Suidpunt: Hoe ons meer Europeërs e.a. by die Afrikaanse kultuur kan betrek

Nadat ek Dr. Roodt se video gekyk het, dink ek steek daar tog waarheid in om met Europeërs sake te doen. Was dit nie immers ‘n Deen wat in 2017 op GoFundMe.com ‘n ruime skenking van €500 gemaak het, met die pragtige woorde:

You don’t have to thank me. As a matter of fact I want to thank you, you’re the one doing the actual work. So thank you.”

En dit bloot omdat Dr. Roodt ‘n Pro-Afrikaanse toer deur Europa wou maak! Die mikpunt was €2.000,00 , en baie ander het vurig bygedra (wat juis ‘n bydraende faktor kon wees – veral as iemand spesiaal uit Bloemfontein gery het net om ‘n €50- en €70-noot te kom gee).

Kyk mens egter na Pienaarsig se Animal Rescue (https://www.gofundme.com/pienaarsig-animal-rescue), wat sedert 25 Julie 2018 gelys is, het niemand tot op datum (2 Maart 2019) ‘n halwe sent daarin gestort nie: ‘n koeëlronde nul. Pienaarsig is ‘n township (lokasie vir die ouer garde) by Nieu-Bethesda. Die mikpunt was ook €2 000. Vergelyk mens hiermee die €1,444 wat binne slegs drie dae ingesamel is vir Dr. Roodt, staan jy verstom. Dis ‘n wonderwerk!

Waarom sal ons met Europeërs wil saamwerk?

Maar die Afrikaner stel nie belang in skenkings nie. Hy weet hoe Europeërs dink: hulle is bereid om geld voor te skiet, maar, anders as by die Chinese owerheid, soek hulle resultate of sekere kulturele/maatskaplike aanpassings volgens hulle eie voorwaardes. Self sal die Europeërs nie die werk wil doen nie, want hoe sal die Derdewêreldland ooit op sy eie twee bene kan staan? Europa is egter geen engel nie; hy sal eenvoudig sy reëls verskerp om sy eie landbouers te beskerm, ten koste van Suid-Afrikaanse boere – of het ek dit nou mis? Die Chinese meng egter nie by die politiek in nie, of so sê Jeffrey de Visser op Quora:

While the West are concerned about “developing” Africa, China is actually developing it – they’re building the roads, railways, malls and other such projects with economic value. While the West is concerned about doing things “right” and telling African leaders what they can and cannot do, China doesn’t care about that and leaves the ethical dilemmas where they belong: with Africans. Is China colonising Africa? Definitely not – but the West is definitely trying to keep a finger in the pie, with decreasing levels of success. That provides opportunities for the Chinese.

Maar daar is sprake van swak vakmanskap en storting van minderwaardige oorskotprodukte, geen innovering en onoorspronklikheid wat klakkeloos vanaf Japannese bloudrukke gekopieer is, goedkoop invoere wat die eie plaaslike nywerhede lamlê, maar bowenal: van rustof wat vir die geldhulp/arbeid verruil word. Ek kry onlangs in die pos ‘n koevertjie met Der Südafrika-Deutsche gedagteken 31 Desember 2018. Op die agterkant in die regterhoekie onder sien ek die volgende beriggie:

Sie Südafrikaner wundern sich, über die geplante Erhöhung der Strompreise, ja? Na, lesen Sie:

7,2 Millionen Tonnen Kohle, die aus Richards Bay Harbor für China bestimmt sind.

36 chinesische Schiffe warten auf die Ladung von Kohle im Hafen von Richards Bay.

Wo ist der Mangel jetzt, Eskom?

Jedes Schiff braucht etwa 36 Stunden um geladen zu werden.

Durchschnittlich 200.000 Tonnen Kohle pro Schiff.

Es ist Grad A Anthracit.

Der Informant sagt auch, dass Eskom über riesige Kohlevorrätte verfügt.

Wird Bilder senden, sobald sie ankommen.

(Informationen gesendet als erhalten.)

Wir erhalten leider bisher keiner Bilder und keine weiteren Informationen.

—-

Vryelik vertaal:

As Suid-Afrikaners wonder julle seker oor die beplande elektrisiteitstariefverhoging, nie waar nie? Goed, lees verder:

7,2 miljoen ton steenkool is vanuit die Hawe van Richardsbaai na China op pad.

36 Chinese skepe wag in die Richardsbaaise Hawe om volgelaai te word met steenkool.

Waar is die steenkooltekort nou, Eskom?

Dit duur omtrent 36 uur om ‘n enkele skip vol te laai.

Gemiddeld 200.000 ton steenkool per skip.

Dit is eersteklas antrasiet.

Die informant sê ook dat Eskom oor ‘n reuse steenkoolvoorraad beskik.

Sal foto’s stuur, sodra hulle aankom.

(Inligting verbatim weergegee.)

Teen druktyd het ons ongelukkig nog geen verdere beelde of inligting ontvang nie.

Fopnuus? Of ‘n rokie waar daar ‘n veldbrand woed? Die Wahrheit ist irgendwo da Draußen.

Maar, kom ons veronderstel dit is waar. Dan sit die Afrikaner dus tussen twee vure, eintlik drie: aan die een kant het jy ‘n land met ‘n rooi vlaggie wat jou hulpbronne soek vir sy eie mense se gewin, aan die anderkant het jy Westerse regerings wat die Afrikaner tot in die grond sal vertrap as dit moet, suiwer om politiek. En dan het jy Rusland, wat jou met ope arms inwag terwyl jou grond braak lê vir ander om te vat. Eurasiafuture.com voer op 4 Augustus 2018 aan Rusland speel ‘n baie snaakse skaakspel met die Afrikanervraagstuk:

Russia could gain a lot from this inflow of investment into such a strategic sector as agriculture, especially since it would be driven by people who have decades’ worth of experience putting their skills to use with proven results. Furthermore, Russia’s soft power would skyrocket in the Western countries where Boer awareness campaigns are concentrated, as would the appeal of its immigration-land reform policy that would have been responsible for delivering these farmers from danger. The country would be fulfilling its humanitarian responsibilities and also bringing development to its own people as a result, making this a mutually beneficial approach that couldn’t seemingly be any more perfect.

Nevertheless, Russia can’t control how other countries, especially its BRICS strategic partner South Africa, view its actions, and Moscow’s assistance to the same Boers whom many Africans loathe might undermine its soft power as it quietly returns to the continent given the perception that millions of people have of them as “racist pigs”. In addition, South Africa would almost surely object to Russia de-facto legitimizing the Boers’ narrative of racist victimization, which could complicate their bilateral relationship even further after last year’s unexpected nuclear deal setback and possibly even provoke Pretoria to take the lead in opposing the recent expansion of Moscow’s influence in Africa depending on how offended it becomes”.

[…]

Of course, in winning an important soft power battle among pro-Trump Americans, Russia does not want to alienate South Africa’s government by passively facilitating the narrative that whites are in danger by remaining in South Africa as the section of Andrew Korybko’s analysis from a previous section clearly indicates. The key here is for Russia to support the migration of white South African farmers to Russian soil while simultaneous to this, China can offer assistance to Pretoria in helping black South Africans to cultivate the redistributed land formerly owned by white South Africans.

This could allow Russia to play the role of “hero” in the eyes of the American right, while allowing China (a country largely disliked by the pro-Trump American right), a fellow BRICS partner of both Russia and South Africa to play the role of economic saviour in helping South Africa to develop its agricultural economy in a new era. This itself fits in with China’s goal of expanding BRICS connectivity initiatives throughout Africa. As a permanent member of the BRICS, South Africa is as good a place to initiate such an agricultural development scheme as any.

Ausgefuchst!

