Leon Lemmer: Afrikaners: ‘Swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind’?

Die Nederlandse regering was een van die grootste kritici van die Afrikanerbewind in Suid-Afrika. Apartheid is verdoem sonder om ter versagting die historiese bande tussen die twee lande in ag te neem. Hierdie strategie het ten minste deels te make met Nederlandse skuldgevoelens oor sy koloniale geskiedenis, bv in Indonesië. Ek het die eerste keer daarmee kennis gemaak toe ek Multatuli (letterlik: Ek het baie gely) (Eduard Douwes Dekker, 1820-1887) se satiriese roman, Max Havelaar, of de koffij-veilingen der Nederlansche Handelsmaatschappy (1860) gelees het. By Amazon is die Kindle-weergawe van die oorspronklike teks (396p) gratis beskikbaar terwyl ‘n Engelse vertaling (364p) $5.14 kos. Dekker het griewe teen die koloniale bewind gekoester. Hy was gevolglik geneig om te oordryf. Tog bied die boek ten minste ‘n mate van insig in Nederland se koloniale verlede, des te meer omdat die outeur agtereenvolgend in verskillende dele van die hedendaagse Indonesië gestasioneer was: Java, Soematra, Soelawesi/Celebes en Ambon.

Wanneer ‘n hedendaagse Nederlandse joernalis oor Suid-Afrika skryf, weet ‘n mens dat hy blootgestel was aan en beïnvloed is deur die kritiek wat oorvloediglik in die hoofstroom-inligtingsmedia teen Afrikaners geopper is. Fred de Vries is geen uitsondering nie. Hy het grootgeword te midde van “die Nederlandse afkeer van Afrikaners” (p 388). Toe hy na ‘n verblyf van vyf jaar in Kenia en Uganda, waar hy swart bure gehad het (15), in Suid-Afrika aankom, moes hy eers sy “teësin in Suid-Afrika en die Afrikaners oorkom het” (20). Hy erken sy “vroeëre skeptisisme” oor Afrikanerkultuur en Afrikaans (288). Dit is duidelik dat hy ernstige voorbehoude spesifiek oor Afrikaners (gehad) het, maar nie oor enige van die ander plaaslike etniese groepe nie.

Sy negatiewe gesindheid is in ‘n mate versag omdat hy van 1992 tot 1995 en daarna weer van 2003 af jare lank in Suid-Afrika as die plaaslike verteenwoordiger van onder meer die Nederlandse koerant, De Volkskrant, gewerk en gewoon het. Hy het moeite gedoen om met ‘n breë spektrum van blanke Afrikaanssprekendes, insluitende Afrikaners, in gesprek te tree. As jong Suid-Afrikaanse blankes weens die kultuurmarxistiese massa-inlingtingsmedia nie daartoe in staat is om ‘n realistiese beeld van die apartheidsera te vorm in vergelyking met die nuwe Suid-Afrika nie, hoe kan dit van ‘n Nederlandse joernalis soos De Vries verwag word, wat eintlik ná apartheid hier aangekom het?

Op grond van De Vries se plaaslike verblyf en ondersoekende joernalistiek is die volgende boek van hom gepubliseer: Rigtingbedonnerd: Op die spoor van die Afrikaner post-’94 (Kaapstad: Tafelberg, 2012, 408p). Die bladsyverwysings in die voorlaaste paragraaf hier bo het op hierdie boek betrekking. Die titel van die oorspronklike Nederlandse teks is: Afrikaners: De lotgevallen van een volk op drift (2012). Die outeur wek die indruk dat baie van die onderhoude met Afrikaanssprekendes in Engels gevoer is. ‘n Bundel van hierdie Engelse gesprekke is reeds in 2008 deur Wits University Press gepubliseer, wat ‘n aanduiding kan bied van die politieke oriëntasie van die boek en sy outeur. Die Afrikaanse boektitel het my laat dink aan Koos du Plessis se “Kinders van die wind”-liriek, vandaar die opskrif van hierdie rubriek. “Rigtingbedonnerd” verwys na die Afrikaners wat “rigtingloos soos verdwaalde skape” (93) sedert 1994 “as gekortwiekte minderheid probeer om hul plek te vind in die nuwe, demokratiese Suid-Afrika” (5). Hy betrek nie bruin Afrikaanssprekendes nie (6). Die illustrasie deur Eduard Claassen op die voorkant van die boek toon twee osse wat in verskillende rigtings aan ‘n ossewawiel beur.

“Hierdie boek is ‘n persoonlike speurtog deur die hele Afrikanerdom … om uiteindelik uit te kom by ‘n antwoord op die vraag: Is daar nog plek vir ‘n wit mens in Suid-Afrika?” (11). Maar die plaaslike blankes omvat meer as Afrikaanssprekendes. Veral sedert 1994 is dit ook noodsaaklik om twee groepe Afrikaanssprekende blankes te onderskei: Afrikaners, wat bv nasionalisties en identiteitsbewus is, en nie-Afrikaners, wat die nuwe politieke bedeling aanvaar en bv geredelik verengels. Dit blyk dat De Vries slegs hierdie nie-Afrikaners aanvaarbaar vind; gevalle soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrrel, Rian Malan, Breyten Breytenbach, Max du Preez, Antjie Krog, Christi van der Westhuizen, FW de Klerk, Danie Marais, Theuns Eloff, Marlene van Niekerk, Etienne van Heerden en Mark Kannemeyer. Dit is dus hoogs misleidend as De Vries beweer dat sy Afrikaners almal dieselfde doel het: “Om waardig te oorleef en te bly voortleef as Afrikaners, verkieslik ín Suid-Afrika” (11). Afrikaanssprekende blanke nie-Afrikaners poog om te oorleef deur hulle seile na die politieke wind te span, dus ANC-gedienstig te wees, bv deur hanskakies te word en in werklikheid as nie-Afrikaners voort te bestaan.

