Dan Roodt: Koreane is dalk ‘n voorbeeld vir Afrikaners

Deel op

Suid-Koreane regoor die wêreld, waaronder in New York (sien foto), het gister hul onafhanklikheidsbeweging van ‘n eeu gelede gevier. ‘n Sewentienjarige meisie, Joe Gwan-soen, het dit op 1 Maart 1919 begin. Sy is later deur die Japannese bewind destyds in Korea aangehou en doodgemartel. Ná die tweede wêreldoorlog is Korea in twee verdeel en die Suide het onafhanklik geword.

Ek hou van Koreane: hulle is beleefd, nederig, hardwerkend en eerlik, met konserwatiewe waardes. Sommige Koreaanse disse is heerlik en ek eet gereeld swart rys met kimtsji (‘n soort sauerkraut met ‘n pikante smaak).

In 1957 was Suid-Korea armer as Ghana. Vandag beskik die land oor die elfde grootste ekonomie ter wêreld, met ‘n BNP van $1,6 triljoen — meer as 4 keer groter as Suid-Afrika s’n.

Dis ook ‘n baie veilige land om te besoek, met een van die laagste moordsyfers ter wêreld (50 keer laer as SA s’n). Ek was nog nooit in die Verre Ooste nie, daarom wag ek nog vir ‘n geleentheid om Korea en/of Japan aan te doen!

Omdat Koreane trots op hul ras, erfenis en identiteit is, beskryf sommige polities korrekte Westerlinge hulle as “rassisties” en “chauvinisties”. Ek dink ek sou daarmee kon saamleef. Immers is ek self trots Afrikaans.

En mag ons eendag weer vry wees, al martel hulle party van ons dood, soos vir die Suid-Koreaanse heldin, Joe!

Die ander vraag is: Sou Noord- en Suid-Korea kon herenig, soos Oos- en Wes-Duitsland in 1990? Dit is ‘n kwessie wat iewers in die agtergrond sweef terwyl Donald Trump met Kim Jong-Oen oor kernwapens en die opheffing van VS-sanksies teen Noord-Korea probeer onderhandel.

In 1989 toe die Berlynse Muur ineenstort, het die Franse Sosialistiese president, François Mitterand, alles in sy vermoë gedoen om die hereniging van Duitsland te keer. Hy het tereg gevrees dat Duitsland met sy groot bevolking van 80 miljoen mense weer kon begin om Wes-Europa ekonomies en andersins te oorheers. Dog hy kon dit nie keer nie, omdat Duitsers aan weerskante van die ideologiese grens tussen kommunisme en kapitalisme, wat deur die Muur versinnebeeld is, gevoel het dat hulle bymekaar hoort.

Noord- en Suid-Koreaanse atlete onder een vlag tydens die 2018-winterspele

Die verdeling tussen Noord- en Suid-Korea het in 1945 begin toe Japan uit die land gesit is en die ou Sowjetunie die Noorde beset het en die VSA die Suide. Op die oog af lyk die verdeling selfs sterker as die destydse tussen Oos- en Wes-Duitsland. Albei lande is vandag in wese ook kliëntstate van twee groot moondhede: China en die VSA. Nogtans het die twee Koreas ‘n gesamentlike damesyshokkiespan na die 2018- Olimpiese winterspele in die Pyeongchang-graafskap, Suid-Korea, gestuur. Die spanne van albei lande het insgelyks onder een vlag wat ‘n herenigde Koreanse skiereiland voorstel, aan die openingseremonie deelgeneem.

‘n Verenigde Korea sou ‘n formidabele moondheid wees: die Noorde beskik oor kennis van kernwapens, waaroor die huidige geskil met die VSA gaan, terwyl die Suide een van die wêreld se mees welvarende ekonomieë verteenwoordig, net ‘n kortkop agter Kanada op die wêreldranglys. ‘n Herenigde Korea sou dus ‘n groter ekonomie as Kanada, ‘n G7-land, hê en ‘n gepaardgaande militêre slaankrag wat dit van Amerikaanse beheer sou verlos.

Waarskynlik is dit in sowel China as die VSA se belang om Korea verdeeld te hou, ten einde dit beter van buite af te kan manipuleer. Jonger Suid-Koreane aanvaar dat hul land vir altyd in twee gedeel sal wees, terwyl ouer mense dit steeds betreur.

In Koreaanse films en TV-reekse word die unieke aard van die Koreaanse taal, kultuur en identiteit egter steeds daagliks gevier.

Vergeleke met die dekadensie van die Weste, is Suid-Korea omtrent ewe konserwatief as Noord-Korea, waar die inwoners gereeld in die Westerse media as “robotte” beskryf word.

Tienermeisies in die Noord-Koreaanse weermag, wat in die Britse media as ‘robotte’ beskryf is

Soos hul Oosterse bure, Japan en China, het die Suid-Koreaanse “robotte” insgelyks al bewys met watter ywer, dissipline en toewyding hulle ondernemings kan bedryf en samelewings sonder misdaad of verval in stand kan hou. Samsung is maar een bekende voorbeeld daarvan, ‘n maatskappy wat met ingenieursvernuf en skeppende bemarking die Amerikaanse Apple dikwels die loef afsteek.

Ons moet egter verby stereotipes kyk, asook die groot ideologiese “meesterverhale” wat aan ons voorgehou word. Ten eerste moet ons die stereotipe beeld wat ons van onsself het, en wat grotendeels deur ons vyande tot stand gebring is, beveg.

In weerwil van verwoestende oorloë, verdeling en besetting, het die Koreane in ‘n groot mate daarin geslaag en pluk vandag die vrugte daarvan, met toenemende sukses en onafhanklikheid.

Hulle onthou egter steeds vir Joe Gwan-soen, ‘n soort vroulike Jopie Fourie. Dis nodig dat ons ook ons helde en heldinne uit die verlede eer, ten einde die stryd om vryheid en onafhanklikheid in die hede te kan aanpak.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.