Nou ja, politiek is vuil, en so is mag. Kultuur – in die besonder, taal – kan egter ‘n verlengingstuk van mag wees, of bloot ‘n simbool. En pleks daarvan om op die bose regerings te fokus, fokus ons eerder op die goedhartige en goedgesinde burgery.

Dit help egter nie mens maak sakke vol geld deur met oorsese lande ruilhandel te dryf, maar jou eie kultuur gaan ten gronde nie. Dan kan jy netsowel die status quo handhaaf soos wat dit is: supermarkte koop van regoor die wêreld die mees gesogte invoergoedere, maar doen niks in die guns vir Afrikaans nie. Ook nie om die invoer-/uitvoerland se kultuur te bevorder nie, buiten miskien die Belgiese sjokolade as produk self.

Gestel jy vra jou Sweedse werkgewers of jy by hulle ‘n gedrukte Sweedse Bybel kan (oor)koop – dit is ‘n vreemde versoek in ‘n hoogs gesekulariseerde land, aangesien jy met e-Sword tot drie vertalings daarvan gratis kan aflaai. En tog sê dit iets. Op soortgelyke wyse sê dit ook veel van jou as jy ‘n Afrikaanse groete- of verjaarsdagkaartjie (maak dit ‘n Steve Hofmeyr-CD) aan die Europeër skenk, byna in dieselfde liga as wat ‘n Japannees of Koreaan vir jou ‘n kraanvoël-sleutelhouertjie gee. Of as ‘n Hollander vir jou ‘n hele pakkie vol egte watertand stroopwafels (“120 stuks”) stuur; daardie hoogs verslawende kaloriegoed moet subiet herdoop word: Hollandse heroïen. Jy kry nooit genoeg daarvan nie.

Jy moet verstaan dat daar in Swede en Holland, nou al jarelank ‘n “ons-het-geen-kultuur” heers, net soos in Kanada (hoe dúrf jy sê Paw Patrol is geen kultuur nie?!), waarteen Denemarke vir jare bestand gebly het.  Ironies genoeg egter van Denemarke is sy koekies wat mens op die supermarkrakke vind, waarop nêrens ‘n enkele woord Deens aangebring is nie. In Denemarke self sal mense jou gou-gou in Engels antwoord as jy probeer Deens praat, want watse nonsens is dit dan dié? Jy verstaan Engels, ek verstaan Engels, jy vat te lank om ‘n Deense woord te vind, en eintlik mors jy net ons albei se tyd. So! Die Yslanders, wie se taal selfs die Duitsers (wat vir geen Russies wegskram of stuit nie) beskou as moeilik, is weer te bly as iemand probeer; hulle is maar net 300 000 op ‘n eensame eilandjie in die Noordsee. Hoe meer siele, hoe meer vreugde.

Maar, om iemand se taal sonder halfhartigheid te probeer praat [en produkte daarvan koop] wys darem jy gee om vir hul tradisies, jy wil die persone beter leer ken, jy wil jou tyd afstaan om ‘n taal te leer ken wat jy vir baie jare lank nog sal gebruik vir die oor-en-weer-uitruil van inligting. Jy verwag dus goeie betrekkinge die volgende paar dekades vorentoe. En die Europeërs bou op vertroue en sekerheid (en natuurlik wie teen die billikste prys die beste werk kan lewer). En jy wil jou verstaanbaar maak. Die een hand was die ander: die Afrikaner leer Sweeds, die Sweed leer Afrikaans. Oulik. Albei baat daarby.

So laat ons kyk wat ons aan die saak kan doen om die kloof te dig.

Duolingo

Die Afrikaanse professore en hoofstroommedia, lyk dit my, ken net een pad. Naamlik Deep Throat, dis nou William Mark Felt, se woorde: “follow the money”.  Dalk omdat hulle glo geld kan selfs die duiwel laat dans. Fout! Jou gewone mens wat reeds deur die kultuurorganisasies en al wat stelsel ontnugter is (want wat is die afgelope 25 jaar bereik?), het hul voorgeneem om nie ‘n sent verder uit te gee nie. Die enigste mens wat Jan Intellek vertrou, is homself. Oor goud, het Warren Buffet gesê: “It doesn’t do anything but sit there and look at you.” Iemand moet nog steeds die werk doen; geld doen nie die werk nie. Geld is bloot ‘n wortel voor die neus.

En wat mens die kwaadste maak: die gebedel bly by “ons mense”.  Daar word géén moeite gedoen om die mark en afsetgebied uit te brei nie; vir my seker die toppunt van alle onnoselheid. As ‘n Euro 16 keer harder as 1 Rand kan werk, beteken dit immers jy as Suid-Afrikaner moet 16 keer harder werk om ‘n Euro te ewenaar. Jy weet voor jou heilige siel die Afrikaner het nie die geld nie. Jy weet mos die bruin mense en die swart mense het nie die geld of noodwendig die belangstelling nie. Die banke bied natuurlik eindelose moontlikhede om daardie probleempies die hoof te bied, maar ook die eindelose rentetjies terugbetaalbaar en ‘n kontrak wat met die bloedrooi stempel op sy geldmag-Engels sê: “We own your ass.” So sit, sit ons. Arme ons.  Se maai: waar daar nie ‘n mark is nie, skép jy een. En waar beter as die buiteland wat by ons elkeen individueel in persoon kom belê?

Ek moet wel byvoeg: uit ervaring verkies die aanleerders om eerder niefiksie in Afrikaans te lees as noodwendig die fiksie. En dit moet ons fokusgebied wees.

Maar vir die een of ander rede, afgesien van die Woordfees en ander kunstefeeste wat presies dieselfde nut tot markuitbreiding het as prostitusie onder ‘n brug, moet daar altyd ‘n webwerf gestig word wat nie, soos PRAAG, met advertensies werk nie, maar borge. Daardie borge word dikwels uit Afrikanergeledere leeggemelk – geld wat op ander maniere aangewend kon word. Advertensies en reklame word ten duurste geloods om aandag te trek op die nuweling wat almal se probleme gaan oplos. Onderhoude op TV en radio volg. ‘n Hele drama wat uitloop op vier bedrywe: opgang,  blinken, verzinken, vergeten. Later verdwyn die webwerf saggies sonder dat iemand opgemerk het in stilte. Vir die soveelste maal.

As dit nié borge is nie, dan is dit miskien ‘n gulde manier waarop belasting weggewerk word, ek praat onder korreksie. Want iets maak nie vir my sin nie!

Dis asof hierdie groep in ‘n gebou vasgekeer is. Paniekbevange word ure se moeite ingeploeg, honderde werksure onnodig gesteel, kyk net hoe tap die sweet!, ‘n tonnel word dwarsdeur die ingevoerde Italiaanse teëls geboor, dwarsdeur die aardkors tot in China gegrawe…  terwyl die kamerdeur se knop net gedraai moes word. Dit was nog heeltyd oop.

Ek het dit in die verlede ook al teëgekom: “Ons moet nuwe intensiewe vorme bedink! Ons moet nuwe uitdrukkings kry! Ons moet nuwe vergelykings skep!” Al in die rondte, al in die rondte, ‘n polka, ‘n salsa, ‘n briekdans, ‘n foxtrot. Maak onsself net moeg. Nee, ons moet net mooi niks! Jy moet net ‘n slag jou oë oopmaak: die werk is reeds vir jou gedoen sedert die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Wat ons wel kort is ‘n kroniek, ‘n geskiedenis, ‘n lys wat reeds gedoen en bereik is. Die antwoord is voor die hand liggend.

Want my liewe PRAAG-leser: waarom moet die Afrikaner in 2019 altyd van voor af die Groot Trek kaalvoet oor die doringbesaaide Drakensberg deurmaak as daar reeds ‘n geteerde N1 vol slaggate Lufthansa (net die beste!) is wat funksioneer en jou nie eens ‘n blou sent kos nie? Neem nou maar Duolingo.