Dwarsdeur die boek bly De Vries “‘n buitestander … ‘n regte uitlander” (3), ‘n toeris: “Jy kry nie ‘n gevoel dat jy deel is van iets nie” (277). “‘n Afrikaner sal ek nooit word nie” (389). Byvoorbeeld, vleisbraai is nie een van sy “gunsteling-aktiwiteite” nie (16). ‘n Buitestander kan ‘n welkome mate van objektiwiteit bied maar De Vries se beoordeling berus uiteindelik op subjektiewe reaksies. Hy het “al hoe meer gefassineerd geraak” met die Afrikaners se “verskille en ooreenkomste met die Nederlanders. Terselfdertyd was ek verbaas oor al die teenstrydighede wat inherent is aan die Afrikaner – ‘n plofbare, byna selfvernietigende mengsel van onbegrip, halsstarrigheid en innemendheid” (5). De Vries dink blykbaar dat begrip/beterweterigheid en verdraagsaamheid/toeskietlikheid hom toekom.

Hy veronderstel valslik dat hy die salige middeweg bewandel: “Iewers in die warboel van historiese bande, minagting en bewondering vir die Afrikaner wat die afgelope agt jaar tot my deurgedring het, het ek ‘n inwoner van die Middelwêreld geword wat nêrens meer tuis voel nie” (388). Myns insiens is die Afrikaners vir De Vries eerder ‘n stokperdjie wat tot voordeel van sy loopbaan as joernalis gevoelloos gery word. Byvoorbeeld, na aanleiding van Julius Malema wat “Skiet die Boer” gesing het, stel De Vries die vraag: “Was dit nou werklik nodig om die leier van die ANC-jeugliga aan te kla oor hy ‘n ou ANC-strydlied gesing het?” (205). De Vries beweer selfs: “In ‘n ekonomiese opsig gaan dit met die meeste Afrikaners beter as voor 1994” (207).

De Vries se standpunt kan soos volg opgesom word, wat per slot van sake die vernietiging van die Afrikaners impliseer; dat ons soos ekskresie kompos moet word: “Dis sewentien jaar ná apartheid en die voorheen eensgesinde Afrikanervolk is soos ‘n kissie nagvlinders waarvan die deksel gelig is. Hulle knipper hul oë teen die fel sonlig en fladder verdwaas en verward in alle rigtings. ‘n Klein groepie ekstremiste wat bande met buitelandse eendersdenkendes het, dink nog steeds in terme van ‘n rasseoorlog. Ander hou die visier gerig op ‘n Volkstaat en die ideaal van selfbeskikking. Orania is vir hulle ‘n voorbeeld dat dit kán werk – hierdie onversetlike poging tot Afrikaner-selfverwesenliking. Maar die meeste Afrikaners wil niks weet van ‘n oorlog, ‘n volkstaat of die strewe na selfregering nie. Hulle is bereid om op [onder?] te gaan in die nuwe Suid-Afrika … die nagvlinders wat nou sonder vlerke is” (178). “Om in Suid-Afrika te oorleef, moet jy offers bring, jou Westerse self grotendeels ontken” (225). Hy verwag van die Afrikaners wat hy nie van homself sal verwag nie.

Ek het De Vries se boek lank gelede as ‘n geskenk ontvang maar nagelaat om dit te lees. Suidpunt het onderaan een van my onlangse rubrieke (Praag 27.01.2019) gevra dat ek hierdie boek bespreek. Dit het my aangespoor om De Vries se teks te lees. Ek is dankbaar dat ek dit uiteindelik gedoen het. Suidpunt kan dus bedank of verwyt word vir wat ek hier skryf. Suidpunt verwys bv na die Nederlanders se voorliefde vir Antjie Krog. LitNet-lesers weet teen hierdie tyd dat net ‘n bepaalde soort Afrikaanssprekende, wit en bruin, deesdae kort-kort na Nederland genooi word om as sprekers by byeenkomste op te tree of as deelnemers aan sulke samekomste. Twee van die vereistes is dat hulle apartheid moet verdoem (en verkieslik ANC-gedienstig moet wees) en dat hulle hulle seën oor Kaaps as die toekoms van Afrikaans moet uitspreek (of in elk geval nie oor geradbraakte Afrikaans beswaard moet wees nie).

Daar is ‘n bibliografie van 64 items aan die einde van die boek. Vir die kritiese leser is dit egter gou duidelik dat De Vries ‘n beperkte insig in die Afrikaner en sy geskiedenis het. “Ras het vir die apartheidsdenkers swaarder geweeg as kultuur” (6). Hy skryf dit met verwysing na bruin Afrikaanssprekendes, dus uitgaande van die foutiewe veronderstelling dat die kultuur van Afrikaners en bruin mense identies is. “Daardie ‘witheid’ waarop Afrikaners hulle soms so graag beroep, is ‘n fabel … Afrikaners is ‘n gemengde volk, of kreole” (6). Die historikus Hans Heese het egter op grond van wetenskaplike navorsing aangetoon dat blankes 93% blanke bloed het. De Vries ignoreer hierdie bevinding of is onbewus daarvan. Hy steun eerder op Breyten Breytenbach se vergesogde polities-gemotiveerde bewering: “Ons is ‘n bastervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so … Ons moet kompos wees … In daardie gedeelte van ons bloed wat van Europa kom, was die vloek van meerderwaardigheid” (6).

Dit is juis die Europeesheid van die plaaslike blankes wat daarvoor gesorg het dat Suid-Afrika vóór 1994 die mees ontwikkelde en voorspoedigste land in Afrika was. ‘n Kernwaarheid is dat blankes toe polities en andersins in beheer van Suid-Afrika was. De Vries beskou die onverkwiklike Suid-Afrikaanse hede as ongetwyfeld beter as die (apartheids)verlede. Verskynsels soos “gulsigheid, uitbuiting en magshonger” was glo die grondslae van apartheid (79). Apartheid word valslik met Joseph Conrad se novelle, Heart of darkness (1899), geassosieer, dus met die uiterste mishandeling van swartes deur blankes in die destydse Belgiese Kongo (79).

