep te wees vir Afrikaansinstansies, soos die Afrikaanse Taalraad en die ATKV, wat hulle dikwels meer entoesiasties vir meertaligheid as vir die bevordering van Afrikaans beywer. Wanneer in die nuwe Suid-Afrika na inheemse tale verwys word, word daar meesal aan swart tale gedink en nie aan Afrikaans nie. Insgelyks word meertaligheid, naas Engels, al hoe meer met swart tale geassosieer Vir Afrikaans is dit ‘n verloorsituasie.

Max Price, die rektor van die Universiteit Kaapstad (2008-2018), was eerste om aan die eise vir die inkontraktering van werkers toe te gee. Dit het tot ‘n kettingreaksie aan die ander universteite gelei. Habib toon ook aan dat Price selfs in groter mate as hy afkerig van sekuriteitsmaatreëls en veral polisie-teenwoordigheid op die kampus was. Die Universiteit Johannesburg, daarenteen, was veel meer geredelik op voorkomende beveiliging ingestel en is gevolglik minder deur die onrus ontwrig. Price verdedig sy besluite teen Habib se vertolking in ‘n artikel (Daily Maverick, 12.03.2019). Price noem dat hy besig is om ‘n boek oor die studente-onrus te skryf. Verwag dus verdere selfregverdiging.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.