Duolingo is ‘n taalaanleerprogram waarin enige taal wat beskikbaar is geleer kan word, vir dié wat wil. Dit is gratis, hy het ook sy eie toepassing (apparatus digitalis) vir jou foon en ook hulle maak geld met advertensies. Die hele webwerf word in stand gehou deur sy bydraers, die publiek. Jy teken in en kan onmiddellik begin met watter taalkursus jy wil, op jou tyd. Jy vertaal woorde en frases [jy kan kies of jy die woorde wil intik, en of jy die woorde in blokkies wil rondskuif in die regte volgorde], kry terugvoer, maar kan ook vrae vra en kommentaar lewer. Die rekenaar merk elke vraag, voordat jy na die volgende vraag aanpak. Maak jy ‘n fout, word die vraag aan die einde van die les weer herhaal. Die gemeenskap is baie vriendelik en hulpvaardig, want almal het presies dieselfde doel en elkeen weet iets. Jy kan mense beloon met Lingots, die “geldeenheid” wat jy met oefeninge verdien, waarmee jy ietsie by die winkel kan koop. Al die grammatika-inligting kan jy ook vooraf gaan kry by https://duonotes.fandom.com .  Maar die eintlike leerproses is die vrae wat jy of ander tydens die oefeninge (ge)vra (het).

Die meeste sinne word uitgespreek [net ‘n paar het robotstem-sinne]. Daar is nie ‘n taal wat nie onder die 300 000-kerf (taalaanleerders) het nie.  So, Afrikaans sal oornag ‘n groot aanhang kry. Miskien nie soveel soos Sweeds (1,07 miljoen) en Hollands (1,31 miljoen) nie, maar tog baie. Deens is na hoeveel jaar steeds by 538 000 aanleerders, en Noors by 785 000 – die getalle groei maar stadig. Duits staan op 7,13 miljoen aanleerders, Frans op 12,7 miljoen en Spaans op 21,8 miljoen, soos op 2 Maart 2019. Dis steeds meer as wat enige universiteit kan behartig.

Boonop dag ek Afrikaans is dan so maklik?

Die enigste paar probleme is die volgende:

  1.       Die meeste bydraers is anoniem of het skuilname. Vir ‘n professor wat sy stempeltjie op iets wil afdruk is dit nie baie… aanloklik nie.
  2.       Die bydraers moet  duisende sinne en vrae skep om vertaal te word, op stelselmatige wyse. Dit kan nogal tydrowend wees.

3.       Die meeste gebruikers soek hulpbronne. Nou moet ek vir jou sê die Sweedse aanlynhulpbronne ( https://forum.duolingo.com/comment/5723209 ) is self nogal beperk, en selfs hul etimologiewoordeboek (bloot ‘n afgetaste boek!) is vir my nogal nie op die standaard wat etymologiebank.nl handhaaf (wat elke liewe Nederlandse en Afrikaanse etimologiewoordeboek se inskrywings bevat) nie. Die goeie nuus is wel dat die Afrikaanse universiteite al hul ou bronne besig is om beskikbaar te stel. Ek het trouens ‘n lys vakwoordeboeke opgestel, waarvan mens ‘n paar sommer regstreeks kan gaan besoek. Soos die ou Eskomwoordeboek van 1986 – jy hoef dus nie meer van ‘n “inverter” te praat nie, maar ‘n 15-kVa-wisselrigter (soos ook opgeneem in die WAT). ‘n Mens kyk net snaaks na “load shedding” wat destyds die afskuwelike leenvertaling “lasafwerping” toebedeel is. Gelukkig het ons vandag die woord “beurtkrag” [hoewel ek die woord “beurtwater” nie voor my oë kan verdra nie – as mens destyds van “leibeurt” kon praat, waarom vandag nie “waterbeurt” nie?].

  1.       Duolingo maak dit ontsettend moeilik om woorde en sinne na Notepad te kopieer, wat vroeër nie so was nie. Ek leer frases uit my kop deur vanaf papier te memoriseer of na ou antwoorde te kyk. Deesdae skryf ek die Franse vrae in ‘n oefeningboek met die hand uit. Die Sweedse kursus tik ek oor.
  2.       Dit hang grootliks van die bydraers af of die sinne nuttig of nutteloos is, sonder om die lesse kurkdroog en vervelig te laat. Soms kry jy onsinnige sinne by die Engelse Duolingo soos “Äpplet är under björnen. – The apple is under the bear.” Of: “Mina föräldrar tycker inte om att du äter myror. – My parents do not like that you eat ants.”  Ander kere weer nogal nuttig: “Vargen springer mot renen. – The wolf runs toward(s) the reindeer.” ‘n Mens sou miskien ‘n bietjie meer kultuur in die tekste wou kry, miskien meer frases uit reisgidse of tegniese jargon wat almal gebruik, meer as net die diere soos die elk en die wolf. Die logo van Sweeds op die “Language Courses for English Speakers” is die Stadsaal Stockholm met blou agtergrond, terwyl Holland ‘n Kinderdijkwindmeul is (blou agtergrond) en Duitsland die Brandenburgpoort (swart agtergrond). By Afrikaans sou die Taalmonument die vanselfsprekende keuse wees – hoewel swart, koraalrooi, kerriegeel, ligblou en olyfgroen die enigste keuse agtergrondkleure is om van te kies. Gewoonlik strook daardie kleur met die vlag van die land waar die taal die meeste gepraat word. Toevallig het die huidige Suid-Afrikaanse vlag al vyf.
  3.       Vir die groter tale, by name Spaans, Portugees, Frans en Duits (https://stories.duolingo.com/ ), is daar 120 luisteroefeninge elk met verhale wat grafies afspeel, waarna jy ‘n veelkeusevraag moet beantwoord, of woorde invul. Die Duits is vir my lekker, maar die Frans is natuurlik hondmoeilik. Ek sou graag so iets in Afrikaans wou hê, maar weer…
  4.       Jy sal ‘n beginselvaste professor of groep mense moet kry wat genadeloos Anglisismes bestry en die Standaardafrikaans hooghou by die Engelse weergawe, anders gaan enige antwoord later reg wees. Maar mens moet nou ook nie so verstok raak dat mens nie die antwoorde toelaat wat op vier verskillende wyses in Engels uitgedruk kan word nie. Jy moet ook onthou dat mens Hollanders en Duitsers en Spanjaarde het wat ook via Engels leer [of mense wat reeds Duits of Hollands magtig is], wat moontlik vrae gaan hê oor “Valse vriende”.
  5.       Dit gebeur elke keer dat dieselfde vraag oor en oor deur gebruikers gestel word, omdat elke vraag sy eie besprekingsblad het. Die bydraers/moderatore moet bontstaan om hierdie vrae te beantwoord, indien nodig. Manalleen kan niemand alles doen nie. Verder kry jy ook die hansworse wat seks in die sinne wil insien, ens. ens. ens. Soms is dit gewaagd en dubbelsinnig, maar waar die kommentaar té eksplisiet raak (want daar is ook 12-jariges en jonger wat jy daarteen moet beskerm), moet die kommentaar geskrap word.
  6.       Dit is uiters moeilik om die gees van ‘n taal in Engels aan die gebruikers oor te dra. By die Frans op die Duitse Duolingo word sinne egter dikwels gekies wat maklik in Duits vertaal.
  7.   Duolingo kan jou net tot op ‘n punt help. ‘n Aptytwekker wees. ‘n Hulpmiddel in ‘n wêreld waar handboeke peperduur of ontoeganklik is. Ek bedoel, as Navajo, een van die nutteloosste tale daarbuite, behalwe vir die versyfering tydens die Tweede Wêreldoorlog, op Duolingo aangebied word, seer sekerlik moet daar vir Afrikaans ‘n plekkie gegun word.  Maar ongelukkig is al die doeltale nie in of vir al die tale (waarin geleer word) beskikbaar nie. Latyn vir Engelssprekendes word beoog om 7 Januarie 2020 in Beta-modus geloods te word; iets waaroor ek bitter bly is. Waarom die Duitsers nog nie een op die been gebring het nie, is vir my ‘n raaisel: dit is tog hul derde geliefdste vreemdetaal naas Engels en Frans.
  8.   Dit voel my dikwels of ons dieselfde woorde tot in ewigheid gaan gebruik, terwyl Schaum’s Outline Series French Grammar deur Mary E. Coffman baie vinniger met mens beweeg, en al die 394 oefeninge van 1973 regtig met elke oefening moeiliker word.
  9.   Nog ‘n groot probleem is dat jy nie “vorentoe” kan blaai nie. Jy is op jou vlak (“level”) vasgevang, totdat jy genoeg oefeninge voltooi het, of ‘n toets aflê wat jou tot 22 vlakke vorentoe laat hop.