“Wat veral in ‘n mens se gedagtes bly maal, is hoe vindingryk apartheid uitgedink is en hoe hierdie onmenslike [!], voortdurend aangepaste ideologie oor sowat tagtig jaar [? 1948-1994] daarin geslaag het om voor die oë van die hele wêreld ‘n swart meerderheid te onderdruk deur ‘n eiesoortige kombinasie van wetgewing, godsdiens, onderwys, werkreservering, angs, geweld en propaganda” (81-82) – asof daar nie baie soortgelyke stelsels van rasse-(onder)skeiding bestaan het en steeds bestaan nie; ook asof die ANC nie ‘n soortgelyke stelsel ten bate van swartes en ten koste van blankes bedryf nie; ook asof die “apartheidsregime” gewelddadig was maar nie die ANC en PAC nie.

In 1994 het die Afrikaners glo “alle politieke mag prysgegee” (8). In werklikheid is die blankes se politieke mag sonder hulle goedkeuring en teen hulle beterwete deur ‘n klein groepie ruggraatlose, onbekwame, blanke Afrikaanssprekende politici op ‘n verraderlike, mandaatlose manier van hulle ontneem. Met verwysing na Chris Louw se uitlatings oor die NP-elite skryf De Vries: “‘n Siek moraal wat apartheid, tuislande, die verhongering en onderdrukking van swart mense en rasmeerderwaardigheid goedpraat. En daarna onderhandel hulle ewe uitgeslape met die ou vyand, verloën al hul ou ideale en gee die land tevrede en selfvoldaan oor aan die ANC” (94-95).

De Vries skryf Suid-Afrika het ná 1994 “met rasse skrede verander” (11). Daardie “rasse” wat die verandering bewerkstellig het, is die swartes. Dit behoort ook duidelik gestel te word dat die veranderings meesal nie verbeterings was nie; dat verandering in daardie konteks hoofsaaklik verval en agteruitgang was en is. Hoe oppervlakkig De Vries se kennis is, blyk uit sy opmerking dat die Taalmonument in die Paarl in 1975 onthul is, “‘n halwe eeu nadat Afrikaans ‘n amptelike taal geword het” (160). Wat hy nie noem nie en dalk nie weet nie, is dat die eintlike rede vir die onthulling in 1975 is dat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) ‘n eeu tevore in die Paarl gestig is.

De Vries skryf: “Geskiedenis [is] nie meer so ‘n belangrike hoërskoolvak nie en … die leermateriaal [is] gotendeels op ‘n ontleding van die oorsake en gevolge van apartheid gerig” (58). Hy noem dit maar veroordeel dit nie; ook nie dat al die leerplanne met net swart skoliere in gedagte opgestel word nie. Pleks daarvan beweer De Vries, na aanleiding van sy besoek aan die museums by Bloedrivier, “hoe uitgeslape die geskiedenis destyds al verdraai is” (82). Dalk probeer hy onsekerheid wek oor wie die Bloedrivier-veldslag gewen het, die Boere of die Zoeloes. Die Groot Trek, die Slag van Bloedrivier en die Anglo-Boereoorlog word “mitiese gebeure” genoem “wat verreikende invloede op die volksaard [van die Afrikaners] sou hê” (104).

Let op hierdie mislike formulering oor Afrikaners se verset teen swart oorheersing: “Wat het ná al die jare oorgebly van hierdie gedruis [!], van die belofte om lewens op te offer vir vryheid, van die dreigement om nooit oor te gee nie?” (59). Daar is blykbaar nog nie genoeg Afrikanermonumente verskuif of afgebreek nie. “Die Voortrekkermonument staan sowaar nog, in al sy lomp [!] 41 meter glorie [!], met sy sirkel ossewaens en sy helde gebeitel in klip” (60).

Wanneer daar waardering en applous vir Bok van Blerk is nadat hy “De la Rey” gesing het, is De Vries se kommentaar: “dom, banaal, goedkoop, die ene massahisterie” (66). Hy haal die anti-Afrikaner Max du Preez (goedkeurend) aan wat hierdie liedjie beskryf as: “Viagra vir jong puisiegesigte en skaam-kwaad ooms” en die ewe nie-Afrikaner Koos Kombuis wat dit “musikale laertrekkery” noem (67). “De la Rey” dien as “‘n metafoor vir ‘Boeretrots.”’ Dit was glo “‘n meesterplan van die ouens [!] wat die liedjie geskryf het om honderd jaar terug te gaan, na ‘n tyd toe Afrikaners nog nie deur apartheid besmet [!] was nie, toe helde nog helde was” (68). Dus, tydens en ná apartheid behoort daar nie meer Boeretrots of Afrikanerhelde te vinde te wees nie.

Hoofstuk 8 handel oor “die groot argitek, FW de Klerk” (100). Die nuwe Suid-Afrika-gebou wat hierdie argitek hom in 1990 verbeel het, het egter nooit werklikheid geword nie. De Klerk het ‘n onderhoud aan De Vries toegestaan. “Hy beskou dit as sy taak om te sorg dat die nuwe Suid-Afrika, waarvoor hy pa staan, op koers bly. ‘En veral – en dit is die hartklop van die FW de Klerk-stigting – om te waak dat die grondwet eerbiedig word en nie ‘n blote stuk papier bly nie. Want die grondwet is die beliggaming van ‘n historiese ooreenkoms wat bereik is deur ‘n proses van gee en neem. Dit is ‘n kompromis waarop ons trots is, ‘n werkbare kompromis'” (104). De Klerk kan kwalik werklik glo wat hy hier beweer. Die grondwetlike onderhandelinge was ‘n proses van gee en neem, maar in die sin van: Die NP gee en die ANC neem. Die ooreenkoms was nie soseer ‘n kompromis nie as ‘n proses van die een toegewing na die ander deur die NP aan die ANC.