As ons ooit ‘n groot gros mense in aanraking met Afrikaans wil bring, dan moet Duolingo sonder verwyl gebruik word. Onmiddellik. Ek is egter bevrees dat die aanleerder daarna die taal moet oefen met moedertaalsprekers – of dit nou op Language Exchange is, aan ‘n penmaat skrywe, of ‘n tegniese Wikipedia-artikel in die sandput moet aanmekaartimmer, dit kan nie daar gelaat word nie. Maar nou het iemand ‘n Afrikaanse kernwoordeskat opgebou: wat nou? Wat is volgende? Wat staan hom nou te doen. Dit behandel ek volgende.

En hier staan ek nou, voor die groot aansoekvorm: https://incubator.duolingo.com/apply .

Wie sal mens die eer gee om die eerste aansoekvorm in te vul?

Vertalings: ‘n noodsaaklike euwel?

Ek is een van daardie mense wat agterstevoor om werk. Ek het eers uit Duits vertaal, voordat ek Duits werklik leer lees het. Hoe werk dit? Ek het vir my ‘n Wikipedia-artikel gekry (destyds was ek mal oor luislange, vandag laat die goed my koud) en het op ‘n dag net daar en dan besluit om hom te vertaal. Ek het my Trümpelmann-woordeboek nadergetrek en elke liewe woordjie nageslaan wat ek nie kon uitmaak nie. Soms moes ek my ou Unabridged Collins ook nadertrek. Ek het my nie gesteur aan die uitgange nie, ook nie die lidwoorde nie. Verder het ek swaar gesteun op ‘n veeltalige kosmopoliet wat toe nog in Londen gebly het, wat na my vertalings gekyk het. Daarna het nog twee artikels gevolg.  Ja, ek het destyds ook Google Translate gebruik (soms Duits-Engels, soms Duits-Nederlands). Dit was in die jare voordat ek seker linguee.de en reverso.net begin raadpleeg het.

Onder die vorige hofie het ons reeds gesien werk Duolingo (letterlik twee-taal?) op die vertaal-tegniek. ‘n Woord of sin verskyn – jy moet vertaal.

Dit gaan seker nou simpel klink, maar wat is die nut van vertaling?

Vertalings kan ook boekvorm aanneem, en daaroor wil ek nou gesels. In Rigtingbedonnerd (2012:187-188) deur Fred de Vries lees ons die volgende:

Ná ons eerste gesprek het ek gereeld vir Roodt raakgeloop. By ‘n bekendstelling van sy roman Moltrein in Pretoria. By die bekendstelling van Kontrei in die Boekehuis in Johannesburg. Die boeke wat sedert 2000 by sy uitgewery, Praag, verskyn het, se voorkoms is eenvoudig maar smaakvol: wit omslag, blou letterwerk, geënt op die ontwerp van die Franse uitgewery Les Éditions de Minuit. Hy wil die Afrikaners laat kennis maak met wêreldliteratuur, sê hy. Daarom het hy Un An van die Fransman Jean Echenoz vir Praag in Afrikaans laat vertaal, asook Im Krebsgang van die Duitser Günter Grass.

Hy het ook die regte probeer verwerf vir ‘n Afrikaanse vertaling van JM Coetzee se roman Disgrace, maar daar het niks van gekom nie (die boek is later deur Fanie Olivier vir Struik vertaal en uitgegee as In oneer). Maar dit is wel tekenend van sy visie dat literatuur, taal en politiek onlosmaaklik aan mekaar verbonde is. Disgrace is in Suid-Afrika verguis omdat Coetzee ‘n pessimistiese beeld van die nuwe Suid-Afrika skets wat indruis teen die idee van ‘n Reënboognasie wat lank populêr was. “Die boek behandel belangrike kwessies”, sê Rood in ons tweede gesprek, hierdie keer in die deftige Hyatt Hotel in Rosebank. “Dinge soos aanvalle op wit boere en bedenkinge oor die nuwe Suid-Afrika. Die boek kan goed werk in Afrikaans, veral onder die titel ‘Skande’. Afrikaners het die nuwe bedeling as ‘n skande ervaar.”

Is dit die eerste keer in my lewe dat ek lees van vertaalregte wat geweier kan word? Ek besit twee vertalings van Die Aneïs in Afrikaans, en niemand het ooit oor die verskillende interpretasies gekla nie. Naomi Morgan (2017/2018?) én André P. Brink (1994) én J. P. L. Krige (1957) het almal Die klein prinsie van Antoine de Saint-Exupéry (1943) vertaal of tot verhoogteks verwerk. Goed om te weet, want ek sit met die Hollandse De kleine prins op my boekrak, vertaal deur Laetitia de Beaufort-de Hamel in 1951 (die 21ste herdruk hiervan in 1994). Skynbaar was haar vertaling vlekkeloos en onverbeterlik, wat eintlik vreemd is as jy dink dat elke stem ‘n teks anders sal benader. So ook met Disgrace.

Tot sover het veral Protea-uitgewers en Praag nogal moeite gedoen om Europese boeke te vertaal.

My grootste probleem met vertalings, om uit te reik na ander volke, is dat dit teenproduktief kan werk. As jy byvoorbeeld die Afrikaanse vertaling van ‘n boek gelees het, waarom sou jy, byvoorbeeld, die Frans wil leer? Dieselfde geld vir Afrikaans ook.

As leermetode, wanneer jy met die oorspronklike én vertaalde uitgawe voor jou sit, kom jy ook nooit in kontak met die oorspronklike doeltaal nie. Voor jy jou oë uitvee, het jy jou so in die taal verdiep waarmee jy reeds gemaklik is, dat jou doeltaal agterweë bly, voer Alex Rawlings aan in sy boek, How to speak any language fluently (2017:152-153).

My antwoord daarop: Ja en nee.

Ja: Dit het weliswaar met my gebeur toe ek Die Stunde des Schakals (2010) probeer lees het. In ons biblioteek is die Engelse vertaling (The Hour of the Jackal) beskikbaar, wat met die befondsing van die Goethe-Institut vertaal is. Nou sit jy die twee boeke naas mekaar, albei met sy eie liniaaltjie, maar ek het so gekonsentreer op die Engels dat ek nooit by die oorspronklike Duits uitgekom het nie. Albei boeke was egter vir my nuut, want ek het nog nie die Engelse teks deurgelees nie.