Die Grondwet blyk nou nie eens die blankes se besittings teen onteiening sonder vergoeding te beskerm nie. Leon Wessels het vertel dat FW de Klerk dit in 1996 lank en sterk oorweeg het om in die parlement teen die aanvaarding van die Grondwet te stem. Sedertdien het De Klerk en sy stigting ontpop as verbete voorstanders van die Grondwet. Dit is moeilik om ‘n groter en vollediger verloorder as FW de Kerk te bedink. Hy probeer om die blaam van hom af te skuif. Byvoorbeeld: “Een van die redes waarom die nasiestaat in Suid-Afrika misluk het, is omdat wit mense te selfsugtig was” (106). As hy maar in groter mate die wense van die blanke kiesers in ag geneem het, bv selfbeskikking. Dan sou hulle tans in ‘n minder benarde situasie gewees het. De Klerk gaan voort met sy proses van ontkenning van die wrede werklikheid van sy skepping, die nuwe Suid-Afrika. Byvoorbeeld, oor die huidige gebrekkige owerheidsdienslewering sê hy: “Die gehalte [het] ongelukkig ‘n bietjie [!] gedaal” (366).

De Klerk beweer dat “‘n minderheid van die wit mense my as ‘n verraaier sien” (110). De Vries borduur (goedkeurend) voort: “‘n Mens kan dit nogtans ‘n wonderwerk noem dat die partye hoegenaamd tot ‘n vergelyk gekom het en dat daar in 1996 ‘n grondwet gestalte kon kry wat wêreldwyd as die toppunt van vooruitgang geprys is. Tog moet dit vir De Klerk frustrerend wees: Hy het soveel vermag [!] en tog relatief min erkenning gekry” (110). Die wonderlikheid van die Grondwet in globale perspektief is een van die mites waarop die nuwe Suid-Afrika gebou is. So ‘n demokratiese opset is heeltemal ongeskik vir Suid-Afrika met sy talle hoogs verskillende etniese groepe. As die Grondwet die toppunt van vooruitgang was, waarom is daar sedertdien konstante agteruitgang?

De Vries was ‘n aantal jare lank die eienaar van ‘n huis in Vrede in die noordooste van die Vrystaat, in ‘n buurt wat al hoe meer deur swartes ingeneem word. Sommige van die bure was swartes. Die eiendom het ‘n boord met vrugtebome gehad. As verligte mens het hy “vir die kinders gesê hulle kan maar kom vrugte pluk” (117). Op ‘n keer toe hy daar aankom, blyk dit dat daar by sy huis ingebreek is. “Allerhande dinge maal deur jou kop, maar veral woede, wanhoop … en wraakgedagtes” (117). “Meteens hoor jy jouself dinge sê soos ‘dit gaan nie werk in hierdie land nie.’ Jy betrap jouself dat jy rassistiese gedagtes dink” (116). Hy het sy huis toe teen inbrake beveilig. Hy verkneukel hom daaraan dat die diewe gelyk het nie swart te wees nie maar sy blanke bure (120).

Sonder om ooit met ‘n ongunstige woord oor Nelson Mandela, die ANC of swartes vorendag te kom, skryf De Vries oor Hendrik Verwoerd: “Dit is moeilik om eerbied te hê vir ‘n rassistiese intellektueel wat ‘n onnoembare hoeveelheid leed op sy gewete het” (126). Met hierdie gesindheid het hy die “godverlate plek” Orania, van “‘n groepie fanatieke, selfversorgende Afrikaners,” besoek (124). Volgens Frans de Klerk, die adjunkpresident van die Orania-beweging, is Orania “‘n soort bedevaartsoord … vir eendersdenkendes” (134), maar volgens De Vries is daar “‘n gebrek aan samehorigheid” (135). Hy meld “die dorp se kenteken is ‘n mannetjie wat sy moue oprol” (127) en dat dit daar veilig is (125). “Daar is nie ‘n polisieman of veiligheidswag in sig nie. Daar lê nêrens ‘n blikkie of ‘n stukkie papier op straat nie” (131). Volgens De Vries is “Orania ‘n plekkie … waar Afrikaner-wees as ‘n stokperdjie beoefen word” (133). Volgens ideoloë is Orania “‘n Afrikanerlaboratorium” (133).

Carel Boshoff sr (1927-2011) het tydens De Vries se besoek nog gelewe. Hy verwys na Boshoff “en sy kamerade” (129) wat myns insiens doelbewus gemeen is. De Vries erken dat hy hom tydens sy Orania-besoek aan sarkasme skuldig gemaak het (134). Ek bevraagteken of die volgende ‘n akkurate weergawe van Boshoff se mening is: “Volgens hom het Afrikaners hulle sedert die sestigerjare deur ekonomiese welvaart laat verlei en ‘n onbesorgde lewe in ommuurde voorstede nagestreef, terwyl hulle hul taal en kultuur heeltemal [!] verwaarloos het” (128). Inteendeel, dit was juis die bloeityd van Afrikaans en Afrikanerkultuur. De Vries skryf: “Niemand sal ontken dat Orania rassiste het nie” (135). Dié nedersetting verteenwoordig glo “pogings om aan die tyd ‘n ander kinkel te gee en die onvermydelike op ‘n afstand te hou, ongeag of dit modernisering of swart oorheersing is. En om eerlik te wees, is ek verlig wanneer ek by Hopetown weer swart en bruin Suid-Afrikaners sien en terug is in die komplekse, energieke mengsel van rasse en kulture” (136). Dus, terug in bv die misdaadnes, waarvan De Vries met sy Nederlandse paspoort maklik kan ontsnap. Vir meer inligting oor Carel Boshoff en Orania: Praag 19.12.2015.