Nee: Ek ken The Jungle Book en The Second Jungle Book tot so ‘n mate uit my kop (jy kan dit al resiteer!) dat ek hoegenaamd nie meer in die Engelse weergawe belangstel nie.  Jy konsentreer ook nou hoe die Deense, Afrikaanse en Latynse weergawes klink van The Hobbit, self ‘n voorgeskrewe boek wat ek in Graad 8 (Standerd 6) gehad het. Die eintlike probleem is bv. met Latyn (Hobbitus ille) om die woorde van ‘n sin in boksies te verpak, soos “enkelvoud-manlik-akkusatief-selfstandige naamwoord” en “eerstepersoons-enkelvoud-hede-aktief-indikatief-werkwoord”; om dus die hele taal uitmekaar te haal, wat nogal tydrowend kan wees, al is daar ‘n briljante webwerf soos https://www.frag-caesar.de/ beskikbaar, of aflaaibare programme soos Legible Latin.

Vertalings is ook daarvoor berug om nuanses in te boet (om die “betekenis” korrek oor te dra, maar nie met die regte “gevoelswaarde” nie; dink byvoorbeeld aan die barokagtige mooiskrywery teenoor die moderne gebruik van slegs drie woorde); om swak of oorbodige sinne en soms paragrawe weg te laat (hulle word dus nooit vertaal nie); en, om weer uit Rawlings op dieselfde bladsye aan te haal wat die leermetode aanbetref: “[…] like doing a Sudoku with the answers on the opposite page”.

Maar dit weet ek mos, want ek vertaal self in my vrye tyd vir Wikipedia: vertalings mag nie soos vertalings klink nie. Ek stem ook nie met Rawlings saam nie – waarom kry mens dan “fraseboekies”? Natuurlik gaan jy in die tweetalige Wat en Hoe?-taalgidse vir reisigers kyk na “Is er post voor mij?” met die antwoord regs “Ist Post für mich da?” Met sulke sinsnedes en vaste uitdrukkings kom jy vinniger aan die gang, selfs sonder grammatikalesse. Dit is donkiewerk om alles uit jou kop te leer, maar dit is gelukkig bruikbaar.

Een nut van vertalings is wel dat hulle as modelantwoord kan dien, omdat jy waarskynlik in die toekoms weer met dieselfde frase te doene gaan kry, of weer sal gebruik.  Jy lees Omsingel die laer van die heiliges klaar en vergelyk die teks met die oorspronklike. Jy leer dus hoe om gemaklik met die taal om te gaan. Reverso.net en Linguee.de werk presies dieselfde: jy sien die een frase aan jou linkerkant, jy sien die duidelike nuanseverskille aan jou regterkant afhangend van die konteks, soos oorgedra deur professionele vertalers. Die gesoute vertaler sal wel wéét wat die gemiddelde Afrikaanse leser nie weet van die vreemde kultuuragtergrond nie, en daarom kan voetnotas of woordelyste agter geplaas word om die leser beter toe te lig. Laat ek drie voorbeelde aanhaal uit “Probleme opgelewer deur kulturele verskille vir vertalingsekwivalensie in Afrikaans-Russiese, en Russies-Afrikaanse tekste” (Johan Lubbe &Theo du Plessis, 1999:144):

In die volgende voorbeeld begaan die vertaler ‘n fout omdat sy nie ingelig is oor die gebruik van die Afrikaners om mekaar se hande te neem terwyl hulle voor die ete God dank nie:

‘Nog iemand kom binne juis wanneer Hattingh vir hom beduie dat hy moet aansit, in dieselfde werkklere as die ander: eers wanneer George sy uitgestrekte hand neem, kan hy in die dowwe lig aan die gelaatstrekke en bewegings uitmaak dat dit ‘n meisie is’ (Schoeman, 1972: 7).

[…]

Die Russiese vertaling van hierdie greep is verkeerd, want die vertaler het nie die situasie reg verstaan nie, en as resultaat het George in die vertaling die meisie se hand geneem terwyl hy haar groet.

Die volgende voorbeeld handel eweneens oor ‘n Afrikaanse gewoonte wat in Russies onbekend is:

‘… tant Miemie het van hulle vergeet waar sy oor haar geweekte beskuit sit en slobber en mevrou Hattingh telkens met ‘n nuwe woordestroom in die rede val’ (Schoeman, 1972: 44).

[…]

In Rusland word die gewoonte om jou beskuit of koek, of enigiets in tee of koffe te doop as ‘n teken van slegte opvoeding beskou. Die vertaler het hierdie detail in die vertaling weggelaat, miskien om tant Miemie nie te aanstootlik te laat lyk nie. Hier volg nog ‘n voorbeeld wat aantoon dat die verskil in gewoontes ‘n misverstand kan veroorsaak:

‘Hoe weet hy dit, hoe weet hy hoe sy daar tussen die varings gestaan het, ‘n boerevrou met grys hare, terwyl sy die bediende opdragte gee?’ (Schoeman, 1972: 48).

[…]

In Rusland is daar nie ‘n gewoonte om varings in tuine te plant nie. Hierdie plant kom net in woude voor. Maar in die verhaal handel dit oor ‘n plaas, en die Russiese leser sal miskien nie mooi verstaan hoekom ‘n boervrou op ‘n plaas tussen varings staan nie.

Dit kan woordeboeke hoegenaamd nie doen nie, ook nie  VivA Vertaal nie, want daarvoor is die ruimte beperk. Maar woordeboeke is weer baie netjies volgens die alfabet gesorteer, wat beteken jy kan na hartelus self nuwe en vreemde frases stelselmatig uitsoek en deurwerk waarvan jy tot nou toe salig onbewus was, terwyl die bovermelde webwerwe bloot vir jou die vertaling uitskop van die frase waarvan jy reeds bewus is.

Die allergrootste voordeel van vertalings? Spoed! ‘n Kind het nóú inligting oor die leeu op Wikipedia nodig, want môre is die skooltaak se keerdatum; hy sal miskien bereid wees om die Engelse blad deur te lees as die Afrikaanse leesstof nie beskikbaar was nie, maar sodra sy Afrikaanse potlood opgetel word, is vertaling skielik nie meer so maklik nie. As Google Translate nie so lekker na Afrikaans wil vlot nie (soos ons maar alte goed weet!), verloop twee tot vyf uur wat hy andersins binne slegs vyf tot vyftien minute kon afgehandel het.  Of, dit word eenvoudig moeder se deurnagwerk.

Maar nou sal baie veeltaliges ook vir jou sê: ”Ek lees al so gemaklik Frans of Duits of Russies dat ek dikwels ‘n vertaling onnodig ag – as ek dit kan doen, kan ander ook mos?” Nou kom die teenantwoord: afgesien van die kulturele geletterdheid, afgesien van die spoed, afgesien van die onkundigheid, hoe sal ander weet watter werke daardie tale te bied het as die leek nooit ‘n voorsmakie daarvan in sy eie taal gekry het nie?

Vraag: moet mens nie liewer die oorspronklike werk koop in stede van die vertaling nie? Tot voordeel van die Afrikaans, baat die vertalings die plaaslike uitgewers vir ‘n kort tydjie (want ons sien, anders as by Laetitia de Beaufort-de Hamel se vertaling van De kleine prins, selde, indien ooit, ‘n herdruk in Afrikaans), voordat iemand maar weer die proses van vooraf moet begin. Dit is hoekom ons sit met die ritse op ritse op ritse boeke wat uit die Frans in die 1960’s en 1970’s in Afrikaans vertaal is, maar niemand ooit lees nie, want jy kry dit nie meer nie.  Die Afrikaanse vertaler van 2019 weet immers sy werk is wat die geld betref ook nie juis lonend nie, en daarom is die vertaling dikwels maar ‘n liefdeswerkie by ‘n privaatuitgewer. As mens egter vir die een of ander rede nie ‘n uitgewer wil rykmaak nie, en in toeganklikheid glo (om die Afrikaanse taal te laat floreer), is daar altyd Wikisource.org wat jou die geleentheid bied om ‘n vertaling van, byvoorbeeld “De l’Universalité de la langue française” (1784) deur Antoine de Rivarol, of van Markies De Sade se werke, in enige taal oor te sit, ook in Afrikaans. Solank die vertaalde teks net gratis, verniet en toeganklik op Wikisource bly, want wie weet hoeveel internasionale wetgewing jy andersins sou verbreek!

Vertalings duur ook dikwels lank (omdat die boeke eers laat ontdek word) en teen die tyd wanneer die vertaling verskyn, is die oorspronklike blitsverkoper ou nuus. Om jou ‘n idee te gee: Ek het Steve Feasey se Changeling: Zombie Dawn (uitgegee 2011) ‘n paar Sondae gelede gelees, en hierdie slotroman van die pentalogie het eers sewe jaar ná die oorspronklike publikasiedatum in Denemarke verskyn, getiteld Formskifter:Dødehæren. Ek dink nie daar is ‘n Nederlandse vertaling beskikbaar nie. Aan die ander kant het Prof. Dr. Naomi Morgan se vertaling, Omsingel die laer van die heiliges eers 17 jaar ná die oorspronklike Le Camp des Saints (1973) verskyn, en tog, tot vandag toe, is die werk, net soos Oswald Spengler, steeds brandaktueel – omdat die prosesse hulself oor en oor en oor herhaal en uitspeel.

Ander kere droog die geld op, of daar is weinig belangstelling van die leserspubliek se kant af. Ek dink aan Pieter Aspe se boeke waarvan daar drie, vier(? ) vertalings in Afrikaans verskyn het, en toe ook nie weer nie. Wat sou verkeerd geloop het? Weet iemand?

Maar hoekom ek deesdae eintlik die oorspronklike werk bo die vertaling verkies is suiwer om simboliese redes.

Kyk, op Google Play (se “verkoopstaat”) en Amazon.com wéét die verkoper wie die koper is: jou naam en jou nasionaliteit verskyn. Dit wil sê, jou rekeningnommer verskyn, plus nog “Suid-Afrika”. Dit wys vir die verkoper dat hier wel mense in Suid-Afrika is wat in die boeke belangstel. Hoe meer mense boeke in vreemde tale lees, hoe beter die indruk wat dit skep.

Daar bly egter die goue middeweg, naamlik resensies of Wikipedia-opsommings in Afrikaans (byvoorbeeld Schwarzbuch WWF , en by Omsingel die laer van die heiliges het ek die oorspronklike taal naas die vertaling in die aanhalings gebruik). Ek het verlede maand by libris.kb.se sommer uit ledigheid rondgesoek na boeke oor die Afrikaner in Sweedse biblioteke, en een getiteld Bron över Blood River deur Kajsa Norman het met ‘n skrikwekkende omslag na my gegluur. “Nog ‘n ondermynende boek oor Afrikaners?”, het ek gewonder, en na die volgende blad beweeg. Maar toe ek 28 Februarie op PRAAG soek na die sleutelwoorde “Rian Malan” (wie is hierdie vent? Dalk verlangse familie van die nou swygsame Yvonne Malan?), verskyn Leon Lemmer se resensie reg voor my. Hoewel die resensie nou die Engelse vertaling van Norman se boek behandel, werk dit op dieselfde beginsel: binne vyf tot vyftien minute weet jy die hoofpunte. Die resensie gaan óf my belangstelling verder prikkel (die oorspronklike weergawe in Sweeds van Leopard Förlag is wel op Google Play te koop teen R243,29, aansienlik duurder as die Engelse vertaling – R126,70) om die taal verder te leer (want dalk is daar nog sulke werke waarvan die publiek salig onbewus is), óf afstoot. Dieselfde sou mens met Vargattacken (2018) deur Lars Berge kon doen.

Ek stel my veral ten doel om die boeke doelbewus in Afrikaans te resenseer; soms op Goodreads, soms op PRAAG. As die boek nog in geen ander taal vertaal is nie, of jy haal sinne uit die boek aan in sy oorspronklike taal, is dit vir my ‘n bonus. Gou sal die Europeërs insien: “Hierdie boek word so ver as Suid-Afrika gelees. My magtig, het hy spesiaal so duur betaal net om die oorspronklike Sweeds te lees? Haai, siestog, miskien moet ons prysdiskriminasie [Derdewêreldlande betaal aansienlik goedkoper as eerstewêreldlande] toepas.” Gaaf, goedkoper boeke = groter leesverskeidenheid = kultuuruitbreiding.

Ek moet ook byvoeg dat ‘n jong Fin onlangs by die Afrikaanse Wikipedia ‘n draai by ons gemaak het. Hy sê hy verstaan Afrikaans goed, en vir ‘n tiener is sy Afrikaans ook nie sleg nie, en daarom het ek vir hom ‘n paar boeke op Google Play aangeraai wat hy kan deurlees (skadelose boeke deur Jaco Jacobs) om die taal verder te oefen. As jy iemand se belangstelling kan prikkel met onderwerpe waarvan hy hou, dan is ons reeds oor die hond se rug. As hy enige vrae het, of vashaak, kan hy ons kontak. Hy hoef nie die boeke te koop nie – net die voorskou deurlees. So was die een hand die ander.

Wikipedia

Reeds op 9 April 2007 skryf Dr. Roodt die volgende :

Dit is daarom van die uiterste belang dat Afrikaners vir hulle ‘n gebied in die kuberruim moet afbaken. Ten dele is dié proses reeds aan die gang, maar dit moet versnel en verhewig word. Die totale Afrikanergeskiedenis, -kultuur, en -letterkunde behoort vrylik op die internet beskikbaar te wees.

Een manier op dit reg te kry, sou wees om die Afrikaanse weergawe van die sogenaamde Wikipedia uit te bou. Laasgenoemde is ‘n gratis aanlyn-ensiklopedie wat deur vrywillige samewerking in elkeen van die vernaamste tale ter wêreld tot stand gekom het. Tans verkeer die Afrikaanse Wikipedia in die 46ste posisie wat die aantal gepubliseerde artikels daarin betref, dus nie baie hoog op die lys nie. Myns insiens behoort alle bestaande Afrikaanse kultuurorganisasies en akademici saam te werk om so ‘n Afrikaanse ensiklopedie tot een van die grootstes op die internet uit te bou. Afrikaans kan maklik een van die top twintig Wikipediatale, naas Engels, Duits, Frans, Spaans, ens. word. Afrikaanse boeke waarop daar nie meer kopiereg bestaan nie, behoort ook stelselmatig op die internet opgelaai te word.

Dit was twee jaar en vier maande voordat ek self by Wikipedia aangesluit het.  Slegs in een opsig sal ek met die aanhaling verskil: fokus eerder op die gehalte van die artikels as die hoeveelheid. Die Sweedse artikels is dikwels net vyf sinne, wat die gehalte van die ensiklopedie regtig verswak.