In hoofstuk 11 skryf De Vries oor Afrikaners en hulle plase, wat glo “gemitologiseer” word (138). ‘n Swart werkers wil nie “eendag” die blanke se plaas hê nie: “Ek wil dit nóú hê!” (142). Bennie van Zyl, die hoofbestuurder van die Transvaalse Landbou-unie, sê tereg van die swartes: “Daar heers ‘n ander kulturele houding. Hulle lewe vir vandag. Môre tel nie. Hoe kan jy ‘n besigheid [bv boerdery] op dié manier bedryf?” (147). Van Zyl voeg by: “Die ANC is besig met ‘n weldeurdagte poging om die wit mens te verdryf … ‘Hulle wil die bestaande orde verander en hulle doen dit op die Afrikamanier. Suid-Afrika is nou doodgewoon ‘n Afrikaland, vol mense wat hulleself verryk” (147). “Gee vir my ruimte waar ek myself kan wees … Ek voel tuis by die Westerse manier van doen. Hierdie land is ‘n moeras, waar jy moet soek na die oorblywende eilandjies” (380).

De Vries het Kroonstad besoek. “Dit is een van talle dorpe wat ná die einde van apartheid ‘n metamorfose [transformasie/agteruitgang] ondergaan het. Die middedorp het intussen grotendeels swart geword” (150). Dieselfde word van Potchefstroom gesê (289). Pretoria het “die afgelope tien, vyftien jaar byna onherkenbaar verander” (357) maar geensins verbeter nie. De Vries het die terrein van die ABO-konsentrasiekamp by Kroonstad besoek. “Onkruid en steekgras het alles [bv die grafte] toegegroei. Die hek is ook weg” (152). Tussen die bruin woonbuurt Brentpark en die swart woonbuurt Constantia is daar ‘n grasvlakte. “Hier is ‘n paar jaar gelede ‘n sportveld met pawiljoene aangelê … Daar is niks meer van oor nie … Die doelpale, die hekke, die pawiljoene – álles is weg” (153). Daar het eens “‘n vleuelklavier, ‘n duur Yamaha, … in die stadsaal gestaan … Op ‘n dag wou ‘n bekende pianis ‘n optrede in die stadsaal reël. Maar die klavier was weg. Verdwyn. ‘Uiteindelik het dit uitgekom dat dit deur die [ANC-]stadsraad aan ‘n sjebien in Bloemfontein verkoop is.’ Die klavier is nou in ‘n ietwat gehawende toestand terug op Kroonstad” (238). Dit gee ‘n aanduiding van wat verandering/transformasie kan behels. De Vries veroordeel nie sulke gebeure nie en niemand vra verskoning daarvoor nie. “Soveel wat gesteel, verwaarloos of stukkend is. En dan het ons nog nie eens gepraat oor die gate in die paaie, die lekkende waterpype, die barste in die riolering en die wydverspreide korrupsie nie” (153).

Die gevolg is “dat nóg wit nóg swart belasting wil betaal. Wit mense omdat hulle geen verbetering sien nie; swart mense omdat hulle dit nog nooit geken het nie”[!] (153). Dit is ‘n tradisie wat die ANC geskep het: Swartes hoef nie te betaal vir bv die munisipale dienste wat hulle van die owerheid ontvang nie. Die gevolg is “ineenstorting aan alle fronte” (155). De Vries gee doelbewus valslik voor dat wat in Kroonstad gebeur maar bloot ‘n voortsetting is van wat tydens apartheid die geval was, terwyl die vóór- en ná-1994-era in werklikheid hemelsbreed verskil: “Poste in die munisipaliteit word gevul (soos trouens ook onder apartheid) deur familie, vriende en partylede. Tenders word (ook soos onder apartheid) toegeken aan ondernemings wat noue bande met die regerende party het” (156). Met die tragiese chaos in Kroonstad as agtergrond wil De Vries Afrikaners (eerder as die swartes) verander. Eufemisties noem hy dit “die herdefiniëring van die Afrikaners” (157). Vir hom is daar skynbaar ‘n ligpunt: “Slegs die erg verkramptes onder hulle [Afrikaners] stem nog vir ‘n uitsluitlik Afrikanerparty” (157).

Afrikaans word sonder meer ‘n “hibridiese” taal genoem (161); “tegemoetkomende kreools” (163). Hy meld darem tereg dat Afrikaans “die stem en siel van die Afrikaners” is (162). Danie Marais beweer: “In baie opsigte is ons [Afrikaners] die stiefkinders van die Westerse en Nederlandse kolonialisme … Maar waar die vorige geslagte graag die Europese oorsprong van die taal beklemtoon het en vreeslik trots was op hul Europese herkoms, besef ons hoe totaal [!] verbaster ons eintlik is. Ons is kreools en trots daarop. Ons wil in Afrika tuishoort, nie in Europa nie” (163). Maar dit is juis die Europeesheid van die plaaslike blankes wat gesorg het dat Suidelike Afrika beter as die res van Afrika was. Dit is nie in landsbelang nie en nog minder in die Afrikaners se belang as hulle verafrika deur biologies en taalgewys te verbaster. “Die spilpunt vir die oorlewing van Afrikaans lê by die universiteite en die skrywers” (163). Maar sekerlik ook by Afrikaner-ouerhuise en Afrikaanse skole, asook by Afrikaansdosente en alle Afrikaanssprekendes wat hulle vir suiwer(der) Afrikaans beywer. “Die ANC-regering wil nie meer instellings vir wit mense hê nie en nog minder vir Afrikaners. Danksy [! eerder: weens] die samesmelting met swart universiteite en hoërskole het die Afrikanerkarakter van die meeste universiteite verdwyn” (164). De Vries verwys ook na “die beroemde [! eerder: berugte] Dakar-konferensie” gehou in 1987 (164).