Ek gaan nie te veel vanuit die binnekring skryf nie, want dan gaan ek boekdele vul. Sommer puntsgewys hoe dit ons help met die voornemende Afrikaanse aanleerders:

  •         Ons kry gereeld besoekers: Finne, Swede, Brasiliane, Russe, noem maar op. Ek het reeds geskryf oor die Fin.
  •         Die groot verleentheid, maar ook die grootste geleentheid by Wikipedia is juis dat ons almal daarso skryf oor ons eie belangstellings. Dit kan nogal neuk as jou eie belangstellings die volgende insluit, terwyl jou doodgewone skoolkind egter na die allerjongste Suid-Afrikaanse werkloosheidsyfers en inligting rondom Mosambiek soek: die Groot Katte, dieresiektes, Goties, Middelnederlands, Middelhoogduits, vergelykende taalkunde(d.w.s. die Junggrammatiker, die filologie voor Ferdinand de Saussure se “betekenaar”/”betekende” gebruiklik geraak het – want ek is daarvan oortuig dit was die vernaamste dryfveer agter soveel woordeboeke), Afrikanermitologie (soos “Die Vloek van Boontjieskraal”, “Waar ruwe rotse”, ens.), nuutskeppings en taalfossiele, Afrikaanse wetenskapsfiksie, lys van vertalings in Afrikaans;  die wêreldwye belangstelling in Duits as vreemdetaal; Latyn; die doeltreffendste taalaanleermetodes; woordherkoms; oorklankingskuns; vertaalkuns; taalpolitiek; wolwe; die Furry Fandom (as subkultuurverskynsel) en voorheen ook luislange. Dit is wêrelde ligjare uit mekaar. Aan die anderkant bied dit juis die nismark waarna mense soek. Die taalaanleerders soek dikwels nuwe inligting, of in ‘n ander doeltreffende vorm aangebied, wat hulle, en sóós hulle, nog nooit in hul eie taal gelees het nie.
  •         Alle Wikipedias het ‘n geselshoekie. Die Duitse “Auskunft” en die Nederlandse “Taalcafé” gebruik ek nogal gereeld. Maar in die verlede het ek iets in F.F. Odendal se Aspekte van taal  (s.j.) gelees omtrent Yslands wat die afgelope eeue nooit verander het nie. Om sy stelling op die proef te stel, het ek die Yslanders op die Yslandse Wikipedia sommer reguit gaan vra of dit wel so is. Een vrou het gesê haar kind, wat 17 jaar oud is, kan Oudyslands met gemak lees, buiten die paar spelfoute. Verstommend. ‘n Ander keer het ek die rekenaarspeletjie X-files: Resist or Serve op YouTube gekyk, en hier het ek ‘n klomp Russiese dialoog gehoor en graffiti teen die muur gesien in ‘n ou uitgediende Sowjetstrafkamp naby Toengoeska; Google het niks hieroor opgelewer nie, en ek wou steeds weet wat daar staan. By die Russiese Wikipedia was daar twee Russe wat met liefde my gehelp het om hierdie snaaksighede te ontsyfer – een trouens ‘n Russiese Jood.  Ek wens net meer buitelanders wil vir ons op die Afrikaanse Wikipedia vrae kom vra. Want tot dusver het niemand eintlik nie.
  •         Een veeltalige kosmopoliet by ons, wat gereeld van plek na plek reis, bewerk gereeld sy eie persoonlike Duits-Afrikaanse woordelysie. Dit is veral nuttig noudat Trümpelmann en Erbe (1983) se woordeboek stagneer het.
  •         Daar is ‘n Duitser woonagtig naby Berlyn wat by ons in 2008 aangesluit het. Hy het reeds bietjie Nederlands geken, maar het aanvanklik net donkiewerk gedoen: sjablone bewerk, artikels kategoriseer, ensovoorts. Eers vanaf 2011 het hy met geradbraakte Afrikaans op die besprekingsblaaie begin skryf. Soos ons hom aan meer bronne blootgestel het, hy meer Afrikaanse radio geluister het, en ons sy taalfoute reggemaak het, het sy Afrikaans verbeter. Eers onlangs het sy Afrikaans regtig uitstekend geraak – soms beter as ons s’n! Hy het my eenkeer gevra om vir hom ‘n eNuus-video op YouTube te transkribeer, want hy kon die bruin verslaggewer se Afrikaans glad nie verstaan nie (dit gebeur heel dikwels dat die palatalisasie ‘n struikelblok vir taalaanleerders is). Dit is ‘n man wat glad nie die voorreg gehad het om voltyds Afrikaans te leer nie; hy het ook verlede jaar Suid-Afrika die eerste keer besoek tydens Wikimania in Kaapstad, voordat hy op die N2 deurgereis het tot in die Oos-Kaap (P.E.) – maar hy het veel bereik binne 10 jaar. Ek beny sy geduld! Hy kon nie soos die Duitserin Alex Karel (RSG-potgooi op 10 Oktober 2010) ‘n intensiewe tweeweeklikse kursus voltooi nie. Oor hierdie laasgenoemde potgooi sal ek gou die volgende opsom, want dit is nie meer op RSG se webwerf beskikbaar nie:
– Alex is ‘n “gereelde besoeker” aan Suid-Afrika.

– Binne ‘n jaar of twee het sy die taal baasgeraak.

– In 2004 het sy die eerste woorde aangeleer: op die paaie, soos “Stadig!”, of in die trein, op die stasie, op die plakkate. Motief: “Engels is nie die enigste taal wat ek in Suid-Afrika moet praat nie”.

– In 2007 het sy die digitale Die Burger, wat jy sal onthou destyds nog gratis was en nie alles onder een dak by Netwerk24 nie, begin nadertrek om “‘n bietjie te lees”, “te verstaan”, “maar dit was net ‘n paar woorde”

– In 2008 tot 2009 het sy twee kursusse gedoen (twee weke se formele onderrig! Maar waar? RSG sê nie.)

– Sy het ook RSG se potgooie geluister (“lekker luistergoed”).

– Daar was die lus om Afrikaans te leer (motivering)

– Die Afrikaanse grammatika is nie te moeilik nie.

– Sy het ‘n kollega in Duitsland wat Nederlands praat (sy praat met Alex in Nederlands, Alex antwoord in Afrikaans)

– Sy dink glad nie Afrikaans is ‘n “vinnige taal” nie [d.w.s. as mens stadig praat sal Duitsers begryp sonder enige moeite nie; daarmee stem ek heelhartig saam! Duits op spoed het ek op die Navy NCIS-DVD’s self beleef.], want daar is die leksikale afstand, soos “die kontreitale”. Soos die dialekte in Nedersakse vs. Beiere: niemand verstaan mekaar nie, die Hoogduits is die standaardtaal om die kommunikasie te vergemaklik. En om sake in Afrikaans nog te vererger is daar die Brabbelmix (waar Afrikaans en Engels vermeng word), wat nie in Duitsland bestaan nie. [Gaaf! Nog ‘n rede om Standaardafrikaans suiwer te hou. Uit die mond van ‘n Duitserin.]

– “Wat het Afrikaans vir jou beteken?”, vra Fonnie du Plooy. Haar antwoord: “Die selfbewussyn het verhoog” (sy bedoel seker die selfbeeld); “taal is ‘n sleutel tot kommunikasie” vir die “verstaanbaarkeit” (haar enigste ander fout tydens die onderhoud was toe sy haar verspreek het met “genoek”, maar toe gou blitsvinnig verander het na “genoeg”).

– “As jy Afrikaans met my praat, dink jy in Afrikaans, of vertaal jy uit Duits?” vra Fonnie du Plooy. Dis ‘n mengelmoes, antwoord sy. Dr. Ernst Kotzé sê hy moet in Japannees eers in Afrikaans dink, terwyl die woorde in Duits nou al sommer vanself kom.

Die Afrikaanse Wikipedia kan dus ook vir buitelanders die geleentheid bied om hul Afrikaans te oefen en in die proses ‘n bydrae lewer tot ons taal. Dit het sy nadele (ons is nie altyd streng nie), maar ook sy voordele (baie nuttige arbeid). Masjienvertalings word outomaties uitgevee – niemand duld dit nie.

Woordeboeke

Soms val ‘n woordeboek uit die hemel sommer “doef!” op my lessenaar. Soos Langenscheidts Taschenwörterbuch Schwedish-Deutsch/Deutsch-Schwedisch (1958, 5de oplaag 1965) teen R5,00. ‘n Mens sou nou dink hierdie woordeboek sal al my probleme oplos om Sweeds aan te leer, want ek hoef nie in Engels  meer te dink waar die sinsbou opmerklik verskil van die kontinentaal-Europese Wes-Germaanse tale nie. So maklik is dit egter nie: so kom ek nou die dag op die woord “skottepengen” af wat wel in Duits bekend staan as “Schußgeld”. As dit nie nog ‘n leenwoord uit die Duits self is nie! Jy weet alte goed dit beteken “geld wat aan ‘n professionele jagter uitbetaal word vir die pesdier(e) wat hy geskiet en van kant gemaak het”, maar dit kos nogal rondsoek om die juiste woord in Afrikaans te kry – en uiteindelik moet jy maar volstaan met “beloning”.

Die feit bly staan: dit is juis daardie rondsoek wat onnodig tyd kos. Vir sowel die taalaanleerder as die moedertaalspreker. As jy vir twee tale moet dink, is ‘n tweetalige woordeboek geen luukse nie.

My enigste beswaar is net dat woordeboeke, wat seker een van die grootste geskenke is tussen volke, dikwels nie deur albei partye ewe veel waardeer word nie. As mens kyk na die vertalings uit Afrikaans in Frans begin ek al hoe meer dink die Afrikaner lui die klokkie by die verkeerde adres. Kyk mens egter na die Afrikaans-Duitse woordeboeke, het die Afrikaner en die Duitser ewe veel moeite in die verlede in die projek gestort. Kortom: ek verkeer onder die indruk die Franse leer geen ander taal buiten miskien Engels uit noodsaak en Latyn en Duits (om ‘n trappie hoër as die gepeupel te wees) as simbool. Aan die ander kant het die Franse in die verlede en in die hede en in die toekoms, steeds boeke en tekste geskryf wat ‘n groot invloed op die Weste gehad het en sal hê; daarby kan die Afrikaner steeds sonder twyfel baat vind.

Ek voel egter net daar is sekere volke wat net meer “bereid” sal wees om Afrikaans aan te leer as ander, en dit is met hulle waarmee ek gemaklik sal saamwerk (om ook, op hul beurt, hul taal en kultuur te verbrei). Woordeboekskryf is ‘n ontsaglike moordende, tydrowende en omslagtige werk wat nie vinnig geskied nie; dit begin dikwels by woordelysies wat kernwoordeboeke word, en uiteindelik groot woordeboeke. Afgesien dat mens voltyds 11 jaar nodig het om ‘n ordentlike woordeboek saam te stel (dikwels in woordeboekspanne), sal jy agterkom woordeboeke verskil nie drasties van die vorige uitgawes nie, juis weens die arbeidsintensiteit daarvan.

Wikiwoordeboek kan ‘n verskil maak, hoewel ek uit die besoekerstatistiek bevind dat by die allerbeste Wikiwoordeboek, die Franse een, daar selde, indien ooit, die vreemde tale besoek word. Dieselfde met die Afrikaanse Wikiwoordeboek, dieselfde met die Duitse Wikiwoordeboek.  Daar is ‘n groter waarskynlikheid dat ‘n buitelander by die Afrikaanse Wikiwoordeboek die lemma “befok” (met permissie gesê) se betekenis sal verlang, wat nie in WAT, of HAT of Verklarende Afrikaanse Woordeboek as lemma opgeneem is nie, en tog as tussenwerpsel, byvoeglike naamwoord en bywoord byna alledaags (én in die voorgeskrewe poësie op universiteit; daarvan is ek getuie!) gebesig word, as om byvoorbeeld ‘n Sweedse woord na te slaan.

Die moderne Wikiwoordeboeke, veral die Franse een, help ontsettend baie as jy nie weet hoe om ‘n woord te verbuig of uit te spreek nie. Jy kan ook met Kiwix.org hierdie woordeboeke, net soos die Wikipedias, aflaai (dit gaan wel ‘n rukkie duur, want die goed is groot).

Verder moet ons ook onthou dat die vertalings in die woordeboeke slegs riglyne of modelantwoorde is. Om aanvanklik letterlike vertalings as groentjie te lewer is heeltemal toelaatbaar, almal doen dit – maar daarna moet jy jou kneukels knak en so oorspronklik en so duidelik met die woord binne konteks omgaan as wat jy kan. Elke liewe vertaling se konteks en woordkeuse bly uniek, en daarom kan die woordeboek nie altyd vir jou die regte antwoord gee nie.

Ondertiteling van YouTube-video’s

Daar is ook ander plekke waar jy betrokke kan raak, wat miskien minder arbeidsintensief is, maar tog die druppel word wat die 10 ℓ-gieter volmaak. Ek dink aan transkribering vir kort video’s. Dit is so lastig om ‘n liedjie te hoor, of nuus, maar nie te weet wat daar aangaan nie. Ek het byvoorbeeld vir ‘n paar Nederlandssprekendes gevra om handjie by te sit met die volgende uittreksel, en toe die volgende in die kommentaarbalk geplaas:

https://www.youtube.com/watch?v=TkhTEOHBXOQ

Rocky: Hier zijn de lichtjes, versieren maar!

Chase: Ja!

Skye: Ja! Kom op dan!

Wij gaan met de Kerstboom verder, falalalala – woef-woef-woef-woef!

Elke pup, en lab. en herder, falalalala-woef-woef-woef-woef!

Kerst zit vol met leuke dingen, falala-lalala-woef-woef-woef!

Dus gaan wij dit Kerstlied zingen, falalalala – woef-woef-woef-woeeef!

Onsinnig? Kinderagtig? Nee, daar sal weer ‘n Kersfees wees, iemand sal weer hierdie “aanbeveelde” video sien, iemand sal wonder wat gesing word. As jy moet weet, die Nickelodeon-DVD’s op my rak het geen onderskrifte nie (wat die Frans ‘n nagmerrie maak). Maar as mens met die Nederlanders “saamwerk” maak jy jou as Afrikaanssprekende sigbaar. Dit wys jy is ernstig oor die taal wat jy aanleer, en dit wek simpatie. Boonop kom jy gou agter dat van die Nederlandssprekendes ook self nie weet wat daar gesing word nie!

Jy sal ook by elke reklameblad vir Nederlands by die onderskeie universiteite sien dit is Afrikaans aanverwant, m.a.w. “leer asseblief Nederlands as jy ook Afrikaans wil leer ken”. Nou ja! “Leer Afrikaans as jy Nederlands wil ken” kan ons ook aanvoer.  Jy kan jou veral toespits op die Afrikaanse video’s, want die meeste buitelanders vind Afrikaans nie altyd besonder foneties nie (en dit is Afrikaans ook nie).

Tot slot

Ek glo vas Duolingo behoort die grootste gros toekomstige Afrikaanssprekers van regoor die wêreld in te katrol, sonder om die Afrikaner ‘n sent uit die sak te jaag. Ek dink ons het lank genoeg betaal vir platforms en organisasies wat niks tot uitvoering bring nie. Die probleme wat ons van Amerikaners, Duitsers, ens. by daardie gemeenskapsgeskepte projek te wete sal kom, wys die skuiwergate uit wat in die verlede misgekyk is.

Volgende aan die beurt kan Wikipedia, Wikiwoordeboek en Vertalings (wat almal toeganklik en vry is), onderskrifte en ‘n stroopwafel die weg oopbaan vorentoe. Natuurlik moet ons nie vergeet van die vrye, toeganklike en onafhanklike Afrikaanse media wat nié, soos sekere herstigte koerante, agter ‘n betaalmuur wegkruip nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.