De Vries hou van Marlene van Niekerk se uitbeelding van die tradisionele Afrikaner en die hedendaagse “wegkalwing” daarvan (168). Afrikaners het glo ‘n “bevlekte verlede” (169). “Triomf was ‘n groteske roman oor ‘n duister onderwerp (die rigtinglose, wanhopige, rassistiese ‘armblankes’ in die naderende nuwe Suid-Afrika), maar tog lig, danksy die growwe taal. Regses was woedend daaroor. Hoe kan iemand – nogal ‘n Afrikaner [?] – die volk [let op die sarkasme] op so ‘n skandalige manier as ‘n ontaarde spul uitvaagsels uitbeeld?” (169). Die onprakties-gebore Van Niekerk (sy kan bv nie motor bestuur nie) het al, soos bv Sonja Loots, met talle teenstrydige uitsprake oor Afrikaners en Afrikaans vorendag gekom, bv: “‘n Mens kan selfs vra of iets soos ‘n gesamentlike kultuur wel hier [in Suid-Afrika] bestaanreg het. Om onder dergelike omstandighede ‘n aggressiewe vorm van Afrikanernasionalisme te predik, is dom en verkeerd” (170). Ek dink eersgenoemde stelling is korrek en die tweede foutief. Van Niekerk is egter in die kol as sy byvoeg: “Ek bespeur geen groen-tendense nie. Ek sien die inhalige, uitbuitende gedrag van die nuwe pierewaaierklas. Ek merk ‘n onverskilligheid ten opsigte van klein [?], waardevolle sake: die kunste, die tale, die vissies in die riviermondings van Natal. En ek skaam my verskriklik” (171).

Oor Karel Schoeman se Na die geliefde land, JM Coetzee se Disgrace en Marlene van Niekerk se ander roman, Agaat, skryf De Vries: “Dit is onheilspellende variasies op die romantiese plaasroman uit die jare dertig. Hulle almal speel af in ‘n land waar die regdenkende [!] deel van die bevolking lankal hul tasse gepak het, op vervalle plase waar die magsverhouding omgekeer is en ‘n handjievol bittereinders probeer staande bly in ‘n vyandige, ontredderende omgewing. Dit is boeke oor ontheemding en skrynende nostalgie. En op die agtergrond huiwer die spookbeeld van ‘n afgetakelde wit volk in donker Afrika – die verskrikking vir nasionaliste uit die jare dertig, veertig en vyftig” (174). Onmiddellik hierna maak De Vries gewag van “die verwronge Afrikanerkultuur” (174). Hy is geen bondgenoot en sekerlik geen bewonderaar van die tradisionele Afrikaner nie.

De Vries het verskeie kere met Etienne van Heerden gesels. Op De Vries se mislike manier: “Ek wou weet wanneer hy besef het dat hierdie idille van ‘n onbedorwe land vals was” (172). Van Heerden vertel toe van die Karoo-plaas waarop hy grootgeword het, “daardie ewige mitiese plaas, die hemel van die platteland … ‘Boeregemeenskappe was destyds ‘n vreemde smeltkroes van geweld en geborgenheid,’ het hy vertel” (172). Dwarsdeur sy boek probeer De Vries om die Afrikaner op sy plaas sover moontlik te ontheilig. Maar let op Van Heerden se teenstrydige uitsprake, onder meer gevoed deur sy sug na verligtheid en sy begeerte om in Nederland, wat hy dikwels besoek, welkom te voel. “Hy is nie bang dat die taal [Afrikaans] of die [Afrikaner]kultuur sou verdwyn nie …’Wat taal betref, dink ek hulle [FW de Klerk en sy onderhandelaars] moes ‘n fermer posisie ingeneem het. Beslis wat die onderwys betref … Maar verder moet ons God op ons kaal knieë dank, want dit is ‘n wonderwerk” (173). Maar dan kla Van Heerden met verwysing na LitNet soos volg: “Die stryd vir ‘n kulturele webwerf is moeilik in ‘n land waar woorde soos ‘gehalte’ en ‘diepgang’ uit die leksikon verdwyn het” (294). Hy moes hom klaarblyklik eerder by verwestering as afrikanisering geskaar het. Vir LitNet koester hy hierdie mooi ideaal: “Ek moet dit nooit gebruik as ‘n manier om bepaalde idees te verkondig nie” (295). Terselfdertyd wil hy “seker maak dat dit niks rassisties of lasterliks bevat nie” (295). In hierdie opsig word die sensuurnet met besonder klein gaatjies in die praktyk baie wyd gespan; dermate dat idees wat naasteby as regs vertolk kan word, met obsene oorgawe buite LitNet gehou word.

Die aandag word daarop gevestig dat Eben Venter se roman., Horrelpoot, op Joseph Conrad se novelle, Heart of darkness, gebaseer is. In Venter se distopie word Afrikaans getransformeer tot “‘n brabbeltaaltjie wat nog net verlangs soos Afrikaans klink” (175). Dít is ‘n wesenlike gevaar as die sogenaamde Afrikaansinstansies en -dosente op hulle ingeslane weg voortgaan deur nie taalsuiwerheid te bepleit nie. Venter sê van een van die karakters: “Koert is die versinnebeelding van die taal wat heeltemal tot niet gaan” (176). “Van die geletterde, beskaafde, semi-Europese Afrikaner wat ná 1948 op die toneel verskyn het, is daar in Venter se roman niks meer oor nie. Hy word geheel en al deur donker Afrika oorskadu” (175). Venter vra: “Wat is dit tog met Afrikaners? Is dit ‘n soort cultural cringe? … Afrikaans is ‘n geweldig ekspressiewe taal. Ek is ‘n absolute kampvegter vir die gebruik van Afrikaans as onderrigmedium op Stellenbosch. Een universiteit ten minste, for God’s sake” (176). Afrikaans, as ‘n taal waarin enigiets wat in Engels moontlik is, gesê kan word, maak die gebruik van Engelse woorde, frases en uitdrukkings oorbodig. Maar De Vries het die onderhoud met Venter moontlik in Engels gevoer.

Dan Roodt word deur De Vries saam met Eugène Terre’Blanche as ekstremiste geklassifiseer (184). Oor Terre’Blanche se Afrikaner-Weerstandsbeweging skryf De Vries: “Ons [kan] die paramilitêre verregses voorlopig wegpak in die kas van anachronismes” (200). Maar Roodt is glad nie in daardie liga nie. Hy is met bedrywighede in die metapolitiek besig. “Roodt geniet nie alleen ‘n reputasie as verkramp nie, maar ook as voorstander van politieke onafhanklikheid vir die Afrikaner … Roodt is die stigter van Praag … ‘n groep Afrikanernasionaliste wat sedert 2000 ‘n stryd voer vir die behoud van die Afrikaanse taal en kultuur en hom nou ook beywer vir ‘n Volkstaat” (185). “Roodt beskuldig die ANC van ‘n Pol Pot-idealisme ingevolge waarvan die ander party alles moet opgee” (186). “Sy visie [is] dat literatuur, taal en politiek onlosmaaklik aan mekaar verbonde is” (187-188). “Apartheid … was nie ‘n volksmoord nie, geen misdaad teen die mensdom nie” (188). De Vries kom met hierdie onbedoelde kompliment: “Roodt is in alle opsigte die omgekeerde [teenoorgestelde] van Antjie Krog. Waar Krog ‘die ander’ wil omhels, wil Roodt hom sover moontlik op ‘n afstand hou. Hy voel vir Krog niks anders as veragting nie, en so ook vir al die ander Afrikaners wat probeer om met die postapartheid-Suid-Afrika te integreer” (188).

Roodt word soos volg aangehaal: “Ons probleem is dat ons in radikale omstandighede lewe, in een van die gewelddadigste samelewings op aarde. Maar ons sit met ‘n willose konformisme … En dié wat weier, word verstoot of gestigmatiseer” (189). Ook: “Veral die swart elite het ‘n sterk rassebewussyn. Omdat hulle so verwesters is, het hulle nie meer ‘n taal of kultuur wat hulle bind nie – nog net die kwessie van ras … Uiteindelik sien ek nie hoe Afrikaners in fisieke, kulturele en taalkundige opsig binne die huidige Suid-Afrika gaan oorleef nie. Maar Afrikaners beskik oor ‘n geweldige vermoë om ‘n eie wêreld te skep, om vir hulself te sorg. Dis net dat die wil nie nou daar is nie” (190).

De Vries is behep met die “herdefiniëring van die Afrikaner” (228), dus om van die Afrikaner iets te maak wat hy nie is nie. In hierdie konteks bring hy ‘n “ruimdenkend[e]” “ander Afrikaner,” Antjie Krog, ter sprake (228). “Ons praat weer in daardie mengelmoes van Engels, Afrikaans en Nederlands. Sy vloek nog steeds soos ‘n matroos” (235). Soms dop ‘n onverwagte (moontlike) waarheid uit, bv “Niemand wil swart of homoseksueel wees nie” (235). “Krog wou [as propagandis] buite haar eie taalgemeenskap gelees en verstaan word en deel uitmaak van ‘n groter Suid-Afrikaanse kanon” (229). Om hierdie rede was dit vir haar belangrik dat haar idees eerder in Engels as Afrikaans gepubliseer word, al is dit kritiek op veral Afrikaners wat in haar visier is.

Krog weef glo “‘n tapisserie van waarhede” (230). Sy ondersteun bv De Vries se renons in konserwatiewe Afrikaners op die platteland: “Die wesenlike rassisme kom voort uit angs. In die uitsprake herken jy die fatalisme, die besef dat daar ‘n onvermydelike en onomkeerbare einde gekom het aan die hemel op die platteland” (231) – sekerlik ook die einde van Suid-Afrikaanse stede wat ‘n onmiskenbare Europese aanskyn gehad het. Byvoorbeeld, “Stellenbosch is [was?] ‘n stukkie Europese beskawing in Afrika” (258). Antjie se huidige man, John Samuel, blyk ‘n ligpunt in die duister Krog-huis te wees: Hy “funksioneer as die skeptikus wat sy vrou weer terugbring aarde toe as sy te entoesiasties begin fladder. Sy glimlag. ‘Saans kyk ons nuus en dan sê hy: “Aitsa, hulle steel al weer. Watse ubuntu-kak het ons nou hier?”‘” (237).

Dalk oorweeg Antjie ‘n alternatief vir John. De Vries vra: “Sou sy, as sy kon, met ‘n swart man getrou het? ‘Ja, ek dink so,’ sê sy sonder aarseling” (238). Haar ideaal is: “Jy is wie jy is, maar jy meng met die ander” (367). In daardie proses wil sy hê dat blankes/Afrikaners oorboord moet gaan; dat hulle hulleself etnies-kultureel moet vernietig: “Die idee [is] om saam te lewe, te integreer waar jy werk en waar jy woon. Jy het kleinkinders wat nie meer wit is nie; jy het familielede van kleur. Só moet dit ook wees. Só sou ek graag [!] hier wil oorleef” (367). Die punt is: Die toekoms hoef nie só te wees nie. Ék wil nie só oorleef nie.

Mark Kannemeyer van Bitterkomix-faam sê: “Ek sal bly wees as Afrikaans heeltemal oplos en van die aardbodem af verdwyn. Want dit is die taal van die skurke en ek ken hulle soort deur en deur, beter as enigiemand anders. Hulle het nooit iets vir my gedoen nie en ek is nie van plan om vir hulle iets te doen nie. Ek gee ook nie ‘n moer om vir die taal nie. Ja, goed, dis ‘n mooi taal om in te skrywe en vir die poësie. Maar ek het geen besondere liefde daarvoor nie. Dit was die werktuig van die onderdrukkers. Die politieke konnotasies wat daaraan kleef, is te skrikwekkend. Ek sal nie ‘n traan daaroor stort nie” (265).

Rian Malan het ‘n soortgelyke negatiewe opvatting jeens die toekoms van Afrikaans en Afrikaners. “Die Boere sal weer deur die vuur gaan en anders daar uitkom. Hul taal sal ‘n geraamte word wat nog net in een of ander variant van tsotsitaal voortleef. Hul velkleur sal van die huidige ‘beswaarlik wit’ na effens goudkleurig verander” (369).

Hoofstuk 26, met die opskrif “Onwillige Voortrekkers,” is seker die aangrypendste in die boek. “Ons het in ‘n trek beland waaraan ons glad nie wil deelneem nie” (358). Die hoofstuk handel oor Afrikaners wat na Australië geëmigreer het; veral dié in Perth, maar ook in Melbourne. Van die voordele is dat “hulle nie saans hul deure hoef te sluit nie” (339). In Australië, anders as in die nuwe Suid-Afrika, is daar “veiligheid, paaie sonder gate, skoon water en ‘n regering wat goed funksioneer” (340). Daar word geskat dat “nagenoeg ‘n miljoen wit mense die land sedert 1994 verlaat het. Volgens die laaste Australiese sensus het Perth in 2006 sowat 40 000 Suid-Afrikaners gehad, hoofsaaklik wit mense. In die lig van die uittog oor die laaste vyf jaar word dit nou [2012] geskat op maklik 60 000. Grappenderwys word Perth ‘Bloemfontein by die see’ genoem, of ‘Perthfontein'” (341).

“Jy [kan] slegs ‘n sterk gemeenskap … hê as jy ‘n elite het. Maar nou verlaat hierdie elite die land” (354). Wat hierdie waardevolle Afrikaners landuit gedryf het, is “misdaad, geweld, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en veral [om om te sien na die belange van hulle] … kinders” (341). Die emigrante het “gatvol” geword vir toestande in die nuwe Suid-Afrika (349). Die oorsprong van al die probleme kan na ‘n enkele verskynsel en rasgroep herlei word: oorheersing deur die swartes. “Suid-Afrika het toenemend die soort samelewing geword waar dit nie meer vanselfsprekend is dat ‘n mens daar sal wil bly nie” (353). “Ek word liewer daarvan beskuldig dat ek ‘n lafaard as ‘n moedige sterfgeval is” (355). Die Jode het eerste padgegee, daarna die blanke Engelssprekendes en laastens die Afrikaners (342).

Oor een ding behoort daar geen twyfel te bestaan nie: “Emigrasie is traumaties” (342). “Hoe dit moet wees om jou land op te gee omdat dit vir jou onleefbaar geword het, omdat jy vir jouself geen toekoms daar sien nie” (356). Dit is moeilik/(feitlik) onmoontlik om in ‘n ander land as jou vaderland tuis te voel (345). Ek het al dikwels gewonder of FW de Klerk en sy mede-hensoppers al ooit beswaard gevoel het oor wat hulle hierdie emigrante aangedoen het. Maar die blankes wat in Suid-Afrika agtergebly het, is baie meer en ondervind heel moontlik selfs meer trauma as die emigrante (Praag 13.10.2018) maar daar is by die genoemde hensoppers geen teken van skuldgevoelens hieroor nie. Een van die emigrante sê: “As jy nie meer ‘n [effektiewe] stem in jou eie land het nie, is daar vir jou niks meer oor nie” (346). “Daar [is] nie meer vir hulle [blankes] plek in die spel van die landspolitiek … nie” (349).

Sy hou “die regering van FW de Klerk verantwoordelik vir die toestand waarin Suid-Afrika hom bevind. ‘Hulle het ons verraai'” (347). “In die omarming van ons bevryding het ons ook ons eie verdwyning verwelkom” (358). “Eers moes ek myself weer ontdek. Ek het my identiteit verloor” (348). In Australië/die buiteland is dit ‘n waarheid soos ‘n koei: “Die [Afrikaner]kultuur en die taal [sal] mettertyd … kwyn” (350). Die oud-Suid-Afrikaners in Australië het hoofsaaklik mede-oud-Suid-Afrikaners as vriende (343). Hulle vind ook makliker by oud-Zimbawiërs aansluiting (344) as by die gevestigde Australiërs. “Afrikaners het te kampe met die feit dat [hulle] mateloos nostalgies is” (357). Vergelyk bv die nostalgie en bitterheid van Ryk Hattingh (1957-2017) wat na Nieu-Seeland uitgewyk het (Praag 21.05.2016).

In die laaste hoofstuk is daar nie juis sprake van salwende woorde vir en simpatie met die Afrikaners nie. “As jy mooi dink, verskil Suid-Afrika nie veel van die res van die kontinent nie” (390). Inderdaad, Suid-Afrika verafrika daagliks meer en teen ‘n ontstellende tempo. Maar vóór 1994 was daar ‘n reuse verskil tussen ‘n verwesterde Suid-Afrika en die res van Afrika en dit het vir die blankes/Afrikaners ‘n onstilbare groot gemis geword. De Vries bied hierdie skrale troos, met ‘n angel in die stert: Daar is “egter beslis vir Afrikaners ‘n plek in Suid-Afrika, selfs al is dit net weens ‘n gebrek aan ‘n alternatief” (390).

“Wat gaan die verhouding tussen assimilasie, integrasie en segregasie wees?” (391). Dit gee aan beterweter De Vries die geleentheid om aan Afrikaners die leviete van onderhorigheid en selfverloning, van etniese en kulturele identiteitsontkenning (of “herdefiniëring,” soos hy dit noem), voor te lees. “Om suksesvol met ander bevolkingsgroepe saam te leef, hang ook van talle niemeetbare faktore soos nederigheid, inskiklikheid en geduld af. Daar word ongelukkig alte maklik vergeet watter afskuwelike, mensonterende stelsel apartheid was” (391).

Dus, stroop jou van Afrikanertrots en kruip by die moreel voortreflike meerderheid, stel hulle belange voorop en moet nooit waag om op te hou om ten bate van hulle, die nuwe “ons”, op te offer nie. Ek stel voor dat ons as Afrikaners eerder iemand anders as Fred de Vries nader om die koers vorentoe aan te dui.

 

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.